BLOED VOOR DIE SON

 

deur

 

MEIRING FOUCHE

 

 

Uitgegee deur:

 

SKATKIS BOEKE - UITGEWERS

 

Strand Mews Strand

 

2022

 

 

Bloed voor die Son

Voorbladskets is die oorspronklike voorblad van die 1980’s se uitgawe.

Hierdie boek is die derde uitgawe (aangepaste weergawe), maar in e-boek formaat.

 

Kopiereg op hierdie verhaal is voorbehou en dit mag nie in die geheel of gedeeltelik herdruk word of versprei word sonder die nodige skriftelike toestemming van die uitgewer nie. Herdruk sluit in geen vorm van elektroniese of meganiese vorm, bv. deur middel van e-boeke, fotokopiëring, skryf, bandopname of deur enige ander manier vir inligtingsbewaring of ontsluiting. Al die karakters en gebeure in hierdie verhaal is denkbeeldig en het geen betrekking op enige persone, lewendig of dood nie.

 

 

BLOED VOOR DIE SON

deur Meiring Fouche

 

ISBN 978-1-928498-07-0

 

Uitgegee deur:

Skatkis Boeke - Uitgewers, Strand Mews, Strand 7140

Suid-Afrika

 

Kopiereg @ Pieter Haasbroek (2022)

Aanlyn winkel: https://panther-ebooks.com

Webwerf: https://www.softcoverbooks.co.za

 

 

OPSOMMING

Brigitte Bonnet, die magtige leidster van die trotse Doelak volk is uiteindelik gevang deur die soldate van die Franse Vreemdelegioen. Vir haar aandeel in die dood van verskeie Legioensoldate, het die Franse Opperbevel besluit dat sy sommer by die Franse fort Dini Salam, in die Sahara woestyn tereggestel moet word. Die blonde Suid-Afrikaner, Teuns Stegmann, wat ’n groot aandeel gehad het in haar gevangeneming, word ook die bitter taak opgelê om deel te neem aan die teregstelling.

Die oggend van haar teregstelling, ontdek kaptein D’Arlan tot sy groot ontsteltenis dat sy spoorloos verdwyn het. Na ’n deeglike ondersoek kry hulle ’n verdagte en kolonel Le Clerq, bevelvoerder van fort Dini Salam, stuur vir kaptein D’Arlan, Teuns Stegmann, Jack Ritchie, Fritz Mundt en Podolski om die verdagte te gaan aankeer en ondervra. Maar dinge loop lelik skeef en hulle word almal ontvoer en in die warm Sahara woestyn ingeneem. Die Arabier wat hulle geskaak het, wil ’n losprys opeis as hy hulle aan madame Brigitte Bonnet gaan oorhandig, maar hy is ook agter die Sabel van Doetra aan, wat se waarde nie eers geskat kan word nie. Hierdie fabelagtige skat het Teuns Stegmann en sy paar boesemvriende in die Legioen, lank gelede by ’n oase versteek, en het die Arabier daarvan te hore gekom.

Op pad na die oase word hulle hele karavaan onverhoeds deur wrede Touaregs aangeval en met die hulp van kaptein D’Arlan en sy manne slaag hulle net-net daarin om die oorhand te kry. Na die kort skermutseling ontdek hulle tot almal se skok dat Teuns Stegmann makeer. As straf neem die Arabierse leier ’n sambok en slaan kaptein D’Arlan se rug rou daarmee. Omrede nie een wil vertel waar die Sabel van Doetra weegesteek is nie, kry hulle geen kos of water en moet voetslaan verder. Na lank daarna word daar deur ’n geheimsinnige ruiter, kort-kort op hulle geskiet en elke keer sterf van die Arabiere. Uit woede word kaptein D’Arlan en Jack Ritchie in die woestyn op die sand oopgespalk en daar gelaat om ’n wrede dood te sterf. Fritz Mundt en Podolski wat oorbly beraam ’n briljante plan en dit gee Fritz die geleentheid om ook te ontsnap en terug te gaan op hul spore, om te sien of hy nie dalk vir kaptein D’Arlan en Jack Ritchie kan gaan red nie.

Met Arabiere kort op sy hakke het Fritz later sy hande behoorlik vol om van hulle ontslae te raak en moet hy al sy vernuf gebruik om te oorleef. By die plek waar kaptein D’Arlan en Jack Ritchie vasgemaak is, kry Fritz slegs die beendere van ’n Arabier, beide manskappe is egter skoonveld! Fritz weet nie herwaarts of derwaarts nie en dan begin iemand skielik weer op hom losbrand. Dit is sy getroue vriend Teuns Stegmann en die het baie goeie nuus vir hom. Met feitlik almal weer bymekaar, beweeg hulle terug na die oase toe, om hulle laaste vriend Podolski, uit die hande van die wrede Arabier te gaan probeer red. Naby die oase waar die Sabel van Doetra weggesteek is, val hulle teen alle verwagtinge weer in die hande van die Arabier en sy makkers. Om dinge te vererger ontdek hulle honderde Doelaks by die oase. Die Arabier wat hulle ontvoer het besluit daar en dan om hulle almal net daar te onthoof en dan die pad te vat, voor die Doelaks van hulle teenwoordigheid naby die oase bewus raak. Dit is dan wanneer Teuns sy laaste troefkaart speel en almal in hulle spore tot stilstand ruk van pure skok en ongeloof...

 

 

UITTREKSEL

Jack sak op die sand neer en wag. Hy weet dit is net ’n kwessie van tyd. Die spanning om D’Arlan se baadjie in die hande te kry en dit met ‘n gesukkel oor sy rug te plaas, het hom net verder uitgeput. Vir hom voel dit asof hy geen krag meer oor het nie, asof hy selfs nie met los hande in staat sal wees om met ‘n aasvoël af te reken nie. Hy voel die warm sand aan sy gebarste lippe en dit laat hom sy kop vinnig draai. Hy worstel teen ’n beswyming wat dreig om hom in die die donker dieptes weg te sleur. Hy veg daarteen, want hy weet as dit hom eers oorval, dan is dit die einde. Die honger en dors pynig hom met ’n nuwe drif en hy voel hoe die trane in sy oë brand.