Hoofstuk 10

NA DIE OASE

Met ’n vinnige ruk van sy liggaam swaai Fritz Mundt om en van sy perd af. Hy land op sy voete langs sy perd en sien die Arabier minder as tien tree van hom af.

Die Arabier skreeu sy verbasing uit. Dit is ’n hoë, gillende uitroep. Voor hom staan nie die makker wat hy netnou hier agtergelaat het nie. Voor hom staan daar ’n groot Legioenman, sy skouers breed en sy oë gevul met haat.

En toe maak die Arabier ’n dodelike fout. Hy probeer by sy sneller kom voordat Fritz by sy sneller kan kom.

Toe Fritz omswaai, staan die Arabier reeds met sy geweer gereed in sy hande, omdat hy blykbaar agterdogtig geword het toe Fritz nie dadelik geantwoord het, toe hy hom die eerste keer aangespreek het nie. Hy ruk sy geweer op en gooi dit teen sy skouer, maar te laat. Met hierdie kuns is hy nie so ’n meester soos enige man in die Vreemdelegioen nie. As daar een ding is wat Legioenmanne onverbeterlik kan doen, dan is dit om ’n geweer te hanteer.

Daarom knal Fritz se skoot nog voordat die Arabier sy oog mooi op die korrel het. Dit is ’n doodskoot. Die lood tref die Arabier vlak voor sy bors sodat hy byna sonder ’n geluid effe omtol en toe stadig op die sand neersyg.

Die twee perde ruk net effe, maar dan staan hulle weer stil, want hulle is moeg gejaag deur die los sand.

“So,” sê die groot Duitser terwyl hy die doppie uit die loop ruk. Nou sal my siel seker rus.”

Hy loop dadelik en vat die twee perde wat doodgerus daar staan, skynbaar onbekommerd oor die feit dat hul vorige base in die stof gebyt het. Fritz maak ’n velsak los en drink gulsig van die water. Hy gee elkeen van die perde ook ’n paar slukke. Toe neem hy die kromsabels, die wat hy by hom gehad het asook die van die twee gevalle Arabiere. Hy steek hulle in skedes langs die saals. Toe neem hy die drie gewere en haak hulle oor die saalknoppe. Daarna gaan hy en trek weer sy eie mondering aan, dankbaar om ontslae te wees van die Arabier se bloed deurweekte kleed. Ook die velsak met water aan die dooie perd haal hy af en maak dit aan een van die saals vas.

“So, nou het ek genoeg wapens en water vir ’n hele ekspedisie,” sê hy voldaan, toe hy eindelik alles klaar het en in die saal van die sterkste perd swaai. Hy kyk nog ’n slag die plato noukeurig deur, maar hy sien niks nie. Toe ry hy stadig voort met die een perd in die hand. Hy is nog skaars ’n paar tree weg, toe swiep die eerste aasvoëls oor hom, hul skaduwees flitsend oor die sand. Hy ry die groot kom binne en toe trek hy op ’n stywe galop.

Fritz pyl direk af op die plek waar hulle kaptein D’Arlan en Jack Ritchie gister laat staan het. Hy ril terwyl hy na die swart kol daar ver op die sand kyk. Hy sien aasvoëls wat nog steeds daar aas wat te ase is.

“As my vermoede verkeerd is, dan gaan ek nou ’n aaklige en skokkende toneel aanskou,” fluister Fritz tot homself. “Mag die hemel gee dat my vermoede nie verkeerd is nie.”

Hy ry vinnig tot naby die plek waar die Arabiere vir D’Arlan en Jack Ritchie op die sand oopgespalk het en toe breek hy af. Hy ry nou baie stadiger net asof hy meteens nie in staat is om te gaan kyk na hierdie liederlike toneel nie. Die eerste wat hy sien, behalwe die woelende aasvoëls, is wit stukke klere wat deur die nagwind rondgefladder is. Dit laat Fritz frons.

