Vier

’n Week later gee Leana toe – Esti was reg, sy kry te min rus. Asof Murphy’s Law dit bepaal, ontwikkel elke tweede bees op Kiepersol skielik een of ander skeet wat sy net saans kan behandel. Boonop is Brandt veeleisender as wat sy verwag het.

“Juffrou Hough, dis die tweede keer dat jy gaap. Verveel ek jou?”

Brandt kyk haar skerp aan en Leana voel hoe haar wange warm word.

“Natuurlik nie.” Sy lig haar ken en probeer geïnteresseerd lyk. “Ek is jammer. Wat het jy gesê?”

“Ek het vanaand ’n afspraak by The Little House. Ek wil hê jy moet saamgaan.”

Brandt haal ’n lêer uit sy laai en skuif dit oor die lessenaar. “Lees hierdeur. Dis die maatskappy se profiel.”

“Lion’s Den,” lees sy voor op. Die naam klink bekend. “Is dit nie ’n wildreservaat of so iets nie?”

“Dis heeltemal reg. ’n Reservaat en lodge in Mpumalanga.”

Leana lees vinnig deur die verslag en toe sy by die laaste bladsy kom, sit sy regop. “Gerhardus de Bruin ...” Dis dieselfde ouditeur wat Investo se sake hanteer het.

“Ken jy hom?”

Leana wens sy kan die geleentheid aangryp wat Brandt haar gee, maar besef dis te gou. Die tyd is nog nie ryp om iets van Eston te sê nie.

“Net van hom gehoor.” Sy maak die lêer toe. “Wat trek ek aan?”

“Dis ’n nagklub.”

“Is dit nie ’n vreemde plek vir besigheid nie?”

“Pierre Schultz, die eienaar van Lion’s Den, is meer by die klub as op sy wildplaas. Dis een van die redes hoekom hy finansiële probleme het. Hy weet nie ons het ’n afspraak nie.”

Leana snap uiteindelik – Brandt wil met hom praat waar hy kwetsbaar is.

“Hoe laat moet ek daar wees?”

“Negeuur.”

Dit skep vir haar logistieke probleme. Sy sal skaars op die plaas wees voor sy weer moet terugry. Sy sal ’n ander plan moet maak. Leana staan op en soek na haar selfoon.

“Verskoon my, asseblief? Ek wil net ’n paar reëlings gaan tref.”

Moira praat oor die telefoon en sy moet ’n rukkie wag voor sy ’n foongids kan vra.

“Waarna soek jy?”

“’n Goeie hotel, sommer hier naby. Ek wil vannag in die stad oorbly.”

Moira frons. “Ek het nooit gevra nie. Waar bly jy?”

“Dertig kilometer anderkant Brits.”

“Dis ’n stewige entjie om te ry. Oorweeg jy dit nie om nader te trek nie?”

“Dis nie moontlik nie. Ek het ... verpligtinge en moet ander mense in ag neem,” antwoord sy so vaag moontlik.

Voor Moira vir haar die nommer van ’n hotel kan gee, praat Brandt agter haar.

“Ek was nie bewus daarvan dat jy so ver uit die stad bly nie, juffrou Hough. Maar dit sal nie nodig wees om in ’n hotel te oornag nie. Ek het meer as genoeg plek in my huis.”

Leana laat haar foon verbaas sak. “Ek kan dit nie doen nie.”

“Natuurlik kan jy. Dis die logiese oplossing en ek is seker jou ander ... verpligtinge sal verstaan. Inteendeel, wat gaan jy doen as ons volgende week Kaap toe gaan? Daar gaan ons in my strandhuis tuis.”

“Eerstens het jy my nog nie ingelig ons gaan Kaap toe nie en tweedens kan ek nie sommer net by iemand afpak nie.”

“Hoekom nie? Dis tog suiwer weens werk.”

Leana sug heimlik. “Nou goed, een aand is seker nie die dood van Katryn nie, maar ek moet nogtans ’n paar reëlings tref. Ek het ook nie iets om vanaand aan te trek nie.”

Brandt glimlag en sy sien die tevrede lig in sy oë. Dis duidelik dat hy daarvan hou om sy sin te kry.

“Dis dan afgespreek. Tref jou reëlings en gaan koop wat jy nodig het. Ek kry jou weer vyfuur hier. Jy los jou motor in die kelder waar dit heel veilig is en môreoggend ry ons saam kantoor toe.”

