Teleurgesteld. Dis die gevoel wat in Polly se binneste woed. Plátgeslaan, dalk nader aan die waarheid, dink sy terwyl sy uit die hofsaal storm, kop onderstebo.
Toe sy opkyk, sien sy daar’s ’n gedoente by die hofsaal langs die skeihof. Mense staan tou links en regs in die gang af, selfs hier en daar ’n kameraman. Sy wonder vlugtig of sy op TV gaan wees. Maar niks kan haar veglus wegvat of haar nederlaag uitwis nie. Om te dink sy is stééds met blerrie Archie getroud.
Net so. Blérrie Archie.
Daar het dadels van haar egskeidingsaansoek gekom. Nutteloos, is die volgende woord waaraan sy kan dink. Nuttelose prokureur.
Nikswerd en ’n nul op ’n kontrak.
Nogal Grieks, and she comes highly recommended, het haar vriendin Monica Tredoux-Theron haar verseker toe Polly ’n egskeidingsprokureur gesoek het. Die ewebeeld van Melina Mercouri, het Monica bygelas. (Wie? Mercouri van “Never on Sunday”-faam. O, die liedjie? Nee, Polly, die film én die liedjie!)
Te oordeel aan Monica se stemtoon en die kyk in haar oë dra hierdie ooreenkoms dieselfde gewig as ’n stempel op ’n kontrak. En sy is só sexy! “Is die vrou nie lankal dood nie?” het Polly gevra. Monica het net haar oë gerol.
’n Man spring voor Polly in en vra wie sy is, druk ’n mikrofoon omtrent teenaan haar lippe. Met die woord “sexy” wat deur haar gedagtes maal, sien sy dit vir ’n penis aan en ruk haar kop agtertoe.
“Hoekom wil jy weet?” snou sy hom toe.
Verskrik en verbouereerd laat hy die mikrofoon amper val en beweeg aan.
Het die wêreld mal geword? wonder sy.
’n Vrou met ’n donkerbril bars by die hofsaal uit en trippel in die gang af, omring deur vriende. Mense kom soos afkophoenders aangehardloop, kameras flits.
Polly sukkel haar pad oop deur die samedromming. Wens sý het ’n vriendin aan haar sy gehad, ’n vertroostende arm om haar skouers. Iemand soos Monica. Vyf-en-sewentig jaar oud, ’n wyse ou uil wat ’n mengsel van Engels en Afrikaans praat sonder om skuldig te voel daaroor. En wat sonder om te blik of te bloos erken: “I’ve been around the block a few times.”
Met ’n dubbeldoorvan soos Tredoux-Theron klink sy pure Waterkloof-miljoenêr met ’n martini in die hand. Haar voorkoms beaam dit: bottelrooi hare, perfek omlynde lippies, statige houding, deftige klere, prentjiemooi naels en oë die kleur van piouter wat ’n barshou kyk. Die soort vrou wat haar ou skoene afpluk as iemand onverwags aan haar deur klop, dit in die verbygaan in die oond druk en haar rooi hoëhakskoene, wat toevallig netjies by die voordeur staan, aanglip.
Ná Archie uit haar lewe gedros het, het Polly haar tot Monica gewend vir troos en ondersteuning. Waar hulle in Monica se eenslaapkamerwoonstel op die bank sit, Polly se hand in haar vriendin s’n, snuif Polly hard, haar kykers wasig. Meer van vernedering as hartseer, besef sy. Haar seun is ’n speurder, paai Monica, hy’t ’n hoë profiel in die speurdiens, hy sal sy oë en ore oophou vir Archie.
In sy hokkie op ’n stokkie sit Bing Crosby sy geel kanarievere en flap, sy stemmetjie hoog en skril. Volgens Monica is hy ’n purebred German Roller, luister net hoe rol hy die note in sy keel.
“Bing! Sharrap,” sê Monica hard. “Ék sing nou.”
