Au clair de la lune

Wat maa k jou een nag wakker met ’n deuntjie in jou kop wat jy jare laas gehoor het? Jy lê dit oor en oor in jou gedagtes en neurie en probeer die woorde onthou. En besef jy het driekwart daarvan vergeet.

Au clair de la lune, trala-lala-la …

En ’n ander nag kom na jou toe terug, donkiejare gelede, toe jy nog al die woorde geken het. ’n Volmaannag langs die Zürich-meer in Switserland. Hoogsomer. Honger. Moeg. Maar gelukkig. Jy en Bertha en wie-was-dit-nou-weer? Werner iemand. Hel, dis so lank gelede. Werner en? Sou jy destyds kon dink jy sal hulle name ooit vergeet! Elsebeth, Elsabe, Liesbet, Elsa wie?

Die vier van julle, langs mekaar ingehaak op ’n drafstap onder ’n ligblou somermaan wat in die water drywe, baie ver van die huis af en doodgelukkig. En julle sing uit julle harte uit vir daardie silwer maan wat in die water wieg Au Clair de la lune, trala-lala-la …

Ons het ’n paar dae vantevore die moltrein by Odéon in Parys gehaal tot by die oostelike buitewyke van Parys, elkeen met ’n rugsak klere en bietjie proviand, twee tente en vier slaapsakke, ’n paar honderd frank, ’n padkaart en ’n missie: Wene in Oostenryk, die Donau, die Swartwoud, Mimi as die Koningin van die Nag in die Weense Staatsopera.

Ons sou bedags twee-twee ryloop en mekaar saans op die een of ander afgespreekte punt weer kry, êrens kamp opslaan, en die volgende dag weer in die pad val. Geld vir hotelle en treine was daar nie. Maar as jy moet kies tussen niks en Mimi in die Weense Opera, dan gooi jy duim.

Die eerste aand loop ons mekaar mis. Een van die twee pare het nie die paal gehaal nie. Die tweede middag begin dit reën, maar toe ons net voor donker op die afgespreekte plek aankom, druipnat en gedaan, sit Werner en Elbie – dis reg, ja, Elbie was haar naam; Elbie Burger – toe sit die twee al en wag.

Uitspattige vieringe en ’n feesmaal van bokmelkkaas en brood en boeliebief en bier.

Dis waar ons Buks Weyers leer ken. Hy het ons hoor Afrikaans praat en kom kennis maak. Glo per fiets van Reims af op pad Milaan toe waar hy ’n meisie het van wie hy nie meer hoor nie. Sy eindelose stroom grappe en spitsvondighede kon nie die verlore kyk in sy oë wegsteek nie. Toe hy die volgende oggend in die grou eerste lig van Epinal van ons af weg ry en die hele tyd omkyk en oor sy skouer vir ons waai, het ons geweet ons gaan hom nie weer sien nie.

Die volgende aand was ons in Ludwigshafen. Asof ons nie moeg genoeg was nie, het ons ver gaan stap. En gewonder waar is Buks. En om die een of ander rare rede (miskien was dit die maan se skuld) vir mekaar begin vertel van al ons grootste liefdesteleurstellings. En daar was baie. En van almal s’n was Elbie s’n elke keer die aandoenlikste.

Als lyk ’n bietjie onwerklik en vervlietend onder so ’n volmaan, asof jy jou dalk als verbeel – asof dit sal verdwyn as jy jou oë knip.

Wat onthou ek nog? Heeltemal te min. Werner en Elbie het naby Innsbruck stry gekry en sy is haar eie koers in. Sy was twee dae lank soek. Ek kan om die dood nie onthou hoe ons haar weer opgespoor het nie. Bertha het by St. Pölten van ’n bruggie af in die Donau geval en ons moes haar red. In Wene het sy op ’n snikhete dag doelbewus in ’n visvywer geval sodat ons haar weer kon red.

Ons het wederregtelik in die Swartwoud tent opgeslaan en soos kinders geslaap. Ons het na Mimi gaan luister en ná die eerste bedryf wederregtelik van die muishokkies af tot in die ouditorium gesluip en op oop sitplekke gaan sit en niemand het ons berispe nie. Ons het snags in die strate gestap en kliphard “Au claire de la lune” gesing en niemand het ons stilgemaak nie.

Tien dae later was ons voetseer terug in Parys, geswore vriende vir altyd en altyd.

Werner het die volgende jaar Frans gaan doseer in Swede. Hy het seker nie teruggekom nie, want ek kry sy naam nêrens in ’n telefoongids nie. My foto’s van daardie epiese tog het met die een of ander chaotiese trek verdwyn soos goed maar soms verdwyn. Bertha het ’n man ontmoet en Engeland toe geëmigreer. Van Buks het niemand weer gehoor nie. En Elbie het in die niet verdwyn.

Ek het wakker geword, nou die nag, met “Au clair de la lune” in my kop, en probeer onthou. En ek kon nie meer alles onthou nie. Ek het besef ek het niks meer oor om die storie te bewys nie. Alles was onrusbarend onwerklik. En baie meer vervlietend as wat ek destyds sou wou dink. Dis verby. Dit het verdwyn soos dinge in die maanlig verdwyn die oomblik as jy jou oë knip.