Die naweek is heeltemal te vinnig verby, dink Leana terwyl sy Maandagoggend Pretoria toe ry. Gelukkig kon sy die meeste van haar agterstallige take inhaal. Die nuwe kalwers is geweeg, gemerk en die registers is op datum gebring. Amper al die beeste is gedip en nou kan sy weer ’n bietjie ontspan, al wonder sy kort-kort wat Brandt gaan doen.
Toe sy op haar gewone plek in die kelder parkeer, sien sy Brandt is reeds op kantoor. Sy haal ’n paar keer diep asem.
Agter haar lessenaar kry sy haar elektroniese notaboek reg.
“Hallo, juffrou Skaars.”
Dirk staan in haar oop deur en kyk haar met ’n breë glimlag aan.
“Al wanneer ek jou sien, is as jy iets vir Brandt op die sesde verdieping kom doen. Dan woerts jy met die spoed van lig voor my deur verby.”
Leana glimlag en kyk na haar horlosie. “Jy’s vroeg hier vanoggend. Lekker naweek gehad?”
“Heerlik. Ek het gaan visvang.”
Terwyl hy met heelwat handbewegings verduidelik hoe hy die grote gevang het, dink Leana dat hy baie van sy neef verskil. Hy is spontaan en snaaks en sy hou van hom.
“Maar ek is eintlik hier om jou uit te vra,” sluit hy sy relaas af.
“Jy bedoel ... soos op ’n date? Waarheen?”
“Na Brandt se verjaardagpartytjie. Ek het nie ’n vriendin nie en het gedink aangesien jy in elk geval moet gaan, kan ek sommer jou metgesel wees.”
“Meneer Faber het nie gesê ek is genooi nie.”
“Dis tog vanselfsprekend.”
Sy is nogtans huiwerig om sommer ja te sê. Sy weet nie eens of sy teen Vrydag nog vir Faber Dynamics gaan werk nie.
“Kan ek jou later sê?”
Voor Dirk kan antwoord, stap Brandt by die kantoor in. “Juffrou, Hough, ek wag al tien minute vir jou.” Hy draai na Dirk. “Môre, neef. Het jy nie genoeg werk op die sesde verdieping nie?”
Dirk grinnik. “Môre, Brandt. Natuurlik sorg jy dat ek genoeg werk het. Ek het juffrou Hough net na jou partytjie uitgenooi.”
Brandt betrag Leana kil. “En gaan sy saam?”
“Nog nie, maar gee kans. Laat my weet wat jy besluit. Totsiens, Brandt, lekker dag.”
Leana staan agter haar lessenaar op. “Jammer. Ek het nie besef jy wag vir my nie.” Sy stap voor hom uit na sy kantoor toe.
“Ek het die naweek ’n paar afsprake gemaak wat ek op my selfoon aangeteken het. Jy moet dit asseblief in my dagboek aanbring.”
Op Brandt se tafel lê daar altyd ’n swart afspraakboek sodat sy en Moira op die hoogte van sy bewegings kan bly.
Leana slaan die boek oop en moet ’n bietjie blaai. Sy sien terloops die vorige Vrydag se datum met Pierre Schultz se naam daarby – van nege tot twee namiddag. Ten minste weet sy nou waar hy was.
Brandt maak die kalender op sy selfoon oop en lees die datums vir haar. “Woensdag middagete by die Kleine Parys. Ek ontmoet die besturende direkteur van Simcor Data.”
Leana kyk op. “Kan ek aanneem ons gaan nie meer Kaap toe nie?”
“Ek het dit met ’n week uitgestel. Daar is belangriker goed wat nou my aandag verg.”
Soos om eers Pierre Schultz se besigheid te bekom, dink Leana sinies.
“Dankie, dis al,” sê Brandt toe hy klaar is. “Moira kan nou haar elektroniese dagboek op datum bring.”
Die telefoon op sy lessenaar lui en hy luister aandagtig.
“Goed, Moira, ek sal met haar praat.” Hy kyk nie in Leana se rigting nie. “Môre, Cheré.” Leana kan die ys in sy stem hoor. “Nee, ek het nie jou telefoonnommer vergeet nie; ek beplan net nie om jou weer te bel nie.”
Hy luister weer ’n paar oomblikke. “Ek het jou tog gesê dis verby. Jy kan my nie verwyt nie, want ek het nooit enige beloftes gemaak nie.”
Dié keer hou hy die gehoorstuk ’n paar sentimeter van sy oor weg en Leana kan sien hoekom. Selfs sy kan die meisie aan die ander kant hoor gal braak.
