Markus gaan sit voor sy rekenaar. Hy klik op Word. Hy wens hy het geweet waaroor om te skryf.
Die plaaslike koerant het ’n opstelkompetisie uitgeskryf en Ou Skoenie wil hê die hele klas moet deelneem. Die prysgeld is R1 000 vir die skool en R1 000 vir die skrywer.
Met sy kop in sy hande lees hy weer die reëls. Vir so baie geld, moet ’n mens seker maar probeer. Hy wil al lankal vir hom ’n skootrekenaar koop. Hy sug en kyk moedeloos na Jonathan, wat aan sy poot lê en kou.
“Wat moet ek tog skryf, Jonathan?” vra hy sonder om ’n antwoord te verwag.
Jonathan hou op kou. “Skryf van my.”
“Wat moet ek van jou skryf?”
“Skryf van my en Sheila.”
“Jy’s simpel, man, wie wil nou ’n love story van honde hoor!”
“Nou hoekom vra jy dan?” brom Jonathan en kou verder aan sy poot.
Skielik tref dit Markus soos ’n bliksemstraal. Hy spring so vinnig op dat die stoel omval. “Dêmmit, Jonathan, jy’t gepraat!”
“So what? Ek praat nog altyd,” brom Jonathan en staan ook op.
“Sherbet, nee! Wat gaan nou aan? Dis weird, ek hoor jou dan nou praat asof jy ’n mens is. Dit kan mos nie wees nie! Jy’s ’n hond, man!” raas hy met die Labrador wat verbaas na hom staan en kyk.
“Chill man, miskien het jy jou oupa se gawe saam met sy naam geërf,” kom dit ewe kalmpies van Jonathan.
“Ou… ou… oupa Markus se gawe? Wat bedoel jy, stupid?” stotter Markus.
Sy ore suis. Wat gaan nou aan? Ek verbeel my seker die simpel hond kan praat. Niemand sal my glo nie! Wat sal Ma en Pa en die snip van ’n Jana sê? Hy weet sommer hulle gaan hom uitlag.
Hy skud sy kop ongelowig. “Jonathan …? Weet my pa-hulle jy kan praat?”
“Partykeer weet hulle. Partykeer weet hulle nie, maar los dit nou dat ons kan gaan stap, dit word laat,” pleit Jonathan met smekende bruin oë.
Markus staar na die hond en sy mond voel droog. Hy verbeel hom nie, hy verstaan elke woord wat Jonathan sê.
“Maar … hoekom … hoe, vind ek dit dan nou eers uit?” fluister-vra hy.
“Nee, dink mooi, jy het my al baie keer gehoor. Onthou jy nie gister toe ons gaan draf het nie? Toe’t ek gesê ek wil ’n draaitjie by Sheila gaan gooi. En toe was jy só gemeen om ‘NEE!’ te sê. Onthou jy?” beskuldig Jonathan.
“Vrek, Jonathan! Dit freak my uit, maar ek onthou nou. Sy’t nog ‘Bye!’ agter jou aangeroep! Driedubbele dêmmit! Kan ek háár dan ook verstaan?” wonder Markus verward.
“As jy jou oupa se power het, kan jy alle diere verstaan. Jou pa vertel dan heeldag hoe jou oupa Markus met diere kon praat! Dis nie so ’n big deal nie, los dit nou, ek wil gaan stap,” soebat Jonathan.
Markus vryf oor die hoendervleis op sy arms. “Wil jy vir my sê ek kan julle almal verstaan? Vir jou en vir Basjan en die bure se Oshkosh en vir Bluey van oorkant die straat?” Hy skud sy kop. “Nee, ek glo jou nie, dis te scary!”
“Onthou dit is ’n power wat jy het, maar as jy dit nie wil gebruik nie, hoef jy nie. As jy nie wil hoor nie, kan niemand jou máák hoor nie. Kom nou, jong, dis nie iets om oor uit te freak nie. As ek kan verstaan wat jy sê, kan jy mos verstaan wat ek sê – what’s the diff? Julle mense is dan kamtig so slim.”
“Kan jy álle mense verstaan?” vra Markus heeltemal uit die veld geslaan.
“Net as ek wíl. Partykeer is dit beter om nie te verstaan nie, as jy verstaan wat ek bedoel,” hou Jonathan hom slim.
Markus raak skielik opgewonde. “Kom, Jona, ons gaan parkie toe, ek wil kyk of die gewone klomp al daar is, ek weet dis crazy, maar ek wil kyk of ek hulle ook kan verstaan. Loop haal jou leiband. Toe, moenie net daar staan nie, ek wéét jy verstaan my!”
“Ek kon geweet het jy sal jou power misbruik,” snork Jonathan, maar hy gaan haal darem die leiband.
Buite in die straat groet Bluey soos altyd, “Hallo, waarnatoe gaan julle?”
“Hallo, Bluey, ons gaan kyk of Jonathan se girlfriend in die parkie is,” terg Markus sonder om te dink wat hy doen.
“Vergeet dit maar, vandat sy in daardie hondekos-advertensie is, is sy te grênd vir julle. Haar baas sal nie eens toelaat dat Jona onder haar wind verbyloop nie,” roep die steekhaarbrakkie met haar hoë stemmetjie agterna. Maar Markus is so haastig om in die park te kom dat hy haar nie eens hoor nie.
Hulle is nog ’n hele ent van die park af toe Jonathan al kerm: “Ag nee, Sheila is nog nie hier nie.”
By die park gaan staan Markus ook teleurgesteld. Dis net die nuwe mense op die hoek wat met hul swart poedel aangestap kom. Die poedel maak amper nooit ’n geluid nie. Sy hardloop net in sirkels soos ’n mal ding. Jonathan steur hom ook nie aan haar nie. Hy is besig om, neus op die grond, ondersoek in te stel of Sheila en haar baas al daar was.
Skielik kom die poedel met lang hale na Markus toe aangehardloop. Sy stop viervoet voor hom en kyk hom met haar pikswart ogies direk in die oë. In die pompom op haar kop is ’n pienk strikkie geknoop.
“Was jy weer by die hondesalon?” vra Markus en steek sy hand na haar uit.
Die poedel swaai haar koddige lolliepopstertjie vinnig in die rondte en maak snaakse tjankgeluidjies asof sy iets vir hom wil sê, maar Markus kan nie uitmaak wát nie.
“Wat sê jy?” vra hy en buk af na haar toe. Die poedel blaf opgewonde terug, maar hy kan niks verstaan nie. “Ag komaan. Dit werk nie!” brom hy vies.
“Kom, Jonathan!” roep hy teleurgesteld. “Ons gaan maar huis toe! Ek het geweet die flippen power-ding is sommer tjol. Ek het nie ’n cookin’ clue wat die simpel poedel sê nie. Dit klink vir my net soos ‘oi, oi-oi’.”
Jonathan kom stertswaaiend nader en groet die poedel met ’n baie aansitterige stem: “Hallo, Belle! Verskoon maar vir Markus wat so ongeskik is, sy kop raas vandag, as jy weet wat ek bedoel.”
Die poedel kyk bekommerd na Markus, toe maak sy ’n vreemde geluid en hardloop verskrik weg.
“Wat bedoel jy? Jy’s die een wat nie lekker in jou kop is nie! Watse aansitterige pratery is dit met jou?” vra Markus vererg.
“Sy’s ’n Franse hond man, dis soos jy met hulle moet praat, anders verstaan hulle jou glad nie,” blaf Jonathan verontwaardig.
“Watse tjol praat jy – as sy Frans praat, kan jy haar mos ook nie verstaan nie, of het jy nou skielik meneer Frankryk geword?”
“Nee, ek kan ook nie eintlik verstaan wat sy sê nie. Ons lees maar mekaar se lyftaal. Sy lyk nogal cute met die strikkie, dink jy nie so nie?” hyg Jonathan terwyl hy die verskrikte Belle agterna kyk.
“Cute se voet!” raas Markus en begin huis toe stap. Skielik gaan hy staan …“Hei, maar wag ’n bietjie, jy sê sy praat Frans! Dis seker hoekom ek haar nie kon verstaan nie,” lag hy verlig.
Op daardie oomblik hou ’n bakkie in die straat aan die anderkant van die park stil. Dis mevrou Coetsee met Apollo, haar Golden Retriever. Sy het nog skaars die agterklap oop, toe spring die jong reun uit en storm op Markus en Jonathan af. Amper by hulle slaan hy op die gras neer, rol op sy rug en groet onderdanig: “Hi, Jonathan, hoe gaan dit vandag met jou?”
Markus wonder nog wat hy hóór en wat hy hom verbéél hy hoor toe sy sussie Jana en haar hondjie Basjan uitasem by hulle aansluit.
“Hoekom het julle vir ons weggeloop?” verwyt sy, maar voor hy kan antwoord, druk Apollo tussen hulle deur en snuffel ál om Basjan. Die klein Maltesertjie vererg hom bloedig vir die lastige jonghond.
