Hoofstuk 11

MOORDENDE VUISTE

Hulle het voorverlede nag die hele nag getrek, gister rus-rus getrek, verlede nag deur gery en nou is dit dagbreek. Hul perde is al klaar, maar hulle weet dat die oase nou baie naby moet wees. Hulle ken hierdie wêreld van gebroke duine, diep strate en hoë kruine. Nie ver vorentoe nie, breek hierdie duine-woestyn op en dan kry jy die gelykte wat hier voor jou af strek tot by die klein, verlate oase.

Teuns Stegmann ry ’n hele ent voor die ander om te verken. By hierdie oase woon gewoonlik geen Arabiere nie omdat die watervoorraad nie baie sterk is nie en die oase se water partykeer baie laag raak, sodat dit nie betaal om hier vee te probeer aanhou nie.

Dit weet Teuns alles, maar tog, ’n mens weet nooit nie. Daarom het hy D’Arlan hulle aangeraai om maar stadig agterna te kom terwyl hy vooruitry om eers die wêreld te gaan bespied.

Hy laat die groot appelblou skimmel stadig teen die duin uitloop. Hy ry hierdie perd omdat dit die sterkste van die perde is wat hulle het. Dit is die dier wat Faoed, die Arabierse rampokker gery het. Faoed wat Hoessein se metgeselle die een na die ander moes omkap sodat net hy en Hoessein later sou oor wees om die fortuin wat die Sabel van Doetra werd is, saam te deel. Dit is Faoed wie se bene vandag deur die aasvoëls wit gepik is daar in die kaal kom ver in die Sahara, ver noordwaarts op die pad na Dini Salam.

Die perd loop steun-steun en skuimend teen die steil duin uit en Teuns staan regop in die stiebeuels om die dier te probeer help. Dit is al lig genoeg om ver te kan sien en daarom hou die Suid-Afrikaner sy oë oop. In hierdie sandwêreld kan ’n mens nooit weet wat jou die volgende oomblik kan oorval nie.

Net voordat hy die kruin van die duin moet oorsteek, hou Teuns stil, klim af en loop gebukkend tot agter die skerp maanhaar. Daar gaan lê hy plat en loer versigtig oor.

Wat hy daar sien, laat hom koud word tot in die verste punte van sy tone. Hy knip sy oë en toe die appelblou skimmel van dors hier agter hom runnik, steek die vrees hoog deur hom.

Vanoggend is die klein oase nie verlate nie. Daar is nou wel nie ’n klomp bokke, kamele en perde soos Arabierse gemeenskappe gewoonlik daar aanhou nie.

Nee, vandag is daar ’n paar honderd ruiters teenwoordig.

Almal se perde is afgesaal.

Die horde het blykbaar laat vannag of kort gelede daar aangekom, want baie van die perde suip nog.

Dit lyk soos ’n see van Arabiere.

Teuns bring die verkyker wat hy uit die een Arabier se saalsak gevat het, vinnig voor sy oë. Hy bestudeer die toneel daar by die fontein van die oase aandagtig tot in die fynste besonderhede.

Net soos hy aanvanklik gedink het, dit is Doelaks. Miskien ’n Doelak-patrollie wat weer vir kwaadgeld hier deur die woestyn ronddwaal.

“Waarom, in hemelsnaam, moet hulle nou juis op hierdie oggend hier by die oase aangesit kom?” vra Teuns woedend vir homself.

Hy bekyk die toneel baie noukeurig. Die Doelaks is blykbaar volkome op hul gemak. Party lê op die sand, ander sit daar rond en ander staan rustig onder die dadelpalms en gesels.

“As julle vuilgoed maar weet hoe naby julle nou aan die Sabel van Doetra is,” sê Teuns en sy woorde troos hom ’n bietjie.

Toe sak hy vinnig teen die maanhaar af, glip terug na sy perd toe en dwing die dier vinnig terug teen die duin af. Hy kry die onwillige, uitgeputte dier eindelik op ’n kort draffie en ry terug na waar sy makkers hulle bevind.

