SESTIEN

Nadia, Jacky en Engela sit vrolik en klets langs die kroeg terwyl die drie eienaars in die kantoor agter die geslote houtdeur vergader. Nadia moes die telefoon antwoord, want Jacques het nie opgedaag vir werk nie. Miskien kom hy môreaand, hoop Engela stilweg. Die drie meisies is gepas gegrimeer en is skraps geklee, soos dit hoort, reg vir enige kliënte. Maar vanaand bly die klub se deure en hul beursies bot toe.

“Ek het mos gesê dis malligheid om so vroeg in die jaar al oop te maak,” kla Jacky. “Maar nee, hulle wou mos nie hoor nie. Ek meen, dit is nou eers die vierde. Almal is nog op vakansie. Ons kon almal maar by die huis gebly het. Julle sal sien; as hier ooit hierdie week kliënte kom, sal dit net een-een op ’n slag wees. En very few and far between.”

“Was verlede jaar ook so,” gaan Nadia voort. “Maar overall is Januarie altyd stil. Al die pappies het mos lekker hul ponde op die mammies spandeer, en nou is hulle platsak en het niks vir ons oor nie!”

“Shame on them!”

Die telefoon lui en Nadia staan op om dit te antwoord.

“Sjoe, Sammy-Jo’tjie! Dis nou regtig nice om jou te sien,” sê Jacky vrolik. “Het jou so ’n bietjie gemis, jong!”

Nee, hy is nie nou beskikbaar nie, maar gee my jou nommer dan sal hy terugskakel, hoor Engela en Jacky vir Nadia sê.

“Wat het jy heeltyd gedoen?” wil Jacky weet.

“Ag, geslaap, TV gekyk, gelees, in my dagboek geskryf, en weer geslaap, gedrink en geslaap. En nog ’n bietjie gedrink,” giggel Engela. Sy rep nie ’n woord oor haar en Jacques se kuiers nie.

Oproep vir Anthony, blykbaar dringend, verduidelik Nadia as sy verby hulle stap na die kantoor agter in die gang toe. Sy klop drie keer aan die deur, wag tot dit oopgemaak word en gee die nota met die boodskap en nommer vir Anthony. Dit is snaaks, dink sy. Niemand bel ooit vir Anthony op die klub se nommer in die ontvangsportaal nie. Daardie nommer is net vir kliënte wat pret soek, want die klubeienaars het hul eie telefoon in die kantoor; ’n nommer wat ook net ’n paar van hul uitgesoekte sakevennote ken.

“Oh well, hier sit ons drietjies al weer, nè!” sê sy toe sy terug is in die kroeg. Sy trek haar voorkop op ’n plooi, asof sy so pas die blinkste gedagte ooit gekry het. “Sammy-Jo! Ek sê jou wat. Aangesien ek nou die telefoon en die voordeur moet oppas, en George nog besig is in die kantoor, moet jy maar instaan en barlady speel en sorg dat ons glasies vol bly. Hoe klink daai?”

“Dis reg met my!” antwoord Engela vrolik en voeg sommer dadelik die daad by die woord. Hel weet, sy is bly hulle is terug. Die dae alleen het nét te lank en te alleen geraak. Maar ... waar is Jacques dan? Hy het drie dae na Kersdag vars slaaie, brood en blikkieskos gebring waarna hy en pelle in die Drakensberge gaan stap het, maar hy het gesê hy sou eergister reeds terug wees en dadelik kom kyk of sy oukei is. Hy het nie. Het hy haar dan nou ook gedrop?

“Dit gaan alte jolig hier?” sê Steve toe hy ’n uur later die kroeg binnestap om vir hom en die ander twee drankies te skink. “Maar dit gaan ons niks in die sak bring nie. Geen oproepe of besprekings nie, Nadia?”

Nadia skud haar kop. “Dis nog te vroeg in die maand, Steve. Jy weet hier is nie besigheid die eerste week van Januarie nie.”

“Dit sal nog kom. Ons run ’n groot advertensie in môre se Volksblad. Halfprys entrance tot Vrydagaand. Almal kan tog nie weg of platsak wees nie.” En dan, as ’n nagedagte: “Dit kos ons, dié special. Maar ons doen dit net vir julle, julle weet?”

Die meisies sê niks, maar Nadia en Jacky knik hul koppe in dankbaarheid. Ja, hulle weet.

