Die jong vrou met die rooibruin hare en die groen oë staan nogmaals van die harde houtbankie af op en loop na die klein tralievenster waardeur die koel aandwind op haar gesig waai. Dit streel haar warm wange en sy kyk uit na die skemer wat stadig oor die woestyn daal, die woestyn wat sy so lief het en waarna sy so hunker. Sy kyk na die rooi band wat die ondergaande son teen die purper hemel gooi en dan kyk sy verder suidwaarts, na waar die lug diep blou is, na waar die Atlasberge geleë moet wees.
Iewers slaan ’n klok agtuur.
Stadig, slag vir slag, en die klokslae klink soos ’n verdoemenis vir haar.
Sy sluit haar mooi oë vinnig en laat haar voorkop dan stadig teen die tralies sak.
“Nog een nag!” prewel sy en haar hande sluit krampagtig. “Nog net een nag!”
Sy voel meteens die sweet koud op haar voorkop en sy voel haar hande bewe van ongeloof en vrees.
Want nou, vir die duisendste keer, besef sy weer dat hierdie haar laaste nag op aarde is, die heel laaste. Dalk sal sy môre oggend nog die son sien opkom. Dalk nie.
Sy swaai vinnig van die venster af weg en gaan terug na die houtbankie. Sy gaan daarop sit met haar kop tussen haar bewende hande. Sy voel die ruk van haar hart en die geklop van haar bloed soos hamerslae op haar slape.
“Die laaste nag, die heel laaste!” fluister sy wanhopig en sy staar meteens na die diep, grys graniet van die selmure om haar. As sy net die krag gehad het, sou sy hierdie mure met haar hande omgestoot het om weer vry te wees, om weer die hitte van die son op haar hande te voel, om weer die koel streling van die woestynwind op haar gloeiende wange te voel en om weer die ritmiese beweging van ’n groot perd onder haar te voel.
Sy hoor weer die duidelike woorde van die Franse generaal, so duidelik asof hy dit nou hier in haar teenwoordigheid uitspreek.
“Die krygshof bevind u skuldig, Madame. U is skuldig aan sedisie, kriminele opstokery en bloedvergieting. U sal môre oggend met sonop in hierdie fort tereggestel word deur ’n vuurpeloton. Is daar iets wat u wil sê?”
Daar was so baie wat sy wou gesê het, so baie dinge wat sy vir hierdie Franse magshebbers wou uitgeskreeu het. Maar snaaks, terwyl daardie vernietigende woorde nog in haar ore gehuiwer het, was sy nie in staat om ’n enkele woord uit te kry nie. Sy wat die krygers van die woestyn in soveel bloedige aanvalle gelei het, sy wat groot mans laat martel het totdat hulle soos verlore kinders geskreeu het, sy wat dit alles gedoen het, het toe geen woorde gehad om te sê nie.
’n Oomblik dink sy aan die Atlasberge, aan die groot kom waar die hoofstad van die Doelaks geleë is. Sy dink aan die groot, koel paleis wat sy daar bewoon het en sy dink aan die onderdanigheid van die woeste woestynstryders wat sy aangevoer het.
Maar net vir ’n oomblik, want dan is haar gedagtes weer dadelik terug by wat vandag alles gebeur het. Die hitte in die klein saal van die kaserne gebou, die hoë Franse offisiere met hul indrukwekkende uniforms, die vrae, die kruisverhoor en die beskuldigings. Sy dink aan die lang dae wat sy in hierdie sel deurgebring het, voordat hulle met hul verhoor begin het. Die lang, eensame dae wat so stadig verby gesleep het.
Sy vlieg weer van die bankie af op en gaan weer voor die venster staan, gryp die koel tralies met haar hande vas en tuur na die aandlig wat stadig oor die wêreld verdiep. Daar is ’n hyging in haar keel en toe laat sy haar gesig snikkend teen die koue graniet sak.
Nog een nag!
Nog net een nag!
Wanneer die môre kom, wanneer die lig weer kom, dan kom die dood.
Sy snik en die trane rol oor haar wange en dit is die eerste keer in baie jare. Die laaste maal dat sy gesnik het, was toe sy verneem het dat die Vreemdelegioen haar suster Karima, leidster van die Doelaks, hier in die woestyn gedood het. Dit was die laaste keer.
Maar nou snik sy, want die vrees het van haar weer ’n vrou gemaak. Dit het die krygersmantel van haar afgeskeur en al die wreedheid en woede uit haar verwyder.
Sy is nou weer ’n gewone snikkende vrou.
Die nag kruip stadig nader oor die woestyn.
