Hoofstuk 7

KOEËLS SING

D’Arlan lê heeltemal stil sonder om hom te roer en vir sy manne lyk daardie rug van hom soos die van iemand wat onder wilde diere deurgeloop het.

Hoessein kom terug gestap na Legioenmanne toe.

“Daardie is maar die begin,” sê hy vir hulle en staar na elkeen om die beurt. “So sal julle die een na die ander uitgeroei word voordat hierdie reis heeltemal oor is. Daar is net een ding wat julle kan red, legioenhonde en dit is as julle bereid is om te sê waar die Sabel van Doetra is. Dit is heeltemal eenvoudig, mes amis. Praat en julle is gered. Swyg en julle sterf soos die capitaine.” Hy maak sy waterbottel van die lyfband onder sy kleed af los en hou dit voor sy mond. Die water maak klotsende geluide soos hy drink. Die drie manne staar na hom asof hulle ’n wonderwerk aanskou en hul monde beweeg asof hulle ook water drink, so in vervoering is hulle.

Toe hy klaar gedrink het en die bottel weer aan sy lyfband vashaak, sê Hoessein.

“Julle kan selfs die capitaine red deur te praat. As een van julle praat en sê waar die Sabel van Doetra is, maak ek hom nou los en ek plaas hom op ’n kameel. Ek plaas julle res dan ook op kamele en stuur julle terug na Dini Salam. Die capitaine sal nie lank in hierdie son lewe nie. En sy einde sal nie baie aangenaam wees nie. Daardie wonde op sy rug sal son trek.”

Podolski kyk na D’Arlan en hy sien hom nou stadig in die son roer. Hy trek sy skouers heen en weer en rol heen en weer, want die son begin daardie wonde skerp aanraak.

Toe staan Podolski meteens vorentoe, siek van binne. Die beeld van D’Arlan wat so ly en wat so sal moet sterf, word vir hom net te veel.

“Ek sal praat,” sê Podolski. “Ek sal praat oor die Sabel van Doetra.”

Maar verder kan hy nie praat nie, want Fritz Mundt swaai vinnig om en skop hom laag in sy maag, sodat hy met ’n sagte skreeu vooroor val, met sy gesig in die warm sand. Hy lê kreunend en krullend daar en voordat die Arabiere nog kan keer, skop Fritz hom weer met sy swaar stewel in sy sy. Toe lê Podolski heeltemal stil.

Hoessein ruk sy handsambok iewers uit en slaan vir Fritz wild deur sy gesig, oor sy skouers en oor sy rug. Hy slaan soos ’n besete barbaar. Fritz buk net laag en probeer sy gesig vir die moordende houe verberg.

Toe Hoessein sy woede op die stomme Fritz afgekoel het, draai hy om en beveel van die Arabiere om Podolski te lawe en hom water en kos te gee.

“Gee hom genoeg om te eet en te drink,” sê Hoessein, “en laai hom dan op ’n kameel. Hy is nou ons grootste en kosbaarste besitting,” sê die lang Arabier.

Hulle maak Podolski los van die koppelriem en dra hom tot in die skaduwee van ’n kameel. Hoessein bly hier by Fritz en Jack Ritchie staan.

“Van hierdie oomblik af sal ek met jou gal werk, jou groot vuilgoed,” sê Hoessein vir Fritz. “Ek sal jou leer om nooit weer my planne te wil dwarsboom nie. Van vandag af sal jy jammer wees dat jy ooit gebore is.”

“Nou moet jy die capitaine ook losmaak,” sê Jack Ritchie terwyl Fritz net die Arabier onderlangs staan en aangluur, amper soos ’n dier wat wil spring.

“Waarom moet ek die capitaine losmaak? Hy het geweier om te praat.”

“Jy het dit belowe. ’n Paar minute gelede het jy dit belowe,” sê Jack Ritchie en hy probeer kalm praat, kalm en bedaard, sonder woede of opstand. “Jy het gesê as een van ons praat, sal jy die capitaine losmaak en ons wegstuur. Nou het een van ons gesê hy gaan praat, manskap Podolski. En hy is ’n man wat by sy woord staan. Hy sal praat wanneer hy bykom.”

