Wraak en eer

DIE PAWILJOENTJIE IS STAMPVOL vir die rugbywedstryd tussen die Harlequins van Pretoria en die Wanderers van Johannesburg. Rondom die veld staan die toeskouers saamgedrom; hulle stamp en stoot aan mekaar om ’n goeie uitsig te kry. Skoolseuns, wat vroeg opgedaag het om plek te kry, sit styf teen mekaar op die kantlyn. Daar is meer vroue as gewoonlik – hul sonsambrele, kappies en hoede met vere staan uit in die see van mans.

’n Winterwind waai met rukke, maar demp nie die entoesiasme nie. Met die vernedering van hul geliefde oom Paul nog helder in hul geheue, wil die plaaslike ondersteuners wraak hê. Dit gaan ’n oorlog wees teen die onbeskofte buitelanders wat hul stad ingeval en hul president tot skande gemaak het.

Paul Warren loop by die aantrekkamer uit tot op die stoep en bots amper teen Martin.

“So, dan ontmoet ons weer, De Winter,” sê hy vriendelik en steek sy hand uit.

“Ja, Warren,” sê Martin en vat sy hand. “Die vorige keer wat ons ontmoet het, het jy ’n Union Jack oor president Kruger rondgeswaai.”

Warren voel hoedat sy hand onnodig hard en lank gedruk word. Hy takseer Martin se sterk skouers en verskuif dan sy blik na sy gesig. Die diepblou oë is nie dié van ’n gewone Boer nie. This man is sharp, intelligent, an opponent to be reckoned with, besef hy.

“De Winter,” sê hy op ’n neutrale en aangename toon, “ek het uit ons gesprek op die trein afgelei dat jy ook dink die situasie in Johannesburg het dringende aandag nodig. Nou lyk dit of ons die saak uit verskillende gesigspunte benader. Maar dit bly ’n gedeelde doel, nie waar nie?”

“Ja, Warren, maar ek sal nie toelaat dat die eer van my land in gevaar gestel word nie.”

Warren lees die boodskap in Martin se oë: ’n uitdaging, wat hy erken en aanvaar.

STEFANIE EN HAAR twee metgeselle kry ’n plek na aan die middellyn. Martin het haar by die kloosterskool gaan haal, nog in haar voorgeskrewe diepblou-en-wit voorskootrok. Sy het saam met hom stasie toe gegaan om James se vriend, Peter Radford, te ontmoet. Hulle het James gaan besoek wat nog steeds in die bed is. Sy het gemerk dat Martin dadelik van Peter hou, te oordeel aan hul onophoudelike gepraat oor Britse aangeleenthede.

Peter is onversorg en vreemd. En ongemanierd. Hy hou aan om haar “Little Sister” te noem, en bars uit van die lag toe hy hoor van James se rampspoed. As dit die soort man is wat James wil hê sy moet in Londen ontmoet, gaan sy beslis nie. En nou is dit sy en Charles wat hom moet vermaak.

Die besoekende span hardloop onder die gejil van die toeskouers op die veld. Toe hulle uitsprei, staan een speler naby aan haar. Sy trek haar asem in. Hy is die aantreklikste man wat sy al ooit gesien het – manjifiek fiks in sy swart kortbroek en rugbytrui, met sy pet swierig skuins op sy kop, swart hare en donker oë, sy gesig baardloos. Sy houding is dié van ’n wenner. Hy lyk besonder selfversekerd op die veld.

“Charles,” beduie sy met haar oë, “dis die soort man wat ek graag sal wil ontmoet. Hy lyk so … so reg, so vernaam.”

Charles sug en skud sy kop. “My liewe Stefanie! Die hele herrie gaan oor daardie kêrel. Dis Paul Warren. Jy wil hom nie regtig ontmoet nie.”