“Shut-up! Gedra jou, ek is nie jou speelmaat nie,” knor hy en wys sy skerp tandjies.
Apollo spring met ’n verskrikte tjank weg en hardloop so vinnig as hy kan terug na mevrou Coetsee toe. Hy klim amper teen haar op so opgewonde is hy. “Dis ’n hónd, dis sowaar ’n hónd!” blaf hy kliphard sodat almal hom kan hoor.
Markus bars uit van die lag. “Dit lyk my hy’t gedink jy is ’n hasie, Basjan.”
“Nee, die stupid het gedink ek’s ’n flippen kat!” stik Basjan van woede. “Kom Jonathan, ons gaan liewer huis toe,” knor hy en stap met stywe bene weg. Jonathan volg gedweë.
“Ag nee, ons het dan nou net hier gekom,” keer Jana. “Kom Bassie, ons hardloop tot by die glyplank dan help ek jou om ’n bietjie af te gly,” roep sy oor haar skouer. Vir ’n wonder draf Basjan met sy kort beentjies agterna.
“Hy sal enigiets doen om vir Jana tevrede te stel,” brom Jonathan en kyk verlangend om hom rond.
“Kom ons gaan kyk wat Jana nou weer met hom aanvang. Sheila gaan tog nie meer kom nie. Sy het seker vir haar ’n ander boyfriend gekry,” terg Markus.
Jonathan kyk verwytend na hom. Toe lig hy sy been teen ’n bossie en stap, sonder om te antwoord, kop onderstebo agter Basjan aan.
By die glyplank sien hulle hoe Jana vir Basjan laat afgly en hom dan vang as hy onder kom. Toe sy dit die derde keer doen, sug hy moedeloos: “Asseblief, Jana, dit is nou genoeg, ek is nie meer drie maande oud nie.”
“Jana, los hom nou, dis nie meer vir hom lekker nie,” keer Markus.
“Natuurlik is dit vir hom lekker, hoe weet jy dis nie vir hom lekker nie?”
“Hy sê dan so … ek bedoel … sy hele lyf sê so.”
Jana wil nog stry, maar Basjan en Jonathan is klaar op pad huis toe.
“Dit lyk my jy’s reg,” brom sy en volg hulle.
By die bure se hek wag Oshkosh, die plooigesig Shar Pei, hulle in. “Dit lyk my jy het jou meisie gemis, ou Jona? As ek jy was, vergeet ek van haar. Vandat sy ’n televisiester is, dink sy én haar baas sy is van kaas gemaak.”
“Ag, gaan versmoor in jou plooie, ou bitterbek!” knor Jonathan, terwyl Basjan ook van die kant af vir Oshkosh vertel wat presies hy alles met hom gaan doen as hy dit buite sy veiligheidsheining waag.
“Hei-hei! Dit was darem nou nie nodig om arme Oshie so te beledig nie,” keer Markus. “Kom, los julle nonsies, dan hardloop ons resies tot by die huis,” daag hy die twee honde uit en begin huis toe hardloop.
Dié aand aan tafel kan Markus dit nie langer hou nie. “Wat sal julle sê as ek sê ek kan vir Jonathan verstaan?”
Sy ma kyk op: “Hoe bedoel jy, ‘verstaan’?”
“Ja, wat bedoel jy? Ons kan hom ook verstaan, daar is niks snaaks daaraan nie,” antwoord Jana en trek ’n gesig om te wys hoe alledaags dit is om ’n hond te verstaan.
“Of bedoel jy jy verstaan hoekom hy kleintyd al ons stoelkussings stukkend geskeur het?” vra sy pa.
“Nee, ek weet nie hoekom hy dít gedoen het nie. Ek bedoel ek verstaan wat hy sê,” probeer Markus verduidelik, maar hy begin alweer self twyfel.
“Big deal! Ons verstaan ook. ‘Woef-woef, ek wil uitgaan’, ‘woef-woef, ek wil kos hê’ en ‘woef-woef, daar is mense by die deur’,” hou Jana haar snaaks.
“Ag los dit!” vererg Markus hom en stoot sy bord terug.
“Nee, ek dink jy het van kleins af ’n slag met diere,” vat sy ma sy kant.
“Ja, jy’s seker ’n soort dog whisperer. As ’n mens horse whisperers kan kry, kan jy mos hondefluisteraars ook kry,” paai sy pa.
Markus kan sien hulle verstaan nog nie regtig wat hy vir hulle probeer sê nie.
“Ai, ai, en ek het gedink dis net ons honde wat verkeerd verstaan word,” sug Jonathan onder die tafel.
“Jy sal jou verbaas,” brom Markus.
“Wie sal hom verbaas?” wil Jana dadelik weet.
Markus gluur haar aan: “Ek praat nie met jou nie … ek … ek …”
“Ek praat nie met jou nie, ek praat met diere, ha, ha, ha!” val sy hom in die rede.
“Toe nou, hou op met julle stryery en eet klaar,” keer sy ma.
Terwyl hulle in stilte verder eet wonder Markus weer of hy hom nie dalk tog alles verbeel nie.
Ná ete sit hy die TV aan sodat sy ma en Jana na hul sepie kan kyk. Sy pa lees die koerant en Jonathan en Basjan lê op die mat voor die verwarmer. Basjan slaap byna onmiddellik, maar Jonathan kyk stip na die beeld op die TV.
“Wat kyk jy, ou?” vra Markus.
“Ek wag om te sien of Sheila gaan opkom,” hyg Jonathan sonder om sy oë te knip.
“Hy wag vir die hondekos-advertensie,” terg Jana.
Markus kyk verbaas na haar: “Hoe weet jy?”
“Ek weet. Hy is ’n Labrador en Labradors wag altyd vir kos,” antwoord sy.
“Ook weer waar,” lag Markus. Hy’t nou amper gedink sy suster het verstaan wat Jonathan gesê het.
Die oomblik toe die hondekos-advertensie verskyn, begin Jonathan opgewonde blaf, maar toe almal vir hom lag, draai hy verleë in die rondte en plof met ’n sug op die mat neer.
Markus kry hom jammer. “Kom, ou, miskien is Sheila môre in die park dan kan jy vir haar sê jy het haar in die advertensie gesien. Kom ons twee gaan kamer toe, ons kyk tog nie die stupid sepie nie.”
Sy pa kyk van die koerant af op, “Hier’s ’n berig in die koerant oor ’n sindikaat wat honde in ons omgewing steel. Die polisie vermoed hulle word as veghonde gebruik.”
“Jana tel vir Basjan op haar skoot en fluister in sy oor: “Kom sit hier by my, ek wil nie hê hulle moet jou steel nie.”
“Ek dink darem nie hulle sal ons twee steel nie. Basjan is te oud en Jonathan is te ’n slegte bakleier,” lag haar pa.
“Hoor wie praat!” kom dit tegelyk van Jonathan en Basjan.
“Maar hoe weet hulle hy is oud?” hou Jana vol.
“Nee man, Jana, hulle steel nie sulke klein hondjies nie. Jy hoor mos hulle steel honde wat kan vég,” verseker haar ma haar.
“Ek kan beter baklei as party mense wat ek ken!” brom Basjan en wikkel hom dieper op Jana se skoot in.
“Hoe weet julle hulle steel honde om te veg? Miskien steel hulle mooi honde en dan gaan hulle jou steel, Bassie,” hou Jana vol terwyl sy hom teen haar vasdruk.
“Ek en Jona gaan kamer toe. Nag almal,” groet Markus en wink vir Jonathan om saam te kom.
“Is julle nie bang my pa hoor julle nie?” vra hy toe hy die kamerdeur agter hom en Jonathan toetrek.
“Hy hoor, maar gelukkig het hy nie jou gawe nie,” grinnik Jonathan.
Later, terwyl hy oopoë in die bed oor alles lê en dink, onthou Markus dat hy toe ook nooit verder met sy storie gekom het nie. Hy voel aan sy voorkop en wonder of hy nie koors het nie. Hierdie power-ding kan mos nie waar wees nie! Geen wonder Jana dink hy is stupid nie. Hy sal maar van nou af versigtiger wees met wat hy sê.
Hy is lief vir sy suster, maar sy kan partykeer vreeslik snipperig wees. Aan die ander kant sou hy haar ook nie geglo het as sy gesê het sy kan hondetaal verstaan nie.
Daardie nag droom hy hy is ’n akteur in ’n honde-konsert. Hy droom hy ken sy woorde, maar niemand verstaan hom nie.
Wanneer gaan ons parkie toe?” wil Jonathan weet met ’n lyf wat bewe van opgewondenheid.
Markus kyk op sy horlosie. “Dis nog te vroeg jong, maar oukei, ek weet jy kan nie meer wag om by Sheila uit te kom nie,” glimlag hy en roep vir Jana en Basjan om saam te kom.
Hulle is skaars in die park toe mevrou Coetsee met Apollo opdaag.