“Jy hou jou baie slim, Engelsman, maar jy is nie so slim soos jy dink nie,” sê Hoessein en sy mond word ’n wit lyn, moontlik van woede of moontlik omdat sy gewete aangetas is. “Die capitaine het geweier om te praat. Hy gaan daarvoor boet. Buitendien het daardie Podolski nog nie gepraat nie. Hy het maar net gesê hy gaan praat. Dit is nog nie goed genoeg nie, Engelsman.”

“Maak los die capitaine,” sê Fritz Mundt sissend, sy tande knersend. Jy het gehoor Podolski sal praat.”

Hoessein swaai sy handsambok vinnig omhoog.

“Van jou wil ek niks verder hoor nie, legioenhond,” skreeu hy vir Fritz en hy probeer die Duitser deur sy gesig slaan, maar Fritz koes vinnig en die handsambok swaai skadeloos oor sy kop. Die volgende oomblik skiet Fritz se tamaai stewel vinnig op en hy skop Hoessein net onder die krop van sy maag, ongeveer net soos hy Podolski geskop het, en met ’n uitroep van woede en pyn slaan die lang Arabier reg agteroor. Hy lê ’n oomblikkie kermend en kreunend op die sand en toe struikel hy stadig orent. Hy staan geboë daar, sy oë soos twee vlamme vuur.

“Kom nader!” skreeu Hoessein hoog en sidderend vir sy manne. “Spalk hom oop!”

Hulle gryp Fritz en ruk hom onderstebo, ruk sy baadjie en hemp af en toe slaan Hoessein, net so hard hy kan, maar dit is nie besonder hard nie, want hy is nog taamlik kragteloos van die skop wat Fritz hom gegee het. Na ’n paar houe oorhandig hy die sambok aan ’n lang Arabier, ’n lang fris skepsel wat blykbaar behae skep in slaanwerk.

Elke keer wanneer die handsambok op Fritz se rug neerkom, ruk sy liggaam net, maar hy maak nie ’n enkele geluid nie. Hy kreun nie eens nie. Elke hou ruk die bloed uit Fritz se breë, gespierde rug.

Maar toe die lang Arabier die vierde hou slaan, sterf hy met die handsambok in sy hand. En nie net hy nie, nog ’n Arabier wat hier vlak langs Hoessein staan, sterf op sy voete. Die lood sing hier behoorlik oor hulle en Hoessein en sy manne loop dat hul mantels eintlik styf staan om so gou moontlik agter die skuiling van hul perde en kamele in te kom.

Maar net so skielik soos die sarsie gekom het, net so skielik hou dit weer op. Net ’n paar skote het vinnig na mekaar geval, blykbaar hier van die plato se kant af. En twee van daardie skote het slagoffers hier onder die Arabiere geëis.

Hoessein het hom boeglam geskrik. Eers het hy gemeen dat die Vreemdelegioen hulle ingehaal het, maar nou besef hy dat dit nie die geval is nie. As die Legioen hulle ingehaal het, sou dit nie by hierdie paar skote gebly het nie.

“Dit is daardie vervloekste Touaregs,” sê Hoessein woedend toe hy versigtig agter sy perd uit loer en niks sien nie.

Hoessein ken hierdie Touaregs. Wanneer hulle op hul baadjie kry, gee hulle pad, maar dan word hulle soos kwaai bye. Hulle sal jou dae lank agtervolg en jou op hierdie manier bly aanval. Hier sal hulle een doodskiet, daar twee, die volgende dag drie, totdat hulle meen hulle het jou genoeg op jou senuwees gegee, jou kragte genoeg uitgedun om weer ’n slag ’n volskaalse aanval te waag. Van kleins af ken Hoessein al hierdie Touaregs. Hy was al by talle karavane wat op hierdie manier aangeval is. Dit is soos sy vader gesterf het. Daardie keer het hulle ver van Karnak af gekom met ’n groot karavaan. Die kamele was swaar met velle belaai wat hulle by die ver stamme gekoop het. Op pad het die Touaregs hulle op hierdie manier agtervolg en die kameeldrywers die een na die ander omgekap. Totdat sy vader ook in die slag gebly het. Hy en die oorblywende kameeldrywers het slegs ontkom omdat hulle teen daardie aand se kant op ’n ander groot karavaan afgekom het, wat gelukkig bewapen was.

