Die skoot klap. In by die voorkop, uit by die nek.
Met die mes steeds in sy gebalde vuis, die punt van die geriffelde lem wat plafon toe wys, val hy vooroor, sy gesig in sy stomende bord kos. Dan kantel hy om, stadig.
Sy kosbesmeerde gesig skuur oor die tafelblad en soos sy lyf laer afsak, word sy wang platgedruk teen sy neus, sy lippe skeef gebondel in ’n tuit. Bloed vorm rooi blompatroontjies op die wit tafeldoek, met tamatiemoes wat stadig oor sy gesig gly.
’n Bewerasie gaan deur haar, elke raampie van die gebeure word in haar geheue gevries. Die logge liggaam beur skuins en sy rukkende hand gryp die kant van die stoel vas. Dan kantel die stoel en sy lyf tref die blink keramiekteëls met ’n sagte plofgeluid. Toe die sykant van sy skedel die vloer tref, klink dit soos ’n hamer wat ’n kokosneut oopkraak.
Uit sy neusgate gly spaghetti gemeng met ’n papperasie van uie, tamatie en groenrissie, en oor sy wangbeen biggel ’n stukkie gekruide vleis. Sy hele gesig is bedek met olierige sous en bloed, die mes nog tussen sy vingers, die hand nou ontspanne.
Sy staan geskok en verbyster na hom en afkyk, die reuk van kruit hang swaar in die lug.
Hy is vermoor. Die man oorkant hom aan tafel die verdagte. Die skietding in háár hand.
Moordenaar! weerklink dit deur die huis.
Moordenaar! slaan die staanhorlosie.
Sy sak af op haar knieë en streel oor sy voet, haar trane wat drup op sy wit sokkie. Sy hoor hom iets prewel en buk met haar oor teen sy mond, por hom aan om te praat.
“It … is war,” fluister hy. “My horse … my sword.”
Hande gryp na haar en trek haar ru op haar voete, sleep haar voort na ’n afgrond terwyl sy huil, roep, pleit. Toe word sy vorentoe gestoot en sy tuimel in die diepte af, kop eerste.
Moordenaar!
Catherine Dhlomo trek haar skoene uit, stoot hulle onder haar bed in. Haar voete is seer, haar kop draai, sy moet onthou om môre haar bloeddruk by die apteek te laat toets. Haar bloeddruk word ’n probleem, dit wil nie stabiliseer nie.
Sy buk vorentoe en druk met albei hande weerskante van haar op die matras. Sonder om eers die deken af te trek, sak sy versigtig op die bed neer, skuif bietjie rond tot sy die bekende holte vir haar lyf vind, maak haar oë sugtend toe.
Die briesie tussen venster en oop deur bring ’n lawende koelte oor haar gesig en ná ’n paar minute voel sy hoe haar hart weer egalig begin klop.
Dus is die sogenaamde egskeiding nogmaals uitgestel.
Die Vader weet waarom Polly so aandring op ’n egskeiding, sy wil tog nie weer trou nie. En sy kán vir haarself sorg, as sy net ’n bietjie wil afskaal.
“Eish,” sê sy saggies in die stil kamer, “die ryk mense. Hulle ken nie van scale down nie.”
Sy sug nogmaals hard en diep soos net ’n groot, bekommerde vrou weggesink in die holte van haar bed kan sug, druk albei haar hande oor haar gesig.
“Ek kry so skaam, Modimo,” gesels sy boontoe, “ek kry so skaam. Laat my doodgaan, asseblief, ek wil nie meer leef nie. Laat die high blood sy pad loop en my onder die grond bêre waar ek hoort. Hoe gaan ek vir Polly terugbetaal?”
Sy skrik skielik vir haar eie stem en haal haar hande van haar oë af. Kyk deur toe, dalk het iemand haar hoor praat.
Sy is rock bottom en Otis is steeds nie tevrede nie. Die hónd. Nou moet sy nog vir hom voorspraak maak by Polly. Mag die Modimo haar vergewe. En Archie ook. Sy kan nie loop vertel nie, sy het ’n kind om aan te dink. Die skande is te groot.
