VYF

“Bier?” vra Barry toe Engela net na vyf die middag by die werkswinkel in Oranjesig instap.

“Ja, asseblief tog!” Sy laat val haar handsak moedeloos op die vloer en sak neer op die vuil plastiekstoel wat in die hoek staan. Barry trek sy kop onder die enjinkap uit, vee sy hande aan sy oorpak af en haal ’n Castle uit die sespak wat in ’n Solly Kramers-plastieksak op die werksbank teen die muur staan.

Nick’s Auto Repairs het 15 minute gelede gesluit. Dis nog net Barry en Pieter hier in die werkswinkel, en twee administratiewe meisies in die kantoor. Die res is klaar huis toe. Buite die glasskuifdeure dreun die Bloemfonteinse spitsverkeer in Kerkstraat staan-staan terug na die oostelike woonbuurte.

“Cheers,” sê Barry en vat ’n sluk uit sy eie blikkie wat reeds halfpad leeg is.

“Ja, whatever.”

“Niks gekry nie?” vra hy sy sussie wat sewe jaar jonger as hy is.

Sy skud haar kop.

“Oh well, môre is nog ’n dag.” Hy haal ’n nr. 4-spanner van die rak af en raak weer met die enjin doenig. “Wil net gou hier klaarmaak, dan ry ons.”

Pieter seil onder ’n ander motor uit. “Hi,” knik hy sy kop in Engela se rigting en vat vir hom ook ’n bier. “Ek sal ook my ore oophou vir iets.”

Dan raak die twee manne aan die gesels oor motoronderdele wat die volgende dag bestel moet word, maar sy luister nie na hulle nie. Sy wonder hoekom haar pa nog nie een keer gebel het om te hoor hoe dit gaan nie. Nadat daardie dooie kat drie weke gelede aan hul tuinhekkie gehang het, het sy geweet sy moet vlug. Sy het niks teenoor sersant Pieterse laat val toe hy haar die Vrydagoggend skool toe vat nie, maar nadat hy haar afgelaai het, het sy omgedraai en terug huis toe gehardloop. Sy het so vinnig moontlik gemaak: ’n tas gepak, vir haar pa ’n brief geskryf en op die kombuistafel gelos, en toe is sy kafee toe om vanaf die telefoonhokkie ’n kollekteeroproep na haar broer in Bloemfontein te maak. Hulle het nou nie juis ’n tradisionele en nabye broer-en-suster-verhouding nie, maar hy was die enigste een na wie toe sy kon gaan. Sy was dié dag ook gelukkig: toe sy haar duim vir die sesde verbygaande motor lig, is sy opgelaai. Hoe groter die afstand tussen haar, Dewetsdorp en Groep 13 geword het, hoe ligter was haar gemoed. Nou lê haar lewe voor haar, het die 16-jarige meisie gedink. Sy gaan sommer gou ’n werk in die stad kry, in ’n lekker woonstel bly en alles sou net een groot jol wees. ’n Uur later is sy op die N1 by die Jagersfontein-afrit afgelaai. Van daar af het sy die 4 km na Barry en Miems se tweeslaapkamerwoonstel gestap.

“Kom ons waai,” sê Barry en gooi sy leë bierblikkie in die asblik. Sedert sy die afgelope drie weke hier is, praat hulle nie eintlik met mekaar as hulle smiddae na werk terug na sy woonstel toe ry nie. Maar vandag, net voor hulle by die kompleks ingaan, sê hy: “Jy weet jy kan nie altyd hier bly nie, nè? Jy sal ’n plan moet maak.”

Ag, gaan vlieg, jy is ’n koue, gevoellose vark, dink sy. Eintlik het sy haar broer nog altyd gehaat. Nee wag, dalk nie altyd nie. Daar was ’n tyd voor sy skool toe is, toe hulle nog in Brits gebly het, dat sy opgekyk het na hom. Wanneer hul ouers met hul dronk bakleiery in die sitkamer begin het, het sy soms na sy kamer gevlug. Hy was haar broer, hy sal haar beskerm, het sy lank as kleuter gedink. Maar hy het haar elke keer uitgejaag. Die haat het eers later gekom, lank nadat hulle in 1984 Bloemfontein toe getrek het. Sy onthou die jaar wat die haat haar hart oorgeneem het baie goed. Dit was in 1987. Sy was tien jaar oud, in standard drie, en hy 17. Toe sy op Saterdae saam met hom na sy hoërskoolonderwyser se plot buite die stad gegaan het. Toe sy hom later gesoebat het dat sy nie meer wil saamgaan nie, maar hy haar gedwing het. Dit is tóé dat die haat ontkiem en later so welig soos die kakiebosse op die plot gegroei het.

Toe sy drie weke gelede daardie kollekteeroproep gemaak het, was dit sy vrou, Miems, wat geantwoord en gesê het dis reg, sy kan ’n paar dae by hulle kom bly. Maar die paar dae het toe heelwat langer aangehou as wat sy gedink het dit sou.