Die Touaregs is agter hierdie groot pakke op die kamele, dit weet Hoessein. Hulle sal hul lyf sluipskutters hou tot tyd en wyl hulle meen hulle kan die karavaan maklik oorrompel.

Maar Hoessein het meteens genoeg gehad van hierdie Touaregs. Hy spring in die saal en beveel ’n paar van sy manne om hom te volg. Hulle jaag terug, teen die skuinste uit en op die plato uit.

Daar hou hulle vinnig stil. Daar is nie ’n teken van die Touaregs nie.

“Net soos die vuilgoed is,” sê Hoessein bitter. “Skiet ’n paar skote en dan maak hulle spore.”

“Laat ons hulle agtervolg,” doen een van die geesdriftiges aan die hand.

“Ons sal hulle nimmer inhaal nie,” sê Hoessein. “Hulle sal skoon onder ons uitjaag.” En dit is ook waar, want weinig ruiters in die woestyn kan Touaregs inhaal as hulle eers volstoom wegjaag.

Daar onder by die karavaan staan Fritz Mundt botstil in die son. Hy haal skaars asem. Hy staar na die twee Arabiere wat hier dood in die sand lê. Hy hoor weer daardie skote wat geklink het asof hulle ver uit die oneindige ewigheid afgevuur word. Toe draai hy hom half om en kyk hoe dat Hoessein en die paar Arabiere na die plato toe jaag, bo-op gaan stilhou, effe daar rond beweeg en toe weer teen die skuinste af terug beweeg na die karavaan toe.

Hy kyk na waar D’Arlan stadig in die son lê en woel. Hy kyk ook na die aasvoëls wat hoog bo hulle kring, hoog en ver. Hul skaduwees trek ’n swart stippellyn om die klein karavaan hier op die sand.

Mon dieu,” sê Fritz saggies en dan wend hy hom tot Jack Ritchie wat verwaarloos daar staan. Jack kyk op in Fritz se oë en daar is ’n eienaardige, onverklaarbare lig in sy kykers. Dit lyk amper asof ’n glimlaggie sy mondhoeke aanraak.

Toe gaan Fritz meteens sit. Hy gaan lê so half skeef in die sand.

“Ons moet trek,” sê Hoessein. “Ons moet uit hierdie kom wegkom voordat daardie Touaregs weer aanval. Ons moet tussen die hoë duine kom.” Hy kyk skeef na Fritz en Jack Ritchie. “Ek is lus en spalk hierdie twee langs die capitaine oop. Hulle is nou net ’n beslommernis.”

Fritz sukkel meteens op, sy oë groot en verskrik.

“Ek wil nie oopgespalk word nie,” sê hy. “Ek sal praat. Ek sal praat oor die Sabel van Doetra.”

Jack meen eers hy het verkeerd gehoor. Hy kyk vraend na die Duitser op.

Hoessein druk sy perd nader.

“Wat het jy gesê, legioenhond?” vra hy.

“Ek sê ek sal praat oor die Sabel van Doetra. Ek kan nie meer uithou nie. Ek is klaar en wil lewe. Ek wil nie doodgaan soos die capitaine nie.”

Hoessein gooi sy kop agteroor en bars uit van die lag.

“Ek het so gedink, jou grootbek,” terg hy. “Ek het dit verwag. Jy het nie geweet jy is met Abdoel Hoessein deurmekaar nie, nie waar nie? Jy het gedink hierdie is ’n piekniek, nie waar nie? Ja, so smaak die straf van die Arabiere, ou grote.”

Jack Ritchie sukkel hier agter Fritz op. Sy nek is ver uitgestoot en sy skouers hang slap vooroor.

“Ek het nooit geweet jy is ’n lafaard nie, Fritz Mundt,” sis die Engelsman dit uit. “Ek verag jou.”

