VYFTIEN

 

 

Toe Tristan Dinsdag laatmiddag by die huis kom, is Kerneels reeds tuis van sy nuwe werk af.

“Hoe’t dit gegaan op jou eerste dag?” vra Tristan.

“Piele, pappie. Dis moerse great, ek sweer.”

Tristan merk dat hy by die kombuistafel sit en skryf.

“Wat’s dit?”

Kerneels wys na ’n stuk papier waarop hy geskryf het: Naughty boerseun. 19. Travel only. Make your fantasies cum true. 10 cm uncut. Phone 0830002564 for a good time.

“Ek hoor die going rate is nou R800 vir ’n travel en full-house. Taxi’s maak dit nog duurder as ek een moet kry. Nie sleg vir ’n uur se werk nie.”

Tristan haal sy sonbril af en gooi dit op die bank. Dan kry hy Kerneels voor sy bors beet. Hy druk hom terug tot hy teen die muur staan.

“Daar is nie ’n manier waarop jy dit gaan doen nie.”

“Maar jý doen dit dan, dude.”

“Jy is nie ek nie … dude.”

“Maar mens kan ’n kakhuis vol geld maak en sommer nog lekkerkry ook en tussenin deliveries doen.”

“Jy doen dit nié!”

Al die skuheid, die onderdanigheid van tevore is weg. “Hoekom de hel nie?”

“Want jy kan iets beter kry, Kerneels!”

“Wil jy nou vir my preek? Sorry, pel, jy is die laaste een.”

“Dan moet jy trek. Want dan het ons niks meer vir mekaar te sê nie.”

Die onderdanigheid van tevore kruip terug. Tristan laat Kerneels uit sy greep vry. Die seun trek sy T-hemp reg. “Oukei. Ek het dit nie heeltemal so bedoel nie. Tristan.” Hy sê sy naam na ’n kort pouse, asof dit nog nie tuis is op sy tong nie.

“Nou hoe het jy dit dan bedoel?”

Kerneels kyk hom vierkantig in die oë. “Hoekom doen jý nie ‘iets beter’ nie?”

“Ek het my redes.”

“Maar rêrig, ek meen: dis tog waar die geld lê, die big bucks. Ons kan ’n duo doen, ek en jy, dan split ons die geld en … ”

“Vergeet dit!”

“Maar luister! Ek het jou swart boekie gesien, jou afsprake. As jy in so ’n penthouse kan bly, kan ons clients mos share! Jy doen die girls, ek doen hulle mans!”

“Kerneels.” Tristan beweeg nou vir die eerste keer, tree terug en laat die seun sy eie ruimte toe. “Jy gaan iets anders doen.”

“Ag, stront, man. Wat anders gaan ek doen? Ons het mos al hieroor gepraat. Ek is wit, daar’s boggerôl werk, nie eers jy kan my help nie. En die kroks en ouballies like my sterk, ek weet mos.”

“Wíl jy dit nou wragtag doen? Ten spyte van wat ek gesê het?”

Kerneels kyk na Tristan asof hy nou eers behoorlik daaroor dink. Hy krap deur sy hare, ruik skielik onder sy arm en grinnik: “Dis goed om vir ’n verandering lekker te ruik.”

“Wil jy hierdie werk doen, Kerneels?”

Kerneels draai om, gaan staan voor die venster. Hy sit sy hande in sy gatsakke, amper uitdagend. Hy draai om. “Natuurlik nie, man. Wie in sy right mind wil dit doen? Maar ek doen dit om te survive, soos jy! En ek soek dringend meer geld. Money makes the world go around!”

Kerneels gaan sit, kyk voor hom uit en raak vir die eerste keer selfbewus, sien Tristan. Hy laat sy kop sak.

Tristan gaan sit langs hom. Hy merk dat Kerneels se oë vogtig raak.

“Wat wil jy eintlik doen, Kerneels?”

