The General en sy seun

Engeland, Oktober 1898

JAMES KYK SKREEFOOG deur die rook na Peter wat in die stoel oorkant hom sitlê. ’n Dun litteken loop van Peter se ken af tot onder sy kraag in. Dit herinner James aan die Soedan, sy eerste kennismaking met oorlog, die opwinding van egte gevaar en die naaste wat hy al aan volkome vervulling gekom het. Om Peter te red van die Derwisje het hom groot plesier verskaf.

Die regiment was deel van die kavallerie wat die opdrag gekry het om generaal Kitchener se leër te beskerm terwyl dit langs die Nyl op beweeg na Kartoem. Vyf stormlope in tien dae. En met die sesde beland hulle in die moeilikheid toe hulle afgesny word van die hoof-aanvalsmag. Sy sersant skreeu op hom om na veiligheid te jaag, maar hy sien Peter worstel om onder sy gewonde perd uit te kom. Met Peter dwarsoor sy saal jaag hy onder die vyand uit. En toe eers besef hy dat hy en sy perd gewond is.

Hul vriendskap het ontwikkel in ’n hegte band. Nie omdat hy Peter se lewe gered het nie, maar omdat hulle dieselfde geaardheid het – ’n liefde vir gevaar, die opwinding om nie te weet of om te gee wat die uiteinde gaan wees nie. En nou is hulle nader aan mekaar as broers. Hy het agtergekom hy kan op Peter staatmaak as dinge noustrop trek en, al is hy traag om sy gevoelens uit te spreek, het hy Peter leer vertrou.

Hulle is van diens af en drink nou in James se barak by Sandhurst. Peter wil wegglip Londen toe, maar James is nie lus vir ’n gekuier nie. Om ’n soldaat in vredestyd te wees verveel hom; hy wil meer ervaring van oorlog hê, maar alles lyk vreedsaam in die Empire. Die deurslaggewende veldslag van Omdoerman het die oorlog in die Soedan beëindig, en daar gebeur nie veel in Indië nie.

“Is daar enige hoop op ’n verplasing?” Hy kyk by die venster uit na die reën wat op die paradegrond val.

“Miskien.” Peter sit sy glas op die tafel neer. “Ons mag dalk in die somer op pad na Indië wees. Kan jy nie by The General meer inligting kry nie?”

“Radford, ek verwag om na sy studeerkamer opgeroep te word. As ek ’n woord kan inkry, sal ek probeer.”

Toe Peter ’n uur later vertrek, strek James hom op sy bed uit. The General is steeds kwaad oor ’n opmerking wat hy teenoor die pers gemaak het oor sy medalje. Maar hierdie keer is sy doppie geklink. Sy losbandigheid het hom ingehaal. The General is woedend oor sy flankeerdery met lady Beatrice Harcourt. Blykbaar is James die pa van haar kind. Haar eggenoot, James se afgeleefde oom Gordon, was maande laas in haar bed. Lord Harcourt het toe The General besoek “om sake te reël”, soos wat Beatrice dit gestel het.

JAMES HAAL die volgende oggend die trein na Londen. Daar is ’n onheilspellend briefie by sy barak afgelewer. Sy pa het nog altyd sy teenwoordigheid “so gou as moontlik” versoek – nooit bevéél dat hy onmiddellik moet aanmeld nie.

Terwyl die trein Londen toe stoom, staar hy na die verbyglydende platteland. Die somer is verby, die lande geoes; die blare se herfskleure vertoon manjifiek. Die jagseisoen begin binnekort. Hy probeer daaraan dink, maar sy gedagtes haak vas by wat vir hom in sy pa se studeerkamer voorlê. Sy pa kan hom nie meer geldelik straf deur sy toelaag te verminder nie, hy het ’n groot erfporsie op sy twee en twintigste verjaardag gekry. Dalk ’n verplasing? Skotland? Egipte? Wel as dit gebeur, sal Engeland nie slegter daaraan toe wees sonder hom nie; en daar wás lekker tye in Kaïro.

Hy kom net ná twaalf by hul huis in St John’s Wood aan. Die butler neem sy jas en helm met die gebruiklike simpatieke kyk in sy oë. “Directly to the study, sir.”