As Bongani nog geleef het, sou hierdie ding nooit gebeur het nie. Of sou dit? Ten minste sou sy iemand gehad het om mee te praat, iemand wat kon raad gee en haar sou bystaan. Haar oë loop vol trane en sy vee dit met haar hand af.
Waar kom Polly se hardkoppigheid nou vandaan? wonder sy vir die soveelste keer. Teenoor die kinders kon sy baie toeskietlik wees, selfs by tye teenoor Archie. Vanwaar die skielike ommeswaai? Is dit oor die pruikverkoper?
Sy verwyt haarself dat sy vir Polly gesê het van die pruikverkoper, sy moes liewer gesê het dis ’n man wat Archie dié dag kom oplaai het. Maar dis nou gedane sake.
Sy vryf oor haar satynsagte bedsprei soos een wat na iets soek. Bongani … Ná dertig jaar se getroude lewe het hy een aand na ete aan tafel sy koffie gesit en drink soos dit sy gewoonte was. Toe teruggesit, sy oë toegemaak en gesterf.
Sy was nog besig om hom van haar dag te vertel, verwyt hom eers omdat hy wil slaap as sy wil gesels. Toe die besef: Daar sal nooit weer ’n gesels met hom wees nie.
Hulle het mekaar in die kerk ontmoet. Bongani was so ’n mooi, sterk man, so netjies aangetrek en heelwat ouer as sy. Eers het hy net met haar ma gesels, later ook met haar. Haar ma het wal gegooi. “Jy verdien beter as ’n tuinier, jy’s immers geskool,” het haar ma gesê. “Hy’s te arm om jou te onderhou, hy sal nie eens die lobola kan betaal nie. En vir wat is sy Tswana so deurmekaar met Afrikaans?”
Hy het op ’n Vrystaatse plaas grootgeword, wou sy sê, sy ma is ’n bruin vrou en Afrikaans. Maar sy het stilgebly en Bongani se geselsies aangemoedig.
’n Week voor Krismis het hy die geld in haar ma se hande gesit. Duisende rande spaargeld van jare se harde werk. Haar ma het die geldsak oopgemaak, die note versigtig in haar skoot uitgetel met lippe wat onhoorbaar saamtel. Twee maande later was hulle man en vrou en het sy by hom ingetrek, in sy ruim kamer by Mrs Levine.
Hy het soms Afrikaans met haar gepraat, die buurman se Beeld gelees en partykeer oorgeloop om handjie by te sit met die spitwerk. Dit was ’n goeie verhouding, sy en haar tuinier van Houghton met die groot werkershande en skaam maniere.
Agter die hoë mure van Mrs Levine se paleis van ’n huis is sy vriendelik verwelkom. Die lang, maer vrou met die donker oë het haar goed deurgekyk en later gevra of sy belangstel om te leer kook vir die gesin.
Bongani het gespot dat hy in die suide ’n gardener is, maar hier in die noorde is hy ’n garden coordinator en sy nie ’n gewone cook nie, maar ’n chef.
Dit was die begin van ’n twintig jaar lange vriendskap met die vrou van Houghton. Mrs Levine het haar gehelp met haar Engelse uitspraak en woordeskat en haar omtrent alles van kos en entertaining geleer. Tot en met haar dood. Hulle seun was toe in business college en sy en Bongani het Randpark Ridge toe getrek om by Mrs Levine se skoondogter Shirley te werk. Die area was toe baie minder bevolk as nou.
Hier het hulle twee kamers gekry, ’n mooi badkamer, ’n lappie grond om mielies en spinasie te plant. En ’n skaduplek van hul eie om in te sit. Die erf is yslik, die bome massief en hoog. Bongani het elke uintjie en onkruid versigtig uitgetrek, die gras se rande netjies gesny, blombolle by die honderde geplant, bome gesnoei en water op die regte tyd gegee. Hy was nie min trots op “sy” tuin nie. Van hulle voordeur af het hulle ’n onbelemmerde uitsig op die tuin gehad en dit het inderdaad gevoel soos hulle eie tuiste.
