’n Nuwe manier om oorlog te maak

Maart 1900

IN DIE WEKE NÁ DIE OORGAWE van generaal Cronjé en sy vier duisend man voer Martin sy eie oorlog teen wanhoop, verslaenheid en ’n oorweldigende gevoel van nutteloosheid. Alles val uiteen. Ladysmith is ontset, die Natalse front gee mee, en die vyand is besig om op die suidelike grens van die Vrystaat deur te breek. Net Mafeking is nog beleër. En om hom sê die manne openlik dat hulle onwillig is om generaal Roberts se magtige leër teen te staan – die leër deur wie Cronjé verpletter is en wat nou opruk na Bloemfontein.

Martin verwelkom die verantwoordelikheid van sy kommandantskap. Dit weerhou hom daarvan om te tob oor die gevolge van Cronjé se oorgawe en gee hom ook ’n stem in die krygsraad. Hy kry sy inspirasie by generaal De Wet wat nie sy geloof in die oorlog verloor het nie.

“Ons burgers is gedemoraliseer,” sê hy vir Martin. Hulle is by Poplar Grove, ’n gehug wes van Bloemfontein, en kyk hoe president Kruger per koets aankom om sy vinnig disintegrerende magte te bemoedig. “Ons moet hulle hul geloof laat terugwen en ons kan dit net doen as ons vasberade is. Sê vir hulle ’n gewonde dier is die gevaarlikste; hulle moenie wanhoop nie.”

Kruger klim uit die koets. Net toe bars die klanke van ’n geveg van die omringende koppies af los, waar die kommando’s vir die vyand lê en wag. De Wet bondel die ou president terug in die koets, laat dit omdraai en beveel ’n sterk mag om dit na veiligheid te begelei.

“Kry jou kommando. Ry noord,” sê hy vir Martin. Sy stem is rou van woede, en sy sambok tik teen sy rystewels. “Ek sal jou vannag laat roep.”

Tien myl verder laat Martin die Rustenburg-kommando halt. Hy klim van sy perd af en vee sy stofbesmeerde gesig met die agterkant van sy hand af. Hy kyk hoe sy manne aangegalop kom. Hulle drink uit hul waterbottels en wag in stilte op bevele.

“Almal is hier, buiten drie, maar hulle sal ons waarskynlik later opspoor. En ek weet weer nie waar Karel is nie,” sê Jan terwyl hy die saal van sy perd aftel – ’n seker teken dat hy nie verder wil gaan nie. “Die voorraadwaens is ’n myl wes van ons. Ek het hulle in daardie rigting sien ry. Jacob, Dirk, Gert Swart!” bulder hy. “Gaan haal vir ons kos. Daardie donders gaan dit alles Bloemfontein toe neem en niks vir ons los nie.”

Hulle maak vir die nag gereed deur vuurmaakhout te versamel en die perde rivier toe te neem om te drink. Hulle ignoreer die voortdurende stroom agterblyers wat ooswaarts beweeg. Gou-gou is alles onder beheer en gaan sit hulle om die vure om te wag vir die kosvoorraad.

“Kommandant, wil jy hê ek moet na Karel gaan soek?” vra Gert Vermaas.

“Dankie, Gert, maar hy sal by ons aansluit wanneer dit hom pas. Kyk liewer dat die manne die water kook. Die rivier is kwaai besoedel deur al die karkasse wat nog steeds afdryf,” antwoord Martin en gaan sit by Jan en Joep langs die vuur. “Ek moet na De Wet toe ry om uit te vind wat ons te doen staan.”

“Ek sal wagte uitplaas as die manne klaar geëet het,” sê Jan.

“In hierdie warboel? Dit sal nie nodig wees nie, Jan. Laat hulle rus.”

“Daar is ’n klomp wat lus het om te vlug. Hulle sal nie die moed hê om dit te doen terwyl Jan Viljoen wakker is nie.” Hy gee vir Martin ’n beker stomende koffie. “Gaan, kry die bevele en laat die lafhartiges aan Jan Viljoen oor.”