Toe hy deur die sitkamer loop, sien hy sy ma met ’n stille teregwysing op haar gesig. Hy kan geen simpatie van haar verwag nie; sy kies altyd onwrikbaar The General se kant.

“Moeder,” groet hy haar met ’n kopknik en stap klingelend verder.

“Jy het met die trein gekom. Is dit nodig om spore aan te hê?”

“Ek’s vir oorlog aangetrek, Moeder.” Hy wys na die studeerkamerdeur.

Hy gaan staan op sy bekende plek op die mat voor die groot eikehoutlessenaar. Hy kyk op na die tierkop teen die muur en knipoog vir die geel glasoë. Toemaar, ou kêrel, ons sal hierdie een ook oorleef.

Sy pa se voetstappe weerklink in die gang. Hy kom by die studeerkamer in en gaan staan ’n rukkie by die venster met sy rug na James voor hy begin praat.

“Jy het jou familie nog net tot oneer gestrek. Ek het probeer om iets van jou te maak, maar dit was ’n vermorsing van tyd en energie. God weet hoeveel keer ek my aansien op die spel geplaas het …”

James konsentreer op die tier se oë. Moet hy homself so herhaal? Dieselfde ou goed oor en oor. Hy raak ’n bietjie lank in die tand, dié ou oorlogsperd, sy snor word grys om by sy kop te pas, sy tong is ’n bietjie stadig vandag, of hoe, tier? Dis eintlik teleurstellend …

“Ek dring aan op ’n antwoord!” onderbreek sy pa se stem sy gedagtes.

“Wat het u nou weer gesê, sir?”

“Jy het nie geluister nie. Is dit moontlik dat jy die pa van die kind is? Aanvaar jy verantwoordelikheid?”

“Ja, ek aanvaar verantwoordelikheid.”

“Jy erken dus jy het jou oom se vrou verlei?”

“Nee, sir. Ek is altyd in die bevoorregte posisie om verlei te word.”

The General sak neer in sy leerstoel. James hou sy oë vasgenael op die tierkop. Die geluid van knetterende stompe in die kaggel en sy pa se asemhaling is al wat hoorbaar is.

“Gordon is bereid om die kind as syne te erken, aangesien dit ’n Henderson is,” sê sy pa uiteindelik. Sy stemtoon wys duidelik wat hy van die reëling dink. “Die regiment gaan hierdie somer skeepgaan na Indië en sal in die Pandjab gestasioneer wees. Jy is die enigste een wat nie tuisverlof toegestaan sal word nie. Jy sal die volle aangewese tien jaar daar bly.”

Toe nie Kaïro nie, tier! Indië! James gee amper ’n kreet, maar die woorde wat volg, verbyster hom.

“Jy sal met ’n geskikte vrou trou om jou te vergesel. Die hemel alleen weet of daar ’n ordentlike vrou is wat sal kans sien vir iemand met ’n reputasie soos joune.”

“Verskoon my, maar het u voorgestel dat ek moet trou?”

“Ek het dit nie voorgestel nie. Ek beveel dit. Ek sal voor die einde van die maand van jou hoor. Jy kan maar gaan!”

“Ek weier om dit selfs net te oorweeg.”

“Jy het nie ’n keuse nie!” blaf sy pa, sy snor trillende. “Jy weier om gedissiplineer te word. Jy het geen sin vir morele verantwoordelikheid nie. Jy maak ’n bespotting van alles waarvoor ’n gentleman en ’n offisier staan. ’n Vrou sal dit alles verander, ek sweer!”

“Ek is nie van plan om te trou nie.”

“Dan sal jy uit my regiment geskors word. Ek sal ook sorg dat geen ander regiment jou aanvaar nie. Jou militêre loopbaan sal verby wees.”

James kyk vir die eerste keer na sy pa vandat hy die vertrek binnegekom het. Generaal sir Stuart Henderson, een van die mees senior offisiere in die Britse leër, het die mag om dit te doen. Hy staan ’n ruk lank en kyk na die onverbiddelike gesig van die man wat sy lewe van hom af wegneem.

HY KOM LAAT daardie nag by sy barak aan, kry ’n bottel port en skink ’n stywe dop. Sy blik val op ’n sepiafoto van Koba, wat agter die spieël se raam ingesteek is. Hy lag sarkasties. Tant Koba! Hier is iets wat selfs jy nie sal kan oplos nie! Hy gooi die glas stukkend in die kaggel, en dan die bottel. Die silwertrofeë wat hy oor die jare heen gewen het, volg die een ná die ander. Hy maak ’n bottel brandewyn oop en soek ’n glas.

