Bloemfontein

Mei 1900

BLOEMFONTEIN IS ’N DORP wat bestaan uit ’n klompie privaat huise en regeringsgeboue, sinkdakwinkels en hotels – saamgebondel om ’n enkele spoorlyn wat lei na die goudvelde in Transvaal. Vyf duisend mense woon in en om die dorp, en dit voorsien in hul behoeftes. Maar hul vreedsame bestaan kom tot ’n einde toe die republikeinse vlag met die oranje en wit strepe vervang word deur die Union Jack. Dertig duisend Britse troepe marsjeer die dorp binne en bring ingewandskoors met hulle saam, wat hulle opgedoen het deur die besmette water van die Modderrivier te drink. Die siekte versprei onder die uitgeputte troepe, en gou lê honderde sterwend in die hitte van die laatsomermaande.

Generaal Roberts vaardig ’n proklamasie uit dat die Boere wat die eed van getrouheid aan die koningin aflê, vry is om na hul plase terug te keer. ’n Groot aantal Vrystaters stem in, oortuig dat die oorlog verby is noudat hul hoofstad ingeneem is. Hulle stroom na die dorp om die besettingsmag aan te gaap.

Daar heers ’n opgewekte stemming, ondanks die oorvol toestande en begrafnismarse na die begraafplaas. Soldate en militêre rytuie verdring mekaar op straat. Diegene wat die aand vry het, gaan na die dorpsplein waar die orkes van die Highland Brigade die dorpsmense elke aand vermaak.

Die winkel- en hoteleienaars maak goed van die geleentheid gebruik. Aanvanklik het hulle gedink die Britte sal vinnig aanbeweeg Transvaal toe. Maar toe die eerste koue winde oor die vlaktes begin waai en die bome begin verkleur, is hulle nog steeds daar.

DIT IS VROEGMIDDAG. ’n Ligte wind jaag die stof in die strate op. Karel, bebaard en maer, leun teen ’n lamppaal, sy oë vol minagting en wanhoop. My suster, my eie suster, dink hy. Stefanie glimlag vir Peter Radford terwyl hulle by ’n teekamer ingaan. Dit is die tweede keer dat Karel hulle sien. Haar Engelse man ingeruil vir ’n Britse lord.

Ná die val van Bloemfontein het Karel en drie ander verkenners agtergebly om op die vyand te spioeneer. Hulle glip snags uit om kaptein Theron te ontmoet, wat dan hul inligting deurgee aan die generaals en die Vrystaatse regering in Kroonstad. Buiten Jan se jagmes wat in sy baadjie versteek is, is hy ongewapen.

Karel sit sy arm om Legend se nek. Stefanie se verraad ontstel hom, maar daar is nie tyd om daaroor te tob nie. Hy moet ’n dringende boodskap Kroonstad toe stuur. Die troepe doen al hoe meer driloefeninge. Osse word van plase af ingebring en honderde waens word gelaai, bestem om noordwaarts te trek. Gepantserde treine word gereed gemaak en trokke vol voer en kratte met voorraad staan en wag. As hierdie militêre masjien eers in beweging gekom het, sal hy nie maklik deur hul linies kan kom nie. Maar eers moet hy by die Oranjerivier-stasie uitkom om Rudi se graf oop te maak. Die dringende behoefte om sy tweelingbroer te soek dryf hom weer voort.

Hy kyk na die son. Drie uur voor dit donker is, maar daar is iets wat hy moet doen. Hy lei Legend na die Rooi Kruis-kantoor en maak haar aan ’n paal vas. Hy gaan in en doen by ’n klerk navraag oor sy pa.

Die klerk gaan deur die name van die krygsgevangenes en kry dit tussen dié wat saam met Cronjé oorgegee het. “De Winter, Marthinus Johannes, Rustenburg-distrik, kommandant. Gewond Februarie 1900, verban na St. Helena.”

“Staan daar of sy wond genees het?”

“Ek is bevrees ons het nie daardie soort inligting nie. Maar jy kan gerus aanvaar dat hy nog by ons is,” sê die klerk met ’n bemoedigende glimlag.

