Die son, groot, rooi en dreigend, verdwyn agter die verste duine en dit word koel hier in die Sahara. Die skemer is rosig en purper en dit word dieper, vinnig dieper omdat skemers in die Sahara nie lank duur nie.
Podolski en Jack Ritchie sit hier langs D’Arlan gehurk en vryf die kaptein se polse aanhoudend. Fritz staan net magteloos rond soos ’n dier wat vasgekeer is en hy gluur die Arabierse wagte onderlangs aan.
Dit is al diep skemer voordat D’Arlan se kop stadig begin roer. Hy kreun en roer sy liggaam en probeer op sy sy draai, maar hulle keer hom. Daar is net een manier vir hom om te lê en dit is op sy maag.
“Water,” sê D’Arlan. “Gee vir my water. Ek is dors.”
Dan snak hy weer na sy asem, want die sout vreet in sy oop wonde. Dit vreet soos vuur wat sy hele liggaam wil verteer.
Fritz Mundt loop met lang hale weg na waar Hoessein staan. Die paar Arabierse wagte probeer hom keer, maar hy stamp hulle maklik weg en loop soos ’n besetene tot voor Hoessein, wat staan en koffie drink uit ’n warm fles wat hy saamgebring het. Fritz se hande is bak, sy voete ver uitmekaar geplant. “Gee vir daardie man water. Hy kan nie so leef nie. Jy het sy rug flenters geslaan. Geen man kan so leef nie!”
Hoessein het sy sabel uitgetrek en staan regop. Hy ken die krag van hierdie groot Legioenman.
“Waar is die Sabel van Doetra, legioenhond?” vra Hoessein en sy oë is nou oor die kant van die bekertjie.
Fritz sluit sy vuiste en sy liggaam bewe. Wat sal gebeur as hy hierdie Arabier nou aan sy keel sou gryp? Wat sal gebeur as hy nou sy nek breek? Maar hy bedink hom. D’Arlan is tussen lewe en dood. Teuns Stegmann het verdwyn, die hemel weet waarheen. Hy kan nie D’Arlan en Podolski en Jack Ritchie alleen aan die genade van hierdie barbare oorlewer nie. Daarom dink die Duitser so hard as wat hy kan. En hard dink is vir hom nie ’n aangename proses nie.
“Daar is net twee manne wat weet waar die Sabel van Doetra is, Hoessein,” sê Fritz eindelik sissend. “Die capitaine en daardie Suid-Afrikaner wat vanmiddag hier onder jou neus uit weggevlug het. En die Suid-Afrikaner is weg en die capitaine is tussen dood en lewe. Die oomblik wanneer die capitaine sterf, daardie oomblik sterf die geheim van die Sabel van Doetra ook. Die Suid-Afrikaner sal jy nie maklik weer in die hande kry nie.”
“Jy lieg, legioenhond! Daar is meer van julle wat weet waar die Sabel van Doetra is. Ek weet wie. Ek is nie so ’n dwaas nie...”
“Gee die capitaine water. Jy kan nie toelaat dat hy sterf nie, Hoessein.” Fritz praat nou amper pleitend.
Hoessein skiet die laaste koffietjies uit die bekertjie weg, draai om en gaan skink dit half vol met water uit sy boksak wat langs die perd hang.
“Hier, dit is vir die capitaine,” sê hy met ’n siniese glimlaggie.
Fritz neem dit met bewende hande. Hy weet dat hierdie bietjie water nie uit grootmoedigheid of erbarming gegee is nie. Dit word net gegee om hulle ander te martel, die weerstand in hulle te probeer breek, hulle bereid te probeer maak om te praat. Hierdie Arabier is uitgeslape genoeg om te weet van die byna onweerstaanbare uitwerking van wat selfs ’n klein bietjie water op manne wat baie dors is, kan uitoefen. ’n Bietjie water soos hierdie kan jou ’n skurk maak wanneer jy baie dors is, wanneer omtrent al die vog uit jou verdwyn het, wanneer jou hele wese skreeu om water. Dit breek gou jou wilskrag en dit maak van jou ’n slaaf wat selfs jou beste vriend sal verraai.