Hy beduie hulpeloos. “Wat dink jy? My matriek klaarmaak. Maar met geld wat ek waar kry? Waar gaan ek bly? Hoe gaan ek eet?” Hy vee oor sy oë. “Van my pelle huur hulleself lankal uit. Dis hoe hulle vir hulle swottings betaal, of vir selfone of airtime. Hulle soen nie en hulle doen nie bareback nie en baie van die outjies is straight, maar hulle maak hulle oë toe en doen dit omdat hulle niks anders kry nie, soos ek! Hierdie land is in sy moer en ons word weggesmyt oor ons wit is. Wat anders moet ek doen?”

Tristan het nie meer antwoorde nie. Hy weet net: hy moet wegkom, uitkom, met sy fiets ry, enigiets. As hy nie nou die wind om hom voel nie, gaan hy ontplof.

Hy neem sy fiets en plaas sy fietsryhelm op. Hy tel sy donkerbril op en stoot die fiets tot by die deur.

“Gaan jy my teruggooi op die straat?” vra Kerneels, nou met onsekerheid en ’n ligte bewerigheid in sy stem.

Tristan stoot die deur oop. Hy voel die hoofpyn teen sy slape klop. “Jy kan voorlopig hier bly. En skeur daai stuk gemors op, man!”

Kerneels blaas sy asem uit en knik.

“Dan wil ek hê jy moet mooi dink oor wat jy regtig wil doen en hoe jy daar wil kom. Dan praat ons.”

Hy kan sien Kerneels wil hom weer aanvat omdat hý homself uitverhuur, maar bedink hom, moontlik uit vrees dat Tristan hom op straat gaan uitgooi.

En die ergste is, hy weet nie hoe om hom te antwoord nie.

Tensy hy die waarheid praat. En as hy die waarheid praat, is die finaliteit daar. Erken hy alles. En hy kan steeds nie daardie woorde oor sy lippe kry nie.

Hy kan nie.

Dit voel asof iemand sy kop met sy hande oopskeur en in sy brein krap.

“Wat’s fout?” vra Kerneels.

“Het jy al geëet?”

“Jip. Take-away hamburger.”

“Wanneer ek terugkom, maak ek vir ons ordentlike kos.”

Hy klap die deur agter hom toe, die reuk van die vars verf hang steeds in die lug. Weer kry hy die gevoel dat iemand hom dalk dophou. Hy kyk heen en weer, maar die daktuin is verlate.

Die fiets is ligter as wat hy onthou. Die swart-en-wit kat sit oudergewoonte vir hom en wag. Tristan buk en krap die dier se kop. Hy spin en krom sy nek. Daar is nog katkos in sy bak. Hy is dus nie hier om te eet nie.

Die kat het vir Tristan sit en wag.

Die hysbak neem omtrent vyf minute voordat dit op die twintigste verdieping stop. Hy hoor weer ’n kraakgeluid en maak die deur oop.

Hy stoot die fiets in, maak die deur toe en gaan sit op sy hurke en maak sy oë toe. Hy skud sy kop en wil nie aanvaar wat besig is om te gebeur nie. Voel ’n geweldige angs wat hom beetpak – moontlik ’n paniekaanval.

Die hysbak stop op die grondverdieping en Tristan kom vinnig orent. Hy stoot sy fiets uit en druk die groen uitgangknop.

Taxi’s skiet verby. Voetgangers skarrel oor Commissionerstraat en steek vingers in die lug om opgelaai te word. Motors vleg oor die bane, druk mekaar uit die pad, mis voetgangers net-net.

Met sy sonbril op sy neus klim Tristan op sy fiets. Hy het drie maande laas gery. Hy voel die gemaklikheid van die bekende saal onder hom, sy voete pas in die gespes om die pedale. Hy plaas sy helm op sy kop, hoor die ligte kraak van die saal en die klank van die ratte wat hy verwissel. Dan leun hy vorentoe en begin ry.

Daar is nuwe krag in sy bene. Sy liggaam voel sterk en jonk terwyl hy vooroor beur en die fiets in die stroom verkeer stoot. Hy beweeg vinniger en vinniger. En terwyl hy tussen die motors deur swenk, kom die gevoel van vryheid terug, vergeet hy sy oomblik van swakheid in die hysbak.

Hy moet daarvan vergeet en elke oomblik nou, hier, intens ervaar.

