Sewe

Polly en Gugu pak Archie se sportmotor vol met lekkernye, ’n oornagsak vir elkeen, Polly se aktetas en slaapsak en Gugu se laptop, geruite kombers en twee kussings. Gugu sê sy lê nie haar kop neer op vreemde kussings nie en sy reis nie sonder haar geliefkoosde knee blanket en laptop nie. Sy moet weet as ’n kliënt hulp en raad nodig het met ’n weerbarstige of gewelddadige lewensmaat. As marriage counsellor par excellence lewer sy ’n 24 uur-diens aan haar kliënte. Teen ’n fooi, natuurlik.

“Email dramas I can handle. Cellphone dramas I can’t,” verduidelik sy terwyl sy haar bagasie in die kattebak laai.

Vir Polly lyk Gugu soos ’n koningin. Met ’n klein, ronde strooihoed op haar parmantige dreadlocks wat heen en weer swiep soos sy praat en beduie, lyk sy soos iemand wat die septer kan swaai. Pure Whoopi Goldberg op die grootskerm met ’n take-no-prisoners-houding. Twee vol borste baklei vir spasie in die stywe bolyf van haar goue tabberd en aan haar voete is goue sandale met riempies wat om haar enkels en bene draai tot dit onder die val van haar rok verdwyn. Die pièce de résistance haar koeëlronde swart Diesel-brilletjie.

Toe Polly agter die stuurwiel inskuif, kyk sy skuins na Gugu met haar brilletjie amper op die punt van haar neus. “Kyk jy ooit déúr die bril?” vra sy.

Gugu rol haar oë en skud haar kop. “It’s a fashion statement, my dear.”

“Weet jy soos wie jy lyk? Het iemand jou al gesê …”

“Ek weet, los maar die beledigings. Laat ons ry voor my maag vir ’n vetkoek en tee vra.”

Polly verkneukel haar aan die grootte van die kossak tussen Gugu se voete. Wat het die vrou nog ingepak behalwe vetkoek? Dis vir haar ’n nuutjie om die langpad saam met ’n vreemde mens te vat en ’n aand saam oor te slaap. Wat weet sy immers van Gugu af?

Net dat sy ’n huweliksberader is. Sy lyk op ’n druppel na die beroemde filmster, intimiderend maar heel waarskynlik pret (en sonder die Amerikaanse aksent). Praat goeie Engels en Afrikaans in perfekte Pandor-styl. Te oordeel aan haar pragtige Benz en die reuk van White Linen wat om haar hang, is sy ’n suksesvolle sakevrou.

Toe Gugu weer vra wat hulle in Harrismith gaan doen, weet Polly sy moet begin vertel. In detail. Van haar ongelukkige huwelik, Archie se verdwyning, Catherine se stille verwyt, Miss Big Wig. Met die indraai op die N3 volg die eerste biegstorie, ná vyftig kilometer die tweede en ’n honderd kilometer later draai hulle in onder ’n skaduboom om iets te drink.

Polly trek die handrem op en maak haar sitplekgordel los.

“Kom nou tot bedaring en vee af jou trane, toe?” sê Gugu en vryf moederlik oor haar bobeen.

“Ek huil nie.”

“Hmm … vee maar af anyway.”

Polly snuif hard, sit weer albei haar hande op die stuurwiel en sug. “Dankie dat jy geluister het.”

“My pleasure, girl. I’m a marriage counsellor, right?”

“But I don’t have a marriage anymore.”

“That’s besides the point.”

Polly kyk weg. “Kom ons klim uit en sit hier op die bankie, netnou mors ons in die kar.” Gugu het heelpad aan ’n sakkie biltong op haar skoot gesit en smul – in Archie se kar!

“Jy is paranoïes!” roep Gugu agter haar aan toe sy die deur haastig oopmaak en omloop na die kattebak.

“Hoe so?” vra Polly toe sy haar mandjie padkos uithaal. Gugu onderskep die mandjie en gaan sit dit op die tafel neer. Polly haal die kniekombers uit.

“Hei, wat maak jy met my kombers?” vra Gugu.

“Die sement is hard en koud en my boude is dun. Julle boude is breed.”

Gugu trek haar gesig afkerig.