Die tuisspan draf op die veld. Die toeskouers brul hul ondersteuning uit, maar binne die eerste minute is dit duidelik dat Wanderers die beste span is. Hulle druk ’n maklike drie, maar verbrou die doelskop. Martin se ervaring en voortreflike afrigting inspireer die span, en hulle slaag in ’n dryfbeweging. Die skare raak mal, insluitende Radford langs haar, toe die vleuel oorduik vir ’n drie. Teen alle verwagting in trek die bal tussen die doelpale deur en die telling is in die guns van die tuisspan.

Charles juig: “Jolly good! We’re ahead!”

Stefanie gluur hom aan. “Jy’s veronderstel om neutraal te wees.”

“ ’n Mens behoort nie in enigiets neutraal te wees nie, Little Sister,” sê Radford. “Vir vanmiddag het ek julle kant gekies.”

“Ag so? Jy’s seker reg, maar ’n mens kan altyd voorgee jy’s neutraal.”

Warren druk die tweede drie vir Wanderers en neem self die doelskop waar, wat sy span weer die voorlopers maak. Stefanie klap hande.

Charles trek ’n gesig. “En aan wie se kant is jy nou?”

“Dis maar net goeie maniere om die sukses van jou opponent te erken,” lag sy.

Met net ’n paar minute oor, is die telling nog steeds in die guns van Wanderers. Toe slaag hulle nie om die kantlyn met ’n lang skop te haal nie. Martin vang die bal, sny binneveld toe en betrap die opposisie op die verkeerde been. Met sy kop teen sy bors en die bal vasgeklem onder sy arm bestorm hy die losvoorspelers en raak van twee opponente ontslae. Hy het ’n oop veld voor hom en hardloop voluit.

Peter brul, en selfs Charles gee luidrugtig uiting aan sy opgewondenheid. Maar Warren swiep op Martin af en vang hom ’n paar treë voor die doellyn. Martin gee die bal aan na die losskakel, wat dit met uitgestrekte hande vang. Die skare jubel toe hy oorduik om die drie te druk.

“Uitstekend! Nou’s ons gelyk. Ons kan nie meer verloor nie!” sê Radford.

“Daar is ’n kans dat ons kan wen,” sê Charles. Sy oë blink agter sy brillense.

Daar daal ’n stilte toe die heelagter die bal stel vir die doelskop. ’n Oorverdowende gebrul bars los toe dit oor die dwarsbalk seil. En tussen die hardebolhoede, strooihoede, slaprandhoede en pette wat in die lug opgegooi word, vat Radford vir Stefanie om die middel en swaai haar van haar voete af.

“Sit my dadelik neer,” sis sy. “Ek’s nie jou suster nie!”

MAANDAG SE KOERANTE basuin die Harlequin-triomf uit, met Martin wat in elke berig genoem word. Uitnodigings stroom in, en Martin woon dinees by, pieknieks by die Fonteine en middagtees aan huis van talle hoopvolle ma’s met ongetroude dogters. Selfs die president nooi hom uit, gretig om van die oorwinning te hoor.

“’n Jakkals kan mos ’n leeu uitoorlê, oom Paul. Dis hul geloof in hul onoorwinlikheid wat hulle kwesbaar maak,” sê Martin terwyl hulle koffie drink op Kruger se stoep. “’n Mens moet hierdie buitelanders se denkwyse bestudeer en hulle dan een tree vooruit wees.”

Die president knik en vra Martin dan uit oor Engeland, sy studies en wat hy van plan is om te doen wanneer hy terugkom. Terwyl hy luister, suig hy aan sy pyp en hou Martin met sy waterige ogies dop. “Jong man,” sê hy, “jou kennis en begrip van die Britte kan my help om die Uitlanders te pypkan.” Hy spoeg in die kwispedoor langs hom. “Het jy al ’n vrou?”

“Ek’s nie getroud nie, oom Paul.”

“Magtig! ’n Man kan nie sy werk doen as hy nie ’n vrou het om vir hom te sorg nie. Ek kan jou nie in my regering aanstel as jy nie bekend is met die gewoontes van ’n man nie.”