Mense staan uit die pad, taxi’s toeter aanhoudend. Drie kort toete vir: Soek jy ’n geleentheid? Een lange vir: Gee pad. Twee vir: Is jy seker jy wil nie saamry nie?

Iewers loop iemand met ’n radio verby waaruit ’n omroeper kliphard praat. En dan kwaito-musiek. Doef-doef-doef. Hard, bonsend, aggressief, soos die vasberadenheid waarmee hy trap. Vinniger en nog vinniger, nou amper roekeloos asof hy nie omgee indien hy homself te pletter ry nie.

Die stad word ’n kaleidoskoop van klank en beelde en musiek en wind en strate en geboue en teer en parkeermeters en verkeersligte.

Hy het nog nie sy slag verloor nie, maar dié keer is daar vrees, onsekerheid, merk hy die son wat agter die geboue verdwyn.

Eensklaps is hy terug op skool, jaag hy saam met sy pelle op hul fietse, glip hy tussen openinge deur, sny voor motoriste in, mis skoolkinders rakelings. Vinniger en vinniger met die wind oor sy gesig, en hy onthou die enigste probleme wat hy as skoolkind gehad het, was of hy môreoggend vroeg genoeg gaan wakker word om vir sy geskiedenistoets te leer. Of watter van die baie meisies wat van hom gehou het, vanaand saam met hom gaan fliek. En of hy genoeg tyd gaan hê om met sy PlayStation te speel en nog ’n gimnastiek-oefensessie in te pas voor hy deurnag huiswerk moet doen.

Hy is prins van die wêreld. Mooi en jonk en lus en vry.

Soos op skool, trap Tristan nou verbete, mis hy ’n taxi met sentimeters, skuur vlak verby ’n fietsryer, swaai uit vir ’n motordeur wat onverwags oopgaan, lig sy arms soos op TV wanneer ’n wenner oor die wenstreep jaag. Hoor die geluid van lekkerkry uit sy keel: “Whoa!!”

Die wiele skuif oor die teer om ’n draai verby sinkplate wat ’n winkel afsper. Hy ry so na aan ’n klomp appels verby, hy kan een gryp. Hy het nog nie sy slag verloor nie en ry feitlik net op instink, elke sintuig gespanne.

Dit raak nou vinnig skemer. Vir ’n oomblik weer die vrees wat aan sy ingewande pluk. Maar sy hande sluit stywer om die handvatsels.

’n Man met kekkelende hoenders in ’n hok sny voor hom in. Nog taxi’s jaag om die hoek en flits hul ligte vir hom.

In Nuggetstraat, op ’n sypaadjie gepak met kartondose en draad, wankel ’n voetganger en struikel voor hom in. Tristan pluk sy fiets net betyds uit die pad, voel die wind van die vallende liggaam by hom verbyskiet.

Onder die snelweg deur. Nou in Doornfontein. Hy sien uit die hoek van sy oog die verval, die vroue in stywe mini­rokkies wat mans optel in Daviesstraat. Een word deur ’n motoris in ’n swart motor met getinte ruite opgelaai. ’n Geveg vind plaas en sy word uitgegooi. Tristan roep: “You need help?”

“Go fuck yourself!” gil sy, en Tristan is nie seker of dit vir hom of die motoris is nie.

Af met Yorkstraat waar die enkele straatligte wat nog nie met gewere of ketties uitgeskiet is nie, begin aangaan. Hy fokus op die een voorwerp na die ander, neem dit in, dink daaroor. Motors wat by opritte intrek. Ysterhekke wat oop­skuif, ligte wat aangaan, blomme wat oor draadheinings peul.

’n Hond spring voor hom in. Tristan rem, maar dis te laat. Sy fiets skuif sodat hy omtol en op die gras val. Twee dronkies gaan staan en beduie na hom terwyl hulle luidkeels met mekaar begin praat en kopskud en dan verder snuif aan brandspiritus.

’n Mede-fietsryer, oorlaai met kartonne, beduie: “You okay?”

“I’m fine!” beduie Tristan en staan op. Dit is of daar ’n duiwel in hom is. Hy klim terug op sy fiets en jaag tot in Yeoville, die allerlaaste woonbuurt waar ’n mens dit teen skemer kan waag.