Hulle is seker goed ’n kilometer of twee agter hom, want hy het vinnig beweeg, veel vinniger as hulle omdat hul perde haas klaarpraat is. Op hierdie lang rit het hulle net af en toe ’n paar bekke vol water gekry. Wanneer hulle laas ordentlik gevreet het, weet Teuns nie eens nie.

Later word hy onrustig. Hoe het hulle dan so stadig gevorder? Teen hierdie tyd moes hy hulle darem al bereik het. Miskien het een van die perde ingegee?

Hy ry oor ’n lae duin en sak in ’n lang straat tussen die duine af, ’n straat wat later ’n draai maak agter die plat duin in.

Meteens sien Teuns dit, ’n kol stof wat agter die plat duin opslaan. ’n Dowwe stofkol wat net bo die duin uitdy, nie hoog nie en ook nie baie dig nie.

Baie snaaks, dink Teuns by homself. D’Arlan hulle trek tog seker nie so vinnig dat hulle kan stof uittrek nie?

Hy steek sy perd met sy hakke en eindelik kry hy die dier op ’n onwillige, kort galoppie. Hy ry reg in die straat af, terwyl sy oë alles om hom waarneem.

“Ek kan dit eenvoudig nie verstaan nie,” sê Teuns. “Ek hou glad nie van hierdie hele affêre nie.”

Waar die straat regs swaai, is daar ’n skerp maanhaar wat van die top van die duin afloop tot in die straat. Dit is skerp en bietjie hoër as ruiterhoogte, hier waar dit in die gelyk straat vasloop.

Agter die maanhaar hou Teuns vinnig stil.

Wat hy daar voor hom sien, laat sy bloed byna stol.

Daar onder in die straat is ’n gewoel en gewerskaf van perde, kamele, Arabiere en Legioenmanne.

“Abdoel Hoessein,” fluister Teuns hees. “Hy het D’Arlan hulle oorrompel.” Hy sê niks meer nie, want dit is nie nodig om meer te sê nie. Blykbaar is die paar Legioenmanne klaar oorrompel, want die diere kom tot bedaring en die stof kom ook tot bedaring.

“Wat het D’Arlan hulle dan nou aangevang?” wonder die Suid-Afrikaner terwyl hy vinnig uit die saal glip.

Hy ruk sy geweer af. Hy sal hulle hier agter die maanhaar inwag en Abdoel Hoessein die les van sy lewe leer.

Maar toe skiet dit hom te binne. In die drang van die oomblik het hy die groter gevaar agter hom vergeet, die Doelaks.

As hier nou ’n skoot geskiet word, is dit klaar met kees. Dit sal duidelik by die oase gehoor word en tien minute daarna, of nog veel gouer, sal die Doelaks hier oor die duine geswerm kom.

Hy hoop die hemel gee dat nie een van die Legioenmanne probeer skiet nie. Dan is die gort voorwaar gaar. Blykbaar weet Hoessein-hulle wat hy weet en daarom het hulle nie geskiet nie.

Styf van vrees dat iemand ’n skoot sal aftrek, staan Teuns ’n oomblik daar en nadink. Dit sal hom nie baat om soos ’n groot dappere daar onder hulle te gaan injaag nie. Hulle sal hom ook maar net vang.

En skiet kan hy ook nie.

Maar as hy nou met ’n plan onder daardie spul kan invlieg, dan is dit ’n heel ander saak.

Meteens swaai hy om, maak die halterriem vinnig los en span die blouskimmel kort sodat hy amper nie sal kan beweeg nie. Hy gryp sy geweer en draf oor die maanhaar. Hy draf reguit af op die groep daar in die straat.

Toe hy nader kom, sien hy D’Arlan eenkant langs Hoessein staan. D’Arlan beduie wildweg met sy arms. Hy beduie blykbaar dat hy nie moet skiet nie.