“Paranoïes, hoe?” Polly haal ’n toebroodjie uit en skuif die plastiekbak oor na Gugu.

“Kan ek vir ons vetkoeke gaan haal?”

Polly skud haar kop. “Later. Toebroodjies word gou oud … ek bedoel hard.”

Gugu sit twee bekers op die tafel neer en trek die fles koffie nader.

“Hoekom dink jy ek is paranoïes?” vra Polly weer.

“Jy dink steeds, ná agtien maande, Archie gaan by die huis instap en sê: ‘Hello, darling, I’m back, where are my car keys?’ En dan, nes hy gemaklik agter die stuur sit, vang sy oog ’n koffiekolletjie op die mat, of ’n paar krummels op die sitplek, dalk ’n blink kol wat lyk soos biltongvet …”

“Ag toe nou! Archie het weggeloop saam met ’n jong doll met ’n rooi sportmotor en vyf sentimeter lange pers naels. Hy sal nie sy kar kom soek nie.”

Gugu se mond hang oop van verbasing.

“Archie was net … wel, hy was net héilig oor sy kar,” sê Polly verskonend. “En dis die eerste keer dat ek sy kar …”

Gugu skud haar kop dat haar dreadlocks swaai. “Vyf sentimeter? Is jy séker?”

Polly vat ’n hap van haar toebroodjie. “Dis wat Catherine gesê het – sy het hulle gesien gaan.”

“Hmm … En wat het hy nog saamgeneem?”

“Twee tasse, nee wag, een groot tas en ’n tog bag met klere, skoene, die ikone in sy studeerkamer, foto’s, klein goedjies wat vir hom belangrik was, ’n bietjie korrespondensie.” Sy glimlag eers, toe lag sy. “Hy’t darem die vibrator vir my gelos.”

“Haai, Polly, nee! And I thought the European guys are supposed to be so hot. Het jy dan nie jou stukkie in die bed gekry nie?”

Polly lag al hoe harder, soek later ’n snesie vir die lagtrane.

“What’s so funny?” vra Gugu.

“Die vibrator was vir sy kop, nie vir my nie,” sê Polly toe sy bedaar. “Hy’t geglo die vibrasies sal hare op sy kop sit.”

Gugu lê omtrent oor die tafel soos sy lag. “Het julle nog nooit gehoor van ’n hair transplant nie?”

“Natuurlik, maar ek wou niks daarvan hoor nie. Ek dink dis nog iets waarvoor Catherine my blameer. Maar Archie het … óns het so ’n hoë lewenstandaard gehandhaaf, ek het nie gedink ons kan dit ook nog bybring nie. Buitendien, ons het albei gesien hoe iemand se kop lyk wat jare tevore ’n haaroorplanting gehad het. Dit was vol aaklige rooi kolle.”

“Het jy Kállis se hare gesien?”

“Ek weet,” sê Polly flou. “Maar Archie het nie goed gereageer op medikasie nie, hy was allergies vir allerhande goed. Catherine het dit nie verstaan nie en …”

“Oukei, oukei. Vergeet van Catherine. Jy was besorg: oor hom, oor julle finansies, I get the picture. But the fact that he ran off with a wigmaker means he might have been quite happy with a wig. Did you talk to him about buying a wig?”

“Het jy al Ríaan se hare gesien?”

“Mans dra pruike omdat hulle desperaat is, Polly. In Archie se geval desperaat genoeg om met ’n pruikverkoper weg te loop. Maar vir ’n man wat heilig is oor sy kar het hy dit darem maklik laat agterbly, of hoe?”

Polly knik. “Ja, ek verstaan dit ook nie. As hy van plan was om te gaan boer, sou hy tog meer in ’n trekker belanggestel het, dan nie?”

“Hy kon die Merc geruil het vir ’n trekker.”

“Jy’s reg, Gugu. Maar ek glo nie hy boer nie, êrens het iemand die kat aan die stert beet. Dis nie in sy aard om sy hande vuil te maak nie. Waarom sou hy op iemand ánders se plaas wou boer? Hy kon mos sy eie stukkie grond gekoop het as hy wou.”