Leana kan nie help om te wonder of die toneeltjie hom al voorheen in Faber Dynamics afgespeel het nie. Hoeveel van sy ander vroulike werknemers se karre het al in die kelder oornag? Sy kyk vinnig na Moira, maar haar gesig is uitdrukkingloos. Óf sy is ’n goeie sekretaresse wat weet wanneer om haar blind en doof te hou óf sy dink nie Brandt se versoek is vreemd nie.

Dan besef Leana sy is eintlik kinderagtig. Brandt het haar tog goed laat verstaan wat die grense is – dat hulle net op formele vlak mag beweeg. Sy voorstel bevestig eintlik net wat sy reeds weet: Sy is ’n sekslose werknemer, ’n nommer op ’n betaalstaat, niks meer nie. Eintlik moet sy verlig voel.

Brandt se selfoon lui in sy sak, en toe hy omdraai en wegstap, hoor sy hoe hy Amber groet. Sy stemtoon verander, word diep en intiem. Dit laat haar geensins beter voel nie.

Voor vyfuur stap sy met haar inkopies die kantoor binne.

Brandt maak sy skootrekenaar toe, bêre dit in sy drasak en trek sy baadjie aan, beduie met sy hand en sy stap eerste uit. Onder in die kelder hou hy sy Mercedes se deur vir haar oop. Sy maniere is onberispelik, besef Leana opnuut, dis net sy gevoellose houding teenoor mense wat haar telkemale verbaas. Sy wonder soms wat hom dryf om so op te tree.

Brandt se huis is nes sy haar dit voorgestel het, groot en imposant en hoog teen ’n koppie geleë. Die ontwerpermeubels in die groot oopplanvoorportaal en leefarea is beslis deur ’n binneversierder gekies en saamgevoeg, en die groot blink teëls sonder twyfel ingevoer. Die atmosfeer is soveel anders as haar eie gemaklike plaashuis.

“Hou jy hiervan?”

Leana draai om en wonder hoe lank Brandt haar gesigsuitdrukking al dophou.

“Dis lieflik. Jou smaak, of die binneversierder s’n?” glip die woorde sommer uit.

Brandt frons. “Hoekom vra jy?”

“Jou huis het baie warmte en skep ’n atmosfeer van rustigheid, iets wat ek nie met jou vereenselwig nie.”

Daar is ’n oomblikkie stilte en Leana kyk dan vinnig na Brandt. Het sy haar grense as ’n gas oorskry?

“Jy is doodreg; ek het dit nie gekies nie. My persoonlike smaak is skoner, klinies. Ek verkies baie glas, chroom, teëls en min meubels. Ek hou van ruimte om my.”

Sy voel skielik skuldig. Dis nie haar reg om haar gasheer se smaak te kritiseer nie.

“Tog is alles wat ek sien baie mooi en spreek dit van goeie smaak,” probeer sy vergoed omdat sy so taktloos was.

“Almal het iets moois in hulle lewe nodig, juffrou Hough, selfs ek. Kom, Mara, my huishoudster, het een van die boonste kamers vir jou gereed gekry.”

Leana volg hom teen ’n stel trappe op en laat haar pakkies sommer op die groot dubbelbed val. Sy stap dadelik na die oop skuifdeur toe. Sy kan die Voortrekkermonument, Telkom se toring en selfs ’n stukkie van Unisa sien.

“In die aand het ’n mens ’n pragtige uitsig op Freedom Park se ligte,” praat Brandt agter haar. Hy het haar tot op die balkon gevolg.

Leana neem die hele prentjie ademloos in. “Jy is gelukkig om so ’n plek te hê, meneer Faber,” sê sy.

Sy kyk om toe hy nie antwoord nie. Sy oë is op haar, nie op die uitsig nie.

“Ek is gelukkig, nè?” sê hy, maar Leana kry die idee die woorde beteken niks. “Jy wil seker jou inkopies uitpak. Maak jou tuis. Ek het gedink ons eet sommer hier.” Hy kyk op sy horlosie. “Aandete is sesuur op die terras reg onder ons. Jy sal dit maklik kry.”

