Dwalend

April 1902

’N PAAR BLARE van die treurwilg by die vlei het al klaar vergeel en dit skep ’n kleurvolle patroon terwyl die takke in die ligte bries beweeg. Die geelvinke hang aan hul geweefde neste en protesteer luidkeels oor die teenwoordigheid van die man onder die boom. Wilde-eende gly oor die water, en ’n reier staan ’n ent weg, besig om paddas te vang met spiesbewegings van sy lang nek.

Rudolf bestaan in sy eie wildernis, ver weg van die oorlog. Hy sal nie weer vrede vind nie. Die skoonheid het saam met Legend gesterf. Liefde is ’n emosie wat saam met Karel begrawe is.

Hier onder die wilger het hy kosbare tye saam met Annecke beleef. Hy het na Karel geluister, wat wou hê dat hy gelukkig moet wees en liefhê. Hy en Karel het tot in die diepste van hul siele gely toe hulle vier maande lank geskei was. Maar Annecke het vir hom gewag. Wat God verenig het, mag geen mens skei nie, het Koba baie jare gelede gesê. Haar baba, sy seun, het die hoogste prys betaal. En toe is Legend dood. En Karel ook.

Hy het in die donker oor Karel en Legend gestruikel. Maar eers toe die oggendlig deur die blare van die doringbome begin skyn, het Karel gesterf. Nie met ’n rilling nie, maar met ’n sagte sug. Hy het in Karel se oë gekyk en die oomblik van sy dood gesien.

Maar Karel het hom nie verlaat nie. Die band tussen hulle het hom na ’n plek geneem waar hy hom weer sal vind, waar Karel sal wag sodat hulle saam kan oud word. Hy het sy oë toegemaak en gevoel hoe hy weggeneem word uit hierdie lewe en die oorlog, weg van Annecke en alles wat hulle kan skei. Die dood bestaan nie. Hulle is steeds bymekaar.

En nou wag hy op genade. Die sirkel sal voltooi word op daardie punt waar God is, waar Karel vir hom wag. God sal hom die dood gun. Hy sal weer saam met Karel oor die uitgestrekte vlaktes noordwaarts ry. Karel het maar net vooruitgery.

Die roep van ’n naguil klink in sy veraf wêreld op. Naguile roep nie in die dag nie. McFee kom hom haal. Hy vat die spieëlskerf wat hy in Wintersrust se ruïne opgetel het en kyk in die oë van sy tweelingbroer; hy verseker hom dat hy gou by hom sal wees.

*  *  *

JAMES BRING sy perd tot stilstand toe daar nog ’n geruïneerde plaashuis in sig kom. Terwyl hy na die jammerlike oorblyfsels kyk, draai sy maag toe hy aan die dag dink dat hy Wintersrust en Soetvlei afgebrand het. Maar dié gevoel duur net ’n oomblik. Hy het begin aanvaar dat dit die oorlog se skuld is. En die oorlog is so te sê verby. Die leërmag wat onkeerbaar uit die suide na De la Rey en De Winter in aantog is, sal die kommando’s op hul knieë dwing.

Nee, nie op hul knieë nie, dink hy, hulle is reeds op hul knieë. Generaal Botha se kommando’s in die ooste is deur ’n soortgelyke opmars uiteengejaag. Nou, nie in staat om te hergroepeer nie, is hulle nutteloos as ’n gevegsmag. Hy het met ’n paar Boeregevangenes gepraat voor hy uit Pretoria vertrek het, en hulle het openlik erken dat die oorlog ’n verlore saak is. In die Vrystaat val die uitgeputte kommando’s van generaal De Wet slegs aan as hulle desperaat is vir ammunisie. Maar hier in die noordweste is die oorlog nog nie verby nie.

Die 2nd Hussars begelei ’n konvooi na Rustenburg en laai voorraad langs die pad af vir die blokhuise – sinkplaatstrukture wat verlate in die halfwoestyn staan, met die telegraaflyn as enigste verbinding met die buitewêreld. Dit is vervelige werk. Hulle het nog nie ’n kommando gesien nie, slegs eensame ruiters in die verte – waarskynlik verkenners.

James kyk hoe die konvooi moeisaam verbykom. Dit is reeds middel-April, maar die dae is nog warm. Die sweet slaan op sy voorkop uit; sy helm en sy hoë kraag voel te styf. Hy trek sy oë op skrefies teen die flikkering van die sinkplate wat hoog gestapel op sommige waens lê.