“Nadia, ons wil jou in die kantoor sien. Kom klop oor ’n halfuur.”

Toe Steve weg is, kyk die drie meisies grootoog na mekaar. Wanneer die base iemand in die kantoor wil sien, is daar moeilikheid. Sommer groot moeilikheid, weet hulle. “Ek hoop nie ek word gefire nie,” sê Nadia bekommerd. Sy stoot haar leë glas oor na Engela. “Maak dit sommer ’n triple. Net om seker te maak.”

Jacky sit haar hand beskermend op Nadia se arm. “Nadia, onthou net: die genade is altyd groter as die probleem.”

Nadia kyk verbaas na haar kollega. “Hel, Jacky, dis diep? Waar kom jy aan dié stront?”

“Iewers gelees die vakansie. Op die agterkant van ’n suikerpakkie.” Jacky weet nie eintlik wat dit beteken nie, maar omdat dit vir haar oulik geklink het, het sy die woorde onthou om dit later weer te gebruik. En dié situasie was gepas daarvoor, het sy gedink. Dan lui die telefoon weer.

“Dis tienuur, meisies. Julle lus vir ’n kliënt? Nie ek nie,” sê Nadia toe sy opstaan om die telefoon te antwoord. Die ander twee skud hul koppe. Nee wat, hulle is ook nie lus nie. Môre is nog ’n dag. Vanaand is dit net ’n kuier-aand vir hulle drie. “Jammer, skat,” hoor hulle Nadia oor die telefoon sê. “Ons is vol gebook vanaand. Maar wat van môreaand?”

Jacky klap haar vingers soos ’n stout kind. “Shit, as die base dít moes hoor!”

Engela hou hul glase vol en Nadia hou die horlosie teen die muur dop. Presies 30 minute na Steve se opdrag staan sy op. “Wish me luck, girls,” sê sy en stap af in die gang.

Haar gesprek met die drie mans in die kantoor het net sewe minute geduur, toe is sy terug in die kroeg. “Vertel, vertel!” moedig Jacky haar aan.

“Drie dinge. Eerstens – ek is nie gefire nie!”

“Ja, en?”

“Ons is klaar vir die aand, ons kan maar kamer toe gaan. Die base waai oor tien minute. Dan is ons alleen.” Sy knipoog stout. “En dan, my liewe vriendinne, gaan ons groot!”

“En die derde ding?”

“Van môre af moet ek die res van die maand die telefoon en voordeur ook doen as Anthony besig is. Anders sal hy kom uithelp.”

Engela voel hoe ’n rilling deur haar lyf hardloop en hoendervleisspore agterlaat. Sy sit die glas in haar hand met ’n effense bewing op die toonbank neer. Iets is nie reg nie ... dit is net nie sinvol nie. “Maar hoekom?” wil sy weet. “Waar is Jacques dan?”

Nadia antwoord sonder om te huiwer of te dink: “Hy het geval of iets. Drie dae terug. Iewers in die berge.”

“Geval?”

“Ja, geval. Dis al wat Anthony gesê het. Nou moet ek vir hom instaan. Daai oproep van netnou, die boodskap, dit was blykbaar van die hospitaal in Harrismith.”

“Nadia!” roep Jacky geskok uit. “Shit man, hoe het dit gebeur?”

“Weet nie; Anthony het nie veel meer gesê nie, en ek wou nie dadelik uitvra nie. Ons sal seker later weet.”

“Wanneer ... wanneer sal hy ... terugkom, Nadia?” vra Engela.

Nadia vryf oor haar kop. “Gooi eers vir ons nog ’n dop in, kleinding.”

Engela vlieg op en klap met haar hand hard op die kroegtoonbank. “Nee! Wanneer, Nadia? Wanneer kom hy terug?”

Nadia sit en kyk na Engela wat woedend hier voor haar staan. Haar jong-kind-oë gluur haar aan asof dit háár skuld is. “Sammy-Jo, relax ...”

“Relax se gat, Nadia! Wanneer kom hy terug?”

“Wel, Anthony het gesê ... hy het gesê ... miskien nooit nie. Die ongeluk was ernstig ... moer ernstig ... dis wat die hospitaal gesê het.”