“Sy seun Rudolf. Daar word beweer dat hy in Desember deur die Engelse begrawe is.”

“Laat ek kyk.” Die klerk haal ’n ander lêer van die rak af, skuif sy bril reg en laat sy vinger oor die lyste gly. Ná ’n rukkie kry hy wat hy soek. “A, hier het ek dit. De Winter, Rudolf …”

Karel ry na die skuur aan die rand van die dorp. Hy sal ’n boodskap vir Martin stuur oor wat met hul pa gebeur het. Hy leef ten minste nog. Hy trek verflenterde klere aan en sluit Legend in die skuur toe. Hy vermy die patrollies rondom die dorp, ontmoet sy kontakpersoon en is voor sonop terug met nuwe opdragte. Hy slaap deur die dag. Laatmiddag trek hy sy dorpsklere aan en ry Bloemfontein binne.

’n Skare vergader op die plein vir die orkes se uitvoering. Die man vir wie hy op die uitkyk is, ’n Engelssprekende Vrystater en Boerespioen wat hom in die telegraafkantoor toelaat om die boodskappe te lees, is nog nie daar nie. Hy maak gereed om te wag, maar skielik roer daar iets diep in hom. Iets is verkeerd. Hy kyk noukeurig om hom rond, maar daar is net mense in kakie-uniforms en dorpsmense in hul uitgaanklere. Hy volg sy instink en kanselleer sy planne vir die nag.

*  *  *

DIE SWART PERD vang sy oog en hy swaai vinnig om, wat hom met twee soldate laat bots. “Sorry, captain, sir!” Hulle salueer verbouereerd en loop om hom.

Rudolf staar na die merrie wat buite die Rooi Kruis-kantoor vasgemaak is. Sy is in ’n perfekte kondisie, haar vel glansend en haar romp ’n bietjie vet. Hy fluit een lang en drie kort note. Sy draai haar ore en pluk aan die teuels. Wat doen Legend in Bloemfontein? Het die Engelse haar gevang? Nou hoef hy nie verder te soek na ’n perd om uit Bloemfontein te ontsnap nie. Hy sal haar moet steel. Geen bedrag sal enigeen oortuig om ’n perd in so ’n goeie kondisie te verkoop nie.

Met ’n bonsende hart loop hy oor die straat en maak hom gereed om te wag tot haar ruiter uitkom. Hy maak asof hy in ’n winkelvenster kyk. Hy kyk oor sy skouer en sien ’n offisier wat saam met hom op die trein van Kaapstad af was. Hy koes vinnig by die winkel in en toe dit veilig is om weer uit te kom, is Legend weg. Hy hardloop na die middel van die straat, maar daar is geen teken van haar nie.

Laat daardie nag loop hy nog steeds hoopvol in die strate rond op soek na haar.

Hy het twee dae tevore in Bloemfontein aangekom.

Dit was nie maklik om die dokter in Kaapstad te oortuig dat hy verkies om na sy eenheid terug te keer nie. Die dokter het net toegestem op voorwaarde dat Rudolf daagliks by die hospitaal in Bloemfontein aanmeld. James het ’n koevert met vyftig pond in sy hand gedruk en hom aangemoedig om so gou as moontlik te vertrek. Rudolf kon dit nie oor sy hart kry om hom te vertel dat dieselfde offisier wat hulle die vorige keer saam gesien het, hulle van die ingang af dophou nie.

Die treinrit na Bloemfontein het twee weke geduur weens die opeenhoping van treine op die enkele spoorlyn. ’n Groep stafoffisiere het met hom oor Engeland, die leër en krieket probeer praat. Hy het so min as moontlik gesê, terwyl hy op sy aksent let en op sy maniere konsentreer. Sy senuwees was op breekpunt toe die trein uiteindelik Bloemfontein binnestoom.

Snags het hy in die tenthospitaal geslaap en bedags in die geharwar van die oorvol dorp verdwyn. Hy het gou agtergekom dat Boere net toegelaat word om die dorp binne te kom of te verlaat as hulle in besit is van ’n dokument wat deur die militêre owerheid uitgereik word. Dit is onmoontlik om ’n perd te bekom, aangesien die leër alle beskikbare perde teen buitensporige pryse opgekoop het.

