Nelia Blom

Nelia Blom se naam het my gevang. Sommer daardie heel eerste dag al toe sy in die standerd sewe-klas ingestap kom, halfpad deur die tweede kwartaal, met haar blommetjiesrok en haar heeltemal te groot boeksak. Die rok het ek vroeër die oggend al gesien, by die Rietspruit-halte, toe sy op die skoolbus klim. Maar behalwe vir die rok het niks my opgeval nie.

Sy was laat vir die eerste periode, seker omdat sy eers moes gaan inskryf. Juffrou Van Eeden was besig om ons ’n paar Engelse idiome te probeer leer, en Juffrou en die res van ons het skielik stilgebly toe die meisiekind in die deur kom staan. Ons het almal gehoor hoe sy sê: “Môre, Juffrou. My naam is Nelia Blom.”

Ek het eers later haar byna deurskynende hare en sagte, amper verskonende manier van praat agtergekom, en nóg later haar oë. Maar die naam was besonders.

Dit was in die tyd toe ek pas net die wonder van storieboeke ontdek het. Ek het snags gelees tot ek omval en elke môre in ’n waas van onwerklikheid op daardie standerd sewe-skoolbank gesit en wonder wat het spelling en vierkantswortels en idiome te make met die groot werklikheid wat hom nag vir nag tussen daardie muwwe biblioteekboekbladsye aan my openbaar.

Ek was net klaar met De Klerk se Die uur van verlange en nog deurdrenk met die soet nostalgie daarvan. Die bibliotekaresse, juffrou Von Maltitz, het kom sê ek moet Die wolkemaker probeer, dis net so mooi – of Nelia Bell. Dié titel het my dadelik nuuskierig gemaak. Maar die boek was uit en ek moes my naam op die waglys gaan neerskryf.

Nelia Bell. ’n Mooi naam. Wat mens laat dink aan ’n eensame klok wat êrens in verlate klowe lui.

Die dag toe die nuwe meisiekind met die blommetjiesrok en die groot boeksak skielik sê haar naam is Nelia Blom, was sy oombliklik vir my soos fiksie. Iemand uit die een of ander ongeleesde boek.

Sy het agter in die klas gesit. En nooit haar hand opgesteek om iets te vra of te antwoord nie. Maar as sy iets gevra word, was haar antwoord altyd reg. Selfs as sy moes sê “Die vierkantswortel van honderd ses en negentig is veertien, Meneer”, het sy dit gesê asof sy nog talm in ’n droom waaruit sy pas wakker geword het. Sy het selde op die skoolwerf met die ander gesels, behalwe later soms met Hester van Niekerk. Maar Hester was ook maar ’n eenkant een.

Pa het kom sê van die Bloms wat Frikkie Krige se deel van Rietspruit gekoop het – Gert Blom en sy vrou Miem. Ek het gewonder hoe lyk iemand met ’n naam soos Miem Blom. Ons het die plaas geken; ons het voorheen soms naweke by die Kriges gaan vleis braai.

Pa-hulle het die Bloms vir ete genooi. Maar Nelia het nie saamgekom nie. En Miem Blom het heeltyd afgekyk soos ’n natgereënde leeubekkie wat na haar weerkaatsing in ’n plassie water staan en staar.

’n Paar weke later is óns genooi. Daar was geen teken van Nelia nie. Ek het op die werf rondgedwaal, na die nuwe skuur gaan kyk, die opgeknapte melkstal, die kontoervore vir die beplande nuwe lemoenboorde. Ek het in die spruit gaan soek na fluitjiesriet, my verkyk aan kwarteleiers en die dowwe paadjies van duikers en vlakhase in die kortgevrete rooigras.

Nelia was nêrens.

Behalwe dat sy skielik daar was. Tussen die wit wortels van ’n wildevy langs die watervoor. In ’n blommetjiesrok. Sonder haar gans te groot boeksak. Sy het nie gesê dag of hoe gaan dit nie. Sy het gesê, asof sy die onderwerp van bespreking skielik verander, “Hier is partykeer feetjies hier.”

Ek sal lieg as ek sê die glinstering van die water het in haar deurskynende hare of in die veraf kyk in haar oë weerkaats. En ek sal lieg as ek sê sy was mooi. Behalwe vir haar oë en haar naam was sy regtig dood gewoon.

Ons het die vyeboom geklim en ek het my bes gedoen om te maak of ek na feetjies soek. Sy het gesê, soos baie kere daarná: “Hulle is partykeer hier en dan is hulle weg.”

Later het sy soms by ons kom kuier en ek by haar. Maar dit was die verskil: sy het by ons kom kuier en ek by haar. En haar ma het vir my gesê: “Dis die ding met Nelia – ’n mens weet nooit rêrig waar sy is nie. En selfs al is sy hier – jy weet hoe is sy. Sy praat mos nie.”

Was dit waarna Ma verwys het een middag nadat Nelia by ons gekuier het? Ma en Pa het op die stoep gesit en nie gesien ek kom verby nie. “Dié Nelia-kind bekommer my. Het jy al mooi vir haar oë gekyk? Daar is ’n troebelte in daardie twee oë van haar wat nie by haar jare pas nie. Sy dra swaar aan iets.”

As ek reg onthou, het sy in matriek vier onderskeidings gehad. Dit was vir niemand ’n teleurstelling of ’n verrassing nie. Sy het ’n manier gehad om getrou te bly aan haar onopvallendheid.

Toe is sy weg.

Ons matrieks van daardie jaar het later by die een reünie ná die ander met nuwe stories op daardie skoolwerf aangekom. Sy is glo met ’n wildbewaarder in Kenia getroud. Sy is ’n sendeling in Uganda. Sy is in ’n motorongeluk naby Laingsburg dood. Sy is blykbaar ’n ballerina by Sadler’s Wells. Sy het tydens ’n bergklimekspedisie by Mont Blanc een oggend, halfpad tussen kamp twee en drie, skielik soos mis voor die môreson verdwyn.

Ek glo nogal die laaste storie. So wás Nelia Blom.

Nelia Bell het ek toe uiteindelik, helaas, nooit gelees nie.