Leana staan nog ’n rukkie daar. Dit voel vreemd om Brandt Faber in sy eie milieu te sien. Hy lyk minder streng en minder gevaarlik. Sy skrik vir haar laaste gedagte. Menige meisie het seker al daardie fout gemaak – gedink Brandt is onskadelik en haar verdediging verslap. Sy gaan nie dieselfde doen nie. Brandt moet tot elke prys op ’n afstand gehou word.

Leana gebruik die paar minute tot haar beskikking om haar inkopies uit te pak en op te hang. Dan loer sy by die badkamer in. Op die marmerblad lê ’n haardroër, ’n krultang en selfs ’n tandeborsel nog in sy verpakking. Brandt, of sy huishoudster, dink aan alles.

Later stap sy met die trappe af en soek die uitgang na die terras. ’n Kleinerige tafel is reeds vir twee gedek. Brandt staan met sy rug na die deur en tuur oor die stad. Hy het sy baadjie uitgetrek en Leana kan nie anders as om sy breë skouers te bewonder nie. Sy heupe is smal en sy is seker sy bene is ook goed ontwikkel. Haar hart fladder en sy skrik. Sy kan haarself nie toelaat om iets aan Brandt Faber te bewonder nie. Sy stamp aan ’n stoel om sy aandag te trek.

Brandt draai stadig om, glas in die hand.

“Kan ek vir jou iets skink voor ons eet? Mara sal waarskynlik ’n bottel wyn op die tafel sit.”

“Nee dankie, ek kan wag vir wyn.”

Brandt trek ’n stoel uit en sy moet gaan sit.

“Ek het ’n paar minute gelede met Samuel Kromhout gepraat. Hy en sy direksie het besluit om Recon aan ons te verkoop.”

Hoekom is sy nie verbaas nie? “Teen jou prys?”

“Ja. Nie vir ’n sent meer of ’n sent minder nie.”

“Kan ek vra hoe jy hom toe oorreed het?”

“Danksy jou fyn waarneming, het ek op die twee broers gekonsentreer. Theo het amper meer dobbelskuld as wat sy pa kan betaal en Gerhard se slegte drinkgewoontes het tot ’n paar impulsiewe saketransaksies gelei wat die maatskappy verder onder finansiële druk plaas. Noudat dit aan die lig gekom het, is Samuel maar te gretig om te verkoop.”

Koelbloedig, beredeneerd en sonder genade, dis Brandt Faber. Sy wonder of hy gesorg het dat die Kromhouts se geraamtes uit die kas klim. Dit sou beslis deel van sy strategie wees. Geen wonder hulle noem hom ’n duiwel nie. Sy probeer om nie haar afkeer te wys nie, want het sy hom nie ook vir haar eie verskuilde agenda nodig nie?

“Wat gaan jy nou doen?”

“Nou doen ek wat ek die meeste geniet – die maatskappy regruk en weer winsgewend maak.”

’n Huishulp bring hulle kos en Brandt maak self die bottel wyn oop. Terwyl hulle eet, lig hy haar in oor sy planne vir die komende week. Toe hulle klaar geëet het, staan Leana op.

“Dankie vir die ete, meneer Faber. Verskoon my, ek wil solank gaan klaarmaak.”

“Plesier, juffrou Hough.”

Hulle kon netsowel op kantoor gewees het, dink Leana terwyl sy na haar kamer stap. Brandt moes regtig lelike stelle met sy vorige assistente afgetrap het.

’n Uur later is Leana gereed. Sy dra haar hare los en dit hang lank en blink langs haar gesig. Die eenvoudige groen rok met sy regaf snit wat net bokant haar knieë eindig, verhoog haar sensualiteit, en sy voel jonk en sexy. Sy kyk op haar horlosie. Daar is nog heelwat tyd as Brandt eers negeuur by die nagklub wil wees. Aan die bopunt van die trappe sien sy ’n beweging in die voorportaal.

Brandt sien haar op dieselfde oomblik raak. Sy oë gly opsommend oor haar en dié keer flits bewondering tog oor sy gesig. Sy sukkel om haar eie weg te steek, want hy lyk uiters manlik in sy wit hemp en sportbaadjie. Leana wag dat hy haar komplimenteer, maar dit gebeur nie. Hy wag net vir haar om voor hom uit te loop.

Buite hou hy ’n rooi sportmotor se deur vir haar oop. Natuurlik sal hy twee motors hê. ’n Praktiese motor vir werk en een om meisies te beïndruk, dink sy katterig terwyl sy inklim.