Sonder om Legend op te spoor, gaan hy terug na die hospitaal, bekaf en moeg. Watter enorme blydskap sal daar nie wees as hy en Legend by hul kamp inry nie.

Die volgende dag staan hy ure lank buite die Rooi Kruis-kantoor. Teen laatmiddag besluit hy om burgerklere te koop, ’n perd te steel en gedurende die nag te probeer vlug. Maar iets hou hom teë. Hy dwaal rond, nog steeds op soek, en beland by die dorpsplein. En daar is Legend by ’n maer, bebaarde man in burgerklere, met bruin hare wat tot op sy skouers hang. Maar geen vermomming kan die dierbare vorm van sy tweelingbroer vir hom verberg nie – daar waar hy staan met sy arm om die nek van sy geliefde perd.

Die ellende en alleenheid van die afgelope maande verdwyn soos mis voor die môreson. Hy wil uitroep, maar kan net na Karel en Legend staar. Hy staan nog versteen, toe Karel in die saal spring en wegry. Hy hardloop agter hulle aan en sien hulle by ’n systraat inswenk.

Hy hou sy oë op Legend tot sy in ’n stofwolk verder in die straat af verdwyn. Hy is uitasem en gedaan. Sy offisiersbaadjie en hoë stewels trek aandag in hierdie arm deel van die dorp – kinders speel in die straat, mans sit op stoepe en vroue melk koeie in hul agterplase.

Hy loop na ’n vrou wat haar hoenders vir die nag in ’n hok toemaak. “Did a rider on a black horse come past here in the last half hour or so?”

Sy kyk na hom met haar oë op skrefies. Hy herhaal die vraag op Afrikaans. Sy spoeg na hom. “Verraaier!”

Hy loop verder tot by ’n man wat oor sy tuinhekkie leun en hom dophou. Hy lig sy helm en herhaal die vraag. “O, ja,” sê die man. “Dit sal die een wees wat in Venter se skuur woon. Hy’s nie lekker nie, weet jy.” Hy wys na sy kop. “Hy is al weke daar. Sê nooit ’n woord nie.”

“Kan u vir my daarheen beduie?”

Die man doen dit, en Rudolf loop vinnig verder. Hy sien Legend water uit ’n trog drink in die hoek van ’n kampie. Karel staan gebukkend oor ’n emmer en gooi water oor sy gesig en kaal borskas. Terwyl hy kyk, druk Legend haar neus teen Karel en hy sit sy arm om haar nek. Hy wil na Karel roep, maar kry nie ’n woord uit nie. Deur ’n waas van trane sien hy hoe Karel vir Legend by die skuur inlei, terwyl hy ’n paar keer vinnig in sy rigting kyk.

KAREL SIEN die Engelse soldaat in die middel van die pad wat reguit na hom kyk. ’n Lang man; sy gesig verberg deur die rand van sy helm en die ondergaande son agter hom.

“Het hulle ons ontdek, Legend?” fluister hy. “Of is dit net nog ’n kavalleris wat jou by my wil koop?” Hy wag vir die soldaat om nader te kom, maar die man beweeg nie.

Hy tel sy hemp op en lei Legend by die skuur in. Hy loer deur ’n spleet in die houtmuur. Die soldaat is weg. Legend maak ’n dringende snorkgeluid, en dan hoor hy die geroeste hek kraak en stewels wat op die gruis knars. Hy druk Legend na die agterkant van die skuur en trek die mes uit sy gordel. Hy gaan staan agter die halfoop deur. Die voetstappe raak stil. Daar is ’n geluid asof die man keel skoonmaak. Sy spiere span, sy hand klem die mes vas, en hy wag.

Die deur gaan oop. Die soldaat staan daar; die helm swaai in sy een hand. Rudolf se gesig is net ’n paar duim van syne af.

“Jy leef, jy leef,” huil Karel en sy stem is verwring van emosie. “Ek het jou gekry, Rudi, ek het jou gekry. Ek was besig om my verstand te verloor, maar jy was altyd by my. Jy het my bly roep.”

