TUSSENSPEL

(een)

Die kat se pels voel luuks teen sy kaal vel. Isadora spin en lê heeltemal ontspanne in sy arms.

“Katte hou nie van my nie.” Titania sit in die bed met die duvet tot teen haar ken opgetrek.

“Isadora is nie soos ander katte nie,” sê Josua en klim langs Titania op die bed. Met sy een arm hou hy die spinnende kat vas en met sy ander hand trek hy die duvet van Titania weg. “Lê terug teen die kussings en ontspan net,” beveel hy. “As jy tense is, gaan jy haar wegjaag.”

Titania leun terug en Josua sit die kat versigtig op haar kaal bolyf neer. Doodgelukkig maak Isadora ’n halfmaan-draai en gaan lê met haar stert teen Titania se wang gevlei. Sy spin in stereo.

“Dit voel … heerlik,” sê Titania saggies en streel huiwerig oor die kat se dik pels.

“Dis awesome, nè?” Josua strek homself uit en stut sy kop op een hand terwyl hy vir Titania en Isadora lê en kyk. “Só kan ’n mens vir ewig lê. Dit is asof enige rede om op te staan heeltemal verdwyn.”

“Dis lui!” lag Titania.

“Dís nou wat ek lewe noem.”

“Katte wil nie gewoonlik by my lê nie. En hulle kyk my snaaks aan,” sê Titania meer vir die kat as vir Josua. “Maar hierdie ene bly by my. Hierdie ene hardloop nie weg nie.”

“Dis hoekom ek van katte hou. Hulle’t persoonlikheid. Jy connect met hulle of nie. Dis nie sulke sambreelamnestie soos wat honde vir jou gee nie. Jy voel … spesiaal … uitgesonder as ’n kat van jou hou.”

Hy steek sy hand uit en met lang, egalige hale streel hy oor die lengte van die kat se lyf. “Isadora is wel ’n bietjie weird. Ek dink nie sy weet sy’s ’n kat nie. Ander katte sou nou eers afgespring het, hulself gelek het, gedink het oor dit en dat, en dan – miskien – weer opgespring het en by jou kom lê het. Nie ou Issie nie. Sy’s ’n bok vir enigiets.”

Josua lê versigtig met sy kop op die kat se lyf. Terwyl Titania se bors op en af beweeg soos wat sy ontspanne, ritmies asemhaal, spin Isadora ’n veilige kokon om hulle. Só kan hulle vir ewig lê.

(twee)

“Ek wonder of my ma-hulle agtergekom het ons is nie skool toe nie? Ek bedoel, gewoonlik kom klop sy aan my deur as …”

“Sjuut! “Titania beduie na die mikrogolfoond. “As ons ’n rekord wil breek, moet ons konsentreer. My rekord is dertig sentimeter. Dis omtrent so groot soos die hele mikrogolf. Binne twee minute.”

Josua sit sy vinger plegtig op sy lippe. Hy skuif sy stoel langs hare. Albei stoele is teenaan die mikrogolfoond.

“Oukei, hier gaan ons.” Titania sit ’n bordjie met een pienk marshmallow in die mikrogolf en skakel dit aan.

“Twee minute?”

Titania knik. “Twee minute om so groot soos die hele mikrogolf te word voordat dit ontplof.”

Hy hou sy selfoon omhoog. “Oukei. Ons moet dit afneem as bewys, anders sal niemand ons glo nie.” Hy sien die koevertjie in die hoekie van die skerm en 8 NEW MESSAGES flits op die skerm. Hy ignoreer dit en druk die knoppie wat die selfoonkamera aktiveer.

In stilte hou hulle die marshmallow dop wat eers die een kant en dan die ander kant begin opswel. Ná ’n minuut en ’n half, raak die marshmallow aan die dak van die mikrogolf, maar word nie groter nie en begin stadig afsak en ineenkrimp. Toe die twee minute verby is, pluk Titania die deurtjie oop, nog voor die laaste gebiep-biep van die oond, en haal die bordjie met die groteske pienk blob uit.

