DRIE

Die Ster-Kinekor-teater op Hoffmanplein in Bloemfontein is volgepak. Een van die beste flieks tot dusver in 1993, het die resensent Leon van Nierop, Steven Spielberg se Schindler’s List geloof toe dit verlede week hier in Suid-Afrika op die kringloop uitgereik is. Pieter het nou nie eintlik dié epiese drama geniet nie, maar tenminste het hy veilig gevoel in die meer as drie ure wat die fliek gedraai het. Die afgelope maand leef hy in vrees. Hy weet Anthony se manne is op sy spoor. Mark soek sy Porsche, of sy geld terug.

“Moenie my bevark nie. Moenie eers probeer nie, want dán sal jy jou gat sien. Verstaan jy my?” het Mark hom drie maande gelede gewaarsku. Maar Pieter het nog geen Porsche om te wys nie, en ook nie meer die geld om terug te gee nie. Na die fliek bly Pieter tussen ’n bondel mense terwyl hulle op die sypaadjie uitstap.

Moenie worry nie, sy kontak het ’n kar in Nederland gehak, het Pieter ses weke gelede gelieg toe hy in die klub was om verslag oor die transaksie te doen. Sy leuens het saam met die drank gevloei: die voertuig sal per boot tot in Durban gebring word, onmiddellik na ’n chop shop geneem word vir ’n make over en nuwe enjinnommer, en van daar af na Welkom. Alles is onder beheer; hy het ’n kontak in elke plek, het Pieter hulle verseker. Maar, hy soek nog R3 000 as voorskot. Sy kontakte soek hul geld vooruit, het hy verduidelik.

Hel, hy hét probeer, het Pieter gedink toe Mark die note stadig voor hom op die koffietafel uittel. Hy het regtig probeer. Hy is nou al ’n rukkie kop in een mus met ’n plaaslike smous van gesteelde motorradio’s wat vir hom ’n nommer van ’n bendeleier op die Kaapse Vlakte gegee het. Dié sou hom help, maar het ’n fooi van R1 000 “pre-paid” gevra en daarna soos mis voor die son verdwyn. Miskien moet hy net Mark se geld teruggee en die hele ding los, het Pieter toe gedink. Maar hoe moes hy daardie verlore R1 000 terugkry? Hy het sy oplossing in die Thaba Nchu Casino sowat ’n uur se ry vanuit Bloemfontein gesien, maar die slotmasjiene het sy laaste geld net so vinnig soos die bendeleier gevat. Om groot te wen, moet jy groot speel, het hy in ’n advertensie ’n professionele dobbelaar van Las Vegas se gratis advies gelees. Vir die res van sy advies kon jy sy geheime resep tot casino-sukses en rykdom teen $100 bestel. Dis dié dat Pieter ses weke gelede vir nog R3 000 gevra het: om die professionele dobbelaar se handleiding te bestel en geld te hê om weer na die Thaba Nchu Casino te gaan om Mark se geld terug te dobbel. Maar die professionele dobbelaar van Las Vegas se resep was toe presies wat dit gesê het: ’n geheim. Want ook dít het nie vir Pieter gewerk nie.

Buite op die sypaadjie breek die bondel fliekgangers in families en groepies op om na hul motors te stap. Pieter draai links na waar hy sy voertuig ’n ent anderkant die Spur geparkeer het. Voor hom stap ’n verliefde paartjie hand om die lyf; direk agter hom vyf laggende studente. Dankie tog, hy is veilig, dink hy verlig as hy minute later sy motorsleutel in die deur druk.

“Hallo, Pieter. Lekker gefliek?”

Pieter skrik. Dit is Steve se stem. Hy druk hom weg van die deur af, sluit weer die motor en gooi die sleutels in sy sak.

“Hoe lyk dit met ’n laataand-drankie, h’m? Kom.”

Steve wag nie op ’n antwoord nie. Sy greep op Pieter se boarm is stewig terwyl hulle oor die plein stap. Verby ’n Parkstasie-polisievoertuig wat voor die Spur geparkeer staan. Die laaste munisipale bus vir die aand vertrek met ses passasiers. Steve knoop geen verdere geselsies aan nie. Hulle stap verby die Sanlam-sentrum en dan links op in Oos-Burgerstraat tot by Lady Femmé. Jacques klik die traliedeur vanaf die ontvangsportaal met sy afstandbeheer oop. George staan agter die kroegtoonbank en skink drankies in vir die groep voor hom wat jolig saam kuier. Daar is drie meisies tussen hulle. In die kantoor sit Anthony in sy swart leerstoel, die een net langs die groot lessenaar. Steve gaan sit op die ander stoel.

“Jy het probleme, nè?” vra Anthony. Sy gewone glimlag is weg, so ook sy gebruiklike uitnodiging vir ’n drankie. Pieter antwoord nie. Hy bly staan voor die deur wat agter hom toegemaak is.

“Dit wil vir my lyk of jy ... hoe kan ek dit nou stel ... drooggemaak het?” Anthony se stem is sag-sissend soos dié van ’n pofadder net voordat hy pik. Dan bulder hy as hy onverwags opvlieg: “Antwoord my, fokkit!”

Pieter kan nie meer op sy bene bly staan nie. Bewend stap hy na die punt van die bank waar hy op die kant gaan sit. Sy oë vermy Anthony wat dreigend heen en weer in die vertrek stap.

“Gaan jy deliver?” Anthony steek vir homself ’n sigaar aan. “Jy is glad nie meer so oopbek soos vantevore nie, nè? Het jy nou die big silence geslaan?” Tik-tik die as in die asbak af. “Oukei, jy wil nie praat nie, sien ek. Dan sal ek.”