Rudolf probeer praat, maar kry nie sy wilde snikke onder beheer nie. Sy bene gee in, en terwyl hy hom styf vashou, help Karel hom na die strooimatras in die hoek van die skuur.

“Ek was ernstig gewond en ’n lang tyd bewusteloos,” kry Rudolf uit en val op die matras neer. “Die pyn was erg, ondraaglik.”

“Ja, ek het dit ook gevoel.” Karel sluk swaar aan die trane. “Dit was ’n kopwond …”

Karel steek ’n vuur in ’n ou paraffienblik aan en sit ’n koffiepot op. Hulle sit styf teen mekaar op die strooimatras, met hul arms om mekaar se skouers. Legend druk haar kop tussen hul gesigte in. ’n Glimlag breek deur Rudolf se trane terwyl hy haar neus vryf. “Het jy weggeloop van die kommando? Hoekom kruip jy hier weg?”

Karel kyk na Rudolf se kakie-uniform. “Ek het na ’n oorloper kom soek en het hom vandag gekry,” sê hy half snikkend, half laggend. “Ek het hulle gesê jy leef! Legend, sien jy nou, ek het jou gesê. Jy was die enigste een wat my geglo het.”

“Is Lady —?”

“Fris en gesond! Ek het haar by Charles gelos.” Hy trek sy vinger oor die litteken teen Rudolf se slaap. “Ek het hom gesê ek sal jou terugbring.”

“Het hy jou geglo?”

“Ek weet nie. Hy het nooit so gesê nie.”

Toe hulle tot bedaring kom, vertel Rudolf vir Karel wat by die rivier gebeur het, hoe hy in die hospitaal wakker geword het, en van James en Victoria se bystand. Karel vertel hom hoe hy en Charles na generaal Methuen se kamp gegaan het om na hom te soek, en van die eensaam maande wat hy op sy eie verkenningswerk gedoen het. Hy gee hom die nuus van wat met hul pa gebeur het, van die beleg by Paardeberg en hoe Martin die kommando in die nag uitgelei het.

“Dit was ’n dapper ding wat hy gedoen het,” sê Karel. “Ek wou nie saam met hulle ry nie; ek het gedink hulle gaan geskiet word. Ek het aan jou gedink. Ek het Legend aan Jan afgestaan om na jou te kom soek. Ek het uit die kamp gekruip. Ek was baie na aan die vyand. Ek het een doodgemaak, Rudi, met hierdie mes. Ek was wild, Rudi, ek het hom gesteek en gelos om dood te gaan. Dit was maklik om met ’n mes dood te maak. En dit maak my bang.”

Dit is koud in die skuur. Karel drapeer sy vuil kombers om hul skouers. Hy haal die knipmes en Annecke se briefie, wat nou in ’n stukkie oliedoek toegedraai is, uit sy baadjie se binnesak. “Jy het haar swanger gemaak, Rudi. Sy moes met Martin trou; sy het nie ’n keuse gehad nie. Ek moes gegaan het om by haar te wees, maar ek onthou baie min van daardie tyd. Ek het my verstand verloor toe ek jou verloor het, Rudi. Jóú kind, Rudi, nie Martin s’n nie …”

RUDOLF GAAN LÊ op die strooimatras en staar in die blou vlamme van die steenkoolvuur. Karel sit sy arm om hom; sy lyf is warm en vertroostend – die vertroosting waarsonder hy nie kan leef nie. Hy kyk na die lyne om Karel se mond en sy diepgesonke oë en neem ’n besluit: Hulle het genoeg gely.

“Ek het iets onthou, Karel, iets wat ons vergeet het. Ons is gebore as een persoon met twee liggame, het tant Koba gesê. Ek glo dit nou. Niks en niemand mag tussen ons kom nie, selfs nie Annecke nie. Ons kan dit nie verander nie. Ek sien dit nou in.”