“Hoe weet ek jy praat die waarheid?” vra Hoessein hier bo van die perd af vir Fritz.

“Jy sal nog weet dat ek die waarheid praat, Abdoel Hoessein. By Allah, jy sal nog weet. Buitendien, as ek nie die waarheid praat nie, kan jy my nog altyd doodmaak.”

“Waarom het jy so skielik van plan verander, legioenhond?”

“Die Touaregs,” sê Fritz en skud sy groot kop. “Ek is bang vir die Touaregs. Hulle sal ons almal uitmoor. Sit ons op die perde sodat ons vinniger kan trek.”

“Maak hom los,” beveel Hoessein een van sy handlangers. “Gee vir hom ’n bietjie water en kos, nie te veel nie en sit hom op een van hierdie los perde.” Toe kyk hy na Jack Ritchie. “En wat van jou? Nou het ek twee wat gaan praat en twee is beter as een. Miskien is dit nog beter as ek drie het.”

“Ek sal nie praat nie, Hoessein,” sê Jack tandeknersend. Hy staan ’n tree vorentoe en sy wange bewe van ene konsentrasie en woede. “Twee lafaards is genoeg,” sê hy vir die Arabier. “Twee verraaiers van die Vreemdelegioen is oorgenoeg. Ek gaan nie voor jou kruip nie, jou rampokker” Toe probeer Jack Ritchie na Hoessein spuug, maar hy kan nie, want sy mond is te droog.

“Spalk hom oop langs die capitaine,” beveel Hoessein twee van sy handlangers.

En terwyl hulle besig is om Jack Ritchie hier langs D’Arlan oop te spalk, vertrek die karavaan weer. ’n Arabier ry hier langs Fritz en voer hom koue bokvleis en gee hom af en toe bietjie water om te drink, maar nie te veel nie, want Abdoel Hoessein wil vir Fritz en Podolski net aan die lewe hou. Hy wil net nie hê dat hulle moet sterf voordat hulle hul geheim aan hom toevertrou het nie.

Toe verskyn Hoessein hier langs Fritz se perd waarop hy dankbaar ry, met sy hande nog steeds agter sy rug vasgemaak. Hoessein is alleen hier langs Fritz, want die Arabier wat hom gevoer het, het op ’n teken van Hoessein padgegee.

“Ry ons in die rigting van die Sabel van Doetra?” vra Hoessein saggies.

Fritz knik effens.

“Ons ry reg,” sê hy.

Hoessein kyk ’n slag in die rondte.

“Ek sal later met julle praat, wanneer ons alleen is. Waar is dit, naasteby?”

“By ’n oase,” sê Fritz vaagweg.

Hoessein trek sy perd weg en gaan langs Podolski ry wat op ’n ander los perd sit. Met die Pool voer hy dieselfde gesprek.

“Waar is dit, naasteby?” vra hy aan die einde.

“By ’n oase,” sê Podolski.

Hoessein glimlag innerlik, want toe weet hy dat hulle die waarheid praat en dat hulle hom nie probeer mislei nie.

Die lang Arabier beweeg heen en weer langs die karavaan op.

“Vinniger trek,” sê hy vir die drywers en eindelik kry die drywers die tam kamele op ’n kort draffie.

***

Ver agter die karavaan woel Jack Ritchie effe op sy sy, beur sy liggaam oor die sand, sy vingers woelend en soekend hier agter sy rug. Hy kan nie ver beweeg nie, want sy voete is stewig aan die twee penne vasgemaak, wat die Arabiere in die grond geslaan het.

Maar toe vat hy dit raak en hy sluit sy oë ’n oomblik van pure dankbaarheid. Dit voel vir hom asof groot vlamme voor sy oë dans en sy kop sing van die honger, dors en pure uitputting. Dan maak hy sy oë weer oop en hy sien hoe dat D’Arlan weer sy skouers stadig roer. Hy kreun sag en diep.

“Ek gaan u nou help, Capitaine,” sê Jack Ritchie. “Ek gaan u nou help teen die son.”