“Markus, Jana, kom hoor gou hier!” wink sy hulle nader. Toe hulle by haar kom, beduie sy met opgewonde handgebare vir hulle en Belle se baas, wat intussen opgedaag het, hoe iemand vir Apollo wou steel. “Ek en my man was op pad winkel toe, toe die man daar by ons huis aankom met ’n wolhaarstorie dat hy vir Apollo veearts toe moet neem.”
Terwyl almal geskok na haar storie staan en luister, hardloop Belle soos altyd in sirkels. Sy het nog steeds die pienk strik in haar hare. Skielik kom staan sy reg voor Jonathan.
“Oui, oui, bad man give Apollo biltong. Me too, but I not take, I not like man,” vertel sy en rol haar oë soos ’n regte drama queen.
“Wat sê sy, Jonathan, wou die man haar ook steel?” vra Markus.
“Het die man jou ook probeer steel?” vra Jonathan en hy vergeet skoon om met sy aansitterige ‘Franse’ stem te praat.
“Pardon? He not steal me. He only offer me biltong at parlour. I not take. I not like man. He too many tattoos, he bad man,” pruil sy met fladderende wimpers.
Voor Markus kan uitmaak wat Belle vir hulle probeer sê, roep haar baas haar terug.
Jonathan mik om agterna te hardloop, maar toe steek hy skielik viervoet vas. Sy hele lyf bewe van opgewondenheid. Aan die oorkant van die park kom meneer Hunt met Sheila aangestap. Toe sy hulle sien, beur sy aan haar leiband om by Jonathan uit te kom.
“Dit lyk my sy het jou ook gemis. Gaan sê gou hallo!” por Jana hom aan.
Jonathan staan nog ’n rukkie gevries. Toe gee hy ’n paar fyn tjankies en hardloop in Sheila se rigting …
“Call back your dog! Sheila can’t make pals with every street dog,” raas meneer Hunt en pluk hard aan Sheila se leiband.
Jonathan steek in sy spore vas.
“See you tomorrow!” roep Sheila met ’n pienk uithangtong.
“Het jy gehoor wat sê sy? Ek moet môre weer kom,” lag Jonathan van oor tot oor, dit lyk of hy nie eens gehoor het dat meneer Hunt hom ’n straathond genoem het nie.
Op pad huis toe is hy in so ’n goeie bui, hy groet selfs vir Oshkosh ewe vriendelik. “Middag, Oshkosh, jammer oor gister.”
“Ag, jy’s lankal vergewe!” snuif Oshkosh tussen sy plooie deur.
Aan tafel vertel Jana hoe iemand Apollo wou steel. “Die Coetsees was nie by die huis nie. Toe kom daar iemand met ’n swart mini-van en hy sê vir die tuinier hy moet vir Apollo veearts toe vat. Hy’t ’n papier met Apollo se naam en sy adres by hom gehad en die tuinier sê dit het gelyk asof Apollo bly was om die man te sien. Toe maak hy maar die hek oop. Gelukkig het die Coetsees iets vergeet waarvoor hulle moes omdraai. Toe die man hulle sien, skrik hy so groot dat hy sonder Apollo in sy paneelwa spring en wegjaag. Mevrou Coetsee is baie kwaad!” eindig sy dramaties.
“Ai, ek kan net dink hoe ontsteld sy was, die son skyn vir haar uit daardie hond,” skud sy ma kop.
Markus spring van sy stoel af op: “Waar’s die koerant wat Pa gisteraand gelees het? Ek wil dit vir haar vat, miskien het sy nog nie gelees van die sindikaat wat honde steel nie.”
“Ek dink nie hulle sal vir Apollo steel as hulle ’n veghond wil hê nie, hy is glad te vriendelik!” lag Jana.
“Ja, jy’s seker reg, maar ek gaan tog maar die koerant vir haar gee, ’n mens weet nooit.”
“Maar wag ’n bietjie, miskien steel hulle nie veghonde nie, miskien steel hulle pedigree honde om te verkoop. Dan steel hulle jou dalk ook, Basjan,” sê Jana en tel hom op haar skoot.
“Eendag, toe ek nog klein was, wou iemand my steel, maar jy wou my nie glo nie,” brom Basjan en kyk beskuldigend onder sy kuif deur na haar.
“Gelukkig wou niemand jou nog ooit steel nie,” sê sy en druk haar gesig in sy lang hare. “Poef, maar jy stink! Niemand sal ook so ’n vuil hondjie steel nie,” lag sy.
“Ook nie so ’n hardegat nie!” waag Jonathan.
Dadelik vererg Basjan hom, hy spring van Jana se skoot af en loop knor-knor met stywe bene al om Jonathan tot dié ewe inskiklik op sy rug rol.
“Is jy bang vir hom?” lag Markus.
“Nee, maar ek ken my plek – hy is die oudste, onthou,” verduidelik Jonathan.
Dié aand sukkel Markus weer om aan die slaap te raak. Hy wonder of Apollo die man geken het? Die tuinier sê mos hy was bly om hom te sien, onthou hy.
Skielik sit hy regop in die bed. “Jonathan, word wakker! Ek dink nou aan iets! Wat het Belle gesê? Wou ’n man haar ook steel?”
“Nee, sy’t gesê ’n man wat sy nie like nie, wou vir haar biltong gee. Sy’s stupid – ek sou die biltong gevat het.”
“Nee! As jy dit doen is jý stupid. Onthou, jy mag nie kos by vreemde mense vat nie. Daar kan gif in wees,” preek Markus.
“Okei, okei, ek sal onthou, moenie ’n kat skiet nie. Maar van wanneer af is biltong kos?”
Markus kan nie onthou of mevrou Coetsee gesê het die skurk wou vir Apollo biltong gee nie. Maar iewers is daar ’n verband, hy kan net nie dink wáár nie.
Nee wat, die arme Belle het seker maar net gevoel Apollo kry te veel aandag. Toe maak sy die biltongstorie op, sodat hulle moet dink iemand wou haar ook steel. Sy lyk my na ’n regte klein bedorwe brak wat altyd al die aandag wil hê, besluit hy.
“Of wag ’n bietjie,” dink hy hardop … “Jonathan, dink nou mooi, wat presies het die klein modepop van ’n poedel gesê … van die man wat vir haar biltong wou gee?”
Jonathan sug. “Sy’t gesê ’n slegte man wou vir haar en Apollo biltong gee, maar sy het dit nie gevat nie, want sy’t hom nie ge-like nie. Dís wat sy gesê het. Kan ek nou asseblief slaap, ek het nét van Sheila begin droom!”
“Het sy gesê Apollo het die biltong gevat?”
“Ja, ek dink so.”
“Waar het die man vir hulle die biltong gegee?”
“Ek weet nie, sy het gesê hy wou dit vir háár by die parlour gee. Ek weet nie waar hy dit vir Apollo wou gee nie. Met ’n naam soos syne sal ek nie verbaas wees as hy ook parlour toe gaan nie. Kan ek nou slaap asseblief?” sug Jonathan.
“Ja, slaap maar, maar môre moet ons uitvind of Apollo saam met haar by die hondesalon was. Ons moet uitvind wie die ou met die tatoes is, hy klink my darem net ’n bietjie te vrygewig met sy biltong. Dalk lê die geheim by die hondesalon. As dit so is, het ek vir jou ’n verrassing: Jy kort lankal ’n behoorlike bad.”
Jonathan spring regop en blaf kliphard van ontsteltenis. “Vergeet dit! Ek gaan nie hondesalon toe nie!” baklei hy, skielik wawyd wakker.
“Sjuut, man, jy raas die ander mense wakker! Dalk is daar ’n ander plan,” maak Markus hom stil.
Die volgende oggend word Markus met ’n kop vol planne wakker.
“Jonathan, ons moet by daardie hondesalon uitkom! Weet jy na watter salon gaan die poedel elke maand?”
“Nee, ek weet nie en al het ek ook geweet, sou ek nie vir jou gesê het nie!” blaf Jonathan en hardloop by die agterdeur uit.
“Wat gaan nou met hom aan dat hy vroegoggend so omgekrap is?” vra Jana.
“Nee, ek weet nie, hy het seker te veel van Sheila gedroom. Weet jy wat is die naam van die hondesalon waarheen Belle gaan?”
“Ja, na ‘Kiets ’n Woef’ toe. Hulle is daar naby die poskantoor. Apollo gaan ook soontoe. Hoekom vra jy, jy wil tog seker nie vir Jonathan vat nie?”
“Nee, maar die arme Basjan word nou oud en hy was nog nooit eens by ’n doggy parlour nie. Miskien moet ons hom ’n slag vat,” kry hy skielik ’n blink nuwe plan.
“Ja, kom ons vra vir Mamma of ons hom kan vat!” kom dit opgewonde van Jana.
“Wie wil julle waarheen vat?” vra sy ma agter hulle.
“Asseblief, Mamma, kan ons vir Basjan ’n slag hondesalon toe vat? Hy ruik nie te lekker nie en dit is nou so koud om hom self te bad. By die hondesalon word hulle met warm lug drooggeblaas,” soebat Jana.
