Vyf

Polly maak seker sy is behoorlik geklee voordat sy vir Janrap bel.

Dis sesuur, hy sê hy is nog in die winkel, mense sit nog by die tafels, ’n paar loop nog tussen die boekrakke rond. Die jukebox speel nog. Dis hoe hy praat en hy vra of hy haar vanaand nog gaan sien. Hy wil nog met haar praat.

“Bly net daar, ek sien jou oor ’n halfuur of so,” sê sy en groet.

Sy maak haar hare droog en begin haar gesig grimeer. Haar sel lui.

“Haai, Mitéra,” groet die bekende stem met die spottende aanspreekvorm.

“Hallo, Moeder se kind.” Polly voel hoe ’n warmte haar omvou met die aanhoor van haar dogter se stem.

Athena vertel sy het so pas by ’n Boerebeweging aangesluit wat hulle beywer vir die veiligheid van plaasboere. Sy het ’n nuwe kêrel wat die trekklavier speel en sy doen navorsing oor die Rastafariese geloof. By the way, Patéra bly in ’n gastehuis op ’n plaas in Harrismith en help glo boer. Watse boeke is nuut? Speel die blêrkas nog? Sy verlang na die katte, ag shame. Sê vir Janrap groete, hy is so cute. Sê baie liefde vir Catherine en sê vir haar ek mis haar, baie, én haar kos.

Athena se oproepe is altyd kort en kripties, so asof sy bang is vir slegte nuus, of te veel vrae. Patéra is in Harrismith. Nee wag, hy help boer in Harrismith. Bóér?

Sy sit stil en bereken: So drie, vier uur se ry Harrismith toe?

Môreoggend vroeg val sy in die pad. Bliksem! Haar dag van afrekening het aangebreek.

Sy skrik vir haar gedagtes. Is sy so venynig? So wraaksugtig?

Haar oë skiet vol trane. “Athena, ek mis jou so … kom kuier, kom kuier,” fluister sy klankloos. Sy sluk, druk ’n snesie teen haar nat oë. Sy kan nie nou huil nie, Janrap wag.

Sy kyk na haarself in die spieël. Die gesig wat terugkyk, lyk vir haar by die dag moeër. Haar ligte groen oë is veronderstel om besonders te wees (“I want to marry those green eyes,” het Archie die jawoord gevra), maar hulle lyk nou verlep. Sy bondel haar donkerbruin hare op haar kop, laat dit weer val (“I love your hair,” het Archie gesê en sy gesig daarin gedruk). Haar beenstruktuur lyk nog goed. Haar lippe … (“Your lips I want to kiss forever,” het Archie haar met passie oorrompel.) Ja, wat moet sy sê van ’n mond waarvan die hoeke die afgelope maande al afwaarts neuk?

En waarom op Gods aarde dink sy aan Archie se vleitaal van destyds? Leuens en bedrog, elke bliksemse woord.

Sy staan op, haal ’n tjalie uit haar kas en gooi dit oor haar skouers. Wat van Athena se boodskap aan Catherine? Sy blaas haar asem stadig uit, kyk op haar armhorlosie. Kan dit wag tot sy Catherine volgende week sien?

Nee, seker nie, sy sal moet bel. Janrap moet maar ’n bietjie wag. Catherine was … ís erg oor die kinders, net so erg soos sy oor Archie was.

’n Paar weke ná Archie se verdwyning het Polly op ’n dag vroeër tuis gekom. Sy het by die agterdeur ingeloop en ’n sagte geluid êrens in die huis gehoor. Catherine wat op haar sel praat?

Voor Archie se studeerkamer het Polly gaan staan. Catherine het by sy lessenaar gesit met haar rug na die deur, haar een hand wat saggies en stadig oor die hout vryf. Haar skouers het gelig en gesak, rou snikke het uit haar bors geskeur, haar kop vorentoe gebuig.

Polly het haastig aanbeweeg voordeur toe, dit oopgemaak en hard toegemaak. Met die terugloop het sy vir Catherine in die gang gekry, besig om neus en oë af te vee. Hulle het beleefd gegroet.

“Wat is verkeerd? Grieperig?” het Polly gevra.

“Sinus,” het Catherine geantwoord en kombuis toe geloop.

Kan dit wees …? het Polly gedink. Catherine mis Archie soveel soos … die kinders? Die katte? Haar ma was mal oor hom – aan die begin. Polly ook, dolverlief … tot dié gevoel verplaas is deur ontnugtering, frustrasie en verset.