Die oggend word seker al weer iewers anderkant die see in die ooste gebore. Die oggend van haar dood.
***
“Drink en wees vrolik, Broeders, want môre of oormôre steek ons dalk die moord.” Die harde stem klim uit bo die gedreun van baie stemme in die Arabierse kafee. Dit is die stem van Fritz Mundt, die groot blonde Duitser, die sterkste man in die Franse Vreemdelegioen. Sy yslike hand sluit weer om die bottel en hy skink die vier glase voor hom weer vol.
“Prosit!” bulder Fritz en lig sy glas omhoog. “Prosit, Boerkêrel!” skreeu hy weer en slaan vir Teuns Stegmann so hard agter sy skouers dat die blonde Suid-Afrikaner na sy asem hyg.
Daar kom ’n ligte opstand in Teuns se blou oë, toe hy onderlangs na die Duitser opkyk.
“Jy moet jou pote tuis hou, ou grote,” sê Teuns. “As ek my nou sou vererg, slaan ek gate deur daardie karkas van jou!”
“Ho-ho-ho! Ha-ha-ha!” lag Fritz en buig sy groot kop agteroor. “Hoor wie wil gate in Fritz Mundt slaan! Luister ’n bietjie!”
“Ek het al vantevore gesien dat Teuns jou in die grond slaan, ou grote,” sê Podolski, die Pool.
“Hy het net bek,” las Jack Ritchie, die Engelsman by. “Hy kan net drink en grootpraat. Ek sweer klein Petacci gee hom nog eendag ’n loesing as hy hom genoeg sou vererg.”
“Maar julle is vanaand almal danig opstandig,” kla Fritz en sit sy glas neer en loer onderlangs na die ander drie. “Almal wil my net vermoor.”
“Jy praat gans te veel, ou grote,” sê Teuns en neem ’n slukkie van die stroperige, onsmaaklike wyn wat so taai is dat jy amper daaraan verstik.
“Hoekom kan ek nie praat nie?” wil Fritz weet.
“Mundt,” sê Podolski skerp. “Het jy vergeet dat ’n vrou môre oggend hier tereggestel gaan word? Ek dink nie ons is vanaand in die stemming vir jou uitspattigheid nie.”
“Vir hom is dit seker ’n groot grap,” kap Jack Ritchie.
Fritz vee vinnig met sy hand oor sy groot pan en sy oë verander. Dan kom daar ’n diep frons op sy gesig.
“Is dit, is dit tog nie oor hierdie vroumens wat julle vanaand almal so gevrek is nie?” Hy leun ver vooroor oor die tafel terwyl hy die vraag vra. Daar is diep skok op sy gelaat. “Sy is nie ’n vrou nie. Sy is ’n heks.”
“Laat dit wees soos dit wil,” betig Teuns Stegmann hom. “Sy is steeds ’n mens. En môre oggend word sy doodgeskiet.”
“Sy’s ’n heks!” skreeu Fritz en slaan hard met sy hande op die tafel. Sy oë word baie nou en daar is spanning op sy gesig. Hy krom sy hande. “Het julle vergeet wat sy ons aangedoen het? Het julle vergeet hoeveel onskuldige mense sy op ’n aaklige manier na hul dood gestuur het? Sy is ’n gevaar in die woestyn! Hulle moes haar al lankal teen die muur gesit het.”
“Maar sy is ook ’n vrou,” sê Jack Ritchie. “’n Mens skiet nie vroumense dood nie.”
“Sy het haar soos ’n barbaar gedra,” sis Fritz woedend en drink vinnig aan sy wyn.
“Hulle kon haar hier weggeneem en gaan opsluit het, haar selfs gedeporteer het,” meen Teuns. “Ek sidder daaraan as ek dink ’n vrou moet doodgeskiet word.”
“Die hemel weet waarom hulle haar hier verhoor het en waarom hulle haar hier wil teregstel. Waarom kon hulle dit nie in Algiers gedoen het nie?” kla Podolski. “Dit gaan net weer die wêreld hier in die woestyn onnodig aan die brand steek, as hulle haar in Dini Salam teregstel.”
“Boeta,” sê Fritz, “hulle kan haar doodskiet net waar hulle wil, maar die vonke gaan nogtans spat. Hierdie is nou net die ding om weer hierdie geelbekke op die oorlogspad te kry. En ek dink jy is die eerste man wat aan die pen gaan ry, Teuns Stegmann,” sê die Duitser. “Jy is mos die een wat haar in die lokval gelei het sodat kaptein D’Arlan haar kon vang, nie waar nie?”
