Zenlee ruk orent en is nie seker wat haar wakker gemaak het nie. Was dit Minky wat weer in haar slaap praat?
Sy soek in die donker na haar pantoffels en sonder om haar lig aan te skakel, haas sy haar na Minky se kamer. Sy luister by die deur, maar alles is stil en rustig. Dan hoor sy dit weer – in die rigting van Bismarck se kamer. Sy oorweeg dit om eers haar kamerjas te gaan aantrek, maar besef dat die huis in elk geval in donker gehul is.
Voor Bismarck se deur hoor sy duidelik ’n kreun en ’n onsamehangende gemompel. Sy wag nie langer nie en stoot die deur oop.
“Bismarck?” vra sy saggies.
Al antwoord is ’n tweede diep kreun. Sou hy siek wees, wonder sy bekommerd. Sy kan sy bed in die donker onderskei en gaan sit langs hom terwyl sy na die bedlampie soek. Bismarck is natgesweet en sy donker hare kleef teen sy voorkop.
“Nee! Moenie skiet nie. Sy is net ’n kind!”
Sy kop rol oor die kussing. Zenlee besef dat Bismarck ’n nagmerrie het. Sy vel is klam onder haar handpalms toe sy hom saggies skud. Uiteindelik gaan sy oë oop en hy kyk haar verward aan.
“Zenlee ... Wat’s fout? Is dit Minky?”
“Sjuut, nee, Minky makeer niks. Jy het in jou slaap gepraat en ek het kom kyk wat aangaan.”
Sy brandende oë ontsenu haar en sy sê rustig: “Slaap nou weer; dit was net ’n nagmerrie.”
Toe sy wil opstaan, sê hy hees. “Wag, Zenlee. Bly by my. Ek ...”
Bismarck stoot sy hande deur sy reeds deurmekaar hare, ’n gebaar wat sy nou al goed ken. “Ek kry elke nag hierdie nagmerries en ... dis besig om my gek te maak. Elke keer is dit dieselfde droom – oor en oor.”
“Sê my wat jy droom. Miskien help dit om daaroor te praat.”
“Ek is terug in daardie vlugtelingkamp en daar is oral rebelle. Die kind wat die soldaat wil skiet ... word skielik Minky. Ek staan versteen en kan nie ’n vinger verroer om my kind te help nie. Net voor hy haar in die rug skiet, ruk ek wakker.”
Zenlee vat sy hand om hom te paai. Sy vingers bewe.
“Dis net ’n droom, Bismarck. Dis verby en al wat saak maak, is dat jy veilig tuis is.”
Bismarck skud sy kop. “Dis besig om my te vernietig.” Hy hou haar hand stywer vas. “Bly by my, Zenlee. Moenie loop nie. Soos ’n kind begin ek die nagte vrees.”
Op hierdie oomblik word Bismarck se pyn hare. Skielik weet sy wat om te doen.
“Goed, ek sal by jou bly.”
Sy skakel die bedlampie af. “Skuif op.”
Bismarck trek haar dadelik in sy arms in, maar daar is niks dreigend in sy bewegings nie. Zenlee kan sy hart teen haar rug voel klop. Onstuimig en vinnig.
“Dit sal verbygaan, Bismarck. Jy moet net geduldig wees,” praat sy met hom asof hy ’n kind is. “Dis normaal om ná so ’n ervaring sulke rou emosies en vrese te ervaar.”
Sy arms bly styf om haar gespan en eers ná ’n lang ruk voel sy hoe die spanning uit sy arms verdwyn, hoe sy asemhaling rustig word. Sy is seker hy het lankal aan die slaap geraak, toe lê sy nog by hom. Sy glimlag skielik. Dis nie hoe sy haar ’n nag in sy arms voorgestel het nie, maar krummels is seker beter as niks.
Sy kruip gemaklik teen hom aan en sluit haar oë.