“Dis die andersheid,” het haar ma gesê. “Ag, ’n mens is tog ’n mens. Hy’s darem ’n goeie man vir jou? ’n Goeie pa vir die kinders?”

“Dis ’n baas-klaas-verhouding, Ma.”

“Maar hy is darem ’n goeie méns?” het haar ma aangehou.

Wat is darem ’n goeie man en darem ’n goeie mens? het sy destyds gewonder. Kan mens nie ’n goeie man en ’n goeie mens kry sonder die darem nie? Hoekom moet sy tevrede wees met ’n darem-bestaan in die plek van ’n betekenisvolle huwelik?

Archie was ’n asem oorkant die etenstafel, die arm waaraan sy kon vashou by Griekse funksies, die pa van haar kinders, die rede vir haar liefde vir ’n verre land, die (hoof-) broodwinner, die verbandbetaler en ja, sy moet erken, haar minnaar. Tussen sy mense haar tolk, die brug na vreemde klanke, anderste gebruike, onbekende kosse.

Dis háár land, maar sý moes aanpas, inpas, leer. Hy het eenvoudig in ’n waas van eiewaan op sy goedkoop koekie seep voortgegly, hulle huwelik uiteindelik een groot irritasie.

Maar moes dit só eindig? Deur die huishulp ingelig dat haar man haar verlaat het. Weggery in ’n blink rooi kar saam met ’n pruikverkoper. Na God-weet-alleen-waarheen.

Nou weet sy. Harrismith, van alle plekke.

Sy gaan hom soek, en sy sal hom vind.

Verder as dit wil sy nie dink nie, want sy gaan nie verantwoordelik wees vir haar dade nie. Daar is moord in haar hart en ’n jagmes in haar kelder.

Sy skakel Catherine se nommer, kry die besettoon.

Sy dink aan die kort, amper niksseggende skrywes aan sy kinders (hulle stuur soms sy e-posse vir haar aan, tot haar ergernis), die lys opdragte aan sy prokureur (sy het dit eenkeer vlugtig in die hof gesien). Alles so belaglik. Of miskien nie …

Hy kan taamlik goed Engels praat, maar skryf is ’n ander kwessie. Hy doen dit seker met die hulp van die pruikverkoper. Waarom bél hy nie?

Sy skakel weer en Catherine antwoord dadelik.

Polly dra die boodskap feitlik woord vir woord oor. Daar is ’n oomblik se stilte aan die ander kant, toe bedank Catherine haar met ’n stem wat wil-wil kraak en vertel hoe sy na die kinders verlang.

Athena sê haar pa is in Harrismith, praat Polly verder. Hy boer, kan jy glo? Die man wat nooit ’n tuinslang of ’n graaf opgetel het nie.

“Hy het tog die blomme geplant,” verweer Catherine.

“Die wat?”

“Die blomme, onder die boom … Pollyanna, hy het dit vir jóú geplant.”

“O ja, dít.”

Die stukkie tuin in die agterplaas met ’n borsbeeld van sy naamgenoot en held in die middel. Seker sy afskeidsgeskenk.

Ja, miskien, gee Polly bietjie skiet, maar jy het seker gehelp spit en so aan? En jy gooi dit gereeld nat, probeer sy die sogenaamde geskenk afwater. Gee dan effens teësinnig toe dat die stukkie onder die boom nie sleg lyk nie. “Ek is verbaas hy’t onthou dat ek ’n fokuspunt naby die boom wou hê.”

“Dit was sy geskenk aan jou,” herhaal Catherine.

Wanneer laas het hulle so ’n lang gesprek gehad? wonder Polly. Op die ingewing van die oomblik vertel sy van haar plan om Archie te gaan soek. “I’ll look up all the guesthouses in Harrismith on the internet, give them a call and ask whether he’s there.”

Catherine huiwer ’n oomblik.

“Pollyanna … I meant to tell you, I’m going to my brother for the weekend. I won’t come in on Monday, but I’ll be back at work on Tuesday.”

Catherine se stem klink effens gejaagd, hoor Polly. En sy word nie toestemming gevra vir ’n af dag nie, sy word ingelig. Sy begin groet, maar Catherine val haar in die rede.

“Pollyanna … maybe Archie doesn’t want to be found.”