*  *  *

DIE SKOLE SLUIT vir die wintervakansie en almal vertrek Wintersrust toe. Martin kom agter dat sy heldestatus ook die distrik bereik het. Die familie is vir die middagmaal vergader rondom die groot eetkamertafel, en Charles vertel vir die tweeling tot in die fynste besonderhede van die wedstryd. Hulle luister vasgenael en staar na hul beroemde broer met terughoudende bewondering.

“Genoeg!” Martin lig sy hande op. “Dit het twee weke gelede gebeur en julle babbel nog steeds daaroor.”

“Dit staan alles in die koerante,” sê Charles.

“Vir dié wat die geskrewe woord kan verstaan, neem ek aan,” mompel James.

“Ag, James!” reageer Stefanie verontwaardig. “Daar gaan jy al weer! Dis nie behoorlik om sulke goed te sê nie.”

“Nie nou nie, Stefanie, ons het nie ’n lesing aan tafel nodig nie.” Mary kyk streng na haar. “Jy wou sê, James?”

“Wat ek bedoel het, tant Mary, ja, dit staan in die koerante,” antwoord James, “maar ek dink die nuus sal mondelings vinniger versprei.”

Martin glimlag oor dié dubbelsinnige opmerking, bly dat James nie sy vuur verloor het ná die afgelope weke se ontwrigtende gebeure nie. Die jaguitstappie sal ’n broodnodige uitlaatklep wees vir sy rustelose energie.

“Hartjie, sê my, het daardie slim dokters in Pretoria alles geglo wat jy hulle van die muskiete vertel het?” vra Koba vir Charles.

“Nee, tant Koba, hulle dink nie dis noodsaaklik om ’n navorsingstasie in te rig nie. Hulle is daarvan oortuig dat malaria nie deur muskiete oorgedra word nie, maar deur die koorsboom versprei word.”

“En dit is ook so, hartjie. Maar goddank vir die kinienboom! ’n Ekstrak van die bas, galbitter, is die enigste medisyne vir koors. Enige koors. Liewe James was so siek, die arme ding. En kyk net nou na hom – op sy agterpote en reg om te gaan jag.”

“Die lewende bewys, dokter Henderson,” sê James. “Net een druppel van daardie goed maak alle siektes gesond – lewenslank!”

“Wanneer speel julle weer teen Wanderers, Martin?” vra Stefanie.

“Ná die jagtog is dit terug na Engeland.” Hy sien die teleurstelling in haar oë en knipoog vir haar. “Hoekom? Het iemand jou oog gevang?”

“Ek het James se vriend vir haar sien ogies maak,” sê Koba vir Mary. “’n Aangename seun. Peter is sy naam – hy’s ’n lord! Hy is baie soos ons James. Nie so aantreklik nie, maar hy’t die gesig van ’n engel, so fyn en delikaat …”

“’n Engel? Goeie hemel, tant Koba!” James bars uit van die lag. “Hy’s allesbehalwe ’n engel!”

Voordat hulle hom kan vra om daarop uit te brei, hoor hulle die geklop van perdepote wat naderkom. Martin gaan stoep toe om die besoeker te verwelkom. ’n Uitbundige gelag kondig Jan Viljoen se aankoms aan. Hy ruik sterk na tabak en sweet. Sy warm, luidrugtige teenwoordigheid vul die eetkamer terwyl hy almal met ’n energieke handdruk groet en Mary op haar wang soen. Koba kry twee klapsoene op die mond.

“Omdat daar so baie van jou is, tant Koba,” sê hy.

“Gedra jou, Jan Viljoen,” wys sy hom speels tereg.

“Kom sit asseblief, Jan,” sê Martin. Jan gaan sit op die leë stoel langs James en stapel sy bord vol kos. “So, wat kom doen jy op Wintersrust? Kom jy beeste koop?” vra Martin en lag hartlik saam met Jan. Die Viljoens is die voorste telers in die distrik en hulle is gewoonlik die verkopers, nie die kopers nie.

