Dertien

Leana maak haar oë oop en wonder wat haar wakker gemaak het. Dis nog redelik donker in die kamer. Dan hoor sy dit weer – ’n sagte klop aan haar deur.

“Kom binne,” sê sy deur die slaap.

“Kan ek die lig aanskakel?”

Brandt se stem klink helder, soos iemand wat lankal wakker is.

“Ja ... Wat’s fout?”

Die lig verblind haar vir ’n paar oomblikke en dan sit sy regop.

“Hoe laat is dit?”

“Net ná vyf.”

Leana wil bekommerd raak, maar Brandt stel haar gou gerus. “Ontspan. Ek wil net iets vra.”

Leana sien nou eers dat hy ten volle geklee is. Ook dat hy ’n warm baadjie aanhet.

“Is jy bang vir hoogtes?”

“Nee ...”

“En vir ’n mikrovliegtuig?”

“Ook nie, maar hoekom dit nou vra?”

“Ek was bang jy hou dalk nie van hoogtes nie. Kom, trek aan. Ons gaan vlieg.”

“Met ’n mikrovliegtuig?”

“Ja, myne.”

Leana lag en is wawyd wakker. Sy wil die beddegoed van haar lyf afgooi, maar onthou dat haar slaapklere redelik skraps is.

“Ek wil net eers stort.”

“Ek kry jou by die motor.” Brandt trek die deur agter hom toe.

Leana stort vinnig en trek jeans aan. Sy het nie ’n groot verskeidenheid klere saamgebring nie en die groen toppie met sy kantskouerbandjies moet maar goed wees. Sy het ook nie daaraan gedink om iets warms in te pak nie.

Brandt wag buite en hou ’n baadjie na haar uit.

“Dankie, ek het juis gewonder of ek een kan leen.”

Sy klim vinnig in die Alfa toe hy die deur oophou. Toe hulle die buitewyke van die stad bereik, kry Leana se nuuskierigheid die oorhand.

“Vlieg jy baie?”

“As ek kan, minstens een keer per naweek.”

“Waar is jou mikrovliegtuig? Is dit ver? Is dit hoekom jy so vroeg opgestaan het?”

Sy klink nou nes ’n opgewonde kind, dink Leana geamuseerd toe sy besef sy babbel aaneen.

“Nee, die vliegveld is nie ver nie. Buiten praktiese redes soos wind en lugstrome, is daar iets magies daaraan om die son uit die lug te sien opkom.”

Sy is sprakeloos. Het Brandt Faber gesê magies?

Brandt kyk op sy horlosie. “Eintlik is ons reeds ’n bietjie laat, maar daar sal ander geleenthede wees om jou die sonsopkoms te wys.”

Dit klink byna soos ’n belofte, dink Leana ingenome.

’n Uur later is hulle in die lug. Leana voel amper nie eens die effens geniepsige koue teen haar wange nie; die oomblik saam met Brandt is te groot.

Hy vestig kort-kort haar aandag op iets interessants. Sy herken die bergreeks in die verte en besef gou dat hulle in die rigting van Magaliesburg vlieg. Kort daarna maak Brandt ’n stampvrye landing en help haar uit die sitplek.

“Dit was onvergeetlik!”

Die warm handskoene maak haar vingers lomp en sy vroetel onhandig met haar valhelm se gespe.

“Wag, laat ek jou help.”

Brandt trek eers sy eie valhelm van sy kop af en maak hare dan versigtig los en trek haar bril van haar oë af. Hy gee nie dadelik pad nie en Leana vra ná ’n paar oomblikke laggend en effens kortasem: “Wat? Is my gesig vuil?”

“Nee, maar ek dink nie ek het jou al ooit so mooi gesien nie. Jy ... is soveel anders as ander meisies.”

Leana lag verleë. “Ek hoop so.”

’n Moedswillige windjie waai ’n stukkie hare oor haar gesig en Brandt se vingers is dadelik daar om dit weg te stoot.

“Leana ... ek ...”