Polly weet nie wat om te antwoord nie. Catherine het eensklaps vir haar vreemd geword. Archie is immers lief vir sy kinders en Catherine weet dit.

“Maybe not found by me,” sê sy uiteindelik. “But what about his children?”

Dis ’n retoriese vraag en sy hoor die futiliteit in haar eie stem. Sy bly peinsend sit met haar sel in die hand nadat Catherine gegroet en die oproep beëindig het.

Janrap staan agter die toonbank. As mens dit staan kan noem. Aanleun, is dalk ’n beter beskrywing, dink Polly. Sy maag is plat teen die toonbank gedruk, sy rug hol en sy lang bene volg die kurwe van sy lyf, voete stewig op die vloer geplant. Boek in die een hand, die ander hand se vingers agter by sy broek ingehaak asof hy homself dwing om regop te bly.

Sy staan vir ’n oomblik stil buite die deur, kyk hom aan en wonder of hy oor die brilletjie of deur die brilletjie lees. Toe sy die deur oopstoot, swaai hy sy hele lyf in ’n lui beweging na haar kant toe, flits sy breë, innemende glimlag vir haar en klap die boek in sy hand toe.

“Polly! Goeiemiddag.” Hy klink bly om haar te sien.

“Dis al goeienaand, Janrap. Jammer ek is ’n bietjie laat. Hoe gaan dit hier?” gebruik sy haar standaardgroet.

Sy donkerblou geruite hemp wat los oor sy grys broek hang, laat die blou van sy oë nog helderder vertoon. Of lyk hulle maar altyd so? wonder sy. Besef skielik hoekom sy altyd so onpersoonlik moontlik probeer klink: vir afstand, ongemoeid en onbetrokke. Nou soveel te meer nadat sy aan haarself erken het (nogal in die bad) hy’s aantreklik, bekwaam, belese en al die ander mooi goed wat sy as ’n sogenaamde getroude vrou nie veronderstel is om raak te sien nie.

Itumeleng kom aangeloop, sy sak oor sy skouer gehaak. Polly vra of Janrap hom reeds vir die week betaal het. Hy knik, groet en is haastig by die deur uit.

“Hmm, die meneer Rameses will dress up tonight,” is Janrap se kommentaar.

Itumeleng is glo gretig om ’n nuwe hemp vir die aand se partytjie te gaan koop. Bets en Marie wat uithelp met die koffie en koekies is reeds huis toe, voeg hy by.

Janrap sug gelukkig. Nog ’n goeie dag, verseker hy Polly op sy sedige manier, wys skrams na die geldkas. Nog een of twee klante bo, hy wys teen die trap op. Nog een of twee in die winkel, wys voor hom, en nog twee daar agter … êrens.

Sy knik beïndruk en skuif ook agter die toonbank in, kyk na die boek wat hy besig was om te lees. Roberto Bolano. As antwoord op haar vraende kyk lig hy sy hand en wikkel dit heen en weer. So-so.

Sy draai na die kasregister, laat die laai oopspring en haal die note uit, begin tel. “Vierduisend?” vra sy sonder om na hom te kyk.

“Ek reken so. Minus die driehonderd wat in die laai was en die klomp silwer.”

’n Klant groet op pad uit en Janrap groet terug met ’n waai van sy hand. Polly druk die note in haar handsak, los weer driehonderd rand kleingeld in die laai. Twee bejaarde mans kom die trappe gesels-gesels af toe een haar opmerk.

“Ah, Polly! Good to see you, pethi moo, ti kanis?” vra hy.

Sy groet Stavros vriendelik, verseker hom dit gaan goed met haar. Sy metgesel maak die deur oop, kyk om na hulle en lig sy hand in ’n groet.

Polly weet wat Stavros se volgende woorde gaan wees.

“Archie come back?”

“Not today, Stavro. I see you found something to read?”

Die ou man trek sy vingers deur sy bos grys hare, sy wenkbroue in ’n frons. Polly wag vir sy gebruiklike antwoord.

“He will come, he will come, don’t worry.” Hy sit die boek op die toonbank neer. “You give little discount, yes? It’s a present for my son.”

“For you, Stavro, always.” Dis waarom ons boeke so duur is: om te vergoed vir al die afslag wat ons jou gee, dink sy en glimlag mooitjies.

Janrap vat die boek, draai dit om en staar kamma lank en ingedagte na die prys, sy onderlip effens uitgestoot.

“Ten rand off?” vra hy sag in Polly se rigting.