Nege jaar ná hulle intrek het sy haar man begrawe en gewonder waarheen nou. Sou ’n nuwe tuinier in haar huis kom intrek? Sy het toe al by Archie-hulle gewerk, twee dae ’n week.
Bongani het goeie geld gekry, maar hy het elke sent verdien. Vir die drie dae wat sy gekook en kombuis opgeruim het, het sy meer as die vasgestelde dagloon gekry én hulle het daardie dae van die huis se tafel af geëet.
Die dag voor die begrafnis het Shirley Levine kom praat.
“Catherine, I don’t know what your plans are for the future, but if you wish to stay on, you are more than welcome. We are not turning you out. You have become part of our family, you know that. The kids are still at home and they will miss your cooking and baking. Please say you’ll stay?”
Sy moes destyds hard sluk aan haar trane. “Thank you … I’ll stay,” was al wat sy kon uitkry.
Archie het gesê: “If the people throw you out, you come stay here.” Maar sy het geweet sy kon nooit haar huisie in die paradys verruil vir ’n agterkamer nie.
Die dae en jare het geloop soos dit doen, maar die gemis aan ’n maat was groot, is nog steeds. Sy het min familie gehad en min troos.
Maar Archie was daar.
Om haar te laat lag, om mee te gesels, om waardering vir haar kookkuns te hê, om haar te bederf met geskenke van Griekeland. En die kinders, sulke liewe goed en altyd respekvol teenoor haar. Danksy Polly, dit moet sy erken. Haar eie seun, haar enigste kind, sien sy bitter min, haar kleinseuns nog minder. Nou ja, dis ook seker die gang van die lewe.
Sy kyk na haar hande, daar is ’n bewerasie van pure ontsteltenis oor al die ou dinge wat sy nou lê en oproep. En vir wat? Polly sal nooit met Otis trou nie, nooit! Sy sal daarvoor sorg. Polly is nie een van daai mal vroue wat agter mans aanloop nie. Otis is ’n hond, sy dag sal kom.
Sy wil na Polly uitreik, vir haar sê sy’s jammer oor Archie, sy wil vir haar lekker kos kook soos in Archie se dae, iets vir haar doen om te vergoed. Met haar práát. Maar Polly se kritiese oog en skerp tong verlam haar. Polly praat nie soos voorheen nie, die vriendelike gesig is soek, daar het ’n onnoembare ding tussen hulle kom lê.
Miskien is dit reg so.
Sy en Polly is albei vrouens wat rou. Dalk om verskillende redes, maar rou nietemin. Die gemene deler wat hulle saggemaak het vir mekaar is nou niks meer as ’n herinnering nie, sy bulderende stem stil.
Met Archie se weggaan was dit asof ’n waansin Polly beetgekry het. Sy loop hard en dol van kamer tot kamer, ’n rusteloosheid in haar hande, bekommernis op haar gesig, ’n verslaenheid in haar lyf. Die verwyt in die wegdraai van haar kop is die ergste.
Sy wil gek word van Polly se stilswye. As hulle met mekaar praat, slaan hulle stemme vas teen mure, deure, meubels. Hulle oë soek nie meer mekaar s’n nie. ’n Groot woede wil soms in haar oopbars, ’n woede wat Polly sal intrek, haar dwing om Archie se naam te noem.
Athena se pa, Neo se pa, maar nooit Archie nie.
En Polly altyd so ontevrede.
Buitendien, sy het haar eie bekommernisse. Haar high blood en suikersiekte lol by tye sommer saam op een dag, ander dae is dit die rumatiek in die skouers. Alles dinge wat Polly niks van verstaan nie. As Archie gekla het van ’n hoofpyn, het sy gesê hy moet ’n glas water drink, maar ’n pil sou sy hom nie aanbied nie. Maar Polly sal nog kom waar sý is, dan sal sy ’n ander deuntjie sing.