*  *  *

IN DIE WELVARENDE deel van Bloemfontein sit Peter saam met Stefanie in die sitkamer van ’n losieshuis. Hy dink hoe bevoorreg hy is om sy herstelverlof nie saam met sy fuifende vriende deur te bring nie, maar om deur die land te reis saam met die vrou wat hy bewonder.

Sy aanvanklike fassinasie het oorgegaan in dolle verliefdheid. Hy waag dit nie om veel verder te dink nie, want wat hy vir haar voel, mag hy nie fyner probeer ontleed nie. En dit is moeilik om Stefanie se gevoelens te peil. En tog, wanneer sy dink dat hy nie kyk nie, bemerk hy ’n verlange in haar blou oë.

Dit het vyf dae geneem van Kaapstad af tot in Port Elizabeth, maar Stefanie kon nie daarin slaag om ’n skip na Delagoabaai te vind nie. Twee weke later, toe die spoorlyn na die Vrystaat herstel is, kon hy vir hulle plek op ’n oorvol trein kry. Hulle het een aand laat in Bloemfontein aangekom en ’n fatsoenlike losieshuis gevind met ’n kamer vir Stefanie. Peter het geen probleem gehad om plek in die offisiersmenasie te kry nie.

Stefanie staar by die venster uit en frons. “Ek is so moeg van wag. Jou dapper generaal sit hier soos ’n broeihen op haar eiers in plaas van om die spoorlyn reg te maak. Daar moet ’n manier wees om hier weg te kom. Ek voel so … so vasgekeer!”

“Sal ons ’n ent gaan stap?”

“Dis nog erger in die strate. Die stof, die vlieë en die massas mense!” Sy tel die boek op wat sy op die tafel laat lê het.

“Wat lees jy?”

“Tant Susan het dit aangestuur.” Sy hou die boek in die lug dat hy die titel kan lees.

The Story of an African Farm … Is dit die moeite werd?”

“Ja, behalwe vir die simpel liefdesgeskiedenis. Stel jou voor om verlief te raak op ’n totale vreemdeling. Ek sou haar kon waarsku oor hoe dit gaan eindig.”

Hy kyk haar stip aan. Nog ’n glips van die tong. Sy praat selde oor haar man, en wanneer sy naam genoem word, is dit duidelik dat sy hom minag. Hy is op die punt om die koerant oop te vou, toe sy vra: “Was jy al ooit verlief, Peter? Is daar ’n meisie wat vir jou wag?”

“Die arme ding … as daar een was. Sy sou darem lank moes wag! Ek is op pad na die Pandjab sodra alles hier afgehandel is.” Hy sien hoe sy rooi word van ergernis terwyl sy die boek oopslaan. “En jy, Stefanie? Was jy al ooit verlief?”

“Om getroud te wees beteken nie noodwendig dat jy verlief is of was nie. Neem nou maar vir James en Victoria. Hy stel glad nie in haar belang nie. Hoekom het hy dan met haar getrou? En so skielik?”

“Seker maar ’n privaat aangeleentheid?” Sy oog val op die hoofopskrif toe hy die koerant oopvou. “Die ammunisiefabriek in Johannesburg is gister deur ’n ontploffing verwoes. Dit staan hier dat hulle sabotasie vermoed.”

Sy raak sigbaar bleek, klap haar boek toe en staan op. “Ek gaan uit.”

“Jy kan nie op jou eie uitgaan nie —”

“Ek kan vir myself sorg. Dis nie nodig dat jy my oppas nie.”

Hy hoor hoe sy na haar kamer gaan. ’n Rukkie later gaan die voordeur oop en weer toe. Hy tel die koerant op en glimlag. Sy sal gou terug wees en hom smeek om haar te vergesel. Dit het al voorheen gebeur.

Teen skemeraand stop ’n kar wat deur twee muile getrek word voor die deur, en Stefanie klim uit.

“Waar was jy?” vra hy. “Ek het die hele dorp deursoek, die land, die kontinent van Kaap tot Kaïro —”

“Ag, hou op om ’n bohaai te maak, Peter.” Sy haal ’n paar pakkies uit die kar. “Vat hierdie kontrapsie na die agterplaas. Gee hulle voer. Daar’s ’n baal gras.” Sy swiep by hom verby.