Een of twee sekondes van doodse stilte gaan verby. Miskien drie, of dalk vyf. Dalk langer. In oomblikke soos dié voel dit soms of tyd stilstaan. Asof tyd en woorde nie bestaan nie. Dat alles oplaas so finaal is, dat daar eintlik niks meer bestaan nie. Asof die lewe sélf skielik nie meer bestaan nie, want alle hoop is in een enkele sin uitgewis. Miskien nooit nie, het Nadia gesê.

Toe gil Engela. Rou, dierlike klanke skeur uit haar maag. Die intensiteit daarvan breek die laaste stukkies van haar hart wat oorgebly het in verdere skerwe. Die skerwe woed deur haar longe en stu op in haar keel voor dit deur haar mond uitbars na buite. “Neeeeee! Neeee! Neeee!” Sy gryp haar glas en gooi dit na die drankrak voor haar. Een na die ander tuimel die bottels na benede en val hulself spattend te pletter op die teëlvloer. “Neeee!” Sy gooi eers die stoel waarop sy gesit het, om. En toe die volgende een. “Neeee!! Nie dit nie! Jacques!” Toe kry sy Jacky se glas beet. Nog bottels spat vloer toe.

Die drie vennote storm uit hul kantoor. “Wat de hel gaan hier aan?” skree Anthony.

George gryp vir Engela aan die arm beet, maar sy breek weg en klap hom deur die gesig. “Fok jou! Fok julle almal!” Nog twee stoele word omgestamp tydens haar helletog na haar kamer. Sy klap die deur hard agter haar toe. “Neeee! Neeee! Neeee!” weergalm die een gil na die ander van agter die toe kamerdeur. Die twee meisies kyk grootoog na mekaar; iets moes hier gebeur het in die vakansietyd, iets tussen Jacques en Sammy-Jo, weet hulle instinktief. Dis ál wanneer ’n vrou só histeries te kere gaan. Steve sit haar agterna om haar te gaan regsien.

“Steve!” Hy stop in sy spore. Hy het Jacky nog nooit so hard hoor praat nie. “Los dit, Steve. Los dit net! Sy het net te veel gedrink, môre is sy weer oukei.”

’n Oomblik lank weet hy nie wat om te doen nie. “Ja, fine,” sê hy dan woedend. “Maar julle beter sorg haar kop haak nie weer so uit nie. Kyk net na al die gemors in die kroeg!”

“Tsj-tsj,” klap Anthony sy tong. “Dít is groot skade. So jammer dat ons dit nou van haar kommissie sal moet aftrek, ai tog.”

* * *

Die advertensie in die volgende dag se koerant het gehelp, want teen negeuur die aand het vyf kliënte reeds die voordeurklokkie gedruk. Steve het by Nadia by ontvangs oorgeneem sodat sy ook kamerdiens kan doen, George is terug agter die kroeg en Anthony maak glase en asbakkies skoon.

Verdomde Jacques, dink hy ongekrap.

Alles om Engela gebeur agter ’n waas van bedwelming. Na haar uitbarsting gisteraand en haar weiering vanoggend om ’n steek verder te werk, het Steve vanmiddag vir Jacky beveel om haar op ’n konstante dosis kalmeerpille te hou. Jacky en Nadia lag vrolik onder die strelende hande van vier van die kliënte terwyl hulle in ’n groep langs die kroeg kuier. Die twee meisies het klaar stilweg onder mekaar afgespreek: dit is twee vir elk, en hulle gaan hulle nou-nou oorreed om sommer saam verder in die kamer met die dubbelbed te gaan kuier. Dan is dit vier beursies wat gelyk betaal vir net ’n uur se werk.

“Komaan ouens, ek is uitgehonger vir ’n regte groepswoeps!” doen Nadia die aanspoorwerk.

Die manne hou van wat hulle hoor. “Ek’s in!” sê die een. “En julle?” Die ander lag instemmend saam.

Uit die hoek van haar oog sien Nadia die vyfde kliënt sit steeds stil by die kroeg en teug aan ’n bier. Oukei, dan is hy uit vir nou. Sy beduie vir George dat hulle kamer toe gaan. Hy knik sy kop. “Nog ’n bier?” vra hy vir die stil man oorkant hom.

“Nee dankie, ek is nog reg.” Hy steek hy sy hand uit na George. “Hi, ek is Ian. Dis my eerste keer vanaand hier by julle.”