“Haai, hoekom draai julle so? Ek het lankal die koffie ingegooi,” praat ’n vreemde stem agter hulle.

Brandt draai dadelik weg en Leana wil swets. Sy sal nou nooit weet wat hy wou sê nie. Daar was ’n vreemde intensiteit in sy stem en sy kan aanvoel dit was belangrik.

Brandt slaan sy arm om haar skouer. “Leana, Werner is een van my beste vriende, Werner, Leana.”

“Hallo, Leana. Jy moet ’n bietjie met Brandt praat. ’n Mens bel nie iemand in die vroeë oggendure wakker net om te sê hy moet jou op die vliegveld kry nie.”

Dis nuus vir Leana. Sy wonder net wanneer hy dit beplan het. Het hy dalk ook in sy bed lê en rondrol?

“Ek sal beslis met hom moet praat,” speel sy saam.

Leana kom gou agter dat die vliegveld aan Werner behoort. Hy hou sy sleutels na Brandt uit.

“Jy sal maar met my bakkie tevrede moet wees. My vrou kuier die naweek by haar ma en moes die Mercedes vat.”

“Waarheen neem jy my?” vra sy toe hulle ’n rukkie later die dorpie nader.

“Ontbyt by ’n gastehuis. Ons is amper daar.”

Die gastehuis is ’n ou dubbelverdieping-herehuis en die rustige, outydse atmosfeer omvou haar dadelik. Sy kan nie anders as om te ontspan nie. Brandt is sjarmant en uiters bedagsaam en Leana kan kwalik haar verbasing wegsteek.

Is dit die regte Brandt Faber, of is dit maar net deel van sy repertoire om meisies te beïndruk, wonder sy toe hulle ná ontbyt buitetoe stap. Maar as dit is, werk dit beslis. Sy raak al hoe stywer toegespin in sy web van betowering.

“Die dag is nog jonk. Is daar iets spesifieks wat jy wil doen?”

Leana dink ’n oomblik na. Sy ken nie juis die omgewing nie.

“Ons kan natuurlik rondry en die omgewing verken. Die Cradle of Mankind is nie te ver nie. Of wat van die Sterkfonteingrotte?”

Sy sukkel om haar verdere verbasing weg te steek. Op die oog af lyk hy nie soos iemand wat van sulke uitstappies sal hou nie, of nog minder in ’n eenvoudige bakkie gesien sal wil word. Sy skud haar kop en weet sy neem ’n waaghalsige sprong.

“Ek is nie mal oor grotte nie, maar ... ek het ’n bordjie vir ’n vlooimark gesien,” sê sy huiwerig.

“Nou goed, vlooimark is dit. Watter kant het jy die bordjie gesien?”

Leana is ’n bietjie rigtingloos, maar uiteindelik kry hulle die stalletjies. Sy begin by die eerste tafeltjie snuffel. “Hierdie tafeltjie met kerse lyk interessant.”

Brandt vat weer haar hand en dis waar dit die res van die oggend bly. Hulle drentel, vingers ineengestrengel, van stalletjie tot stalletjie. Sy optrede verwar haar, maar terselfdertyd maak dit haar vreemd gelukkig.

Uiteindelik het hulle elke stalletjie besoek en Brandt kyk op sy horlosie. Hy lyk so ontspanne en aantreklik dat haar hart vinnig aan die bons gaan.

“Ons het nog tyd om Maropeng te besoek en middagete iewers te eet.”

Leana stem dadelik in. Wat Brandt nie weet nie, is dat sy, as hy sou vra, hom op daardie oomblik kaalvoet tot in Kathu sal volg. Sy weet sy gemoedelike houding is waarskynlik net skyn sodat sy haar weerstand moet verslap, maar sy gee nie om nie.

Heelwat later die middag ry hulle weer Magaliesburg binne. Brandt kyk kort-kort in die lug op.

“Jy lyk bekommerd,” merk sy op.

“Die wolke is te dig na my sin en die wind waai heelwat sterker as vanoggend.”

“Dink jy dit gaan reën?”

“Ek vermoed so, maar ons sal hoor wat Werner sê.”

