Die nag toe alles verander het

April 1901

SES DUISEND MYL WEG het koningin Victoria gesterf. ’n Week lank is Kerkplein gedrapeer in swart, en die Union Jack hang halfmas. Koba vee met ’n wit sakdoek die trane van haar gesig af en luister saam met die skares en troepe na die militêre orkeste wat somber marse speel.

En dit is James se ses en twintigste verjaardag. Toe die stad weer normaliteit bereik, vra Koba Bontes om die boktafel en rottangstoele na die wilgers aan die verste ent van die tuin te dra. Dit is tyd om James se vriende te nooi, het sy besluit. Dit sal die agterdog teen Stefanie besweer, en sy wil die jong lord, Peter, sien. Sy wil hom in die oë kyk. Twee keer die afgelope week, klokslag middernag, het sy ’n wit nagrok na die boord sien sluip. Stefanie is verlief, maar sy is ook wys genoeg om Koba se waarskuwing ter harte te neem dat dit nie ’n geleë tyd is om by ’n man te lê nie. Maar daar is ’n oorlog aan die gang. God het ’n dringende behoefte by mans ingeplant om dié wat gesneuwel het te vervang – ’n behoefte wat nie teenstand duld nie. Soos oorlog en die natuur het vroue ook hul seisoene.

Victoria is geneig om te pieker, verdiep in die foto van Martin teen die muur wanneer sy dink dat niemand haar sien nie. Dit is nie liefde nie. Daar is begeerte in haar groen oë, ’n obsessie. En tog is sy nie bewus van die liefde wat so naby aan haar is nie – die liefde wat so versigtig en vernuftig deur haar eggenoot weggesteek word. Maar soos die oorlog sal die liefde en wellus hul gang gaan. Sy kan maar net die liefde in die regte rigting probeer stuur.

Sy trek haar duifgrys rok aan en sit haar dorpshoed op. Sy help Stefanie en Victoria om die feesmaal wat sy voorberei het na die wilgers aan te dra, toe James en sy medeoffisiere met wyn en sjampanje arriveer.

“’n Bottel soetwyn spesiaal vir jou, tant Koba!” James gee haar ’n klapsoen op die wang.

“Net twee klein glasies per dag, hartjie,” herinner sy hom.

Sy gee haar volle aandag toe James die ander aan haar voorstel. Norman Butcher, sy saggeaarde kolonel, Murray Shaw, William Moore, John Miles, Neil Smithers en Peter.

“Ek onthou jou gesig goed, jong man,” sê sy terwyl sy in Peter se lewendige bruin oë kyk. “’n Engelgesig, het ek jare gelede vir James gesê.”

James en Stefanie bars uit van die lag, en die ander offisiere maak dubbelsinnige opmerkings. Maar Peter glimlag breed en aanvaar haar ondersoekende blik openlik en opreg.

“Komende van u, mevrou Van Wyk, aanvaar ek dit as ’n kompliment,” sê hy en soen haar hand.

“Noem my tant Koba, hartjie. Almal maak so!”

Dit is ’n pragtige somersdag. Die bedwelmende geur van haar blomtuin meng met die sorgvrye stemme van die jong mense, terwyl hulle grappies maak, lag, eet en drink. Sy skuif haar stoel ’n entjie weg van hulle en dommel in, maar hou hulle deur halftoe oë dop. Hulle aksente klink ’n bietjie vreemd op haar oor, maar sy verstaan die meeste van wat hulle sê – as dit nie weens die woorde is nie, dan wel weens die uitdrukkings op hul gesigte.

Dit is vir Stefanie moeilik om haar oë van Peter af te hou; hy lê uitgestrek langs James op die gras. En Peter grinnik skelm as sy oë na die middelste wilger dwaal. James lag te luidrugtig en drink dorstig – daar is weer ’n donker bui in hom aan die opbou. Die groot Shaw is die vermaaklikste. Hy vleg die slap wilgertakke en sê hy oorweeg om dit as ’n sweep op ’n kêrel met die naam Hunter te gebruik. Dit het iets te doen met dobbel, brandewyn en wraaklus. Die ander dink dit is snaaks, selfs die liewe kolonel wat nou ontspan nadat hy ’n paar glase sjampanje en ’n paar goeie porsies van haar bobotie gehad het. Die jongeres, Miles en Smithers, is besig om ’n ereboog met leë sjampanjebottels te bou, maar Peter ruïneer hul pogings deur proppe na die bottels te gooi.

