Kortpad

Dieverst e reis wat ons ooit sal aflê, sê Elsa Joubert, is die een van hart tot hart. En sy sal weet, want sy het meer gereis as die meeste van ons. En niemand hoef baie einders saam met sy medemens oor te steek om te weet daardie reis ís dikwels moeilik nie.

Insgelyks duik daar soms ander reise op wat heelwat verder draai as wat enige landkaart sal aandui. Soos byvoorbeeld deur die Namib.

Ek het dikwels in Europa verdwaal omdat ek afdraaipaaie gekies het wat nie op my landkaart aangedui was nie. Op ’n keer in die noordweste van Spanje was die verdwaal só erg dat ek later geld sou verwed ek is op die Russiese Steppe. ’n Ander keer is ek, drie en twintigjarige verlore siel sonder gesonde verstand, in die hartjie van die winter van Malaga gly-gly tot in Amsterdam. ’n Rustige driedaerit kos toe vyf dae vol noue ontkomings en genade en slegte Franse humeure en ander beproewings. Net omdat ek nie geweet het ’n mens gebruik in die winter in Europa sneeukettings nie! Salig is die eenvoudiges van gees.

Twintig jaar lank het ek gedink dis die verste reis wat ek ooit sal aflê. Tot ek een goeie middag die Namib tref. Nie in ’n viertrek nie. In ’n Golf.

Die aanloop was min of meer net so onskuldig soos destyds se rit Amsterdam toe. Die padkaart wys duidelik: kortpad van Walvis af tot in Windhoek. Nie teerpad nie – nee, maar wie skrik nou vir ’n goeie grondpad? As dit met ’n blou streep op die kaart aangedui is en jy ry ’n motor sonder skete, dan ry jy die pad.

So dis toe kilometers van niks. Maar kies jy so ’n roete, dan doen jy dit mos juis om ’n slag te kyk hoe lyk nêrens. Dis immers die Namib. Jy verwag ver horisonne en welwitschia’s en woestyn; jy verwag verlate maanlandskappe en verwaaide sand en woesteny. En dis presies wat jy kry. Net baie meer daarvan as wat jy verwag het.

Toegegee: die padkaart wás nogal vaag. Was die honderd en sewentig kilometer van A tot D of net van A tot B. So hoe ver is dit dan van B tot D? En so meer, al op die slingerende blou lyn af deur die Groot Verlatenheid onderweg Windhoek toe.

Rof geraai, was dit waarskynlik, stilhouery ingesluit, vyf ure se ry. Ek sou lank voor donker in Windhoek wees.

Die probleem met so ’n stuk pad is: daar is nie landmerke nie; nie ’n dorp of ’n rivier of ’n bergreeks nie. Afdraaipaaie, ja – maar afdraaipaaie met vaal verweerde naamborde waarvan jy die letters nie meer kan lees nie; half toegewaaide plaasopstalle sonder ’n teken van lewe; sinkwinkeltjies met toegespykerde vensters en motorwrakke op blokke en vervalle petrolpompe.

Is jy al halfpad? Is jy nog op die regte koers? Moes jy dalk by een van daardie vae vurke in die pad links gedraai het? Of regs?

Die middag berei jou voor op wat jy nie verwag het nie: ’n nag sonder enige teken van ’n bestemming.

Sononder lyk die stuk landskap voor jou presies soos dit drie ure gelede gelyk het. Net donkerder. Die wye Namib krimp geleidelik tot die stowwerige ligbaan voor jou in die pad. Die brandstofmeter sak. Is dit jou verbeelding of is die pad besig om al hoe smaller te word? Jy weet dis sinloos om nou om te draai, want die pad vorentoe is darem seker onderweg êrens heen en kan onmoontlik langer wees as die ent wat agter jou lê.

Nege-uur is daar ’n ster voor jou wat laer sit as die horison. Jy ry ’n halfuur lank reguit na die ster toe en sien hoe dit geleidelik glans verloor en stukkie vir stukkie verstrak tot een, nee twee, nee drie buiteligte op ’n werf.

Uiteindelik lewe! Maar dis nie ’n woonhuis nie. Dis ’n sinkgebou en ’n staalafdak, masjienerie, pype en ratte, kleppe en stange en meters – alles toegekoek van ou olie en stof en jare se spinnerakke. Jy soek ’n deur om aan te klop en besef later die enigste spore op die sand om jou is jou eie.

Maar as hier nie lewe is nie, waar kom die lig in die gloeilampe vandaan? Wie het hulle aangeskakel? Of brand hulle al jare verniet?

Daar was nie net een so ’n plek nie. Daar was drie of vier. Elke keer dieselfde ligte, dieselfde afdakke, dieselfde ratte, dieselfde spinnerakke. Tot ek later begin glo het dis dieselfde plek waar ek elke keer stilhou.

Tien jaar later hou kenners van die Namib vol die pad tussen Walvis en Windhoek is vier uur se ry. Daar is net een pad. Daar is nie afdakke met verlate masjienerie nie, geen toegespykerde winkels en vervalle petrolpompe nie.

Daar is niks.

Maar ek weet van beter. Ek was daar. Dink ek.