18

Hierdie keer tref hy dit gelukkig: haar woonstel is verlig. Hy neem weer stelling in die telefoonhokkie in. Hy sien figure agter haar gordyne rondbeweeg, maar hy kan hulle nie uitken nie. Nogmaals lees hy die prostitute se kaartjies wat teen die kante van die hokkie opgeplak is; teen hierdie tyd ken hy al hul gesigte en name uit sy kop. Later sak ’n newel neer, ’n grys kleed wat die straat omfloers en die straatlige uitdoof. En skielik het hy genoeg gehad, genoeg van wegkruip. Hy weet alles wat hy moet weet.

Hy verlaat die hokkie en loop na die huis. Maar toe hy nog twintig tree ver is, gaan die voordeur oop en ’n man kom op die trap uit. Dit is die kêrel, sien hy toe hy nader kom. Hy oorweeg dit om om te draai en weg te stap – dit is nog nie te laat nie; die man het hom nog nie raakgesien nie. Dan kom Louise uit. Sy kyk skrams na hom, maar draai dan terug na die man. Hy het die kap van sy anorak oor sy kop; sy het hom nie herken nie, besef hy. Sy linkerhand bewe toe hy die hekkie oopstoot. Nou kyk albei na hom. Haar gesig is maerder as voorheen. Hy trek die kap terug en hou haar gesig dop. Na ’n sekonde of twee sien hy hoe haar oë rek.

‘Hallo, Louise.’

Sy staar hom in stilte aan.

‘Hoe gaan dit?’ vra hy. Sy stem klink gespanne.

‘Paul,’ fluister sy.

Louise se vriend kyk met versigtige belangstelling na hom, of is dit bedugtheid wat hy bespeur?

Hy steek sy hand uit. ‘Hallo.’

Die man vat traag sy hand. ‘Adrian.’ Sy mond is sag, sy hare gejel.

Niemand praat nie. ’n Kar met ’n stukkende knaldemper jaag in die straat af.

Sy verbreek die stilte. ‘Wat soek jy hier?’

‘Jy weet.’

Adrian gee haar ’n bekommerde kyk. ‘Everything ok, Louise?’ Hy spreek haar naam uit as Liwheeze, merk hy geïrriteerd op. Maar hy moet niks doen wat die situasie sal vererger nie.

‘Hoe het jy my gekry?’ Sy praat harder as voorheen.

‘Kan ons gesels?’

Sy vou haar arms oor haar bors en kyk hom skeef aan.

‘Privaat,’ voeg hy by.

Sy draai haar na Adrian. ‘I’ll phone you tomorrow, ok?’

Adrian vat haar hand. ‘Are you sure?’

Sy knik.

Adrian stap weg, maar na ’n dosyn of wat treë kyk hy om. Louise wuif liggies vir hom, en hy stap verder.

‘Jy wil seker inkom?’

‘Asseblief.’

Hy volg haar kortasem deur ’n voorportaal met ’n dambordvloer en ’n groot spieël met ’n vergulde raam aan die muur. Maar kol-kol ontsier afskilferende verf die muur rondom die spieël, en daar is donker vlekke op die trap se tapyt. Hulle gaan met twee stelle trappe op, verby die toe deure van ander woonstelle. Sy kyk nie om om seker te maak dat hy haar volg nie. Hulle gaan by haar woonstel in. Op ’n houtkoffietafel sien hy ’n leë wynbottel en twee glase staan. Die kamer lyk goed ingeleef: rye boeke op twee rakke, ’n gemaklike rusbank en leunstoel, ’n rekenaar en drukker op ’n lessenaar in die hoek.

Louise gaan sit in die leunstoel. Hy bly op sy voete.

‘Wie’s jou vriend?’ vra hy, sy stem hees. Nie ’n goeie begin nie.

Sy frons. ‘Sit asseblief.’

Maar hy kan dit nie terughou nie. ‘Hoe lank al?’

Hy sien hoe haar vingers ingrawe in die armleunings. ‘Paul, wat doen jy hier?’

‘Is jy ernstig?’

Sy skud haar kop. ‘Ek het gehoor jy het verdwyn – ek moes geraai het. Hoe het jy my gekry?’ Sy lag geforseerd. ‘O, hoe kon ek vergeet, jy was ’n spioen, nie waar nie?’ Daar is twee rooi kolletjies hoog teen haar wange. Sy lyk begeerliker as ooit.

Hy gaan sit op die rusbank. ‘Asseblief, Louise, ek het nie gekom om te baklei nie.’

Sy kruis haar bene. ‘Wat wil jy hê?’

‘Jy’s nog my vrou, nie waar nie? Ek dink jy skuld my ten minste ’n verduideliking.’ Dit voel of hy met ’n vreemdeling praat wat toevallig Louise se gesig en liggaam het.

Sy leun vorentoe. ‘’n Verduideliking! Na wat by die verhoor uitgekom het!’

‘Maar jy het tog my redes, my antwoorde, gehoor.’

