Ilse ry Maandagoggend na Vivienne se kantoor om haar foon te gaan haal. Vivienne is nie beskikbaar om oor die rok te praat nie. Teen die middag is die selfoon se battery weer gelaai. Ilse staar in verwondering na die nege oproepe wat Anton die Sondag en Maandag na die partytjie by Vivienne se woonstel na haar foon gemaak het. Hy het dringend na haar gesoek. Hy was bekommerd oor haar. En sy het nie eens gedink aan die implikasie van haar stilte nie. Maar dis te laat om te huil, die skade is gedoen.
Sy luister na die klankopnames wat sy tydens die funksie opgeneem het, maar die kwaliteit is power. Nou en dan kan sy iemand hoor praat, maar daar is niks sinvol om teen Vivienne te gebruik nie. Daar moet ’n manier wees om Vivienne aan die pen te laat ry, maar sy weet nie hoe nie.
Die res van die week verloop teen ’n slakkepas terwyl die afwagting in Ilse opbou. Wat beoog Anton? Gaan hy hulle aankla? Gaan hy weier om die plek aan haar te verhuur? Wanneer hoor sy van hom?
Piet word die Woensdag ontslaan, maar Yolanda raai haar aan om tot Sondag te wag voordat sy kom kuier. Hy het nog tyd nodig om te herstel.
Vrydagoggend bel Lida haar. Die keer is sy uiters formeel. “Juffrou Botha, meneer Visagie wil jou tweeuur oor die kontrak spreek. Is jy beskikbaar?”
“Ek is. By sy kantoor?”
“Dis korrek. Ons sien u dan.”
Ilse skud haar kop. Die vrou klink glad nie beïndruk met haar nie. Seker nog dikmond oor die karstorie. En Anton wag tot die laaste oomblik om haar in te lig oor die afspraak. Oor twee ure moet sy daar wees. Maar dit pas haar. Dis tyd om die bul by die horings te pak, en hopelik gaan sy nie met beserings wegstap nie.
“Stella, wat doen jy hier?” Ilse kan kwalik haar oë glo. Stella sit in Anton se ontvangs. Sy lyk vreemd in ’n geblomde pienk bloes met ’n blou romp. Hulle omhels mekaar.
“Ek werk nou hier. Anton het my die ongelooflikste aanbod gemaak wat ek nie kon weier nie. Vir die eerste keer werk ek normale ure en my kinders is hier naby in die maatskappy se crèche. Ek kan nie gelukkiger wees nie. Waar werk jy nou? Jy het skielik verdwyn. En ek kon jou nie op jou selfoon in die hande kry nie.”
“Ek wil ’n winkel in die gebou oopmaak. Dis hoekom ek hier is om Anton te spreek.” Ilse ignoreer die sarsie vrae. Dis nie nou ’n geleë oomblik om te bieg nie.
“Wat gaan jy verkoop?”
“Ek ontwerp onderklere.”
“Wow, dit klink interessant. Ons kan gereeld ontmoet as jy die plek hier kry.”
“Dit sal heerlik wees.” Ilse loer in die gang af. Sy is tegelyk benoud en opgewonde om Anton te sien. Die week was bitter lank sonder om iets van hom te hoor. “Is Anton beskikbaar? Ek het tweeuur ’n afspraak met hom.” Die keer het sy baie moeite gedoen met haar voorkoms. ’n Netjiese swart potloodromp, ’n wit kantbloes en hoëhak- hofskoene laat haar professioneel maar ook vroulik lyk. Haar hare hang in ’n dik vlegsel oor haar linkerskouer. Sy wil ’n selfversekerde beeld uitstraal, al hoor sy slegte nuus.
“Sit gerus. Ek hoor gou by Lida.” Stella maak ’n oproep. “Jy kan maar deurgaan.” Stella buig nader en praat onderlangs. “Wees maar in jou pasoppens. Hy is glo deesdae in ’n moeilike bui. Almal vind dit vreemd, want dis nie hoe hy gewoonlik is nie. Die klomp hier dink dit gaan oor ’n meisie.”
“Dankie vir die waarskuwing.” Wat krap hom om? Gaan dit oor haar nonsens, of is daar ’n nuwe meisie in sy lewe? Sy wil eerder nie aan die laaste moontlikheid dink nie.