Sersant Adams ry nader en salueer. “Kolonel Butcher sê ons moet stop vir die nag, kaptein. Daar’s water in die put agter die huis … die plek, kaptein.”

“Die ruïne, sersant. Kry ’n uitspanplek, steek vure aan en laai die meubels af,” beveel hy soos wat hy elke aand die afgelope weke gedoen het.

Hulle het ’n ordentlike tafel en stoele in ’n verlate plaashuis gekry. Elke aand eet die offisiere informeel aan dié tafel, terwyl hulle na die sonsondergang kyk, en later na die skitterende naghemel. Hulle praat oor die veldslae waaraan hulle deelgeneem het en bespiegel, met die einde van die oorlog in sig, oor toekomstige plasings. Kolonel Butcher het uitgewys hoe baie die omgewing na Indië lyk – die verknotte bome, stowwerige struike, skaarste aan water en die oop ruimtes.

James leef in ’n vreemde halfwêreld. Hy weet nie wat die noodlot vir hom inhou nie, maar hy het homself oortuig dat hy dit, die dag as dit toeslaan, met waardigheid in die gesig sal staar, soos wat Stefanie gedoen het. Haar moed, Peter se vermoë om emosionele krisisse te hanteer en Koba se liefde het hom geleer om sy lot te aanvaar. Maar hy durf nie hoop nie. Dit het hom ’n lang tyd geneem om Victoria te vergewe, maar daar is die moontlikheid dat hy voor ’n krygsraad gedaag sal word. Die aantygings wat Hunter teen hom gemaak het, gaan nie verdwyn nie, al neem dit lank om bewyse te vind.

Peter kom aangegalop en dwing sy gedagtes terug na die hier en nou. Peter se uniformbaadjie is losgeknoop en sy sam browne hang los om sy bolyf. Hy het kolonel Butcher ingelig oor sy voorneme om uit die leër te bedank wanneer die oorlog verby is. En nou voer hy sy pligte meganies uit, terwyl hy bid vir die einde van die oorlog. Hy het vir sy familie geskryf oor Stefanie se penarie en die kind wat sy verwag, maar sy pa kan baie min doen terwyl die oorlog voortduur.

“Vanaand gaan ons die laaste partytjie hê in die kolonel se vreedsame Indië.” Peter klim af en roep ’n soldaat om hul perde te gaan water gee.

James gee hom ’n moeë kyk en trek sy handskoene uit. “Hoekom die laaste, Radford?”

“Kom, Henderson, rek jou bene ’n bietjie en jy sal sien. Daar’s ’n uitsig om te aanskou.” Hy beduie na waar die ander offisiere op ’n bultjie ’n paar honderd treë van hulle af staan. “Ons is klaar met konvooie oppas, en daar oorkant is die rede.”

Hulle sluit by die ander offisiere aan. In die verte verander ’n stofwolk, wat myle ver uitstrek, die dalende son in ’n vuurbal.

“Generaal Hamilton se magte in aantog,” sê Butcher. “Vyftien duisend man. ’n Tekort aan kavallerie, mor hy. Ons sal gou aan sy versoek voldoen, menere.”

*  *  *

DIT IS NOGAL vreemd dat die blomme oorvloediger is, noudat hulle nie aandag kry nie, mymer Annecke terwyl sy in Wintersrust se begraafplaas staan. Sy het die blomme daardie oggend in die verwaarloosde tuin gepluk en op twee grafte geplaas.

Soveel mense in haar klein wêreldjie is dood, maar hulle rus nou in vrede. Haar broer, haar ma en pa, haar baba, tant Mary en oom Marthinus – almal ver hiervandaan begrawe. Maar Karel is hier. En die vriendelike Engelsman, Martin se vriend wat oor haar seuntjie se hare gestreel het. Hy lê in die naaste hoek van die begraafplaas. Sy kyk na die metaalkruis wat uit Pretoria gestuur is. Dit is so geroes dat sy nie die naam kan lees nie. Sy besluit op die rooi angeliere vir sy graf. Die Engelse hou van rooi, het Charles gesê. En veldblomme vir Karel. Hy sal nie van deftige blomme hou nie.