Agtien maande lank wurg sy al aan die leë huis, sit sy soos ’n weeskind aan Archie se kant van die bed, daar waar sy lyf eens gelê het. Streel haar hand oor sy lessenaar waar sy hande eens gerus het, drink sy uit sy koffiebeker met die groot letter A. En sy huil.
Die ding van Archie kan sy nie meer alleen dra nie en die bang kan sy nie langer verduur nie. Dit sit soos ’n luis op jou kop. Hoe meer jy krap, hoe meer jeuk dit en jy’s altyd bevrees iemand gaan uitvind.
Otis. Hoekom, Modimo? So ’n skelm, Polly het al die jare vertel hy dobbel so vreeslik. Verloor sy kar, sy huis, sy vrou dood van bekommernis, maar hy kry nie end nie. Elke slag as hy geld kom vra, sê hy dis die laaste. Maar soos ’n hond wat terugkeer na sy opgooisel, kom hy altyd terug vir meer.
Die nagmerrie van Archie wat geskiet word, die pistool in háár hand, dis die heel ergste. Sy sou nooit ’n vinger gelig het om hom kwaad aan te doen nie en nou skiet sy hom nag ná nag. Sy gesig verwronge, sy kop en klere vol bloed en sy wat in die afgrond afgegooi word deur hande wat sy as Polly s’n herken.
O, Modimo! Dit druk haar dood, laat haar binneste na buite peul.
As sy die nag nie vir Archie skiet nie, dan is dit die wilde honde wat in haar kop rondloop en blaf, haar dryf na haar knieë, haar kussing natmaak met trane. Sy is nog nie sestig nie, maar sy voel soos ’n ou vrou van tagtig. Oornag oud geword.
Goddank vir ’n broer. By Ouboet kan sy haar lot bekla, by hom kan sy gaan huil. Hy is elke tweede naweek af en die vier uur wat dit vat om by hom uit te kom, is nie vir haar te ver nie. Hulle sien mekaar gereeld, maar hy weet nie van Otis nie. Sy is bang hy sal die man iets aandoen. Niemand vat aan sy suster nie, sy weet.
Sy snuif hard, vroetel rond vir ’n snesie, druk dit teen haar oë om die trane te keer. Haar seer voete voel beter en sy swaai haar bene van die bed af, haar oë op die klerekas in die hoek. Die een dag wil sy die kas verbrand, dan weer wil sy die inhoud in haar arms bymekaarmaak.
Sy staan stadig op en maak die voordeur toe, loop dan die paar treetjies tot voor die kas met die vollengte spieël. Sy steek haar hand uit en trek aan die handvatsel, haal ’n hemp van ’n hanger af sonder dat sy dit deur die waas van trane kan sien. Selfs met toe oë sou sy dit kon raakvat, sy doen dit immers al agtien maande lank. Met die hemp in haar hande loop sy na die tafel en gaan swaar sit.
“Archie …” roggel sy die woord iewers uit die diepte van waar sy glo die duiwels haar koggel. Waar haar voorvaders hulle koppe mismoedig skud en Polly haar beskuldig, “Dis jy, dis jy!” terwyl sy die note in Otis se hand neerlê.
Vir die soveelste maal laat sy haar kop oor die hemp sak, druk sy haar gesig in die lap en asem sy die reuk van sweet, badseep en knoffel diep in haar longe in tot sy bedwelm voel van jammerte en selfverwyt. En verlange.
Sy het hom in die steek gelaat.
En Polly dan?
Ja, sy ook. Hulle het elkeen op hulle eie manier.
Sy ruik weer aan die hemp, besef met ’n skok Archie se reuk is so te sê weg. Beskou die hemp soos altyd met ’n kritiese oog. Dis mooi genoeg vir ’n koning. Pragtig geweef, presiese stiksels, eweredige nate, ’n klein geborduurde a op die sak. Die laaste kledingstuk wat hy in sy lewe aangetrek het. Hy het dit uitgetrek en agter oor die stoel gehang soos sy gewoonte was en in sy t-hemp by die kombuistafel aangesit vir sy laaste bord kos. Sy laaste woorde “Catherine … Catherine …”
Dit was ’n Vrydag.