“Hierdie een het nie gewerk nie. Gou, gebruik jou vinger soos ’n spookasemstokkie en draai die marshmallow om jou vinger.”

Josua kyk haar vraend aan. Sy vat sy hand versigtig en in sirkelbewegings draai sy die warm, sagte, pienk marshmallow om sy uitgestrekte vinger.

“Au, dis nogal warm,” sê hy en wil-wil sy hand wegpluk.

“Dit sou seerder gewees het as ek jou hand gemikrogolf het,” sê sy en lag. “Toe, eet dit nou voordat dit hard word.”

Hy vat sy duim en wysvinger en draai ’n lang lel van sy spookasemvinger los en steek dit huiwerig in sy mond.

“Hmm, dis héérlik!”

Titania glimlag tevrede. Sy leun vorentoe en trek ’n lang lel van sy vinger af en druk dit in haar mond. Terwyl sy stadig kou, maak sy haar oë toe, skop met haar voete teen die kombuistoonbank en ry op die agterpote van die stoel. Josua steek ongemerk sy hand uit en hou die een poot vas.

Terwyl hy sy toegedraaide vinger skoon eet, beduie hy na die groot pak marshmallows op die toonbank.

“Dis die lekkerste ding wat ek al ooit geëet het. Maak nog een! Nee wag, kom ons maak sommer almal!”

“Jou vraat!” lag Titania.

“Kom ons kyk hoeveel ons in die mikrogolf kan kry.”

Josua kyk na Titania met haar blonde krulle wat wild om haar kop staan, die pienk kring om haar mond en haar taai vingers wat sy een vir een aflek en begin om hande vol marshmallows in die mikrogolfoond te stop.

(drie)

“Ek wil nou sjampanje hê. Goeie sjampanje.”

“Sjampanje?”

Titania knik.

“Oukei. Sjampanje en gesmelte marshmallows. Ons kan ’n fusionrestaurant oopmaak.” Josua stap na die yskas en maak die deur oop. “Jou geluksengel is wakker. My pa drink gewoonlik rooiwyn, maar my ma vrek oor sjampanje. Sy behoort iets te hê.” Hy krap in die laaie en kry ’n bottel Villiera Tradition Brut wat plat lê onder ’n berg rocket en bronslaai.

“Een bottel sjampanje coming up.” Hy haal twee van die mooi, lang sjampanjeglase uit die rak bokant die mikrogolfoond.

Hy sit die bottel en glase op die kombuistoonbank neer. Hy begin om die foelie rondom die kop af te vroetel.

Titania gaan staan agter hom. Hy weet sy is daar, want hy voel haar asem teen die agterkant van sy nek en haar lyf druk teen syne. Sy neurie saggies.

Die dag het ’n smal skadu

en die nag geel kruise

“Chris Chameleon. Daai liedjie wat jy sing. Dis hy, nè?”

Titania druk haar stywer teen Josua vas. Op die maat van die liedjie wat sy harder en harder sing, skuif sy haar heupe ritmies heen en weer teen hom.

die landskap is sonder aansien

en die mense ’n ry kerse

“Is dit waar jy vir Beatrix ontmoet het? Sy volg Chameleon so rond, ek sweer hy sal begin dink sy stalk hom.” Sy hande bewe terwyl hy die draadmus van die kurk probeer afhaal. “Sy was by élke show van hom in die Kaap. Daardie Armchair Theatre in Obs, Die Boer …”

Sy druk harder teen die rondings van sy boude en wieg heen en weer, heen en weer, heen en weer.

terwyl ek jou herhaal

“… Dorpstraat, KKNK, Durbanville se kunskafee. Noem dit op, sy was daar.” Hy vat die kurk vas en draai dit met ’n knal uit. Die prop skiet teen die dak vas. Hy sit sy hande plat neer op die kombuisoppervlak en haal hortend asem. Die kombuis begin om hom te tol. Haar asem in sy nek. Haar lyf teen hom. Haar stem wat hulle toevou.