Rudi is nou so ongenaakbaar soos wat Karel was. Hy blaai voortdurend in haar Bybel, al mompelend, terwyl hy tekste van buite leer. Hy terg haar nie meer nie, hy fluister nie meer liefdeswoorde in haar oor en soen haar nie. Snags huil hy soos ’n baba terwyl hy Karel se naam fluister asof hy na hom soek. Charles sê dit gaan ’n lang tyd neem voor hy Karel se dood sal aanvaar; hulle moet geduldig wees.

Sy sug en tel haar mandjie op. Dit is ’n ver ent terug grot toe en sy moet nog eiers en groente kry, as daar enigiets oorgebly het. Die Engelse kon die eiers gevat het, maar hulle sou nie sommer die groente opgespoor het nie. Anita het die saad in die geil grond agter die verlate kraal geplant. Die Engelse kom dikwels hier verby, vasberade om Martin en oom Koos se kommando’s uit te wis. Binnekort gaan die hele Britse leër agter hulle aan wees. ’n Enorme mag, het Charles vertel, beweeg vanuit die suide en vee die aarde skoon soos ’n groot besem. “All the King’s horses and all the King’s men”, het Charles vir sy baba gesing.

Sy wonder of Charles al die grot verlaat het om weer by die kommando aan te sluit. Dit is moeilik vir hom om te gaan, noudat Anita aan die baba geboorte geskenk het. Mary, ’n pragtige dogtertjie. Wanneer sy sien hoe Anita haar voed, dink sy terug aan haar seuntjie. Die pynlike leegte wat sy dood gelaat het, laat haar dink aan Stefanie se baba wat in die tronk gebore gaan word. ’n Vae hoop kom by haar op dat sy dalk vir die baba sal moet sorg.

Dit gaan nie goed met Stefanie nie, het die Ier gesê. Hy was by die tronk om vas te stel of hy haar daar sal kan uitkry. Hy het haar gesien, opvallend swanger, waar sy in die binnehof oefening kry. Sy het soos ’n verlore siel gelyk. Charles het belowe dat hy aan die owerhede sal skryf oor die baba. Martin kan nie help nie. Sedert Karel se dood was hy nog nie weer by die grot nie. Hy is ’n generaal en al wat vir hom van belang is, is om die oorlog te wen.

*  *  *

NIE OM DIE OORLOG te wen nie, maar om dit aan die gang te hou en die veggeneraals en opperbevelhebber die tyd te gee om gunstige voorwaardes met die Britte te beding – ’n ooreenkoms wat nie die volk sal verneder ná byna drie jaar van oorlogvoering nie. Dit is die belangrikste ding waaraan Martin dink terwyl hy op pad is na die plek waarheen hy sy verspreide kommando’s beveel het om te gaan. Die afgelope week het hy in die telegraafkantoor by Cypherfontein gesit en in kontak gebly met generaal De la Rey, wat in Vereeniging is.

Die kommando’s bly onverslaan, maar die oorweldigende getalle van hul opponente en die desperate tekort aan kos mergel hulle uit. En nou, verbitter deur die vernederings wat hulle gely het, is die Britte vasberade om ’n vinnige maar bloedige einde aan die oorlog te bring. Hulle beweeg in groot getalle, en hul konvooie word goed bewaak. Die kommando’s val op talle plekke gelyktydig aan, soos ’n trop wildehonde wat in die hardloop en al spelend stukke uit hul prooi ruk.

Reeds maande lank dryf Martin sy manne hard, terwyl hy hulle in groepe verdeel en dan weer bymekaarbring, soos wat die omstandighede vereis. Maar diep binne hom het hy alle begrip van tyd en orde verloor. Hy wil net voortgaan en aanhou totdat dit verby is. Hy weet dat hy net met die stroom van die gebeure saamgaan. Hy het talle slaaplose nagte, waar hy alleen by ’n vuurtjie ’n entjie weg van sy manne sit, al dolend in swart wanhoop.

Hy het met generaal De la Rey gepraat voor dié na die voorbereidende vredesonderhandelings gegaan het. Oom Koos is teen dié tyd verweerd – sy baard is gryser, sy gesig geplooi – maar sy gesonke oë is vol vasberadenheid om sy volk tot die einde te dien, om vir hulle ’n eerbare vrede te verseker.