Met die instap in die kombuis het hy sy hoed afgehaal en aan die stoelleuning gehang, sy hemp uitgetrek. Sy het opgeskep en hulle het oorkant mekaar by die kombuistafel gaan sit.
Polly is by die winkel, besig met die boeke, het hy gesê. Toe hy vir haar sê hy kom huis toe, Catherine kook spesiale kos vir hom, het sy kwaai gefrons en gesê sy wil g’n snaakse reuke in haar huis hê nie.
“Polly is crazy woman,” het hy gesê en gebulder van die lag. Sy het goedig saamgelag, want dis maar sy manier van praat, Archie was lief vir sy vrou. Sy, Catherine, was die een wat die dubbelbed stroop en oortrek, beddegoed was, die bewyse van liefde sien.
Hy was lief om te praat oor sy kinderdae, sy huis in Parori. Die bergagtige streek van Mystras, die monumente, ruïnes van ou kerke, selfs ’n kasteel. Alles sy destydse speelplekke, uithangplekke. En die feeste! Sy het soos ’n verwonderde kind gesit en luister na die stories en plekke van oorsee. Hy het graag vertel van die Griekse oorloë, veral van Troje, van die mites en legendes.
Sy het anderkant die tafel gesit en gekyk hoe lekker hy eet, haar eie bord tot oorlopens toe gelaai. Niemand het so lekker aan haar kos gesmul soos hy nie. En met elke ete het sy gesit en bid dat Modimo die hare op sy kop sal laat groei. Vir hom, vir Polly, vir haar. Dat daar weer vrede en liefde in die huis sal wees.
Daardie dag het hy ’n snaakse hoesie gegee. Sy het vir ’n oomblik gedink hy stik. “Delicious,” het hy uitgehoes, sy oë vol trane, en sy glas water opgetel. Sy het verlig gesug, besef hy is net bewoë, en Polly stilletjies verwens dat sy sy begeerte na hare nie kon verstaan nie.
Sy trek die wit hemp versigtig oor haar kop, steek haar arms in die mousgate, knoop drie knopies toe en los die boonste twee oop nes Archie altyd gedoen het.
Sy staan op, loop terug kas toe en haal die bruin skoene met die veters en mooi stiksels uit. Gaan sit weer op die stoel en stadig, amper soos in ’n ritueel, ruik sy aan die skoene. Sy steek eers een voet in ’n skoen, maak die veters vas, dan die ander voet. Dit pas; sy en Archie dra albei nommer sewe.
Sy sleepvoet weer kas toe, dis of die skoene haar wil terughou. Druk haar arm diep in, skuif ’n paar bokse weg en haal ’n hoed uit. ’n Wit hoed, grof geweef, Archie se gunsteling wat hy twee jaar gelede op ’n eiland gekoop het. Hy het vir haar ook ’n wit hoed saamgebring, wat sy kerk toe dra.
Sy sit die hoed op haar kop, maak die kasdeur toe en staan terug om haarself in die spieël te bekyk. Archie se gunstelinghemp, sy gunstelinghoed en sy Parori-skoene. In stilte staan en staar sy na die beeld voor haar.
Sy knik in erkenning, soos een wat groet. Archie se sagte oë kyk haar aan van onder die hoed se rand, borshare wat by die oop knope uitpeul, skoene wat blink. Oor sy een wang biggel ’n traan.
“Catherine …” sê hy saggies, “Catherine …”
Eers toe sy weer die moegheid in haar voete voel, haal sy die hoed af, trek die skoene en hemp uit, bêre als. Maak die kasdeur saggies toe.
Sy kyk weer in die spieël en sien ’n ou, eensame vrou wat haarself met duisende messe deurboor oor ’n man se dood. Sy wou hom so graag help met sy hare. En sy het alles probeer, álles, maar tot op die laaste het niks gehelp nie. Sy het hom in die steek gelaat. Met ’n swaar sug draai sy terug na haar sitplek by die tafel.