“Come, come, a leetle more?” vra die ou man hoopvol.

“Thirty five?” sê Polly en loer na Janrap, wat sy kop in ongeloof skud.

“Thank you, I kill the bull for you, Polly.” Stavros beduie vir Janrap hy moet die afslagprys oplui, haal ’n rol note uit en begin tel, sit die note een vir een op die toonbank neer.

Janrap skud nog eenstryk kop terwyl hy die kasregister se toetse druk. Polly klap-klap op sy arm soos een wat paai.

“He’s a friend, Jam Wrap, and a good customer, don’t worry so much,” sê sy.

Janrap knik betekenisvol en sit die boek in ’n papiersakkie waarop Achilles’ Heel se logo gedruk is. Die ou man hou sy duim omhoog en knipoog vir Polly, groet in Grieks.

“Jiásso,” groet Janrap ook.

Polly wag totdat Stavros sy rug draai, tel die note op en druk dit ook in haar handsak.

“Bonnie en Clyde?” vra Janrap, linkerhand se kneukels wat op die toonbank druk, ander hand in sy broeksak.

“Punch en Judy,” sê Polly.

’n Student en sy meisie staan nader, hy met ’n boek in die hand, sy met ’n strooihoed en ’n komboloi. Janrap gesels oor die goeie boek wat hy gekies het.

“Hulle is ons laaste klante vir die dag,” sê Polly. “Jy kan gerus vir hulle ’n bietjie afslag gee.”

Janrap vat die strooihoed en komboloi en bekyk dit van nader asof dit van onskatbare waarde is.

“Goeie kwaliteit, besonders … Polly, jy breek my rug.”

“Ag, toe nou, Janrap, net ’n paar rand.”

“Nou goed, nou goed.”

Hy druk die toetse van die kasregister terwyl twee paar oë hom hoopvol dophou. Die kasregister wys die totaal en met ’n kyk van verligting sit die jong man die geld in Janrap se hand en Polly sit als in ’n sakkie. Met die versekering dat hulle weer sal kom koop, stap die twee uit.

Janrap sluit die deur agter hulle. “Vinkel en koljander?” vra hy tergend.

“Ek stem. Nou toe, wat is so dringend?”

“Vertel eers, hoe het dit in die hof gegaan? Moeg baklei?”

Sy sug hard en beduie hulle moet boontoe loop. Janrap draai die bordjie om wat aan die deur hang. CLOSED.

Op die mezzanienvloer val sy in ’n stoel neer terwyl hy twee polistireenbekertjies uithaal en dit onder die tuit van die koffiemasjien indruk.

“As ek moet raai, sal ek sê julle is nog nie nader aan ’n egskeiding nie.” Hy gee een bekertjie vir haar en gaan sit op die stoel langs haar.

“Reg geraai.” Sy vat ’n teug van die geurige koffie.

“Moet ek maar weer begin tel?”

“As ek, of jy, nog een donnerse boek of komboloi of kleedjie moet tel, gooi ek myself van ’n brug af.”

Hy sê niks, sluk behaaglik aan sy koffie.

“Nodeloos om te sê, Archie was nie by die hof nie. Maar Vaso het darem ’n soort van ’n ooreenkoms opgestel. En hy’t ’n printout van ’n e-pos gehad waarin Archie sê dis reg so, die egskeiding kan voortgaan.”

“Dis goeie nuus … of nog nie?”

“Sonder Archie se oorsese banknommers en sy sleutel vir al die geheime kluise in watter lande ook al én toestemming om aan enigiets te raak met ’n stok ’n myl lank, beteken die ooreenkoms hoegenaamd niks sonder sy handtekening nie.”

Janrap slurp sy warm koffie saggies en toe sy opkyk, is sy bril die ene stoom. Sy lang liggaam pas gemaklik in die kontoere van die stoel, linkervoet op regterknie. Sonder om na haar te kyk, lig hy sy hand en druk met die punt van sy wysvinger saggies op die bokant van haar hand.

“Ek kan sy handtekening namaak, weet jy.”

Sy oorweeg dié stukkie inligting in stilte. Verbeel sy haar of brand die kolletjie effens waar hy aan haar geraak het?

“Regtig?” vra sy uiteindelik.

“Maklik,” sê hy en wys met sy vingers in die lug hoe hy Archie se handtekening maak.

Vir ’n oomblik voel sy soos iemand in ’n gangster se teenwoordigheid, te oorbluf om enigiets te sê.

