SEWE

Engela word wakker toe sy ’n deur hoor oopgaan. ’n Sleutel krap in die sekuriteitshek. Nadat sy ’n paar ure vroeër gestort het, het sy haar sweetpak aangetrek met ’n trui bo-oor. Sy het nie teruggegaan kamer toe nie, maar sommer hier op die bank in die kroeg aan die slaap geraak. Sy hoor hoe die hek oopgemaak en weer gesluit word. Voetstappe klink in die ingangsportaal op.

“Hallo! Hallo!” roep die man. “Waar is jy, kleintjie?”

Dan staan die man met die blonde hare en blou oë voor haar. Hy vat haar hand en trek haar van die bank af. Engela loer af in die gang en sien deur die oop voordeur dat dit dag is. Daar ry motors in die straat verby en mense stap op die sypaadjie. Maar die sekuriteitshek is gesluit. Anthony vat haar tot by ’n kroegstoeltjie. Sy rek haar trui oor haar knieë.

“Ek wil huis toe gaan, asseblief.” Haar woorde is skaars hoorbaar tussen die snikke deur. “Asseblief, ek wil net huis toe ...”

Anthony sit sy arm – amper vaderlik – om haar skouers. “Relax. Relax net. Jy is veilig hier. Ons sal mooi na jou kyk. Jy wil mos baie geld maak, hoor ek?” Hy stap agter die kroeg in en skink twee glase brandewyn en Coke. Hy sit die een glas voor haar neer.

“Laat my gaan, asseblief, Meneer. Ek is seer. My lyf is baie seer.”

Hy lag en vat ’n sluk van sy drankie. “Nee wat, dis nie so erg nie ... ”

“Ek het gebloei, Meneer, ek moet by my skoonsussie uitkom. Sy sal my kan help.”

“Toemaar, oor twee dae is dit beter. Drink jou drankie.”

“Watse plek is dit hierdie?”

Anthony kyk trots om hom rond. Hy swaai sy linkerarm deur die lug. “Dit, dit is ’n klub die. Lady Femmé. Dit is ’n plek waarheen mooi vrouens – soos jy – kan kom. Vir baie geld. En al wat julle hoef te doen, is om vir die kliënte ’n bietjie plesier en geluk te bring. Jy verstaan mos?”

Engela skud haar kop. “Nee, ek wil net ... huis toe gaan ... asseblief.”

Anthony staan op, stap om die kroeg en gaan staan agter haar. Sy hande beweeg vanaf haar skouers voor onder haar sweetpakbaadjie in op soek na haar borste. Sy keer, staan op en gaan sit op die volgende stoel. Hy lag. Hy druk sy hand in sy broeksak in en haal ’n wit pil uit wat hy voor haar op die toonbank neersit. “Drink, dit sal vir die pyn help.”

Dan gaan sit hy weer agter die kroeg. Nou huil Engela onbeheersd. “Ek wil nie! Waar is Pieter? Kan ek hom bel om my te kom haal? Asseblief! Asseblief! Ek wil nie hier wees nie!”

Die horlosie agter die kroeg sê dit is nou elfuur. Dit moet Saterdagoggend wees, dink sy. Want gister was mos Vrydag toe Pieter haar hier kom aflaai het? Aan die linkerkant van die horlosie is ’n groot plakkaat teen die muur. Die meisie op die foto kyk na haar. Haar lang, blonde hare hang in krulle oor haar kaal skouers. Haar borste is groot en blink en nat. Sy sit op ’n stoel met haar hand tussen haar bene. Engela voel ’n suur gevoel in haar keel opstoot. “Kan ek ... water kry ... asseblief.”

Anthony swaai sy lyf om en haal ’n bottel water uit die kroegyskas agter hom. “Dè.” Sy geduld is besig om op te raak. “Drink die pil. Vir die pyn.”

Sy sit die pil in haar mond en sluk dit af. Die water is koud en vertroostend. Anthony steek ’n sigaar op en lê met sy arms oor die kroegtoonbank.

“Jy is nou ... wat? In standerd agt?”

Engela knik haar kop.

“So, dan is jy beslis nie meer ’n virgin nie. Sê my, hoeveel geld het jy gekry elke keer dat jy jou beentjies oopgemaak het?” Sy woorde is koud en emosieloos. Asof hy by haar wil weet hoeveel suiker sy in haar koffie drink. Engela vou haar arms styf voor haar in ’n poging om die gebewe in haar lyf te laat stop. Daar was kere, ja ... saam met Marius en sy Groep 13 dat hulle as ’n groep gejol het. Tonge wat by verskillende monde in- en uitgaan. Sweterige lywe teen mekaar. Alles vir die groep en vir die pret. Vroeër was daar Saterdaemiddae ... en die groente in meneer De Wet se Nissan Skyline as hy vir haar en Barry by die huis afgelaai het.