Vicky is geïnteresseer in die patroon op die blou porseleinborde en vertel die treurige verhaal vir die donkerkop Moore. Die ander gesels saam en gee hul opinie, sommige nogal sappig, waarom die minnaars gedoem was om mekaar lief te hê as twee verstrengelde wit duiwe.

“Watse onsin,” lag James. Maar daar is seerkry in sy oë. “Om ’n ewigheid lank te bly soen! Sal ons dit maar aan hulle oorlaat?”

Koba sien die liefdevolle kyk wat tussen Peter en Stefanie gewissel word. Sy staan op en waggel kombuis toe om die koffie te gaan haal. Toe sy Peter gegroet en in sy oë gekyk het, het sy geen hooghartigheid of skuldgevoel gesien nie. Sy liefde is suiwer en eerlik en mooi. Haar wit duifie het ’n perfekte maat gevind.

Sy vroetel na haar sakdoek. Martin en Stefanie, broer en suster, so ywerig op soek na perfeksie, is desondanks besig om vergeefs hul hartstogte uit te leef. Maar hulle kan nie en wil nie daarvan afsien nie. Dit is nie binne hul mag nie. Hul lojaliteite is gedoem om tussen twee wêrelde vasgevang te bly.

Dit lê in hul gemengde bloed: Boer en Brit.

*  *  *

“VERLEDE WEEK was dit die kanonniers. ’n Week tevore die sappeurs,” sê Stefanie, “en nou is dit die kavalleriste. Hy kan nie almal gelyk nooi nie.” Sy en James is in Koba se sitkamer, in hul formele aandklere. Sy kyk deur ’n stapel bladmusiek, en James is besig om haar te treiter om met ’n oortuigende rede vorendag te kom vir die aand se uitnodiging.

“Maar hoekom ’n Dinsdagaand? As dit ’n Saterdagaand of selfs ’n Sondagmiddagete was, sou ’n mens kon instem, maar vanaand? Ons vertrek môreoggend.” James maak sy sjerrieglas leeg. “En hoekom met volle gala-uniform —”

“Ag, hou tog nou op neul, Jamie! Generaal Kitchener is ’n besige man. Ek neem aan dis die enigste aand wat hy beskikbaar het.”

“My liewe niggie, daardie man stel nie belang in beskaafde ontspanning nie! Oorlog, ja, maar —”

“En om mense se huise af te brand,” sê Victoria toe sy by die kamer inkom.

Stefanie kyk vinnig op. Sy wil nie hê James en Victoria moet weer oor die oorlog rusie maak nie. “O ja, James, hy stel belang in musiek,” sê sy gou.

“Ja, hartjie,” sê Koba van die kombuisdeur af terwyl sy haar hande aan haar voorskoot afvee, “hy moet af en toe agteroorsit. Ek het vir Stefanie gesê sy moet liedjies vir hom speel wat hy kan saamneurie. Nie daardie stukke waaroor ’n mens moet nadink nie.”

“Fantasties! Kitchener van Kartoem wat agteroor sit en ‘Greensleeves’ neurie? Speel vir hom ‘The Wild Colonial Boy’. Dalk kry die ou draak dan trane in sy oë.”

“Jamie! Jy’s onmoontlik!” Sy klap hom op sy knie. “Ek sal nooit so iets doen nie.”

Sy gee weer aandag aan haar bladmusiek. Kitchener se staf het haar vanmiddag eers ingelig dat hy ’n paar generaals uit Londen en Kaapstad in die Pretoria Club onthaal. Sy is senuweeagtig. Dit was onlangs donkermaan, en McFee en die tweeling het ingeluister op Melrose House se telefoonlyn. Sy het vir hulle koerantberigte uit Europa gegee oor die konsentrasiekampe. Sy gebruik die sensorstempel wat sy uit majoor Fernfield se kantoor gesteel het om briewe in Johannesburg te pos en te ontvang wanneer sy daar uitvoerings gee.