Hy woel sy liggaam weer nader aan D’Arlan. En nou het hy D’Arlan se baadjie in sy hand. Die Arabiere het dit laat lê net waar hulle dit neergegooi het.

Jack sukkel bietjie agteruit, nader na die penne, draai weer op sy maag, en toe pak hy die offisierbaadjie met sy tande beet. Hy woel en sleep dit nader. Hy wikkel sy liggaam tot teen D’Arlan sin. Toe trek hy sy knieë op en kom in sittende houding, tel die baadjie met sy tande op en trek dit stadig oor D’Arlan se rug. Met sy tande trek hy dit reg sodat dit D’Arlan se wonde heeltemal teen die son bedek.

“Wie, wie is hier?” vra D’Arlan en dit klink asof hy uit ’n soort beswyming wakker word.

“Dit is ek, Capitaine. Ritchie. Nou sal die son nie meer u wonde so kasty nie. Voel dit nie nou beter nie?”

Merci, mon ami,” sê die klein Fransman. “Merci. Dit is beter. Die sonbrand op my wonde is hel, maar wat help dit?”

Toe draai hy sy gesig deur die sand en kyk na Ritchie wat hier langs hom lê en toe is dit eers asof hy verstaan.

“Hulle het jou ook vasgemaak, mon ami?” vra D’Arlan.

“Hulle het my ook vasgemaak, mon capitaine,” sê Ritchie.

“Die ander. Waar is hulle? Manskap Mundt en manskap Podolski.”

Net betyds besluit Jack Ritchie om nie die waarheid te praat nie. Amper het hy uitgebars dat hulle verraaiers geword het, maar toe verstaan hy in een helder oomblik dat hy D’Arlan dit liefs moet spaar. “Hulle, hulle is nog by Hoessein, Capitaine. Vroeër of later sal hulle seker ook soos ons gestraf word.”

D’Arlan sluit sy oë asof hy sy eie foltering vir ’n oomblik vergeet en nou net aan die ander dink.

Jack Ritchie lig sy kop op en kyk oor D’Arlan heen, na waar die karavaan ver op die vloer van die groot sandkom ’n stofstreep uittrek.

En toe kom stryk die eerste aasvoël hier langs hulle neer. So manhaftig dat die sandjies in Jack se gesig spat. Sy kaal nek is ver uitgestoot, sy klein, swart ogies blink kordaat en sy vlerke staan oop asof hy die twee gevangenes daarmee tot onvoorwaardelike oorgawe wil dwing.

Ritchie lig sy voorlyf so ver hy kan en skreeu hees op die ondier. Dit wip op en gaan sit slegs ’n paar tree verder.

Maar toe stryk nog een neer. En nog een. En nog een...

Jack sak op die sand neer en wag. Hy weet dit is net ’n kwessie van tyd. Die inspanning om D’Arlan se baadjie in die hande te kry en dit met ’n gesukkel oor sy rug te plaas, het hom verder uitgeput. Vir hom voel dit asof hy geen krag meer oor het nie, asof hy selfs nie met los hande in staat sal wees om met ’n aasvoël af te reken nie. Hy voel die warm sand aan sy gebarste lippe en dit laat hom sy kop vinnig draai. Hy worstel teen ’n beswyming wat dreig om hom in diep, groen dieptes weg te sleur. Hy veg daarteen, want hy weet as dit hom eers oorval, dan is dit die einde. Die honger en die dors pynig hom met nuwe drif en hy voel hoe dat die trane in sy oë brand.

Hy trek sy een been vinnig op en ruk, maar al wat gebeur is dat dit ’n seer slag deur sy liggaam stuur. Hy doen met die ander been dieselfde, maar dan weet hy dat dit nutteloos is.

Of is dit?

Hy swaai op sy sy.

Toe swaai hy op sy rug en hy gaan eers aan die lag en toe gaan hy aan die huil.

“Jul lae vloeke!” skreeu Jack Ritchie en sy stem klink so klein en onbenullig in die groot, stil woestyn waarop die enigste beweging die malle dans van die hitteskittering is.

Sy een voet is so werklikwaar los.