Hy druk die perd met sy hakke en ry weer bietjie vinniger. Die swerm aasvoëls gee vervaard pad en van hulle waggel lui opsy. Fritz kyk vinnig rond met ’n eienaardige skok wat deur hom trek.

Toe, terwyl hy stil daar op die perd sit, kom daar stadig ’n groot glimlag van pure verligting oor sy gesig. Trane wemel skielik in sy oë en hy is dankbaar dat daar niemand is wat hom nou kan sien nie.

Daar lê net een verminkte lyk! Ook nie meer ’n lyk nie, eerder die kaal gestroopte beendere van wat vroeër ’n lyk moes gewees het.

Maar daar lê nêrens ’n kenmerkende blou baadjie van die Vreemdelegioen nie ook nie ’n kepie nie. Ook nie die bleek wit broek wat so eie is aan die Legioen nie.

Die klere wat verskeurd en verwaaid daar lê, behoort nie aan ’n lid van die Vreemdelegioen nie. Daardie klere het aan ’n Arabier behoort.

Fritz Mundt kyk verslae en verbaas rond. Daar steek die penne waaraan D’Arlan en Ritchie vas was, nog steeds in die grond, almal behalwe een. Die lê daar eenkant. Maar hierdie lyk, klaarblyklik die van ’n Arabier, se bene is nog steeds aan twee van die penne vas, hoewel die bene al heeltemal kaal gestroop is deur die aasvoëls.

“Dan was my vermoede tog reg,” fluister die Duitser verheug en hy vertoef nie langer daar by die aaklige toneel nie. Hy ry vort in ’n noordelike rigting en hy volg die spore wat hulle gister hier gelaat het.

Maar hy sien gou ander spore, varser as die wat hulle daar gelaat het. Maar hierdie spore is amper verlore tussen die spore van die karavaan waarvan hy gister nog ’n onwillige lid was. Hy ry op ’n gemaklike draffie en volg die spore, en toe hy ses kilometer van die kom af weg is, sien hy skielik twee rye spore wegdraai na regs. Spore wat varser is as die van die karavaandiere.

Fritz volg hierdie spore onmiddellik. Hulle loop in ’n noord-oostelike rigting, pylreguit oor die duine. Net twee perde. Die een het swaarder gedra as die ander. Dit kan hy dadelik sien.

“Nou weet ek my vermoede is heeltemal reg,” sê Fritz en druk sy ryperd met sy hakke en sleep die handperd vinniger vorentoe.

Toe hy oor die sewende duin ry nadat hy die karavaanspore verlaat het, hou hy skielik stil. Daar ver voor hom, op ’n oneindige sandgelykte, sien hy snaakse rotsformasies. Hulle ken hy goed. Hier het die Doelaks hulle een keer vasgekeer en byna hul nerwe afgeskiet. Hy ken hierdie snaakse, verweerde rotse en groot ronde klippe. Hy weet dat daar kleinerige spelonke is, seker deur die eeue deur die sand uit die klip gevreet.

Fritz trek weer weg en ry vinnig nader, terwyl hy steeds die twee perdespore volg.

Hy tuimel amper uit die saal toe hy naby die rotse kom en ’n skoot hard deur die stilte klap en hier regs van hom die stof in die lug opjaag.

Mon dieu,” roep Fritz uit. “Lyk my my vermoede is per slot van rekening tog nie reg nie. Lyk my ek het my hier in ’n byenes begewe.”

Toe nog ’n skoot klap, spring Fritz uit die saal en glip agter een van die perde in en ruk een van die gewere van die saal af. Hy laai dit vinnig en wag.

Hy kan die ding nou glad en geheel nie verstaan nie.

Nog twee skote knal vinnig na mekaar en die stoffies slaan hier weerskante van die twee perde op.

Terwyl Fritz nog verdwaas agter die perd staan en uitloer, kom ’n ruiter vinnig agter een van die smal, regop rotse uitgery en pyl reg op hom af.

Fritz se frons verdiep.