HEELWAT LATER daardie nag kom Martin terug van ’n langdurige krygsraadsitting. Die manne het ’n droë doringboom opgekap en daar is ’n enorme vuur, met kleiner vure rondom, om die koue van die nag af te weer. Hulle lê in groepies, met hul koppe op hul saals; sommige snork reeds, terwyl ander onderling gesels. Toe hy aankom, staan die meeste op en gaan na die groot vuur om die nuwe bevele te hoor.

“So, wat is die plan, skoonseun?” Joep gee vir Martin ’n bord kos wat hy warm gehou het. “Gaan ons vasstaan en veg, of gaan ons die Engelse koeëls in ons rûe voel?”

“Ons gaan verder noord, Pa. Ons opdrag is om te voorkom dat die vyand De Wet se kommando’s omseil en Bloemfontein van die noorde af inval. Kaptein Theron se verkenners sê die Engelse wag vir hul voorraadwaens voordat hulle verder beweeg. Ten minste drie dae nog. Generaal De la Rey sal kanonne opstel teen die ry koppies in die weste,” vertel Martin terwyl hy eet. “Enige vrae?”

“Sal ons die opmars kan stuit?” vra iemand.

Martin dink ’n rukkie na. Dit sal onwys wees om sy manne valse hoop te gee. “Ja, ons sal hulle kan keer – vir ’n ruk, ten minste,” sê hy terwyl hy sy woorde versigtig kies. “Laat ek dit só stel: Ons sal die Vrystaters genoeg tyd gee om ’n verdedigingslinie rondom Bloemfontein op te stel. Dan sal ons ooswaarts terugtrek na Brandfort en noord van hulle —”

“Aha! Wie se perd het die resies vandag gewen?” ’n Stem kom uit die donkerte, gevolg deur ’n skril gelag. “Nog nooit in my lewe het ek so ’n vermaaklike gesig gesien nie.”

Martin draai om en sien ’n verflenterde man wat die vuurlig binnestap met sy swart merrie. “Karel! Waar was jy?”

Karel krap in sy lang, vuil hare. “Dit sou onregverdig wees as ek aan die resies deelgeneem het. Legend sou julle almal in die skande gesteek het. Ons was so naby, so naby! Ek het die wit van hul oë gesien …” Hy onderbreek homself. “Raai wie het ek vandag gekry?” Niemand antwoord nie; almal weet hy soek nog sy tweelingbroer. “Dan gaan ek nie vertel nie, maar hy het hulp nodig. Hy is moeg en uitgehonger.”

“Van wie praat jy?” vra Martin.

“’n Halfmyl terug, in daardie rigting, sal julle hom kry,” sê Karel en beduie wes. “Ek moet nou my pragding water gee, so gaan kyk. Gaan kyk!”

Jan en sy broers loop in die rigting waarheen Karel gewys het. Die ander bly kyk na Karel en Legend. Karel lyk heeltemal by sy positiewe, en hulle ontspan sigbaar.

“Wil jy iets eet, seun?” vra Joep.

“Ek moet eers iets vir Legend kry.”

“Daar’s voer op die wa,” sê Gert Vermaas.

’n Halfuur later kom Jan teruggeloop na die vuur. “Ons dokter is weer met ons. Hy het die hele week na ons gesoek.”

Charles kom saam met Frans en Jacob aan en is duidelik uitgeput. Martin sien die moeë lyne op sy gesig, ondanks die breë glimlag. Hy omhels Charles en laat hom dan in die ander se sorg.

Joep sit sy sterk arms om Charles. “Wragtig, seun, ons was bekommerd oor jou.”

“Oom Joep, jy was maar net bekommerd jy kry ’n koeël in jou lyf sonder dat daar ’n dokter is om na jou om te sien,” sê Jan en lag uitbundig.

“Praat vir jouself, Jan Viljoen.” Joep draai terug na Charles. “Hoe het jy weggekom van die Engelse?”

Charles, wat nog steeds breed glimlag, vat ’n beker koffie aan. “Die mediese personeel is twee weke gelede al vrygelaat. My kollegas is noordwaarts, sommige Bloemfontein toe, maar ek het toestemming gekry om by oom Marthinus te bly.”