En elke keer as sy in Peter se oë kyk, dreig die skuldgevoel om haar te oorweldig. Die afgelope twee maande het hulle dikwels onder die wilgers ontmoet. Hulle praat nie meer oor die oorlog nie, maar bevind hulself ver buite die grense waartoe die oorlog hul liefde beperk het. Die onmoontlike posisie waarin dit hulle plaas, word stilswyend erken en skynbaar aanvaar, maar nie diep in hul harte nie.

“James, waarheen vertrek julle môre?” vra Victoria.

“Ons gaan noordwaarts en moet konvooie beskerm, nie aan gevegte deelneem nie. Ek sien nogal daarna uit. Om deur die Bosveld te ry en takhare en olifante te jag is verkiesliker as om Kitchener se telegraafkantoor op te pas.”

“Ek kan glad nie verstaan hoe jy weer aktiewe diens kan doen nie —”

“Kry end, Victoria!” bars James uit.

“Asseblief, Vicky,” sê Stefanie, “dis vir ons almal swaar.”

“Toe, toe, hartjies,” kom Koba tussenbeide. “Ons gaan nie oor die oorlog stry nie. Kom, Vicky, dat ek jou hare behoorlik kan vasmaak. Gaan haal jou borsels; daar’s nog genoeg tyd.”

Victoria gaan na haar kamer en kom terug met haar borsels en ’n boksie met haarnaalde. Stefanie kyk hoedat Koba die rooi hare liefdevol borsel. Victoria is heeltemal deur Koba betower. Hulle gaan saam inkopies doen; hulle ry met die kapkar stad toe en dra dan hul mandjies na Kerkplein. Victoria besoek nou ook die gewondes in die hospitaal, soos wat Koba elke dag doen.

“Goed, ek sal net ’n paar kort stukke speel vanaand. Maar ek weier om weer daardie vreeslike lady Bridgeland te begelei. Hoekom sy daarop aandring om voor ’n gehoor te sing, gaan my verstand te bowe.” Stefanie soen Koba op die wang en ignoreer met ’n swiep van haar blou satynrok James se miaaugeluide.

DIT IS ’N DEFTIGE geleentheid, besef Stefanie toe hulle die Pretoria Club se voorportaal binnegaan. Almal het hul gala-uniforms aan en daar is massas generaals en senior offisiere.

Peter ontmoet hulle by die deur. “Kyk net! Die ou kêrel wil ons regtig bederf vanaand. Is dit dalk sy verjaardag?”

“Ek het geen idee nie, Radford,” antwoord James terwyl hulle hulself aan glase sjerrie help. “Niggie, kan jy die ou verjaardagliedjie uittokkel as hy sy verskyning maak? Ons sal dan kan sien of dit so is.”

“A, fantasties!” reageer Peter entoesiasties. “Jy sing en Stefanie laat die klavier tinkel.”

“Wat ’n pragtige familiebyeenkoms,” sê George Hunter agter Stefanie. “Goeienaand, mevrou Warren.” Sy oë is hooghartig, met ’n sweem van ’n glimlag onder sy snor. “Weer terug in die saal, Radford, Henderson?”

“Ja, majoor, môre. En ons sien daarna uit,” sê Peter.

“En watter nuus is daar van jou familie, mevrou Warren?”

Stefanie sien James wil beswaar maak, maar sy weet dit sal gevaarlik wees. “O, majoor Hunter, ek het net verlede week nog ’n brief van hulle gehad,” antwoord sy. “Ons beste teelkoei het verlede maand ’n tweeling gehad. Die somerreëns is goed, en Ma sit al weer sonder suiker. Oorlogstekorte. Het u dalk vir haar ’n ekstra sak suiker, majoor Hunter?”

Hunter gee haar ’n deurdringende kyk en loop weg.

“Goed gedoen, niggie!” sê James en bars uit van die lag.

“Wat anders kon ek sê? Ek kry nie enige briewe van die huis af nie.”

“James, liefling,” sê Victoria en vat sy arm, “neem my asseblief na ’n stoel naby aan die klavier. As ek dan moet wag vir iets om te gebeur, wil ek ten minste nie rondstaan nie.”

Alleen gelaat, kyk Stefanie en Peter na mekaar.

“Ek vertrek môre, my lief,” sê hy terwyl hy oor haar skouer kyk. “As ek terugkom, sal die wilgers sonder blare wees en die nagte koud.”