“As dit waar is wat Catherine sê, is hy ’n scumbag om sommerso uit te loop sonder om iets vir jou te sê. Ek bedoel, hy kon ’n brief gelos of agterna gebel het. Maar om ’n boodskap vir die huishulp te gee, aikôna. Hy’s ’n scumbag.”

Dis darem ’n verdoemende woord, dink Polly. Nie eens teenoor Monica sou sy so iets kwytraak nie. Maar is dit nie waar nie? Iets in haar krimp ineen.

“Archie se Engels was nie waffers nie en sy skrywes beroerd, hy sou nie ’n brief gelos het nie. Die Grieke het hulle eie alfabet, weet jy.”

“Hmm … én jy maak verskonings vir hom. Is jy nog lief vir hom?”

“Néé,” sê Polly hard. Nie soos ’n vrou ’n man behoort lief te hê nie, las sy in haar gedagtes by.

Sy het eenkeer uit pure radeloosheid, ná Archie se soveelste magic hair cure in die vullisblik beland het, langs hom op die bed neergeval en saggies en simpatiek gesê sy het nie met hom getrou omdat hy hare op sy kop het nie.

Nou ja, dit was nie heeltemal waar nie. Sy bos hare wás destyds ’n faktor. Swart, blink, dik en sy bakkebaarde welig. Vir haar was Archie anders, besonders, uitheems en (het sy geglo) haar vriendinne jaloers.

Om die onbelangrikheid van hare te beklemtoon het sy bygelas: “Sê nou die helfte van my hare val uit, sal jy nie steeds lief wees vir my nie?” Hy het haar ongelowig aangestaar, haar hare as’t ware gesit en tel, die gedagte aan ’n kaalkopvrou duidelik te weersinwekkend vir woorde. Sy wag nou nog vir ’n antwoord.

“Wat sê Catherine nog van mevrou Naels?” vra Gugu.

Wat ís daar nog te sê as ’n huwelik ineenstort? wonder Polly. Met Archie se wegloop het alles háár kant toe geval om te betaal, om uit te sorteer, om te verduidelik.

“Ek het jou gesê: Sy bestuur ’n bloedrooi sportmotor – glo mooier, blinker en nuwer as Archie s’n. Behalwe haar lang naels en die feit dat sy ’n pruikverkoper is, is sy jonger as ek. Maar Catherine sê ná Archie sy goed ingelaai het, het hy agter die stuur ingeklim. So miskien was dit sý motor. Ek weet wragtie nie meer wat om te glo nie.”

“Ek stem saam. Ek dink ook dit was Archie se motor wat hy gekoop het vir die weggaan, om mevrou Naels te beïndruk. Of dalk is sy sporty Merc sy goodbye-geskenk aan jou. Het jy al daaraan gedink? ’n Skuldige man kan soms vreemde dinge doen, vra my, ek weet.”

Gugu sit ’n rukkie stil voor haar en uitstaar. Dan draai sy na Polly.

“Vraag nommer een: Wíl jy van Archie skei? Sê nou mevrou Lang Naels het nie haar opwagting gemaak nie, sou jy steeds van Archie wou skei?”

“Já.”

“Dit was vinnig!”

“Gugu, ek het meer as ’n jaar gehad om daaroor te dink, om gewoond te raak aan Archie se afwesigheid, die vrede in die huis … die vryheid om nie rekenskap hoef te gee van elke sent wat ek spandeer of van elke minuut wat ek nie by die huis is nie. Die gedurige spanning en die getwis in die boekwinkel is weg. Ja en ja, ek wíl skei, so gou moontlik. Ek dink die ding met die pruikverkoper het alles net op die spits gedryf. Maar ek wil ook nie kaal uitloop nie, daarvoor het ek te hard gewerk en te veel verduur.”

“Egskeidings kan morsig wees,” sê Gugu al kouend aan haar broodjie.

“Nee, dit wil ek beslis nie hê nie. Hy … ék verdien dit nie, en ek wil dit ook nie aan hom doen nie. Ek is seker ons kan tot ’n skikking kom.”

“Vraag nommer twee: Glo jy als wat Catherine vir jou vertel? Met ander woorde, glo jy werklik Archie het met ’n ander vrou weggeloop?”