“Dan weet daardie vuilgoed beslis wat hier by die oase aan die gang is,” sê Teuns so in die draf en vee die sweet uit sy oë weg. Hy kom uit-asem by D’Arlan hulle aan.

“Hierdie vuilgoed sê daar is Doelaks by die oase. Is dit waar?” vra D’Arlan.

“Dit is waar, Capitaine.”

“Abdoel Hoessein is ’n betroubare man, Capitaine,” sê Hoessein.

“Hoe, hoe het hulle julle dan oorrompel, Capitaine?” vra Teuns amper ergerlik.

“Ons het hulle betyds gewaar,” sê D’Arlan. “Maar toe stuur hulle ’n vuilgoed met ’n wit vlag om ons te kom waarsku dat daar Doelaks by die oase is en dat ons nie moet skiet nie. Hoe moes ek weet of dit waar is of nie? Ek verkies om eerder in die hande van hierdie paar te val, as om deur die Doelaks gevang te word. Buitendien het hulle laat weet dat as een van ons ’n skoot aftrek, hulle Podolski onmiddellik sal onthoof. Wat kon ek doen? Ons het hier probeer om hulle in ’n handgemeen te oorrompel, maar ek en Ritchie beteken tog niks nie.”

Teuns sien hoe dat die Arabiere reeds Jack Ritchie en Fritz Mundt se hande agter hul rûe vasgemaak het.

Podolski sit verwese op ’n perd, met sy hande nog steeds agter sy rug vas. Sy gesig is vaalbleek en sy oë groot en glinsterend. Teuns kan sien watter hel die groot Pool al moes deurgemaak het, vandat hy hom laas gesien het.

“Aa, dan ontmoet ons mekaar weer, mon ami,” sê Hoessein vir Teuns en grynslag. “Ongelukkig sal dit hierdie keer die laaste maal wees. Ek is bevrees hierdie sal die finale afskeid wees. Ek moet sê, ek was baie verbaas om jou weer in lewende lywe te sien, Capitaine, vir jou en daardie blonde Engelsman. Hierdie keer sal ek egter seker maak dat ons mekaar nie weer ontmoet nie.”

“Jy is baie seker van jou saak, nie waar nie, jou hond,” sê Teuns sissend en staan dreigend nader.

Abdoel Hoessein ruk sy groot kromsabel uit en Teuns bly staan net waar hy is. Die Arabier voel met ’n duiwelse glimlag aan die lem.

“Kom,” sê hy vir D’Arlan en Teuns, “daar is nie tyd nie. Ek is nie begerig om in die hande van die Doelaks te val nie.”

“Hulle sal jou uitmekaar skeur as hulle van jou verraad hoor, jou vuilgoed,” sê D’Arlan.

“Ek sal verseker dat hulle nie daarvan hoor nie, mon capitaine,” sê Hoessein.

Hy beduie vir twee Arabiere en hulle kom met rieme aan om D’Arlan en Teuns se hande ook agter hul rûe vas te maak. Hoessein stap weg na waar Fritz en Jack staan. Hy laat hulle in die sand kniel.

Teuns praat vinnig toe die twee Arabiere hier by hom en D’Arlan kom.

“Weet julle wie die manne op die lang trek doodgeskiet het?”

“Die Touaregs,” antwoord die een en trek die riem deur sy vingers.

“Dit was nie die Touaregs nie, dit was Faoed.”

“Faoed?” Hulle sê dit gelyk en hul oë rek groot.

“Waarom het Hoessein nooit die man agterna laat sit wat op julle geskiet het nie? Dit is omdat hy Faoed betaal het om julle te skiet...”

Hulle kyk onseker na mekaar en dan weer na Teuns.

“Maak klaar,” vermaan Hoessein die twee Arabiere en hy staan en meet met die kromsabel na Fritz se groot nek.