Haar ma kyk verbaas na haar. “Jy weet, jy’s reg. Ons kan hom gerus ’n slag vat, dan kan hulle hom ’n bietjie pamperlang en sommer sy toonnaels ook knip. Ek is te bang ek maak hom seer as ek dit self doen.”
Markus wil net bly word omdat dit lyk of sy plan gaan werk, toe Basjan tandeknersend van woede onder die tafel uitkom. “Dit sal die Donderdag wees, ek laat my nie met allerhande goed bespuit dat ek soos ’n blessitse Toy Pom ruik nie,” knor hy en stap stywebeen by die deur uit.
Markus volg hom. “Niemand gaan jou met goed bespuit nie, Bassie, ons sal vir hulle sê dit moet net ’n gewone bad, met gewone hondeseep wees, niks fancy nie,” paai hy. “Buitendien, ek het jou hulp nodig. Jy gaan soort van ’n speurder vir ons wees, want Jonathan is te veel van ’n papbroek, hy sal alles opmors, maar jy is mos vir niks bang nie.”
“Dan wil ek elke dag biltong hê!” vat Basjan ’n kans.
“Nee wag, klein klits, waar moet ek elke dag biltong kry?” lag Markus.
“’n Man kan maar net probeer,” sug Basjan. “Wat moet ek by die salon gaan doen?”
“Jy moet net jou ore en oë oophou en vir ons alles kom vertel wat daar aangaan. Ek weet self nie hoekom nie, maar ek het so ’n voorgevoel daar word gekonkel by daardie salon. Jy moet net baie versigtig wees.”
“My naam is Basjan, nie BANGjan nie. Al het ek nog net een goeie oog, makeer my ore niks. Jou ma kan my maar vat. Ek het lus vir ’n bietjie avontuur. My lewe raak glads te eentonig,” grom hy en skrop met sy agterbene dat die graspolle waai om te wys hoe paraat hy is.
Terug in die huis vra Markus: “Gaan Ma nou vandag vir Basjan by die hondesalon laat bad?”
“Ek sal bel en hoor of hulle hom kan vat,” belowe sy.
“Ma moet net sê hulle moet hom nie met allerhande lekkerruikgoed spuit nie. Hy wil nie soos ’n Toy Pom ruik nie.”
“Hoe ruik ’n Toy Pom dan?” lag sy.
“Nee, ek weet nie, maar hy wil nie lekkerruikgoed aan hom gespuit hê nie!”
“Toemaar, ek sal sê. Kry julle goed dat ons kan ry, netnou is julle laat vir skool.”
In die kar stamp Jana aan hom. “Watse Toy Pom-storie spin jy?” lag sy.
“Ag, hy is nie ’n meisiehond nie. Ek weet sommer hy sal nie van lekkerruikgoed hou nie. Het jy jou oefenklere onthou?” verander hy die onderwerp.
“Ja, dis hier in my sportsak!”
Ná skool kan Markus nie gou genoeg by die motor uitkom nie. Hy voel onrustig oor Basjan.
“Waar’s Basjan?” vra hy sonder om te groet.
“Groet jy nie eers nie?” vra sy ma.
“Jammer, Ma, hallo, Ma. Waar’s Basjan?”
“Hy is by die huis, waar anders?”
“Was hy by die salon?”
“Ja, julle sal hom nie ken nie!”
“Hallo, Mamma! Wie sal ons nie ken nie?” vra Jana toe sy inklim.
“Vir Basjan, hy wag by die huis.”
Basjan sit op die bank. Opgepof soos ’n groot wit spookasem, maar ’n baie boosaardige spookasem.
Waag dit net om te lag! sê sy hele houding, maar hy maak nie sy bek oop nie.
“Hoekom is jy so kwaad? Jy lyk dan so mooi!” spog Jana.
“Hy wil nie die strik in hê nie,” waarsku Jonathan.
“Jana, haal die simpel strik uit sy hare, hy hou nie daarvan nie,” sê Markus.
“Okei, as jy nie van die strikkie hou nie, haal ons dit uit,” paai sy.
Toe Jana die strik uit sy hare het, spring Basjan brom-brom van die bank af.
“Julle kry my nie weer by daardie plek nie. Dis ’n hool! Dis ’n plek van konkel en knoei, om nie eens te praat van die diskriminasie nie. Weet die mense nie dis teen die wet nie?” mor hy en spoeg ’n knoop voor Markus uit.
“Toe nou, ou! Dit was darem seker nie só sleg nie,” troos Markus en buk om die knoop op te tel. “Ma, wat se knoop is dit dié?”
“O, aarde! Nee, ek weet nie, hy het dit seker van die man wat hy getakel het se klere afgebyt.”
“Hy’t wát gedoen? Het hy iemand gebyt?”
“Ja, dis blykbaar die meisie wat by die salon werk se vriend. Ek het só geskrik toe Basjan op hom afstorm, maar die vrou by die toonbank het gesê dis ’n goeie ding, want die eienaar wil nie hê hy moet gedurende werktyd daar rondhang nie.”
“Nou hoekom wou Basjan hom byt?” vra Jana verbaas.
“Ek weet nie. Die man het ’n papiertjie laat val en toe hy buk om dit op te tel, storm Basjan op hom af.”
Markus wil bars van nuuskierigheid. “Ek gaan gou uittrek,” sê hy en klap sy vingers vir die honde om saam te kom. Hy maak die kamerdeur agter hulle toe. “Vertel! Wat het jy alles uitgevind?”
Basjan neem sy tyd voor hy antwoord. “Ek weet nie wat ek uitgevind het nie, want ek weet nie wat ek móés uitvind nie. Al wat ek weet, is dat daar kwaai gediskrimineer word teen ou honde by daardie plek.”
“Hoekom het jy die man aangeval?”
“Om vir jou die knoop te bring, natuurlik!”
“Wat moet ek met die knoop maak?” vra Markus verbaas.
“Jy het dan gesê ek is ’n speurder en speurders soek bewysstukke, soos knope en goed.”
Markus kan sien Basjan is besig om hom te vererg en dan gaan hulle niks uit hom kry nie.
“Nou maar baie dankie vir die knoop. Hoekom dink jy die knoop is ’n bewysstuk?” vra hy versigtig.
“Die knoop is nie ’n bewysstuk nie, maar ek kon nie die regte bewysstuk in die hande kry nie,” brom die “speurder” vererg.
Jonathan het hom tot dusver uit die gesprek gehou, maar nou kom hy vinnig van die kant af met ’n verrassingsvraag, soos hulle op TV doen: “Wat is dan die regte bewysstuk?”
“Die papiertjie waarop die meisie Sheila se adres geskryf het.”
Dit neem ’n tydjie voor die betekenis van Basjan se woorde tot hulle deurdring. “Shiéla se adres!” kom dit tegelyk van Markus en Jonathan.
“Mý Sheila se adres?!” hyg Jonathan.
“Ek weet van net een Sheila,” snork Basjan. “Sy was ook by die salon en hulle het omtrent ’n bohaai oor haar gemaak. Almal moes kom kyk hoe die TV-ster lyk en die olierige vent met die tatoes het haar aanhoudend biltong gevoer. Ek het niks gekry nie. Nie eens ’n krieseltjie nie! Dis dié dat ek sê hulle diskrimineer teen die ouderdom.”
“Kom tot die punt, hoekom het hulle Sheila se adres neergeskryf?” blaf Jonathan opgewonde.
“Ek wéét nie. Die man het net gesê Sally, dis die salonmeisie, moet vir hom die adres op ’n papier skryf en die res aan hom oorlaat, maar hy het dit nie gesê asof hy vir Sheila nog biltong wil gaan aflewer nie, that’s for sure. Dís hoekom ek weet die papiertjie is ’n belangrike leidraad en dis hoekom ek dit wou gryp toe hy dit laat val, maar hy was te vinnig vir my. Toe byt ek maar sy onderbaadjie se knoop af,” verduidelik Basjan verontwaardig.
“Kom ons gaan eet. As ons namiddag park toe gaan, kan ons vir die poedel vra of dit dieselfde man is wat vir haar wou biltong gee.”
“Ja, maar sê nou daar is gif in die biltong, dan sal Sheila doodgaan,” kerm Jonathan.
“Ek dink nie so nie, Apollo het niks oorgekom nie, onthou? Hy het ook van die biltong geëet,” troos Markus.
“Ja, maar jy sê altyd daar’s gif in die biltong wat vreemde mense jou gee,” hou Jonathan aan kerm.
Aan tafel probeer Markus by sy ma uitvind hoe die man by die salon gelyk het. Sy kan net onthou dat hy olierige swart hare en getatoeëerde arms het en dat hy ’n rooi onderbaadjie aangehad het.
“Wat was op sy arms getatoeëer?” vra Jana nuuskierig.
“Ek kon nie sien nie.”