Dit is dan ’n Legioenman en hy het ’n geweer agter sy skouers.

“Is hierdie vuilgoed dan van sy sinne af?” vra Fritz asof hy dit by iemand anders buiten homself wil tuis bring.

Fritz se oë is nou getrek en hy hou die ruiter op die keper fyn dop. Sy vinger is aan die sneller, gereed vir enige aksie. As hierdie darem ’n Arabier moet wees.

Maar hoe nader die ruiter kom, hoe meer word Fritz bewus daarvan dat dit wel nie ’n Arabier is nie.

Nee, dit is ’n Legioenman.

Hy het hom al baie gesien en al baie gevare saam met hom deurgemaak.

’n Blonde reus met breë skouers en ’n paar diepblou oë en ’n vriendelike glimlag. So ken hy hierdie man.

Want dit is niemand anders as Teuns Stegmann, die Suid-Afrikaner.

Fritz Mundt los die perde net so en hardloop oor die sand en waai rof met sy arms. Teuns kom vinniger aangery, spring van sy perd af en omhels die groot Duitser asof hy ’n lang verlore broer is.

“Is jy van jou sinne af?” skreeu Fritz toe hulle bymekaar kom. “Wat se skietery is hierdie? Het ek nie al genoeg sonde en ergernis gehad nie?”

“Ek wou maar net kyk of jy nog vinnig agter ’n geweer se kolf kan inspring,” sê Teuns. Hy lag breed en skud die groot man aan sy skouers.

“Hoe het jy geweet dit is ek?”

“In die saalsak van die Arabier se perd wat ek nou die dag gegryp het, het ek ’n redelike goeie verkyker aangetref. Daardeur het ek gesien dat dit jy is, want geen ander man in die woestyn sit ’n perd so lomp soos jy nie en geen man in die woestyn se kepie sit so gereeld skeef soos joune nie.”

“Ek is bly om jou weer te sien,” sê Fritz en draai sy kop vinnig weg. Hy weet nie wat dit is nie, maar vandag wil hy net in trane uitbars.

“En ek is bly om jou te sien, jou groot lummel. Waar is Podolski?”

“Nog by Hoessein. Waar is die capitaine en Jack Ritchie?”

“Waarom het Podolski nie gekom nie? Vertel my dit eers voordat ek jou vrae beantwoord.”

“Dit is deel van ’n plan. Ek sal jou later vertel.”

“Ek het die capitaine en vir Jack gister gaan red. Ek het hulle hier in ’n spelonk. Hulle is besig om aan te sterk op water en bokbiltong wat ek in die Arabiere se velsakke gekry het. Maar waar kry jy al die perde, ou grote?” vra Teuns en sy oë lag.

Hulle stap terug om Fritz se perde te gaan haal.

“Twee van Hoessein se handlangers het my agtervolg. Dit is ook deel van my en Podolski se plan. Ek het hulle, hoe sal ek sê, gelikwideer.” Fritz lag sy groot lag en sy skouers skud behoorlik daarvan.

“Maar hoe het jy weggekom na al die kastyding?”

“Dit was daardie paar vinnige skote,” sê Fritz en knipoog. “Toe die twee Arabiere in die kamp doodgeskiet is, het ek geweet geen Arabier kan so skiet nie. Ek het net geweet dit is ’n Legioenman en ek het afgelei dit is jy. Daarom het ek skielik met Abdoel Hoessein begin saamspeel, beloof om hom te sê waar die Sabel van Doetra versteek is. Ek wou krag kry asook kos en water kry, sodat ek kon wegkom. Verlede nag het ek en Podolski die wag bokveld toe gestuur, en wel, hier is ek. Ek is net jammer dat ek nie vroeër agter gekom het dat dit jy is wat elke keer ’n Arabier in die kamp omgekap het nie.”

“Dit was nie ek nie. Ek het net gister daardie twee kort na mekaar doodgeskiet.”

Fritz kyk fronsend na die groot Suid-Afrikaner.