“Faoed het my dit self vertel na ek hom gevang het. Hy sê Hoessein het hom gehuur om julle almal dood te skiet sodat hulle twee die Sabel van Doetra in die hande kon kry. Waarom is daar nie verder op julle geskiet nie? Omdat ek Faoed gevang het.”

“Jy lieg,” sê die een Arabier, maar Teuns hoor die onsekerheid in sy stem terwyl hy aanstaltes maak om D’Arlan se hande agter sy rug vas te bind.

“Hoe lyk Faoed se perd?” vra Teuns vinnig.

“’n Groot appelblou skimmel,” sê die een Arabier.

“Hy staan agter daardie maanhaar onder in die straat. Ek sal julle gaan wys as julle my nie glo nie. Het hierdie nie aan Faoed behoort nie?” Hy haal gou ’n snuifdoos uit. Daarop staan die rampokker Faoed se kenteken, ’n klein halfmaan oor ’n klein kromsabel.

Die Arabier se oë rek nog groter.

“Maak klaar!” skreeu Hoessein en draai om en meet nou weer na Jack Ritchie se nek.

“Glo julle my nou?” vra Teuns.

Hulle is twee eenvoudige manne, twee kameeldrywers, liggelowig en onbetroubaar, net soos die gewone Arabier maar is. As hy eers bang word, sal hy sy eie broer se keel ook afsny.

Die een loer onderlangs in die rigting van die maanhaar. Dan staan hy ’n tree eenkant toe en beduie met sy hand.

“Faoed se perd,” sê hy en dit klink asof hy aan die woorde verstik.

Teuns kyk ook. Daar in die straat kom die appelblou skimmel aangesukkel. Sy twee voorbene beweeg ongemaklik en vinnig in die spanriem en dan spring-spring die dier weer vorentoe. Teuns het dit al vergeet. Hierdie woestynperde volg altyd hul base. Dit is daarom dat die appelblou skimmel aangestap kom.

“Dit is Faoed se perd,” sê die tweede Arabier. Daar is haat in sy stem, want daar is min gewone Arabiere wat nog nie deur Faoed, die skurk van die Sahara, deur die nek gekyk of te na gekom of selfs aangerand is nie.

“Faoed en Hoessein is kop in een mus,” vryf Teuns dit in.

Die twee staar na mekaar en toe weer na Teuns.

“Waar is Faoed?” vra die een en sy oë is wit van vrees.

“Hy het weggekom met die perd wat ek eers gery het. Hy is iewers in die duine. Hy sal nie padgee voordat hy en Hoessein alleen oor is om na die Sabel van Doetra te gaan nie. Hy het verlede nag weggeglip toe ons man aan die slaap geraak het. Hy is bewapen, want hy het een van ons gewere gesteel.” Teuns kyk vir ’n oomblikkie ernstig na hulle. “Julle ken vir Faoed. Hy sal nie padgee voordat julle almal doodgeskiet is nie.”

Hoessein kom ongeduldig nader gestap.

“Wat gaan hier aan? Waarom bind julle nie hierdie legioenhonde se hande vas nie?”

“Wat moet ons maak?” vra die een Arabier beangs.

“Gryp net vir Hoessein,” sê Teuns net betyds. “Dan is julle vry.

Voordat jy ons laat vasbind, is daar iets wat ek jou wil sê,” sê Teuns. “Iets in verband met die Sabel van Doetra.”

Hoessein staan vraend voor die Suid-Afrikaner. Die twee Arabiere kom nader en kom staan weerskante van Teuns. D’Arlan kom ook nader. Die ander twee Arabiere bly daar by Fritz en Jack staan.

“Wat jy wil sê, moet jy gou sê, legioenhond. Daar is nie meer tyd nie.”

“Waarom het jy Faoed opgesteek om hierdie onskuldige manne dood te skiet?”

Iets gevaarlik flikker in Hoessein se oë en die twee Arabiere sien dit. Teuns het opsetlik hard gepraat sodat die ander twee Arabiere dit ook moet hoor. Selfde met die Legioenmanne. Almal moet dit weet.