“Kopbene, daar’s kopbene op sy arms,” brom Basjan onder die tafel.
“Kopbene?” vra Markus.
“Ja, nou onthou ek, dit was kopbene. Hoe het jy geweet?” vra sy ma.
Markus trek sy skouers op. “Sommer geraai.”
Die hele middag terwyl Markus huiswerk doen, draai Jonathan ál om hom. Hy wil elke nou en dan weet of dit nog nie tyd is vir hulle middagstappie nie. Hy’t selfs al sy leiband by Markus in die kamer kom neergooi.
“As ons te vroeg gaan stap, mis ons die ander honde, maar kom, ek weet jy kan nie wag om Sheila te sien nie. Dit lyk my jy leer nie jou les nie, maar hulle sê mos verbode liefde is die beste soort,” terg Markus toe hy die leiband aansit. “Ek hoop die poedel is daar sodat ons kan uitvind of sy iets weet.”
Hulle is amper by die park toe Jonathan losruk en op Sheila afstorm. Dit lyk of meneer Hunt ’n oorval gaan kry. Hy pluk vir Sheila weg en skree: “Come and get your dog, I told you we don’t like his attentions. We have just been to the dog parlour. I’m not letting him drool all over her again.”
Markus fluit vir Jonathan om terug te kom, maar vandag laat hy hom nie keer nie. Hy hardloop tot by Sheila, toe gaan staan hy doodstil. Net sy stert swaai woes heen en weer om vir die gebelgde meneer Hunt te beduie dat hy geen kwade bedoelings het nie.
Markus hardloop nader en is net betyds om te hoor hoe Jonathan vir Sheila soebat om versigtig vir vreemdelinge te wees.
“Ok, I will be careful. I promise,” belowe sy ewe liefies.
“Sorry sir … hy wil maar net kyk hoe dit met Sheila gaan,” mompel Markus en tel die leiband op wat Jonathan uit sy hand geruk het. “Kom, daar’s Apollo en Belle, gaan gesels maar ’n bietjie met hulle,” paai hy.
“Ek dink sy hou van my,” hyg Jonathan terwyl hy Sheila en haar ontstoke baas agterna kyk.
Apollo hardloop hulle soos gewoonlik tegemoet, maar Jonathan gee hom amper nie kans om klaar te groet nie.
“Apollo, is dit die man wat vir jou en Belle die biltong gegee het wat jou wou steel?”
“Ja, dit was dieselfde vriendelike man, met die rooi onderbaadjie en die tatoes. Ek wou saam met hom gaan want ek dink hy wou vir my nog biltong gee, maar nou is my mense vir my kwaad,” antwoord Apollo met ’n frons.
“No, no,” skud Belle haar kop. “Man not nice, too many tattoos. I not like,” pruil sy, en swaai haar pompom-stertjie koketterig tot sy Apollo en Jonathan se aandag het. Toe huppel sy vinnig weg oor die gras.
Die aand toe sy pa van die werk af kom, vertel sy ma hoe ongeskik Basjan by die hondesalon was. “Ek het my doodgeskaam toe hy sommer die vreemde man takel. Ek het al gesien hoe moet ons hof toe gaan omdat hy iemand gebyt het,” lag sy.
“Nou wat het die man gedoen dat hy hom so vererg het?” vra sy pa.
“Die man het vir die ander honde biltong gegee en nie vir hom nie,” sê Markus.
“Ja, snaaks, noudat jy dit sê, die man hét gestaan en biltong eet,” sê sy ma en kyk verbaas na Markus.
“Werk die man by die salon?” vra sy pa.
“Nee, anders was ons dalk in die moeilikheid. Die ontvangsdame sê die eienaar wil hom nie daar hê gedurende werksure nie. Dis glo een van die wassers se kêrel en hy hou haar uit die werk.”
“Is dit nie dalk een van die sindikaat wat die honde steel se mense nie? Hy klink vir my na ’n regte dodgy ou, anders sou Basjan hom nie gebyt het nie,” wonder Jana opgewonde.
“Ja, dit is nogal snaaks. Hy lê gewoonlik goeie oordeel aan die dag, maar hy raak ook al oud. Miskien laat sy instinkte hom al in die steek. Ek dink darem nie mense wat honde steel, sal onnosel genoeg wees om dit by ’n hondesalon te doen nie. Hulle sal daar te gou uitgevind word,” antwoord haar pa. “En buitendien dink ek ook nie die soort honde wat vir hondegevegte gebruik word, besoek eintlik hondesalonne nie.”
“Ja, maar ek sê mos hulle steel dalk nie die honde om hulle te laat baklei nie!” hou Jana vol.
“Julle kan sê wat julle wil, ek ken ’n skurk wanneer ek een sien,” snork Basjan en los een van sy berugte stinkbomme net daar tussen almal se voete.
“Sies, Basjan! Jy pong!” raas Jana en druk haar neus toe.
“O, genade, ja! Poef! ’n Mens kan dit nie uithou nie!” kla almal saam.
“Ja-nee, daar’s niks met sy instinkte verkeerd nie!” nies Jonathan en kruip onder die tafel uit en gaan lê en wag voor die TV vir die hondekos-advertensie.
Die volgende twee dae kan niemand gaan stap nie, want dit reën katte en honde, en die arme Jonathan moet maar tevrede wees om saans op die kassie na sy geliefde te kyk.
Saam met die sonskyn kom die slegte nuus.
Toe sy pa die oggend die koerant aan die ontbyttafel oopvou, sien Markus dadelik die opskrif bokant die foto van die mooi ligte Labrador: ’TV-STER GESTEEL!’
“Wag ’n bietjie, Pa, laat ek sien? Dis sowaar Sheila. Kyk, hier staan dit: ‘Geliefde hond wat in TV-advertensie optree, vermoedelik deur sindikaat uit erf gesteel’. Kyk hier op die foto. Dit ís sy!”
Jana loer oor haar pa se skouer. “Sien julle nou, ek sê mos hulle steel móói honde, nie veghonde nie!”
“Wat van Sheila, wat van Sheila?!” tjank Jonathan ontsteld en spring teen Markus op.
“Chill, ou, hulle sê sy is gesteel, maar miskien het hulle haar alweer gekry,” probeer Markus troos.
“Ons moet haar gaan soek! Kom, jy moet my help!” tjank Jonathan net al harder.
“Wag nou, ons moet eers by haar baas uitvind wat gebeur het. Bedaar, ek sal vanmiddag aan iets dink,” belowe Markus.
Ná skool is Markus haastig om by die huis te kom, maar Jonathan wag nie soos gewoonlik voor die deur nie. Net Basjan storm op hom af. “Jonathan is na die hondesalon toe,” kef hy opgewonde.
Markus skrik. “Ma, waar is Jonathan?” vra hy bekommerd.
“Hy is by die hondesalon. Ons kan hom vieruur gaan haal!”
“By die hondesalon?” vra hy en Jana gelyk.
“Wat maak hy daar?” wil Jana weet.
“Hy het hom só met olie besmeer, ek kon nie waag om hom by die huis te laat inkom nie,” verduidelik sy ma vies.
“Hy’t dit moedswillig gedoen! Hy wou hê jou ma moet hom na die salon toe vat sodat hy self die skurk kan bykom. Hy’t gesê hy kan nie vir jou wag om ’n plan te maak nie, toe kruip hy onder die kar in,” kef Basjan beskuldigend.
Markus kyk bekommerd na sy ma. “Van wanneer af is hy al daar?”
“Ek het hom vroeg al daar gaan los. Hulle het gesê hulle sal kyk wat hulle kan doen om hom skoon te kry, maar dit gaan my ’n klomp geld kos.”
“Was die getatoeëerde ou weer daar?”
“Nee, ek het hom nie gesien nie.”
“Dis sy geluk! Jonathan sal nie net met ’n knoop tevrede wees nie,” blaf Basjan. “Die kêrel is kwáád, jy moet kyk hoe het hy in die tuin aangegaan! Jou ma het dit nog nie eens gesien nie.”
Markus sit sy tas neer. “Wat het hy gedoen? Kom wys my.”
Hy skrik toe hy sien hoe dit lyk waar sy ma ’n klomp bolle geplant het. ’n Mens kan jou been breek in die sloot wat in die akker gegrawe is. “Is dit Jonathan se werk?” vra hy verstom.
“Ja, ek sê jou mos hy is kwáád. Hy het eers die stoepkussings geskud soos hy kleintyd gedoen het. Gelukkig kon ek betyds keer voor jou ma hom sien, maar toe bevlieg hy die tuin. Ek het gedoen wat ek kon, maar hy wou nie hoor nie – hy was beserk. Hy’t gesê hy gaan vir Sheila kry, al moet hy almal vrek byt.”
“Soos dit vir my lyk, het hy klaar sy slagoffer se graf gegrawe,” mompel Markus verslae.