“Ja, ek weet,” is al wat Engela sê toe hulle uitklim en woonstel toe stap. Sy voel effens dronk in die kop van die twee biere wat sy so vinnig weggesluk het. Sy voel hoe die trane in haar oë brand. Hoekom is dit dan so moeilik om werk te kry? Elke oggend, al drie weke lank, ry sy saam met haar broer na die werkswinkel toe. Dan vat sy die bus na Hofmannplein en vaar die stad in met die eenbladsy-CV in haar hand wat Miems vir haar getik en gefotostateer het. Van winkel tot winkel stap sy. “Asseblief, Meneer, enige iets,” herhaal sy die soebatwoorde van plek tot plek. Dan kom die gewone vreemde uitdrukking in die bestuurders se oë en die koppe wat skud. Nee, híér is nie werk nie. Nie vir ’n kind nie. Die man by Checkers in die Sanlamsentrum oorkant Loch Logan reageer net so.

“Asseblief, Meneer, al is dit agter die till.”

“Miskien moet jy eerder terug skool toe gaan,” het hy haar gespot.

Maar sewe dae gelede het haar ouderdom nie die Griek by die Westdene Café en Take Aways in Barnesstraat gepla nie. Ja, sy kan hom smiddae kom uithelp teen R4,50 per uur. In die verdieping bo die kafee was woonstelle. Oor ’n maand trek sy daar in, het Engela opgewonde gedink. Maar drie dae later het die Griek haar weggejaag. Sy kan nie somme maak nie, het hy gesê.

Barry is kort na aandete kamer toe. Hy is moeg en nie nou lus vir hulle geklets nie, hy gaan slaap, het hy gemompel. Engela en Miems sit in die sitkamer en drink Tassenberg wat Miems uit ’n 5 liter-boks tap. Miems is oukei, dink Engela. Sy weet net nie hoekom sy met so ’n vark soos haar broer getroud is nie. Die goedkoop rooiwyn jaag die trane skielik oor haar wange. “Ek weet ek kan nie altyd hier bly nie, Miems, ek weet ...”

“Dis fine, moenie worry nie, dinge sal regkom,” troos haar skoonsuster.

“Jy weet, sus, ek is eintlik vies vir myself. Vir die gemors waarin ek nou is. En pa-hulle. En nou sit julle met my opgeskeep. Ek wens ek kon die horlosie terugdraai ... ek verwyt my vir wat ek gedoen het. As dit net nie vir Groep 13 was nie. As ek nie daardie Vrydagaand Naval Hill toe was nie ... as ... as ... dinge kon soveel anders gewees het ...”

Miems antwoord nie. Engela bly praat. Die woorde etter uit haar mond. Haar lewe is nes ’n pitsweer, dink sy. “Ek weet dit klink simpel, maar hel weet, as ek ’n paar maande gelede geweet het wat gaan gebeur ... ek meen die nagevolge ... sou ek nooit daardie aand saam met die groep Naval Hill toe gekom het nie. Ek meen ... ek sou nie eers met Marius-hulle vriende gemaak het nie. En nou dat hulle op my case is ... ek meen, ek wéét wat hulle met my wou doen. En Pa en tannie Susan ... hulle sou dalk ook seerkry ... dis hoe die groep werk. Ek weet mos.”

Sy sit haar leë glas op die tafel neer. “Ek móés vlug, Miems. Ek móés!”

“Dis oukei, Engela, ek’t mos gesê dis oukei!” troos Miems en gooi vir hulle nog wyn in.

“Ek mis my ma ... ek wens elke dag dit was net ’n droom ... al die bloed in die kamer ... dat dit net ’n droom was ... dat sy nie dood is nie ... dat sy nog gelewe het ... ek is bang, Miems, ek is flippen bang ...”

Engela krap in haar handsak op soek na ’n tissue, maar kry niks nie. Dan stap sy slinger-slinger badkamer toe en blaas haar neus. Haar voete is seer van die hele dag se gestappery van winkel tot winkel. “Ag, jislaaik tog, ek weet nie meer nie,” snik sy as sy weer op die bank kom sit en nog ’n sluk wyn vat. “As ek net ’n werk kan kry. Soos al daardie mense wat elke oggend by die plein van die busse afklim en werk toe gaan. Hoekom wil niemand vir my werk gee nie, sus? Ek wil mos net my eie lewe skep. Dis mos nie te veel gevra nie?”

Hier waar sy vanaand op die bank met haar bene onder haar ingetrek sit en huil, is sy skielik nie meer die rebelse tiener wat van die huis af weggeloop het nie. Die drank het van haar ’n klein dogtertjie gemaak wat bang is vir die lewe. ’n Klein dogtertjie wat na haar ma verlang. “Miskien kan ons Saterdag graf toe gaan?” snik-vra sy.

Miems knik net haar kop. Sy self is nou te dronk om te praat.

Die volgende oggend skrik Engela wakker van die telefoon wat in die sitkamer lui. Dis nog effens donker buite. Dit klink of dit reën. Dis stil in die woonstel; dit is net die telefoon wat lui en lui. Hoekom antwoord niemand dan die dêm ding nie, wonder sy deurmekaar. Haar mond proe na rooiwyn en trane en haar kop is seer. Sy hoor hoe iemand in die gang af stap en die telefoon antwoord. Sy hoor haar broer se stem. Eers dan onthou sy waar sy is. Sy is nog te deurmekaar om uit te maak wat hy sê, maar oomblikke later maak hy haar kamerdeur oop. Sonder om te klop, soos sy gewoonte is. Hy lê teen die kosyn. “Pieter het gebel,” sê hy sonder om te groet. “Hy sê hy weet van ’n job vir jou. Jy moet jou tas pak; hy sal jou vanaand soontoe vat.”