Hy ry ’n kort entjie tot waar hy ’n uitsig op die stad het.

Redelike vars lug. Hier en daar is rook en uitlaatgasse, maar dit is skoner as in die middestad. ’n Daggareuk huiwer iewers.

Môreoggend moet hy op die Randse Lughawe wees, betyds vir die helikopter. Dan die vlug Waterberge toe.

Maar dis eers môre. Nou is nou.

“Hoezit, Erika?” Hy weet glad nie hoekom hy met haar praat nie, sê dit net asof sy daar is.

Hy gaan sit op ’n muurtjie en staar uit oor die stad, luister na die gebrom van die verkeer hier onder. Die stad is soos die draak waarvan sy pa altyd vir hom as kind uit sy storieboeke gelees het. Die gedrog wat die aantreklike prins op die een of ander maklike manier verslaan het. Dit is seker hoe die draak se grom moet klink, dink Tristan. Want sy pa het die grom altyd nageboots: “Grrommm!”

Hy kyk hoe die liggies een na die ander aangaan, sien die wêreld se grootste mensgemaakte woud onder hom uitstrek met klein tuintjies agter sekuriteitshekke en palissades. Iewers gaan alarms af. Taxi’s toet nog steeds drie kortetjies om voetgangers se aandag te trek.

Agter hom die rooi truligte van motors. Hulle ry een na die ander by hom verby. Word ingesluk deur die donker. Nes sy pa s’n soveel jare gelede.

Rooi truligte. Ingesluk deur die swart. Die nommerplaat verlig.

Bloedrooi.

Sy pa en ma wat destyds stry gekry het. Dieter wat vertel het dat hy sy werk verloor het. Dat hy nie weet hoe hy verder vir hom en sy ma gaan sorg nie.

“Moenie vra hoekom nie, Millicent, jy weet hoekom!” het sy pa geskreeu.

Sy ma wat troos dat haar salaris genoeg sal wees. Dat Dieter wel iets gaan kry. Hy moet net nie weer in depressie verval nie, want dit loop immers deur die familie. En kort-kort sy ouers se koppe wat in sy rigting beduie asof Millicent deurgaans waarsku: “Nie voor die kind nie.”

Dieter wat dae lank voor hom uitstaar, nikssiende. Sy ma wat langs sy pa gaan sit en haar arm om sy skouers plaas. Dieter wat pille drink, dit met drank afspoel, meer pille in sy hand afmeet. Pille teen depressie, altyd pille.

In donker kamers, Dieter se kop onder die komberse, sy angsroepe in die nag. Dieter wat langs hom kom sit en oor sy gesig streel. “Nie jy nie. Nie jy nie, seuna.”

Eers later sou hy verstaan wat sy pa bedoel het.

Weer sy ma wat die volgende dag langs sy pa gaan sit, sy hand vat in vertroosting. Maar Dieter beweeg nie. Millicent kon net sowel aan ’n ysblok gevat het.

En toe die laaste dag.

Tristan laat sak sy kop, sy oë toe, voel die bekende fiets waarop hy sit soos ’n vriend. Hy sluk teen die emosie.

Hy was agt jaar oud toe sy lewe verander het. Sy pa wat aangery kom en skielik oor die sypaadjie ry. Tristan hardloop nader en sien sy pa se voorkop teen die stuurwiel. Hy het sy pa nog nooit sien huil nie.

Net daardie laaste dag. Tristan sukkel om die motordeur oop te kry en besef dit is gesluit. Hy hamer met sy vuisies teen die motordeur. “Maak oop, Pappa!” Maar Dieter beweeg nie. “Maak oop!”

Dieter wat sy kop lig en na klein Tristan kyk.

“Hoekom huil Pappa?”

Klein Tristan ruk weer aan die deur, maar dit bly gesluit. Hy weet iets gaan gebeur. Hy is bang. Hy wil saam met sy pa gaan, by hom wees. Maak nie saak wat nou gaan gebeur nie. Dis een van die dae sy negende verjaarsdag en sy pa het belowe om hom Gold Reef City toe te neem om op die motortjies te gaan ry!