Langs hom spring Basjan op en af. “Ons moet hom gaan help, ek het lanklaas ’n lekker fight gehad, julle keer my mos net altyd. Toe, kom, Markus, man. Jy weet Jonathan is meer bek as binnegoed. As dit by byt kom, beteken hy niks. Jy’t self gesê hy is ’n papbroek. Ek moet gaan help.”
“Kom eet gou, Markus,” roep sy ma “Ek en Jana is haastig, want ons moet ons hare laat sny. Ek hoop ons is betyds terug om vir Jonathan te gaan haal. As die salon dalk voor die tyd bel, sê hulle moet maar ’n bietjie wag. Ons behoort darem voor vier terug te wees.”
Sy ma-hulle is skaars weg, toe lui die deurklokkie. “Wie kan dit nou wees,” wonder Markus toe hy oopsluit.
Voor hom staan meneer Hunt.
“Marcus, your name is Marcus?” vra hy onseker.
“Ja, meneer Hunt.”
“Marcus, ek wonder of jy en jou hond my kan help om na Sheila te soek. They like each other.” Meneer Hunt kyk vraend na Markus.
“Dis nou vir jou ’n nuwe een,” snork Basjan. “Nou moet die ‘Street Drooler’ help soek!”
“Hoe het Sheila weggeraak?” vra Markus en probeer om sy lag oor Basjan se tirade weg te steek.
Meneer Hunt lyk bekommerd terwyl hy vertel hoe iemand aan hul voordeur geklop het en gesê het hy het ’n pakkie om af te lewer. Toe sy vrou met ’n pen terug kom om vir die pakkie te teken, was die man met pakkie en al skoonveld, en Sheila ook. “We are very worried,” sluit hy sy storie af.
Vir ’n oomblik lyk meneer Hunt verleë, toe sê hy: “I want to apologise … Ek is jammer ek was onvriendelik met jou en Jonathan die ander dag, will you and Jonathan please keep your eyes peeled for Sheila? Ek sal …”
“Wat van die knoop! Vertel hom van die leidraad …,” val Basjan hom in die rede.
“Meneer, … ek dink … ek weet … miskien weet ek … wie dalk vir Sheila gesteel het,” stotter Markus.
“What do you mean, you know?” Meneer Hunt klink so kwaai dat Markus terugtree.
“Vertel van die leidraad! Vertel van die leidraad! Vertel!!!” blaf Basjan al harder.
“Okei, Basjan, hou net op raas.”
Markus kyk na meneer Hunt. Hy sal nou sy woorde mooi moet kies. “Meneer, … iemand het … gesien hoe die meisie wat die honde by die hondesalon bad vir haar kêrel Sheila se adres op ’n stukkie papier skryf.”
Basjan gaan sit regop voor meneer Hunt en kyk hom met sy een goeie oog reg in die oë: “Ek is daardie iemand, meneer Hunt,” knor hy kordaat.
“Who saw it and who is the man? Why didn’t you say so right from the beginning?” Meneer Hunt lyk nou net so ontsteld soos Jonathan vanoggend. Dit lyk of hy ook kan kussings kou.
“Ons ken nie sy naam nie, maar hy het kopbene op sy arms getatoeëer en hier is sy rooi onderbaadjie se knoop,” hou Markus die verdoemende bewysstuk na meneer Hunt uit.
Meneer Hunt kry skielik lewe: “We have to inform the police immediately,” sê hy en haal sy selfoon uit. Terwyl hy wag om deur te kom vertel hy opgewonde dat sy vrou gesê het die man wat die pakkie gebring het, het ’n rooi onderbaadjie aangehad en die onderste knoop was af.
“The police will be here in a minute. Kan jy saamkom om die man uit te ken?” vra hy toe hy sy foon wegsit.
Markus besef hy is nou in groot moeilikheid. Hoe moet hy die man uitken? Hy het hom nog nie met ’n oog gesien nie. Wat sal die polisieman sê as hy hoor hy maak al sy aantygings op hoorsê-getuienis van ’n klein halfblinde Maltesertjie? Bygesê, ’n baie hardekwas een.
Die polisiemotor hou met skreeuende bande stil.
Markus se hart sak tot in sy skoene. “Hoe de josie het ek hierin beland?” wonder hy benoud.
Die polisieman wat uitklim, lyk asof hy pas uit die skool is. Sy gesig is rond en sy blou oë blink opgewonde agter sy ronde brilglase.
“Jis-jis, wat het ons hier?” hy kyk vinnig om hom. “Ek is konstabel Snoek, maar noem my sommer Snoekie. Wat het julle vir ons oor die hondestorie?”
“I am Ian Hunt and this is Markus,” stel meneer Hunt hulle voor. “Thank you for your speedy reaction.”
Snoekie lyk skielik ernstig. “Meneer Hunt,” sê hy afgemete, “as ’n mens in my beroep wil vorder, het jy ’n ekstra gawe nodig wat gewone mense nie het nie. Myne is dat ek altyd wéét wanneer ek op die regte spoor is. Dan laat ’n mens nie gras onder jou voete groei nie.”
Meneer Hunt kyk na Markus. “Vertel vir hom van die man wat Sheila se adres by die parlour gekry het.”
Markus haal diep asem, toe vertel hy so vinnig as moontlik wat gebeur het. Snoekie se pen krap in sy boekie soos hy skryf. Toe Markus klaar gepraat het, stop hy die knoop in Snoekie se hand.
Snoekie kyk ’n oomblik daarna, toe vra hy: “Dié Basjan? Ek neem aan dit is ’n vriend van jou? Waar kan ons hom in die hande kry? Dit klink my hy is sommer ’n knap speurder. Miskien moet ek hom vir die diens werf.”
“Hoor jy, hy wil hê ek moet ’n poeliesman word,” blaf Basjan opgewonde.
Snoekie wag dat die geblaf bedaar, toe kyk hy met een opgetrekte wenkbrou vraend na Markus, pen in die hand, gereed om verder te skryf.
Markus wys na die Malteser: “Dis Basjan. Dis hy wat gesien het Sally gee die adres vir haar kêrel. Dis hy wat die knoop afgebyt het en vir my gebring het. Hy het die goeie speurwerk gedoen.” Markus soek na die regte woorde, toe mompel hy: “My … my ma het darem ook die ou met die tatoëermerke gesien en … en … mevrou Hunt het die man met die af onderbaadjieknoop gesien.”
Konstabel Snoekie se ronde oë rek nog ronder. Hy kyk van Basjan na Markus en weer terug na Basjan. “Sersant gaan nie hiervan hou nie …,” skud hy sy kop in ongeloof.
Meneer Hunt lyk verstom oor wat hy so pas gehoor het. “Good gracious. What now?” vra hy verslae.
“Kyk, ek het ’n gawe gekry wat my tot vandag toe nog nooit in die steek gelaat het nie,” kom konstabel Snoek tot verhaal. “Ek weet ons het iets beet. Ek weet net nie wát nie. Ek stel voor ons gaan stel ’n ondersoek ter plaatse in. Ons moet na die salon toe gaan waar alles plaasgevind het. Vandaar kan ons dan die leidrade …” Hy kyk beteuterd na die knoop in sy hand, “… of liewer, die leidraad, volg. Die enigste probleem is …,” Konstabel Snoek trek sy ronde oë op skrefies. “Die enigste probleem is …,” herhaal hy stadig, “… en dis nogal ’n groot een … ons het nie ’n lasbrief nie en sonder ’n lasbrief, of ’n grondige rede, kan ons nie by die hondesalon inbars en begin vrae vra nie.”
“Ons hét ’n rede om na die salon toe te gaan,” onthou Markus verlig. “Jonathan, ons ander hond, is daar! Ons moet hom vieruur gaan haal, maar ons kan mos kastig gaan hoor of hy nie al klaar is nie.”
“Wat meer wil ons hê?” lag Snoekie in sy skik. “Kom ons gaan oor tot aksie, manne!”
Meneer Hunt kyk verdwaas na Markus: “Would you like to phone your mother? Sê jy gaan saam met ons.”
“Nee, toemaar, ek skryf sommer gou vir haar ’n briefie.” Markus skryf vinnig ’n nota. “Dis beter so, as ek nou bel, het Ma dalk ’n klomp besware,” dink hy en sit die nota op die tafel in die portaal waar sy ma dit sal sien. Hy sluit vinnig die voordeur en bondel saam met Basjan agter in die polisiekar.
Eers toe hulle ’n ent weg is, sien Snoekie dat Basjan ook by is. Dit lyk of hy iets wil sê, maar die hondjie kyk hom so uitdagend aan dat hy maar net kopskuddend sug: “’Sant sal nie hiervan hou nie …”
’n Entjie van die salon af hou hulle stil. “Ons wil nie hê die verdagte moet vir die polisiekar skrik en hond se gedagte kry nie,” verduidelik Snoekie. “Markus, gaan kyk jy gou of die ou met die rooi onderbaadjie daar is. As hy daar is, kom roep my, dan sal ek dit verder hanteer, maar wees versigtig, moenie dat hy iets agterkom nie!” waarsku Snoekie.
