Nes sy bid die man moet huis toe gaan, vee hy mooitjies weer haar mond af, saggies en teer. Stoot haar hare uit haar oë, spoel die nierbakkie uit en maak dit goed skoon by die wasbak langs haar hospitaalbed.
Sy lê terug teen die kussings terwyl haar binnegoed draai. Sy kan nie meer nie, sy kán nie meer nie, laat dit net ophou … Otis Lambros se gesig verskyn voor haar geestesoog en sy ruk haar bene vinnig op, tot styf teen haar lyf.
“Polly … Polly?” kom sy sagte, dringende stem asof van ver af.
“Jan … gaan huis toe,” fluister sy, haar gesig in die kussing gedruk.
“Ek gaan miskien nooit weer die kans kry om jou te sien opgooi nie. Ruk, roggel en spoeg.” Sy blou kykers terg haar en sy verwens hom tot in die warmplek.
“Nou ja. As ek onwelkom is …” Hy maak keel skoon. Maar sy weet hy gaan nie roer nie.
“Bly tog,” sug sy, terwyl haar hand al weer voel na die nierbakkie. Sy het niemand anders nie, maar sy kry so skaam dat hy haar só moet sien.
“Ek het nogal dikwels opgegooi as kind,” hoor sy hom deur die gesuis in haar ore, die pyn in haar buik. Sy voel so siek, sy haat hom. Gaan huis toe! skree haar gemoed.
Sy sukkel orent, druk swaar op haar arm, haar kop laag oor die bakkie. Ruk, roggel en spoeg. Sy hoor hom ’n vel papier afskeur, sy een hand wat saggies agter haar kop vat, die ander wat oor haar mond vee.
Sy moet toilet toe. Die goed wat hulle haar ingegee het om haar maag skoon te maak vir die kolonoskopie, drup agter uit met elke opruk van haar maag. Sy het een glas van die suur mengsel gedrink en vyf minute later begin braak.
“You still have ten, twelve glasses to go,” het die bekommerde verpleër gesê en nog ’n glas geskink. Sy oë het groot geword toe die sluise van haar maag oopdraai, maar op, nie af nie. Later moes hy haar noodgedwonge inspuit.
Sy steek haar voete onder die beddegoed uit, skuif op haar boude na die kant toe en bid dat haar voete eerste die grond sal tref en nie haar kop nie.
Janrap trek aan haar arms om haar regop te kry. Sy weet haar hare is vasgeplak om haar gesig en in haar nek, haar tiete hang omtrent by haar nagrok uit, sy stink na braaksel en sy het haar broekie bevuil.
Ag, wat de hel! Sy het hom nie gevra om te bly nie. Hy is ’n vrywillige toeskouer van haar aftakeling. Sy beduie meer as praat, meer ’n gekreun as woorde: Ek moet toilet toe om my te was. My panty, in my tas.
Hy kry haar sak, rits dit oop. Plastieksakkie, sê sy. Hét hom, sê hy en ruk die broekie uit, vroetel vir haar waslap.
Sy word omtrent na die badkamer gesleep, sy arm stewig om haar lyf. Die hand met die panty en waslap stoot die drupstaander behendig voor haar uit. Drie treë. Hy hou die deur vir haar oop. Nog drie treë.
Sy klou aan die wasbak en hy tap water in, hang die hospitaalhanddoek om haar skouers, skuif die stoel tot teenaan haar lyf, hang haar broekie oor die armleuning. Hy smeer die waslap in dat die skuim staan, sit dit tussen die krane neer.
“Ek wag. Anderkant die deur,” sê hy en loop uit.
Haar lyf knipmes oor die wasbak terwyl sy aan haar broekie rem om dit oor haar boude, bene en voete te kry. Om te sterf, om nóú te sterf … dis haar enigste versugting. Dis sulke tye dat jou brein na Bybelversies gryp en jou hoop by Iemand groter as jy gaan draai.
Uiteindelik is sy skoon gewas, haar skoon broekie aangetrek. Al wat nog voorlê, is die paar treetjies deur toe. En anderkant die deur Janrap en haar bed.
Sy hang haar nat panty oor die bad se rand, weet sy gaan dit nie maak nie, haar maag ruk op. Maar wonder bo wonder maak sy dit – tot by die deur, tot by die bed. Janrap druk die beddegoed agter haar blaaie in terwyl hy op haar sel praat, skuif die nierbakkie tot langs haar hand. Sy hoor hom groet.
“Jou sel het gelui,” sê hy en bêre dit in sy broeksak. “Athena sê sy haal die eerste vliegtuig huis toe. Sy sê sy’s nog lief vir jou en ek … uhm … moet mooi na jou kyk.”
Sy kry dit reg om hom in die oë te kyk sonder om hom weg te jaag.
“Tot haar pa opdaag,” las hy haastig by.
Haar oë val toe. Sy prewel, sukkel om die woorde behoorlik te vorm en hy buk oor haar, sit sy oor naby haar mond.
“Ek sê … ek glo nie … aan spoke nie,” herhaal sy moeitevol.