“Vat my na water. Ek wil swem,” fluister sy en gaan staan langs hom. Sy wip tot bo-op die kombuistoonbank en trek haar knieë op tot onder haar ken.

Josua staan nog koponderstebo en hyg. “Jy … jy wil swem? In die middel van die winter? In Kaapse water?”

Titania knik en skink die sjampanje in die twee glase. Wit skuim borrel oor haar hand. Sy lek aan die skuim en vat sommer ’n lang sluk uit die bottel. Sy gee ’n snorklag en trek haar neus op ’n plooi. “Gou! Drink voordat die borrels rustig raak.”

Josua neem ’n sluk en voel hoe die sjampanjeborrels die holte van sy mond vul en deur sy neus begin kruip. Hy proes en vat nog ’n sluk.

“Jy’s seker jy wil gaan swem? Dit gaan vrek koud wees.”

“Ek hou nie van hitte nie. Wel, nie dáárdie soort hitte nie,” lag sy.

Josua glimlag en vroetel bewerig in sy broeksak. Hy haal ’n bos sleutels uit wat hy om sy vinger swaai. “Ek ken net die plek.”

Titania neem ’n lang teug van die sjampanje, leun met haar kop op haar knieë en neurie verder.

Ek herhaal jou

sonder begin of einde

herhaal ek jou liggaam

Die dag het ’n smal skadu

en die nag geel kruise

die landskap is sonder aansien

en die mense ’n ry kerse

terwyl ek jou herhaal

met my borste

wat die holtes van jou hande namaak

(vier)

Dit reën nie, maar die Kaapse grysheid hang oor Valsbaai. Die strand is verlate. Dit lyk alles behalwe na die perfekte plek of tyd om die water van Gordonsbaai aan te durf. Maar Titania sit langs hom in die motor en spring soos ’n Jack Russell op en af van opgewondenheid.

“Kyk! Dis verlate! Dis alles ons s’n! Net ons s’n!”

“Gelukkig is jy nie gulsig nie,” lag Josua.

“Dink net, ons kan doen net wat ons wil. Ons kan in die see instap en alles is ons s’n. En ons hoef nie eens uit te kom as ons nie so voel nie.”

Josua het skaars die Golf in ’n parkeerplek ingetrek of Titania is al by die deur uit.

In ’n oogwenk is al haar klere afgestroop en spring-spring sy die water in.

Josua draf om haar in te haal en pluk sy klere in die hardloop af sodat dit in ’n streep agter hom val. Die sand is yskoud onder sy voete, maar hy bokspring oor die klein golfies en duik dan sierlik in die eerste groterige een.

Die koue water slaan sy asem weg en hy pluk sy kop uit die brander. Hy kyk rond om te sien waar Titania is. Sy lê en dobber in die ligte deinings ’n paar meter van hom, met haar hare wat soos seewier om haar kop en oor haar skouers uitwaaier. Dit laat hom dink aan die skildery van Ophelia wat Titania se screensaver is. Dit is vir hom mooi. Erg mooi.

“Vrek! Dis flippen koud!” roep hy.

“Dis heerlik!”Titania maak seeskilpadbewegings met haar arms en bene.

Josua swem nader en tel haar in sy arms op. Hy tol in die rondte met die water wat hulle vorentoe en agtertoe trek.

Titania lag en wriemel haar uit sy arms. Sy spring op en druk Josua se kop onder die water. Hy spartel en stry, maar sy is verbasend sterk. Hy wag dat sy sal ophou druk, maar sy hou net aan. Sy longe begin brand en sy kop voel asof dit gaan ontplof. Hy skop en spartel teen die drukking, teen die swart kolle wat groter word. En dan styg hy na bo.