“Hoe gaan dit met Pa?” vra Martin.

“Hulle het hom Kaapstad toe gestuur, maar hy is besig om te herstel. Waar’s Buks, oom Joep?”

“In die arm gewond. Ons het hom met die trein huis toe gestuur. Ander was nie so gelukkig nie.”

“Hoe het Karel jou gekry, Charles?’ vra Martin.

“Ek was in die vuurlinie. My muile het hulle nie gesteur aan die gedonder van die kanonne nie. En toe, uit die bloute of moet ek sê uit die stof, verskyn Karel en beveel my om my ambulans te los en eerder Lady en myself te red. Ek het later teruggegaan om my ambulans te kry en daarop aangedring dat die Britte my deurlaat. En hier is ek nou.”

Hulle praat ’n ruk lank en deel nuus uit. Charles raak aan die slaap, met die beker nog in sy hande. Martin gooi ’n kombers oor hom en sit sy kop op ’n sak meel neer.

DIE VOLGENDE drie dae grawe die gekombineerde kommando’s van generaals De la Rey en De Wet hulle by die ry koppies tussen Bloemfontein en die vyand in. Martin laat, soos beveel, die Rustenburg-kommando na die noorde verskuif, maar hulle sit nie stil nie. Hy stuur Frans Viljoen Bloemfontein toe om mediese voorraad in die hande te kry. Frans kom terug met meer as waarvoor Charles gehoop het. Dokter Hans Vermaak het weer by hulle aangesluit en het ook ’n paar tente, twee ambulanswaens en Charles se voorraad gebring.

Die gevegte by die koppies buite Bloemfontein duur net drie dae. Die Rustenburg-kommando is nie deel daarvan nie. Op die dertiende Maart ry lord Roberts en sy troepe die hoofstad van die Oranje-Vrystaat binne.

Martin gaan na die krygsraad wat generaal De Wet saamgeroep het, en die nuus wat hulle meegedeel word, is ontstellend. Baie manskappe het gesneuwel en nog meer het besluit om huis toe te gaan, omdat hulle dink die oorlog is verby. Die laaste trein het daardie aand die hoofstad verlaat met president Steyn en die staatsargiewe. Hulle is op pad na Kroonstad, honderd myl noord van Bloemfontein.

Kaptein Danie Theron rapporteer dat hy die spoorlyn suid en noord van die stad opgeblaas het. “Ek het ’n paar manne, dié wat Engels kan praat, in Bloemfontein laat agterbly,” sê Theron vir Martin toe die vergadering uiteengaan. “Kommandant, jou broer was die eerste een wat aangebied het. Ek het drie verkenners ingestuur op fietse, maar hy het sy perd gevat. Hy vra dat die dokter na sy broer se perd sal kyk tot hy terugkom.”

Martin wonder of hy Karel weer sal sien, maar besef dat dinge hul gang moet gaan. Wat die uiteinde ook al is, hy sal dit moet aanvaar.

*  *  *

KOBA NEURIE terwyl sy Lena en Annecke help om die botter te karring in die melkkamer op Soetvlei. Maar daar is groot onrus in haar gemoed; alles is nie pluis hier op die plaas nie. Daar is ’n rusteloosheid, ’n ongemaklikheid, wat onuitgesproke en onsigbaar teenwoordig is in oë wat mekaar ontwyk en in die versigtigheid waarmee woorde gekies word.

Sy het op die stasie gewag vir die trein met die groot rooi kruis op die kant, toe Buks in Pretoria aankom. Sy het hom en twee ander Rustenburg-manne na haar huis geneem en hul wonde versorg. Sy het Buks aangemoedig om ’n paar dae te bly, maar hy het geweier. Hy wou Soetvlei toe gaan, na Lena en sy kinders, en het die volgende dag met haar verewa vertrek. Verlede week het sy ’n geleentheid Wintersrust toe op mevrou Coetzee se perdekar gekry om haar wa te kom haal en ’n paar dae te kuier. En nou beleef sy iets wat sy nie goed kan tuisbring nie en nie kan regstel nie.