“Die ou man was rof met jou, lyk dit my.” Peter leun teen die deurkosyn en bekyk die chaos. “Jy het hierdie een gemis, Henderson.” Hy wys na ’n groot silwerbeker wat op ’n ereplek bo-op ’n laaikas staan.

James kyk na die beker, dan na Peter se geamuseerde gesig en sy woede koel ’n bietjie af. “Nie dié een nie, Radford, ek het Hunter daarmee geklop.”

“Laas winter se hinderniswedren. Sal ons weer daarop drink?” Peter kry ’n glas en hou dit uit. “Is daar dalk ’n druppel vir my?”

James gee hom die bottel en sak in ’n stoel neer. “Die regiment gaan in die somer Indië toe. Sonder my.”

“Fantasties! Wat? Jy kom nie saam nie? Absolute nonsens!”

“Ek is geskors. My dade het my ingehaal. Ek gee The General wel krediet dat hy so lank uitgehou het …”

Peter trap oor die trofeë en gebreekte glas en stook die vuur. Hy gooi vir homself brandewyn en gaan sit in die stoel oorkant James. “Ek het my ball box aan. Boul!”

“Daar’s niks om mee te boul nie,” sê James, maar op die ou end vertel hy tog alles. Beatrice, die kind en dat ’n huwelik al opsie is om in die regiment te kan aanbly.

Peter bars uit van die lag. “Mooi so, Henderson! Bliksem! Hoe verskriklik verspot! Moenie van my verwag om jou hierin te ewenaar nie.”

James kyk vies na hom, maar begin huiwerig saamlag en gou-gou lag hulle uitbundig. Peter maak sy uniformbaadjie los, strek sy bene uit en roep sy batman om vir hulle iets te ete te bring.

“Mense trou die hele tyd, het jy nog nie agtergekom nie, Henderson? Al wat verskil, is die rede – om erfgename te produseer, ’n fortuin te bemagtig, fortuine te kombineer, om die familie se eer te red, ensovoorts, ensovoorts. Dis eenvoudig. Jy moet dus trou om in die regiment te kan bly. Is dit ’n probleem vir jou?”

“Ja, beslis. Die stukkie oor die vrou!”

“Dit behoort jóú nie te stuit nie. Ontrouheid is die gewildste stokperdjie in die Empire.”

“En kyk waar het dit my laat beland. Ander mans se vroue is ander mans se probleme, het ek altyd gedink.” James stoot ’n stomp in die vuur met die punt van sy stewel. “Al wat vir my oorbly, is om uit Engeland pad te gee. Ek wonder waarheen ek sal gaan?”

“Ná die tweegeveg, is ek uit die kraal gestoot. Ek moes ’n jaar lank reis. Maar jy sal agterkom dat die lewe buite die regiment hard is. Moet ek dit vir jou uitspel? ‘There Be Dragons’.”

“Drake?”

“Hulle is skrikwekkend, Henderson,” sê hy glimlaggend, maar James sien medelye in sy oë. “En hulle name is: Geen Regiment, Geen Kavallerie-stormlope, Geen Kamerade-Om-Mee-Pret-Te-Maak, Geen Krieket, ensovoorts. En die bevelvoerder van hierdie gebroedsel? Geen Toegang-Tot-Hoë-Kringe. Sy bynaam is Uitgeworpene.”

’n Afgryslike kilheid bekruip James se hart toe Peter se woorde tot hom deurdring. Hy wil nie daaraan dink wat die lewe sal wees as hy nie meer ’n soldaat is nie.

“Jy het niks om te verloor nie,” gaan Peter voort. “Kry dit agter die rug. Dan kan jy ten minste in die leër aanbly. En tot dusver was die leër nie so sleg nie. Ons hoef ten minste nie moeilikheid of pret te gaan soek nie; dit word verskaf.”

Die batman bring ’n bord toebroodjies en ’n pot koffie. James ignoreer die kos en steek weer sy hand na die bottel uit. Hy sien Peter se skelm glimlag en skop na sy stewel. “Hoekom lyk jy so in jou skik, man?”

