Epiloog

Wintersrust, September 1902

DIE LENTE BRING weereens prag na Winterust. Die vrugtebome blom en die jasmyn rank oor die ruïnes. Onder by die vlei bars die wilger in vars groen botsels uit; die takke wieg liggies, en onder hulle gaan die wit lelies oop in die oggendbriesie. Die wilde-eende het teruggekeer uit die noorde, die reier staan op aandag en die geelvinke weef luidrugtig aan hul neste.

Koba se verewa, met twee ruiters aan weerskante wat met die gemak van kavalleriste ry, is ook op pad. Van waar hy op die voorkis sit, met die leisels in sy hand, luister Charles na die gebabbel van die drie jong vroue onder die kap; hulle is nou besig om Koba se koliekmedisyne te besing.

Nadat die vrede onderteken is, het Koba in Rustenburg aangekom en die hospitaal oorgeneem om hom tyd te gee om tot verhaal te kom, terwyl sy omsien na dié wat uit die veld en die kampe aangedwaal gekom het. Sy het hulle gesond gedokter en die bitterheid in hul harte vertroos met haar gebabbel. Ná die winter het James en Peter met hul vroue uit Pretoria aangekom. En nou gaan hulle na Rudolf en Annecke wat weier om die skuiling van die grot te verlaat. Maar Wintersrust moet herbou word, en James is vasbeslote om daarvoor te sorg.

Die geruïneerde opstal kom in sig. Die vroue se stemme raak stil. Die ruiters ry stadiger. Charles skuif sy nuwe bril reg en spoor die wa deur die drif aan tot by die begraafplaas waar Rudolf met sy arms om Annecke staan. Hy kyk hoe die ander om die twee saamdrom. Dit is ’n aangrypende hereniging, hartseer en tog ook bewustelik vrolik. Hulle staan ’n rukkie by Karel se graf en toe hulle na Martin se graf gaan, sluit Charles by hulle aan.

James gaan hurk langs die graf; sy vingers streel oor die ruwe houtkruis en sy oë dwaal oor die berg en oor die plaas tot in die verte, waar ’n witkruisarend die lente-lugstrome uittoets. “Soos daardie arend simboliseer hierdie kruis in al sy eenvoud waarvoor hy gelewe het en waaraan hy geglo het – sy land en die vryheid van sy mense,” sê James. “’n Suiwer en edel ideaal. Dit sal jammer wees om iets wat so gepas is te vervang met ’n granietsteen.”

HEELWAT LATER, in die grot, dink Charles aan James se woorde. Martin was ’n uitsonderlike man, te hartstogtelik dalk. Hy kon nie buig voor die veranderings wat die oorlog so gewelddadig in hul lewens en siele bewerkstellig het nie. Hy het sy volk ’n kortstondige en onvergeetlike oomblik in die geskiedenis besorg, maar die dood van die Republiek was die einde van Martin se droom. ’n Onvervulde droom. Een wat nou nooit vervul sal word nie.

Hy kyk na die ander om die rotstafel. James lyk nie soos ’n vernederde man nie, maar soos ’n man wat vrede in homself het; hy is opsigtelik verlief op sy vrou. Peter is vol verwondering oor die wêreld; dit straal uit sy gesig wanneer hy Jamie, sy seun, in sy arms hou of wanneer hy teer na Stefanie kyk. Annecke se aandag word verdeel tussen die twee babas op die matras. Rudolf is stil en kyk dikwels na Annecke. Alleen die tyd sal die wond in sy hart genees en die skuldgevoel oor Karel se dood uitwis – ’n skuldgevoel waarmee hy homself so onnodig opgesaal het.

Charles druk Anita se hand en gee haar ’n piksoentjie op die wang. Hy help haar om die groot mandjie uit te pak en steek nog kerse aan.

Annecke kom staan by die tafel. Sy sit haar hand teen Rudolf se wang. “Kyk, Rudi, kyk,” fluister sy en wys na die dak. “Die maan. Dit skyn tog deur die dak.”

Daar daal ’n stilte oor die tafel. Almal kyk op na die maanlig wat skuins deur die splete skyn – hier en daar raak dit die mure en die vloer. Soos vuurvliegies wat dans.