Buks se wond het lank reeds geheel, maar hy bly nog talm by die huis. Dit is natuurlik goed om ’n man op die plaas te hê, want daar is baie om te doen. Klaas en sy mense doen hul bes, maar Mary weet baie min van boerdery en Lettie het ’n swak hart. Buks is nodig. Hy is ’n goeie boer en, ja, ’n goeie eggenoot ook, want Lena verwag nou haar vierde kind.

Nee, dis nie waar die probleem lê nie. Sy luister na Lena en Annecke se geklets terwyl hulle die botter in die vorms vasslaan. Lena gee vir Annecke raad oor die koms van haar baba.

Annecke, die arme kind, sug Koba. Die hartseer in haar groot bruin oë lê nie meer so diep nie. Sy dra ’n sterk baba, Rudi se baba, en is heeltemal verdiep in die veranderings wat haar liggaam ondergaan. Die lewe is nie te swaar vir haar nie, aangesien Martin nog nie weer by die huis was sedert die troue nie. Manne wat Rustenburg toe gekom het, het die nuus gebring dat Martin ’n onverskrokke leier is. Hulle het ook vertel dat Karel in Bloemfontein verdwyn het, maar dit is maar soos hy is. Buks vertel dat Karel dikwels dae lank verdwyn vandat Rudi dood is.

Haar gedagtes dwaal terug na Buks. Sal hy weer by die kommando gaan aansluit? Hy praat selde oor die oorlog, maar is baie fluks om op die plase uit te help. Nie net Wintersrust en Soetvlei nie. Hy bring lang ure in die saal deur om seker te maak dat alles in orde is op die Swart- en Vermaas-plase, en help waar hy kan.

’n Paar dae gelede het hy vroeg na Vrede gery, die Viljoen-broers se plaas. Toe hy terugkom en hulle hom oor die Viljoen-vroue uitvra, het hy geaarsel voordat hy vertel het dat sy hulp nie daar nodig is nie. Sy wonder wat op Vrede gebeur het, want Buks is sedertdien nogal ingedagte. Dis daar waar die moeilikheid broei, sê haar intuïsie vir haar.

“Lena, hartjie, het Buks jou enige verdere nuus van Vrede vertel?” Koba dink dis veilig om te vra toe Annecke die kombuis verlaat om koffie stoep toe te neem.

“Ag, tant Koba, wat daar gebeur het, was aaklig,” fluister Lena naby Koba se oor. “Ek weet nie hoekom hulle hom so behandel het nie.”

“Wat het hulle aan hom gedoen, hartjie?” Koba omhels Lena toe sy die ellende in haar oë sien.

“Hannie Viljoen het gesê hy moet sy hulp gaan aanbied waar dit nodig is, nie op Vrede nie. Sy’t hom gevra waar sy mauser is en … o, tant Koba, dis vreeslik, dit maak baie seer.” Lena snik maar gaan met moeite voort. “Sy’t hom gevra waar sy moed dan is. Hulle mans veg nog. Hannie het hom ook verbied om weer na Vrede te kom solank die oorlog aan die gang is.”

“Hoekom sê sy sulke dinge? Buks is nie ’n lafaard nie,” troos Koba. “Kom nou, hartjie, moenie huil nie. Jy sal net die kleintjies ontstel. ’n Vrou se tong kan baie pyn veroorsaak. Hannie is ’n sterk en goeie vrou maar, net soos haar liewe man, gaan sy onversigtig om met woorde.” Sy vee Lena se trane met haar groot sakdoek af en gee haar ’n klapsoen op die wang. “Buks is op die stoep. Hy moenie sien jy huil nie. Kom, ons gaan drink ons koffie. En daar’s koek ook. Mary kom oor en bring liewe Anita saam. Ek sal later met Buks praat; hy moet baie sleg voel.”

Die kinders se skril stemme en die vroue se geklets kan nie Buks se ongemak verbloem nie, merk Koba toe sy die koek sny en dit uitdeel. Anita vererger die saak deur te vertel van die gewondes wat sy in Rustenburg se hospitaal behandel het en van Charles se briewe wat sy van die front af ontvang het.

