“Moira! Wat maak jy hier?”
Dis die laaste mens wat Leana op Kiepersol verwag.
“Ek hoop nie dis ongeleë nie.”
“Nee, natuurlik nie.” Leana hou die deur groter oop en vryf verleë oor haar kort nat hare. “Ek het netnou uit die swembad geklim. Kom, ons sit sommer op die patio.”
Moira volg haar deur die huis en Leana roep in die gang af: “Susara, bring asseblief vir ons ’n potjie tee?”
“Jy het jou hare gesny en gekleur? ’n Vrou doen dit gewoonlik net wanneer sy ’n nuwe begin wil maak,” sê Moira terwyl sy Leana opsommend beskou.
Leana lag en vryf weer oor haar blonde hare. “In my geval probeer ek net weer ék word.”
Sy sien Moira verstaan nie. “Moet liewer nie vra nie; dis ’n lang storie.”
Moira dring nie verder aan nie en kyk rond. “Jy het ’n lieflike tuin, Leana.”
“Dankie. Dis my suster wat dit so goed versorg hou.”
“Jou suster ... waar is sy?”
“Sy voed haar baba. Jy sal haar netnou ontmoet.”
Sy wag tot Moira gemaklik sit. “Moenie my verkeerd verstaan nie, Moira, ek is bly jy het kom kuier, maar wat maak jy hier?”
“Ek was nie per toeval in die omgewing nie, Leana. Ek het jou adres by Dirk gekry en wou met jou kom praat.”
“Waaroor?” vra Leana, maar weet reeds – Brandt Faber.
“Brandt is besig om ... hom ten gronde te werk. Hy is omtrent dag en nag op kantoor. Dis asof die duiwel hom jaag en hy sukkel om voor te bly.”
“Dit het eintlik niks meer met my te doen nie, Moira. Het jy vergeet? Ek werk nie meer vir hom nie.”
“Jy het alles daarmee te doen, Leana. Vandat jy weg is, ken hy geen vrede nie. Hy lag selde meer en sy pak klere hang soos ’n sak aan hom.”
Leana se hart trek bekommerd saam. Dis nie hoe sy hom ken nie.
“Miskien ... miskien haal sy bedrywige sosiale lewe hom in. Hy word nie jonger nie en die gewillige meisies seker ook nie minder nie.”
“Moenie so hardvogtig wees nie, Leana, en luister net na wat ek te sê het. As jy dan voel dit het niks met jou uit te waai nie, kan ek met ’n geruste hart wegry en weet ek hét probeer.”
Susara bring die tee en Leana skink vir hulle. “Nou goed, vertel my van Brandt.”
“Ek dink Brandt is besig om weg te kwyn ... oor jou.”
Leana kan nie haar bitter laggie keer nie. “Hoekom dink jy so?”
“Ek werk al baie jare vir hom en ek ken elke nuk en gier. Ek weet wanneer hy in ’n meisie begin belang stel en ek kan sien as hy vir haar moeg word. Maar nog nooit het hy soveel intense en teenstrydige emosies soos die afgelope tyd getoon nie. Hy het sy passie vir sy werk verloor.”
“En dis ’n ramp,” sê Leana sarkasties.
Moira ignoreer dit. “En sy passie vir ... geldmaak.” Sy bly ’n rukkie stil sodat haar woorde by Leana kan insink. “Hy is nie meer so genadeloos in sy sakebesluite nie. Verlede week het hy ’n multimiljoenrand-transaksie deur sy vingers laat glip. Hy het agterna net belangeloos sy skouers opgehaal en gesê dit beteken tog niks. Dis net geld.”
“Brandt doen nooit iets sonder ’n goeie rede nie. Hy weet miskien reeds dis dalk nie ’n goeie transaksie nie,” sê sy steeds skepties.
Moira skud haar kop. “Onthou jy die Target Trade-transaksie? Gister kon hy dit nie oor sy hart kry om driehonderd werknemers af te dank nie. Hy het opdrag gegee dat ’n ieder en ’n elk iewers in die maatskappy geakkommodeer word. Dieselfde met Kaap-tekstiele. Geen afdankings nie, al beteken dit dat hy heelwat minder geld uit die ooreenkoms maak.”
Moira drink ’n slukkie tee. “Vir Kaap-tekstiele beplan hy ’n dagsorgsentrum. Net sodat die tagtig vroue wat daar werk hulle nie bedags oor hulle kinders hoef te bekommerd nie. En moenie van Pierre Schultz en Lion’s Den vergeet nie. Hy het toe reeds begin verander.”
Leana luister met groot oë. Dit klink glad nie na die Brandt wat sy ken nie. Miskien het Moira rede om bekommerd te wees. Maar sy het steeds haar bedenkinge.
“Wie sê ek het iets daarmee te doen? Ek en Brandt is nie juis op goeie voet uitmekaar nie. Hy het dit meer as duidelik gemaak dat ons ooreenkoms verby is.” Sy lag weer bitter. “Dalk is dit Rita of ’n nuwe meisie wat sy wêreld so op sy kop draai. Miskien het een van hulle reggekry wat baie ander nie kon nie. Miskien het hý liefgekry.”
Moira frons. “Waarvan praat jy? Brandt is die afgelope twee maande nog nie in die geselskap van ’n vrou gesien nie. Daar ís nie ’n ander meisie nie, Leana. Besef jy nie? Hy het doelbewus vir jou gelieg.”
Leana is te bang om bly te word. “Maar ek het self gehoor hoe hy ’n afspraak met Rita maak?”