“Jy laat my sidder van bangheid, ou grote,” sê Teuns en probeer daarmee die Duitser se opmerking afskud. En tog, dit bly in sy gedagtes vassteek. Hy is die man wat hierdie vrou so dodelik in die arms van kaptein D’Arlan en die Vreemdelegioen gelei het. Hy is die man wat destyds die spul perde in die woestyn op loop gejaag het, toe hulle haar suster El Karima doodgetrap het.
“Jy hoef nie te lag nie, Teuns,” sê Jack Ritchie. “Hierdie Arabiere het die mes in vir jou, Broeder. Hulle sal seker geen kans laat verby gaan om jou ooglede af te sny en jou in die son te gooi vir die aasvoëls nie.”
“Moenie op Teuns se senuwees probeer werk nie,” troos Podolski. “Hierdie geelbekke is nie kieskeurig nie. Hulle sal enigeen van ons braai as hulle die kans kry.”
“Waarom skielik so stil, ou grote?” vra Teuns.
Fritz vee eers ’n slag oor sy gesig.
“Snaaks,” sê hy, “sy is ’n heks, maar ek dink aan haar oë. Sulke mooi groen oë en sulke mooi hare. Ek hou baie van daardie soort hare.” Hy swyg ’n rukkie en toe praat hy weer verder. “Maar ek haat haar. Wanneer ek môre oggend die skote van die vuurpeleton hoor, sal ek dankbaar wees.”
“Jou gevoellose dier,” sê Jack Ritchie en sluk die res van sy wyn weg.
“Hierdie is ’n baie weemoedige aand,” sê Fritz en kyk af op sy hande.
“En toe?” sê Podolski en kyk by Fritz verby na die deur se kant toe. Die ander kyk ook daarheen.
“Dit is Abdoel Hoessein,” sê Teuns Stegmann. “Die grootste handelaar in Dini Salam.”
“Hy lyk taamlik vriendelik,” bevind Jack Ritchie. “Seker vandag weer meer geld gemaak as waarop hy geregtig is.”
“En dan trek hy ook nog soos ’n wafferse sjeik aan,” spot Fritz.
“Ek vertrou die vuilgoed glad nie,” merk Teuns kalm op.
Hulle kyk almal vinnig na Teuns wat so neerhalend van die groot Arabier praat. Die Arabier is groot en indrukwekkend in sy spierwit kleed, met die purper omboorsel en die netjiese wit tulband, waarin een rooi robyn helder skitter.
“Ek het dan gemeen Abdoel Hoessein is so ’n goeie burger van die koloniale Frankryk?” sê Fritz spottend.
Die groot Arabier gaan staan stil in die deur en met sy donker oë kyk hy die kafee se saal stadig deur. So asof hy na iemand spesifiek soek. Hy kyk rond asof daar ’n geheim in sy oë is.
Toe breek ’n glimlag oor sy smal, donker gesig en hy kom reguit hier na die kêrels toe gestap.
“Sy hoogheid gaan ons vereer met ’n paar woordjies,” sê Jack Ritchie sarkasties. “Ek veronderstel ons sal almal op aandag moet spring.”
Meer kan hulle nie sê nie, want met ’n paar lang hale is die Arabier skielik langs hul tafel.
“Goeienaand, Messieurs,” sê hy op perfekte Frans. “Ek het lanklaas die eer gehad om aan julle iets te verkoop of om saam met julle ’n drankie te geniet.”
“Ons behoort aan die arm brigade, Hoessein,” sê Fritz Mundt, en dit lyk of sy oneerbiedige aanspreekvorm net so ’n flikkering van ergerlikheid in die Arabier se oë bring.
“So erg is dit darem seker nie,” sê Hoessein op sy gemak. “Ek het weer van die fynste sy ingekry, vars dadels, knipmesse en rookgoed. Ek sien uit na ’n besoek van julle.”
Hy kan nie verder praat nie, want iemand loop hom amper onderstebo. Dit is Wodiak, ’n Suid-Slawiër, ’n donker man met ’n lelike pokmerk op sy gesig. Hy is blykbaar so besope dat hy skaars op sy voete kan staan.
“Ekskuus, U Koninklike Hoogheid,” babbel Wodiak. “Wil u nie saam met my ietsie kom drink nie?”
Hoessein kyk vernietigend na die Suid-Slawiër en sê nie ’n dooie woord nie. Hy bekyk die man net op en af, asof hy hom met sy skerp oë wil probeer vernietig.
“Messieurs,” sê die Arabier neerhalend, “ek is bevrees party in jul geledere is nie met besonder goeie maniere bedeeld nie.”