“Waarom sou Catherine oor so iets lieg? Wat baat dit haar? En wat is die alternatief? Hy’s tog weg, sy goed is weg …”

“Behalwe sy Merc.”

Polly trek haar skouers op. Sy begin die goed bymekaarmaak om dit in die mandjie terug te pak.

Terug op die hoofpad kom lê ’n vredige stilte tussen haar en Gugu. Sy is dankbaar vir die dinkkans. Al is sy niks nader aan ’n oplossing vir haar probleem nie, voel dit goed om met ’n buitestander oor Archie te kon praat.

Sy bekyk die landskap van graspolle, klippe, heuwels, grensdrade en geen mense, die veld amper sonder lewe. Dis of alles salig staan en wag op die groot skilder en sy verfkwas. Hier ’n huisie, daar ’n paar skapies.

Haar oog vang die dun goue kettinkie met die piepklein kruisie wat heen en weer aan die truspieël bengel, tesame met ’n stringetjie worry beads, elkeen met sy eie ritme. Tipies Grieks, die viooltjiepers ametissteentjies wat blink in die son.

Die kruisie het sy vir Archie gekoop met hulle troue en die kraletjies het hy op ’n eiland gekoop, sy kan nie meer onthou watter een nie, hulle was op so baie. En sy kamma so gelukkig.

Dalk was dit die kinders se opgewondenheid en hulle uitgelate laggies wat haar gemoed tot ’n mate gelig het, of dalk wóú sy net gelukkig wees. Neo en Athena was twee en vier jaar oud toe hulle die eerste keer as ’n gesin Griekeland toe is.

Was die krake in hul huwelik toe reeds daar? Skaars vyf jaar getroud en hulle het niks om vir mekaar te sê nie. Elkeen so versonke in sy eie gedagtes sonder die vermoë om dit te bewoord, om enigiets met die ander een te deel. Die blink aantrekkingskrag van die andersheid van kultuur en taal het verdof tot ’n roeserige aanpaksel, die eens uitbundige dinamika niks meer as ’n fluistering nie.

Archie het tóé reeds gewig aangesit, sy hare dunner en hy kwater – vir haar, vir die wêreld. ’n Mens sou sweer sy en elke ander mens in die wêreld het sy hare een vir een uitgepluk.

Deur die jare het hy vir hom klere in Griekeland gekoop tydens sy vele ekspedisies vir die boekwinkel, meesal vir alledaagse dra en nie alles vleiend nie. Sy pakke en hemde vir deftige geleenthede het sý gekies, in Suid-Afrika, die moue en broekspype korter gemaak met Catherine se hulp.

Haar eie gewig was konstant, haar naels en hare, grimering en klere altyd goed versorg – vir hom. Maar in al die jare van hulle getroude lewe het sy nooit soveel as een kompliment van hom gekry nie. Sy pluimpies en liefdeswoordjies het saam met hulle wittebrood gesneuwel.

Die gedagte ruk haar – ’n gesneuwelde wittebrood …

Is dít wat dit was? Hy so amoreus, besitlik en gelukkig, die afwagting om as man en vrou te verenig vir albei onuitstaanbaar, hulle passie en hunkering na mekaar allesoorheersend. Opgewerk tot oorlopens toe het hulle na mekaar uitgereik, toe teruggedeins, gewond en ontnugter.

“There is no blood,” het hy teleurgesteld gesê, ’n verwyt wat tot die dag van sy verdwyning soos ’n paal bo water tussen hulle bly staan het. Geen verduideliking kon vergoed nie. Die wittebrood van sewe dae kortgeknip ná vier aande, sy liefdeswoordjies vir altyd opgedroog.

“The man buys the woman nice house, she knows he loves her,” het hy op ’n keer geïrriteerd gesê.

Dis nie genoeg nie! het sy in stilte teruggeskree. Wees bly om my te sien wanneer ek inloop, wees vriendelik en mooi met my soos met jou vriende, gesels met my soos met Catherine. Lyk gelukkig langs my! Trek my nader in jou intieme vriendekring, hou my hand vas sodat ek nie eensaam en verbouereerd staan tussen vreemde mense wat ’n vreemde taal praat nie, maak my deel van jou wêreld, jou gedagtes. Haar gedurige versugting.