Haar sel lui en Janrap antwoord weer. Dis Gugu wat wil weet wat aangaan, Polly kan elke woord van haar welluidende stem hoor. In haar hart glimlag sy, maar voel die afwaartse trek van haar mondhoeke toe die naarheid weer oor haar spoel.
“Polly has acute inflammation of the colon and a rectus sheath hematoma,” verduidelik hy.
“What! Does she have a bleeding ulcer?”
Nee, verduidelik Janrap geduldig, sy ervaar hewige pyn as gevolg van ontsteking in die dikderm en ’n geskeurde maagspier. Sy het die spier én die aar daaragter geskeur … Sy het oor die rand van die vrieskas geleun, amper ingeval … Ja, lang storie … Sy gooi op van die konkoksie om haar dikderm skoon te maak vir ’n kolonoskopie môre, so dis seker van die baan …
Polly voel ’n nuwe vlaag van mislikheid opstoot net om na hom te luister. Hoekom wil die man nie huis toe gaan nie! Hy loer haar kant toe en sy wys met haar hand hy moet loop, wat hy ewe gehoorsaam doen.
“The torn rectus sheath will take a month, maybe more to heal,” hoor sy hom sag maar duidelik buite haar kamerdeur sê.
Die geskeurde rectus-spier is soos ’n gebreekte ribbetjie, het die spesialis gesê, ons kan niks daaraan doen nie. Sit of lê, wees rustig, die spier sal weer aangroei. En móénie goed stoot of optel nie. Of in vrieskaste hang nie.
Sy is suf gebraak en ten spyte van die antibiotika, pynstillers en anti-emetika wat uit ’n sakkie in haar are drupdrup-drup, is haar maag so seer dis om van te huil. Laat staan nog die feit dat dit weke gaan vat vir haar om weer behoorlik aan die gang te kom.
Erger nog as die naarheid en pyn is haar gedagtes. Wat het Catherine gedoen? Wat hét sy gedoen?
Die visstok onder in die vrieskas was die metaforiese laaste spyker in Archie se doodkis. Hy ís dood. Al agtien maande lank.
Liewe hel, ’n kom-ons-slaan-mekaar-dood-egskeiding sou genadiger gewees het as dié dood sonder kennisgewing. Al hierdie maande het sy elke moontlikheid oorweeg, almal verdink, oral gesoek en Archie oor en oor verwens. Alles behalwe om Catherine van leuens te verdink. Wat het dit Catherine gebaat? Dís die vraag wat haar tot raserny wil dryf. En wat soek Otis by Catherine?
Nou lê sy plat, te seer om haar lendene met die waarheid te omgord en te siek om die borsplaat van geregtigheid op te neem. Sy wil Archie nie terughê nie, maar ook nie so nie, nié so nie … Sy huil. My kinders, my arme kinders, kerm sy geluidloos. Arme ou Athena … Sy sal moet Griekeland toe, haar skoonsuster gaan vashou, al moet sy met ’n rolstoel die vliegtuig in.
En Gugu … Was hulle ontmoeting ’n toeval of ’n wonderwerk?
Ná haar troue met Archie het sy haar eie kerk verlaat en haar plek op die banke van die Grieks-Ortodokse Kerk ingeneem. Daar kon sy ’n kers aansteek, haar kruis oor die bors maak, ’n ikoon soen en haar hoof eerbiedig buig as die ou Pappas met sy lang baard die wierookkannetjie aan die lang ketting haar kant toe swaai.
Soms het sy saam met die kantor geneurie sonder dat sy ’n woord van die sang verstaan. Nog minder kon Archie die rituele verduidelik. Sy moet net teenwoordig wees, het hy gereken. “God see you, it is enough.”
Het hy die rituele ooit verstaan? wonder sy nou.
Dis dan hoe sy haar al haar getroude jare toeverlaat het op God: deur net daar te wees. Hy sien haar, dis genoeg. Maar as goedheid en guns haar omring, wonder sy vanwaar … Soos met Gugu.
“Maak jou los,” het Gugu gesê, “maak jou los van jou ball and chain you have been dragging along all your life. Maar jy moet praat met Otis, want hy weet nie wat dit aan jou verhouding met Archie gedoen het nie.”
In Archie se bunker het alles uiteindelik bymekaargekom. Nou weet sy dat hy haar nooit sou verlaat nie, maar vir te lank was sy so opgevreet van woede oor die verlede dat sy nie verder kon sien as wat haar neus lank is nie.
Toe Janrap die deksel van die vrieskas oplig, het sy vooroor gebuig om binne te kyk. Al wat sy kon sien, was die tent en Archie en Neo se kampgoed. Sy het teen die vrieskas gedruk en haar lyf oor die kant gegooi om die tent by te kom. ’n Pyn het deur haar buikholte geskiet en sy het hard gegil, amper ingeval. Janrap het haar gegryp en teruggetrek.
Sy het op haar knieë afgesak, haar arms om haar lyf gevou, Janrap se groot hande wat haar skouers saggies vashou.
“Lig op … die tent,” het sy gepynig gevra. Sy móés weet.