Zenlee word stadig bewus van haar omgewing en van die arm wat swaar oor haar bors lê. Haar oë vlieg oop toe sy besef sy lê steeds in Bismarck se bed. Sy voel ook sy asemhaling teen die fyn haartjies in haar nek. Versigtig probeer sy haar hand oplig, maar sy arm verstyf asof hy haar instinktief wil keer om weg te gaan. Sy probeer weer en die keer voel sy hoe hy wakker word. Sy bene beweeg teen haar kuite en sy voete verstrengel met hare. Dan beweeg hy sy kop en nestel sy ken dieper in haar nek in. Sy dag oue baard kielie haar en haar arm is die ene hoendervleis. Hy vryf oor haar kaal arm.
“Kry jy koud?” fluister hy half deur die slaap.
“Nee, dis amper dagbreek en ... ek moet teruggaan na my eie kamer.”
“Moenie,” fluister hy weer en die keer vind sy hand haar oop midderif.
Zenlee trek haar asem in en wag gespanne dat hy weer beweeg. Dan weet sy nie of sy verlig moet wees of moet keer toe sy hand stadig oor haar maag streel en uiteindelik die sagtheid van haar bors vind nie. Sy vingers kelk net om die ronding, asof hy dit onbewus in sy slaap doen. Sy blaas haar asem stadig uit, maar dan beweeg hy sy bene en dié keer voel sy duidelik die spanning in sy lyf aan. Sy kan dit nie verkeerd interpreteer nie.
“Zenlee,” kreun hy teen haar oor.
Haar bors verstyf in sy hand en dadelik speel sy vingers met die sensitiewe puntjie. Dié keer snak sy hardop na haar asem. Bismarck moet haar dreigende oorgawe aanvoel, want sy hand gly terug na haar midderif en selfs verder. Sy vingers glip onder haar pajamabroek se rekkie in en die keer boog Zenlee haar rug toe sy vergete sensasies in herinnering roep. Sy gryp sy hand vas voor hy verder kan gaan. As sy nou ingee, kan sy dit dalk die res van haar lewe berou, want hoe kan iemand diep van die liefdesbeker drink en ongeskonde daarvan afkom?
Bismarck neem dadelik sy hand weg en skuif effens op sodat hy haar op haar rug kan rol. Dis reeds lig genoeg in die kamer om sy gesig te sien. Wat sy lees, laat geen twyfel by haar dat Bismarck haar begeer nie. Sy kan ook nie die smeulende begeertes in haar eie lyf ignoreer nie.
“Verstaan jy nie, Zenlee? Ek het jou nodig.”
Nodig. Daar sê hy dit weer. Maar die keer verstaan Zenlee dat die woord meer as een betekenis het. Bismarck het haar nie nou nodig om na sy kind of sy huis te kyk nie. Bismarck het haar nou nodig soos net ’n man ’n vrou kan nodig hê – op die primitiefste manier.
Zenlee voel hoe haar onderlyf bewe en sy kan dit nie langer ignoreer nie. Sy het Bismarck ook nodig – soos sy asem nodig het. Sy steek haar hand uit en trek sy kop af na hare. Toe hy haar soen, gaan haar mond onder syne oop en vlam die passie tussen hulle op. Nie ’n stadig flikkerende passie soos die liggie van ’n kers nie, maar soos dié van ’n gaslamp – ’n onmiddellike witwarm vlam wat ontplof toe dit aangesteek word.
Bismarck laat haar lippe vry sodat hy haar slaaptoppie oor haar kop kan trek. Dan is sy hande en sy mond op elke sentimeter van haar bolyf. Sy tong terg die puntjies van haar borste tot sy magteloos kreun. Maar Bismarck is nie haastig nie. Hy draai op sy rug en trek haar bo-op hom. Sy hand streel oor haar naakte rug en haar borste druk teen sy gespierde borskas.