’n Paar minute later beaam Werner Brandt se kommer. “Ek dink nie dis ’n goeie idee om nou terug te vlieg nie. Die wind kan nog heelwat sterker waai. Hoekom neem julle nie eerder die bakkie en bring dit môre terug nie?”

Brandt lyk onseker toe hy na haar kyk. “Nou goed, maar ons gaan nog ’n rukkie op die dorp vertoef. Miskien verbeter die weer later. Ek sal jou op hoogte hou.”

Brandt skakel die bakkie aan en vra: “Is jy nou al honger?”

Toe sy vroeër gesê het sy is nog versadig, was hy heel inskiklik en het hy voorgestel hulle eet later.

Sy glimlag verskonend. “Ek is jammer jy het nog nie middagete gehad nie. Vanoggend se ontbyt was net te groot vir my, maar nou is ek rasend honger.”

Hulle gaan terug na dieselfde gastehuis.

“Ek hou van die plek. Hier is nooit baie mense nie en die kos is uitstekend, maak nie saak watter maaltyd jy eet nie.”

Terwyl Brandt met die ontvangsdame ’n tafel reël, glip Leana kleedkamer toe en knap haar grimering op. Vyf minute later stap sy met heelwat meer selfvertroue die eetkamer binne. Brandt sit langs ’n venster. Hy staan dadelik op toe hy haar sien en trek vir haar ’n stoel uit. “Ons het ’n flink kelner. Hy het reeds vir ons wyn geskink.” Op sy gesig is ’n vreemde uitdrukking.

“Ek het in die spieël gekyk en daar is nie ’n streep of iets oor my gesig nie,” terg sy om die ongemaklike gevoel af te skud.

Hy kyk ingedagte na sy wynglas. “Ek het lank laas ’n vrou teëgekom wat soveel aandag afdwing. Jy is nie net mooi nie, maar straal selfvertroue uit wat baie ander meisies in die skadu stel.”

Leana lag verleë, want dis presies hoe sy oor hom voel. Sy het hom al dopgehou – in vergaderings, in die kafeteria en sommer net tussen mense. Oral dwing hy, sonder opset, gesag af en mense luister na hom.

“En dan is daar die uitdagende manier wanneer jy jou skouers agteroor trek en die wêreld vierkant in die oë kyk, of jou oë wat versluier as jy tog soms onseker voel. Maar dis veral ... die subtiele swaai van jou heupe wat die jagter in elke man wakker maak. Wat die jagter in ... my wakker maak.”

Sy woorde hang in die lug. Sy voel hoe haar hart vinniger klop en haar keel effens toetrek. Ook haar maag trek op ’n knop. Nee, nie net haar maag nie, maar die middelpunt van haar vrouwees begin polsend klop. Met sy eenvoudige verwysing na haar heupe, het hy die eerste knopie van seksuele begeerte losgeknoop. Leana kyk op en sien dieselfde gewaarwording in sy oë.

Sy kyk vinnig na haar glas, bring dit na haar lippe. Sy is slim genoeg om te weet die uitstappie het pas ’n wending geneem.

Die kelner kondig die dag se spesiale geregte aan en Leana blaas haar asem verlig uit.

Sy hoor sy stem, maar luister nie regtig nie. Sy kyk oor die spyskaart na Brandt, wat haar steeds met donker oë aankyk. Hy luister ook na die kelner sonder om weg te kyk en die spanning tussen hulle is amper tasbaar. Haar mond voel droog en sy lek verbouereerd oor haar lippe. Dit vestig Brandt se aandag op haar mond en ’n tweede knopie begeerte skiet los. Sy sien hoe sy sensuele lippe beweeg toe hy met die kelner praat. Al probeer sy hoe hard, kan sy nie haar oë van sy mond wegskeur nie.

Sy besef geleidelik dat die kelner op ’n antwoord wag en kyk vinnig na die spyskaart. Haar oë fokus nie en die letters dans voor haar oë. Sy klap die spyskaart toe.

“Ek ... sal dieselfde neem as hy.”