Sy skrik toe Anthony met sy plat hand op die toonbank slaan. “Hoeveel!” skree hy. “Hoeveel geld het jy gekry?”

Sy skud haar kop. “Niks nie ... niks nie ... maar ek ... ”

“Nou dis presies my flippen punt! Niks nie! En hier gee ek vir jou die kans om te doen wat jy in elk geval doen, en terselfdertyd baie geld te maak. En wat doen jy? Jy sit hier en tjank en kerm dat jy wil huis toe gaan!”

“Asseblief, ek wil nie hier wees nie! Kan ek net ... ek wou net ’n werkie gehad het ... hoekom word ek toegesluit?”

“Weet jy wat jou probleem is? Jy is donners ondankbaar! Ek gee vir jou die kans van jou lewe. Geld. ’n Blyplek. Kos. Maandag nog dan gaan koop ons vir jou die mooiste klere. En jy sit hier en tjank!”

Hy sluk die laaste bietjie van sy brandewyn en Coke af en stamp die glas hard op die toonbank neer. Dan staan hy op en stap kombuis toe. Engela hoor hoe die plastiek ritsel terwyl hy die inkopiesakke uitpak. Die yskas gaan oop en toe. Sy staan op en stap na die ingangsportaal en ruk aan die sekuriteitshek. Dit is gesluit. Die sypaadjie is verlate. Toe gaan sy terug na die kamer waar sy vroeg vanoggend wakker geword het en krul in ’n hopie op die bed op. Sy weet nie hoekom sy so bewe nie; dis tog nie koud nie? Sy trek die kombers oor haar en luister hoe die man glase in die kroeg uitpak. Haar skouers ruk nie meer so kwaai nie en die pyn begin stadig verdof. Sy lê net; haar gedagtes is ook besig om haar lyf te verlaat. Vaagweg in die agtergrond hoor sy die voetstappe van die man in die gang af, en dan weer terug. Deure wat oop- en toegaan. Dan weer die yskasdeur. Geluide in die kombuis. ’n Bottel wat klingel. Die sss-geluid van ’n koeldrankblikkie wat oopgetrek word. Die geluide word al hoe sagter om haar. Die koue en die pyn verdwyn saam-saam. Dan raak sy aan die slaap.

Moenie, Mamma, moenie, kerm sy tussen die droombeelde deur wat haar jaag. Ek wil huis toe gaan ... ek wil net huis toe gaan ...

* * *

“Voertsek! Voertsek uit my huis uit,” gil haar pa. Met al die drank in sy lyf verloor hy sy balans en hy stut homself teen die sitkamermuur. “Jy en jou hoerkind! Voertsek net!”

Dit is drie jaar vroeër, in 1990, net nadat Engela met standard ses by die Hoërskool Fichardtpark begin het. Sy lê in haar bed en luister na haar ouers se goedkoop-wyn-baklei in die sitkamer. Gewoonlik bring die kussing wat sy oor haar kop druk, vertroosting, maar nie vanaand nie. Jy en jou hoerkind! weergalm haar pa se woorde onder die kussing in. Sý, ’n hoerkind? Hoekom sê hy dit? Sy hoor hoe haar ma iemand bel en vra om hulle te kom haal. Dan die slinger-slinger-voetstappe na die hoofslaapkamer om ’n tas te pak. Tussendeur die vloeke wat op mekaar se siele gespoeg word.

“Jy is ’n nikswerd dêm rubbish!”

“Voertsek, hoer!” gooi haar pa terug.

“Ek wil jou nooit weer, nooit weer sien nie!”

“Pas my. Dit pas my, hoor jy!”

’n Kasdeur klap. Haar pa slinger terug sitkamer toe en gooi nog ’n glas wyn in.

“Ek moes nooit met jou getrou het nie, jou bastard!” slinger haar ma haar woede agter sy voetstappe aan.

“En ek ook nie met jou nie, teef!”

’n Halfuur later stop ’n motor voor hul huis. Haar ma ruk haar uit die bed. “Trek aan,” beveel sy. “Vanaand fokkof ons uit hierdie huis uit.”