Wodiak steur hom egter nie daaraan nie. Hy steek sy hand uit en wil net Teuns se wynglas optel, toe die Suid-Afrikaner hom aan sy pols gryp en sy hand wegruk.
“Wodiak,” sê Teuns sissend, “ons voel nie in die stemming vir jou geselskap nie. Jy is dronk en ongemanierd. Maak dat jy hier wegkom...”
Wodiak staan en wieg op sy voete, sy oë nou en gloeiend, sy kop bietjie vooroor. Daar is rou haat in sy kykers.
Toe beweeg hy met ’n verbasende snelheid, maar hy het nog skaars die mes uit sy broeksak, toe slaan Podolski hom sommer met die rugkant van sy hand, dat hy met ’n vloek agteroor steier en ’n lendelam tafel onderstebo val.
“’n Lekker hou, Podolski!” sê Fritz juigend. “Jammer jy het hom nie op sy gorrel geslaan nie, dan was hy vir die res van die aand stil.”
“Dit lyk asof die legionnaires vanaand in ’n kwaai stemming is,” sê Hoessein met ’n ligte glimlaggie. “Au revoir, Messieurs. Hy sê dit heeltemal beleefd, salaam en begin wegstap. Maar toe steek hy skielik vas en draai om na hulle toe. Hy praat half fluisterend. “Terloops, ek verstaan madame Brigitte Bonnet word môre oggend tereggestel?”
“Dit is ook haas tyd,” sê Fritz, en toe word hy meteens bewus daarvan dat die ander skerp na hom kyk en dit laat hom effens skrik.
“Sal nie kan sê nie,” sê Teuns Stegmann. “Ons het niks gehoor van ’n teregstelling nie.”
“Die hele Dini Salam lê vol daarvan,” sê Hoessein.
“Dan is dit seker so,” sê Podolski, en hierdie keer vlam sy oë op die Arabier.
“Laat ons hoop dat dit vrede sal bring in die oostelike Sahara,” sê Hoessein en toe stap hy voort.
Wodiak wat opgestaan het en met sy hand die bloed van sy lippe af wegveeg, keer die Arabier voor. “U Hoogheid,” sê hy weer in sy besopenheid. “Ek wil ’n bietjie besigheid praat.”
Hoessein beduie met oordrewe vriendelikheid na ’n tafeltjie in die hoek en die twee beweeg daarheen.
“Ek vertrou die vuilgoed glad nie,” sê Teuns weereens.
“En Wodiak is seker die grootste skurk in die Legioen. Voorwaar ’n interessante kombinasie,” meen Jack Ritchie.
Teuns kyk onderlangs na Fritz wat nog nie weer ’n woord gesê het nie.
“Jy besef natuurlik dat jy so pas ’n militêre geheim aan ’n geelbek toevertrou het, ou grote,” sê Teuns.
“Jy hoor hy sê die hele Dini Salam lê vol daarvan, dat madame Bonnet môre oggend doodgeskiet gaan word. Dit is minstens nuus wanneer die blanke leidster van die Doelak-Arabiere doodgeskiet word, nie waar nie? Dit is die soort nuus wat gou uitlek,” probeer Fritz homself verweer.
“Jy het egter ’n militêre geheim verklap,” hou Teuns vol.
“Dit is die waarheid,” voeg Podolski daaraan toe.
“Hoekom gaan sê julle nie vir D’Arlan hy moet my ook fusilleer nie?” vra Fritz minagtend.
“Nou is die ou grote bang, want nou is hy in die hoek,” terg Jack Ritchie hom.
Hulle hoor die klok van die vesting van Dini Salam slaan en hulle raak meteens stil. En hoewel die een nie van die ander weet nie, reken hulle vinnig uit hoeveel uur Brigitte Bonnet nog oor het om te leef.
Jack Ritchie is die eerste een wat praat en hy spreek hul almal se gevoelens uit, selfs Fritz Mundt sin, al het hy netnou so aggressief gepraat.
“Ek sê steeds dit is verkeerd om hierdie vroumens dood te skiet,” sê die Engelsman.
“En ek sê weer dit is verkeerd om haar hier in Dini Salam dood te skiet,” las Podolski aan. “Dit kan net die vuurhoutjie in die kruitvat wees.”
Teuns loer onderlangs na waar Abdoel Hoessein met Wodiak in die hoek sit en praat. Wodiak leun dronkerig vooroor en sy kop knak af en toe. En in die oë van Hoessein is daar ’n snaakse, onverklaarbare uitdrukking.
“Kom ons loop,” sê Fritz en staan op. “Julle is vanaand net so oninteressant soos die kolonel wanneer hy nugter is.”