Die kelner kyk haar vreemd aan, maar neem nogtans die spyskaart. Sy kyk weer na Brandt en hy lyk geamuseerd, kompleet asof hy haar deurmekaar gedagtes kan lees en dit geniet.

Leana draai haar kop weg en kyk deur die venster. Sy moet haar vinnig regruk of Brandt gaan agterkom presies hoe kwetsbaar sy in sy teenwoordigheid voel; dat die geringste aanraking en nuanse in sy stem haar weerstand soos suiker in water oplos. Ná ’n rukkie het Leana genoeg moed om weer na hom te kyk. Haar gedagtes val oor mekaar om aan iets te dink om te sê, iets wat onpersoonlik en veilig is.

“Hoe lank het jy al die mikrovliegtuig?”

“’n Hele paar jaar, en dit was seker die beste besluit wat ek in my lewe geneem het. Daar is niks wat my so laat ontspan soos om in algehele afsondering te vlieg nie. Dit gee my nuwe perspektief op my lewe ... my probleme. Ek vlieg dikwels voor ek baie groot besluite neem. Dis asof ek alles baie beter kan sien ... ontleed en dissekteer.”

Leana kyk met verwondering na Brandt se blink oë en luister ademloos na die begeestering in sy stem.

Hy glimlag effens verleë, asof hy besef hy het te veel van sy innerlike blootgestel en neem ’n sluk van sy wyn. Sy slank vingers vou liggies om sy wynglas se steel en Leana wonder hoe dit sal voel as daardie vingers oor haar vel sou streel.

“En jy? Wat laat jou ontspan?”

Haar kop voel steeds dof en op die oomblik kan Leana aan niks dink nie.

“Jy en Werner ken mekaar al lank,” maak sy eerder ’n stelling.

Die keer is daar ’n ander ondertoon in Brandt se stem en sy kan aanvoel sy betree dalk weer verbode grond. “Ek het Werner leer ken toe ek agttien, negentien was, en het ’n ruk vir sy pa gewerk – as motorbestuurder. Ek het jou al vertel dat ek enigiets gedoen het om sakgeld te verdien.”

Sy verstaan nie hoekom hy so ongemaklik klink nie en besluit om dit eerder te los.

Brandt lyk weer koel en in beheer toe die kelner die kos voor hulle neersit. Haar oë rek toe sy die massiewe T-been op haar bord sien. Haar oë vlieg na die kelner om beswaar te maak, maar dan sien sy die afwagtende uitdrukking op sy gesig. Brandt se geamuseerde gesig lyk nie veel beter nie en sy besef die flater wat sy gemaak het – sy het ook ’n mansgrootte steak bestel. ’n Warm gloed stoot teen haar nek op. Haar gesig is seker net so rooi soos die rose in die glaspotjie op die tafel, dink sy vies.

Die kelner bly moedswillig langs die tafel staan en sy kan nie anders as om te reageer nie.

“Dankie ... dit lyk heerlik,” kry sy dit hees uit terwyl sy haarself heimlik oor haar onnoselheid uitkryt.

“Nog wyn?” vra Brandt en sy hoor die lag in sy stem. Sy waag dit eerder nie om in sy rigting te kyk nie, skud net haar kop en druk haar skerp mes met mening in die sagte vleis in.

Leana is verlig dat Brandt nie ’n aanmerking maak nie. Die kos is heerlik en die wyn, wat sy uit pure senuweeagtigheid te vinnig gedrink het, begin sy tol eis. Haar kop draai.

Buite raak dit donker en Leana kyk met ’n frons op haar horlosie. Dis dan skaars sesuur. Dan hoor sy die onmiskenbare gedreun van donderweer in die verte.

Minute later val die eerste druppels en sy kyk vraend na Brandt. Dis nou ’n uitgemaakte saak dat hulle nie gaan terugvlieg nie.

Brandt sit sy mes en vurk neer. “Ek dink die reën het namens ons besluit,” sê hy asof hy haar gedagtes kan lees. Doodluiters verdeel hy die laaste bietjie wyn tussen hulle.