Hulle klim in die motor wat voor die huis staan en luier. Engela ken die man agter die stuurwiel: hy is een van haar ma se kollegas wat haar soms soggens kom oplaai vir werk. Sy kyk deur die motorvenster na haar pa wat aan die stoeppilaar vasklou en sy arm woedend in die lug swaai, maar sy hoor nie wat hy skree nie. Curielaan se ligte skyn in die motor oor haar ma se hand wat op die bestuurder se been lê. Hulle ry verby die skougronde en die Nasionale Hospitaal. Twintig minute later stop hulle voor die Fountains Inn-hotel in Markgraaffstraat en bespreek ’n kamer. Sy kry slaapplek op die bank en die twee grootmense in die dubbelbed. Die man bestel vir hom en haar ma net voordat die kroeg om middernag sluit elkeen ’n whisky en limonade. Sy draai haar rug op hulle en raak in haar sweetpak aan die slaap, maar ’n ruk later is sy wakker. Sy hoor die kreune vanaf die dubbelbed. “Mamma?” vra sy deur die slaap. Sy sien die man se bewegings bo-op haar ma.

“Moenie, Mamma, moenie!” skree sy. “Ek wil huis toe gaan!”

“Hou op, die kind is wakker,” fluister Dorothy.

“Shit,” hyg die man, maar sy bewegings hou nie op nie.

“Ja, shit,” sê haar ma en vergeet van die wakker kind op die bank.

Engela staan op en trek haar tekkies aan wat voor die bank staan. Sy vat haar toe tas en loer weer vinnig na die bewegings op die dubbelbed voor sy na die kamerdeur stap. Sy draai die knop stadig oop en druk die deur saggies agter haar toe. Daar is niemand in die gang nie. Onder, by die ontvangs, sit ’n man in ’n hotel-uniform agter die toonbank en slaap. Eers toe sy buite op die sypaadjie staan, begin die trane loop. Al huilende stap sy, tas in die hand, in Zastronstraat af in die rigting waar Hoffmanplein moet wees. Toe sy by die Spar in Aliwalstraat kom, weet sy waar sy is. Sy stap regs oor die straat. Daar is geen verkeer nie.

’n Halfuur later gaan sit sy op die helderverligte trappies van die poskantoor aan die oostekant van Hoffmanplein. Sy haat haar ma, dink sy. Sy is sommer ’n rubbish. Nadat sy ’n hele ruk later haar asem teruggekry het, begin sy weer stap. Oor die verlate plein en links af in Kerkstraat. Sy stap en stap. Oor die bruggie wat die pad oor die droë waterkanaal na Fauna se rigting lei. Af en toe jaag ’n groot vragmotor by haar verby op pad na die N8-aansluiting buite die stad. Hulle verminder spoed as daar ’n rooi robot opduik, en ry dan weer verder.

’n Motor ry verby, stop, en draai om. “Soek jy ’n lift?” vra die bestuurder deur die oop venster. Engela ignoreer hom. Hy ry stadig langs haar. “Komaan, waarheen gaan jy?” Sy tong praat effens sleperig. “Hop in, mooi ding, hop in!” Sy stap vinniger. “Ons kan nog ’n lekker tyd hê, ek en jy! Dis koud hier buite, maar ek sal jou warm maak. Lekker warm!”

Sy voel hoe die skelwoorde op haar tong kom lê, maar sy sluk dit terug. Haar voete beweeg nog vinniger oor die sypaadjie sonder om na hom te kyk.

“Ag, oukei dan,” vererg die jong man agter die stuur hom. “As jy upstairs wil wees, kry vir jou!”

Dan versnel hy met skreeuende bande. Engela stap en stap. Nog ’n vragmotor kom verby. Sy werk dit uit: As sy vanaf Fauna met die bus plein toe ry, vat dit so 25 minute. Per voet dan seker so twee of drie uur. Wanneer sy ’n ruk later weer ’n voertuig agter haar hoor, oorweeg sy om haar duim uit te steek. Maar dan bedink sy haar en die voertuig ry verby. Die nag begin stadig plek maak vir die volgende dag en die lug verkleur langsaam na lig-oranje. Net toe die son sy kop wil uitsteek, klop sy aan hul huis se voordeur. Een keer, twee keer. Dan, vir die derde keer, harder. Sy hoor hoe die sleutel in die slot draai, die handvatsel afgetrek word en die deur oopgaan. Haar pa het sy stukkende kamerjas aan. Sy hare is deurmekaar geslaap en sy oë nog ongefokus. Hy kyk na haar, sy kyk na hom. Gisteraand was sy die hoerkind wat saam met haar ma uit sy huis moes voertsek.

“Pa ... ek wil net terugkom huis toe ... Pa.”

Toe begin hy huil. Later het Engela onthou dit was die eerste keer ooit dat haar pa haar vasgehou en gedruk het.