“Ek gaan nou aflui, Cheré,” sê Brandt bedaard. “En moet asseblief nie weer kantoor toe bel nie. Moira sal nie weer jou oproep deurskakel nie.”
Brandt kyk na Leana en sy oë smeul nog van woede. “Moet asseblief nie so geskok lyk nie. As meisies hulle net by die spel hou, sal gesprekke soos dié nooit nodig wees nie.” Hy kyk skerper na haar. “Sien ek afgryse in jou oë, juffrou Hough?”
Sy maak haar mond oop, besef dat sy hom sarkasties gaan antwoord en klap dit toe. Sy probeer haar tong in bedwang hou, maar dis moeilik. Dan het dit skielik ’n wil van sy eie.
“Nee, meneer Faber, dis nie afgryse nie. Dis minagting vir mans soos jy. Julle dink meisies is houtpoppe ... marionette, nie in staat tot enige emosie of pyn nie. Net iets waarmee jy kan speel, kan manipuleer om te sing en dans na jou pype. As jy uiteindelik verveeld raak, moeg word om die toutjies te trek, gooi jy die marionet op ’n rak neer sonder om ooit weer na haar te kyk.”
Dit lyk tog asof haar bitsige antwoord hom tref. Sy oë rek ’n aks.
“Maar wat daarvan as die marionet presies weet wat van haar verwag word?” kap Brandt terug.
“Dan is dit nog steeds die poppemeester se verantwoordelikheid om nie sekere verwagtinge by die marionet te skep nie; haar nie die idee te gee dat sy die poppemeester se groot en enigste ster is nie. Hy moet hom by die draaiboek hou, nie die dialoog en die passies verander soos dit hom pas nie.”
“En as ék my die keer by die reëls gehou het en Cheré is die een wat skielik kerkklokke en die skiet van vonkelwynproppe gehoor het?”
Leana besef sy en Brandt stry in sirkels. Sy hou haar hand op. “Waarop dit neerkom is dat jy deur jou optrede sekere verwagtinge by die meisie geskep het. Daaroor kan jy haar nie kwalik neem nie. As jy enigiets van ’n vrou se psige geweet het, sou jy besef die meeste enkellopende meisies sien altyd meer in ’n verhouding as wat die man noodwendig beplan. ’n Meisie beskou nie ’n bos blomme as dankie sê vir seks nie, maar as ’n boodskap dat hy in meer as net dit belang stel.”
Brandt glimlag sinies. “Gaan jy my nou vertel dat ek vroue nie ken nie?”
“Ek is oortuig daarvan jy weet nie hoe ’n vrou se kop werk nie.”
“Jammer om jou te ontnugter, juffrou Hough, maar ek ken meisies deur en deur én die werking van hulle koppe. Jy is in een opsig reg – in elke klein, onskuldige gebaartjie sien hulle ’n trouring, maar wat hulle heel eerste raaksien, is die man se duur motor en stywe bankbalans. Sy voorkoms en ouderdom is eintlik irrelevant.”
Hoe enigiemand kan dink Brandt is irrelevant, gaan haar verstand te bowe. Sy persoonlikheid is so sterk dat selfs ’n non hom sal opmerk.
Leana wil nie verder stry nie, want in hierdie geval moet sy met hom saamstem – Cheré Robberts het haar inderdaad aan ’n klouerige stukkie kougom laat dink. As sy eers onder jou skoen beland, kry jy haar nie maklik afgeskud nie. Sy weet net nie hoe om met grasie te erken Brandt het rede vir sy misnoeë nie.
“Jy is miskien reg oor die soort meisies wat jy uitneem, maar almal is nie so nie. Party vroue stel doodeenvoudig nie in die vangs van die dekade belang nie. Hulle is eerder op soek na innerlike sterkte, integriteit en morele waardes, want dis die soort man wat bly tot die dood hulle skei, wat gewillig help kinders grootmaak en eendag saam ’n aftreeoord kies.”
“En ek besit nie een van daardie eienskappe nie?” Brandt se oë vernou. “Versigtig, juffrou Hough, jy beweeg nou op gladde ys.”
“Beweeg ek dan nie van dag een af daarop nie, meneer Faber?” antwoord sy snipperig.
Sy oë flikker gevaarlik en Leana besef sy moet haar vinnig uit die voete maak as sy nog ’n werknemer van Faber Dynamics wil bly. Hy het haar in elk geval nog nie ’n beslissing gegee of sy kan bly of nie.