‘Jy bedoel daardie roerende verhaal oor die Voortrekkers en die Boereoorlog, en hoe jy die Kommunisme wou beveg en dat jy alles vir jou land en jou volk gedoen het – ja, ek het dit alles gehoor.’

‘Dit is waar.’

Sy gee ’n spotlag. ‘Asseblief tog. Los daai stories vir die regters en die advokate. Van wanneer af was jy geïnteresseerd in al daai goed?

‘Dat ek nie daaroor gepraat het nie beteken nie dat ek nie daarin geglo het nie.’

‘Lyk my daar’s baie dinge waaroor jy nie gepraat het nie. Maar ek gaan nie hier sit en met jou stry nie.’ Sy skuif in haar stoel asof sy regmaak om op te staan. ‘Wat wil jy van my hê?’

‘Ons het nooit weer gepraat oor wat gebeur het nie, oor André, oor my en jou nie. Jy het net verdwyn. Ek kan dit nie doen nie, ek moet verstaan.’

Sy haal haar skouers op. ‘Wat’s daar om te verstaan? Jy’t André doodgemaak, jy’t vir my gelieg, ek het jou gelos.’

‘Wanneer het ek gelieg? Ek het jou tog alles voor die verhoor vertel, so hoekom het jy nie toe geloop nie?’

Haar oë skitter. ‘Jy het my alles vertel, sure. Maar wat van die twee wit mans in die kar naby die saal toe die bom ontplof het? Jy het my nie daarvan vertel nie, het jy? En ek en jy weet albei dat jy lank voor jy UCT toe is, geweet het dat André in die ECC is. So hoekom het jy dan getuig dat jy dit eers uitgevind het toe jy UCT toe is? En ek onthou ek het destyds gewonder hoekom jy eerder UCT as Stellenbosch toe wou gaan. Wag, nou onthou ek: jy het gedink dat UCT ’n beter handelsfakulteit het.’ Sy snuif minagtend. ‘En nou wil jy hê ek moet glo dit was ’n ongeluk!’

Sy antwoorde is gereed, hulle is al ingoefen. ‘Ek is UCT toe omdat die weermag betaal het. Dit was dit of nog ’n jaar in die army. Onthou, ek het nog ’n jaar op my PF-kontrak oorgehad. En dit het ook beteken dat ek nie na my pa hoef te gegaan het vir geld nie. Wat die kar betref: ek was nie daar of in daardie kar nie, so hoe kon ek jou daarvan vertel het? En ja, ek het geweet André was in die ECC. Maar ek wou dit nie erken nie, want dan sou die WVK wou weet waar ek dit gehoor het, en dan was jy daarby ingesleep.’

‘So, jy het gelieg om my te beskerm, is dit wat jy nou wil voorgee?’ Sy kyk stip na hom. ‘Paul, waar was jy daardie aand?’

‘Soos ek gesê het, in my kamer in Rondebosch.’

‘Ek het ’n paar keer probeer om jou daardie aand te bel, maar daar was geen antwoord nie.’

Sy gesig begin gloei. So, dít is haar troefkaart, haar doodslag. ‘Jy’s verkeerd. Ek wás daar. Miskien was ek gou winkel toe toe jy gebel het, ek kan nie onthou nie. En hoe kan jy na al hierdie jare so seker wees dat jy juis daardie spesifieke aand gebel het?’

‘Ek het onthou toe die advokaat jou gevra het waar jy daardie aand was. Jy sou die volgende dag na my toe kom vir die naweek, onthou? Maar ek het jou gebel om jou te sê dat ek ’n program moes klaar kodeer en dat ek net die volgende aand tyd op die universiteit se hoofraam kon kry. Maar ek kon jou nie in die hande kry nie en jy het die hele aand by my woonstel vir my gewag. Dís toe jy my vertel het dat André dood is, onthou jy?’ Sy druk-druk aan haar oë en staan op. ‘Loop asseblief. Nou.’

Hy bly sit. ‘Dink jy regtig ek wou hom dood hê? Hoekom sou ek dit wou hê?’ Nou het hy die vraag gevra, dit is uit, hy het skaak geroep.

Sy draai om. Die vraag hang in die lug. Vir ’n paar sekondes kyk hulle na mekaar. Dan sug sy. ‘Paul, dis verby, teken die papiere,’ sê sy en stap na die deur.

Hy onthou hul frenetiese seks op hul laaste aand saam. ‘Maar daardie aand, die aand voor die verhoor, wat was dit?’ Hy sien hoe die agterkant van haar nek verkleur, maar sy draai haar nie om nie en antwoord ook nie. ’n Dowwe pyn het versprei van sy bors na sy ledemate toe. Hy staan op. By die deur vra hy: ‘Kan ek jou weer sien?’

Sy skud haar kop en maak die deur oop.

Hy haal sy moltreinkaartjie en ’n pen uit sy hempsak. ‘Laat ek ten minste my telefoonnommer vir jou los.’

Sy kyk in stilte toe terwyl hy op die agterkant van die kaartjie skryf.