“Wat dóén jy?” stik hy en haal diep asem.

“Banggat,” lag sy en verdwyn onder die water.

Hy kyk rond om haar donker vorm in die water te sien, maar sy is nêrens nie. Skielik duik sy soos ’n dolfyn uit die water en plas langs hom neer.

“Gelukkig?” vra Josua.

Titania slaan haar arms om sy nek en druk haar neus teen syne.

“Ja. Dis myne, alles myne.” Sy soen hom. Sy smaak soos ’n oester. “En jý is myne.”

(vyf)

“Jy besef ons het nog nie aan die clue gewerk nie?” sê-vra Josua. Sy kop draai van die sjampanje en sy lyf voel vreemd warm ná die ysige water. Selfs die koue sand waarop hulle lê, pla hom nie.

“Jy weet, ek dink ek kan vir Hello Kitty sien. As jy na daardie wolk kyk,” sy beduie na die grys lug. “Dis óf Hello Kitty óf Strawberry Shortcake.”

“Hei.” Hy rol op sy sy en sit sy hand op Titania se maag. “Wat van die clue? Ek begin ’n bietjie stres. Die ding is moewies lank.” Hy lê versigtig sy kop op haar maag neer en kyk na die wolke. Dit voel vir hom ’n bietjie simpel om na die grys winterslug te staar op soek na wolkeprentjies, maar dit is ’n klein prys om te betaal vir ’n dag soos hierdie.

Titania sit regop en vou haar bene onder haar in. Sy verskuif sy kop sodat dit in die holte lê wat haar bene vorm.

“Hoekom stres jy so oor die clue?” vra sy. “Dis net ’n game.”

Josua sit ook regop.

“Dis nou meer as net ’n game, en jy weet dit. Hierdie Jakkals is … hectic. Weet jy wat het hy gedoen met my laaste taak? Hy’t my afgeneem!”

“Afgeneem?”

“Ja, afgeneem. Omtrent drie sekondes nadat ek die simpel ding klaargemaak het, het hy vir my ’n video clip gestuur van my wat … nou ja, van my waar ek die ding klaarmaak.”

“Hoe’t hy dit gedoen?”

“Ek weet nie. Ek probeer dit nog die hele tyd uitfigure. Ek vermoed die bou-site het sekuriteitskamera’s. Dis seker maklik genoeg om die goed te hack. In elk geval, ek gaan nie dat hierdie ou my onkant vang nie. No ways. Nie weer nie.”

“Het ons nou besluit Jakkals is ’n ‘hy’?” vra Titania en glimlag.

“Ek weet nie,” mompel hy. “Maak dit saak wat ’n mens hom of haar of dit of whatever noem?”

“Seker nie.”

“Oukei, dan.” Josua grawe sy selfoon uit sy broeksak en soek die boodskap van Jakkals. “Jakkals het drie SMS’e gestuur, so ek neem aan die clue het drie dele. En elkeen lyk my is iets anders wat ons moet doen.”

Titania knik afgetrokke. Haar gesig is boontoe gedraai en sy soek weer patrone in die grys lug.

“Ek dink ek het al ’n paar goed uitgefigure, maar daar’s ’n klomp dinge wat ek nie verstaan nie. Hoor gou hier:

BEATRICE EN DANTE DAAL VOEL-VOEL
AF NA DIE YSKOUE, HELSE POEL.
HULLE WORSTEL DEUR WATER WAT FLONKER
EN VIND, UITGESPOEL, VIR INGRID JONKER.

“Dit was die eerste SMS. Die goed is vrek cryptic. Luister na die volgende een:

UIT DAARDIE DIEPTES GANS VERLORE
STYG HULLE OP DEUR WINGERDVORE
EN SOOS BERGMIS SAL HUL SORGE VERVLIET
MET WAT, LETTERLIK, DIE HOOGSTE STOK KAN BIED.

