Dit is sy tweede week in Highgate. ’n Paar minute voor middernag ry hy stadig in die straat af. Soos gewoonlik sien hy niks ongewoons nie en die meeste van die huise is al donker. Aan die einde van die straat draai hy om en ry terug. Maar hierdie keer, halfpad straataf, skyn die paneelwa se kopligte op drie mense wat op die sypaadjie loop. Dit is ongewoon – snags is daar nooit baie voetverkeer nie en hierdie tyd van die nag keer inwoners gewoonlik per kar of taxi terug.
Twee mans en ’n vrou wat lyk of hulle stry, sien hy toe hy nader ry. Miskien dronkies wat ’n kortpad deur die voorstad vat. Maar dan hardloop die vrou in die pad in en beduie vir hom om stil te hou. ’n Stewig geboude man met ’n kaalgeskeerde kop draf agter haar aan. Hy hou teësinnig stil; hy het nie lus om by ’n dronk stryery betrokke te raak nie. Die kaalkopman in die swart leerjas het haar nou ingehaal en probeer haar terugtrek na die sypaadjie. Hy klim uit die paneelwa en lig met sy flits in hul gesigte. Die vrou is skraal en omtrent vyf voet ses. Sy lyk nugter en bang.
‘Please, Mister, help me,’ sê sy met ’n vreemde aksent.
‘What’s the problem?’
Die man met die leerjas los haar. ‘Fuck off mate, or do you want that torch up your arse?’
Hy ignoreer die man en loop nader. ‘What’s wrong?’ Haar gesig is bleek in die straatlig. Meer meisie as vrou, sien hy nou – negentien, miskien twintig jaar oud.
‘I am au pair at number fifty-two,’ sê sy en wys na iewers agter hom. ‘I don’t know what they want, they follow me from station.’
Die tweede man staan nader. Hy is langer en groter as die eerste een en hy dra ondanks die koue slegs ’n stywe T-hemp, wat die bultende boarmspiere en nek van ’n gereelde spierbouer vertoon. ‘You heard what the man said, cunt, so be a good lad and fuck off.’ Die soet reuk van alkohol hang in die lug.
Hy vat die swaar metaalflits stywer vas terwyl hy die meisie met die ander hand nader wink. ‘Get in the van, I’ll take you home.’
Toe sy verby hom loop, sien hy hoe die kaalkop sy regterhand in sy leerjas se sak steek. ‘Oi, you fucking deaf, mate?’ sê hy. Die mes flits in die straatlig toe hy sy hand uittrek. Die man wieg op sy voete. ‘Maybe you’ll hear better when I cut your fucking bollocks off.’
Uit die hoek van sy oog sien hy hoe die ander man sy bierblik op die teer neersit. Sy hart hamer in sy bors. Die kaalkop is nou net twee tree weg. Hy tree terug totdat hy die paneelwa se enjinkap teen sy bene voel. Twee teen een, en ’n mes. Maar hulle is dronk, hy nie. Die een met die mes lyk vinniger, dus sal hy eerste moet wees.
‘You guys sure you want to do this?’ sê hy en klap met die flits teen die palm van sy linkerhand. Hy voel ’n bekende opwinding deur hom bruis.
Die twee mans kyk na mekaar. Die een met die mes skud sy kop en grynslag. ‘Fucking nutter!’
Die spierbouer lag en gee ’n tree nader. Hy draai die flits na hom toe. Dan spring die kaalkop vorentoe. Hy gee ’n stappie sywaarts en slaan hom hard met die flits op die elmboog. Die kaalkop kreun en laat val sy mes. Hy swaai anderkant toe. Soos hy vermoed het, vertraag die spierbouer se oorontwikkelde liggaam hom. Hy wag vir hom, voel dan die skok tot in sy skouer en kakebeen toe hy hom met die flits teen die voorkop slaan. Die spierbouer sug en sak op sy knieë neer. Hy draai hom terug na die ander man, wat nou met sy linkerhand na die mes op die teer krabbel. Hy los die flits, gryp die kaalkop agter aan sy leerjas en trek dit oor sy kop sodat sy kop en arms vasgeknel word. Hy pluk hom nader en lig sy knie. Kraakbeen en tandemalje versplinter. Toe hy hom los, val die kaalkop sywaarts oor ’n swart paaltjie.