Fritz kyk nie na die water terwyl hy daarmee terugstap na waar D’Arlan op sy maag lê nie. Hy probeer daarvan vergeet, probeer dit heeltemal uit sy gedagtes stel.
Hy sien hoe dat Podolski en Jack Ritchie na die klein, blou bekertjie staar terwyl hy daarmee aangestap kom. Staar daarna asof die bekertjie hulle skielik in vervoering gebring het, asof dit op hierdie oomblik die enigste ding is wat op hierdie aarde bestaan.
“Laat die capitaine sit,” sê Fritz amper ergerlik toe hy by hulle aankom. “Wat sit julle na hierdie beker en staar asof dit die heel eerste beker is wat julle in jul miserabele lewens gesien het?”
Podolski en Jack gehoorsaam. Hulle help D’Arlan om te sit en Fritz kom buk met die bekertjie water voor die kaptein.
D’Arlan gryp dit uit Fritz se hande, ruk dit voor sy mond en drink met die gulsigheid van ’n dier. Die ander kyk weg. Die geur van die water laat Fritz orent kom en opsy staan. Sy groot liggaam hunker en roep sterk na water.
“Hoe voel dit, Capitaine?” vra Podolski.
“Die pyn is soos vuur en ek haal swaar asem, mon ami,” sê D’Arlan, en sy blas gesig is vertrek van die pyn. “Maar na die bietjie water sal dit seker beter gaan. Het julle al water gehad?”
Podolski kyk na Jack Ritchie.
“Ons het ook al bietjie water gehad, Capitaine,” sê die blonde Engelsman en kyk vinnig oor die skemer woestyn weg sodat D’Arlan nie dalk die leuen in sy oë kan lees nie.
“Dit is goed,” sê D’Arlan. “Dit is goed so. Help my om op te staan. Waar is my klere?”
“U kan nie klere oor hierdie rug aantrek nie, Capitaine,” sê Podolski.
“Ek moet klere hieroor aantrek, mon ami,” antwoord die kaptein.
“Dit is beter as ek dit doen, want ek het dit al geleer.”
Hulle trek sy hemp versigtig op, maak dit vas en met elke beweginkie ruk D’Arlan se gesig van die seer. Hulle trek hom uit die sand op.
“Ons moet uit hierdie vloek se hande kom,” sê hy. “Hy is ’n wrede barbaar. Hy sal ons almal om die lewe bring.” D’Arlan staan onvas op sy voete, wiegend en wankelend, terwyl hulle sy uniformbaadjie versigtig vir hom aantrek. “Ons het darem een wapen,” sê hy. “Ons weet waar die Sabel van Doetra is en hy nie. Dit is ons een troefkaart.”
“Hy sal enigiets doen om die inligting uit ons te kry.” Dit is Jack Ritchie wat praat.
D’Arlan kyk met moeite na sy manne op.
“Ek weet dit is baie gevra, mes amis,” sê hy, en hulle sien hoe dat die pyn sy gesig geelbleek gemaak het, “maar ons moet swyg oor die sabel. Ons mag nie sê waar dit is nie. Al martel hy ons ook hoe. Hy sal die inligting uit elkeen van ons individueel probeer kry. Maar ons moet dapper wees en nugter dink. Hierdie is nie die eerste keer dat ons in gevaar is nie.”
Fritz knoop D’Arlan se uniformbaadjie versigtig vas asof hy bang is dat hy die kaptein se verskeurde rug selfs daarmee sal seermaak.
“Is die baadjie nie te swaar vir die wonde nie, Capitaine?” vra Fritz en hy sukkel met die woorde, want sy lippe is groot en droog van die dors.
“Ek is ’n offisier van die Vreemdelegioen, mon ami. Ek moet my baadjie aanhê.” Daar is trots in die klein, blas mannetjie se stem. Trots en gesag.
Abdoel Hoessein kom nader gestap en kom staan hier voor D’Arlan.
“Hoe voel die rug, Capitaine?” vra hy, maar D’Arlan antwoord hom nie, staan net daar, sy kop onderstebo.