“Ek wed jou tien pond jy gaan binnekort voor die kansel staan.”

“Maak die inset hoër, Radford.”

“Nog twintig pond.” Peter eet sy toebroodjie en gooi ’n bietjie brandewyn in die koffiepot. “The General sou ook die bruid kon aangewys het. Hy kan nog, as jy te lank draal. Een of ander arme, vergete meisie wat haar kans afwag. ’n Verstote siel met ’n titel wat geruil word vir ’n militêre guns of so. The General was inderdaad gulhartig.”

James is met afgryse vervul toe die waarheid van Peter se redenasie hom tref. “Inderdaad, Radford. Inderdaad baie gulhartig.”

Peter haal ’n blikkie seroete uit sy sak. “Goed! Sal ons daaraan begin werk! Die heel belangrikste, ons het ’n strooijonker nodig om te verseker dat jy nugter bly tot die seremonie verby is. Aangesien Charles en Martin nie hier is nie, sal ek die eer aanvaar.”

“Graag!” sê James, en hulle klink glase. “Maar het jy nie iets vergeet nie?”

“’n Bruid? Ek kom daarby. Ons kry ’n delikate dingetjie wat nie bestand sal wees teen die ontberings in Indië nie. Die Pandjab is nie ’n plek vir vroue nie, sê hulle. Ons stuur haar doodgewoon terug op die eerste stoomskip.”

“Jy is ’n genie, Radford. Ons drink daarop!”

“Dankie!” Hy lig sy glas. “Sal ons die kolwerslys opstel? Gee my ’n paar name en laat dit in my hande, Henderson. Vroue is wispelturige wesens. Ek sal ’n bemiddelaar gebruik. Dis soos dit gedoen word.” Hy trek James op sy voete. “Kom, ons gaan soek sjampanje. Ons moet jou oorwinning oor The General vier.”

*  *  *

VICTORIA FAIRFIELD kyk by haar slaapkamer uit en sien hoe ’n windvlaag die herfsblare opjaag. Sy sit by die venster met materiaalmonsters op haar skoot. Dit is vir haar vakansie-uitrustings. Haar ma en tant Caroline beplan om haar in die lente deur Europa te neem, met George Hunter op sleeptou. Dis hoog tyd, sê hulle, dat sy instem om met George te trou, aangesien sy glad nie in ander hofmakers belangstel nie.

Sy wil nie na Switserland teruggaan nie, maar George was nog nooit daar nie en dring daarop aan. Sy haat Switserland – die oorweldigende berge en alewige sneeu, die koue eensame nagte en gedagtes aan Martin de Winter. Wanneer sy dink aan haar gedrag ná haar terugkeer uit Indië, kry sy baie skaam. ’n Groot hartstog het haar goeie oordeel vertroebel. Martin se aardse sensualiteit het dit laat ontvlam. Sy het hom aanleiding gegee; sy wou hê hy moes haar van haar maagdelikheid ontneem. Dit was ’n passie wat ten alle koste bevredig moes word – een wat net deur hom bevredig kon word. En hy het.

Toe het sy vir die eerste keer self gesien wat sy in werklikheid is – die verleidster van ’n man wat sy innig liefhet maar wat sy nie waardig is nie. Maar sy moes sy huweliksaansoek weier ter wille van sy toekoms. Die diep, ondeurgrondelike verdriet in sy blou oë was haar finale vernedering.

Sy mis Charles Henderson se gemaklike geselskap en beny hom sy vryheid in Afrika. Sy het James nog net by ’n paar sosiale geleenthede gesien sedert sy terugkoms uit Egipte. James is ’n wilde kêrel, maar dit maak hom net aanlokliker vir baie meisies wat gefrustreer is deur die benouende reëls van die samelewing. Sy kan met hulle identifiseer. Sy was ook so. En nou is James weer in groot moeilikheid. Peter Radford het verlede week vir haar kom kuier en haar van generaal Henderson se dreigement vertel om James uit die regiment te skors. Hulle het eers ’n paar vroue bespreek wat moontlik by James sal pas, en toe het hy haar gevra om dit self te oorweeg.

“Die regiment gaan vir tien jaar in die Pandjab gestasioneer wees. Indië, Vicky!” het hy gesê. “Die lewe saam met James sal pret wees, en onvoorspelbaar.”