Die spierbouer is nog steeds op sy knieë. Bloed drup van sy gesig op sy T-hemp. Hy tel die flits op, stap nader, lig sy arm. Die man kyk met glasige oë op en lig sy hande. Maar dan hoor hy die opgewonde geblaf van die hond en hy sien dat daar in huise aan weerskante van die straat ligte aangeskakel word. Hy stamp die man agteroor op sy rug. Skielik spring die meisie weg en hardloop in die straat af. Vanuit ’n huis oorkant die straat skree ’n manstem dat die polisie op pad is.
Hy loop om die paneelwa en laat die hond uit. Hy gaan sit op ’n lae tuinmuurtjie met die hond se leiriem in sy linkerhand. Hy vee sy hand aan die muurtjie af; die flits sal hy later moet skoonmaak. Die kaalkop lê roerloos en haal swaar deur sy vergruisde neus asem. Die spierbouer sit nou regop met sy kop in sy hande.
’n Jammerte, dink hy. Hy gaan aandag op homself vestig, en nou gaan daar ’n ondersoek wees, waarskynlik ’n verskyning in die hof, vrae oor sy werkpermit, of sy gebrek aan een.
Eers toe ’n polisiekar om die draai gejaag kom, kom ’n paar inwoners uit hul erwe. Hy sien die meisie en ’n middeljarige man na hom toe stap.
Twee polisiemanne klim uit die kar. Die ouer een ondersoek die kaalkop, wie se oë nou oop is. Die jonger polisieman ontbied ’n ambulans en tel dan die springmes op. Hulle ondervra hom eerste, dan die meisie. Sy is Monica, sewe-en-twintig jaar oud, ouer as wat sy lyk, en van die Tsjeggiese Republiek. Sy werk al drie maande as ’n au pair in Londen. Sy bevestig sy weergawe van die gebeure, en sy verblyfstatus word nie bevraagteken nie.
’n Ambulans daag op en die jonger polisieman klim agterin by die twee beseerde mans. Toe die ambulans en die polisiekar wegry, keer die inwoners terug na hul huise, behalwe Monica en die middeljarige man, wat oorstap en sy hand skud.
‘Alex Sturgeon. Monica works for us. I dread thinking what could have happened if you hadn’t intervened.’ Sy aksent is ryk, die klinkers volrond.
Monica stap nader. Die straatlig weerkaats op haar blinkswart hare. Sy het hoë wangbene en ’n fyn neus, en oortjies soos dié van ’n kind. Sy steek haar hand uit. ‘Thank you.’
Haar hand is warm en sag in syne en onder sy wysvinger voel hy ’n aartjie klop. Sy staan op haar tone en soen hom op die wang.
Toe sy en die man by hul erf instap, draai sy om en waai vir hom. Die straat is weer stil, die bierblik op die teer die enigste bewys van wat gebeur het. Hy maak sy oë toe; hy voel hoe ’n hoofpyn begin klop.
Hy slaap die volgende oggend en die meeste van die middag. Toe hy wakker word, is sy hoofpyn beter, maar hy voel nog moeg. Die huis is stil. Chris, JB en Marius is in Suid-Afrika vir Kersfees en Nuwejaar; dit is net hy en Steve in die huis. In elk geval, selfs wanneer hulle almal daar is, sien hy min van sy huismaats, veral noudat hy snags werk.
Hy braai ’n eier en worsies, maak koffie, stryk sy uniform: sy daaglikse roetine. Dit is nou sy lewe, dink hy; ’n klein lewetjie. Hy oorweeg dit om nog ’n paar rekenaarmaatskappye te bel, maar dit is reeds halfvyf en hy moet gaan werk. Nog ’n dag daarmee heen.