Daardie laaste dag … O, Modimo! Dit was ’n dag van donkerte, van angs en struweling. Sy het gebid vir vlerke om weg te vlieg, vir ’n gat om in weg te sink, selfs vir die dood. Maar niks daarvan was haar beskore nie. Sy kon nie glo wat voor haar gebeur nie, dit was soos ’n storie op TV en sy net ’n toeskouer.
Toe is hy weg en was alles net te onwerklik. Die son het dié dag te gou klein geword, die strale flou, die skadu’s lank en sy het gebid Polly bly in die winkel tot toemaaktyd voor sy huis toe kom. Sy moes dink. Dink!
Sy was al uit by die deur toe sy van die visstok op die agterstoep onthou. Terug deur die huis en soos sy haar haas, het sy planne gemaak, dié kant toe, dáái kant toe.
In haar eie huis het ’n naarheid haar oorval en sy het twee Grand-Pa’s afgesluk, gaan stort en ’n bietjie gaan lê, want haar ingewande het gedraai en haar lyf het gepyn. Sy was moeg van haar kop tot haar tone, die gedagte aan ’n lewe sonder Archie ondenkbaar.
Wat gaan sy vir Polly sê? Woorde, sinne, verduidelikings het deur haar kop geflits. Nee, Polly sou dít nie glo nie, dát nie glo nie. En die waarheid dan?
Ná ’n uur het sy regop gekom, op die kant van die bed bly sit, haar gemoed te swaar om verder te beweeg. Nog ’n uur het verbygegaan. Toe is sy sleepvoet terug na Polly se huis toe.
Sy sien nou nog hoe Polly die deur versigtig oopmaak, die verbasing op haar gesig om haar op die drumpel te sien. Haar kop sak vooroor tot op haar arms op die tafel en sy lê haar kop neer en huil. Eers ’n sagte gehik, ’n krampagtige intrekking van asem en toe al harder.
Die Maandagoggend daag Otis uit die bloute daar op en sê hy kom vir hom ’n bottel wyn uit Archie se kelder haal. Dit was nie vir haar vreemd nie, hy het dit baie maal deur die jare gedoen, met Archie se toestemming. Sy het oopgesluit en hy het ’n bottel gekies, maar in plaas van groet en huis toe gaan, het hy kombuis toe geloop, haar genooi om by hom aan tafel te kom sit.
Otis het begin praat en sy het lam geword van skrik. Dit was die begin van sy blackmail. Want hy het van álles geweet.
Haar trane maak dammetjies op die tafel en die geluidjies in haar keel is soos dié van ’n sterwende siel. As Polly haar nou moet sien … Maar vlees en bloed kan net soveel vat.
Polly lyk altyd so in beheer, so deftig, nooit ’n haartjie uit plek nie. Koop haar seep van House of Aromas. So ladylike. Haar ma was dieselfde, jy kon haar altyd deur ’n ring trek. Albei met die groot groen oë wat deur jou kyk, ’n kleur groen wat sy nog nooit vantevore gesien het nie. Mooi genoeg om mans mal te maak, kan sy dink. Mans soos Otis.
Archie het soms so sleg afgesteek, vernaam teen Otis. Dié is altyd so netjies geklee, sy hare so presies gesny. Archie se klere was sakkerig, die bos sleutels in sy broeksak bonkig, sy maniere en gewoontes anders as Polly s’n. Archie was ’n goeie mens, maar sy weet Polly moes soms baie opvreet van hom. Hulle opvoeding was te anders.
Catherine vee haar oë af, snuit haar neus. Dis die drome wat haar van haar kop af wil maak. Sy verdien dit nie. Sy was net goed vir Archie, áltyd, sy staan onskuldig voor God.
Met Polly het sy haar bes probeer, maar sy het die hande gesien wat haar die afgrond in stamp.
Polly se hande.