“Gee my jou nuwe nommer.” Hulle ruil nommers uit. “Hy is in die hoekkantoor, skuins oorkant Lida.”
Lida kyk skaars op toe sy naderstap.
“Middag. Kan ek maar ingaan?”
Lida knik en tik voort.
Ilse sug. ’n Mens sou sweer sy het Lida persoonlik te na gekom. Sy klop aan die deur.
“Kom binne.”
Ilse trek haar skouers vasberade terug. Dis nou of nooit. Hy hou haar toekoms in sy hande. Wat gaan hy daarmee maak?
Anton praat op sy selfoon en wys dat sy die deur moet toetrek. Nou weet sy hoe dit voel om deur die skoolhoof na sy kantoor geroep te word. Nie dat haar skoolhoofde ooit soos die man gelyk het nie. Nie naastenby soveel manlike aantreklikheid nie. Skoolmeisies sou sy drumpel deurgetrap het.
Dit lyk of hy reeds ’n moeilike oggend agter die rug het. Sy baadjie lê wanordelik oor die gastestoel, sy das hang halfmas en hy het ’n ongeduldige frons op sy gesig. Die persoon aan die ander kant van die foon is ook kennelik nie in sy goeie boekies nie.
Hy sit die foon neer. “Ek het ’n besige skedule en het uit my pad gegaan om jou in te pas. Moenie my laat wag nie.”
Ilse sug heimlik. Is dit hoe die gesprek gaan verloop? Sy kan maar vergeet van ’n kontrak. “Ek is vyf minute laat. Waarvan ek twee minute in die ontvangs gewag het.”
“Sit asseblief.”
Ilse gaan sit op die punt van die stoel. Sy verwag nie ’n uitgerekte vergadering nie. Hoekom het hy nie sommer oor die foon gesê sy kry nie die winkelspasie nie?
“Waar is jou sakeplan?”
Ilse sit terug in die stoel. Waar kom hy nou vandaan? “Ek het dit nie hier nie. Ek vra nie geld nie.”
“Hoe finansier jy die projek?”
“Yolanda gaan die geld voorskiet.”
“Yolanda? Hoeveel geld het jy in gedagte?” Hy sug toe hy die bedrag hoor. “Jy wil ’n kontrak teken vir ’n winkelruimte en jy het nog nie geld nie. Dis darem baie dom.”
Gefrustreer kruis sy haar bene. Hoekom karring hy aan iets wat eintlik niks met hom uit te waai het nie? Hy spreek egter haar vrese hardop uit. Die winkelruimte het te skielik beskikbaar geraak, sy het nog nie haar opsies deeglik ondersoek nie.
Sy vang sy blik wat op haar bene talm. Dadelik is sy spyt oor haar kort rompie. Hy dink seker sy wil hom verlei.
Hy kyk haar weer in die oë. “Piet weet seker nie van Yolanda se aanbod nie.”
“Nee.” Hoekom moet sy sleg voel? Dis uitsluitlik haar niggie se idee.
“Hemel, maar julle twee kan konkel.” Anton leun vorentoe. “Wanneer laas het Yolanda na hul maatskappy se finansies gekyk?”
“Hoe sal ek nou weet?”
“Ek het. Soos in twee weke gelede toe Piet my genader het vir ’n belegging. Die maatskappy sukkel met kontantvloei. Yolanda het nie hierdie tipe geld nie, Ilse. Gaan sy namens jou ’n lening neem?”
“Nee.” Moet sy Yolanda die slegte nuus meedeel? Nog ’n las op haar skouers plaas? Eerder nie. Dalk later.
Anton staar ingedagte na haar. Ilse probeer nie vroetel nie, maar sy blik maak haar ongemaklik. Hoekom kom hy nie tot die punt nie? Sy weet wat om te verwag, maar sy wil dit nietemin uit sy mond hoor.
“Jy weet seker van Piet se hartaanval?”
Sy knik.
“Hy sê jy vermy hom. Jy het hom nie eens by die hospitaal besoek nie. Het jy hom ook nou afgeskryf?”
Sy lig haar ken. Nou trek sy ’n streep. Sy bly nie stil ná sulke onregverdige aantygings nie. “Ek skryf niemand af nie. Ek kuier môremiddag daar. Wat het jy oor die opnames besluit?”