* * *

Ek wil huis toe gaan, ek wil net huis toe gaan, prewel haar lippe terwyl sy desperaat vanuit haar nagmerrie probeer ontsnap. Sy spring vervaard orent en sy kyk, soos haar pa destyds, met ongefokusde oë om haar rond. Sy is nie in haar eie bed in Fauna waar haar droom haar gaan neersit het nie; ook nie in haar kamer in Dewetsdorp of in haar broer se woonstel in Bloemfontein nie. Sy is steeds híér in Lady Femmé. Sy luister, maar die plek is doodstil. Die man met die blonde hare wat nou-nou nog in die kombuis inkopies uitgepak het, is weg. Sy staan op. Dit is vyfuur, sien sy op die kroeghorlosie. In die ontvangslokaal ruk sy weer aan die sekuriteitshek, maar dit is steeds gesluit. Sy gaan lê plat op haar maag en loer deur die gleuf onder die deur. Dit is lig buite. Dan is dit nog dag, dink sy. Terwyl sy deur die klub kombuis toe stap, merk sy al hoe meer naakte meisies teen die mure op. Die kombuisdeur is ook gesluit. Hier moet sy uit, voor die man terugkom! Sy raak bang. Hoekom kom soek niemand na haar nie? Hoekom stop daar nie ’n polisiekar voor die plek en breek die deur af nie? Sy vat ’n mes en begin rondom die slot van die kombuis se houtdeur grawe. Splinters spat weg, maar sy kry nie die slot uit nie. Dan hardloop sy na die voordeur toe en druk die mes tussen die staalhek en die kosyn in om die hek oop te buig. Net die mes buig. Terug in die kombuis vat sy ’n lang broodmes en grawe weer in die houtdeur. Die pyn kruip stadig terug in haar lyf. Sy raak bewus van die nuwe taaiheid tussen haar bene. Sy moes seker weer begin bloei het toe sy geslaap het, dink sy. Sy grawe in die hout. Nog ’n splinter breek af en steek in haar hand in. Sy hardloop badkamer toe en draai die stortkraan oop. Die vars bloed van haar hand klou aan die kraan vas. Sy spoel haar hand onder die water af en trek haar klere uit. Teen die muur is ’n vollengtespieël. Sy kyk na die kaal meisie in die spieël. Soos al die ander kaal meisies teen die mure, kyk hierdie een ook na haar toe terug. Maar dié een het verwilderde oë wat wil weghardloop. Engela sien die blou kolle teen die meisie se bobene, arms en rug. Dit lyk of sy hard moes geval en toe teen iets vasgerol het. Dan pak die stoom van die warm water oor die meisie in die spieël en verdof haar beeld. Engela staan lank onder die stroom water wat met bloed en trane meng, en dan met tjort-tjort-geluide in die drein verdwyn. Sy wens sy kan ook só verdwyn. Sommer net so saam met die water in die dreingaatjie af. Weg. Tjort-tjort en sy is weg. Sy het in die Sondagskoolklas, toe sy nog in die laerskool was, geleer Jesus se bloed was jou sonde soos water van jou af totdat jy skoon is. Sy gooi ’n groot hoeveelheid lyfseep wat in ’n groen bottel in die stortrakkie staan, in haar hand uit. Sy skrop en was haar lyf. Nog seep, nog skrop. Sy wil die blou kolle van haar lyf afwas. Sy wil gisteraand afwas. Sy wil vir meneer De Wet en Groep 13 afwas. Seep, water, was. Oor en oor. Dan nog seep. Daardie wegloopnag na Naval Hill drie maande gelede moet ook afgewas word. Al die beskadigde grafte, al die bladsye wat uit Bybels geskeur is. Seep en was. Seep en was, tot die bottel lyfseep leeg is. As jy skoon gewas is, is jy ’n nuwe mens, het die Sondagskool-juffrou vertel. Sy wil nou ’n nuwe mens wees, met ’n nuwe liggaam, dink Engela. ’n Nuwe liggaam sonder blou merke. Maar om ’n skoon meisie te wees, moet jy elke aand bad, jou hare was en jou mooi versorg, het die juffrou in die skool in die gesondheidsleerklas gesê. Sy moet al dié dinge doen, dink Engela deurmekaar. Later, heelwat later, begin die warm water uit die stortkop lou raak. Engela draai die warmwaterkraan groter oop, maar die water raak al hoe kouer. Dan klim sy uit. Sy soek na die kaal tienermeisie in die spieël, maar sy is verberg agter ’n stoomkombers. Sy is weg, en Engela wonder of alles nou afgewas is.

In die kombuis sien sy hoe volgepak die yskas is. Sy maak vir haar ’n toebroodjie met kouevleis en kaassmeer en sluk dit gulsig af. Die toebroodjie wil nie in haar lyf bly nie, dit wil uit. Engela hardloop badkamer toe en klou aan die wasbak vas terwyl haar lyf rukkend van elke hap toebroodjie ontslae raak.

Twee jaar gelede toe haar ma weggetrek het, het dieselfde ding gebeur. Toe het haar lyf ook so geruk. Sy kyk op: die meisie in die spieël is terug.