Dan aan Polly, sag en liefies: “Pollyanna, my skatjie, hulle sê fight fire with fire. As jy oorlog wil maak met ’n Griek, kry ’n Griek. Ons Boere verstaan nie hoe hulle koppe werk nie … die infleksie van ’n woord, die nuanse van ’n stilte, die lig van ’n wenkbrou, die geheim van ’n handgebaar. Die Europeërs is anderste mense, hulle léés mekaar.”
Ware woorde.
Melina Mercouri het Polly reeds die eerste dag gelees.
Die Griekse prokureur het in haar kantoor voor die venster gestaan en kyk hoe Polly haar (amper) splinternuwe BMW’tjie tussen die ander motors in maneuver. Wat haar liewe prokureur nié geweet het nie, is dat Polly dit met die geld van ’n uitkeerpolis gekoop het. Haar pa het dit dertig jaar gelede vir haar uitgeneem; sy was toe pas uit die skool en skaars agtien. Dalk moes sy die geld vas belê en van die rente probeer leef het, maar soms word mens genoop om nader aan die afgrond te leef.
Die tweede ding wat haar prokureur dadelik opgemerk het, was haar adres en haar aanhangsels (sy het daarna verwys, maar skrams, taktvol). Polly bly in ’n huis met ’n markwaarde van drie miljoen en loop bedrup met goud van Byzantino in die Plaka, Rousounelos op Mykonos, Veronicas in Kefallonia en Meandros van Santorini.
Nou ja, miskien het die vrou rede gehad om haar te lees.
Nietemin, as ’n volbloed-Griek behoort me. Mercouri te weet dat ’n Griekse man platsak en kaalgat kan loop, maar sy vrou se behangsels moet skitter. Haar juwele is die bewys van sy gesonde bankbalans en die ander Grieke moet kennis neem. Polly se man, Achilles (aka Archie), is SUKSESVOL! (hoofletters en uitroepteken).
Gedurende die noem van bates en laste in Melina Mercouri se kantoor het Polly die interieur goed bekyk. Die ene glas, staal en leer, jou voete weggesink in die sagtheid van ’n Flokati-mat en jou agterstewe ondersteun deur ’n Griekse Klismos-leerstoel. Teen die mure massiewe foto-afdrukke van beeldskone Mykonos, Naxos en Santorini. Hier en daar ’n waardevolle kunsstuk, asof argeloos en terloops, eenkant op ’n lessenaar, boekrak of koffietafel geplaas.
Onder me. Mercouri se indringende blik moes Polly noem dat Archie se sporty Merc in die motorhuis staan, sy assuransiepolis twee miljoen werd is en dat die goeie stand van sy kontantvloei, eiendomme en beleggings (waarvan sy geen bewyse het nie) hoofsaaklik te danke is aan die aandelemark wat hy so getrou speel.
“Jy moet versigtig wees,” het sy hom meermale gewaarsku, “die aandelemark kan bedrieglik wees.”
“I am pro, I know,” het hy beterweterig gesê.
Nevermind hulle maandelikse skuldlas, die fyn beplanning om te probeer om ’n hopelose begroting te laat klop, die slapelose nagte vol kommer oor skuldeisers wat voor jou deur toustaan. Plastiek wat telkens die limiet oorskry en telefoonoproepe van verskonende stemme uit besighede se kredietafdelings. Archie het die skyn van rykdom met sy lewe verdedig.
As Polly enige eksentrisiteit aan haar droë, voorspelbare man moet heg, is dit sy spel met aandele. Hy sal ’n bevlieging kry en belê in vreemde markte (dalk iets gedroom?), net om dit ’n paar dae later te verkoop en terug te keer na die bekende en vertroude. Sy het nooit daarna gevra nie, die verduideliking sou te bisar wees.
Op ’n stadium toe die balju omtrent voor hulle deur gestaan het, wou sy ’n prokureur gaan raadpleeg.
“You crazy woman!” het Archie gebulder en wonderbaarlik die nodige geld te voorskyn gebring. “You don’t talk out of house!”
O, sy het nie geweet nie. Ook nie waar hy die geld uitgekrap het nie.
“I am the man, is my business.” Reg so.
Maar the man het nooit vandag opgedaag vir sy egskeiding nie.