Die nagklub in Sandton is soos Leana verwag het; ’n tipiese speelplek vir rykes. Brandt is nie ’n onbekende nie, want die kelner groet hom met ’n breë glimlag.

“U gewone tafel is gereed, meneer Faber.”

Die jong man lei hulle na ’n afgesonderde hoekie van waar hulle almal kan dophou, maar waar die musiek minder oorverdowend is. Terwyl hy hulle bestelling neem, hou Leana die mense dop en wonder wat die kans is om Gerhardus de Bruin hier raak te loop. Hy en sy kliënt Pierre Schultz kuier seker nie ná werktyd saam nie.

“Kom ons gaan dans,” sê Brandt onverwags.

Leana staan op en stap voor hom uit na die dansvloer. Die musiek is hard en polsend en haar lyf begin werktuiglik op die ritme beweeg. Sy kan nie onthou wanneer laas sy gedans het nie. Ná ’n rukkie voel sy hoe die spanning uit haar rug en skouers sypel en begin sy dit geniet. Sy voel effens selfbewus, want Brandt hou haar bewegings met niksseggende oë dop.

“Jy dans baie goed,” sê Brandt.

Leana antwoord hom nie.

Ná ’n ruk hou Brandt sy hand na haar uit. “Kom, ek het genoeg gehad.”

Sy neem sy hand en volg hom deur die groeiende skare jongmense. Weer eens laat Leana hom toe om die pas aan te gee. Wat hy nie weet nie, is dat dit nie in haar aard is om iemand blindelings te volg nie, maar in dié geval betaal hy haar om ’n gehoorsame marionet te wees. Buite die kring los sy dadelik sy hand. Die kelner het intussen hulle drankies op die tafel neergesit en Leana proe stadig aan hare.

“Hoe oud is jy, juffrou Hough?”

Die persoonlike vraag is so onverwags dat Leana skerp na hom kyk. “Sewe en twintig.”

“En nog nooit getroud nie?”

“Nee, daar was nog altyd iets belangrikers in my lewe as ’n man.”

Brandt se oë vernou en Leana is heimlik geamuseerd. Hy wonder natuurlik oor haar seksuele oriëntasie.

“Nee, ek is nie gay nie. Ek het ook nie ’n ernstige liefdesteleurstelling gehad nie. Ek het doodeenvoudig nog nie iemand ontmoet saam met wie ek die res van my lewe wil deurbring nie,” beantwoord sy die vraag in sy oë.

Brandt glimlag en Leana se hart klop vinniger.

“Dis een eienskap van jou waarvan ek hou. Jy is reguit en slaag telkemale daarin om my te verras. Nie baie meisies kry dit reg nie.”

“Ek sien nie die nut van voorgee tussen ons nie. Ek en jy weet presies waar ons met mekaar staan. Jy is baas en ek Klaas.”

“En die reëling pas jou blykbaar goed,” sê hy lakoniek.

Leana wonder waar die skielike sinisme in sy stem vandaan kom, maar hy kyk skielik oor haar skouer.

“Daar is Schultz. Hy dans met die meisie, in die rooi rok.”

Pierre Schultz is kort, in sy middeldertigerjare en volgens sy stadige bewegings op die vinnige ritme dalk klaar aangeklam. Toe Piere met sy arm om die meisie se skouer na die ultramoderne kroegtoonbank beweeg, staan Brandt op. “Ek’s nou terug.”

Hy praat met Pierre en die meisie, en kort daarna volg hulle hom na hulle tafel.

“Kyk wie loop ek hier raak, Leana, ’n ou sakevriend.”

Leana stort amper haar drankie en sit haar glas vinnig neer.

“Kan hulle maar by ons aansluit?”

“Natuurlik ... Brandt,” sê sy en glimlag liefies. Sy kyk nie na hom nie en maak asof die gebruik van voorname die gewone aanspreekvorm tussen hulle is.

“Dis Pierre Schultz en sy vriendin Melanie.”

Brandt hou die gesprek lig en eers nadat hulle ’n tweede rondte drankies bestel het, begin hy oor die huidige ekonomiese klimaat gesels. Pierre sluk vinnig die aas en kort voor lank weet selfs Leana Pierre sukkel om Lion’s Den aan die gang te hou.