Mary is ’n bietjie opgewekter as normaalweg. Anita het ’n brief uit Rustenburg saamgebring. Dit is van Marthinus in Kaapstad, vertel Mary hulle. Sy wond het genees en alles gaan goed, skryf hy. Hy is ’n krygsgevangene, maar word goed behandel.

“Hy sal gou-gou terug wees, tant Mary.” Buks hou homself besig met sy pyp. “Die Britte sal binnekort in Johannesburg wees. Dit is hulle doel – die goudvelde.”

“Gaan hulle daar stop, hartjie?” vra Koba, dankbaar dat sy Buks by die gesprek kan betrek. “Sal hulle dan tevrede wees?”

“Ek dink so, ja, tant Koba. So baie van hul soldate is dood, hoekom sal hulle meer wil verloor? Hulle wil net die goud hê. Martin en die staatsprokureur weet dit ook. Dit hang van hulle af om ’n billike ooreenkoms met die Britte te sluit. Gee hulle Johannesburg en los die res van die land vir ons.”

Die vroue bly ongemaklik stil en drink hul koffie. Buks is regtig nie ’n lafaard nie, dink Koba. Hy wil net nie veg ter wille van goud nie. Die volk, die land, dis sy grootste bekommernis.

“As die oorlog aanhou,” Lena kyk vinnig na Koba, “sal jy dan teruggaan na die kommando, Buks?”

Buks neem ’n rukkie voor hy antwoord. Sy woorde is ernstig, maar daar is ’n bitter klank in sy stem. “Ek sal veg vir die vryheid van ons volk, my hart, maar ek gaan nie vir goud veg nie. As ek dit doen, sal ek meedoen aan die vernietiging van ons volk.” Hy tel sy hoed en pyp op en loop na die veekrale.

“Ons veg nie vir die goud nie,” sê Lena. “Ons veg tog vanweë die goud, of hoe?”

“Charles sê ons speel ’n groot rol om ’n selfsugtige empire ’n duur les te leer – om nie klein nasies te verpletter nie,” sê Anita.

“Allemagtig!” Lettie Maree lag. “Wie veg nou teen wie? Kom, Annecke, kind.” Sy staan op. “Kom, ons gaan maak aandete. Oorlogspraatjies gaan nie ons mae volmaak nie.”

Koba wag tot al die vroue die huis in verdwyn het. Sy vou haar tjalie om haar skouers en loop na waar Buks teen die heining van die beeskraal leun. Hy is heeltemal reg, dink sy, om vir die goud te veg sal die volk vernietig. Oom Paul, daardie slinkse ou Dopper, sal ’n ander manier moet bedink om hierdie ingewikkelde oorlog te voer. Maar op die oomblik is Buks sonder hulp en hy het haar troos nodig.

*  *  *

PRESIDENT KRUGER frons diep terwyl hy aan sy meerskuimpyp se steel kou. Sy swart manelbaadjie is verkreukel en gevlek ná die lang reis Kroonstad toe – die tydelike hoofstad van die Oranje-Vrystaat. Hy vat aan die koperring in sy oor. Sy rumatiek waarsku dat daar ’n koue winter aan die kom is.

Hy het ’n krygsraad byeengeroep om die verspreide kommando’s saam te voeg en om hulle hoop te gee. Maar bowenal moet hy ’n nuwe manier vind om die oorlog te voer. Die onlangse terugslae eis sy tol selfs onder die heel dapperstes. Die volk is gedemoraliseer en moeg van die aftog blaas. Kan hulle lord Roberts se opmars stuit?

Hy tuur deur die wolk pyprook wat bokant die groot mahoniehouttafel in die Railway Hotel dryf. President Steyn van die Vrystaat, met sy rooi baard wat tot by die vierde knoop van sy jas kom en die lamplig wat op sy kaal kop blink, sit doodstil. Daar is nog steeds hoop en vertroue in sy oë. Generaal Piet Joubert is in ’n kombers toegedraai. Dié Dorpsboer het nog nie herstel nadat hy ’n paar maande gelede deur sy perd afgegooi is nie. Dit is duidelik dat sy dood naby is. Kruger sien dit in die bleek gesig en hoor dit in die stem wat geen gesag meer het nie.