Maar sy beskuldiging “There is no blood” kon sy nooit weerlê nie. Want die rooi streep het oor die voël en binneboud van “Otis is my best friend” gelê.

Sy kyk na haar kneukels wat wit om die stuurwiel klem en probeer geluidloos sug, daadwerklik ontspan om die verwoede hartkloppings te laat bedaar.

Hulle eerste keer saam in Griekeland het hulle by Athena tuisgegaan, soos al die daaropvolgende kere, en sy het agterna besef dis grotendeels aan haar skoonsuster se ongeëwenaarde gasvryheid en gemoedelikheid te danke dat sy die Griekeland-trippies enigsins geniet het. Met seer voete en moeë lywe ná ’n uitmergelende dag in die hitte klim hulle die blougeverfde sementtrappies na Athena se voordeur op, word bedwelm deur die heerlike geur van visfilette met tamatie, uie en feta uit haar kombuis.

Griekeland was plesierbote van die een hawe na die ander, donkies ry, markte, jolige feeste, oorverdowende bouzouki’s, ouzo drink, babelas met ’n kloppende hoofpyn onder ’n breërandhoed in sand en klippers, waterbottel in die een hand en sun block in die ander, sy te pê om see-in agter die kinders aan te hardloop.

Archie het sandkastele gebou, gehol met die kinders wat aan hom hang soos nete en nimmereindigend roomyse gekoop wat al wat ’n handdoek en t-hemp is, bevlek het.

“Wat op aarde gooi julle in julle roomyse?” het sy op ’n keer gevra.

Hy het sy wenkbroue geïrriteerd gelig en ’n handgebaar gemaak wat sy toe reeds herken het as “Stop your nonsense” of die alternatief, “You crazy woman”.

Langs haar begin neurie Gugu saggies ’n liedjie van Afrika, kop agteroor, haar hoed nou koketterig oor haar voorkop, oë toe. Polly loer onderlangs na haar, na die gladde vel wat styf span oor die mooi gevormde kakebeen, die dreadlocks, die lippe wat af en toe ’n woord wil vorm. Sy kyk weer voor haar in die pad en ’n ou, magtelose gevoel wat sy as skaamte herken, bekruip haar.

Die gevoel, die gewaarwording van die besef wat haar soms woedend en verleë saans in haar bed laat rondrol het as sy aan die dag se gesprekke dink. Dieselfde gevoel wat sy keer op keer in Griekeland gehad het.

Die julle en die ons. Ons roomyse, julle roomyse. My boude, julle boude. ’n Ou kreet oor grense van kleur en taal, oor tralies van hawens en heinings van kontinente. Hoe kon sy so ongevoelig gewees het? Sy skaam haar, vryf liggies oor Gugu se arm.

“Dankie dat jy ingestem het om saam te kom, Gugu. En ek’s jammer oor die … die breë boude. Ek vra om verskoning.”

“Ek is bly ek het saamgekom. En hou op worry. You call a spade a spade, ek hou daarvan. Maar ek dink nog jy’s lief vir die man. Kyk hoe ver ry jy om by hom uit te kom.”

“Ek wil nie by hom uitkom nie, ek het die papiere in my aktetas wat hy moet teken sodat ons kan skei. Ons móét nou tot ’n ooreenkoms kom. Ek gaan nie al die pad net om te praat nie.”

“Hmm … Polly, kan ek jou nog iets vra? Maar ek wil hê jy moet mooi dink voor jy antwoord en vergeet asseblief van wit en swart en skuldgevoelens en al daai jazz. Wees eerlik.”

Gugu kom regop uit haar sit-lêposisie en skuif haar hoed reg.

“Dink jy Catherine en Archie het iets aan die gang gehad? Ek bedoel, hoe danig kan twee mense oor mekaar wees sonder dat hulle … jy weet?”

Polly verminder spoed. Voor hulle is ’n bakkie en agterop ’n paar kinders, die dogtertjies met bollende rokke en die seuns met flappende hempies. Hulle lag oopmond en waai en Catherine waai terug. Polly gee vet en gaan verby, hoor die kinders “Bye-bye!” roep.

Catherine en Archie?