Fritz Mundt staar na die Arabier in die diep skemer en dan voel hy aan die bloedige haal wat Hoessein hom vroeër vanmiddag deur sy gesig geslaan het, en terwyl sy vingers dit aanraak, kom daar ’n vurige haat in hom, ’n nuwe, byna onkeerbare woede. Hy kyk na die Arabier se swart baard, na sy nek, na sy hele liggaam en dan woel sy hande en daar kom ’n prikkeling deur sy hele liggaam.
“Vanmiddag se paar houe is maar net die begin, Capitaine,” sê Abdoel Hoessein. “Dit is maar net die voorsmakie. Volgende keer sal ek harder slaan en houe met die handsambok is natuurlik nie die enigste straf wat ek het nie. Van hierdie ander manne sal ek op ’n ander manier straf. En voordat ek met julle klaar is, sal ek weet waar die Sabel van Doetra is, mes amis,” sê hy sommer hardop vir al die manne.
Toe roep Abdoel Hoessein van sy manne nader en beveel hulle om die Legioenmanne se hande agter hul rûe vas te bind en hulle dan aan mekaar vas te bind.
“Julle het nou genoeg gery, mes amis. Van hierdie oomblik af gaan julle loop,” sê die lang Arabier, en hulle hoor die vreugde in sy stem.
“Die capitaine kan nie loop nie,” sê Fritz Mundt woedend.
“Hy kan maar loop totdat hy neerslaan,” is Hoessein se eenvoudige antwoord.
“Hy is ’n waansinnige wreedaard,” sê Jack Ritchie. “Hy sal ons almal vernietig om daardie Sabel in die hande te kry.”
Die manne se hande word stewig met rieme agter hul rûe vasgemaak en dan word hulle weer aan mekaar vasgemaak sodat nie een individueel kan beweeg nie. Toe dit klaar is, is Hoessein met sy perd hier langs hulle, sy handsambok in sy hand.
“Voorwaarts!” skreeu hy vir die manne asof hulle diere is. “En vinnig stap! Daar is nie tyd nie. Die capitaine het daardie legioenhond gestuur om in Dini Salam te gaan hulp haal. As julle vinniger moet stap as wat gewoonlik die geval is, is dit net jul eie skuld, mes amis.”
Die manne begin deur die sand wegstap, in ’n los ry met Podolski voor, dan Jack Ritchie, dan D’Arlan, dan Fritz Mundt heel agter.
“Hoe voel dit, Capitaine?” vra die Duitser toe hulle begin aanstap.
D’Arlan se stem is sag en onvas.
“Ek voel nie baie sterk nie, mon ami,” sê hy. “My rug is verskriklik seer en dit brand soos kole vuur.”
D’Arlan maak vir Fritz neerslagtig. Dit is nie maklik dat die kaptein so praat nie. Hy is een van die taaiste manne in die Vreemdelegioen. Dit moet sleg gaan as hy sê dit gaan sleg, sommer baie sleg. Fritz Mundt het hom al deur baie pyn sien gaan sonder dat hy ’n oog geknip het, sonder dat hy ’n woord gekla het. Maar aan die beweging van die klein Fransmannetjie hier voor hom, kan Fritz sien dat sy kragte baie min is en dat feitlik elke tree vir hom ’n beproewing is. Hy kyk op na die lug, kyk om hulle heen en hy sien dat dit vinnig besig is om heeltemal donker te word.
Hoessein ry ’n entjie vooruit en dan kom hy weer terug. Hy kom ploeg met sy perd hier voor Podolski op. Die volgende oomblik slaan hy die Pool hard met sy handsambok oor sy skouers sodat hy van die pyn uitroep.
“Vinniger loop, jou legioenhond!” sê Hoessein dreigend. “Ons vorder te stadig. Moenie jou verbeel julle gaan stadig stap sodat die Legioen ons van agter af kan inhaal nie. Hierdie handsambok gaan baie werk kry as julle nie gouer maak nie.”
Podolski strompel effens vinniger deur die sand.