Leana is skaars bewus van die kelner wat die borde van die tafel verwyder. Sy weet dis verspot, maar die spanning van vroeër die middag sit weer pens en pootjies op die krop van haar maag.

“Sal ek vir ons nagereg kies?”

Sy knik net en kyk deur die venster hoe die reën in vlae uitsak.

“Moenie so bekommerd lyk nie, Leana. Sulke skielike buie is gou oor,” sê Brandt sag toe die kelner hulle bestelling geneem het.

Sy kan nie na hom kyk nie. Dis nie die reën wat haar bekommerd maak nie, dis sy self, die vreemde afwagting wat in haar opbou, en dis hý, Brandt Faber, met sy dinamiese persoonlikheid wat haar van voor af ontspoor. Miskien is dit die afgesonderdheid van hulle tafel, die wyn, of dalk die storm wat buite woed, maar sy kan aan niks anders as Brandt dink nie.

Sy ruk toe hy onverwags sy hand op hare sit en haar oë vlieg na sy gesig. Syne is donker met ’n vreemde uitdrukking. Sy kyk weer vinnig weg, maar die keer sien sy niks buite raak nie.

Brandt se ander hand skulp om haar wang en dwing haar kop terug.

“Kyk na my, Leana.”

Die heesheid in sy stem stuur rillinkies teen haar ruggraat af en sy gehoorsaam willoos.

Brandt bly stil, maar wat sy sien, laat haar haar asem skerp intrek. Rou en onverbloemde begeerte blink agter in sy oë. Om sy mond is ’n gespanne wit kring. Dis duidelik dat hy, nes sy, die seksuele spanning in die lug tussen hulle aanvoel.

“H’m ...” hoor Leana en kom uit haar halwe beswyming. Die kelner staan langs hulle en weet duidelik nie waar om die twee bakkies nagereg neer te sit nie. Brandt neem sy hand weg en die spanning verlig effens.

“Julle kan dit gerus in die sitkamer gaan eet. Hoewel dit nie regtig koud is nie, is die kaggel aangesteek en dis lekker knus en romanties. Daar is niemand anders nie.”

“Dis ’n goeie plan,” sê Brandt en staan op.

In die sitkamer trek hy Leana langs hom op die bank neer. Sy vat ’n happie van haar nagereg en kyk na die knetterende vuur. Sy proe skaars wat sy eet. Al waarvan sy akuut bewus bly, is Brandt se nabyheid. Dan neem Brandt die bakkie, sit dit op die koffietafel langs syne neer, buig sy lang lyf en soen haar.

Sy proe die soetigheid op sy lippe en haar mond gaan effens oop. Haar lippe word sag en ontvanklik toe Brandt die soen met ’n kreun verdiep en alles om haar vervaag.

Brandt kom eerste tot sy sinne en trek weg, maar die passie bly in sy oë spartel.

“Leana ... ek ...” Sy weet wat hy wil vra, want dis ook haar grootste wens.

“Ek gaan ... Nee, wil jy ... vannag hier oornag? Ek sal die eienaar vra ... miskien het sy plek ...” val Brandt vir die eerste keer lomp oor sy woorde.

Leana hoef nie daaroor te dink nie. Sy weet wat sy wil hê, tog kan sy hom nie dadelik antwoord nie. Hy interpreteer haar stilswye verkeerd.

“Ons ... hoef nie as jy nie wil nie. Dis ’n bietjie meer as ’n uur se ry terug Pretoria toe.”

Leana skud haar kop en sit haar hand op sy arm. “Dis reg, Brand, ons ... kan hier oornag.”

Die eenvoudige paar woorde laat sy oë verdonker. Hy trek haar nader en soen haar dié keer met meer drif. Net so vinnig los hy haar weer. Dan staan hy op en loop by die deur uit.