Polly bekyk die sirkus om haar.
Die vrou en haar vriendinne, almal met donkerbrille, skuur teenaan haar verby, verslaggewers soos blaffende honde op hulle hakke. Dis seker een of ander beroemde wat skandes gemaak het, maar Polly herken haar nie. Genadiglik is háár enigste skande ’n man wat weggeloop het met die eienares van vyf sentimeter lange pers naels.
Dalk is dit ’n genade dat Archie nie opgedaag het nie. Terugskouend, besef sy dat hy die kousels van sy gunsteling dis (suurlemoenhoender met calamata-olywe, fetakaas en origanum) op sy tong sou versamel en uitgespoeg het om te wys wat hy van haar Melina Mercouri lookalike dink. Maar tot dusver het hy nog nie ’n voet oor die egskeidingshof se drumpel gesit nie, nog nie vir Melina Mercouri met ’n oog gesien óf ingestem om om ’n tafel te kom sit en ’n redelike skikking te bespreek nie. Dis net sy prokureur, Vaso Vassilikis – ’n moeilike, oorstuurse man – wat opdaag en instruksies van sy kliënt mompel, uitstel vra, vae beloftes maak en die volgende datum van ontmoeting aanteken.
Dalk was Monica se vuur-met-vuur-beveg toe nie sulke goeie raad nie. Maar ’n mens kan nie in jouself stol net omdat jou verwagtinge nie waar geword het nie, dink Polly. Sy is vasberade: Sy het haar man verloor, sy weier om haar mag te verloor. Maar omring deur Helleniste voel sy keer op keer weerloos en uitoorlê.
Vanoggend het sy haar sandale met die afgetrapte hakkies aangetrek, ingeval Archie sy opwagting by die hof sou maak. Nou klik-klak sy kliphard oor die sementvloer in haar haas om uit die gebou te kom. Dís wat gebeur as mens voor die keuse staan tussen nuwe hakke en ’n nuwe lipstiffie. En as jy desperaat is om jou man in die verleentheid te stel.
Ergerlik is hoe sy voel.
Sy loop al vinniger in die lang gang af, dan is sy buite. Sy gaan staan en sit haar hand oor haar buik. Verdomp, nie nou nie, dink sy en vryf saggies maar met mening oor die seer kol. Die dikdermpyn is als sý skuld. Hy moes hier gewees het om haar pyn en lyding te aanskou.
Dis somer en ’n lou windjie waai op hierdie eerste dag van die ewigheid wat sy vir Archie tot in die hel gaan verwens. Sy vryf ’n bietjie harder, leun teen die muur terwyl sy so ongeërg moontlik probeer lyk. Sy sal ’n pilletjie moet drink.
Blerrie Archie.
Sy sal persoonlik die vurk deur sy spierwit Mediterreense vlees stamp en hom kop eerste in die vuur druk. Terwyl hy histeries skreeu oor sy brandende hare, sal sy uitgelate opskop en dans op maat van “Zorba the Greek”. Tipies Archie sal sy grootste verlies nie sy péos en archidia wees nie (hy kan dié aanhangsels in elk geval nie meer oor sy boep sien nie), dis die háre wat tel.
Sy klik-klak die trappies af, al vinniger, spring omtrent oor die laaste een. Sy moet wegkom van hierdie grys gebou met sy hoë pilare en stroewe amptenare. En vandag ook nog die kameras en joernaliste en trop nuuskieriges. Hoe gouer sy by die waterbottel in haar motor uitkom en ’n pil sluk, hoe gouer sal die pyn bedaar. Om nie te praat van haar humeur nie.
Sy het Melina Mercouri nie eens gegroet nie, net ’n pieperige jiásso (totsiens) gehoor toe sy verby die prokureur buitentoe storm, haar argumente uitgewan, koring en kaf saam op die wind weggewaai. En sy wat Polly is, verneder, verward en verleë.
Die drie v’s, sy moet dit onthou. Verneder omdat dosyne ander na haar treurmare sit en luister, verward oor die onbekende hofprosedures en te verleë om te vra, verduidelik asseblief.
