“Josua?”
“Shit,” fluister hy en knyp sy oë toe. Sy ma is terug. Wat beteken sy het dan ook al vir Markus en Beatrix gaan haal. Lieflik.
“Wat doen jy?”
Josua draai om en sien sy ma vraend na hom kyk. Haar oë beweeg van hom na die badkamerdeur en terug na hom.
“Ek … ek bad, Ma. Wil net gou my iPod gaan haal.”
“O. Ek dag dan Beatrix sê Titania is aan die bad.”
“Eh … seker klaar,” mompel hy.
“Maak gou, seun. Dis vriesend. Jy gaan koue vat. Jy weet hoe—”
Die dag het ’n smal skadu
en die nag geel kruise
die landskap is sonder aansien
en die mense ’n ry kerse
“Dis Titania wat sing,” sê sy ma met ’n vraag in haar stem. Sy kyk verward na die badkamerdeur.
terwyl ek jou herhaal
“Josua? Is julle besig om sáám te bad?”
Josua kyk na sy voete wat nat Hang Ten-spore op die mat gemaak het.
“Josua, ek’t jou ’n vraag gevra. Bad julle saam?”
Josua knik.
“Wat?” snak sy en haar hand beweeg na haar mond. Dit lyk of sy self nie seker is of sy trane of woorde of ’n lag (histeries, natuurlik) wil keer nie.
“Wat’s die issue? Dis nie so erg nie,” mompel hy. Hy wens sy ma wil hom laat gaan. Hy is besig om te verkluim.
“Wat’s die issue? Wat. Is. Die. Issue?”vra sy. “Die issue is dat jy en sy wat albei minderjarig is, besig is met … met goed waarmee julle nie al besig moet wees nie. Onder my dak! Dit gaan oor waardes wat jy duidelik by die deur uitgesmyt het, en respek wat jy duidelik nie vir my of jou pa het nie, en ’n voorbeeld wat jy duidelik nie vir jou broer en suster wil stel nie. En dit gaan oor selfrespek wat jy duidelik ook nie het nie. Die … die meisiekind is ’n wildvreemdeling wat nie wil eet nie, nie wil sosialiseer nie, nie wil kommunikeer nie en wat dink haar heupswaaie gaan haar deur die lewe dra. Dít is die issue, Josua.” Sy ma is spierwit en sy haal hard asem. “Jy lewe vir die hier en die nou. Dit is alles goed en wel, maar eendag gaan jy terugkyk en spyt wees dat jy nie verder gedink het as wat jou hormone jou toelaat nie.”
Josua kyk na sy ma en sien ’n vrou wat pre-drie kinders, prepermanente huisvrou, pre-menopouse verder gedink het as wat Joel Osteen, Dr. Phil en Oprah haar daagliks meedeel. ’n Vrou wat Virginia Woolf gelees het, DNA-spirale ontleed het, A Clockwork Orange gesien het, in Griekeland topless getan het, whisky gedrink het en fiets gery het sonder ’n helmet. Sy’t gelag en sy’t gehuil en sy’t actually probeer leef. Nou wag sy in spanning vir Vrydae se Eikestadnuus sodat sy die dorpskalender en doodsberigte kan bestudeer.
“En wat dink jy moet ek vir jou pa sê?”
Josua gooi sy arms in die lug. Vergeet van die handdoek wat op sy voete val. Sy ma verstar, draai na die badkamerdeur, onthou wat daaragter in die bad sit, en slaan dan haar oë op na die hemel.
“Ma, sê vir Pa net wat Ma wil.” Hy buk af, tel die handdoek op en draai dit om sy lyf. “Great moral absolutes of good and evil have no validity outside each particular human situation. Ek is nie julle nie en julle is nie ek nie. Moenie my veroordeel omdat ek nie ’n kloon wil wees nie.”
“As jy soos ’n volwassene wil optree, moet jy die gevolge van jou dade dra. Moenie wegkruip agter een of ander patetiese musikant se pseudo-diepsinnighede nie, Josua.”
“Dit was Sartre, Ma. Soos in die filosoof.”