“Is mos, nè?”

Titania trek haar skouers op.

“En dié een:

DIE LAASTE TOG IS NA DIE HEMELSE HUIS
(’N BOS WAS DIE BEGIN VAN DANTE SE REIS)
MAAR SLEGS UITVERKORENES VIND DIE PRYS.
ONTHOU: DAARSN SLANG IN DIE PARADYS!

Josua laat sak sy selfoon. “Dis hectic,” prewel hy. “En ons moet dit vanaand al uitgefigure hê. Ek dink ek weet wat die tweede een beteken, maar wat het Dante en Beatrice met enigiets uit te waai?”

“Divina Commedia.”

Josua staar na haar. “Waarvan praat jy?”

“Dante. Hy was ’n Italiaanse skrywer en filosoof en so aan. Hy het geskryf oor homself, ’n ander digter, Virgilius, en Beatrice wat hierdie journey moet aanpak na die hel, deur purgatorium en dan na die hemel. Of inferno, purgatorio, paradiso soos wat dit in Italiaans is.”

“Jy’s amper so erg soos Markus! Hoe weet jy dit?”

Titania glimlag skalks. “Ek hou van lees, onthou.”

Josua krap sy hare deurmekaar sodat sy soutwaterkuif soos Kuifie s’n regop staan. “Dink jy dis wat Jakkals wil hê ons moet doen? Op ’n tipe van reis gaan?”

Titania knik. “Ons is mos op ’n quest.”

“So wat is die storie van Dante en Beatrice?”

Titania frons en speel ingedagte met ’n krulsliert wat sy om en om haar vinger draai. “Ek dit het nogal lank terug gelees,” mymer sy. “Maar dit begin met Dante wat soos in heeltemal verlore is in hierdie woud en daar’s diere en goed wat hom bedreig …”

“Nooit! Diere? In ’n bos?” vra Josua sarkasties.

Titania skud haar kop. “Nee, die diere is eintlik maar net simbolies vir temptation en so aan. Hy is op die verkeerde pad, verstaan. Dan ontmoet hy die ander ou, Virgilius, en hulle vaar dan met ’n ferry of ’n boot of iets oor ’n rivier na die hel. In die hel is daar sewe … nee, wag, nege sirkels waar die sondaars gestraf word.”

“Hoekom is daar nege sirkels? Het die hel dan suburbs?”

“Dit hang af wat jy gedoen het. In elk geval, ná die hel moet hulle die Berg van Purgatorium uitklim. Daar is ook verskillende vlakke. Of terrasse dink ek noem Dante dit, en heel bo is die Tuin van Eden.”

“Dis nou oorspronklik.”

Titania gluur na Josua.

“Sorry,” mompel hy. “Gaan aan.”

“In purgatorium ontmoet Dante weer vir Beatrice. Sy was sy groot liefde, maar is dood. Ek kan nie onthou wat dáárdie storie is nie.”

“En in die hemel?”

“Ek sê mos – kan nie alles so goed onthou nie, maar ek dink nie dit maak saak nie.” Titania glimlag en trek haar skouers op. “As jy die hel en purgatorium oorleef, sal jy dink enigiets anders is die hemel. Beatrice het vir Dante na die hemel geneem en daar was daar ook verskillende fases. Nege, dink ek. Daar hang dit ook af hoekom en hoe jy in die hemel beland het. Daar’s enigiemand, van dié wat hulle eed aan die kerk verbreek het tot engele. Dis soos die supervlak van die hemel.”

Josua leun vorentoe en soen vir Titania.

“So eintlik is ek Dante en jy is Beatrice. En jy sê daar’s nége fases van ons hemel, my engel? Ek ken al ’n paar, maar nog nie nege nie,” sê hy en glimlag. Hy steek sy hand uit om haar nader te trek, maar sy druk hom weg.

“Kom ons probeer eers deur die hel kom.”