Haar stormloop word gestuit toe haar sandaal se hak in ’n gleuf in die plaveisel vassit en sy vooroor struikel. ’n Hand verskyn uit die niet en gryp na haar, maar pleks van ’n ledemaat kry die vingers ’n stuk lap beet en trek omtrent haar bloes oor haar kop.
Haar knie wat die plaveisel tref, klink soos ’n hamer wat ’n spyker in ’n muur in moker. Die vingers van haar hand wat haar val probeer keer, vou onwillekeurig in ’n vuis. Pure refleks, want sy het vanoggend haar laaste bietjie Cutex aangesmeer.
Nog ’n grypende hand probeer haar val keer terwyl ’n handsak haar vol in die gesig tref. Haar eie sak lê reeds op die plaveisel, die binnegoed gesaai om haar. Sy hang aan iemand se arms om haar balans te herwin, dan word sy op haar voete getrek.
“Are you alright?” Die vrou wat haar val gekeer het, druk amper haar neus teen Polly s’n. “Oh … you have lovely eyes.”
Polly staar haar weldoener in geskokte stilte aan. Yes, moet sy sê, sy is alright en dankie vir die kompliment, haar man het ook op ’n stadium gedink sy het lovely eyes. Maar haar stembande staak. Eintlik wil sy néé skree, sy is nié alright nie! Sy is nog nie geskei nie omdat haar prokureur ’n balls-up gemaak het, sy kan nog nie aanspraak maak op enige geld of eiendom nie en sy kan nog nie nuwe hakkies vir haar sandale bekostig nie.
Uiteindelik knik sy woordeloos.
Ná ’n vinnige opsomming van mekaar – wit vrou, swart vrou; groen oë, bruin oë; omtrent dieselfde ouderdom en lengte – voel Polly hoe hulle antennas die herkenning maak. Toe buk hulle gelyktydig af sypaadjie toe (dis ’n vroueding) en begin haar handsak se inhoud bymekaarhark en optel.
Sy voel vir ’n oomblik verleë omdat ’n vreemdeling aan haar persoonlike goed raak: lipstiffie, kam, selfoon, Halls-lekkertjies, pakkie snesies, beursie, ID-boekie, maatband, pen, handeroom, gesigpoeier, Panado’s, Scopex Co-tablette, buisie salf vir snyplekke, notaboekie, bril, sleutels en haar lucky dominoskyfie wat sy êrens opgetel het. Ook, tot haar ergernis, ’n visitekaartjie van Otis Lambros met My number, in case you forget me daarop geskryf en twee kruisies vir soentjies onderaan. Sy gryp die kaartjie en skeur dit in vier stukkies op. Die strykyster het sy darem dié keer by die huis gelos …
Sy grinnik vir haar eie grappie. Archie sou dit nie amusant gevind het nie. Het hy al ooit énigiets in sy lewe amusant gevind? Behalwe sy eie simpel grappies?
Met alles terug in haar handsak kom hulle regop, Polly met meer moeite weens haar maagpyn.
“Dankie …” begin sy, maar die vreemde vrou wuif dit weg.
Sy buk vooroor, lig Polly se romp effens en bekyk haar knie.
“You’ve skinned your knee. It’s quite red and turning blue. It looks … awful.” Sy vat Polly se hand en ril sigbaar. “Oh my goodness, look at your knuckles!”
Polly kyk die vrou in die gesig en byt ’n dwars antwoord terug. Ná jare se getroude lewe en máánde se gesukkel om te skei, doen sy dit heel outomaties.
“I’m white, that’s why,” sê sy nukkerig.
Die vrou bars uit van die lag en toe grynslag Polly maar saam. Daar is tog geen rede om haar vir die vrou op te ruk nie. As sy haar nie betyds gegryp het nie, sou sy plat op die grond beland het, gesig eerste.
“Thank you for catching me. I am Polly Ballas,” groet sy tam.
“Ballas?”
Polly kan die verbasing in die vrou se stem hoor. Dié is omtrent ’n Whoopi Goldberg incarnate, dreadlocks en al, net beter geklee en ’n jaar of wat jonger.