Zenlee was nog nooit so bewus van haar vroulikheid nie en dat dit met elke asemteug om bevrediging skree. Juis daarom gooi sy haar inhibisies oorboord en druk haar lippe teen sy nek, byt die sagte plekkie waar sy nek en skouer bymekaarkom. Sy laat haar lippe strelend oor sy borskas beweeg en met haar tong terg sy sy naeltjie. Met genoegdoening sien sy hoe sy spiere saamtrek. Met ’n kreun laat Bismarck sy hande onder haar pajamabroekie ingly en skulp dit dringend om haar sitvlak. Hy skuif haar lyf sodat sy wydsbeen oor hom sit. Hy het duidelik geen benul wat sy aksies aan haar doen nie. Met sy hande op haar heupe boots hy die ritme van die liefdesdaad na en dis Zenlee wat dit nie kan hanteer nie.
“Nee,” teken sy protes aan. Sy wil vervulling ervaar, nie voortydig van ’n poel vurige begeerte tot grys as uitbrand nie.
Bismarck verstaan en swaai haar terug onder hom. Met stadige, erotiese bewegings trek hy haar broekie oor haar heupe en dan val sy eie langs haar voor die bed.
Bismarck is skielik baie stil en Zenlee maak haar oë oop.
“Is iets fout?” vra sy hees.
Bismarck se gesig is sag en sy oë baie teer in die oggendskemer.
“Is jy seker, Zenlee?” vra hy hees.
Kan hy dan nie sien sy is verby omdraai nie? Nee, dat sy sal sterf as dit nie gebeur nie. Sy antwoord hom deur haar arms om sy bolyf te laat gly en hom styf teen haar vas te trek, haar mond gewillig teen syne te druk, en dan verloor sy tred met realiteit. Sy word in ’n vorteks ingesuig waar haar gees saam met syne buite beheer spiraal – vinniger en vinniger tot sy aan die einde van die tonnel saam met ’n verblindende lig in die vergetelheid uitgespoeg word.
Toe Zenlee wakker word, is Bismarck se slaapkamer vol sonlig. Sy kyk geskok rond. Daar is geen spoor van hom nie, maar dan hoor sy die stort. Sy gooi die laken vervaard van haar af en soek haar pajamas. Sy kry haar pajamabroekie voor die bed, maar moet tussen die lakens rondkrap vir die toppie. Sy hoor die kraan toegaan en trek blitsig aan. Sy laat spaander deur toe, maar onthou van haar pantoffels. Sy kan net dink wat Marge gaan dink as sy haar pantoffels voor Bismarck se bed kry.
Voor sy by die deur uitglip, hoor sy haar naam, maar ignoreer dit doelbewus. In haar kamer soek sy dadelik na haar wekker. Sesuur. Sê nou net Marge of Minky het haar al in haar kamer kom soek?
Daar is ’n kloppie aan haar deur en sy het ’n vermoede dis Bismarck. Besluiteloos staan sy in die middel van haar slaapkamer. Kan sy hom vanoggend in die oë kyk?
Ná die tweede kloppie stap sy vinnig deur toe. Bismarck staan in ’n netjiese pak klere voor haar.
“Zenlee?”
Hoewel dit al is wat Bismarck sê, praat sy oë boekdele. Zenlee sluk swaar, nog nie gereed om sommer van die wonderlike nag te vergeet nie. Bismarck se hand skulp om haar ken en lig haar gesig na hom. Toe hy haar soen, is dit sag en gerusstellend.
“Ek sou graag wou bly om saam met jou ontbyt te eet, maar ek en Eddie het ’n afspraak in die stad. Kan ons vanmiddag verder praat?”
Daar is ’n paar geluide verder in die gang af en Zenlee knik vinnig. “Dis reg.”
Bismarck steur hom nie daaraan nie, maar trek haar in sy arms in. Hy ruik skoon en manlik, en skielik onthou sy dat sy nog nie tande geborsel het nie. Sy trek verleë weg en stoot die deur effens toe.