Hoessein probeer die skok weg glimlag.

“Jy lieg, legionnaire,” sê Hoessein. “Ek weet niks van Faoed af nie. Bind sy hande vas,” gelas hy die twee Arabiere.

“Daar kom sy perd aangestap,” sê Teuns en beduie na die appelblou skimmel wat aankom.

Hoessein sien die perd aankom. Eers kom skok op sy gesig, toe vrees. So duidelik dat selfs die domste kind dit kan waarneem.

Hoessein mik sy sabel vinnig omhoog en toe weet die Arabiere verseker dat Teuns die waarheid praat. Toe hulle die rou haat in Hoessein se oë sien, toe weet hulle dat Teuns nie gelieg het nie.

Maar Hoessein misreken hom. Voordat hy daardie sabel omlaag kan bring, skop Teuns hom laag in sy maag. ’n Harde skop wat ’n man tydelik verlam en jou magteloos maak. Dit is soos ’n volstruisskop wat ’n man laat hik. Terselfdertyd val die lang Suid-Afrikaner skeef en Hoessein se blitsende sabel swiep voor sy gesig verby en die lem vreet diep in die los sand in. Hoessein het vooroor gestort en voordat hy nog ’n vinger kan roer, spring Teuns met sy twee swaar stewels op sy uitgestrekte arm, buk en ruk die sabel uit sy hand. Hy spring rats opsy terwyl die twee Arabiere op die worstelende Hoessein toesak.

Die twee Arabiere wat daar by Fritz-hulle gestaan het, kom onseker nader, vol twyfel. Hulle het ook van Faoed gehoor en hulle het ook sy perd sien aankom. Hulle sien hoe dat hul twee makkers met Hoessein worstel.

Maar toe gebeur iets wat die twyfel ook by hulle laat verdwyn. ’n Lem flits in die son en Hoessein steek een van sy aanvallers met sy kort dolk sodat hy met ’n kort skreeu omrol en in die sand sterf.

Toe spring die ander twee Arabiere ook nader. Die een wat nog met Hoessein deurmekaar is, gee pad en skop die dolk uit sy hand.

Teuns gebruik die oomblik van verwarring. Hy hardloop en sny Fritz se hande los. Die Duitser hardloop en gaan tel die sabel op wat die Arabier netnou van hom afgeneem het. Toe sny hy Jack se hande los. Jack hardloop en gryp die eerste die beste geweer wat daar in die sand lê. D’Arlan doen dieselfde.

Hoessein krul onder sy aanvallers uit, spring op en loop met lang hale na die naaste perd. Daar spring hy soos ’n kat in die saal.

Teuns wat hom agterna gesit het, aanskou dit met wanhoop. Dit lyk of Hoessein gaan wegkom.

Maar die volgende oomblik skrik die perd en glip onder Hoessein uit. Die rede is dat ’n swaar soldate stewel vir Hoessein reg in sy gesig getref het.

Dit is Podolski se bydrae tot die geveg. Toe die Arabier hier onmiddellik langs hom in die saal gespring het, het hy eenvoudig sy lyf geswaai, bo-oor die saal en geskop net so hard as wat hy kan. Hy het Hoessein vol in sy gesig getref en toe die Arabier agteroor ruk, spring die perd vorentoe en Hoessein gly oor sy kruis af en val langs Podolski in die sand, wat ook deur sy groot skop uit die saal geruk is.

Nog voordat Hoessein sy hande aan Podolski se keel kan kry, is Teuns by. Hy skop Hoessein se hande weg. En toe is Fritz ook op die toneel.

“Los hom vir my broeders,” sê Fritz. “Los hom vir my.”

Hoessein swaai op sy rug, sy oë wit van vrees en woede.

“Staan op, Abdoel Hoessein,” gelas Fritz. “Ons twee gaan nou ’n potjie loop, met ons kaal hande.”