“As jy ons water en kos gee, sal ons vinniger kan loop, jou swart barbaar?” skreeu Podolski woedend. Hoessein antwoord hom nie, maar slaan hom nog ’n hou oor sy nek en oor sy skouers sodat Podolski met ’n kort snik van woede en pyn vorentoe steier.
Toe ry Hoessein weer weg, blykbaar om na vorentoe te gaan spioen. Die manne sukkel maar deur die sand aan met van die Arabierse wagte hier langs hulle. Slegs sowat nege Arabiere is nou oor, want daar waar die Touaregs hulle aangeval het, het hulle drie stuks onder die sand toegegooi. Agteraan kom die touleiers met die kamele wat aan mekaar gekoppel is, en so beweeg die vreemde, klein karavaan die donker nag binne.
Die sterre begin wit aan die donker hemel skitter en die koel nagwind waai nou harder oor die woestyn. Dit waai die dun sweet van die swoegende manne so vinnig koud dat hulle eintlik daarvan bewe. Vir D’Arlan voel dit asof die sand onder hom skielik water geword het. Dit voel asof dit onder hom opstoot en dan weer wegsak, so lig is sy kop. Elke keer voel Jack Ritchie en Fritz Mundt hoe dat hul koppeltoue stywer span soos D’Arlan hier tussen hulle steier en swaai.
“Hoe voel dit, Capitaine?” vra Fritz Mundt weer na die eerste halfuur se loop.
“Ek, ek is jammer, mon ami,” sê D’Arlan saggies, “maar ek dink nie ek kan verder loop nie. Ek, ek kan nie meer nie...”
Die volgende oomblik sak hy stadig vooroor en val met sy gesig in die koel sand en hy lê heeltemal roerloos.
“Podolski! Ritchie!” roep Fritz hier van agter af. “Wag eers, die capitaine. Hy het geval.”
Hulle gaan staan en gelukkig is Hoessein weer iewers voor en nie hier by hulle nie.
“Capitaine! Capitaine, staan op! Probeer opstaan!” pleit Fritz. “Probeer opstaan, dan sal ek u help!”
Een van die Arabiere slaan Fritz met die kolf van sy geweer oor sy sitvlak, maar Fritz hak in die donker af en skop die Arabier in sy maag sodat hy met ’n kort skreeu agteroor val en krul van die pyn.
Toe hoor hulle die klap van hoewe op die sand. Seker Hoessein wat teruggery kom nadat hy die uitroep gehoor het.
“Kom, Capitaine, probeer opstaan!” pleit Fritz weer, “voordat daardie geelbek-barbaar weer hier is met sy handsambok.”
D’Arlan kreun diep, woel in die sand en sukkel stadig op sy knieë. Sy kop is ver agteroor van die vretende pyn, sy skouers ver vooroor van uitputting.
“Probeer opstaan, Capitaine,” sê Fritz weer en luister hoe dat die perdepote steeds nader klap.
D’Arlan stoot sy een knie uit en dan steier hy stadig orent en staan swaaiend daar. Jack Ritchie staan in die donker nader sodat die kaptein teen hom kan leun.
“Ek kan nie verder nie. Ek is klaar,” hyg D’Arlan en die dun geur van sy bloed dring tot die manne deur.
“Kom, Capitaine,” sê Fritz en gaan staan hande-viervoet. Hy druk sy kop tussen D’Arlan se bene in. “Sit op my nek. Wees versigtig, ek kan u nie vashou nie.”
“Merci, mon ami. Merci,” sê D’Arlan flou en dan gaan hy op Fritz se nek sit. Die groot Duitser staan op en daar sit die kaptein wydsbeen oor sy nek, sy liggaam slap.
“Loop, Podolski,” fluister Fritz in die donker.
Die klein karavaan begin weer beweeg net toe die perd hier by hulle op ploeë.
“Wat het hier aangegaan?” verneem Hoessein. “Wie het netnou hier geskreeu?”
“Hierdie groot legioenhond het my in my maag geskop,” kla een van die Arabiere.
