Ons grootste sorge daardie tyd was nerf-af elmboë en die sewemaaltafel en waar die hel ons betyds beter kruiwawiele gaan kry vir Dingaansdag se kaskarwedren. En tussenin was daar natuurlik die geneuk met die kooroefening.
Ons was ’n stuk of dertig plaaskinders wat vir ongeveer alles op mekaar aangewese was. Eintlik was ons meer as dertig – maklik ’n honderd plaaskinders, maar in daardie tyd het die ander sewentig nie getel nie, want hulle was swart. Vir die dertig wit kinders is daar elke jaar ’n Kerspartytjie gereël – kompleet met versierde denneboom en ’n blink ster en ’n vet Kersvader en geskenke.
As teenprestasie moes ons spulletjie Kersliedere sing. Al die ou bekendes soos “Betlehemster” en “Stille nag”. Dit klink dalk alles vreeslik maklik, maar van ons dertig was meer as driekwart vals tenore; seuns kan nie sing nie en die paar wat nog naastenby kan noot hou, wíl nie regtig sing nie.
Tant Pops Nel moes ons elke jaar afrig en op die klavier begelei, en dit het dinge nie makliker gemaak nie. Sy was ’n ongeduldige ou siel met ’n indrukwekkende repertoire Afrikaanse en Engelse kragwoorde. Haar vingertjies was so kort dat sy net elke derde noot kon raakvat. Daarby was sy self ’n bietjie toondoof, haar ou klavier was hoorbaar vals en sy middel-C het heeltyd vasgesit.
Hier teen die middel van November is ons gewoonlik opgeroep om drie middae ’n week by tant Pops se huis te gaan oefen. Haar voorkamer was te klein vir ons almal. Elke middag moes ons die ou Steinway op die stoep uitstoot, dan staan ons tussen die blikke varings en die hangende buitebande vol josefsklede en maria-setrane en petunias, en ons sing so hard en so vals moontlik in die hoop dat sy haar sal vererg en ons huis toe stuur.
Wat soms gebeur het en soms nie.
Die gang van sake is verder versteur en gekompliseer juis deur die feit dat daar vir elke meisiekind omtrent drie seuns was. Daar is jaarin en jaaruit onder die manne gewedywer en gedreig en vuisgeslaan oor dié of daardie se hand.
Ek was self ooggetuie hoe Spyker Senekal hier in die middel van “Betlehemster o wonderlig” vir arme Thys Coetzee met een van die kortste reguit regters in die geskiedenis van amateurboks dwarsdeur die buiteband petunias tik dat ons hom vir die duur van die tweede en die derde versie onder die tuinkraan moes lawe. En dit net omdat Thys aan Maria Perreira se vlegsel gevat het.
Aan die ander kant moet ’n mens seker maar bereid wees om te erken dat daar nie een van ons basse of tenore was wat nie bitter graag net een enkele keer aan Maria Perreira se vlegsel sou wou vat nie.
Die gebruik het metteryd posgevat dat ’n mens die kooroefening benut om allerlei ander agterstallige take te verrig. Daar is dus gedurig tussen tant Pops se dooie middel-C en haar kragdadige werkwoorde deur resitasies gememoriseer (daardie tyd was daar nog nie so iets soos poësie nie), opstelle geskryf, albasters uitgeruil, by die naaste sopraan aangelê, vetes besleg en vriendskappe gesluit.
Ek weet nou nog nie presies hoe nie, maar tant Pops het ons elke jaar gedril tot ons, dalk uit pure desperaatheid, op die dag van die Kerskonsert in stemme kon sing. Dis waarskynlik ’n bietjie aangehelp deur die feit dat haar Steinway nie saamgesleep is konsert toe nie. Daar was ’n goeie klavier in die menasie, die akoestiek was beter as tant Pop se stoep s’n, ons was skoon aangetrek, en daar was ’n gehoor. Dit was selfs partykeer asof haar ou rumatiekvingers op die groot aand meer note raakvat.
Die eienaardige deel van die storie het gekom daardie jaar toe tant Pops Nel moed opgegee het. Dit was so ongeveer in my standerd ses-jaar.
Baie dinge het bygedra om die onverwagte wending teweeg te bring. Sy was nie meer gister se kind nie, dit was ’n buitengewoon warm Desember, en daar was selfs nog meer seuns in die koor as ooit tevore. Boonop het Maria Perreira vir Spyker Senekal gebloupas en die res van ons was besig om ’n nuwe rangorde te bepaal.
Toe Werner Wiele een middag vir die hoeveelste keer van die stoeptrappie afval en die res uitbars van die lag, slaan tant Pop skielik ’n bas-akkoord so hard dat die potplante tril, en sy kom orent. Goed, sê sy, huis toe is julle! Ons het klaar geoefen vir die jaar.
Gewoonlik moes ons smiddae ná die oefening die klavier terugstoot in die huis in. Maar tant Pops vat haar Steinway en sy stap met hom aan tot op sy plek langs die voorkamerkaggel.
’n Mooi onderwyseressie is van die dorp af ingevoer om ons vir die konsert te kom afrig. Sy kon goed klavier speel en mooi sing en ons het elke middag stroopsoet geoefen en al ons vetes en albasters en tuiswerkboeke by die huis gelos. Daardie Kersboomkonsert was die eerste een in die plaas se annale waar nie een van ons met ’n blou oog of ’n dik bolip of half afgeskeurde oor gesing het nie.
En dis nou die onverklaarbare ding: een en almal het daardie jaar en al die jare daarná gesê iets het verdwyn uit die Kersfeeskonsert uit – iets van die uitbundigheid is weg: ons sing nie meer so mooi soos in tant Pops Nel se tyd nie.