Sewentien

Maandag met die opstaan moet Polly twee pynpille sluk. Monica klop vroegoggend aan die voordeur en Athena maak vir haar oop.

“Die kind lyk soos ’n uitgewringde vadoek,” fluister Monica toe sy by Polly in die kamer kom. “Ons moet vir haar iets gee om te eet.”

“Catherine het reeds,” sê Polly. “Dié was douvoordag al hier. Maak ontbyt en maak skoon, vee af, stoot goed rond, trek die besem heen en weer oor die vloer. Dis te aardig en dit moet end kry. Sy’t nie vir Archie doodgemaak nie, dis haar stilswye wat …”

“Polly, die vrou het ook gely,” vermaan Monica.

“Dink jy ek weet dit nie? Dink jy ek besef nie dat sy élke week in my gesig vasgekyk het, te bang om iets te sê? Bang, Monica, bang vir mý. En Otis … Om te dink wat hy aan Catherine gedoen het!”

Toe Gugu opdaag, sit Polly al in die sitkamer met ’n koppie tee. Sy sien hoe Gugu vir Monica met ’n kus op die wang groet. Sy en Catherine is ewe besig in die kombuis, al vroetelend met koppies en teelepels soos mense wat gereedmaak vir ’n groot en belangrike onthaal.

Dit kan Polly min skeel. In alle eerlikheid is sy net verlig. Haar woede, haar verwyte, die skok van die afgelope tyd se gebeure, alles het van haar afgegly. Die lewe sal eindeloos vorentoe en agtertoe gaan, sy moet dit eenvoudig aanvaar.

Ja, sy het gely, ook haar kinders. En Catherine het gely. En in stilte het hulle mekaar aangestaar, die gemene deler uit hulle midde weggeruk en hulle te onbeholpe om dit te verwerk. Skigtig vir mekaar se gedagtes, want soms is daar geen manier om iets agter te laat nie, geen oorskiet oor vir mekaar nie, niks om te gee wat vir altyd onthou kan word nie.

Sy beny Catherine haar herinneringe. Haar kameraderie met Archie, haar gemaklike voetval oor die brug van ’n vrou se verwyte na ’n man uitgehonger vir geselskap, na ’n oor wat luister.

Archie en Otis kon mekaar se foute so verskoon – dít was die kern van haar griewe en stiltes, maar vir Archie was dit net crazy. Hulle het met mekaar se agterkoppe gepraat. Agter mekaar se ruê gelê en mompel. Goed oor ’n etenstafel of lessenaar na mekaar gestoot.

Otis het haar só seergemaak dat sy daardie dag haar liggaam verlaat het soos ’n bevreesde kind wat haarself na vergetelheid verplaas het. Daarna kon sy nie weer haar liggaam besit nie, nie eens vir Archie nie. Al sou hy na binne na haar soek, sou hy haar nie gekry het nie.

Te danke aan sy beste vriend.

Hoe moeilik moes dit nie vir Catherine gewees het nie, die gedurige spanning tussen haar en Archie, sy onvermoë om met sy vrou te praat, maar met haar so gemeensaam, so gemaklik. Hoe gepas is dit nie dat Catherine die een is in wie se arms hy gesterf het nie.

Catherine die bemiddelaar, hulle tussenganger, die oliekruikdraer. Haar teenwoordigheid, die klank van haar stem wat hulle gelaaide woorde ligter maak, hulle aweregse houdings meer versoenbaar, die maaltye om die etenstafel ten minste aangenaam. Nóú eers besef sy dit. Ook dat sy en Catherine op gelyke voet is: weduwees wat rou.

“Hulle is hier!” roep Gugu van die agterstoep af.

Almal versamel om Polly. Met Athena se hand in hare en Catherine wat haar aan die ander arm vashou, loop hulle stadig agterstoep toe. Die begeleiding is nie werklik nodig nie, maar sy weet Catherine wil met haar aanraking vergoed en Athena wil net naby haar ma wees.

Sy kyk skuins na Catherine aan haar linkerkant, statig in ’n swart rok, ’n swart beret en blinkleerskoene. Athena dra ’n kort rompie en t-hemp, Gugu ’n grys romp vol groot swart blomme, Monica in ’n swart-en-grys gestreepte pakkie met ’n wit bloes. Haar eie rok hang los aan haar, niks wat drukking op die buik plaas nie. Jan het verstaan toe sy gevra het hy moenie die opgrawing bywoon nie, maar het belowe hy sal vanaand oorkom.

Anderkant die stoep maal mans met rubberhandskoene en maskers rond, trap met groot stewels op die impatiens. Achilles staan reeds eenkant, sand word onverskillig die plek vol gegooi deur ’n groot man wat heuphoogte in die doodgebore wishing well staan. Nog ’n man staan vooroor gebuk en kyk af in die gat, sy hande op sy knieë gestut.

Saam met die ander vrouens staar Polly stil na die doenigheid, hulle gesigte stroef, hulle houding afwagtend, almal se oë nat en blink. Die agtertuin lyk soos ’n ramptoneel en elkeen is op haar eie manier deel van die pyn en gedoente.

Dan praat een van die manne by die gat skielik opgewonde. Iemand beduie en ’n man in ’n donkerblou baadjie met Forensics op die rugkant loop met doelgerigte treë na die bakkie wat eenkant staan.

Op die stoep ontspan hulle effens. Dan wag hulle maar.

Die Forensics-man laat die bakkie tot amper teenaan die gat kruip, parkeer dit só dat Polly-hulle op die stoep net die bewegende koppe kan sien. Speurder Nicholas kom om die bakkie na die stoep aangeloop, lêer in die hand.

Iemand klap die bakkie se dubbeldeur aan die agterkant hard toe. Iemand anders loop na die polisiemotor, klim agter die stuurwiel in en tru tot digby die stoep. Iemand gooi ’n graaf eenkant, nog een gaan was hande onder die kraan.

Toe staan die speurder voor hulle en hy lees van die lêer af wat hy voor hom hou. “Catherine Lerato Dhlomo,” sê hy en kyk op na haar.

Catherine stoot haar hande voor haar uit soos een wat wag om geboei te word. Polly kry ’n hand vol rokmateriaal oor haar heup beet, asof sy haar wil terugruk van wat voorlê.

Die speurder wys na die polisiemotor. Catherine maak haar los uit Polly se greep, loop af met die trappies. Hy hou die agterdeur vir haar oop, gaan klim dan voor langs die bestuurder in.

Nog ’n polisieman klim langs Catherine in en die bestuurder trek weg. Die motor maak ’n U-draai en net voor die jaart agter haar verdwyn, kyk Catherine om na die standbeeld. Sy glimlag, en Polly kan sweer Achilles glimlag terug.

EINDE/TELOS