Reünie

Doepie bel daardie aand uit die bloue niet uit. Ons het mekaar dertig jaar laas in matriek gesien. “Dis tyd,” sê hy, “dat ons mekaar ’n slag weer raakloop. Nou net met Kalfie gepraat. Onthou jy vir Kalfie?”

Kalfie Coetzee? “Natuurlik!” Die haan onder ons matriekjaar se hennetjies. Hy het almal van ons se meisies by ons afgevry.

“Hy’t hom mos skatryk geboer, die bokker. Hy’t ’n jagplaas in Hoedspruit. Sewe rondawels. Hy sê ons moet daar by hom bymekaarkom.”

Nou ja: tussen my en Doepie en Kalfie het ons die volgende aand klaar sewe manne bymekaar wat in daardie veelbewoë jaar drie dekades tevore matriek deurgeswoeg het.

Twee weke later daag ons een-een op Kalfie se plaas op. Doepie het nog altyd sy bos wit krulhare; Kalfie, die blikskottel, lyk skaars veertig; Willem is kaalkop en lyk ouer as sy jare; Hamer, die senter van alle senters, het hangskouertjies en ipekonders; Bossie is asmaties en oorgewig; en Waster, die groot kwajong van destyds, kyk heeltyd anderpad en praat niks. Al wat ons daardie hele eerste aand uit hom kry, is slapenstyd, drie-uur die môre, toe hy skielik opkyk sterre toe en sug. “Wat ons nou daar sien,” sê hy, “het lankal klaar gebeur.”

Ons kuier die hele volgende dag lang stories. Elkeen onthou sy eie ding. Ons lag die meeste van die tyd, en een keer of twee keer huil ons amper ’n bietjie.

“Ja,” sug Waster toe dit ’n slag stil genoeg is, “ons is almal so vas aan die bietjie wat ons weet.” Ons sit en wag: iemand wat so min praat, mag nie in die rede geval word nie. “Ons is so vas aan die verlede.” Hy kyk doer anderkant. “As ons nié was nie, was al sewe van ons dalk ander mense.”

Die ander ses van ons oordink dit. En knik. Dis sweerlik waar. (Doepie, wat altyd alles weet, fluister later Waster se bruid het hom ’n week ná hulle wittebrood gelos.)

Om die plegtige oomblik te verbreek, begin ons stories vertel van Waster se kwajongstreke. Hy praat nie saam nie. Maar hy glimlag darem kort-kort.

“Onthou julle vir Miems?” vra Willem later. En ons onthou almal vir Miems. Willem kon dood oor Miems. Toe los sy hom net voor die eindeksamen. “Onthou julle daardie gedig wat ek vir haar geskryf het toe sy my los?” Nie een van ons onthou nie. “Ag, kom nou, julle het almal help skryf. ‘Uit die swartste modder groei die witste lelie …’ ” Ons onthou nie. “Hoe gaan die ding nou weer verder?”

Die hele volgende dag probeer Willem die woorde van sy gedig onthou.

Hamer, die senter, praat oor rugby en sy ipekonders. Bossie, destyds ons langafstandkampioen, probeer asem soek. Kalfie kyk verleë weg elke keer as iemand oor een van ons afgevryde meisies praat. Doepie, die slimkop van ons klas, haal – elke keer heel gepas – vir Shakespeare aan.

Die aand ry ons die veld in met ’n kas bier en ’n paar bottels wyn. Die maan is nog nie op nie. Ons klim ’n steilte langs ’n rotswand uit en maak vuur tussen die klippe. Op die horison staan ’n kaal granietkop met ’n skeur in die middel. Dis ons laaste aand. Ons probeer vir oulaas onthou wat van dié of daardie een geword het.

“Die ding is,” sê Waster, “as mens net kan ontsnap uit jou eie stukkie donkerte.”

Doepie daag my uit om Hamlet se alleenspraak saam met hom op te sê. Maar ek haak kort-kort vas.

“To be, or not to be – that is the question; whether ’tis nobler in the mind to suffer the slings and arrows …”

Doepie help as elke keer as ek vasbrand, maar ek vorder nie ver nie. Want almal praat gelyk en Bossie probeer ’n agterlynbeweging van dertig jaar gelede teen Lydenburg Hoër rekonstrueer.

Die maan begin sy kop net-net wys in die groot skeur van die klipkop op die horison.

“Demmit!” sê Willem ineengedoke. “Ek was lief vir daardie meisiekind!”

Doepie is nog steeds besig om Shakespeare op te sê. “For who would bear the whips and scorns of time,” deklameer hy, “the pangs of despised love, the law’s delay …”

Die maan beur en beur om uit daardie donker skeur uit los te kom. Dis al wat nog dieselfde gebly het: die somermaan van destyds.

“Doepie,” sê Bossie doer van die vuur af, “kan jy onthou wie daardie jaar vir ons skrumskakel gespeel het?”

“Watter jaar?”

Maar hy hoor nie, want Hamer is besig om ’n formidabele dryfgemaal te beskryf van daardie merkwaardige wedstryd destyds teen Helpmekaar.

“Get thee to a nunnery!” beveel Doepie vir niemand in besonder nie. Want Ophelia is, helaas, nêrens in sig nie.

Die maan sukkel nog ’n bietjie, maar sy is byna-byna los.

“Man,” sê Willem, “iemand moet onthou, verdomp! Julle het tog almal saam geskryf aan die blessit ding. ‘Uit die bleddie swartste modder …’ ”

“By heaven, I do love,” sê Doepie vir homself, “and it hath taught me to rhyme, and to be melancholy.”

“Ek onthou nou iets!” sê Waster versigtig hier naby ons uit die donker uit, en Willem kyk hoopvol na hom. “Above all else: to thine own self be true …”

“Ag, se moer,” sê Willem verontwaardig.

Die bier en die wyn begin werk. Almal praat ’n bietjie luidrugtiger. Dis asof ons, hoe meer ons onthou, begin wens ons kan maar liewer vergeet. Dis baie lank gelede. Alles was destyds soveel anders. Dit was wonderlik, maar dis so heeltemal verby. Ons weet ons is besig, elkeen op sy eie manier, om te probeer reïnkarneer na die sewe toe wat ons destyds so vlugtig was, en nie een kry dit naastenby reg nie. Ons is, onherroepelik, sewe ander mense.

Die maan wil-wil opkom. Ons sien, maar maak of ons nie sien nie, hoe Waster eenkant, op die rand van die rotswand, sy skouers staan en roer – mettertyd sy heupe staan en roer, sy voete ritmies begin versit.

Die volmaan beur boontoe uit die donkerte se swaartekrag, en kom oplaas en triomfantelik los. En dryf op en óp en al hoe kleiner die ruimte in.

Ons sien met ons eie oë hoe Waster oor die groot afgrond suutjies staan en dans asof hy met iemand dans wat net hy kan sien.

Ons kyk anderpad en praat desperaat oor lank-lank gelede.