“Sal ons dan die stalle uitprobeer? Ons het al voorheen op strooi geslaap.” Sy knik vir kolonel Butcher.

Peter wuif toe Shaw verbykom. “Ek onthou een nag baie helder. Onder ’n muilkar in die middel van die winter. Jy het my probeer verlei.”

“Nou weet ek presies hoe om dit te doen. Wil jy hoor?” Sy glimlag vir majoor Fernfield.

“Wat verhoed ons om weg te loop? Ver weg, tot aan die eindes van die aarde, waar niemand ons kan opspoor nie.”

“Ons kan nie verder as die wilgers gaan nie. Jy weet dit.”

“Jammer, ek wou nog altyd so graag met ’n vrou weggeloop het. Kom ons loop weg na die wilgers, my lief. Sal ons? Middernag?”

Sy knik. “Neem my na die klavier. Ons word aangestaar.”

Sy sit haar hand op sy arm, en hy lei haar tussen die gaste deur. Sy gaan sit voor die klavier en glimlag vir majoor Fernfield wat gereed staan om die bladmusiek vir haar om te blaai. James en Peter gaan soek iets sterker as sjerrie.

Sy kyk oor haar skouer en sien generaal Kitchener binnekom, gevolg deur vier stafoffisiere. Hy raak aan die gesels met die groep wat naaste aan die deur staan. Sy draai terug na haar bladmusiek en sien nie die deur weer oopgaan nie. Sy is net bewus van ’n skielike stilte wat deur ’n aankondiging gevolg word.

“Dames en Here, ek is vereerd om generaal Kitchener se gas vir die aand te verwelkom. Generaal Martin de Winter, die Boerebevelvoerder van die suidwestelike Transvaal.”

Martin se hare is sonverbleik en sy gesig omraam deur ’n kortgeknipte goudbruin baard. Sy koordfluweelbaadjie en -broek, wit hemp, gewone das en hoë rystewels lyk onvanpas tussen al die uniforms, maar dit is sy oë wat die aandag trek. Hulle is wakker – die oë van ’n jagter wat daaraan gewoond is om die veld te bespied vir die geringste beweging. Hy is skaars dertig, maar het nie die tipiese arrogansie van ’n jeugdige leier nie. En dit is duidelik dat hy in hierdie vertrek, omring deur sy teenstanders, steeds in beheer is.

HY IS OP PAD na die konferensie in Middelburg, oos van Pretoria. Hy het daardie middag per trein aangekom en het verwag om dadelik verder te reis, soos wat dit gereël is, maar hy is deur tien wagte in ’n toe koets na Melrose House begelei, waar Kitchener vir hom gewag het. Ná enkele versigtig geformuleerde opmerkings oor die konferensie, het Kitchener hom uitgenooi om die aandete met ’n paar generaals by te woon. Hy het geweier omdat hy nie geskikte klere saamgebring het nie. Kitchener het hom verseker dat sy omstandighede in ag geneem sal word.

En noudat hy hier soos ’n besienswaardigheid uitgestal word, besef hy wat Kitchener se beweegrede was – hy wou hom ontsenu, hom in ’n onbenydenswaardige posisie plaas. Miskien wou hy hom kwaad maak deur hom van aangesig tot aangesig te bring met die mense wat besig is om sy land te verwoes. Hy glimlag; sy stryd is nie teen individue nie.

Hy sien James en Peter langs ’n potplant staan. Hy sien ook Hunter, Shaw, Moore en ander bekende gesigte van Londen. Kitchener kom na hom toe en stel hom aan die talle generaals voor. Die vertrek begin zoem van ’n opgewonde gefluister. Hy gee aandag aan elkeen wat aan hom voorgestel word en beantwoord hul vrae oor sy tyd in Cambridge, terwyl hy heeltemal op sy gemak rondbeweeg. Hy groet Shaw en Moore en kom uiteindelik by James en Peter uit.

“Neef James.” Hy omhels hom. “Het jy heeltemal herstel? Dit is goed om jou weer te sien.”

“Ek is stomverbaas! Wat maak jy hier?”

“Kom ons sê ek bring ’n besoek.” Martin vat Peter se uitgesteekte hand.

“Generaal De Winter!” Peter skud sy hand lank en ferm.