“Martin, daar’s ’n tyd vir oorlog en ’n tyd vir vrede,” het De la Rey gesê toe hy groet. “En daardie tyd het nou gekom, seun – ’n tyd om heel te maak, om vrede te maak.”

En ’n tyd om te huil, dink Martin nou. De la Rey se laaste kabelgram aan hom het gesê dat vrede gesluit sal word, maar dit neem tyd. Hy moet sy manne voorberei op die onvermydelike – oorgawe en die verdwyning van hul republiek. Dit is ’n hartverskeurende taak om hul laaste greintjie hoop te verpletter. Tot dan moet hulle oorleef, moet hulle uithou. Hulle het ’n ernstige tekort aan kos, mediese voorraad en ammunisie. Maar sal dit geregverdig wees om nou aan te val en die lewens van sy manne, die oorlewendes, op die spel te plaas, terwyl vrede in sig is?

Nog ’n harde waarheid dring sy gedagtes binne. Daar is ook ’n tyd om op te hou haat. Om vrede te maak met die donkerte in sy siel. ’n Tyd om te vergewe. As die oorlog verby is, sal hy James weer sien. James, sy neef, nie die vyandelike offisier wat opdrag gegee is om sy huis en sy land te vernietig nie. Dit sal bitter moeilik wees. Diep in ’n vergete hoek van sy hart sal hy na vergiffenis gaan soek en dit vir sy neef aanbied. En vir sy neef se vrou. Hy probeer om Victoria in sy geestesoog op te roep, maar net ’n langvergete pyn skiet deur hom. Die kleur van haar hare is al wat hy hom kan voorstel uit die verbleikte fragmente van ’n ander lewe.

DIE VURE BRAND en die wagte is uitgeplaas toe Martin by die kamp inry. Terwyl hy loop na waar Charles en die Viljoen-broers om ’n vuur sit, kyk hy na sy manne. Hulle lig hul hoede en gaan voort met hul take – om die pap te roer en biltong daarin te kerf, om wortels te kook vir koffie.

“Die winter is amper weer op ons en ons ammunisievoorraad is gevaarlik laag,” sê Jan en gooi ’n stok in die vuur. “Die magte wat ons jaag, gee ons nie kans om hul waens te plunder nie.”

“Ons het groente en sout nodig,” sê Charles. “Maar waar kry ’n mens dit? Sommige kêrels het skeurbuik; hul tandvleis bloei. Ek is radeloos.”

“Ja, ja, daar lê bitter tye voor,” sê Frans Viljoen. “Hierdie winter gaan langer en kouer wees, en ons gaan hongerder ly as die vorige winters. En dit gaan eensamer wees. Wanneer laas het ons rapporte deurgekry na die Vrystaat en na Botha? Ja, swaar tye lê voor.”

“Het generaal Jansen al aangekom?” vra Martin.

“Ja, hy is hier,” antwoord Jan. “Kommandant Kemp en sy kommando is ook by ons, soos jy beveel het. Hoe het die krygsraad verloop?”

Martin ignoreer Jan se vraag. “Is die verkenners terug?”

Die Viljoens kyk vir mekaar en haal hul pype uit. “Die Ier was vroeër hier.” Jan fluit skril. ’n Jong seun kom aangehardloop en word gestuur om McFee te gaan haal.

Martin vat ’n bottel water en was sy hande en gesig. “Nuus, Patrick?” vra hy toe McFee aangeloop kom. “Is ons veilig vannag?”

“Ja, generaal, net vannag. Noordwaarts, anderkant Rustenburg, is ’n leër van sewe duisend man wat generaal De la Rey se hoofmag jaag. Suidwaarts is ’n ontsnaproete, ’n smal korridor – ons kan deurglip en —”

“En in die weste?”

“Dit sal nie maklik wees nie, generaal. Hulle het hul magte daar verdubbel. Hulle wil nie weer in die wildernis ingelok word nie. Nege duisend wat oor ’n afstand van sestig myl uitgestrek is, gereed om aan te val sodra hulle ons sien. Kitchener se broer is die bevelvoerder. Daar is ’n klein mag in die suide op die plaas Rooiwal. Ons kan om hulle glip.”

“Hoeveel, Patrick?”