Sy kyk vinnig op haar horlosie. “Verskoon my. Dis amper teetyd en my beurt om die koffie te maak.”
Drie dae later besef Leana sy het nog nie vir Dirk ’n antwoord gegee nie. Volgens Moira is dit ’n gegewe, hulle is albei genooi en Leana kan gerus ’n metgesel saambring. Sy kyk op haar horlosie. Brandt het ’n ontmoeting met sy versekeringsmakelaar en sy het tyd om vinnig uit te glip.
“Dis ’n verrassing,” sê Dirk en staan agter sy lessenaar op.
“Ja, ek het gedink ek kom sê jou van Vrydagaand.”
Dirk se gesig val. “Ek weet; dis jammer dat jy nie saam met my kan gaan nie.”
Leana frons. “Hoekom ... kan ek nie?”
“Brandt het reeds alles verduidelik. Jy moet gasvrou speel.”
“Wat?”
Dirk kyk haar vreemd aan, asof hy haar verbasing nie verstaan nie. “Ja, hy is nie nou in ’n verhouding nie en wil ook nie iemand anders vra nie.”
Leana is behoorlik omgekrap oor die gasvroustorie. Wanneer was Brandt van plan om haar te sê? Sy dink nie eens aan die woordjie vra nie, want dit bestaan nie in ’n man soos Brandt Faber se woordeskat nie. Maar sy wil nie vir Dirk wys dat sy onkant betrap is nie.
“Ek moet terug kantoor toe. Ek het net gedink jy behoort te weet.”
Brandt se makelaar is weg toe sy weer in haar kantoor kom.
“Ek hoor by Dirk ek moet as gasvrou by jou partytjie optree.”
Brandt kyk nie van sy skootrekenaar af op nie. “O, dit. Ek het eintlik net vergeet om jou te sê.”
“Jy vergeet nooit iets nie, en ek haal jou aan.”
Dié keer kyk Brandt op en sy kan sweer sy oë flikker geamuseerd.
“Nou goed, juffrou Hough, jy moet môreaand as gasvrou optree aangesien ek nie weer die verkeerde indruk by een of ander onskuldige maagd wil wek nie. Volgens jou kan ’n uitnodiging as metgesel na my verjaardagpartytjie so goed wees ek kondig my verlowing aan. Met jou aan my sy, sal mense net wonder of jy my volgende ... slagoffer is, en dit kan geen skade doen nie.”
Brandt se verduideliking is heeltemal te lank, dink Leana agterdogtig. Dit voel kompleet asof hy skerm. Maar soos hy sê, daar is niks meer buiten ’n werkverhouding tussen hulle nie en sy hoef oor niks skuldig te voel nie.
“Nou goed, maar ek moet ’n rok gaan soek.”
“Jy kan sommer nou gaan.”
Brandt gaan voort met sy werk en Leana weet die gesprek is afgehandel. Sy gaan as gasvrou optree vir een van die rykste en gesogste mans in die stad, of sy nou wil of nie. Dan onthou sy dat Eston ook genooi is en haar gemoedstemming versuur verder. As ’n gewone gas sou sy ’n lae profiel kon handhaaf, maar as gasvrou ... Sy sal genoodsaak wees om sy hand te skud, met hom te gesels en sy weet nie of sy dit kan doen nie.
Sy wil dit vir Brandt sê, maar dan tree rede in. Ruk jou reg, Leana Hough. Dis jou kans om alles wat jy by Brandt geleer het, toe te pas. Wees geduldig. Leer Eston Stander ken, som hom op en stel vas waar die swak plek in sy pantser is. Jy kan net sukses behaal as jy jou opponent se sterkte én swakhede ken.
“Tref sommer vanaand jou reëlings by die huis vir môreaand,” sê Brandt voor sy by die deur is. “Ek het klaar vir Mara laat weet jy slaap môreaand oor. Jy kan onmoontlik huis toe ry én betyds wees vir die partytjie.”
Leana frons. “Ek kan in ’n hotel oornag.”
“Heeltemal onnodig. Ek gaan in elk geval nie toelaat dat jy in die middel van die nag terugry hotel toe nie. Ek ken my verantwoordelikhede teenoor my werknemers, juffrou Hough.”
Dié woorde laat haar allesbehalwe gerus voel. Wat van sy ander gaste? Voel hy nie ook verantwoordelik vir hulle veiligheid nie? Maar Leana sê eerder niks. Met Brandt Faber weet sy selde waar sy staan.