“Ek verstaan eintlik nie hoe ek in so ’n gemors kon beland nie. Die lodge se bestuurder sê sake is goed, die Amerikaners en Japannese wat kom jag, bring goeie geld in, maar die boeke vertel ’n heel ander storie.”

Leana hou Brandt fyn dop. Sy vrae is subtiel en op die oog af suiwer belangstelling. Hy laat haar aan ’n gevaarlike leeu dink wat sy prooi stelselmatig afkeer en gereed maak vir die dodelike byt.

Hulle gesprek word onderbreek toe ’n ouerige man met ’n effense bles agter Pierre kom staan en hom op die skouer klap. Die boonste drie knope van sy hemp is oopgeknoop en ’n dik goue ketting blink tussen ’n paar grys borshare. Aan sy arm hang ’n poppie jonk genoeg om sy dogter te wees. Pierre kyk verbaas om en staan dadelik met ’n glimlag op.

“Gerhardus, wat maak jy hier?”

Al Leana se nekhare staan orent. Dit kan net die ouditeur wees. Om die bewing in haar vingers te keer, hou sy haar glas stywer vas. Uiteindelik staan sy voor een van die mans wat Jake en Esti se ondergang so koelbloedig beplan het. Pierre stel Gerhardus aan hulle voor. Die musiek om haar vervaag en ’n vlaag naarheid stoot in haar keel op. Haar oë soek na Brandt s’n sodat sy net op iets bekends kan konsentreer.

“Jy is bleek,” kom Brandt se stem van ver na haar aan.

Sy probeer glimlag. “Dis bedompig. Ek gaan net ’n bietjie vars lug skep. Verskoon my.”

Sy gee nie om wat hulle dink nie, sy moet so gou moontlik haar emosies in toom kry. Sy stap by die voordeur uit en asem die vars lug diep in. Haar verstand word helder en die naarheid verdwyn.

“Ons kan maar gaan.”

Brandt staan agter haar en het haar klein silwer sakkie in sy hande.

“Jy het seker nie klaar gekuier nie.”

“Ek het alles gehoor wat ek wou weet.”

Hy neem haar aan die arm en stuur haar na waar die rooi motor staan. Hy sê niks terwyl hulle terugry nie en Leana wonder of hy dalk vies is.

“Gaan jy solank binne, ek parkeer net die motor,” sê Brandt toe hy voor sy imposante huis stilhou. “En moenie gaan slaap nie; ek wil met jou gesels,” kelder hy haar plan om vinnig weg te glip.

Leana wag gedwee in die sitkamer. ’n Paar minute later sak hy op die leunstoel voor haar neer. Sy oë is helder vir dié tyd van die aand.

“Nou goed, wat dink jy?”

Leana weet sy waag dalk te veel. Boonop stel sy haar aan ’n klomp vrae bloot, maar sy gee hom haar eerlike mening: “Ek dink Gerhardus de Bruin verduister Lion’s Den se geld en is stelselmatig besig om Pierre Schultz se ondergang te bewerkstellig.”

Brandt se lui houding verdwyn en hy sit regop. “Ekskuus? Hoor ek reg?”

Min mense betrap Brandt so onkant.

“Ja, ek is oortuig daarvan. Te veel klop nie. Die goeie buitelandse valuta wat die wildreservaat inbring teenoor die finansiële state wat ’n totale verlies aandui. En omdat De Bruin Pierre se vriend is, sien hy nie verder as sy neus nie en vermoed hy ook nie vuil spel nie. In die huidige omstandighede behoort jy geen probleem te hê om Lion’s Den teen ’n appel en ’n ei te koop nie.”

Haar laaste sin klink soos ’n beskuldiging en is seker onnodig, maar dis haar ware siening. Die stilte tussen hulle groei. Brandt bly na haar kyk, dan vernou sy oë.

“Van waar ken jy Gerhardus de Bruin?”

Haar eerste reaksie is om dit te ontken, maar hy hou sy hand op.

“Moenie eens probeer onskuldig speel nie. Vandag in my kantoor was jy moeg, maar die oomblik toe jy sy naam lees, verdwyn dit soos mis voor die son. Vanaand het jy so wit soos ’n laken geword toe hy langs ons tafel staan.”