Die volgende oomblik lê Hoessein swiepende houe op Fritz se rug in. Die Duitser gee hiernatoe pad en dan daarnatoe, maar die sambokslae agtervolg hom en dit vreet diep snye deur sy uniformbaadjie.
Toe hy eindelik ophou slaan, sê Hoessein.
“Wat het die capitaine oorgekom dat hy nou geabba moet word? Is die kragte dan so min, Capitaine? Moenie nou al swak word nie. Die reis is nog ver.”
Fritz loop swetend deur die sand met D’Arlan op sy nek. Hy sluit sy oë van die seer pyn op sy rug en van die knaende dors. Dan sluit hy sy groot vuiste hier agter sy rug van woede.
“Jy kan my nie dra nie, mon ami,” sê D’Arlan. “Jy kan my nie die hele tyd dra nie. Sit my neer dat hierdie aasvoël met my maak wat hy wil. Ter wille van my gaan julle almal gemartel word. Sit my liewer neer.”
“Nie solank ek kan asemhaal nie, Capitaine. Nie solank manskap Mundt kan asemhaal nie!”
’n Uur loop hulle so deur die donker en toe voel die groot Duitser dat sy kragte ook nou ingee. Maar hy is te trots om met Podolski of Jack Ritchie te praat. Hy strompel maar blindelings aan. Jack het al ’n paar maal gevoel dat die riem tussen hom en Fritz hier agter hom, styf span. En toe het hy begin besef dat Fritz naby die punt van sy riem moet wees.
Dit is daarom dat Podolski skielik in die donker hier langs Fritz verskyn. Jack Ritchie loop nou effe voor terwyl Podolski hier agter by Fritz stap.
“Laat die capitaine nou weer op my rug klim,” sê Podolski. “Jy kan nie meer nie, ou grote.”
Fritz gaan dankbaar staan. Hy sak en laat sy nek buig sodat D’Arlan onseker afklim en op die koel sand staan en wankel.
Podolski kom agter om, buk, druk sy kop tussen D’Arlan se bene en tel hom op. Dan loop hy weer na die voorpunt, en dan begin hulle weer beweeg, onder die Suiderkruis in, na die onbekende, na nuwe foltering.
Hoessein is byna nooit by die groep nie. Hy ry wye, swaaiende draaie deur die woestyn om te spioeneer. Hy en twee van sy makkers.
Na sowat veertig minute begin Podolski ook steier en swaai. D’Arlan se gewig het vir hom te veel geword. Hy is net op die punt om vir Jack Ritchie te vra om oor te neem, toe Hoessein weer asof uit die niet hier langs hulle verskyn.
“Nou gaan ons eers rus,” beveel hy. “Die diere kan nie verder nie. Hulle moet eers rus. Ons trek al die hele dag.”
Die Legioenmanne kom onmiddellik dankbaar tot stilstand en D’Arlan gly van Podolski se nek af. Hulle sak almal op die sand neer, op die koel sand en hulle sluit hul oë van dors en feitlik algehele uitputting.
Hulle hoor hoe dat die Arabiere kamp maak en hoor hoe dat water klotsend uit groot boksakke gegooi word, blykbaar vir die diere om te drink.
“Abdoel Hoessein,” skreeu Fritz, “jy moet vir ons water gee! Ons kan nie langer so leef nie! Water, Hoessein!”
Die Arabier se hoonlag is al antwoord wat hy kry. Maar ’n bietjie later verskyn Hoessein tog hier by hulle.
“Ek het besluit om julle maar water te gee,” sê hy in die donker. “Hier, hier is water vir elkeen van julle.” Vier Arabiere hou bekers voor hul monde.
Hulle drink met bewende, soekende lippe en toe eers besef hulle die wrede poets wat Hoessein besig is om hulle te bak.
Net die boom van elke beker is toe van die water. Net een goeie sluk in elke beker. Net een. Net genoeg water om hul lippe nat te maak. Om hul geswolle tonge klam te maak. Net genoeg water om hulle byna waansinnig van dors te maak.