Dié gedagte het al deur haar brein geflits, maar sy het dit summier verwerp as belaglik. Catherine het vir Archie Griekse disse gekook, gelag vir sy flou grappies, geluister na sy eindelose stories oor sy kinderjare en die geskiedenis van sy land en hoe sy oupa in ’n burgeroorlog gesterf het.

En hy het geluister na háár stories. Haar kinderjare, haar goeie skoolopvoeding, haar ma se aanvanklike teleurstelling oor sy ’n tuinier gekies het, hoe die lobola vergoed het, hoe mevrou Levine haar voor die stoof gekry het, haar aanvanklike flops met die kos, haar trots oor haar seun wat ’n hoë posisie in ’n regeringskantoor beklee. Haar slim kleinseuns.

Sy en Archie het saam gesels en saam gelag, soos vriende, mekaar gevlei en bederf. Hy vir haar met geskenke, sy vir hom met kos en moetie vir sy hare. Dit was ’n wenwen-situasie.

“Ek sal toegee …” Polly hoor die versigtigheid in haar eie stem, “dat hulle baie erg was oor mekaar, miskien op hulle manier selfs lief vir mekaar – my kinders is baie lief vir haar – maar dis dit. Archie het sy geld weggesteek, hy was baasspelerig en eiewys, maar hy was nie onderduims nie. Catherine is ook ouer as hy. Archie was maar soos …” sy trek haar skouers op, nie seker hoe om hom te beskryf nie, “soos enige ander Griek.”

Die baie Griekse egpare wat deur die jare haar pad gekruis het, was merendeels soos sy en Archie. Lank nie meer verlief nie, twee mense wat verby mekaar, maar nie sleg van mekaar, praat nie. Bly nog onder een dak, meer ter wille van die kinders en verstrengelde geldsake as behoefte. Soms oor die vrou se gebrek aan onafhanklikheid.

By funksies het die vroue mekaar opgesoek vir lekker gesels en die mans het saamgebondel en gedrink en soms tafli gespeel. Dit was soos ’n onuitgesproke reël dat mans en hul vrouens mekaar totaal ignoreer in die geselskap van ander. Die vrouens het gesit en kla oor die duur lewe en gespog met hulle kinders. Die mans het gekla oor die politiek en Afrikaners in die algemeen en gespog met hulle besighede.

Agterna het sy en Archie saam in die kar geklim, na ’n Griekse CD geluister op pad huis toe, in die bed geval, soms op mekaar geval, gesteun en gehyg en omgerol en geslaap. Die mag van die gewoonte (of onder die invloed van drank).

Die waarheid is daar was nooit tyd vir ’n verneukery nie. Hy was besig en sy was besig. Hulle was altyd bewus van mekaar se kom en gaan, mekaar se doen en late. Buitendien was hy te behep met sy haarverlies om nog tyd vir ’n affair te maak.

Sy kyk na Gugu. “Catherine mis Archie geweldig, dis ’n feit. Sy’s ’n weduwee, haar seun kom min kuier, sy sien nie haar kleinseuns grootword nie. Archie het hoofsaaklik daardie leemte in haar lewe gevul. Maar nee, daar was niks meer as vriendskap nie. Catherine is ’n goeie mens, ek vertrou haar absoluut. Buitendien, Archie is narsisties. Totaal en al verlief op homself.”

“Maar aan die einde wás hy onderduims,” sê Gugu sag.

Polly sug innerlik. In haar truspieël sien sy ’n taxi wat omtrent op hulle afgepyl kom, beweeg effens links om hom genoeg plek te gee om verby te gaan. Sy het nie woorde om kommentaar op Gugu se gevolgtrekking te lewer nie.

“Daai taxi is te vol en dis oorlaai,” sê Gugu terwyl sy die passasiers en die bagasie op die dak bekyk. Polly doen dieselfde. In die verbygaan draai ’n vrou skeef in haar sitplek, kyk hulle ’n oomblik aan en ruk haar kop terug.

“My magtig, dis Catherine!” roep Polly.

Gugu rek haar nek, loer oor haar brilletjie. “Watter een?”

“Sy het omgekyk …”

“Polly, ek’s swart, jy’s wit, ons sit langs mekaar in ’n sporty kar. Almal het omgekyk.”