Hulle staan op en Hoessein wuif vriendelik vir hulle. Hulle sien Wodiak ook opstaan en dan tou hulle na die deur.
***
En daar in die sel staar madame Bonnet stip na die sterre wat vannag soveel helderder lyk teen die donkerblou uitspansel.
Want sy weet vannag is die laaste nag dat sy na die sterre sal kan staar.
Die enigste geluid is die ritmiese slag van die twee wagte se swaar stewels, die twee wagte wat haar help bewaak totdat die uur vir haar aanbreek.
***
Teuns Stegmann word op sy katel in die kaserne se slaapsaal wakker en hy sit vinnig orent. Hy sien die eerste fyn lig van die nuwe dag buite aangroei. Hy voel dof en lomerig, want hy het vannag nie veel geslaap nie. Elke keer wanneer hy ingesluimer het, het die beeld van hierdie pragtige vrou sy drome kom versteur. Elke keer het hy haar voor hom gesien, haar koperbruin hare blinkend in die son, haar groen oë groot en treffend.
Hy wil net weer agteroor sak om nog bietjie te dut, toe hy voetstappe hoor en die volgende oomblik swaai die deur van die slaapsaal oop.
In die deur staan kaptein D’Arlan, klein, tingerig en blas, in sy volle mondering. Langs hom staan sersant Catroux, kort en grys, ’n man wat al so baie in die woestyn gesien en ervaar het.
Die volgende oomblik weerklink die bevele skril binne die mure van die vesting. Die manne dop vinnig en deur die slaap uit hul beddens en nog voordat hulle kan begin aantrek, bulder sersant Catroux.
“Aandag!”
By die voetenente van die beddens val hulle in en staan styf op aandag.
“Die volgende manskappe sal binne tien minute, in volle mondering gereed wees vir ’n teregstelling binne die fort,” sê Catroux hard. “Legionnaires Mundt, Stegmann, Petacci, Ritchie, Meerholz, Podolski en Renner.”
Teuns voel ’n warm slag deur hom ruk.
“Enige vrae?” sê kaptein D’Arlan, en sy woorde is kort gekap soos hulle altyd is in oomblikke van spanning, soos hierdie oomblik.
Teuns wil praat, maar wat sal dit hom baat? Hy is ’n soldaat en hierdie is ’n plig wat volvoer moet word. Maar dit walg hom. D’Arlan sien dit seker aan sy gesig, want hy kom stadig nader. D’Arlan is iemand wat deur ’n mens se binneste kan sien. Hy kom vlak voor Teuns staan en kyk skerp na die Suid-Afrikaner.
“Stegmann,” sê D’Arlan, “jy het meer rede as enige iemand anders om aan hierdie teregstelling deel te neem.”
Hy sien die weersin op die Suid-Afrikaner se gesig.
“Mon ami,” sê die kaptein nou effens sagter. “Sy het baie bloed laat vloei. Van jou makkers het sy laat sterf. Nou is dit die oomblik van straf...” En toe skerper, dringender. “Mon legionnaire, jy is ’n soldaat van Frankryk, nie ’n balletdanser nie.”
D’Arlan swaai vinnig om en stap dan weg.
En nou staan die sewe man styf op aandag voor die slaapsaal. Aan elkeen word ’n geweer oorhandig. Toe stap hulle op stywe marsmaat agter Catroux aan. Hy bring hulle teen ’n muur tot stilstand.
Voor hulle staan die paal reeds geplant waaraan Brigitte Bonnet gaan sterf.
Hier eenkant staan ’n soldaat met die tamboer, die man wat sagweg moet trommel wanneer hulle beveel word om aan te lê.
Teuns het in hierdie woestyn al baie gesien, bloed en dood. Maar op hierdie oomblik bewe sy bene onder hom. Daar is ’n trilling in sy binneste en hy voel ylhoofdig.
“Op rus!” beveel Catroux.
Toe swaai hy om en vergesel deur twee wagte, stap hy met sy kort treetjies na waar die sel is, ver in ’n hoek agter die kaserne gebou.
Catroux steek voor die seldeur vas en salueer die twee wagte wat rietstyf daar op aandag staan.
Teuns kyk na die klok in die toring van die vesting.
Dit is drie minute voor sewe.
Catroux steek die sleutel in die seldeur, sluit dit knarsend oop en stap dan na binne.
“Madame Bonnet, die oomblik het aangebreek,” sê Catroux.
Sy stem klink hol in die sel.
Toe gaan staan hy heeltemal stil, asof hy meteens versteen het.
Madame Brigitte Bonnet is nie meer daar nie.
Die sel waarin sy opgesluit was is heeltemal leeg!