Nadat hy na die muile omgesien het, klop hy aan haar kamerdeur. “Kom in!” roep sy. Hy stoot die deur oop. Haar koffer is oop en die kamer lê bestrooi met rokke, rompe en bloeses. Sy is besig om onderklere in ’n sak te prop.

“Daardie muile gaan jou nie baie ver bring nie.”

“Ek gaan ry.” Sy gooi ’n wit bloes op die hoop op die vloer. “Ek het ’n reispas tot by Kroonstad. Daar sal ek die trein Pretoria toe haal. So eenvoudig soos dit.”

“Malligheid! Jy kan nie sonder ’n metgesel ry nie.”

“Dis net honderd myl. My voorvaders het duisende myle met ossewaens getrek, en hul vroue moes soms alleen klaarkom …”

“Maar daar is nou ’n oorlog aan die gang.”

“Dit was destyds nog erger. Barbare en wilde diere agter elke bos. Daar was geen paaie, geen treine, niks nie. As hulle dit kon doen, kan ek ook.”

“Luister, asseblief. Ek het gehoor generaal Roberts gaan volgende week met die opmars begin. Dis oor ’n paar dae. Jy sal gouer as wat jy dink op pad wees. Ek is verantwoordelik vir jou veiligheid. Ek sal nie toelaat dat jy —”

“Dan verlos ek jou nou van jou verantwoordelikheid.” Sy kies ’n paar hoë stewels uit die hoop op die vloer en sit dit langs die sak neer.

Hy gaan sit in ’n leunstoel naby die venster. “Is daar enigiets wat ek kan sê wat jou sal oortuig om nie so dwaas te wees nie?”

“Jy gaan volgende Vrydag terug Kaapstad toe en ek vertrek môre na Pretoria.” Sy maak haar hoededoos oop. “Ek bedank jou vir jou geselskap die afgelope maand. Ek het dit geniet, maar terwyl ek van dorp tot dorp fuif en gellings sjampanje saam met Britse offisiere drink, word dinge net al erger …” Sy byt op haar onderlip.

“Het die berig in die koerant jou ontstel?”

Sy hou haarself besig met die hoede. Twee beland op die hoop en een, ’n groen vilthoed, word langs die sak neergesit. “Waarom sou dit? Geen ammunisie, geen oorlog. Ek wil by die huis uitkom. Is dit vir jou so vreemd?”

Hy tel die groen hoed op en draai dit in sy hande rond. “Jy kan nie hierdie belaglike hoed saamvat nie …”

“Wat’s so belaglik aan hierdie hoed?” Sy gryp dit en sit dit buite sy bereik bo-op die hangkas.

“Dis ’n mooi dingetjie, maar dit bied geen beskerming teen die son nie,” sê hy, maar sy trek net haar skouers op. “Stefanie, hoe dink jy gaan jy op jou eie reis? Jy kan nie van my verwag om saam te gaan nie.”

Sy prop die uitgegooide klere in die koffer terug. “Nee, ek verwag dit nie. ’n Britse offisier wat deur vyandelike linies ry? Jy sal in Kroonstad vasgekeer wees. Behalwe as lord Roberts jou inhaal.”

Hy kyk haar skerp aan, maar sy ontwyk sy oë. Sy het alles mooi beplan. Hy moet vir lord Roberts wag! ’n Krygsraad sal vir hom wag, nie lord Roberts nie. Hy is op die punt om te protesteer, maar hou homself in. Honderd myl – vier, vyf dae? As hy haar veilig op die trein by Kroonstad besorg het, kan hy hom skaars hou tot die voorste troepe die dorp bereik het. Of hy kan op sy eie terugkom. Tien dae op die meeste.

Die klere waarin sy wil reis, lê op die bed. ’n Onvleiende bruin rok – glad nie haar styl nie. Sy sal soos ’n plattelandse vrou daarin lyk. Sy sal tussen haar mense wees, sy praat hulle taal; sy sal hulle kan deurkry. Hy neem ’n besluit. Die risiko alleen is reeds aanloklik, en saam met haar sal dit opwindend wees. Hy sal maar net ’n later trein Kaapstad toe moet haal. So eenvoudig is dit. Maar hy mag nie alte maklik toegee nie. Laat haar nog ’n bietjie wroeg!