Teuns sny vinnig die stomme Podolski se hande los en hy gril toe hy sien hoe die Pool se gewrigte eintlik al pers opgeswel is van die rieme waarmee hy al so lank vasgebind is. Hy sien hoe die riem dieprooi hale in sy polse ingevreet het. Teuns help hom orent en Podolski staan en wankel daar.

Hier agter hou D’Arlan en Jack Ritchie die drie oorlewende Arabiere dop wat verdwaas en onseker daar staan. Teuns loop dadelik daarheen om hulle drie te gaan ontwapen. Hulle oorhandig hul sabels sonder weerstand.

“Bring die perde bymekaar, Jack,” sê Teuns, en die Engelsman gehoorsaam. Hy trek die perde tussen die kamele uit en hou hulle vas.

D’Arlan gaan in die sand sit en gebied die drie Arabiere ook om te sit.

Podolski kom hier na sy offisier toe met trane in sy oë. D’Arlan druk sy seer hand liggies.

“Jy is ’n dapper man, mon ami,” sê D’Arlan vir die Pool. Jy het ’n dapper ding gedoen deur hierdie wreedaard na die oase te lei.”

Merci, mon Capitaine,” sê Podolski dankbaar en eerbiedig.

“Ek het gesê jy moet opstaan, Hoessein,” bulder Fritz weer. Hy gooi sy sabel na Teuns toe en die hou dit vas, saam met die sabels van die ander Arabiere.

Op dieselfde oomblik toe Fritz die sabel na Teuns toe gooi, skop Hoessein na die Duitser. Maar Fritz het dit verwag. Hy vang die Arabier se voet met sy een hand, gryp dit dan ook met sy ander hand en toe begin hy in die rondte tol. Hy swaai Hoessein stadig hoër deur die lug en slaan hom dan kort kort op die grond.

En toe slinger hy die groot Arabier weg sodat hy op ’n bondel in die sand val. Maar nog voordat Hoessein heeltemal orent is, is Fritz weer daar.

Hoessein staan op en hy is nog verbasend fiks ondanks die houe wat die sand hom so pas gegee het.

Hy is wakker en op sy hoede. Hy is ’n sterk en taai man, taai soos die meeste Arabiere van die woestyn.

“Versigtig, ou grote,” waarsku Teuns. “Hy is uitgeslape. Maak klaar, daar is nie tyd nie. Die Doelaks mag dalk net hier opdaag en dan sit ons turf.”

“Kyk in my oë, jou hond,” sê Fritz, “want ek gaan jou nou hard slaan. Vir eers gaan ek jou kakebeen afslaan.”

Hoessein dans soos ’n kapokhoender al om Fritz en dit lyk amper asof hy hom verbeel hy gaan nog wen.

Hy haak af en slaan Fritz onverwags met sy plathand dwarsdeur sy oë. Dit skok net al die krag in die groot Duitser los. Hy boor onder Hoessein in en sy eerste hou tref Hoessein op sy kakebeen en dryf hom ’n hele paar tree weg sodat hy op die naat van sy rug beland op die warm sand beland.

“Daardie is vir die houe wat jy my gegee het,” sê Fritz swetend. “Staan op, Abdoel Hoessein. Ons is nog lank nie klaar nie.”

Die bloed sypel by Hoessein se mond uit en ’n knop verskyn op sy wang.

“Jou kakebeen is af,” lig Fritz hom smalend in.

D’Arlan aanskou die geveg belangstellend. Vir ’n vlietende oomblik wonder hy of hy moet tussenbeide tree. Maar dan word hy weer bewus van die pyn aan sy rug en hy besluit dat die woestyn maar moet wraak neem op hierdie wreedaard wat hulle almal soveel gekos het.

Fritz se hou het Hoessein beseer, maar hom terselfdertyd ook woedend gemaak. Hy vlie op en hardloop half onderstebo onder die Duitser in.