Bismarck lag. “Skaam vir my, lieflike Zenlee? Jy hoef nie te wees nie.”
Zenlee voel hoe haar wange warm word. Sy besef skielik dat Bismarck haar lyf tot in die fynste besonderhede ken en sy sal nooit weer na hom kan kyk sonder om aan hulle nag saam te dink nie. Sy weet ook dat sy onbesonne opgetree het, want nie een keer het Bismarck die woord liefde gebruik nie. Sy liefkosing was in alle opsigte teer en met respek, maar geen beloftes is gemaak nie. Soos ’n hormoonbelaaide tiener het sy netjies in ’n slaggat getrap.
“Wat’s nou fout, Zenlee? Jy lyk skielik ... omgekrap.”
“Ek ... dis niks. Ek wil aantrek voor Marge my kom roep.”
“Nou goed, ek sien jou later.”
Toe Zenlee met lam knieë op haar bed gaan sit, weet sy dat sy die fout van haar lewe gemaak het. Een nag in Bismarck se arms en sy sal dit nooit kan vergeet nie. Bismarck is die man wat die dooie kors om haar hart met teer liefkosing afgebreek het. Met passie het hy ’n vuur in haar binneste aangesteek wat sy gedink het lankal tot as uitgebrand het. In haar vlam self ’n klein bietjie hoop op dat sy tog nog ’n kans het om ’n lewe saam met Bismarck te begin en dat hy nie sal omgee as sy nie kan kinders hê nie. Al het hy nog nie weer oor ’n permanente verhouding gepraat nie, wil sy alles vir hom sê. Sy staan op, gryp haar kamerjas en knoop dit toe terwyl sy vinnig agter hom aanloop, maar by die voordeur hoor sy hom met iemand praat. Sy gaan net binne die deur staan.
“Ek dink dis ’n goeie idee, Amanda. Ons moet beslis oor ons verhouding praat.”
Bismarck bly ’n rukkie stil. “Dan sien ek jou vanaand.”
Zenlee tree stadig terug en wag tot Bismarck se motor by die hek uitry voor sy omdraai. Sy moet diep asemhaal voor haar hartklop na normaal terugkeer. Amanda is dus nog steeds in die prentjie en gek wat sy, Zenlee, is, wou sy glo dat sy bedoeling met haar eerbaar is. Bitterheid stoot soos sooibrand in haar op. En sy het byna geglo gisternag het ook vir hom iets beteken.
Paniek wel skielik in haar op. Sy moet weg wees voor Bismarck terugkom. Sy dink nie sy wil hom weer sien nie. Sy loop angstig deur die huis en kry Marge in die waskamer.
“Marge, ek moet dadelik vertrek. Sal jy na Minky kyk tot Bismarck vanaand terug is?”
Marge frons.
“Het jy slegte nuus ontvang?”
“Ja ... so iets ... ek sal later verduidelik. Ek gaan net gou my tasse pak. Miskien ... moet ons niks vir Minky sê nie. Ek wil haar nie onnodig ontstel nie.”
Zenlee weet dis nie waar nie. Minky gaan na haar kom soek die oomblik as sy wakker word.
“Of wag. Ek ... ek sal Susan bel ... miskien kan sy haar vir die dag besig hou.”
Zenlee kan sien Marge wil uitvra, maar is nie nou gereed daarvoor nie.
“Ek gaan pak. Bestel asseblief solank vir my ’n huurmotor.”
Minder as ’n uur later staan Zenlee met haar tasse buite die huis.
“Wanneer kom jy terug?”
Minky se ogies is groot en vol agterdog. Zenlee wurg die leuen uit: “Ek moet net ’n paar goedjies doen. Dit ... behoort nie lank te neem nie.”
Sy vou Minky styf in haar arms toe en probeer om nie te huil nie.
“Kyk asseblief mooi na Minky,” sê sy vir Susan en Marge.