Kaptein Theron

DIE SON WAS SKAARS op toe die Britse artillerie lostrek op die Boerelaer by Paardeberg. Binne minute stik die verdedigers aan die stof en die liddietwalms. Perde en osse runnik en bulk tussen die verrottende karkasse van hul makkers. Die manskappe gryp hul mausers en kruip na hul posisies op die rivieroewer. Veevoer en voedselvoorraad gaan op in vlamme. Ammunisiewaens ontplof in knetterende inferno’s.

En toe begin dit reën.

Aanvanklik bring dit ’n mate van verligting; dit verbreek die hitte en die stygende rivier spoel baie van die karkasse weg, maar gou raak die loopgrawe ’n modderbad. Onder die voortdurende bombardement word diegene in die laer vasgevang in ’n hel, waar hulle verstik aan die walms en stank van ontbinding en uitwerpsels.

Op die derde dag van die beleg, stem generaal Cronjé in om al die gewonde Britse gevangenes vry te laat, en ’n gelyke aantal Boeregewondes word toegelaat om na die hospitaal by Jacobsdal te gaan. Marthinus is een van die gelukkiges. Martin besef dat sy pa ’n gevangene sal wees nadat hy aan die Britte oorhandig is, maar Marthinus is bewusteloos en sterwend. Martin en Karel dra hul pa in die stortreën na die optelpunt. Terwyl die Britse ambulanspersoneel hom wegneem, sien Martin ’n groep vroue en kinders wat ’n paar onseker treë gee in die rigting van die Britte. Dadelik kom soldate aangehardloop en begelei hulle na die wagtende ambulanswaens.

Dit reën nog twee dae lank. Elke aand gaan Martin na generaal Cronjé se seilbedekte skuilplek by die rivierwal vir die nagtelike beraad. Daar word nie meer oor ’n uitbreekpoging gepraat nie, en baie offisiere spoor Cronjé aan om oor te gee.

Martin luister met ’n stygende afgryse in sy binneste. Oorgawe sal die einde vir hom beteken – ’n gevangene wat homself nie as ’n leier van sy mense sal kan bewys nie. Sy verstand werk oortyd aan ’n plan om te ontsnap. Toe, op die agtste nag van die beleëring, duik die perfekte geleentheid op. Die kommandante is nog besig om met Cronjé te argumenteer, toe ’n man met ’n verflenterde broek en bloeiende hande en knieë by die tent instrompel. Dit neem ’n ruk voor Martin vir Danie Theron, kaptein van De Wet se verkenners, herken.

“Hoe het jy ingekom?” vra generaal Cronjé.

“Gekruip, omtrent die hele ent. Ons kon generaal nie met die heliograaf bereik nie, oor die weer.” Theron aanvaar met bewende hande ’n beker koffie. “Generaal De Wet het ’n groot kommando byeengebring en hou die oostelike kant oop. Hy sal julle dek deur die Britte van die koppies af te bombardeer. Môreaand tienuur, op die koppie …”

Die wanhopige offisiere luister met ’n flikkering van hoop. Talle voorstelle volg, maar Cronjé weier om die oorblywende waens agter te laat en beveel dat ’n brug oor die rivier in vloed gebou moet word. ’n Hewige debat bars los.

Martin trek Theron eenkant toe en hulle verlaat die tent. “Ek wil hier wegkom met my kommando. Ons bly nie langer by daardie dwase ou man nie. Verduidelik jou plan vir my.”

MARTIN GAAN terug na die rivierwal. Hy maak Joep en Jan wakker, maak koffie en vertel hulle van die moontlikheid om te ontsnap, terwyl hy die gevaar van albei kante beklemtoon.

Jan het geen oortuiging nodig nie. “Hierdie plek is ’n doodsakker. As ek moet sterf, laat dit dan so wees. Dit sal God se wil wees. Maar Jan Viljoen en sy broers aan die Britte oorgee? Nooit!”

“Ek moet Buks by die huis kry. Sy wond bekommer my,” sê Joep.

“Ons neem ons gewondes saam, dié wat bereid is om die kans te waag,” sê Martin.

“Hoeveel geskikte perde het ons?” vra Jan.