Dit is ’n fout aan sy kant, want Fritz slaan hom ’n kort haakhou wat hom heeltemal orent ruk sodat hy swaaiend op sy voete staan. Toe tref Fritz se groot vuis hom tussen sy oë en hy val met ’n snak agteroor.

“Dit is vir die capitaine wat jy geslaan het, vir capitaine D’Arlan,” sê Fritz hees en hygend. “Opstaan, Hoessein. Ons is nog nie klaar nie.”

Coup de Grace, ou grote,” sê Teuns, en hy weet hy moet die woorde sê omdat D’Arlan dit nie sal sê nie.

Fritz buk, ruk die Arabier op sy voete en toe slaan hy hom die laaste hou, ’n moordende haakhou op sy slaap. Dit klap en hulle hoor been breek en Hoessein val en roer nie weer daar waar hy lê nie.

“En dit was vir Podolski, Ritchie en vir Stegmann,” sê Fritz. Toe loop hy vallend na die perde wat Jack vashou, ruk ’n velsak af en drink gulsig aan die koel water. Hy loer na Hoessein, maar hy weet dit is onnodig. Hoessein roer nie eens ’n vinger nie.

Die drie Arabiere sit verskrik daar, skoon oorstelp deur die krag van hierdie groot man met die rooi baard.

“Ek gaan gou kyk wat die Doelaks maak, Capitaine,” sê Teuns. Hy draf en gaan maak die appelblou skimmel se spantou los en ry weer na die duin waar hy netnou omgedraai het. Daar loer hy weer oor die kruin.

Die Doelaks het opgesaal en hulle is gereed om te vertrek.

Sy hart klop in sy keel. As hulle hierheen kom...

Dan begin die hele horde roer en die voorste ruiters punt uit na vore.

Goddank, hulle trek ooswaarts. Hulle trek op ’n stywe galop en gou word die horde ’n lang streep van ruiters. Hul klere fladder in die luggie en hul perde speel kop, want hulle het lekker gesuip. Daar is ’n ligte dreuning soos die massa ruiters voort beweeg.

Teuns wag tot hulle die oostelike horison bereik en soos ’n slingerende reptiel daaroor in die niet verdwyn. Toe sit hy om en gaan haal die ander.

“Hulle is vort, in ’n oostelike rigting, Capitaine. Vir die oomblik is ons dus veilig.”

“Ons het die hele dag tyd,” sê D’Arlan. “As hulle terugkom, sal dit nie voor vanaand wees nie. Ons kan gaan water kry, ons perde op die watergras laat wei tot vanmiddag laat en dan kan ons ook verdwyn. Wel gedaan, mes amis. Julle was almal besonder dapper. Vannag gaan ons nog ver trek op pad na Dini Salam. Ons sal moet gou maak. Kolonel Le Clerq gaan onrustig word.” Hy glimlag soos van ouds en toe maak hulle klaar om te ry.

“Gooi vir Hoessein en die ander Arabier oor ’n perd se rug. Ek wil nie hê die aasvoëls moet hier draai nie,” beveel D’Arlan toe hy in die saal sit. “Hierdie ander drie moet maar voetslaan totdat ons buite gevaar is. Ek vertrou hulle net so ver as wat ek hulle sien.”

Toe trek die klein karavaan na die oase toe. ’n Paar protesterende kamele, swetende perde en moeë manne.

“Sê nou net daardie Doelaks kom vroeër terug,” sê Fritz.

“Teen daardie tyd moet ons dan lankal weg wees, mon ami,” antwoord D’Arlan met ’n glimlag op sy gesig. Die ander manne kan sien dat hul kaptein D’Arlan al amper weer homself is. En dit maak hulle harte bly.

***

In die klein oase was, drink en rus hulle. Die diere versuip hulle amper aan die koel water en vreet gulsig aan die groen watergras. Teuns neem vir D’Arlan na die rots langs die water en beduie vir hom waar hy die dag lank gelede gestaan het, toe hy die Sabel van Doetra in die water gegooi het.