“Goed,” sug hy en lees weer die SMS. “Dit beteken … dit beteken dan ons moet afdaal na ’n ‘yskoue, helse poel’. Enige idees?”

“Helshoogte,” sê sy en rol om sodat sy op haar maag lê.

“Helshoogte? Hoe kom jy daarby uit?” vra Josua skepties en kyk weer na die boodskap op sy selfoon.

“Maklik. Die setting is mos Stellenbosch. Hy praat van ’n ‘yskoue, helse poel’. Ek dink nie Jakkals sal vloek in ’n clue nie, so ‘helse’ kan nie ‘groot’ beteken nie. So.”

“So, wat?”

“So, die enigste plek in Stellenbosch waaraan ek kan dink met ‘hel’ in sy naam, is Helshoogte. Die poel moet iewers in Helshoogte wees.”

“’n Poel by Helshoogte. Nee, ’n swémpoel by Helshoogte-koshuis. Ons moet ‘worstel deur water’.” Josua spring op en trek vir Titania regop. “Kom! Ek weet waar dit is.”

(ses)

“Dêmmit!”

“Wat nou?” vra Titania verbaas.

“Daar’s ouens by die swembad.”

“En?”Sy rol haar oë. “Dit maak nie saak nie. Wat’s die ergste wat hulle kan doen? Dink jy’s weird omdat jy in die middel van die winter in hulle prim se portapool wil gaan swem?” Titania glip deur die hekkie van die manskoshuis en stap heupswaaiend na die drie studente wat langs die blou swembad staan en rook. Hy hoor haar iets sê wat hulle laat lag en dan vryf sy haar arms, beduie na binne. Haastig druk hulle hul sigarette dood en maak die deur vir haar oop.

Josua wag totdat hulle buite sig is voordat hy sy klere uittrek. Hy kan wragtig nie glo hy gaan vir ’n tweede keer vandag vrywíllig in koue water swem nie.

Hy hys homself halflyf oor die rand van die swembad en tuur na die troebel water. Hy kan niks sien nie. Dit beteken hy gaan op die bodem moet rondvoel. Hy haal diep asem en gly dan in die water. Die water is nie so koud soos die see nie, maar dit slaan nogtans sy asem weg. Hy moet eers weer opkom vir lug voordat hy kan afduik na die bodem. Hy strek sy hande voor hom uit en voel-voel soek hy op die bodem. Waarna soek hy? Die leidraad het gepraat van “Ingrid Jonker” wat uitgespoel lê. Sies. Hy hoop nie dis ledemate of iets walgliks wat hulle moet soek nie.

Die bodem voel slymerig. Sy vingers stamp teen leë bierblikke en glasbottels. Sy longe brand en dit voel of iets in sy kop gaan bars. Hy wil net opkom toe hy ’n plastieksakkie raakvat. Dit het vasgehaak teen die kleppie van die prop waar die water kan uitspoel. Hy gryp dit en skop na bo.

Terwyl hy water trap en na sy asem hyg, bestudeer hy die sakkie. Dit is waarna hulle gesoek het. In die sakkie is ’n klein kissie. Die boonste gedeelte is oop en ’n stukkie lap wat sekerlik veronderstel is om ’n kop te wees, steek uit. Waar die oë moet wees, is net twee kruise. Op die kissie staan geskryf: ELIMINEER DIE MUNCHKIN.

“Wat?” Josua vou sy hande om die stomende cappuccino. Hy voel selfbewus onder Titania se ondersoekende oë.

Sy suig aan haar vinger wat sy oomblikke gelede in die room bo-op haar warm sjokolade gedruk het.

“Jy’s goed. Beter as wat ek gedink het.”

“Wat bedoel jy?” lag hy.

“Die clue. Dit was goed. Ek’t gedink ons moet na Helshoogte-bérg gaan. Ek’t vergeet van die koshuis.” Sy leun vorentoe en soen hom. Onder die tafel steek hy sy hand uit na haar been.