Toe hy vir diens aanmeld, sê die kontroleur dat Fergal Kennedy hom wil sien. Fergal wink hom binne toe hy aan die oop deur klop. Nadat hy gaan sit het, sê Fergal: ‘So what’s this I hear? I got a call from a Mr Sturgeon.’
Toe hy klaar verduidelik het, knik Fergal sy kop ’n paar keer. ‘Well done, well done. But in a situation like that I would have used the dog to pacify them. But then again, I wasn’t there.’ Fergal staan op en skud sy hand. ‘Keep up the good work.’
Sy praatjie met Fergal het hom vertraag en dit is al halfsewe toe hy in Highgate aankom. Hy parkeer halfpad in die straat af naby die ingang van die gholfklub en haal die hond vir ’n voetpatrollie uit. Rex is nie goed opgelei nie. Die hond trek en ruk aan die leiband en hy moet hom weghou van die voetgangers – grysgesigmans en vrouens wat met aktetasse en sakke uit die rigting van die moltreinstasie kom. Hy stap verby die Sturgeon-huis, maar sien nie vir Monica nie.
Later gaan die ligte in die huise af, eers op grondvlak, dan op die boonste verdiepings, en die verkeer raak minder. Nou lê die langste deel van die nag voor, wanneer daar niks gebeur nie en wanneer jy net kan dink en onthou.
Daar was ’n tyd toe hy kon wag, dink hy. Maar dis lank gelede. Hy en twee ander operateurs het hulle in ’n bos naby ’n kamp versteek. Vyf dae lank het hulle daar geëet, water afgeslaan, ontlas, geslaap en notas van die vyand se slagordes en roetines gemaak terwyl die mopanievlieë hulle bedags getreiter het en die muskiete snags.
Hy peuter met die knoppie van die paneelwa se radio en soek deur die laataand-geselsprogramme en musiekstasies. Skielik herken hy ’n brokkie klassieke musiek en stem die radio op dié stasie in. Dit is ’n stuk deur ’n Italiaanse komponis wie se naam hy nie kan onthou nie – musiek wat sy ouma soms op sy pa se platespeler gespeel het, ’n stuk wat begin met een of twee lang orrelnote, dan ’n enkele harp, later ’n klomp viole, en die intensiteit wat geleidelik maar onverbiddelik in ’n crescendo styg. Hy verbaas hom dat hy dit onthou. Sy ouma is oorlede toe hy dertien was en hy is seker hy het die musiek nooit weer gehoor nie. Hy draai dit harder sodat die melancholiese musiek die paneelwa vul.
Sy het hulle een keer per jaar vir twee weke besoek. Hy het vermoed dat hy haar gunsteling-kleinkind is, miskien omdat hy die meeste soos sy pa, haar oudste seun, gelyk het. Party nagte mag hy by haar in die dubbelbed in die gastekamer geslaap het. Op skoolaande moes hy agtuur in die bed wees, maar voor ligte-uit het sy altyd vir hom uit die Bybel kom lees. Soms het hy in die nag wakker geword. Dan het hy geluister na haar ligte gesnork en die duiwe wat saggies op die grasdak koer, voordat hy weer aan die slaap geraak het.
Die stuk klink nou selfs treuriger en dit voel vir hom asof hy van homself ontsnap het. Vir ’n minuut of twee is dit asof hy die verlede, sy verlede, kan sien, kan begryp, nie net as onsamehangende herrinneringe nie, maar as ’n sinvolle geheel: die lang jare op skool; die fietsry voor sonsopkoms met sy sak koerante deur die stil voorstede van Pretoria; die ruil van ’n skooluniform vir ’n ander uniform; swart werkers wat by die Universiteit van Kaapstad toi-toi; die saaiheid van ’n pak klere aantrek en staatseffekte verhandel; die verhoor en die vrae. En Louise. Immer Louise.