“Dankie, Janrap. Ek het so pas half en half nuwe respek vir jou gekry, maar ek hoop nie dit sal nodig wees nie.”

“Sê net.” Doodernstig.

“Jy klink soos iets uit The Godfather!”

“Ekskuus, ek wil net help. Wat ek nog wou sê, Athena het gebel – die ou Athena. Sy soek vir Archie. ”

“Soos die res van ons. Wat wil die vrou nou hê? Sy’t al ’n paar maal gebel en elke keer moes ek omtrent wal gooi, want sy wil met alle geweld met Archie praat. Is sy dalk siek?”

“Jy weet ‘kalá’ is omtrent al wat ek in Grieks kan sê. Toe sê ek jy is kalá en Archie is kalá en toe val sy my in die rede en sê sy is ook kalá, dus dink ek nie sy is siek nie. Sy klink net ’n bietjie tranerig oor Archie. Gedink ek moet jou sê.”

Sy verkneukel haar in sy sedige manier van nuus oordra. ’n Bom onder sy stoel sou hom nie onthuts of van stryk bring nie.

Ou Athena … Sy kan dink die ou mens is hartseer omdat sy in die afgelope jaar en ’n half niks van Archie gehoor het nie. Nie dat sy dikwels bel nie. Van sy Griekse familie het hy net sy suster oor wat steeds in hulle geboortedorp Parori bly en twee neefs, een êrens in Griekeland en die ander in Australië.

Die drie keer wat hulle as familie in Griekeland gekuier het, het hulle elke slag ten minste twee weke lank by sy suster gebly. ’n Dierbare vrou wat die laatlam-boetie hand en voet bedien en hom oorlaai het met liefde. Archie het behoorlik gestraal. In haar verbeelding kon sy sien hoe ou Athena elke dag sy bles met Calamata se pure virgin olive oil invryf, saggies en teer, liefies en lekker.

Hoekom het Archie nog nie sy suster gebel nie? Hy kon dit tog doen sonder om iets te verklap. Wat staan haar nou te doen? Sy het nie die moed om vir haar skoonsuster te sê haar geliefde broer het met ’n ander vrou weggeloop nie. Ou Athena sal nooit die skande kan verwerk nie, siestog.

Sy sit so diep ingedagte dat sy nie eens agterkom dat Janrap haar leë bekertjie uit haar hand neem en ’n ander een daarin sit nie. Sy ruik dit voor sy proe.

“Tonikum,” sê hy.

“Dankie, ek het ’n dop nodig.”

Haar sel lui. Dis Otis.

Sy hou haar sel op vir Janrap om te lees.

Hy gee ’n laggie. “Energieke man. Hy’t vroeër ook gebel.”

Sy lig haar wenkbroue kamma verbaas, wag dat die gelui moet end kry en druk die foon weer in haar sak.

“Sy vrou is dood, dus is hy nou ’n wewenaar, weet jy? Geregtig om weer vrou te vat.”

“Ja, én?” vra Polly.

“En … jy het nie meer ’n man nie. Ek sê maar net, want jy is nou …” Hy aarsel.

“Ek is nou wat, Janrap? ’n Geskeide vrou? ’n Weduwee? ’n Vry vrou? ’n Donnerse gek? Sê my as jy weet, asseblief.”

“Wat wíl jy wees? Onthou: ‘He thinks in secret and it comes to pass. Environment is but his looking glass’.”

Sy sluk aan haar voggies. “Dankie vir die aanhaling, maar ek wil vry wees om besluite te neem. Ek bly stoksielalleen in ’n yslike huis op ’n groot erf en betaal astronomiese bedrae aan die munisipaliteit vir belasting en water, hopeloos te veel vir tuindienste en die mure se verf dop af. Ek wil die huis verkoop en met die geld nog ’n boekwinkel open, Griekeland toe gaan vir aankope en …”

Sy besef sy is besig om haar hartsake uit te lap, maar is tog dankbaar om die dinge te verwoord wat al so lank in haar binneste lê en broei. “Ek kan niks sonder Archie doen nie, maar waar ís Archie?”

Janrap gee ’n kuggie (pure aansit, sy ken dit) en lyk eensklaps ongemaklik terwyl hy sy lang, maer bene versit. Hy vra of sy nog iets wil drink.

“Wát? Wil jy hê ek moet dronk word?”