“Agt honderd infanterie op die meeste, ’n paar gemonteerde kanonne en drie veldkanonne, maar hulle mag dalk meer êrens wegsteek. Generaal, hulle het kamp opgeslaan vir die nag. As ons vroeg beweeg en om hulle trek voor die eerste beuel blaas —”

Martin knik. “Ons gaan suid na Rooiwal. Kom kry later jou opdragte.” McFee wil gaan, maar Martin keer hom. “Hoe gaan dit met Rudolf? Ek het hom weke laas gesien.”

McFee frons. “Dit … dit gaan nie goed met hom nie, glad nie goed nie. Hy dra nie ’n geweer nie. Moenie bekommerd wees nie, generaal, ek sien om na hom.”

“Patrick, jy moet môre vooruit verken. Bring my broer hierheen. Die dokter kan ’n oog oor hom hou.” Martin laat McFee gaan, skink ’n koppie koffie en gaan sit regoor Jan. “Daar was nie ’n krygsraad nie. Ek was op Cypherfontein en het telegrafiese kontak gehou met oom Koos. Hy is op Vereeniging. Louis Botha is ook daar.”

“Het Kitchener hulle weer genooi om te kom praat?” vra Jan agterdogtig.

“Nie hierdie keer nie, Jan. Generaal Botha het die uitnodiging gerig. Generaal De Wet is ook daar namens president Steyn en die Vrystaatse regering. En dit is die groot verskil: De Wet se teenwoordigheid. Hy het drie jaar lank geweier om met die Britte te praat.”

“Ek veronderstel hy’s daar omdat hy nie meer ’n keuse het nie,” sê Charles.

“Al die generaals is opdrag gegee om met hul kommando’s te praat. Die burgers moet sê hoe hulle voel oor onderhandelings om die oorlog te beëindig.”

“En as ons nie instem nie?” vra Jan.

“Dan sal die oorlog voortgaan,” sê Charles bedruk.

Hulle sit in stilte. Manne kom na die vuur, die meeste om Martin of Jan te spreek, maar Frans wuif hulle weg.

“Neef, as ons voortgaan, sal daar niemand en niks oor wees om voor te veg nie,” sê Charles. “Ek dink ons is dit aan die volk verskuldig om die oorlog te beëindig. Die krygsgevangenes op die eilande moet huis toe kom. Hierdie land is uit niks opgebou. Ons kan dit weer doen.”

“Dankie, Charles.” Martin knik en staar in die vuur. “Wat sê jy, Jan?”

Hy krap in sy baard, kou aan sy pypsteel en por die vuur aan met ’n stok. “As ek, Jan Viljoen … as jy sê ons veg voort, veg ons voort. As jy my vra om my mauser neer te lê, sal ek na my plaas teruggaan, my beestroppe opbou, my seuns leer om perd te ry en te skiet, en die geveg op ’n ander keer voortsit.”

’n Burger kom nader en kondig aan dat die offisiere byeengekom het vir ’n vergadering, soos hulle beveel is. Die Viljoen-broers kap hul pype teen hul stewels uit en staan op, maar Martin staar steeds in die vuur.

Jan sit sy hand op sy skouer. “Wees rustig, my goeie vriend, en kry jou wyse woorde agtermekaar. Ons sal wag.”

“Martin, dis verby,” sê Charles met groot medelye in sy stem. “Aanvaar die neerlaag met die grasie en waardigheid wat jou opponente van jou gewoond is.”

“Charles, ek is nie verslaan nie. Ek het gedink aan wat oom Koos gesê het oor ’n tyd om vrede te maak. Ek kan dit doen, maar oorgawe beteken nie noodwendig ’n neerlaag nie. Soos Jan gesê het, ons sal die stryd op ’n ander tyd voortsit. Ek moet aan ’n nuwe rigting dink. Ek moet hoop verskaf oor die toekoms. Ek moet hulle ten minste dit gee. Êrens moet daar woorde wees wat betekenisvol genoeg is om dit aan hulle oor te dra.” Hy trek sy baadjie reg, trek sy vingers deur sy hare en staan op. Hy loop ’n paar treë weg, draai dan half om en staar in die donkerte bo die vure. “Ja, dit is nou die bitterste tyd.”