Verder teen die tafel af sit die staatsekretarisse en lede van die uitvoerende komitees. Rondom die tafel, leunend teen die mure of sittend op ekstra stoele, is die veggeneraals: De la Rey, Olivier, Viljoen, Prinsloo, Basson en talle ander – Vrystaters wat hy maar onlangs eers ontmoet het.

Hy steek sy pyp in sy sak. De Wet, die kort en bonkige Vrystater met die bokbaardjie, kan dalk die man wees wat die ontmoedigde Boeremagte van algehele ineenstorting red. Nuwe bloed, jong bloed. Hy maak luidrugtig keel skoon. “Generaal De Wet, sal jy asseblief iets sê? Vertel ons hoe om die Engelse in toom te hou. Kom, jong man, laat ons hoor.”

Christiaan de Wet staan van sy stoel af op en sy skerp oë kyk die ouer generaals met selfvertroue aan. “Hou op met veldslae. Hou op met beleërings. Val aan in plaas van verdedig. Ons moet ons leërs in kleiner eenhede verdeel – kommando’s wat vinnig kan beweeg, op die vyand toeslaan en padgee. Ons pla hulle, blaas die spoorlyn op, val hul konvooie aan, neem hul patrollies gevange, slaan gelyktydig op verskillende plekke toe. Ons mag die vyand nie ’n oomblik se rus gun nie. Ons moet hulle wanhopig maak sodat hulle sal opgee.”

“Jy het jou manne beveel om na hul plase te gaan om te rus,” hyg generaal Joubert. “Hoe gaan jy hulle terugkry?”

“Ek kan nie ’n haas met onwillige honde vang nie, generaal. Die beste manne sal terugkom – dié wat bereid is om te veg. Om die ander terug te kry, het ek net een dag se goeie werk nodig en dan sal hulle na die kommando’s terugstroom.”

“Wie gaan hierdie kleiner kommando’s lei?” vra generaal Olivier. “Sal hulle volgens eie goeddunke optree? Dit sal wetteloosheid veroorsaak.”

“Ons sal, sê, ses honderd, maar nie meer as ’n duisend nie, onder ’n generaal hê – nie ’n kommandant nie. Dié generaals ontvang hulle bevele direk van die veggeneraal in hul distrikte. Ons as veggeneraals behou volle beheer oor die generaals en ons areas. Ons ontmoet net wanneer dit noodsaaklik is en rapporteer aan die opperbevelvoerder. Dit sal hierdie uitgerekte krygsrade onnodig maak.”

“Waar gaan ons die nuwe generaals kry?” vra iemand van agter af.

De Wet kyk ongeduldig na hom. “Ons kies standvastige manne wat dissipline kan toepas, manne wat deur hul kommando gerespekteer word. Manne wat helder en vinnig kan dink tydens ’n geveg. Ons het nie die soort nodig wat aan hulle eie oordeel twyfel nie.”

“Ek stem saam,” laat generaal De la Rey hoor. “Kleiner kommando’s wat aanval en nie wag om aangeval te word nie. Die vyand is op pad na Transvaal, na die goudmyne. Dit weet ons almal. As die oorlog tot daar vorder, sal my manne veg soos deur generaal De Wet uiteengesit is.”

President Kruger knik. “Louis Botha word uit Natal teruggedryf. Ek het hom aangestel as opperbevelvoerder. Hy sal saamstem, Koos. Waar is Marthinus de Winter? Is hy by jou?”

“Hy is gewond en nou ’n krygsgevangene, oom Paul. Dis ’n groot verlies.”

Die president sug. “Ai, ’n hartseer verlies, maar God se wil. En jong De Winter? Hy het sy kommando uit Cronjé se val gered, het ek gehoor.”

“Ja, oom Paul, ’n waagmoedige jong man. Hy’s my eerste keuse as ’n generaal in Transvaal.”

Die president frons. “’n Generaal? Maar het hy al ’n vrou? Die manne het net vertroue in leiers met ’n familie tuis.”

De la Rey glimlag. “Hy het met Joep Maree se dogter getrou en hulle verwag ’n seun, glo ek.”