“Ek sien Otis kuier by jou huis.”

Sy kan sweer sy ore lyk rooi. “Ekskuus? Waar kom jy daaraan?”

“Jammer, Polly. Dis jou persoonlike sake, dit het niks …”

“Janrap! Waarvan práát jy?” Sy sit regop en kyk hom aan.

“Ek moes laas week een oggend ry om ’n boek vir ’n klant te neem, hy was siek by die huis – dis een van ons goeie klante. Ek het verby jou huis gery en Otis se kar was voor die huis geparkeer. Dis niks, Polly. Ek sê net.”

Sy is uit haar geloof geskok. Sy werk, waarom sou Otis …? Wie het hom binnegelaat?

“Het hy in sy motor gesit?”

“Nee, ek het hom nie gesien nie. Dalk binne die huis?”

“Nie op die stoep nie? By die voordeur?”

“Nee. Ek het stadig gery en kon mooi sien.”

Polly se gedagtes spring wild rond. Waarom sou Catherine hom binnenooi? Die wete dat Otis daar kuier, of wat ook al by haar huis doen terwyl sy by die werk is, is omtrent net so ’n groot skok soos Archie se weglopery. Dit klink so onderduims. Wat maak hy daar? En waarom sê Catherine niks?

Asof sy vir Janrap ’n verduideliking skuld, spel sy dit mooi vir hom uit: Sy was nie tuis nie. Sy stel nie belang in Otis nie. Sy weet nie wat aangaan nie. Maar sy sal Catherine beslis daarna vra.

“Liewe hel, nou nog Otis Lambros wat my knaend bel, sy vrou is skaars begrawe! Én Catherine wat my aanmoedig om die man vir ete te nooi. Wat gaan aan met haar? Sy wat so danig oor Archie was! Ek sweer Otis het bygedra tot Nina se beroerte.” Sy bly terstond stil en kyk na Janrap. “Ekskuus, dit was nie mooi van my nie.”

“Miskien waar,” sê hy droogweg.

Sy glimlag innerlik, dankbaar vir sy begrip, al verstaan hy nie regtig waaroor dit gaan nie. “Ek bedoel, die man het glo kolonkanker.”

“Eina …”

“Hier is mý aanhaling: ‘Men are anxious to improve their circumstances, but are unwilling to improve themselves.’ Otis kan loop slaap, hy gaan beslis nie deur my sy circumstances verander kry nie, thank you very much.”

“Dalk vra hy Catherine om jou sag te maak, by wyse van spreke, jy weet. Betaal hy haar?”

Sy bars uit van die lag, kom tot bedaring. Otis is merendeels ’n kerkmuis weens sy dobbelgewoonte. Catherine leen die afgelope jaar of meer by haar geld … Sy stik omtrent in haar koffie. Twee en twee maak skielik vier.

“Penny for your thoughts?”

“Janrap, ek dink Otis en Catherine dobbel saam. Sy leen deesdae geld by my. Heelwat geld.”

Polly staan op. Sy moet liewer stilbly, sy het genoeg teenoor Janrap gebieg. Elke sent wat Catherine by haar leen, is geld wat sy van iets anders moet afknyp. En sy kan nie vir die vrou nee sê nie, sy lyk so verleë, so desperaat.

“Skuld sy hóm miskien geld?” vra Janrap.

Polly antwoord nie, skud net haar kop. Dis eenvoudig te bisar.

“One for the road?”

“Nee dankie, absoluut nie. Ek moet gaan. Jy gee nie om om te sluit en …”

Hy hou sy hande omhoog om te wys als reg, hy sal sluit.

By haar aankoms tuis skakel Polly ligte aan so ver sy loop. Sy draai in by Archie se studeerkamer, skakel die rekenaar aan. Sy moet soek na gastehuise in Harrismith.

’n Halfuur later sit sy met ’n lys telefoonnommers, maar telkens as sy skakel, lui die foon lank voor iemand antwoord. Slaap almal in Harrismith al? wonder sy. Dis dan nog voor nege.

Tussendeur lui haar selfoon.

“Polly?” vra ’n stem wat half bekend klink.

“Ja, wie praat?”

“Gugu. Jy onthou van …”

“Gugu Jam-Jam.” Polly glimlag. My maggies, die vrou bel asof sy geroep is.

“Right. Hoe gaan dit nou? Have you calmed down a little?”

“Heeltemal. Gugu, wat doen jy die naweek?”