2. Die vaagste benul
1.
“HAYYA ’ALA-S-SALA! HAYYA ’ALA-S-SALA!” sing die imam van die moskee in Mayfair-Wes my wakker oor die moerse luidsprekers bo in die toring sodat dit tot hier in Brixton en nog verder weergalm. “ASSALATU KHAIRUM-MIN-AN-NAUM!”
Ek strompel toilet toe en pis, sit dan die ketel aan vir koffie, pop ’n Vital Maxi B Stress & Energy Support en sit my laptop aan sodat ek berigte oor Stander in nuus24.com se argief kan uitcheck. Dit is waarskynlik weer een van daai soort stories met ’n baie groot giftige slang in die gras, dít kan ek darem ná drie jaar by Volkshol met redelike sekerheid vermoed.
Fokkit, wat is dit nou met my bleddie laptop? Drive Memory Error, flits ’n boodskap op die screen. Ek druk control, alt en delete en gaan maak koffie.
Dit vat ’n ewigheid vir die laptop om te connect. Dan pop nog twee boodskappe gelyk op: Your anti-virus definitions are out of date en No internet connection. En dan weer, dié keer met ’n rooi vlaggie by: Drive Memory Error. Waddefokkenfok! Dadelik spring nog een op: Your product key has expired. En dan nóg een, in groot, vet rooi letters: DATA BASES OBSOLETE.
Ek sukkel langer as ’n uur, rook die een Princeton Filter na die ander, bel Customer Service, “your call will be answered in approximate 22 minutes and 43 seconds”, en dan kak musiek in die agtergrond en ’n masjienstem wat sê “Did you know? Now you can get more for less with our new supreme bundle offer!” en dan word die verbinding verbreek en moet ek van vooraf bel – press one vir dit, press two vir dat, fok dit. Ek sit die laptop weer af. Sjorrr-sjorrr kreun iets binne-in en dan flikker al die liggies die een na die ander af soos blieps op ’n life support system.
My smokes is op. Dis al agtuur. Pick n Pay in die Protea-sentrum sal darem al oop wees, want as ek nie nou ’n sigaret rook nie, gaan ek sterf aan ’n gevorderde toestand van terminale gemoedsbekakking. Ek het net R450 oor vir die res van die maand. Ek moet nog koffie, Weet-Bix en kakpapier ook koop. Boonop is my klere fucked. Ek het nie eens genoeg geld om cheap broeke en hemde en skoene by Hong Kong Fashions te gaan koop nie. Ek weet nie wat de fok ek gaan doen nie. My tandeborsel is ook gaar en ek moet tandepasta ook kry. Ek sal dit maar by die R5 Happiness Store koop.
Dis weird dat die dag so stadig aan die gang kom, dink ek toe die hek agter my toeklik en ek van Ripley Road af kortpad vat deur Carolinestraat. Daar is nie so ’n heavy gedreun van karre en getoet van taxi’s soos gewoonlik nie. Die gedruis is nie so hectic nie. Dan kliek ek dis mos Sondag. Boonop is dit ’n public holiday. Ek loop op met Isleworth tot in Highstraat. Daar is nuwe graffiti teen die muur op die hoek: KILL SANTA CLAUS en REVOLUTION NOW in swart en rooi letters in die vorm van bloeddruppels tussen posters vir hip-hop shows van Snazz D, Snypa Kidd en Dizzy Man Ape, en selfs een vir ’n show van die rockgroep Die Swart Hond in die Bohemian in Richmond.
Tussen die community notices op die bord buite Pick n Pay is advertensies waarop in groot letters staan PENIS ENLARGEMENT en ABORTION met skeurstrokies waarop die foonnommer gedruk is. ’n Pamflet van Dr Chris the Herbalist is ook daar opgeplak. Ek check watter dienste hy alles aanbied: Lost Love Spells, Marriage Spells, Attraction Spells, Divorce Spells, Banish a Past Lover Magic Spells, Re-unite Loved Ones, Protection for Houses, Enlargement Creams for Both Men and Women.
Daar is goddank nog nie te baie mense in Pick n Pay nie. Ek kyk na die tydskrifte se voorblaaie. Treurende verloofde vertel: My onsterflike liefde vir krokodil-slagoffer. 7de Laan-sterre praat oor sjokolade en soene. Ma oor dogter se dwelmhel.
Ek kyk ook na die Cosmopolitan. Tyra Banks is op die voorblad, deeglik gephotoshop. Extra Sexy! skree die headline wat in die grootste letters gedruk is: 69 Shades of Scarlett: Cosmo’s Sealed Erotic Beach Read! Die tweede grootste headline is in goudgeel letters op pienk: EPIC ORGASMS. Everytime? Seriously? Readers share spicy secrets. En in swart letters op ’n geel kol regs bo: WIN! Uwe Koetter Diamond ring & earrings. Samsung Galaxy Note. VIP party for you and 20 friends. AND MORE!
Na my brush met reality sit ek die laptop weer aan wanneer ek by my buitekamer kom. Selle ou fokken storie. Al dieselfde waarskuwings pop weer die een na die ander op.
Ek SMS vir Dora de Wet: Is op job vir koerant in Krugersdorp, neem foto’s van gesinsmoord, kan Ouma nie gaan haal.