“Ja, wel. As jy goed is, is jy goed.”

“You’re so vain,” tart sy.

“Ek kan maar wees. Veral aangesien ek die tweede deel van die clue opgelos het.”

“Wat? Hoe?” Titania leun vorentoe en hy kan die konstellasie sproete op haar neus duidelik sien. Sy hand kruip verder by haar been op.

“Dit lyk vir my ’n mens moet hierdie clues letterlik interpreteer. Dit was nog met almal so. ’n Helse poel is regtig ’n poel in die hel en so aan.”

Titania haal haar selfoon uit en kyk na die skerm. Josua draai sy kop skuins terwyl hy haar bestudeer. Sy lyk skielik nogal weerloos, amper kaal. Dan besef hy: sy het nie haar laptop by haar nie. Dit is die eerste keer sedert hy haar ken dat sy nie haar laptop soos ’n skild voor haar bors ronddra nie.

“‘Uit dieptes gans verlore styg hulle op deur wingerdvore’,” lees sy en bring hom terug na die leidrade. “Ons moet dan met ’n wingerd iewers opklim?”

Josua knik. “Dit klink weird, ek weet. Hoe klim jy óp by ’n wingerd? Maar lees verder.”

“‘En soos bergmis sal hul sorge vervliet met wat, letterlik, die hoogste stok kan bied.’”

“Sien jy?” vra hy opgewonde. “Dit sê ‘sorge vervliet’.”

“Ja?”

“Sit dit saam.”

“Sorge vliet. Sorgvliet?” vra sy huiwerig. En dan verhelder haar gesig. “Zorgvliet!”

“Presies.” Tevrede sit Josua agteroor. “En weet jy wat? Zorgvliet het ’n trekker waarmee hulle mense na so ’n spot vat in die berg, agter die wingerde. Jy kan pieknieks daar hou en goed. Dis nogal cool. Ons het dit eenkeer gedoen. Die hele pad ry jy tussen wingerde deur wat teen die hang van die berg groei.”

“Jy klim op met ’n wingerd.”

“Presies,” sê Josua weer.

(sewe)

Josua probeer byhou, maar as hy weer sien, fladder Titania se blonde krulle voor hom uit. Hierdie pad is erger as die Coetzenburgbergpad. Hy hoop en bid net Blomkool ontdek nie hierdie roete vir hulle strafdrawwe nie.

Uiteindelik is hulle bo. ’n Geniepsige wind kruip by elke opening van sy hemp en broek in. Hy weet nie hoe Titania dit hou met haar Clifton-couture nie.

Die uitsig oor die Helshoogtepas en Banghoekvallei is ongelooflik. Hy wens hulle het tyd om net te sit en dit te geniet, maar hulle kan nie. Dit gaan nou-nou donker word en dis ’n pad wat hy nie sonder oë kan aanpak nie.

“Ons is hier,” sê hy vir Titania wat reeds elke wingerdstok bestudeer. “Wat soek ons?”

“Ek weet nie,” mymer sy. “Ek dink dis papier. Die clue het gepraat van ‘letterlik’.”

Josua besluit om die volgende wingerdblok te vat om tyd te spaar. Hy het skaars ’n paar tree geloop toe hy vir Titania hoor gil.

“Ek het dit!”

Hy hardloop nader en sien dat sy inderdaad ’n stuk papier in die lug waai.

“Wat is dit?” vra hy opgewonde.

“’n Kaart.”

Sy gee die stuk papier vir hom aan.

“Wat het die laaste deel van die clue nou weer gesê?” vra hy terwyl hy die kaart bestudeer.

“Die laaste tog is na die hemelse huis (’n bos was die begin van Dante se reis),”lees sy weer die SMS. “En dan: Maar slegs uitverkorenes vind die prys.”

Josua kyk haar vraend aan. “Wat beteken dít?”