“Nou goed dan, as daar niks is wat ek kan doen om jou van plan te laat verander nie …” Hy staan op. “Skryf vir my as jy daar aankom.”

Hy maak die deur agter hom toe en kan skaars sy lag bedwing toe hy haar uitroep van frustrasie hoor. Hy bly staan ’n paar minute voor hy weer ingaan. “Ek het gereël dat ek lord Roberts in Kroonstad sal ontmoet, maar ek weet nie hoe om daar te kom nie.”

Verligting straal uit haar gesig, maar dit word vinnig vervang deur ’n hooghartige blik. “U mag my koets deel, luitenant.” Sy haal ’n klompie dokumente uit. “Ons pas: meneer en mevrou Smith wat na Wilgenhof reis, hul kleinhoewe dertig myl noordwaarts. Jy sal ’n ruk lank my eggenoot moet wees … Ek bedoel voorgee om my man te wees. Dit sal net ’n nuwe speletjie wees wat ons speel.” Sy gee vir hom ’n stapel klere en haal ’n slaprandhoed onder die bed uit. “Sodra ons buite die dorp is, moet jy dit aantrek. Dan sal jy minder opval.”

Hy kyk na die growwe baadjie, koordfluweelbroek, kraaglose hemp en onderbaadjie. “Jy wil hê ek moet ’n Boer wees? Dit sal natuurlik nie werk nie. Ek kan nie ’n woord van julle taal praat nie.”

“Nie ’n Boer wees nie, maar lyk soos een. Daar is ’n klompie Engelse mense wat hier rond woon, weet jy? En in Transvaal ook. Dit sal die beste wees as jy die praatwerk aan my oorlaat. Jou aksent … dis iets verskrikliks.”

“’n Nuwe speletjie? Jy hou daarvan om speletjies te speel, nè? Jy het die hele tyd geweet ek sal saamkom.”

Sy loop na hom en plant ’n soen op sy wang. “Ek het nie vir een oomblik daaraan getwyfel nie. Dankie, Peter. Dit sal pret wees. Laat my die praatwerk doen; maak of jy dom of … stom is.” Sy kyk na die litteken wat teen sy ken afloop tot in die hoë kraag van sy uniformbaadjie. “Daardie litteken … strek die hele ent tot by jou keel?”

“Ja, dit loop ’n ent ondertoe … maar ek is baie sleg met voorgee —”

“Wys my. Asseblief laat my dit sien.”

Hy maak sy kraag los en trek dit eenkant toe. Dit lyk of sy gemesmeriseer is deur die litteken. Sy laat gly haar vingers daaroor, van sy ken af tot waar dit in sy borshare verdwyn. Hulle oë ontmoet. Hare is uitdagend; syne bestudeer haar gesig noukeurig.

“Waar gaan ons die nagte deurbring?” vra hy in ’n fluisterstem.

“Ons … ons sal onder die sterre moet slaap.”

“Onder die sterre? Ja, die perfekte plek —” hy onderbreek homself, gefassineer deur die mag wat sy oor hom het. Hy neem haar ken in sy hand en druk sy lippe saggies teen hare, terwyl hy vir haar wag om die inisiatief te neem. Maar sy gee ’n tree terug en sit haar vingers op haar lippe.

“Peter, ons gaan die onbekende inry. Sal ons dit vir eers hierby laat? Is dit nie genoeg nie? Terwyl ons nie weet wat voorlê nie?”

“Vir eers, ja.” Hy is verward. Sy doen dinge nooit halfhartig nie en tog is daar iets wat haar keer, ondanks die begeerte wat hy in haar oë sien. “Sê my, as ons in die moeilikheid beland, sal jy my identiteit verklap?”

“Waarom sal ek? My mense sal my nie vergewe as ek met die Britse offisier rondflenter nie. Ek sal ’n uitgestotene wees, of erger – as ’n verraaier geskiet word.”