“Nee, ek praat van die vrou met die groen hoedjie, sy sit voorlangs. Dit het gelyk soos Catherine.”

Gugu gee haar ’n lang, simpatieke kyk. “As jy haar onder palmbome by ’n fonteintjie sien sit het, het ons dit ’n mirage genoem, weet jy. Wil jy hê ek moet verder bestuur?”

“Gugu …”

“Ek belowe ek sal mooi ry en nie Archie se kar beskadig nie.”

“Nee, ek makeer niks. Dit wás Catherine, ek is seker daarvan.”

Waarheen sou Catherine op pad wees? wonder Polly. Sy’t gisteraand gesê sy gaan na haar broer toe. Wat waar bly? Polly laat sak haar voet op die petrolpedaal, gretig om te sien of die taxi vorentoe gaan afdraai.

Gugu leun oor na haar kant toe en kyk na die spoedmeter, maar Polly konsentreer op die taxi. Dís dan hoekom Catherine geld geleen het, dink sy. Maar hoekom het Catherine nie so gesê nie? En so baie geld … miskien ’n begrafnis?

“Waarom ry jy met Archie se kar, Polly? My Merc, jou bmw, die een so betroubaar soos die ander.”

Polly blaas ’n paar maal deur haar neusgate. Die oomblik van waarheid, maar eers stadiger ry, die taxi is ver voor en ’n paar motors tussen hulle, sy wil nie ’n ongeluk maak nie.

“Dis ’n magspel, Gugu. Hy dink so min van my dat hy sonder ’n woord weggeloop het – met ’n ander vrou. Hy moet dink ek gee net so min vir hóm om, dat ek van dag een af rondkerjakker in sy kar. Haal nou jou vetkoek uit, ek wil sy kar bemors.”

“Eina.”

“Wat de hel.”

Met ’n vetkoek in die een hand en ’n servet in die ander ry hulle voort, kou-kou. Polly hou haar wysvinger omhoog, blink van vetterigheid, en maak ’n smeersel oor die lengte van die voorruit. Sy en Gugu kyk mekaar laggend aan.

“You go, girl!” sê Gugu.

Wanneer laas het ek dit gehoor? wonder Polly, ’n warm, genoeglike gevoel in haar binneste.

“Gugu,” sy kou en sluk, “wat het jou laat besluit om ’n huweliksberader te word?”

“Lang storie,” sê Gugu en vat nog ’n hap van haar vetkoek.

“Dit kan nie langer as myne wees nie.”

Sy het as kind en jongmens soveel ongeregtighede onder haar eie mense gesien, begin Gugu. Die verskriktes, ongeskooldes, vertraptes wat uitgebuit word sonder iemand wat namens hulle kan praat. En hulle sonder geld vir wettige hulp. Sy wou prokureur word, die wêreld regsien en al die onregverdigheid uitwis.

Polly knik. “Dis ’n baie mooi en edele doel om te hê. En jou taalgebruik is puik, hoor.”

“Dankie. Ek het die beskrywing in Sarie gelees, uitgeknip en gememoriseer.”

Polly moet lag.

“Dis nietemin die reine waarheid. Daar was niemand wat hulle kon of wou help nie. Alles was teen ’n prys.”

Sy vertel verder ná nog ’n hap vetkoek. “Ek het ook gedink dis ’n edele doel, maar daar was nie geld vir studies nie en ek kon nie ’n beurs kry nie. Toe gaan ek op my eie, eers baie eenvoudig.”

“Hoe eenvoudig?” por Polly.

“Ek het vorms gelees en ingevul wat mense nie kon verstaan nie. Ou mense gehelp om te registreer vir old-age pension, vir disability, care dependency grants … dis destyds iets anders genoem. Mammies help baklei vir onderhoud vir die spul kinders. Saam met mense in die hof gaan sit, vir ondersteuning, jy verstaan.”

Polly wens sy het gister ’n Gugu saam met haar in die hof gehad.

Gugu sluk die laaste stukkie van haar hamgevulde vetkoek, krap in die sak tussen haar voete vir nog ’n servet, vee haar hande en vingers versigtig af. “Mense het betaal wat hulle kon. Soms in die vorm van kontant, soms ’n boerpampoen.” Sy lag effens. “Selfs ’n bok of babahondjie.”