“Ek wil nie met hom trou nie,” het sy geantwoord. “Hy sal ook nie met my wil trou nie.” Dit sal onregverdig teenoor Martin én James wees. Tydens Martin se verblyf in Engeland het sy gesien hulle kompeteer, maar agter James se bravade skuil ’n sensitiewe en kwesbare siel. Hy sal haar nie wil hê as hy van Martin weet nie – sy neef wat hy so bewonder en liefhet. Maar die moontlikheid om na Indië te kan teruggaan, laat ’n golf van verlange oor haar spoel.

’n Perdekar kom deur die hekke gery. Dit sal James wees wat haar kom vra om die bemiddelaar te wees, soos wat Peter gereël het. Sy wonder wie hy gekies het van die drie meisies wat Peter voorgestel het. Sy kyk buitentoe na sy aantreklike figuur, met die wind wat oor sy donker hare streel toe hy sy helm afhaal. Sy het al voorheen sy gesig bestudeer op soek na familietrekke, maar daar is net iets in sy lag en die manier waarop hy sy hande beweeg wanneer hy praat. Dit is al; niks anders om te wys dat hy en Martin neefs is nie.

Sy maak haar hare met ’n lint vas en loop teen die trap af. James maak sy hande by die vuur warm toe sy by die sitkamer instap.

“James, jy het die laaste tyd ’n vreemdeling geword.”

“Ek het en ek vra om verskoning, Victoria.” Die kuiltjies in sy wange maak hom onweerstaanbaar aantreklik.

“Sjerrie?” Sy beweeg na die tafel met kraffies.

“Dalk iets sterkers …”

“Brandewyn?” Sy skink heelwat in en gee die glas vir hom aan.

“Ons moet iets privaat bespreek.”

“Ja, Peter het my vertel van jou dilemma.” Sy glimlag, en hy trek ’n gesig.

Sy neem hom na die kweekhuis, gaan sit op ’n rottangbank by die varings en wag dat hy moet praat.

Hy sluk swaar en staar in die amberkleurige vloeistof terwyl hy die glas met albei hande vashou. “Ek weet dis belaglik, maar ek het nie ’n keuse nie. Ek wil Indië toe gaan, Vicky. Ek kan nie in Engeland aanbly nie. Ek moet net eenvoudig wegkom van my pa, maar ek is hopeloos as dit kom by toewyding.” Hy kyk in die kweekhuis rond na die varings en tropiese plante. “Wat is dit alles?”

“Die meeste kom uit Indië. Pa het hulle daar uit die grond gehaal en nou word hulle gedwing om hier aan te pas. Net soos ek, lyk dit my.”

“Ag, arme Vicky!” Hy glimlag vir haar met daardie kuiltjies. “Pa’s is verskriklik, nie waar nie?”

Sy kyk na sy vingers wat met ’n varingblaar speel. Hy is onmoontlik aantreklik en op hierdie oomblik erg kwesbaar. Dis waar, hy is impulsief en roekeloos, maar sy was ook so. Sy kyk uit oor die tuin. Hy hoef nie van Martin te weet nie. Dit is iets van die verlede en kan net so goed maar daar bly.

“Daar is iemand wat bereid is om met jou te trou.” Haar stem klink vir haar of dit van ver weg kom. “Iemand wat nie ’n las vir jou sal wees nie. Sy sal jou jou vryheid gee wanneer die stof eers gaan lê het.”

“Wie is hierdie perfekte vrou? Ken ek haar?” Hy kom langs haar sit.

Sy haal diep asem en kyk in sy oë. “Ja, jy ken haar. Dis ek.”

Sy uitdrukking verander van ongeloof in teleurstelling. “Moenie met my spot nie, Victoria!”

“Ek is absoluut ernstig. Jy kan met my trou.”

“Het jy vergeet dat jy aan Hunter belowe is?”

“Ek het niks belowe nie.” Sy neem die glas by hom en vat ’n sluk. “Ek sal natuurlik mooi moet verduidelik, maar ek sal doodeenvoudig sê ek het jou liefgekry, en dat die gevoel wedersyds is.”

“Moenie laf wees nie! Hulle sal jou nie glo nie.”

