Melodie in F

Meneer Duvenage het elke oggend dieselfde roete gestap. Elke môre tien voor sewe by sy voordeur uit, regs op in die straat, anderkant die park links, agter om die kerk en in die lang laning akkerbome af. Verby Maria se roosberankte huisie. Want kwart oor sewe, het hy geweet, sou sy voor die oop venster sit, agter haar regop klavier, haar rug krom tussen die twee wit kerse, en die melodie speel.

Maria.

Hy het bedags in sy tuin gewerk, gelees, inkopies gaan doen, kos gemaak, of soms net op die stoep gesit en aan dinge gedink wat party mense soms ’n lewe lank tevergeefs onthou.

Meneer Duvenage het haar altyd jonk onthou. Twee en twintig. Altyd in die wit rok en die strooihoed met die blou band om die ken. Altyd in die wind, haar een hand op die hoed en die ander een besig om haar rok se pante af te hou. Met die honde vooruit deur die groen veld vol tulpe en flappe op pad na nêrens in besonder nie.

En saans, haar hare in ’n bolla bo haar kop, haar arms wit in die kerslig, haar vingers vinnig en vlugtig oor die vergeelde klawers van die regop klavier met sy twee blink koperblakers. Altyd ten slotte, as toegif, vir oulaas, om nag te sê, die “Melodie in F”.

Hy wou en hy kon haar nooit anders onthou nie. En hoekom sou hy? Die res was immers vergete geskiedenis. Want hoe kan iets wat nie gebeur het nie hoegenaamd onthou word?

Meneer Duvenage het probeer om homself nuttig te hou. Hy het varings in potte geplant en balseminies onder die koeltebome en kropslaai en wortels en radyse aan die sonkant van die agterplaas. Hy het sy messe en vurke blink gevryf en vensters gewas en met ’n stukkende leesbril op die punt van sy neus knope aangewerk en kouse gestop.

Wie het die musiek geskryf?

Hy het kompos gemaak en die werf gevee en ’n akkertjie gespit en die heining gesnoei. Hy wou moeg wees wanneer die donker skemeraand inkom oor die werf. Hy het nooit saans baie geëet nie – ’n skeppie rys met gekookte wortels of ertjies uit die tuin en ’n porsie vleis – en dan gaan water tap en sy hande en gesig en voete gewas, ’n kers langs sy bed opgesteek wat deur die nag moet brand, sy gebit in die glas water langs die kers gesit en op die bed gaan lê en gewag vir die vaak. Soms was hy gelukkig. Soms was hy nie. Hy sou na die dansende skaduwees teen die dak lê en kyk en na die gordyn se vae maar bekende patrone en na die portrette teen die mure. Soms sou hy na sy tande in die waterglas lê en kyk soos ’n mens kyk na ’n glimlag wat nie meer joune is nie.

Wie, het hy dikwels lê en wonder, wie het die musiek geskryf?

Daar was ’n tyd toe hy geweet het.

Meneer Duvenage was gewoonlik teen vyfuur soggens wakker. Hy sou gaan bad, homself van kop tot tone skrop. ’n Mens wis nooit wat deur die loop van so ’n dag kon gebeur nie; ’n onverwagte besoeker, dalk slegte tyding, die een of ander onmoontlike verrassing – hy wou voorbereid wees. Hy sou skoon klere aantrek en die koerant by die hek gaan haal en koffie maak en die dag se nuus lees. Hy was gesteld daarop om ingelig te wees. Hy wou nie sy greep op die werklikheid verloor nie. ’n Mens lewe net een keer.

Tien voor sewe het hy die huis uitgegaan en in die straat regs gedraai.

Misverstand. Tussen al die onskuldige en eenvoudige en soms ingewikkelde woorde wat jy met verloop van tyd leer ken, is daar soms ’n woord wat jy byna ’n hele leeftyd leer verstaan. Dood is so ’n woord. En liefhê. En geloof. En hoop. En misverstand. Van al die ingewikkelde woorde sou hy dood waarskynlik die tweede laaste onder die knie kry.

Woorde op papier is so verraderlik misleidend – ’n dans van duisend duiwels onder ’n dekmantel van die reinste onskuld. Hy het tot op die einde nog een keer elke jaar daardie laaste brief gelees. Dit was immers net een honderd agt en tagtig woorde lank. Elke jaar op haar verjaardag, die vyfde Desember, om halfsewe, op die stoep, voor hy gaan stap. En elke keer het hy dit beter verstaan. Maar dit was helaas te laat.

Liewe Maria.

Hy het geweet hy sal nooit weer met haar kan praat nie. En as hy kon, sou dit oor enigiets mag wees behalwe daardie brief. Wie – kon hy miskien vra – Maria, wie het daardie musiek geskryf?

Meneer Duvenage het altyd ’n bietjie stadiger begin stap wanneer hy die lang laning akkerbome ingaan. Hy het al geweet presies van waar af hy die musiek sou hoor. Hy sou reguit voor hom kyk. Heelpad. Tot voor die huis met die rankrose. Dan sou hy regs kyk, net vlugtig, oor die heining en deur die oopgetrekte gordyne. Waar hy haar kon sien – mevrou Maria Foxcroft wat die “Melodie in F” speel; elke oggend weer vir oulaas. As toegif.