MARTIN SE WOORDE, sterk en oortuigend soos altyd, word deur die aandwind gedra. Charles stap onwillekeurig nader aan die wa waarop Martin staan, omring deur sy kommando’s. Hy staan aan die kant en kyk na die verweerde gesigte wat in die vuurlig glim. Alles waarvoor hulle so bitterlik die afgelope drie jaar geveg het, was tevergeefs – en tog blink daar nog geloof in hul oë.

“Ja, ons is ’n verdeelde nasie,” sê Martin, “en ’n verdeelde nasie kan nie homself regeer nie. Daar is haat tussen ons. Broer teen broer, pa teen seun. Verraaiers en hensoppers is deel van die volk. Hulle sal nie weer ’n plek in ons harte kry nie. Maar ons, die bittereinders, het tot die heel laaste uitgehou. Ons is die kern van die nuwe nasie. Ons is getoets, geweeg, en nie te lig bevind nie …”

Charles loop terug na die ambulans. Hy het genoeg wanhoop en ellende gesien vir ’n leeftyd. Hy is moeg om dag ná dag te vlug en voel skuldig oor hy, weens ’n gebrek aan mediese voorraad, soveel gewondes aan die vyand moes oorlaat. Vrede lyk so aanloklik, maar die besluit lê by die kommando’s.

Hy vou sy bril versigtig toe in ’n sakdoek en sit dit in sy baadjiesak. Dit is die enigste paar wat hy oor het. Hy trek die kombers oor hom. In die verte hoor hy hoe die burgers Martin toejuig. Weer plaas hulle hul lewens in sy hande. Hy raak aan die slaap terwyl hy dink aan sy babadogtertjie en vrou wat in ’n grot woon.

Hy word wakker toe iemand aan sy skouer raak. Rudolf se gesig is naby aan syne. Charles stoot die kombers van hom af en gooi nog hout op die vuur. “Koffie, Rudi? Ek het nog ’n bietjie oor.”

“McFee sê ek ry môre saam met jou.” Rudolf gaan sit by die vuur. “Hy’s ons leier en ek moet doen wat hy sê.”

“Ja, Rudi, ek dink nie dis wys dat jy verder met die verkenners saamry nie.” Hy hou homself besig met die koffiemakery. “Bly by my, Rudi. Wag saam met my vir die einde.”

“Dankie, Charles.” Hy sit ’n ruk lank stil en staar nikssiende in die lae vlamme. “Is daar ’n lewe hierna?” vra hy onverwags.

“’n Lewe hierna?” Charles frons en gee vir hom ’n beker koffie.

Rudolf kyk op na die sterverligte hemelruim. “Daar moet wees, maar ek weet nie of dit ’n lewe soos hier op aarde is nie.”

“Die hemel is ’n beeld vir iets misterieus, Rudi.” Hy soek na woorde wat ’n bietjie troos sal verskaf. “Ek dink dis soos die grot, ’n plek van vrede. Hoekom, Rudi? Jy en Karel het altyd gespot met dié dinge.”

“Ek sien Karel en Legend … ek sien hulle … Hulle ry oor die veld met Lady langs hulle. Die gras is groen en lank, tot by Legend se buik, en die lug … is helder … en ek sien baie perde wat hulle volg. Kan dit almal wees wat in die oorlog dood is?”

Rondom hulle gaan die vure dood. Die manne lê opgekrul in hul komberse, en ’n paar praat rusteloos.

“Rudi, hoe gaan dit met Annecke? Was jy by die grot?”

“Sy’s Martin se vrou, Charles. Sy het dit in die teenwoordigheid van God belowe. Ek het dit verlede week vir haar gesê …” Sy stem raak weg. Hy sluk swaar. “Sy was so hartseer toe ek dit sê, sy het gehuil, Charles.”

Charles kyk na Rudolf; sy gesig toon ’n hartverskeurende verdriet, sy hande is gevou asof hy bid. Hy is so jonk, te jonk om dood te gaan, en tog so absoluut verslaan.

Hy sit ’n kombers oor Rudolf se skouers en sit ’n vertroostende arm om hom. “Rudi, ja, daar is ’n plek waar Karel vir jou wag. Maar daar is tyd van geen belang nie. Of jy nou ’n jaar of ’n dag of ’n leeftyd daarvoor wag … dis om ’t ewe. Hier voel ons die skeiding, maar ons sal op een of ander manier daardeur kom.” Hy druk Rudolf se kop teen sy skouer vas.