***
Hulle sê ’n mens droom elke aand. Soms onthou jy, soms nie. Josua se onthou-drome het, so gou soos wat dit begin het, weer opgehou.
Josua het wel ’n laaste keer gedroom.
Hy het gedroom van Ophelia. Ophelia wat nimfagtig, selfs in die dood, tussen die waterplante dryf. Haar hande was palm-na-bo in die lug – ’n finale gebaar van oorgawe … Maar iets was nie reg nie. Die ruie bosse weerskante van die waterpoel was daar, die helder blomme wat een-een uit haar hand dryf, die elaborate rok, die donker hare … Dit was die probleem. Hierdie Ophelia het ’n kop vol goue krulle gehad wat soos koringgerwe om haar gedryf het.
Dit het hom soos ’n weerligstraal getref: hierdie Ophelia was Titania.