Leana kyk vinnig rond, verlig dat hulle steeds alleen is. Noudat sy tyd het om na te dink begin haar hart vinniger klop. Die keer nie heeltemal net van afwagting en opwinding nie, maar tog ook van ’n bietjie vrees. Ná vanaand sal alles anders wees. Sy sal haar deel van die ooreenkoms nakom en dan ... wat dan? Hoe lank gaan dit wees voor Brandt ook vir haar gaan moeg word? Sy sluit haar oë en probeer alle gedagtes aan die toekoms wegdink. Al wat saak maak is nou ... vanaand ... die oomblik.

Toe Brandt terugkom, blink ’n sleutel aan ’n sleutelhouer in sy hand. Hy hou sy ander hand uit.

Die uitdrukking op sy gesig maak haar knieë lam en meer as gewillig laat sy toe dat hy haar optrek, deur die huis en teen die trappe op lei.

Die dubbelkamer het nes die res van die huis ’n outydse sjarme. Op die spierwit deken lê gedroogde roosblare en op die kaggel staan twee glase en ’n bottel vonkelwyn in ’n bak ys.

Leana trek haar wenkbroue vraend op.

“Dis met komplimente van die bestuur. Ek het gesê ons het ... verloof geraak.”

Leana kan sweer Brandt lyk effens verleë. Dis ongetwyfeld ’n nuutjie en waarskynlik die eerste keer in sy lewe dat hy hom so in die openbaar en so persoonlik verbind, dink sy heimlik geamuseerd.

Dan verdwyn alle humoristiese gedagtes. Brandt kom voor haar staan en dié keer lees sy net vasbeslotenheid in sy oë.

“Is jy seker hieroor, Leana? Jy moet nooit sê ek het jou in ’n ding in gedwing nie.”

Sy woorde is heeltemal teenstrydig met hulle ooreenkoms, maar sy blote nabyheid vertroebel haar sinne. Sy kan dit nie deurdink nie en knik net.

“Ek ... is seker, Brand,” kry sy dit hees uit.

Brandt stoot sy vingers onder die bandjies van haar toppie in en skuif dit van haar skouer af. Dan soen hy haar veerlig net onder haar oor en baan vir hom ’n weg al langs haar nek en oor haar skouer. Toe hy dieselfde aan die ander kant van haar nek doen, kan Leana nie langer ’n kreun keer nie. Rillinkies van plesier loop teen haar ruggraat af en eindig by haar hakke. Dan begin hy stadig die knopies voor losknoop tot sy die lug op haar vel kan voel. Deurentyd hou sy oë hare vas, asof hy nie ’n enkele gesigsuitdrukking wil misloop nie. Sonder dat hy dit sê, weet sy wat hy van haar verwag en sy skuif haar hande onder sy T-hemp in. Sy spiere verstyf onder haar aanraking, en sy vel is warm en glad.

Stadig trek sy dit oor sy skouers en kop. Haar toppie en sy T-hemp val langs mekaar op ’n stoel. Daar sal later tyd wees om dit netjies op te vou, is Leana se laaste helder gedagte.

Brandt se vingerpunte volg die kantrandjie van haar spierwit bra. Leana kan voel hoe haar borste teen die wit kant swel en beur en swaar raak van begeerte. In die middelpunt van haar vrouwees begin die oeroue drang na vervulling polsend klop.

Brandt sit sy arms om haar middel en loop die paar treë na die bed toe. Hy laat haar agteroor lê, kniel dan voor haar en trek haar sandale uit.

Hy leun oor haar en haar jeans is volgende aan die beurt. Met rustige vingers maak hy eers die knopie los en trek dan die ritssluiter af. Sy lig haar sitvlak sodat hy dit oor haar heupe kan trek. Ook dit doen Brandt tydsaam. Waar hy haar ontbloot, volg sy mond. Sy lippe is warm en klam teen haar vel – van haar heup, teen die binnekant van haar bobeen af tot by haar enkel.

Leana weet reeds dat haar nag saam met Brandt nie ’n oorhaastige en lomp ervaring gaan wees nie. Hy ken vroue en hulle behoeftes.