Fritz Mundt spring op, maar toe besef hy dat Hoessein al weer verdwyn het. Hy hoor hom daar by die ander Arabiere lag.
Fritz sak maar weer stadig op die sand neer.
“Dit is deel van hul straf, mes amis,” sê D’Arlan. “Hulle weet dat ’n lekseltjie water ’n dorstige byna waansinnig maak. Dit is soos hulle ons gaan pynig. Dit is soos hulle inligting uit ons wil pers.”
“As ek die dag my hande aan sy keel kry, sal ek hom stadig doodmaak, bietjie-bietjie,” dreig Fritz en hy slaan woedend agteroor op die sand neer.
“Ek dink nie jy gaan ooit die geleentheid kry om dit te doen nie, ou grote,” sê Podolski. “Altans nie soos sake nou staan nie. Of hoe, Capitaine?”
“Manskap Podolski,” sê D’Arlan, “ek gee eers moed op wanneer ek weet dat ek werklik aan die sterf is, nie voor die tyd nie.”
“Bravo!” roep Jack Ritchie uit.
“Ek is natuurlik die laaste een wat moet praat,” sê D’Arlan, “want ek het nie eers genoeg krag meer om te stap nie. Maar tog, in die Sahara het ek geleer om nie moed op te gee nie.”
“Ek sal sy nek nog breek,” beloof Fritz met soveel stelligheid dat Podolski in die donker na sy kant toe staar. “Jack,” sê Fritz toe, “kom voel hier in my baadjie se bo-sak is ’n blikkie. Dit is Arabierse kruiesalf. Dit is baie goed. Ons gaan gou die capitaine se rug insmeer. Ek het dit saamgebring vir die sonbrand. Ek dra dit maar altyd by my.”
Na ’n groot gesukkel het Jack die blikkie met sy vasgebinde hande uit Fritz se baadjiesak. Toe trek hulle D’Arlan se baadjie met moeite uit, trek sy hemp op en laat hom op sy maag op die sand lê.
“Dit gaan baie brand, manskap Mundt,” kla D’Arlan.
“Hierdie salf is uitstekend, mon capitaine,” sê Fritz. “Dit sal brand, maar dit sal genees.”
Fritz neem die blikkie by Jack en selfs dit is ’n hele proses. Dan gaan hy plat langs D’Arlan sit met sy rug na die kaptein toe en begin die seerplekke in te smeer. D’Arlan hyg van die pyn, maar hy hou uit. Later staan Fritz op en gaan sit weer aan die anderkant, en op die manier smeer hy met moeite die hele rug met sy hande wat agter sy rug vasgebind is. Daarna trek hulle weer die hemp af en trek D’Arlan se baadjie vir hom aan en toe word die blikkie salf weer in Fritz se baadjiesak gesteek.
Hulle is skaars met D’Arlan klaar toe Abdoel Hoessein weer hier langs hulle staan.
“Capitaine D’Arlan,” sê Hoessein. “Ek het ’n belangrike mededeling vir jou.”
D’Arlan antwoord hom nie eens nie.
“Môre gaan jy my sê waar die Sabel van Doetra is, Capitaine...”
“En as ek weier?”
“Dan gaan jy sterf, Capitaine, net so seker as wat jy nou nog leef. Die keuse behoort aan jou, Capitaine D’Arlan. In die loop van môre wil ek weet waar die sabel is of jy sterf. Dit is baie eenvoudig, nie waar nie? Jy het ’n hele nag om daaroor na te dink.”
“Blykbaar pla daardie hand sambok jou, Abdoel Hoessein,” sê Jack Ritchie.
“Dit sou bietjie primitief wees as ek die capitaine met die sambok doodslaan, mon ami,” sê die Arabier sarkasties. “Daar is ander, baie doeltreffender maniere om ’n man hier in die woestyn te laat sterf. Ek wil nie die capitaine se nagrus bederf deur hom nou al te sê van watter metode ons gebruik gaan maak nie. Slaap gerus, mes amis. Die nag is heerlik koel, nie waar nie?”
En toe is hy weer weg, net so stilletjies as wat hy gekom het.