Met die laaste ruk het hy die pen uit die grond geruk.

Dit is die donker spot van die Arabier. Dit is die hoonlag van die Arabier wanneer hy jou in die woestyn aan die aasvoëls oorlaat.

Hulle maak dit vir jou moontlik om los te kom omdat hulle weet dat dit jou dan net langer sal neem om te sterf. Want wat kan jy maak, al is jy los? ’n Kilometer wegdwaal en daar gaan sterf? Hulle weet Ritchie sal nie hier van D’Arlan af kan weggaan nie. Hulle weet hy sal hier waak totdat D’Arlan sterf en dan sal hy so swak wees dat ook hy nie ver sal kan vorder nie.

’n Snaakse woede maak hom van Jack Ritchie meester. Met sy regtervoet wat nou los is, skop hy met alle mag teen die pen waaraan sy linkervoet vas is. Hy skop dit losser en losser totdat daardie pen, net soos die ander een, los is. Hy ruk sy been en toe is hy vry. Maar die twee penne is nog steeds met stewige stukke riem aan sy enkels vasgebind.

Hy sukkel baie stadig orent en staan duiselig daar, sy liggaam bewend en uiters swak.

Die aasvoëls sit in ’n swart kring hier om hom en sy kaptein.

Hy staan en staar ’n oomblik na hulle. Toe gaan hy rasend, byna histeries aan die lag.

“Jul stinkende vuilgoed!” skreeu die blonde Engelsman en hy loop die naaste aasvoël storm. Maar hy het vergeet dat hy nie meer krag het nie. Hy struikel en val vooroor, tussen die aasvoëls in sodat hulle teësinnig weg wip en padgee. Hy sukkel weer op en hierdie keer loop hy na hulle toe, slingerend en onvas op sy bene. Hulle is hier rondom hom. Meteens slaan Ritchie skeef neer en hy beland so op een van die voëls wat te stadig padgegee het. Hy lê hom vas en met woedende dankbaarheid, druk hy die stinkende dier op die warm sand vas en vernietig hom met sy gewig. Skreeuend en brullend pleeg Jack Ritchie hierdie moord.

En toe hy klaar is, is hy so uitgeput dat alles met hom draai. Dit voel vir hom asof hy in ’n groot son staar wat hom blind en dof maak. Daar is ’n soort dreuning in sy kop. Hy rol van die aasvoël af wat pap en dood onder hom lê. Die hale wat die worstelende voël hom oor sy gesig en sy bors toegedien het, brand soos vlamstrepe. Dit neem hom ’n hele paar minute voordat hy weer op sy knieë is. Toe nog ’n paar minute voordat hy stadig orent kom. Hy staan ’n hele rukkie en rondtrap en sy kop voel groot soos ’n wolk. Toe sit hy die een voet stadig en versigtig voor die ander, sukkel-sukkel tot waar hy D’Arlan se hemp sien lê. Hy gaan by die hemp staan, staar lank daarna soos ’n besope man wat kyk, maar wat nie kan sien nie. Hy tel sy regtervoet versigtig op en skop die hemp nader aan D’Arlan. Toe weer ’n slag en nog ’n slag totdat hy die hemp by sy kaptein het.

Jack Ritchie val op sy knieë, buk, tel die hemp met sy tande op en sukkel op sy knieë nog nader en laat val dit dan oor D’Arlan se kop. Hy buk weer, byt die hemp weer vas en trek dit reg.

“Nou, nou is u kop nie meer so in die son nie, Capitaine.”

D’Arlan maak net ’n snakkende geluid, maar hy praat nie.

Terwyl hy nog op sy knieë staan, voel Jack Ritchie die donkerte oor hom kom. Soos ’n koel, swart wolk. Sy kop val agteroor sonder dat hy dit kan keer en toe is dit asof die son groen is in sy oë. Hy is in ’n droom wat sy liggaam laat sweef.

En in daardie oomblik voordat hy slap agteroor val, met sy gesig in die son en met die aasvoëls in ’n bank om hom en D’Arlan, in daardie oomblik weet hy dat die einde vir hulle albei so pas gekom het.