Markus is nog nie behoorlik in die salon nie, toe hoor hy al vir Jonathan tjankend kla: “Eina, jy maak my seer! Dis nie nodig dat jy my so woes skrop nie, die olie is net op my rug!”
“Staan stil, ongeskikte gedierte, jy spat my papnat!” raas iemand terug.
“Seker Sally,” dink Markus. Hy kyk rond of hy die man met die kopbeen-arms iewers sien, maar daar is net ’n vrou agter die toonbank.
Sy kyk op en vra, “Kan ek jou help?”
“Ek het net kom kyk of Jonathan, ons Labrador, al klaar gebad is.”
Die vrou skud haar kop. “Nee, ek dink Sally is nou met hom besig, dit sal nog ’n rukkie duur. Jy kan hier wag of jy kan later terugkom.”
Op daardie oomblik kom daar ’n gil uit die badkamer: “Sies, jou monster! Kan jy nie wag tot jy klaar gebad is nie?”
Die ontvangsdame glimlag. “Dit lyk my julle hond is nie gewoond daaraan om gebad te word nie. Sally sukkel al ’n hele rukkie met hom.”
“Hy staan stil as ek hom bad, miskien kan ek haar gaan help,” stel Markus voor.
“Sal jy? Ons laat dit nie gewoonlik toe nie, maar hy was so vol olie, ek dink sy sukkel om hom skoon te kry. Miskien kan jy hom net gaan kalmeer.”
Markus stoot die deur oop net toe Sally se selfoon lui. Jonathan wil dadelik uit die bad spring, maar Markus druk hom terug. “Nee, staan stil. Ek sal gou help dat jy skoon kom, dan kan ons gaan,” troos hy.
Skielik vries Jonathan. Sy hele lyf bewe van spanning en Markus besef hy luister na die selfoongesprek waarmee Sally besig is. Markus probeer hoor wat die manstem aan die anderkant sê, maar sy ore is nie so goed soos Jonathan s’n nie. Hy hoor net hoe Sally antwoord: “Ja, man, moenie worry nie, hulle sal haar nie herken nie … Het jy toe die papiere gedokter gekry? … Okei … op die vyfuurvlug? Dan sal jy nou moet ry, anders gaan jy nie betyds by die lughawe wees nie.”
Dis vir Jonathan genoeg. Hy skiet uit die bad. ’n Mens sien net skuimbolle spat. In sy vaart hardloop hy Sally se bene onder haar lyf uit. Haar selfoon trek deur die lug. Hy skaats-gly tot voor die verskrikte ontvangsdame en maak ’n seepstreep vir die deur. “’n Vetgesmeerde blits is ’n mooi bog – ’n seepgesmeerde hond is baie vinniger,” flits dit deur Markus se gedagtes.
“Jonathan!” skree hy. “Jonathan, wag!” maar die hond verdwyn met ’n getjank, straat af.
Markus hardloop so vinnig as wat hy kan tot waar Snoekie sit en wag. Toe hy in die kar sprig, gil Basjan: “Ry Brandstraat langs, hy’s om daardie hoek!”
“Ry Brandstraat langs. Jonathan is op pad lughawe toe, maar hy weet nie waar die lughawe is nie,” beduie Markus uitasem.
Snoekie laat nie op hom wag nie. Hy skakel die sirene en ligte aan en trap die petrolpedaal diep weg. Die motor gly om die hoek en mis ’n oorvol taxi rakelings, maar Markus sien verlig dat hulle Jonathan inhaal.
’n Paar honderd meter verder hou Snoekie met skreeuende bande langs Jonathan stil. Markus maak die deur oop en skree: “Spring in!”
Jonathan druk met sy seeplyf tussen Markus en Basjan in en hyg: “Lughawe toe … gou … hulle vat vir Sheila lughawe toe.”
“Konstabel Snoekie, jy moet lughawe toe ry, hulle vat vir Sheila lughawe toe,” herhaal Markus.
Konstabel Snoek kyk oor sy skouer na Jonathan wat met sy nat ingeseepte lyf op die polisiekar se sitplek sit en drup.
“Sersant gaan glád nie hiervan hou nie,” skud hy gelate sy kop.
“How do we know they are taking Sheila to the airport?”
Dit neem ’n rukkie voor Markus besef dis met hom wat meneer Hunt praat.
“Eintlik weet ek nie hoe ons weet nie,” mompel hy verward.
“Die man het netnou vir Sally gesê hy stuur haar vandag vir haar nuwe baas,” hyg Jonathan hier langs hom.
“Die man het gesê hy stuur haar vandag vir haar nuwe baas,” tolk Markus.
Meneer Hunt draai in sy sitplek om. “Wanneer? Was die man dan in die salon?”
“Nee, hy was nie … Hy’t … hy’t … hy’t … gebel,” hakkel Markus.
“I don’t understand,” mompel meneer Hunt.
“Toemaar, ek ook nie. Al wat ek weet, is dat ek besig is om my vas te lieg,” dink Markus en kyk beskuldigend na Jonathan.
“Komaan, Markus, waar kom jy aan die lughawe-storie?” Vir die eerste keer klink konstabel Snoek soos ’n regte polisieman.
Markus weet hy het nie meer ’n uitkomkans nie, hy sal nou maar van sy power moet vertel.
“Kom jong, uit met die waarheid. My gawe om te weet wanneer ek warm op iets se spoor is, het my nog nooit in die steek gelaat nie. Ek weet jy wéét iets, maar sonder dat ek weet wát jy weet, kan ons nie verder agter vermeende hondediewe aanjaag nie. Al is hulle ook tot op hul alies getatoeëer,” sê konstabel Snoek en ry stadiger.
“Sê hom van jou power! Sê gou, anders gaan hy omdraai!” tjank Jonathan benoud.
“Jonathan het gehoor toe die ou dit vir sy girlfriend oor die telefoon gesê het,” blaker Markus dit uit.
Konstabel Snoek hou net daar op die geel streep stil.
“O,” sê hy afgemete. “Die hónd het gehoor wat die boyfriend vir die girlfriend sê en die hónd het natuurlik vir jou vertel.” Snoek trek sy asem in: “Gee jy nou die blerrie hond die skuld nadat jy my soos ’n fool laat rondjaag het! Wag tot Majoor hiervan hoor! Dis teen die wet om die polisie vir die gek te hou!” bulder hy. Toe laat val hy sy kop moedeloos op die stuurwiel.
“Ja, hy’t my vertel … ek …,” mompel Markus en bid saggies vir die regte woorde.
“Die hónd het gesê …” prewel konstabel Snoek verslae.
“Ek kan hom verstaan, dis ’n power … ’n gawe wat ek van my oupa geërf het. Ek het sy naam ook geërf. Hy was ook Markus en hy kon ook diere verstaan, my pa sê so.”
In die stilte wat volg, hoor Markus hoe meneer Hunt tandeknersend kerm: “Oh, please, what next?”
Snoekie lig stadig sy kop van sy arms af op. “’n Gawe, sê jy? ’n power?”
Dit lyk of daar ’n lig vir hom opgaan. “Maar magtig, mannetjie, hoekom het jy dan nie lankal so gesê nie? Kom, netnou is ons laat!” Hy skakel die kar en die sirene weer aan en swaai vir die tweede keer die dag voor ’n swetsende taxibestuurder in.
Terwyl hulle voortjaag, vertel Markus alles wat hy weet, van Apollo, van die briefie met Sheila se adres, die knoop en die biltongvoerdery.
Elke keer as hy iets noem, sê Snoekie ál meer in sy skik: “Dit klop … dit klop … jip! Dit klop!”
Langs Markus mompel Basjan woorde wat hy nie behoort te ken nie.
Snoekie trap die petrolpedaal weg en die ander motors gee pad voor hulle. “As ons lewendig bly, gaan ons definitief betyds by die lughawe wees,” dink Markus benoud terwyl hulle deur die verkeer vleg, maar Snoekie ken sy storie. Hulle vat party draaie op twee wiele, maar hulle bly op die pad.
Skielik begin Jonathan oorverdowend blaf.
“Hou op, wat gaan aan?” keer Markus.
“Sheila! My Sheilatjie!” hyg hy en wil met alle geweld by die toe venster uit. “Ons is nou net by Sheila verby!”
“Snoekie, hy sê ons is by Sheila verby! … Hoe weet jy?” vra Markus die opgewonde hond.
“Die swart mini-van daar in die regterbaan,” hyg Jonathan en hy draai op die sitplek om sodat hy ’n swart paneelwa kan dophou wat skuins agter hulle in die regterbaan ry.
“Volg die swart mini-van wat daar in die regterbaan ry,” gee Markus bevele. Hy begin nou die besigheid geniet.
Konstabel Snoek verminder dadelik spoed, skakel die sirene af en trek so drie karre agter die paneel-wa in. Basjan hop op en af om beter te kan sien, Jonathan hou sy oë vasgenael op die swart voertuig. Net die arme meneer Hunt lyk elke oomblik meer verdwaas.
