’n Somervakansie

As ek die see sien soos ek hom nou sien, swaar en lui en grys soos lood, dan onthou ek vir Hantie. So, teen so ’n see, het ek haar die eerste keer gesien, sonop in die een of ander somervakansie van so lank gelede dat ek nie die jaartal wil onthou nie.

Pa het nie eintlik van vakansie gehou nie. Elke maand van die jaar was daar ’n ander goeie rede hoekom die plaas hom nodig het. Tot hy Lourenço Marques en Polana ontdek het. Vir hom was dit so goed soos oorsee. Rare kos, vreemde wyn, eksotiese boustyle, tropiese palms, uitlandse taal. Van toe af is ons elke Desember Mosambiek toe.

Nie in hotelle in nie. Hy was ’n kampmens. Om van vroeg in November af saans in die waenhuis tussen die motte en muskiete en zirrende torre te sit en kampgereedskap nagaan, was vir hom deel van die vakansie. Tentpenne, lanternpitte, lampetbekers, lampolie, tenttoue, byle, braairoosters, koelsakke, kampstoele, en so op die lang lys af tot by sy eie, persoonlike, spesiale skeerspieëltjie.

Twee weke in ’n tentedorp in die diep skaduwees van Polana se trosvybos; ’n bos vol blouape en gifgeel wilde papegaaie en vleisbraaivure en Elvis Presley. En snags die geruis van die see, die ver gelag van mense wat laat kuier, en die klink-klink-klink van vrugtevlermuise. Twee weke van sand tussen die tande, soutwater en son. Heeldag lê jy op die strand en bekyk die meisiekinders. Soek hulle met die hand uit. Slenter agter hulle aan terug kamp toe om te kyk wie is by watter karavaan tuis. ’n Mens weet nooit; dalk doen die see aan hulle ook iets.

Die heel eerste oggend van my standerd nege-jaar se somervakansie was ek voor sesuur in die see om die eksamen van my lyf af te was. Die water was lou. Ek het in die lui deining lê en dryf en die son dopgehou wat rooi-rooi uit die rooi see opkom.

Toe is die donker stippel daar. ’n Boei wat dryf. ’n Dolfyn. Iets ligter as dit. ’n Mens wat swem. ’n Meisiekind.

Ek was voor haar op die strand. Ek het op ’n sandbank loop sit en kyk hoe sy met egalige hale nader swem tot die water opraak en ’n laaste flou brandertjie haar oor die nat sand uitstoot. Sy het op haar rug omgerol en ’n rukkie so gelê, toe opgestaan en by my verby gestap en vier tree agter my gaan sit.

Toe sê sy, waarskynlik sommer vir haarself: “Hel, dit was lekker!”

Ek was van daardie oomblik af heeltemal aan haar kant.

“Jy was diep in,” sê ek, want ek had toe al die buitengewone vermoë om onnosel goed te sê die slag as ek ’n geweldige skare mense moet toespreek.

Haar naam was Hantie.

Ons het die volgende môre saam gaan swem en ek het sleg agtergebly. Dit het nie saakgemaak nie. Ek het haar omgepraat om saam met my die twee kilometer na die stadsmuseum toe te stap en ek het so verdwaal dat ons nooit die plek gekry het nie, en dit het nie saakgemaak nie. Ons het amper elke middag ver langs die see gaan loop en partykeer niks gehad om vir mekaar te sê nie, en dit het nie saakgemaak nie.

Ons het saam met die ander seuns bok-bok en toktokkie gespeel, uit bome uit geval, mekaar byna verdrink, saam op ’n visskuit amper gedood van die seesiek. En niks het saakgemaak nie. Die dae was lank en vol sonskyn en die wêreld was ’n lekker plek om in te wees.

Ek het uitgevind daar ís meisiekinders, rêrige meisiekinders, nie storieboekbog nie, meisiekinders van vlees en bloed wat kan loop en kan lag en kan praat en wat nie ingewikkeld is nie. En ek het skielik begin wonder wat dan met al die ander verkeerd was.

Snags het ek lê en luister na die gerammel van onweer, die roep van die bosnagape, die aanhoudende geruis van die see, en gewonder wat ek moet maak om te keer dat die vakansie verbygaan.

Hoekom kan die see aanhou en aanhou, hoekom kan die blou lug so vir ewig net aanhou en aanhou – hoekom moet juis vakansies so skielik ophou?

Hantie het gesê ons moet daardie laaste dag gaan swem soos gewoonlik, die middag gaan stap soos gewoonlik, mekaar die aand groet soos gewoonlik. Sy sal vir my skryf. Daar sal nog baie somervakansies wees. Sommer nog baie.

Ons het daardie dag lekkerder geswem en meer gepraat en baie meer gelag as enige van die vorige veertien dae. Ons het oor als gelag, sommer oor ons self ook.

Die aand voor slaaptyd is ons uit die kamp uit weg strand toe. Ons het op die sand gaan sit en ek kan nie meer onthou wat ons alles vir mekaar gesê het nie. Ek onthou net een ding baie, baie goed. Ek onthou toe ons terug stap, het ek gevra of sy darem ook die vakansie geniet het. Sy het ’n paar bokspronge voor my uit gegee en omgedraai en gesê: “Hél, dit was lekker!”

En ja, sy hét toe vir my geskryf. En ek vir haar. ’n Hele paar jaar lank. En sy was heeltemal reg: daar wás nog baie somervakansies.

Maar nie saam met Hantie nie.