Moira skud haar kop. “Ek is doodseker hy het haar nie daardie aand uitgeneem nie. Jy was seker nie ’n halfuur weg nie toe hy sy deur oopmaak en vra ek moet hom na ’n vergadering vergesel. Ek moes nog my man laat weet ek gaan laat wees, want ná die vergadering was daar ’n skemerpartytjie.”
Leana se keel wil toetrek. “Hoekom sou mý weggaan so ’n verwoestende uitwerking op hom hê?”
“Dis wat jy self moet uitpluis. Dalk mis hy jou ... jou geselskap, die uitdaging wat jy hom gebied het. Dalk voel hy meer vir jou as net ... vriendskap.”
“Nee, dit kan nie wees nie, anders sou hy al met my in aanraking probeer kom het. Hy gaan dalk net deur ’n ... louteringsproses en miskien kom hy nou eers agter dat daar belangriker dinge in die lewe is as geld. Ek het dalk niks daarmee te doen nie.”
“Dis alles net miskiens en dalks, Leana. Jy sal net vir seker weet as jy hom kontak en vasstel.”
Leana skud haar kop. Sy weet nie of sy genoeg moed het om die eerste skuif te maak nie.
“Hoekom moet ek die minste wees? Hoekom moet ek eerste toenadering soek as ek geen waarborge het dat hy wel iets vir my voel nie? Kyk na die feite – ek is reeds twee maande by Faber Dynamics weg en hy het nie een keer probeer om my te kontak nie. Nie eens toe Eston Stander se bedrog in elke koerant in die land uitgeblaker is nie.”
Sy haal diep asem. “En het jy vergeet dat hy my gevra het om te loop? Ek wou nie, maar ... hy het my nie veel van ’n keuse gegee nie. Dis nie hoe ... jy optree as jy iemand liefhet nie.” Die laaste deel van haar sin sê sy sag, meer om haarself te oortuig.
Sy kyk stip na Moira. “As Brandt my dan so graag wil hê ... hoekom doen hy nie eerste iets omtrent die saak nie? Is hy ... te belangrik ... te trots?”
“Trots het niks daarmee te doen nie, maar eerder sy heimlike vrees vir verwerping. Jy ken al ’n bietjie van Brandt se verlede – die storie van sy ma wat haar dronkaard van ’n man bo haar eie seun gestel het. Natuurlik sal hy bang wees dat die een mens vir wie hy werklik omgee ook sy liefde sal verwerp en dalk nie dieselfde oor hom voel nie.”
“Moira ... ek besef sy vertroue in vroue is uiters broos, maar jý verstaan nie hoe groot mý onsekerheid en vrees vir verwerping is nie. As Brandt my ’n tweede keer moet wegstuur ... ek weet nie of ek dit sal oorleef nie.”
“Ek is terdeë bewus daarvan en ek weet dis dalk te veel gevra, maar jy sal van jou kant af daardie vertroue moet herstel. Leana, soms moet ’n meisie haar trots in haar sak steek en veg vir wat sy wil hê. Om die res van jou lewe berou te hê oor iets wat jy nié gedoen het nie; dis ’n baie lang tyd. Buitendien, wat kan jy verloor? ’n Bietjie trots of ’n gekneusde ego oorhou? Vra jouself eerder af, wat kan jy daarby baat as ek reg is?”
Moira is dalk reg. Soms moet ’n meisie die sterker een wees; die pas aangee. En wat kán sy verloor as sy dit in elk geval nie het nie?
Moira interpreteer haar stilswye as verdere hardkoppigheid. “Dink na oor wat ek gesê het. Probeer insien dat Brandt net so kwetsbaar soos ek en jy is, en sy onverskilligheid is dalk net ’n front waaragter hy skuil. Daarom vra ek mooi, gee hom ’n kans, Leana. Vir al wat jy weet, hou jy dalk van die man wat hy nou is. Ek ... ek het in elk geval ’n vermoede dat jy hom reeds liefgekry het. Is ek reg?”
Leana antwoord Moira nie. Sy kyk na haar hande, bang om halsoorkop beloftes te maak.
Moira sit haar koppie neer en kyk op haar horlosie. “Ek sal moet aanstaltes maak. Dis nie vir my lekker om so ver alleen te ry nie.”
Lank nadat Moira weg is, sit Leana ingedagte op die stoep, ’n tweede koppie tee in haar hand. Sy het baie om oor na te dink, maar terselfdertyd is sy meer verward as ooit. Sy dink hoe miserabel sy die afgelope twee maande was. Brandt het haar hele wese oorgeneem en nou bestaan daar ’n piepklein moontlikheid dat hy wel vir haar kan omgee.
Dit bly ’n vergesogte gedagte, maar ’n klein bietjie hoop vlam in haar op. Tog kan sy nie die man wat hy was buite rekening laat nie – hard en genadeloos. Wat is die kans dat sy hom ooit kan verander?
Leana sug diep. Aanvanklik het sy niks van Brandt gehou nie. Met al haar vooropgestelde idees en persepsies was haar indruk van hom nie positief nie. Tog het sy gou in hom sterk eienskappe ontdek wat sy in ’n man kon bewonder ... kon liefkry. Dat sy haar met sy intelligensie misgis het, het sy reeds besef. Nou moet sy boonop hoor dat daar agter daardie masker van onverskilligheid iemand is wat maklik seerkry, en die skanse om hom is net daar om homself te beskerm.
Het haar hart raakgesien wat die verstand nie kon nie? Brandt is tog die soort man wat sy wil hê. Sy sal dom wees om nie minstens een keer te probeer om sy hart te verower nie. As sy dit nie doen nie, sal sy dalk die res van haar lewe daaroor wonder.