Hulle volg die paneelwa by die lughawe se hekke in … tot by die goedereloods. Konstabel Snoek trek langs ’n groot lorrie in sodat hulle ongesiens die paneelwa kan dophou.
Jonathan begin dadelik met tjankgeluidjies kla. Hy wil uit, hy wil nie weer vir Sheila verloor nie.
“Hou nou die hond kalm. Hy gaan alles opmors. As die skurk nou agterkom ons is op sy spoor, verloor ons hom,” beveel konstabel Snoek met sy streng polisiestem. Hy skakel sy tweerigtingradio aan en ontbied versterkings.
Ná ’n ruk sien hulle hoe twee mans ’n krat waarin honde vervoer word uit die paneelwa haal.
“Nou!” blaf Jonathan en wag nie dat Markus die agterdeur oopmaak nie, hy spring sommer bo-oor die sitplek en bondel saam met konstabel Snoek by die voorste deur uit. Die hond in die krat begin blaf toe Jonathan met lang hale op die twee mans afstorm.
Die groot Labrador vlieg deur die lug. Hy spring die man met die rooi onderbaadjie onderstebo en ruk en pluk tussen kwaai gromme deur aan hom. Markus het sy hond nog nooit so kwaai gesien nie.
“Keer jou blerrie hond!” skree die man benoud.
Die skurk se maat sien vir konstabel Snoek en wil weghardloop, maar Basjan kry hom aan die broekspyp beet en hou so al wat hy kan.
“Los, Jonathan!” beveel konstabel Snoek.
Jonathan gee ’n laaste verwoede pluk, voordat hy laat los en ’n onderbaadjieknoop voor konstabel Snoek uitspoeg. Snoekie kyk vir ’n oomblik verbaas na die knoop, toe tel hy dit op en sit dit in sy broeksak.
“Staan op en maak oop die krat, dat ons kan sien watse hond jy daarin het en onthou, as jy enigiets snaaks probeer aanvang, sal jy weer met Jonathan te doen kry en dan sal ek hom nie weer keer nie,” dreig Snoek vir Rooi Onderbaadjie.
Meneer Hunt het intussen sy selfoon uitgehaal en soos ’n wafferse misdaadverslaggewer begin foto’s neem.
“Wat is julle case? Dis nie julle hond nie!” keer Rooi Onderbaadjie, maar toe Jonathan grom, sluit hy vinnig die krat oop. ’n Geelbruin Labrador waggel half aan die slaap uit die krat.
“Hulle het haar natuurlik vir die vliegtuigrit verdoof,” sê Snoekie en kyk na meneer Hunt.
“It’s not her, it’s not Sheila,” sê meneer Hunt verslae en draai weg.
Markus sien ook dat dit nie Sheila is nie. Die hond hier voor hulle is baie donkerder as sy.
Net Jonathan is ongeskik bly oor haar. “Sheila, wat het hulle met jou aangevang?” kwyl hy en begin haar met ’n lang pienk tong op noembare en onnoembare plekke lek en lek en lek.
“Wat nou?” wonder Markus benoud.
“Dit ís Sheila,” knor Basjan deur geklemde kakebene en hy gee die medepligtige se broekspyp ’n paar woeste plukke. “Ek het gesien toe Sally vir Rooi Onderbaadjie die bottel met die haarkleursel gee.”
“Konstabel, hulle het haar hare gekleur!” roep Markus verlig.
“Natuurlik! Dis die oudste trick in die boek!” juig Snoekie.
“Sheila!” roep meneer Hunt sag. Die Labrador wikkel haar los uit Jonathan se gelek en waggel na hom toe. Voor meneer Hunt gaan sy sit en lig haar poot. Meneer Hunt hurk by haar en druk haar kop teen hom vas. Sy oë blink toe hy sê, “Sheila, it’s really you! They must have dyed her hair. The bastards!”
Op daardie oomblik daag ’n polisievangwa met loeiende sirenes op. Drie konstabels spring uit en die twee skurke word in ’n japtrap geboei en in die vangwa geprop. Die skurk met die rooi onderbaadjie hamer teen die venster en skree vir Sheila: “Jou blerrie ondankbare hond, jy het my ’n fortuin aan biltong gekos!”
“Kom, Markus, ek neem jou en jou twee baasspeurders gou huis toe. Een van die ander manne kan die paneelwa stasie toe neem. Meneer Hunt, jy en Sheila moet sommer saam met hom ry, want jy sal eers ’n verklaring moet gaan aflê,” beveel konstabel Snoek, nou in volle beheer van die situasie.
Die aand moes Markus nog tot laat oor en oor verduidelik wat gebeur het. Elke keer as hy dink hy het nou alles vertel, wil sy pa, of sy ma, of Jana nog iets weet.
Terwyl Markus vertel, het Jonathan met ’n salige uitdrukking op sy gesig aan die slaap geraak. Maar Basjan het al knorrend en blaffend aan die gesprek deelgeneem en gesorg dat hy seker maak Markus vergeet nie van die belangrike rol wat ’n sekere klein wit hondjie in die hele drama gespeel het nie.
Vroeg Saterdagoggend is daar ’n klop aan die deur en toe Markus se pa die deur oopmaak, staan konstabel Snoek daar. Hy lyk so tevrede soos ’n kat met ’n piering room. Sy glimlag strek van oor tot oor.
“’Sant is baie in sy skik. Hy het my bevordering beloof en dis als aan die drie speurders in hierdie huis te danke,” spog hy by Markus se pa.
“Kon julle genoeg getuienis teen die skurke kry?”
“Ja, meneer, oorgenoeg. Die meisie by die honde-salon het met die hele sak patats vorendag gekom en alles erken. Sy het vir die sindikaat die adresse van jong pedigree-honde gegee, haar boyfriend was een van die groot menere. En ons het al die tyd gedink hulle steel net veghonde. Die skurke het dan die honde gaan steel, hulle van vervalste papiere voorsien en ten duurste aan niksvermoedende kopers reg oor die land verkoop. Hulle het tot op die internet besigheid gedoen, ons vermoed tot selfs in die buurlande.”
Hy steek sy hand in sy broeksak en haal twee knope uit. “En dan het ons natuurlik hierdie verdoemende bewysstukke. Basjan het sy werk goed gedoen.”
Snoekie se oë blink agter sy brilglase. Hy kyk na Markus. “Julle drie het die deurbraak gemaak. Ek het my vermoedens gehad, maar julle het die missing link verskaf. Ek het net kom dankie sê.” Hy salueer. “Basjan … Jonathan.” Toe steek hy sy hand na Markus uit. “Vat so, ou maat! Soos ek altyd sê, as ’n mens ’n gawe, of soos jy sê, ’n power het, moet jy dit gebruik, baie dankie aan julle al drie.” Hy skud sy kop: “En ons het al die tyd gedink die honde word gesteel vir hondegevegte. Dankie manne,” groet hy. By die hek draai hy om. “Julle sal weer van my hoor!” roep hy en raak aan sy pet.
“Julle drie is nou regte celebs!” lag Jana.
Skielik onthou Markus iets. “Jana, jy is ook ’n speurder! Jy het mos gesê hulle steel pedigree-honde om te verkoop. Hoe’t jy geweet?”
“Al het ek nie ’n power soos die konstabel sê nie, is dit darem obvious dat Apollo en Sheila nie kwaai genoeg vir veghonde is nie,” lag sy ingenome.
Die middag in die park word Markus oorval met vrae en gelukwense. Toe meneer Hunt hulle sien, maak hy dadelik vir Sheila los. Almal lag toe sy en Jonathan in mal sirkels oor die gras hardloop. Net toe Markus nou regtig soos ’n celeb begin voel, blaf Basjan verontwaardig langs hom.
“Dis darem eintlik Basjan en Jonathan wat die skurke aan die pen laat ry het en Jana het van die begin af gesê die sindikaat steel mooi honde, nie kwaai honde nie,” grinnik hy verleë.
Almal kyk met belangstelling na Jana en maak ’n ophef van die klein Maltesertjie. Apollo kom rol voor hom op sy rug en Belle fladder haar wimpers in bewondering, maar die held van die oomblik hou hom hardekwas soos altyd en maak asof hy hulle nie sien nie.
Later toe hulle op pad huis toe is, sê Jana: “Jy kan ’n storie skryf oor al jou en die honde se avonture.”
“Ja, sowaar, vir die wedstryd! Jy weet, jy is nogal slim vir ’n meisiekind!” lag Markus. “Maar wat sal ek dit noem?”
Basjan kyk na Markus asof hy sy ore nie kan glo nie. “Speurder Basjan, natuurlik,” blaf hy verontwaardig. ‘‘Nee, wat van “‘Baasspeurder Basjan se verdoemende Bewysstukke’?” stel Jana voor.
“Wag, wag, ek het dit!” lag Markus: ‘‘Drie Baasspeurders’’.