Die geluid van die motordeure wat oopgesluit word. Die agtjarige Tristan wat die deur aan sy pa se kant ooppluk, die ouer man se broek nat, vlekke teen sy binnebeen af. Hy moes beheer oor sy blaas verloor het.

“Pappa? Gaan ons Gold Reef City toe?”

Sy pa skud sy kop.

“Maar dis amper my verjaarsdag.”

Snaakse geluide uit sy pa se keel. “Onthou net altyd. Ek is baie lief vir jou. Kyk mooi na Mamma. Belowe my?”

“Ek wil saamgaan, Pappa.”

Sy pa wat roerloos bly sit. Klein Tristan hardloop om die motor na die passasiersdeur toe. Die motor grom en brom soos sy pa die pedaal trap asof hy nie kan wag om weg te trek nie.

Tristan kry die handvatsel beet. Sy pa kyk op en sien hom. Toe die klikgeluid. Die deur wat gesluit word. Daardie ver­skriklike klank. Klik!

Skud. Ruk. Pluk, geweld om die deur oop te forseer, maar die motor skiet so vinnig vorentoe dat Tristan op sy gesig val. Sy pa jaag weg. Vinniger en vinniger en verder en verder. Die rooi truligte word deur die donkerte ingesluk. Al verder weg van hom af.

’n Gil. Dit was sy eie. Toe die verskriklike slag wat deur die stilte weergalm het. Nie eers remme wat skreeu nie. Net ’n geweldige slag, ’n rookwolk, vuur.

Klein Tristan hardloop. ’n motor swenk vir hom uit, nog een toet. Hy hardloop so vinnig as wat sy jong beentjies hom kan dra na die vuur toe. ’n Vragmotor staan oor die pad getrek, sy pa se motor verskrompeld onder die staal ingedruk.

Hardloop en hardloop en hardloop. Sirenes. Sy asem jaag, sy hartjie klop in sy keel. Maar hy hou aan asof hy hom te pletter wil hardloop.

Mense wat naderkom, hitte, vlamme, vonke in die lug soos vuurwerke. Tristan wat tussendeur die mense storm. ’n Man wat uit die vragmotor gesteier kom. ’n Omstander wat die vlamme met ’n brandblusser probeer dood kry.

Hardloop en hardloop tot by sy pa.

In die uitgebrande motor sit ’n stuk halfgaar mens agter die stuurwiel, die kop waarvan die vleis afskilfer en wat ’n ontblote skedel wys. Die verbrande oë wat uit hul kasse gebars het en grotesk oor die pap wange peul. Die vuur wat die oë braai en verorber. En tog, hulle kyk vir hom terwyl die vlamme hulle verteer. Kyk uit die hel na hom. Kýk en kýk en kýk.

Tristan druk sy hande teen sy kop, swaai om, klim af en stoot sy fiets deur Yeoville terug na een van die besige strate toe.

Hy keer ’n taxi, beduie na sy fiets en vra of hy middestad toe kan gaan. Die verbaasde bestuurder knik en beduie hy moet die fiets langs hom staanmaak nadat hy ingeklim het.

Die sitplek is sag onder hom, sy asem jaag.

“Plaza Building, Commissioner Street,” sê Tristan.

Hy klou aan sy fiets vas, dink aan Erika en Kerneels. Ook sy ma. Die enigste drie mense in sy lewe wat nader aan hom is as wie? Sy kliënte? Die vroue vir wie hy wys wat hulle wil sien?

Wat hom net wil gebruik, oor en oor en oor soos ’n seksmasjien?

Hy begeer net een ding. Een.

In die taxi buig hy sy kop en besef hy bid soos destyds toe hy ’n klein seuntjie was. Die eerste keer sedert toe.

Hy maak sy oë oop. Skielik wil hy vir die taxibestuurder vra om hom na Erika se huis toe te neem. En vir ’n mal oomblik oorweeg hy dit, maar besluit daarteen.

Hy wil só graag nou met haar praat. En praat. En praat. En aan die slaap raak en wakker word en weer praat.

Maar hulle is amper in Commissionerstraat. Die Plaza-gebou is net hier voor.