“Nee, hulle sal my nie glo nie. Maar aan die ander kant is ek mondig, James. As jy gewillig is om saam te speel, kan ek dit hanteer.”

Hy sit die glas neer en skud sy kop heftig. “Die skandaal wat jy nou voorstel, Vicky, klink wonderlik, maar dit sal jou aansien vernietig.”

“Om by joune pas? Ons ken mekaar ten minste. Los my in Bangalore en gaan alleen na die Pandjab; doen wat jy wil. Ek sal nie inbreuk maak op jou privaat lewe nie.”

“Hoekom doen jy dit, Vicky?” Hy kyk haar agterdogtig aan. “Hunter sal nie duld dat sy eer geskend word nie —”

“Nee, hy sal nie! Dis hoekom ek dit nie kan waag om met hom te trou nie.” Toe sy die verwarring op sy gesig sien, verduidelik sy: “Ek is nie ’n onskuldige vrou nie. Ek het eenkeer iemand liefgehad, maar hy kon my nie kry nie. Dit was nie vir ons bestem nie.”

“Ag, arme meisie!” Hy vat haar hand. “Jy is in die pekel. Ek het ook geheime. Ek dink ons het almal. Wie dit ook al was, ek wil niks daarvan weet nie. Al wat ek kan bied, is ’n naam wat aangetas is deur skande, en my ewigdurende dankbaarheid.”

“Neem my na Indië en laat my dan my gang gaan.”

Hy drink die glas leeg, leun terug en lag. “Radford sal omgeboul wees! Gevang deur die bemiddelaar, met Hunter se teenspoed op die koop toe!”

“Daar’s net een klein dingetjie. Dit mag vir my moontlik wees om my vryheid te kry, maar ek kan nie aan my verantwoordelikheid teenoor my pa ontsnap nie.” Hy kyk verstom na haar. “Ag, James, moenie so dom wees nie. ’n Erfgenaam. Ek moet ten minste een die wêreld inbring.”

Ná ’n gespanne oomblik bars hy uit van die lag. “Ek dink ek sal daartoe in staat wees!” Hy omhels haar en soen haar intens. “Dit behoort jou ’n voorsprong te gee. Jou ma se bediende loer ons af.” Hy waai vir die vrou wat styf teen die glas staan en inkyk.

“James, jy’s onmoontlik!” Maar hy is al halfpad deur toe, steeds aan die lag.

*  *  *

JAMES STAAN WEER in The General se studeerkamer, maar hierdie keer is sy oë nie gerig op die tierkop nie. Hy is verby die punt waar hy nog respek aan sy pa betoon. Die weersin teenoor hom het nou breekpunt bereik.

“Jy het my beveel om te trou. Victoria Fairfield het my verlede week gevra om te trou. Ek het ja gesê.”

Generaal Henderson se oë wys ongeloof, maar dan keer sy afkeurende blik terug. “Het jy al met lord Fairfield gepraat? Hy sal uiteraard toestemming weier.”

“Victoria is mondig.”

“Lady Victoria is aan kaptein Hunter belowe. Was jy bewus daarvan?”

“Sy sou met hom trou tot jy my beskikbaar gemaak het.”

“Jy maak ’n bespotting hiervan, soos wat jy met alles in jou lewe doen. Het jy geen eergevoel nie? Ek het myself ondersoek om te sien waar ek fouteer het met jou opvoeding. Ek het …”

“Moet jouself nie veroordeel oor iets waaraan jy geen aandeel gehad het nie. Jy het my nie grootgemaak nie. Ek veronderstel ek moet God daarvoor dank! As ’n mens dit optel, beslaan die tyd wat ek jou voor my agtiende jaar te siene gekry het altesaam drie jaar en twee maande. O ja, ek het dit opgetel! Die paar maande wat ek by oom Marthinus in Afrika deurgebring het, het my geleer wat die lewe is, wat dit beteken om om te gee – dinge waarvan jy nie die váágste benul het nie. Vanaf hierdie oomblik wil ek nie hê jy moet verder by my lewe inmeng nie – militêr of persoonlik. Jy én Moeder!” Hy wys met sy vinger na sy pa. “As julle dit aanhou doen, sal ek my bes doen om die grootste skandaal ooit te veroorsaak, selfs al verwoes dit my toekoms!”