“Wat praat jy nou?”

Hulle stap met die perde vort na Teuns se perd toe. Daardie Abdoel het ’n Arabier opgesteek om die karavaan te agtervolg en elke keer een van die Arabierse handlangers dood te skiet. Ek het by hom oorgeneem. My plan was om julle te volg en al die Arabiere om te kap.”

“Wat?”

“Ek het hierdie agtervolger verras en hom gevang. Hy het toe met die hele mandjie patats uitgekom. Hy en Abdoel sou uiteindelik die enigste twee wees wat by die oase uitkom om die Sabel van Doetra in die hande te kry. En dan sou een van hulle seker nog die ander een ook uitgeskakel het. Het jy dan nie opgemerk dat Hoessein nie juis iets probeer doen het wanneer een van sy handlangers doodgeskiet is nie?”

“So gedorie, ja!” sê Fritz. “Dit is so, nou dat ek daaraan dink.”

“Hy het gemaak asof dit die Touaregs is wat julle nog agtervolg. Gister terwyl ek die capitaine en vir Jack Ritchie gaan red het, het daardie Arabier probeer wegglip. Ek moes hom klits.”

“Dan is dit hy wat ek daar in die kom aangetref het?”

“Dit is reg. Ek het sy lyk daar vasgemaak sodat die aasvoëls daar kon bly ingeval Hoessein dalk sou besluit om te kom kyk.”

“Hoe gaan dit met die capitaine?”

“Heelwat beter, maar hy is nog swak. Ek het terug gegaan na die plek waar die Touaregs ons aangeval het. Daar het ek heelwat kos en water gekry. Selfs dadels en dikmelk. Die capitaine en Jack voel al baie beter, maar die capitaine se rug is nog baie seer. Vanaand wanneer dit koel word, gaan ons egter spore maak. Waar is Hoessein-hulle?”

“Reg na die suide, op pad na die oase. Podolski sal hulle daarheen lei. Hy sal hulle kamma gaan beduie waar die Sabel is. Dan sal hy hulle net so effens verkeerd beduie om tyd te mors.”

“Dink jy hy is veilig?”

“Hoop so. Hy is tans die enigste een wat oor is om te vertel presies waar die Sabel lê.”

“Ons sal moet gou speel. As Hoessein se handlangers nie met jou terugkom nie, sal hy gou speel om betyds weg te kom. Buitendien dink hy seker nog steeds dat ek terug is Dini Salam toe om hulp te gaan haal.”

Hulle klim op hul perde en ry terug na die rotse toe.

“Hoe voel jou rug, ou grote? Kyk net hoe het die vuilgoed jou geslaan,” sê Teuns en staar na die snye in Fritz se uniformbaadjie.

“Dit is maar seer, maar dit is niks in vergelyking met wat die capitaine moes deurmaak nie.”

“Die vuilgoed,” sê Teuns bitter. “Ons sal hom nog kry.”

“Ek gaan hom met hierdie twee hande verongeluk,” sê Fritz en krom sy vuiste en kners op sy tande.

In ’n gat in die soliede rots tref Fritz vir D’Arlan en Jack Ritchie aan. D’Arlan groet hom met die hand en Jack Ritchie lag net toe hy vir Fritz sien.

Toe gesels hulle land en sand aanmekaar en hulle maak ernstig planne oor hoe om die Sabel van Doetra uit die hande van Abdoel Hoessein te hou. Terwyl hulle gesels, klim Teuns in die klipskeure rond en trek vir die perde droë grassies en bossies uit wat hoog groei, waar hulle teen die wind beskerm is en waar die perde hulle nie kan bykom nie.

En toe die aand die eerste koelheid bring, glip hulle af na die perde toe en gee die diere nog ’n maal uit die velsakke water. Hulle help vir D’Arlan in die saal en toe ry hulle vort, reg suidwaarts in die rigting van die oase, waar die Swaard van Doetra verskuil is.