Hy het die tent uitgehaal en dit op die vloer gegooi, sy arm weer in die vrieskas gesteek en nog iets uitgehaal. In sy hand was Archie se visstok, netjies opgevou. Neo se visstok is in sy kamer, het sy geweet.
Dit was die finale stukkie van die legkaart. Sy het al die tyd geweet Archie sou nie die verpeste visstok saamvat nie. Wie ook al vir sy dood verantwoordelik was, het nie geweet dit staan op die agterstoep net vir die show nie en het dit versteek sodat sy moes dink Archie het dit saamgevat.
Janrap kom by die deur in. “Gugu stuur liefdegroete.”
“Dankie. Jan … ek moet jou vertel van die visstok,” sê sy toe hy weer langs haar bed inskuif.
“Behalwe vir die pyn, kon ek sien dit het jou erg ontstel.”
Archie het visvang gehaat, begin sy vertel. Hy het die visstokke vir hom en Neo gekoop toe Neo klein was, want dié was mal oor die idee van uitkamp en visvang. Archie het saamgegaan, maar hy het gegril vir die aas, gegril vir vis skoonmaak. Natuurlik sou hy dit nooit vir Neo of enigiemand anders sê nie.
Nog ’n skyn wat sy moes help bewaar: Archie die hengelaar wie se visstok altyd gereed op die agterstoep staan. Ten minste het Catherine dit geglo. Met elke uitstappie het sy hom gesmeek vir vars vis en hy sou altyd vir haar ’n klein vissie of twee terugbring.
Neo het grootgeword en op ’n dag vir haar gesê hy haat visvang. Om ’n dier, al is dit ’n vis, vir die pret dood te maak is barbaars, om in ’n tent te slaap ongemaklik, en sy pa is baasspelerig en onuitstaanbaar. Niks wat hy doen, is reg nie, én die goggas loop oor mens. “Maar moenie vir Pa sê nie, Ma, hy dink ek’s mal daaroor.”
Terugskouend is dit skreeusnaaks. As die twee op ’n Saterdag- of Sondagoggend douvoordag met hulle visstokke, houers aas, kosvoorraad, opvoustoele, belaglike hoedjies en Wellingtons in die motor inskuif, het sy op die stoep gestaan en wuif.
Have a great time! I hope you catch tons of fish! Stay for a week if you like! het sy hulle hard en entoesiasties toegeroep, op elkeen se gesig ’n gepynigde trek en twee hande wat papperig terugwuif.
Sy kan aan Janrap se hmm-geluidjies aflei hoe hy die vertelling geniet.
“Ek’s ’n sadis,” snuif sy.
“Ag, toe nou. Hulle kon met mekaar gepraat het.”
“Jan, Archie is régtig dood, ek weet dit nou vir ’n feit. En ek weet … ek weet hy’s begrawe.”
Toe die woorde uit is, sluit sy haar oë. ’n Gewig het so pas van haar skouers afgerol. Janrap hou haar hand vas.
“Toe ek in die hof was …” sy sluk teen die naarheid wat wil-wil opstoot, “was daar ’n regeringsamptenaar in die hofsaal langsaan. Sy word van moord verdink … wat is haar naam …”
“Ja, ek weet van haar. Maar die naam …”
“Ja, sy. Dit was so ironies. Sy het blykbaar haar man vermoor en ek wóú my man vermoor. Ons het verby mekaar geskuur tussen al die fotograwe en joernaliste, ’n hele samedromming van mense. Daar het ek vir Gugu ontmoet en dis waar alles verander het.”
Sy is dankbaar vir Janrap se stilte, net sy kop wat knik, sy die enigste pasiënt in die tweebedsaal.
“Jan, ek sê net …” fluister sy en aarsel lank. “Ek dink Archie is vermoor.”
Meer stilte, toe antwoord hy sag: “Ek dink ook so. Ons praat môre. En … dankie vir die … Ján. Ek hou nie eintlik van Janrap nie.”
Hy kyk op sy horlosie. “Dis amper eenuur, maar ek sal môre vroeg hier wees. Jy moet rustig slaap.”
Hy haal haar foon uit sy broeksak en druk dit onder haar kussing in.
“Die kátte,” val dit haar by en sy druk haar hand oor haar oë.
Jan staan met sy vinger op die ligskakelaar. “Ek sal Monty en Python môre gaan voer.”
“My sleutels …”
“In my sak. Slaap nou.”
Sy hoor die skakelaar klik, knipper haar oë, maar dis so donker sy kan nie eens die buitelyne van sy verdwynende lyf uitmaak nie.
’n Sagte berusting kom lê oor haar gemoed, maar haar verstand is wakker, haar gedagtes klokhelder. Archie wat nie sy Merc gevat het nie. Sy geliefde ikoon wat hy agtergelaat het. Die visstok wat hy kamma gevat het. Catherine se opmerking: “Otis se vrou is ook dood.” Janrap wat nie van die naam Janrap hou nie … Wat het sy nog gemis?
Dit maak nie meer saak nie, want sy weet nou presies waar Archie begrawe lê, is haar laaste gedagte voor die slaap haar insleep.