“Ons steel perde,” antwoord Martin. “Die vyand gaan hulle in elk geval vat as hulle hier bly.”

“Daar sal ’n herrie wees as die manne uitvind dat hul perde verdwyn het,” sê Joep.

“Ons steel die perde net voor ons padgee. Wat dink jy, oom Joep?”

“Wat ek dink?” Joep drink sy koffie, krap in sy vuil baard en glimlag vir Martin. “Op hierdie oomblik wonder ek of jy vergeet het dat jy met my dogter getroud is.”

“Nee, ek het nie.” Hy kyk Joep in die oë.

“Nou hoekom noem jy my dan nog oom en nie Pa nie, soos wat die gebruik is?”

“Natuurlik, ek is jammer. Van nou af sal dit Pa wees.”

DIE BRITSE bombardement raak die volgende dag hewiger. Die brug, wat in aller yl gedurende die nag gebou is, word verwoes voordat dit halfpad oor die rivier is. Generaal Cronjé wys alle pleidooie om oor te gee van die hand. Die volgende dag, die sewe en twintigste Februarie, is die herdenking van die Slag van Amajuba. “God sal die vyand verslaan en ons red op die heilige dag,” sê hy. “Hy sal nie Sy volk in sy donkerste uur verlaat nie.”

Martin is Cronjé heimlik dankbaar dat hy nie voor sy offisiere swig nie en bid dat dit nag moet word. Hy en Jan bestudeer die ontsnaproete deur hul verkykers en maak seker waar hulle perde kan kry. Teen laatmiddag het die vyand tot ’n paar honderd jaart van hul posisie gevorder, en hy weet die einde is naby. Hulle sal die volgende dag oorrompel word.

Toe die gevuur teen donkeraand ophou, gaan soek Martin vir Karel. Hy het glad nie aan die geveg deelgeneem het nie en het saam met Legend in ’n donga weggekruip en net snags uitgekom om voer te kry en ’n paar monde vol kos vir homself te bedel. “Ek het werk vir jou.” Martin sit sy hand op Karel se skouer. “In die loopgraaf agter die generaal se skuilplek sal jy kaptein Theron kry. Sê vir hom ons is sewentig en sal gereed wees soos laas nag afgespreek.”

Die manne berei voor vir die vlug. Hulle eet pap en sluk dit af met flou koffie; hulle rol hul komberse op en maak hul bandeliers vol. Jan vertel dié wat nie perde het nie waar om te kry, en is op die punt om saam met hulle te vertrek toe Karel terugkom.

“Hier, vat Legend, Jan Viljoen. Jou perd gaan dit nie haal nie.”

Jan bestudeer Karel se gesig. “En hoe, my vriend, gaan jy wegkom?”

Karel sit Legend se teuels in Jan se hand. “Gebruik jou hakke liggies, Jan Viljoen. Sy sal gehoorsaam.”

“Hoekom in godsnaam wil jy saam met die laer oorgee?” Martin gryp Karel aan die arms en dwing hom om in sy oë te kyk. “Luister na my. Rudolf is dood. Jy gaan hom nie by die Britte kry nie. Jy gaan hom nooit kry nie.”

Karel ruk hom los uit Martin se greep. “Jan Viljoen, vat my mauser. Ek sal dit nie vannag nodig kry nie, maar ek sal een van jou messe kan gebruik.”

Jan aarsel, maar Karel druk die geweer in sy hande. Jan gee vir hom ’n mes. Karel praat ’n laaste keer met Legend en verdwyn in die donker nag.

“Hierdie perd is ’n deel van hom en, God is my getuie, sal ek, Jan Viljoen, vannag hier wegkom,” sê hy met trane in sy oë.

“En God help jou, Jan Viljoen, as jy dit nie regkry nie,” sê Joep. “Want haar baas sal anderkant wag.”

Twee ure ná middernag is alles gereed. Martin sal die leiding neem, met Joep in die middel. Jan en sy broers sal die agterhoede vorm om die gewondes te help as daar op hulle gevuur word. Hulle lei die perde stilletjies na die afgespreekte plek aan die oostekant van die laer. Die perde proes asof hulle die vryheid kan aanvoel.