“Ek het gekom om julle uit te nooi na my broer se troue. Frans vat Elsie van Groenplaas as vrou.” Hy vra vir James om die aartappels aan te gee. “Jy is ook genooi, Engelsman, dis nou te sê as jy beloof om uit die boord te bly en om die volkslied behoorlik te sing!” Hy bulder van die lag en gee James ’n kameraadskaplike klap op die rug. Die ander lag ook, maar James word rooi van ergernis.

“Wat het James in die boord gedoen?” vra Rudolf. Daar klink weer ’n gelag om die tafel op.

“Hy het gaan vars lug soek,” sê Jan en bulder weer van die lag. “So, kom jy na die huweliksfees, Engelsman?”

“Dankie,” sê James, “maar ek gaan op ’n jagtog en sal dit nie kan bywoon nie.”

“Aha! Maar die troue is eers volgende maand. Dit bring my by die ander rede vir my besoek. Gert Vermaas vertel my julle wa het gister by sy plaas verbygery in ’n noordwestelike rigting Bosveld toe. Is dit waar julle hierdie winter wil gaan skiet? Of moet ek sê,” en hy kyk grappenderwys na James, “op julle jagtog gaan?”

“Ja, ons het die wa vooruit gestuur saam met Ou Klaas om ’n geskikte kampeerplek te soek. Ons vertrek oor twee dae,” sê Martin.

“Ek en Frans sal graag wil saamgaan, as ons mag. Jy sien, die plaas is nie groot genoeg vir al die Viljoens en hul beeste nie. Te veel vroue in een kombuis! Ma, suster Ester, Jacob se Bettie, my lieflike Hannie en nou ’n nuwe bruid. Om nie eens te praat van al die Viljoentjies onder ons voete nie. En ek het ’n derde seun wat op pad is.”

Jan straal toe hulle hom gelukwens. Hy draai na James en knipoog. “Jy sien, Engelsman, ons teeltalent stop nie by beeste nie.” Hy gee weer ’n bulderende lag; Koba en Martin lag saam. “Ons gaan nie ’n oomblik rus hê nie. Ons is op die uitkyk vir nog grond om te koop. Ek het gehoor daar’s goeie weiveld daar. So, wat sê jy, my vriend? Kan ons maar saamkom?”

“Natuurlik,” sê Martin. “Ek het juis gedink ons sal te min hande hê vir die afslag en biltong maak. Pa is nog in Pretoria besig met Volksraadsake, Charles weier om saam te gaan en Buks moet na die plase omsien. Ons sal ervare jagters soos jy en Frans kan gebruik.”

Martin sien hoe James se gesig vertrek, maar Jan pak James weer aan. “So, Engelsman, gaan ons saam jag? Jan Viljoen sal jou wys hoe om raak te skiet en —”

“As ons twee weke lank in mekaar se geselskap gaan deurbring, sal ek verkies dat jy my op my naam noem. My naam is nie Engelsman nie, dis James.”

“Reg so! Afgespreek!” Jan lag weer luidrugtig, gevolg deur ’n hartlike hou op James se rug. “James. Ons sal saam perdry en jag en ek sal jou wys hoe ’n regte Boer dinge doen.”

“James is ’n uitstekende skut en hy ry baie goed perd,” sê Karel. “Selfs my perd, Legend, laat hom op haar rug toe.”

“Pa sê hy’s in die saal gebore,” voeg Rudolf by.

“Dit sal ons maar nog moet sien.” Jan vee sy mond aan die agterkant van sy hand af en staan op. “Dankie vir die lekker kos, tant Mary. Dit is vir my altyd baie lekker om by julle vriendelike tafel aan te sit. Ek sal die koffie by oom Joep en Buks op Soetvlei gaan drink.” Hy doen die handskudrondte en hou James se hand ’n rukkie langer vas. “Ons sal oor die weg kom. Jan Viljoen en die Engelsman sal oor die weg kom, julle sal nog sien,” sê hy terwyl hy James se gesig intens dophou.

“Moenie alles wat hy sê, so ernstig opneem nie,” sê Martin vir James toe Jan wegry. “Hy is maar so. Hy is eintlik ’n baie aangename kêrel en het nie kwade bedoelings nie.”