“Ja, ek weet, ons ken ons kliënte! Maar welkom, Ian, welkom man!”

“Dankie.”

“Hoop jy sal dit geniet, en dat ons jou baie hier sal sien!”

Ian leun oor na George. “Die meisie daar oorkant; is sy beskikbaar?”

“Ja, sy is. En nogal goed hoor, baie goed! Die mans vrek oor haar.”

“Dan’s ek bly,” sê Ian. “Travel julle?”

“Ja, maar dan is dit ’n bietjie duurder. Hoekom?”

“Want as sy so goed is as wat jy sê, dan wil ek hê sy moet môreaand na my toe oorkom.”

“Geen probleem nie, Ian, geen probleem nie. Waar bly jy?”

“In ’n hotel. Die Southern Sun. Dis daar in ...”

“In Brandwag,” val George hom in die rede. “Ek weet. Ons lewer gereeld diens daar. Dis geen probleem nie! Kom, laat ek jou gaan voorstel.”

Die twee mans stap om die kroeg na Engela wat net voor haar sit en uitstaar.

“Sammy-Jo, ontmoet vir Ian.”

“Hi,” is al wat Engela sê toe die nuwe kliënt langs haar gaan sit. George draai om en los die twee alleen.

“Het jy hom uitgecheck?” fluister Steve toe George terug is agter die kroeg.

“Ja wat, hy is maar net een van daai stil tipes, jy weet.”

Onderlangs hou hulle vir Ian en Sammy-Jo dop toe hulle later opstaan en na agter stap. Engela stap verby haar kamer waar Jacky en Nadia besig is om hul inkomste binne ’n uur te verdubbel, tot by een van die enkelkamers met net ’n masseerbed. Ian volg kort op haar hakke. Sy wil dit gou agter die rug kry. Geen gepratery en gevattery nie. Net voor Ian ook die kamer binnegaan, kyk hy vlugtig om en sien vir Steve aan die bopunt van die gang. Dan druk hy die deur agter hom toe en stoot die grendel in plek. Engela trek vinnig uit, gooi haar klere op die grond en klim nakend op die bed. Instinktief en emosieloos maak sy haar bene oop. Laat dit tog net vinnig verby wees, asseblief, bid sy. Want vanaand het sy nie die krag hiervoor nie. Wat de hel hét met Jacques gebeur? Buite in die gang stap Steve nader tot voor die deur.

“Suck it, baby, suck it!” hoor hy dan vir Ian skree. En dan vir Sammy-Jo wat gil. Dié stil ou is toe eintlik nie so stil nie, dink Steve toe hy terugstap kroeg toe. Stille waters, diepe grond, sê hulle mos.

Dit was toe nie so vinnig verby nie, want Engela en Ian kom eers ’n uur later uit die kamer. Engela gaan sit weer op haar plek agter die kroeg, maar Ian stap reguit ontvangsportaal toe. Sy sien hoe hy met Steve staan en gesels, wat dan iets in die boek op Jacques se lessenaar neerskryf.

“Jy oukei?” vra George. Sy knik net haar kop. Dan kom Nadia en Jacky saam met hul vier donateurs luidrugtig by die kroeg in. Die nuwe jaar het toe darem nie so sleg afgeskop as wat hulle gedink nie.

“Gesondheid!” klink die drie vennote later die aand glasies op mekaar in die kantoor. “Op ’n voorspoedige 1994!”

Toe die klub se deure sluit, gaan die meisies kamer toe.

Steve begin lag. “Daardie ou wat vir Sammy-Jo geboek het, jimmel, daai ou is ’n flippen weirdo! Julle sal nie glo nie!”

“Hy het vir my ook maar so bietjie snaaks gelyk,” sê George.

“Ja, daar in die kroeg het hy mos eers so ’n bietjie uit sy plek gelyk, maar toe hulle in die kamer kom, toe is hy skielik ’n perd van ’n ander kleur! Ek het hom deur die deur op Sammy-Jo hoor skree. En na die tyd het hy haar weer vir môreaand gebook. By die Southern. Met die snaakse vereiste ... wag vir dié een!”

“Ja, ons luister?”

Steve kry nie sy lag onder beheer nie. “Sy moet ... sy moet ... haar hare in ’n poniestert vasbind en ’n teddiebeer saambring!”

Anthony skud sy kop. “Ja, ’n mens kry siek mense daar buite.”