Martin skuif sy bandelier reg en gaan sy mauser en pistool na. Hy is dankbaar vir die donkerte; hy wil nie sy manne se gesigte sien nie. Hulle mag binne ’n uur gevang of dood wees. Hy trek ’n vuurhoutjie en kyk op sy horlosie. Dis tyd om te gaan. Hy gee die bevel om die perde te bestyg en dit word in die ry af gefluister. Hy ry stadig aan die voorpunt en bereik ’n draai in die rivier, waar hy weet ’n sterk teenwoordigheid van Britse infanterie is. Hy draai noord en slaan oor na ’n galop. Die gedonder van die perdehoewe is oorverdowend, maar nie ’n enkele skoot kom van enige kant nie.

Hulle galop voort. Ster, Martin se skimmelwit perd, is ’n maklike baken om te volg. Ná drie myl is daar die gekraak van geweervuur, maar die skote kom nie naby aan hulle nie. Martin weerstaan die sterk versoeking om oor sy skouer na sy manne te kyk. Elke jaart voel soos ’n myl en, laag gebuk oor Ster se nek, konsentreer hy op die aanwysings wat Theron hom gegee het. Oral klink nou geweervuur op. De Wet se antwoord flits van die koppie aan hul regterkant af – die houwitser en pom-pom vuur op die onsigbare vyand links van hulle.

Ster begin moeg word. Joep, wat Buks se perd lei, haal hom in. “Gaan aan! Gaan aan! Reguit vorentoe!” skreeu Martin. “Reguit vorentoe!”

Hy is nou in die middel van die kommando. Ster struikel, sodat Martin kop eerste deur die lug trek en nie ver van die perd op die grond val nie. Snakkend na sy asem kruip hy tot by Ster. Hy kry koorsagtig sy pistool in die hande en sit dit teen die perd se kop. Toe hy die skoot aftrek, jaag die laaste van die kommandolede verby. Die Viljoen-broers op die agterhoede draai om. Frans haal met moeite die saal van die dooie perd af. Jacob tel Martin met brute krag op Legend om voor Jan te sit. Legend is so sterk en haar uithouvermoë so groot dat sy, ondanks haar dubbele vrag, die kommando inhaal nog voor hulle die veiligheid van De Wet se manne bereik.

“Magtig! Wat ’n perd!” Jan streel Legend se rillende flanke. “Sy’t nog nooit iemand behalwe haar baas op haar rug toegelaat nie en nou het sy twee swaar mans gedra. Sy doen wragtig haar naam gestand.”

Martin staan regop nadat Jan hom afgetel het. Hy voel aan sy sy en skouer. Niks gebreek nie, stel hy verlig vas. Net sy gesig is vol bloed waar sy wang en voorkop oor die grond geskuur het.

Volgens Joep is nie ’n enkele man getref of agtergelaat nie. Die manne juig en klap mekaar op die rug, en wens Martin geluk met die sukses van hul waaghalsige vlugpoging. Joep haas hom na Buks en die ander gewondes. Martin en Jan klim teen die koppie uit waar generaal De Wet is. Hulle kry hom waar hy op die top staan en na die laer deur sy verkyker tuur. Hul ontsnapping het paniek aan albei kante veroorsaak en die geweervuur gaan voort.

“Ek het geweet julle sal kom, maar was dit nodig om julle te laat roep?” De Wet lyk nors en hou die verkyker voor sy oë. “Kyk! Julle was net betyds.”

In die vroeë oggendlig verskyn daar ’n wit vlag, gevolg deur ander in die laer. Die gevuur stop. Ná dae van donderende en konstante bombardemente is dit nou vreemd stil.

“Vier duisend Boere,” sê De Wet. “Tien dae lank het hulle dertig duisend man op ’n afstand gehou. Vir hulle is die oorlog verby.”

Aan die voet van die koppie kom ’n eensame figuur, sy gesig swart van die modder, na hulle toe aan. Met ’n geweldige gebrul hardloop Jan ondertoe terwyl hy struikel, gly en skreeu. “Sy het dit gehaal! Sy is veilig! Sy’t dit gehaal, Karel!”

“Wie het dit gehaal? Het julle ’n vrou saamgebring?” vra De Wet.

“Nee, generaal.” Martin draai sy kop weg om sy trane te verberg. “Dis ’n perd.”