“Geluk met julle VC’s. Jan Viljoen het ’n keer gesê jou bors gaan klingel van die medaljes nog voor jy ’n generaal word, James.”

“Hoe gaan dit met Jan? En die tweeling? Leef Legend en Lady nog?”

“Lady is doodgeskiet en Rudolf amper ook. Karel was in vreeslike toestand terwyl Rudolf weg was! Maar hy het herstel. En Legend doen haar naam gestand … O, ek is verskriklik jammer oor Mark Sinclair.”

“Wat het gebeur?” vra James.

“’n Maagwond. Rudolf het ure ná die geveg op hom afgekom. Ek het hom op Wintersrust begrawe … en …” Hy praat sagter: “Voor hy dood is, het hy glo gesê: ‘Waarsku James, Hunter, hospitaal.’ Is jy nog steeds in ’n vete met Hunter gewikkel, neef?”

James lyk ontsteld, maar hy ruk hom byna onmiddellik weer reg. “En Charles beleef seker ’n interessante tyd?”

“O, ja, my manne weier om te veg as die Engelse dokter nie naby is nie …” Martin sien ’n vrou na hom toe aankom en hy draai half van hulle weg.

Daar daal ’n stilte in die vertrek neer toe sy suster voor hom kom staan. O hemel, Stef, dis ’n toets wat ons nie mag faal nie. Sy lyk op haar gemak, maar in haar oë sien hy die vrees.

“Goeienaand, Martin.”

“Stefanie.” Hy raak met sy lippe aan haar wang en gaan staan met sy hande agter sy rug.

“Hoe gaan dit by die huis?” vra sy, dalk net ’n bietjie te hard.

“Dit gaan goed. Die huis is wonderbaarlik genoeg nog daar.” Hy let op dat sommige van die omstanders wegkyk. “Hoe gaan dit met tant Koba?”

“Goed … goed. Hoe gaan dit met jou seun?”

“Hy’s … gesond. Word vinnig groot.”

Hulle staan in ’n ongemaklike stilte totdat ’n kaptein, wat deur Kitchener gestuur is, Martin na die buffet-tafel uitnooi. Terwyl hy vir hom inskep, kyk hy die gaste deur. As Stefanie hier is, is dit dalk net moontlik …

Sy staan by die klavier. Die jare van skeiding val weg en alles om hom vervaag. Hy loop deur die stampvol vertrek. Hy kan nie aan haar raak nie; hy kan net kyk, en hy sien dat geen woorde of selfs die hartstogtelikste omhelsing die liefde sou kon oordra wat so duidelik in haar oë wys nie. Uiterlik is hy kalm, maar innerlik voel hy ontman, weerloos. Ek het die mag oor ’n duisend manskappe, maar hier staan ek kwesbaar voor die mag van een vrou.

“Ek wil jou baie graag weer sien, Vicky,” sê hy uit sy hart, voor hy homself kan keer.

“Die oorlog gaan nog lank duur. Waar sal ek jou ontmoet?”

“Ek weet nie, maar gee my tyd … Ek sal jou laat haal. Sal jy kom?”

Sy knik. Hulle staar nog na mekaar toe James en Peter by hulle aansluit.

“Ek het vir jou ’n uitstekende brandewyn gebring.” Peter hou vir hom ’n glas uit.

Skielik voel Martin moeg en hartseer. Hy wil wegkom van Victoria se ontstellende nabyheid en van die vrees in Stefanie se oë. “Nee dankie, Peter, ek moet helder bly. Dit was goed om julle almal so onverwags te sien.” Hy knik vir Victoria en beweeg na die ander kant van die vertrek waar Kitchener is.

JAMES HOU MARTIN dop terwyl hy wegstap. Victoria se woorde daardie dag toe hulle besluit het om te trou, tref hom tussen die oë. Ek was eenkeer lief vir iemand, maar ek was buite sy bereik. Hulle oë ontmoet en hare probeer dit nie ontken nie.

KITCHENER GLIMLAG. Sy strik het gewerk. Hy het hulle dopgehou toe mevrou Warren haar broer ontmoet, en hy is nie mislei nie.

EN PETER IS ewe min mislei. Daar sal nie meer nagte onder die wilgers wees nie. Van nou af sal hy Stefanie moet vermy. Hul lewens hang daarvan af.