“Laat hom maar hier bly, mon ami,” sê D’Arlan. “Hier is hy veilig.”

Teen vieruur saal hulle op en vertrek. Hulle trek eers reg weswaarts om die naaste duine te haal. Toe swaai hulle weer reg noord op hul koers terug na Dini Salam.

D’Arlan se pynlike rug voel ook stukke beter, want Fritz het weer van sy heilsame kruiesalf aangesmeer. Ook Podolski se seer polse voel draagliker as gevolg van Fritz se wondersalf.

Toe die son rooi in die weste sak, kyk D’Arlan om na die Atlasberge, na waar Doetra lê.

“Ons sal maar by ’n ander geleentheid kom om madame Bonnet te kom haal,” sê hy, en toe gaan die manne aan die lag, die eerste keer in baie dae.

 

WORD VERVOLG

 

* Maak seker u mis nie die volgende, net so opwindende verhaal van Teuns Stegmann se avonture in die warm Sahara woestyn nie. Daarin beleef Teuns en sy makkers nog meer aksiebelaaide avonture, vol drama en intriges. Dit word beskryf in “Die Spore Roep,” die negende boek in hierdie spanningsvolle reeks.

 

 

SAHARA AVONTUUR REEKS BOEKE

1. Heks van die Sahara

2. Spore na die Dood

3. Die Skarlaken Ruiters

4. Wraak van die Woestyn

5. Die Fort is Stil

6. Dood met Sonop

7. Dreunende Hoewe

8. Bloed voor die Son

9. Die Spore Roep

10. Mademoiselle Julie

11. Wraak van die Sabel

12. Bloedige Robyne

13. Bloed oor die Duine

14. Duine van die Dood

15. Dreigende Daeraad

16. Bouvalle van die Dood

17. Gaste van die Dood

18. Bitter die Wraak

19. Vlamme in die Tempel

20. Dodelike Sluipers

21. Strik van die Dood

22. Nag van Geweld

23. Bloed oor die Bouvalle

24. Spelonk van Verskrikking

25. Skaduwee van Gister

26. Storm oor Dini-Salam

27. Die Skatte van Marabash

28. Wraak in die Woestynvesting

29. Stille Dood oor die Sahara

30. Die Verraaier van Dini-Salam

31. Graf in die Woestyn

32. Vlamme in die Woestyn

33. Noodroep uit die Woestyn

34. Spore van Verraad

35. Die Raaisel van Aber-El-Mir

36. ’n Teken in die Nag

37. Die Swaard van Verwoesting

38. Vuurpeleton lê Aan

39. Die Bloedbad van Goras

40. Die Geheim van Fort Laval

 

 

Geagte Leser

Die betrokke Sahara Avontuur reeks word voortaan hoofsaaklik vrygestel in eboek formaat. Die volledige reeks van veertig boeke wat deur F.A. Venter, onder die skuilnaam van Meiring Fouche geskryf is, gaan met verloop van tyd verskyn in eboek, boek en oudio formate.

Met die uitgee van die boeke is van die teks sodanig verander, om aan te pas by vandag se taal en kultuur. Waar nodig is van die teks ook op plekke verander om dit makliker leesbaar en meer kragtig te maak. In die proses is egter geensins aan die karakter en/of storielyn van die oorspronklike boeke verander nie.

Die Sahara Avontuur reeks is so ver vasgestel kon word, die eerste maal gedurende 1956-1963 vrygestel deur Pronk uitgewers en toe daarna weer in die 1980’s deur Sirkel uitgewers. Hierdie uitgawes in eboek en boek formaat sal dus die derde uitgawe van die gegewe reeks wees.

Om van die boekies in die hande te kry kontak gerus onderstaande plekke:

Aanlyn e-boek stoor: https://panther-ebooks.com

E-pos: haasbroek.pieter@gmail.com

Webwerf: www.softcoverbooks.co.za

Blogger: https://sagtebandleesboeke.blogspot.com/search?q=sahara