“Ek dink nog daaroor,” vermy hy ’n direkte antwoord. “Vertel my van jou planne vir die winkel. Personeel, meubels, projeksies, die werke. Ek wil alles weet.”
Sy ken die feite op die punte van haar vingers, want sy het reeds menige kere die onderwerp met bankbestuurders bespreek. Sy weet nie hoekom hy al die inligting verlang nie, maar as dit hom sal oortuig om die kontrak te teken, vertel sy hom alles.
Ná ’n lang gesprek knik hy tevrede en staan op. “Ek wil gou met my prokureur praat. Wag hier, asseblief.”
Hy gaan staan in die gang, waar sy die gesprek gedeeltelik kan volg.
“Ek wil die dokumente binne tien minute hê,” hoor sy hom sê. Hy bly stil, sy kan nie die ander persoon se reaksie hoor nie. “Dan tik jy dit self.” Anton klink nie gelukkig met sy prokureur nie. Die prokureur sê skynbaar iets, maar dit bly onhoorbaar. Anton antwoord. “Ja, ek weet dis ’n simpel besluit, maar ek het genoeg briljante besluite geneem om nou en dan iets doms aan te vang. En dis op die ou end jou opinie, nie myne nie.”
Ilse frons benoud. Wat makeer nou? Waaroor gaan die meningsverskil en hoe raak dit haar?
“Dankie. Ek waardeer dit.” Anton sluit die gesprek af en kom teruggestap. “My prokureur stuur nou die gewysigde dokumentasie. Jy kan dit saamvat en met jou adviseur bespreek. Ek wil jou antwoord teen Vrydag hê. Anders kry ek ’n ander huurder.”
Ilse knik. Sy verwag onredelike eise, maar sy moet dit nogtans oorweeg. ’n Belaglike aanbod is beter as geen aanbod nie. Dis haar groot kans, en sy het nog ’n week om die geld te vind. Yolanda se voorstel gaan gewis nie meer werk nie.
“Kan ek koffie bestel terwyl ons wag?”
“Nee dankie, ek is reg. Ek sal in die foyer wag.” Sy wil opstaan, hy keer. “Nee, bly hier.” Hy gaan sit, trek ’n dokument nader en blaai daardeur.
Hy probeer nie eens om oor ditjies en datjies te praat nie, maar wat verwag sy? Hulle is lankal verby die fase. Hulle het tans min vir mekaar te sê. Sy sou verkies om buite te wag, maar sy kan hom nou darem dophou. Hy lyk afgemat. En nie gelukkig nie. Soos sy ook nie gelukkig is nie. Sy verlang na die tye toe hulle mekaar gereeld gesien het. Hoe maak sy haar gemors reg? Hoe kan sy hom oortuig sy het hom nie aspris mislei nie? Miskien moet sy ophou droom. Haar drome het haar nog nie veel in die sak gebring nie.
Hy kyk ineens op en hulle blikke ontmoet. Sy uitdrukking is onleesbaar en sy hoop hare weerspieël nie haar verlange nie.
Sy aandag skuif na sy rekenaarskerm. “Die dokumente is hier. My sekretaresse sal dit druk. Jy kan dit by haar kry. Lekker dag.”
Buite die kantoor blaai sy vinnig deur die papiere. Sy kyk twee keer voordat sy haar oë kan glo. Hy wil vir haar die geld leen? En in ruil eis hy nege en veertig persent van die aandele in die winkel. Is dit ’n truuk? En as dit nie is nie, moet sy haar lewe verder kompliseer? Hom gereeld sien terwyl sy weet hulle kan nooit meer as sakevennote wees nie. Of nog erger, ander meisies saam met hom sien. Maar die ander opsie is minder aanloklik. Geen winkelruimte, geen boetiek en min vooruitsigte. Dit moet eintlik ’n maklike besluit wees, maar sy gaan dit eers met Yolanda bespreek. Hoekom het hy niks gesê toe sy in sy kantoor was nie? Sy gedrag bly vreemd.
Teen haar beterwete begin sy weer hoop. Hy bly teenstrydige tekens uitstuur. Hy is kamtig kwaad vir haar, maar sy aanbod maak haar deel van sy lewe. Sy moet egter eers die kat mooi uit die boom kyk.