“Dit beteken ons moet ons regmaak vir sparring. Hier kom ’n battle of ’n challenge of iéts.”

“Ek weet waar dit is,”sê Josua sag. “Ek was al daar. Die kaart lei na ’n huis in die Paradyskloofbos. ’n Huis met ’n satellietskottel.”

Titania druk haar vinger op ’n boodskap onderaan die kaart. In swart staan daar duidelik: SATERDAG @ 23:55.

(agt)

“Wat het jy en daardie ouens by die koshuis gedoen terwyl ek in daardie gross bad rondgeplas het?” Josua maak sy been reguit en draai die warmwaterkraan met sy tone oop.

“Ge-chat.”

“Oor wat?”

“Ek weet nie. Goed. Gevra of hulle mense ken wat ek ken en—”

“Watter mense?” vra Josua en stoot haar effens van hom af weg. “Varsity-ouens? Hoe ken jy varsity-ouens?”

“Ag, wat maak dit saak? Kom ons praat oor iets anders. Jy’s jaloers en dis vervelig.”

“Hoekom is dit vervelig as ek jaloers is – wat ek nié is nie – en as ek eintlik maar net vra oor wat jy gedoen het!”

Titania sug en begin te neurie. Dan hou sy skielik op, staan op, draai 180 grade om en gaan sit weer in die bad.

“Verstaan dit, Josua van Eden,” sê sy en wikkel haar bene oor syne. “No man is an island. Daar was … mense voor jou en daar sal mense na jou wees. Daar was sekerlik girls voor my en daar sal girls na my wees. Moenie die hele tyd oor jou skouer loer na wat was nie. En moenie op jou tone staan om te kyk wat gaan wees nie. Jy kyk dit wat nou is, mis. Trust me, dit is ’n sadness wat nie weggaan nie.”

Sy oë beweeg na die rooi hale op haar arm en die lang, pienk sny op sy eie arm.

Hy weet nie wat om te sê nie. Hard pluk hy haar nader en soen haar. Hy voel hoe haar lyf verstyf.

“Sorry,” mompel hy en begin met ’n bol skuim te speel. Hy voel Titania se oë op hom. Hy moes maar die hele bottel badgoed ingegooi het. Die skuim raak al hoe minder.

Titania staan weer op, draai haar halwe hondedraai en gaan sit met haar rug teen sy bors.

“Wat van die partytjie môreaand? Wil jy gaan?” vra hy.

Titania knik haar kop stadig.

“Ja.”

“Ek is nie eintlik pêlle met die mense nie,” begin Josua versigtig. “Dit kan dalk ’n tosserige ding wees.”

“Dit gaan erger wees as ons niks het om te doen tot … totdat ons in die bos moet wees nie.”

“Goeie punt.” Josua leun agteroor en trek vir Titania saam met hom agtertoe. Vir die eerste keer in ’n lang ruk voel hy rustig. Niemand om tevrede te stel nie. Wel, niemand behalwe Titania nie. Hy’s nie verveeld nie, nie gatvol nie, nie moeg nie. Die gelui in sy ore is weg. Sy litteken en sy pols het kommunikasie met hom verbreek.

“Sing vir my iets,” vra Titania dromerig.

Josua lag saggies. “Dit sal ek nie aan jou doen nie. Maar ek sal my iPod en speakers gaan haal.”

“Moenie gaan nie!”

“Ek’s nou terug. Ek wil net die goed gaan haal.”

“Ek wil nie na musiek luister nie, Lenka. Ek wil jóú hoor.”

Hy soen die wit krulhaartjies in haar nek.

Titania druk haar knieë teen haar lyf en Josua skuif-staan agter haar op uit die bad. Wit badskuimbolle kleef aan sy dye en kuite. Hy trek die handdoek van die reëling af en draai dit om sy lyf.

Hy glip by die badkamer uit en mik vir sy buitekamer.