“Ek kan verduidelik ...” stamel Pieter.

“Wow! Jy kan verduidelik! In hierdie game soek ons nie verdomde verduidelikings nie, ou pel! Ons soek delivery!”

“Ek ...”

“Shut up! Jy het hier ingestap gekom met ’n klomp stories. Oor jou kontakte. Jy wat alles kan doen en reël. Onthou jy? Ek het jou geglo. Jy het op my rekening kom drink en twee meisies kamer toe gevat. Op my rekening, want ek het jou geglo! Ek het jou aan Mark voorgestel. Dit was ’n klein jobbie. Om ’n donnerse kar te steel en te make over is ’n klein jobbie!” Anthony staan op en gooi vir hom nog ’n konjak in om sy asem na sy woede-uitbarsting terug te kry. “Mark ... Mark was ’n klein jobbie. Hy soek sy kar, Pieter, of sy geld terug. Ek het hom aan jóú voorgestel, maar nou is hy die hel in vir mý! En jy gaan my beslis nie in die moeilikheid drop nie! Verstaan jy my?”

Pieter knik sy kop. Hy het dringend ’n dop nodig, maar hy kan beslis nie nou vir een vra nie.

Anthony gaan sit weer. “Ek is bly jy verstaan. Nou ja, laat ons tot die punt kom. Eerste vraag: Is Mark se Porsche op pad, soos jy belowe het?”

Pieter staar na die mat. Hy skud sy kop. Dit help nie om nou weer te lieg nie; hy is vas.

“Ek sien ... ek sien.” Anthony steek nog ’n sigaar op. Op en af loop hy met die rook wat agterna dwarrel. “Shit!” skree hy skielik en slaan hard met sy vuis teen die bank. Hy gaan sit. Hy sê niks; kyk net na Pieter. Ook Steve sit net na hom en kyk van die ander kant van die vertrek af.

“Ek soek die voorskot terug. Môreoggend – R7 000 plus rente omdat jy ons tyd gemors het,” sê Anthony ’n rukkie later nadat hy gekalmeer het. “Ek sal vir George na jou werk toe stuur. By Nick’s Auto Repairs. Ons weet waar dit is. Maak seker die geld is daar: R8 000 in note.”

Pieter sê steeds niks. Sit en staar net na die mat asof dit die vreemdste ding is wat hy nog ooit gesien het. Anthony wuif met sy hand na die deur. “Jy kan nou maar skoert.”

“Daar is nog iets ...” sê Pieter huiwerig.

“Ja?” vra Anthony toe Pieter ophou praat.

“Die geld ... ek ... ek het dit nie meer nie.”

“Holy shit! HOLY SHIT! En hoe dink jy gaan jy Mark se geld terugbetaal? Hè? Hoe?”

“Ek ... weet nie.”

“Wat? Jy weet nie? Jy wéét nie?”

Pieter knik sy kop. Anthony loop briesend heen en weer. Kort-kort uiter hy nog ’n kragwoord. Dan kom staan hy voor Pieter. “Jy is in groot moeilikheid, pel. Groot moeilikheid, sê ek jou. Mark is niemand se speelmaatjie nie!”

Dan weer ’n rits vloekwoorde voordat ’n groot stilte oor die vertrek neerdaal. Die klubeienaar maak sy glas vol en kom sit. Agter die deur doef-doef die musiek vanaf die kroeg. Af en toe lag iemand hard bo die musiek uit. Pieter ken teen dié tyd elke patroontjie en elke rafeltjie in die mat uit sy kop. “Ek het nie bedoel om ...”

“Shut up!” maak Anthony hom stil.

Hy het hulle mos nie opsetlik bedrieg nie, probeer Pieter om homself beter te laat voel. Hy wou net in wees. Saam met die groot manne. Die big shots. En hy wou geld maak. Baie geld maak. Meer as sy armsalige salaris en die profyt wat hy maak uit die gesteelde motorradio’s wat hy swaai. Dit het dan so maklik gelyk. Kry iemand om ’n kar te gaan steel. Wat is dan nou so moeilik daaraan? As daardie bleddie Kaapse vuilgoed hom net nie so ingeloop het nie, kon hy dit dalk nog afgepull het ...

“Ek sal ’n deal maak met jou. Ek sal jou gat red,” sê Anthony heelwat later.

Pieter kyk nou vir die eerste keer na Anthony. Dankie tog, hier is ’n uitkoms, dink hy verlig. Anthony kom sit op die koffietafel; sy gesig naby aan Pieter s’n. Pieter ruik die swaar reuk van konjak en sigare wat aan Anthony se woorde hang. Hy beklemtoon elke woord terwyl hy sy deal aan Pieter uitstippel: Hy sal met Mark praat. Hom paai en ’n paar gunsies vanuit die klub na sy kant toe gooi. Hy sal ook sy geld uit sy eie sak terugbetaal, maar hy soek iets in ruil daarvoor. As Pieter dít kan doen, vergeet hulle almal van hierdie onsmaaklike gemors en Pieter kan met sy lewe voortgaan. Sonder vrees.

“Wat ... wat is dit ... wat jy in ruil wil hê?” vra Pieter toe die man hier voor hom ophou praat.

Die konjak-en-sigaar-stem kom nog nader aan Pieter se gesig. Dan fluister hy in sy oor. Een sin; net een sin. Pieter voel hoe die bloed uit sy kop vloei. Sy hande bewe. Nee, hy kan nie, wil hy skree. Maar Anthony staan op en maak die deur oop. “Neuk dié een op, pel, en jy kan maar solank jou mates vir AVBOB stuur.”