Polly sug innerlik. Daar is skielik net te veel v’s in haar lewe, almal vreeslik en verskriklik. Haar knie klop en haar kneukels brand. Moet sy nou al weer die van Ballas verduidelik? Sy besluit summier om haar van na Callas te verander. Sodra sy geld het.
Sy neem volle verantwoordelikheid vir die verleentheid van haar van, want daar is niemand anders om te blameer nie. Sy het destyds halsoorkop verlief geraak op Archie Ballas. Gedink sy van is besonders en cute en dat Polly Ballas beter klink as Polly Pienaar en inderhaas met hom getrou.
Noudat sy op skei staan, hoor sy vir die eerste keer hoe kennisse en vriende destyds agter haar rug gegiggel het oor haar nuwe van.
“Dis Grieks,” verduidelik sy tog maar. “Een betekenis daarvan is ‘one who is always on time’, wat onwaarskynlik is vir ’n Griek, en die ander is ‘short and fat, like a ball’. Laasgenoemde is op my man van toepassing. Maar ek gaan my van na Callas verander.”
Die vrou glimlag. “Ek is Gugu. Vergeet van my van, dis erger as joune.”
Dis ’n troos, dink Polly en skud plegtig hand asof hulle prokureur en kliënt is. Sy kyk af na haar knie en sien ’n dun straaltjie bloed wat begin vorm, vroetel in haar sak na ’n snesie en druk dit versigtig op die snyplek.
Gugu vat haar aan die arm en trek haar eenkant toe. “Ons is in die pad. There’s been a murder trial and people are like vultures to catch a glimpse of the accused.”
“Anyone famous?” vra Polly.
“Yip, sort of. A member of parliament.”
Polly wil eers vra wie dit is, besef dan haar onkunde. Met al die nuwe gesigte en anderste name is sy nie meer in staat om by te hou nie. Selfs die straatname om haar klink vreemd.
Eintlik het sy en Archie saam-saam polities gestagneer. Boeke was hulle passie, die boekwinkel hul inkomste en Archie se haarverlies die spil waarom hul lewe gedraai het. Hoe sal sy ooit ’n member of parliament kan eien?
Sy hoor hoe twee motors met skreeuende bande wegtrek en gou-gou slaan elke nuuskierige agie sy eie rigting in, gretig om die storie te gaan oorvertel of dit vir hulle koerant of tydskrif te gaan neerskryf.
“Did you come from … from the divorce courts?” vra Gugu huiwerig.
Polly kyk verbaas na haar. “How did you guess?”
“Attitude?”
“Nee, dis my mán se woord.”
“Oh … upset? Ingedagte?”
“En bedonnerd.”
“Toemaar, ek ken van. Siestog, jy’t ’n merkie op jou wang waar my handsak jou getref het. Jammer, hoor.” Gugu raak saggies met ’n vingerpunt aan Polly se wang. “Gaan jy nou alright wees? Ek het ’n afspraak, so ek moet gaan, maar ek wens ek kon vir jou ’n koppie koffie koop om jou te kalmeer.”
“Ek moet ook gaan, my werk wag. Nogmaals dankie vir jou hulp. As jy ooit eendag ’n oogtoets nodig het …” Polly haal ’n kaartjie uit haar handsak en gee dit aan, “skakel my. Ek werk vir optometriste en sal vir jou afslag op ’n oogtoets beding. Én jou stiek vir ’n koppie koffie.”
“Reg so.” Gugu vroetel in haar eie handsak en gee vir Polly ook ’n visitekaartjie. “Bel my as jy wil gesels en sterkte met die verandering van jou van. Bye-bye!” groet sy.
Polly bêre die kaartjie in haar sak. Toe sy opkyk, het Gugu al by die skare op die sypaadjie aangesluit. Sy kyk vlugtig om en waai oor die voetgangers se koppe.
Wat ’n spontane mens, dink Polly terwyl sy haar agterna kyk. Dan is haar aandag terug by haar intense ongemak. Die pyn in haar dikderm praat in tale en sy kry koers na haar motor.