Sy is in ’n hoek vasgekeer en weet nie hoe om daaruit te kom nie. Haar verstand werk oortyd. Haar intuïsie sê die tyd is nog nie reg om Brandt in haar vertroue te neem nie, maar hy wag op ’n antwoord. Sy staal haar.

“Nou goed. Ek ken hom nie. Vanaand was die eerste keer dat ek gesien het hoe hy lyk, maar ek weet van sy reputasie. Daar was al voorheen bespiegelinge oor bedrog, maar geen bewyse kon teen hom gevind word nie. En as hy dit een keer reggekry en daarmee weggekom het, sal hy dit weer en weer probeer. In die proses vernietig hy nog ’n onskuldige man se lewe. Dié keer is dit Pierre Schultz se beurt.”

“Die vorige ou wat hy bedrieg het ... wie was hy?”

Leana dink nie sy het al ’n man met so ’n skerp brein ontmoet nie. Sy gaan nie eens probeer voorgee sy weet nie waarvan hy praat nie.

“Jake Litt. Hy het ... sewe maande gelede verongeluk.”

Brandt dink diep. “Jong, suksesvolle sakeman verloor beheer oor sy motor en sterf. Ja, ek het die berig gelees. Wat was die naam van sy maatskappy nou weer?”

“Investo.”

“Al gehoor van hulle – bestuur beleggingsportefeuljes. Wie beheer dit nou?”

“Sy vriend en vennoot, Eston Stander, besit nou die maatskappy.”

Leana voel weer hoe haar maag op ’n gespanne bolletjie saamtrek.

“Is De Bruin Investo se ouditeur?” vra Brandt reguit.

Voor sy hom kan antwoord, lui haar selfoon in haar aandsakkie. Sy ruk van die skrik. Werktuiglik kyk sy op haar horlosie. Dis elfuur en dit kan net slegte nuus voorspel. Sy hoop nie iets het met Esti op die plaas gebeur nie. Vlugtig kyk sy na Brandt en vra met haar oë om verskoning terwyl sy senuweeagtig opstaan.

“Leana wat praat,” sê sy ademloos. Verligting spoel oor haar toe sy Esti se stem herken.

“Is daar fout?” groet sy hees.

Esti maak verskoning omdat sy so laat bel.

“Dis als reg. Ek het nog nie geslaap nie.”

Dan sê sy dat Jako wakker geword het en weier om weer te gaan slaap voor hy nie met Leana gepraat het nie. Leana hoor hoe sy vir Jako sê om gou te praat. Sy glimlag en wag dat sy ma die foon vir hom gee.

“Wat’s fout, Jako, skat?”

“Leana, wanneer kom jy huis toe?”

“Ek is môreaand by die huis. Ons kan dan praat.”

“Ek mis jou, Leana.”

“En ek mis jou ook, lief. Gaan slaap nou soos ’n soet seuntjie.”

Sy hoor hoe Esti en Jako om besit van die foon stoei en glimlag.

“Nag, Leana. Jammer oor die stout klein rakker. Jy moet lekker slaap.”

“Jy ook,” sê sy laggend voor sy die foon dooddruk. Bang dat Brandt haar verder oor Jake en Gerhard gaan uitvra, tel sy dadelik haar aandsakkie op.

“Goeienag, ek gaan nou slaap.”

“Nag, juffrou Hough. Lekker slaap.”

Brandt se stem klink weer koel en sy is weer juffrou Hough. Dis seker sy manier om vir haar te sê die dag se werk is verby en hulle verkeer weer op formele voet, dink sy vies.

In haar kamer besef Leana sy het aan alles behalwe slaapklere gedink. Sy trek al haar klere uit, hang dit oor ’n stoel en kruip net met haar ragfyn broekie tussen die koel lakens in. Sy skakel die bedlampie af en maak doelbewus haar gedagtes leeg, maar ’n paar blou oë weier hardnekkig om te verdwyn. Sy onthou skielik hoe Brandt na haar gekyk het toe sy die trappe afgekom het en sy oë op die dansvloer. Die gevaarlike lig in sy oë was die kyk van ’n man wat in haar as vrou belang stel, weet sy intuïtief.

Maar met sy reputasie kan sy nie ’n oomblik dink dat dit iets anders as seksuele aantrekkingskrag is nie, want as sy die skinderstories kan glo, verbind Brandt Faber hom nooit tot ’n verhouding nie. Dit gaan altyd net oor seks.