Dan raak sy weer ernstig. “Slagoffers van verkragting of familiegeweld, vrouens met huweliksprobleme, almal het later hulle pad na my ma se deur gevind. Ek het niemand weggewys nie. Ons het in my kamertjie gesit met die boks tissues tussen ons, my ma wat saggies aan die deur klop en koffie en koekies indra sonder om ’n woord te sê.”

Polly kan haar die scenario voorstel en iets pluk aan haar hart. “Jy moes goeie advies gegee het.”

“Meesal was dit common sense. Ek dink baie wou net ’n oor en ’n simpatieke klik van die tong gehad het, ander ’n bietjie ondersteuning.”

“Jy het goed gedoen …”

“Ek het later boeke gekoop om my te help om die regte advies te gee, nog later na die welfare-kantoor gegaan en met hulle gesels. Hulle het vir my ’n junior pos aangebied. Ek moes mense screen, afsprake maak, daai soort ding, maar ek het ontsaglik baie geleer. Jare later, ná ek ’n korrespondensiekursus in huweliksberading voltooi het, het ek vir my ’n kantoor gekry in ’n shopping centre in Kagiso, myself ’n ‘welfare and marriage counsellor’ genoem.”

Polly luister in stille verwondering.

Gugu giggel. “Maar ek wou ’n Merc hê en ek het geweet met kleingeld en pampoene gaan ek nêrens kom nie. Toe kry ek vir my nog ’n kantoor, in Rosebank. Twee dae in Rosebank en drie dae in Kagiso. Laas jaar op my vyftigste verjaardag het ek my Merc gekoop.”

“You go, girl!” roep Polly en klap op die stuurwiel. “Wat het geword van die mense van jou tuisdorp?”

“Ek weet waar ek vandaan kom, Polly. Ek sit steeds in my kamertjie in my ma se huis, maar nou net Saterdae. En die mense kom steeds. Daar is ’n groot behoefte in die arm gemeenskappe. Mense het nie geld vir ’n taxi om hulle na die welsynkantoor te vat nie en ander is te oud. Party het klein kinders en kan nie ure staan en wag in lang toue vir vervoer nie. Baie verstaan nie die korrekte prosedures nie. Dís die mense wat ek nooit sal verlaat nie. En hulle betaal steeds wat hulle kan bekostig.”

“Ek haal my hoed af vir jou, Gugu, ek het nou skoon trane in my oë.” Polly sluk hard. “Wat doen ék om my medemens te help? Niks.”

“Ons doen almal wat ons kan. Jy het jou eie probleme. Ek het nooit getrou nie, dus kan ek kom en gaan soos ek wil.”

“Waar het jy geleer om die taal so goed te praat?”

“Eish, moenie praat nie! Daai jare was dit net Boeretaal en ek moes byhou, toe het ek Afrikaanse koerante en boeke begin lees, ’n Afrikaanse woordeboek bekom. Mooi uitdrukking, nè?” Gugu stamp liggies aan Polly.

“Die mense het my geterg, maar ek het aanhou lees, boek in die een hand en woordeboek in die ander. Sonder die taal kon ek nie met amptenare, staatsaanklaers of regters praat nie; nie my mense help nie. Dit was moeilike tye daai.”

Polly sit die flikkerlig aan. Daar is ’n eetplek voor en sy kan al die cappuccino in haar verbeelding ruik.

“Bly jy nog by jou ma?” vra sy toe hulle elkeen met ’n koppie koffie in die hand sit.

Gugu bekyk die mense wat hulle bekyk, skud haar kop. “My ma is oud, met al die skete wat met ouderdom kom. My suster-hulle kyk nou na haar. Ek huur ’n pragtige tweeslaapkamerwoonstel in Rosebank. My vriendin slaap in die eetkamer agter ’n mooi afskorting en nog twee vrouens deel die ander kamer.”

“Regte Africa style,” terg Polly.

“The rent divided by four is not bad.” Gugu probeer ongeërg lyk.

“Soos ek sê,” herhaal Polly, “Africa style.”

“Watwou! ’n Boer maak ’n plan,” protesteer Gugu. “But look at the address!”

“To die for,” beaam Polly en hulle skater saam.