Sy sluit haar oë, die sensasie is amper te veel. Sy span al haar selfbeheersing in om nie haar arms uit te steek en sy warm lyf gulsig teen haar vas te trek nie. Deur skrefiesoë sien sy hoe hy sy skoene en die res van sy klere uittrek. Begeerte skiet soos ’n helder vlam in haar op toe hy in al sy manjifieke manlikheid voor haar staan. Daar is niks aan sy lyf waaroor hy hom kan skaam nie, dink sy voor haar sinne weer in alle rigtings verskiet.

Die bed duik langs haar in en met een swaaibeweging lê sy bo-op hom. Sy vingers soek teen haar rug na die knippie van haar bra, maar sy druk haar regop.

“Dit maak voor los,” sê sy hees, maar wend geen poging aan om hom te help nie. Die kant verdwyn en haar borste trek amper pynlik saam. Sy hande is dadelik daar en kelk warm om die rondings. Net vir ’n rukkie, want dan trek hy haar nader en sluit sy mond oor een van haar borste. Dit verstyf tot ’n harde puntjie in sy mond en sy kreun van genot. Haar hande druk teen sy bors en onder haar palms is sy spiere snaarstyf en gespanne.

“Jy is so mooi, Leana ... Nee ... perfek ...” fluister hy amper onsamehangend toe hy sy kop wegneem.

Dan voel dit asof Brandt sy aanslag op haar liggaam verskerp, want hy swaai haar weer onder hom in. Dié keer is daar nie ’n plek aan haar lyf wat nie deur hom geliefkoos word nie en sy lê minute later bibberend van begeerte.

“Kyk na my, Leana,” hoor sy die woorde van ver af.

Met moeite kry sy haar oë oop, hoewel sy dit nie gefokus kry nie.

“Wil jy hê ek moet met jou liefde maak?”

Sy herken skaars sy passievolle stem. Is dit nie ’n bietjie laat om te vra nie? Hoe kan enigiemand die poorte van die paradys vir jou oopmaak en dan op die drumpel vra of jy daar wil ingaan of nie?

Sy knik net.

Brandt sit sy hande op haar heupe en dan besef Leana dat sy steeds haar ragfyn kantbroekie aanhet. Dis asof Brandt haar nog ’n laaste geleentheid wou gee om met veiligheid om te draai, maar haar laaste skans val ook op die mat.

Toe die volle lengte van sy naakte lyf aan hare raak, veg sy teen die sametrekkings wat dreig om haar te oorweldig.

“Stadig, lief, daar is baie tyd,” sê Brandt bokant haar.

Leana wil nie langer wag nie en sy trek sy kop af na hare.

“Nee. Nou!”

Sy liggaam reageer dadelik en binne sekondes lê sy magteloos vasgevang in ’n web van begeerte en drif, waar die enigste doelwit vervulling is. Sy tong dans met hare en haar hande verken weer op hulle beurt die kontoere van sy rug en sy skouers. Elke stukkie logika en greintjie weerstand verbrokkel. Haar belofte aan haarself dat die duiwel nooit haar siel sal besit nie, verbreek sy sonder teenkanting. Dit raak verstrengel met syne en verskiet saam met die verblindende wit lig wat haar omvou.

Leana ruk regop. Wat het haar wakker gemaak? Sy kyk rond en sien die figuur langs haar in die bed. Dit duur ’n paar sekondes voor sy besef waar sy is.

Brandt beweeg. “Wat’s fout?”

Leana weet net iets voel nie reg nie. Esti! skiet dit deur haar gedagtes. Sy wil die beddegoed van haar lyf afgooi, maar onthou betyds dat sy naak is. Sy soek na die deken se punt, trek dit saam van die bed af op en vou dit ’n paar keer om haar lyf. Dan eers skakel sy die bedliggie aan en sien haar selfoon op die spieëlkas raak.

“Leana?” vra Brandt bekommerd.

“Hier is geen sein nie,” sê sy terwyl yskoue vingers teen haar ruggraat afloop. Paniek spoel oor haar. “Ek ... ek moet my suster bel.”

“Hoekom?”

Brandt staan van die bed af op en trek sy jeans aan.

“Ek kan dit nie verklaar nie, maar ... Esti het my nodig.”

“Probeer buite,” sê Brandt rustig en skuif die glasdeur oop.

Die koel windjie klits haar in die gesig en sy is helder wakker. Op die balkon verskyn ’n enkele torinkie op die skermpie. Brandt kom staan agter haar terwyl sy Esti se nommer intik. ’n Ander stem antwoord.

“Susara! Hoekom antwoord jy? Waar is Esti?”

Susara bevestig haar vermoede – Esti is hospitaal toe.

“Waar is Jako?”

Brandt se hande val haar skouer af.

Sy ontspan effens toe Susara sê die buurman en sy vrou wag saam met Jako by die hospitaal.

“Ek kom dadelik.”

Leana strompel na binne, die deken soos boeie om haar voete. Sy draai haar rug na Brandt en begin haar klere met bewende vingers aantrek terwyl sy verduidelik: “My suster het vroeër begin kraam. Niemand kon my in die hande kry nie en die bure het haar hospitaal toe geneem.”

Brandt is eerste aangetrek. “Jou swanger suster ... Jake Litt se vrou?”

Sy hoor die verwyt in sy stem.

“Ja ... h’m ... ek’s jammer as ek jou nie gesê het nie, maar ... dit het nooit ter sprake gekom nie. Sal jy my terugneem Pretoria toe?”

Die rit is ’n nagmerrie en hulle praat nie veel nie. Spookbeelde van ’n swak Esti warrel voor haar uit en meng met selfverwyt omdat sy nie daar was toe sy haar nodig gehad het nie. Sy probeer eerder nie die nag se wonderlike herinneringe onthou nie, probeer nie onthou hoe Brandt haar drie keer na ’n ander dimensie, waar geen tyd of mens bestaan, verplaas het nie. Sy stroewe gesig en stilswye help darem om dit te onderdruk.

Toe sy by die hospitaal kom en by die buurman hoor Esti slaap rustig ná die keisersnee, spoel verligting deur haar. Met Jako styf teen haar vasgedruk, onthou sy van Brandt, wat soos ’n standbeeld in die deur staan.

“Kan ek julle voorstel?”

Nadat almal gegroet het, kan sy nie langer wag nie.

“Waar is die baba?”

“In die babakamer. Net familie word toegelaat.”

Leana vat spontaan Brandt se amper willose hand. Dit pla haar dat hy so onbetrokke lyk.

Om een of ander rede neem die suster aan dat Brandt die pa is, want sy gee die baba vir hom aan. Saam kyk hulle na die pienk bondeltjie in sy arms.

Leana vroetel die sagte handjies en vingertjies tussen die pienk kombersie oop en kyk afwagtend na Brandt. Vreemde emosies wissel mekaar op sy gesig af.

“Besef jy nou hoekom Eston nie sy straf kan vryspring nie? Hy het Esti se twee kinders van meer as net geld beroof – van hulle pa.”

Brandt is baie bleek toe hy die baba aan die verpleegster teruggee en stil uitstap. Skielik voel Leana ongemaklik. Wat staan haar nou te doen? Gaan sy saam met Brandt terug huis toe, of bly sy by Esti agter? Sy drafstap agter hom aan. In die wagkamer verskaf Brandt self die antwoord.

“Jy wil seker eers met jou suster praat. Ek sal jou Maandag op kantoor sien.”

Hy klink soos die koue man wat sy ken. Hy kyk na Leo.

“Julle sal seker nie omgee om Leana en die seun huis toe te neem nie?”

Is hy nou weer haar werkgewer en in beheer van sy emosies, wonder Leana verward. Wat het van die man geword wat haar ’n paar uur gelede bemin het asof daar nie ’n volgende dag is nie? Sy spartel om haar teleurstelling en onsekerheid weg te steek.

“Jammer ... en dankie vir al die moeite, Brandt,” kry sy dit reg om koel te antwoord.

Brandt knik net en deur die wagkamer se deur kan sy sien hoe hy met lang treë wegstap.