Tough shit. Sy moet maar self ’n plan maak, die ou bitch, want as sy nie so oorreageer het nie sou ons nie in hierdie situasie beland het nie. Sy kan een van die leeglê-susters van die gemeente stuur om my ouma by die hospitaal te gaan haal.
“GET YOUR ROCKS OFF! GET YOUR ROCKS OFF!” lui my foon. Dis Rocky.
“Yes-yes-yes! Is jy al wakker?”
“Jaaaa … net-net,” kreun ek.
“Is jy presentable?”
“Ek gaan nou bad.”
“Kon jy toe iets uitvind oor Stander in die online archives?” vra hy.
“Nee. My laptop het uitgefok. Dis seker ’n virus of malicious spyware of so iets.”
“Wat ’n kakspul!”
“Ja. Ek sal maar my foon moet gebruik om te google, ek dink ek het nog ’n bietjie oor van die gratis one gigabyte wat ek elke maand as deel van die deal kry.”
“Anyway, ek kom tel jou tienuur op. Sorg dat jy reg is.”
In die bad probeer ek onthou wat ek van Zander Stander weet. Hy het al ’n kakhuis vol CD’s verkoop. Hy was al meer op tydskrifvoorblaaie as wat daar hoere in Las Vegas is. Vroumense vrek oor hom. Hulle cream in hulle panties die oomblik wanneer hy sy bek oopmaak. Die covers van sy CD’s is gephotoshop om hom te laat lyk soos ’n mix tussen ’n heartthrob en ’n boerseunbreker, het ek al in Look & Listen gesien: heldergroen oë (waarskynlik geborgde kontaklense) wat bakvissies laat swymel, swart kuif wat die dier in kloosterkoeke wakker maak, knop in die broek wat middeljarige mammies warm gloede laat kry, en dimpels in die wange en ’n aangeplakte glimlaggie wat jellie van soustannies se breintjies maak.
Ek gaan sit buite in die son nadat ek klaar gebad het. Ek tik Stander se naam op Google Images in en verkyk my aan al die foto’s van hom saam met aanhangers en aanhangsels, van hom op die verhoog en ook waar hy saam met ander celebrities by glansgesellighede uithang. Hy is ’n haan onder die henne, dit kan jy sommer sien, en ek verstaan ’n kapokhaantjie onder die weglêhenne daarby, want daar is hoeka rumours dat hy lief is daarvoor om vroue te naai wat baie ouer as hy is. Op foto’s van hom wat op sy plaas geneem is, probeer hy hard om soos ’n filosoof te lyk deur peinsend die vertes in te staar.
Klokslag tienuur daag Rocky op en ons val in die pad na Rosebank. Hy lyk vanoggend supercool in sy All Star sneakers, swart jeans en skreeugeel T-shirt. Sy lang bruin hare ruik nog na appelsjampoe.
“Allamapstieks, maar jy lyk vanmôre nes ’n canary in paradise!” groet ek toe ek inspring.
“You can call me Mellow Yellow,” sê hy en sit voet in die hoek Rosebank toe.
“Wat kon jy toe als oor Stander uitvind?” vra ek.
“Ek was op sy Facebook page en sy website en het ’n search gedoen in nuus24.com se online archive. Daar is moerbaie info. Ek het als uitgeprint. Dit lê op die backseat, check dit uit.”
Ek bondel die print-outs bymekaar, stryk die bladsye plat en blaai daardeur. Stander het al meer as twintig CD’s uitgereik waarvan die meeste goue en platinumstatus behaal het. Hy het diep in die volk se hart gekruip met liedjies oor ooms en tannies op plase wat uitgemergel is deur die droogte en na reën smag, proteas in die maanskyn, bokkies in bikini’s en later ook een oor ’n boerenooientjie op ’n trekker, pampoenkoekies en pannekoek in Ouma se kombuis en ballades oor die mooie ou Paternoster en Waenhuiskrans. Veral sy reeks liedjies oor Springbokrugbyhelde en Boerevegters van weleer was groot treffers. Daarna het hy doefdoefdoef-liedjies begin sing wat ook gulsig deur die volk opgeslurp is. Hy het miljoene rande gemaak met treffers soos “Tjoef-tjaf”, “Tel tot vyf”, “Juliana”, “Jy soen my knieë lam”, “Marietjie bly ’n bietjie”, “Baby jy’s die beste bokkie” en “Karolien-Karolien”. Later het hy ook twee gospel-albums uitgereik, Hoe groot is my rots en Elke grashalm is kosbaar, wat soos soetkoek verkoop het. Hy het ook al gasverskynings in 7de Laan, Binneland en Villa Rosa gemaak en neem gereeld deel aan TV-programme soos Noot vir noot, Jukebox en Liriekeraai.
“En hier is die press release vir sy nuwe CD, Klong van die Karoo. Hoor net: ‘Zander Stander, wat bekendheid verwerf het vir sy rasperstem en lirieke wat aan meer as net die kitaarsnare pluk, verras weereens met ’n merkwaardige album wat vertel van die lewe, die liefde, die hartstog, die land, die taal en dit wat in ons almal se harte skuil. Baie snitte is diep en sielvol, en ander nooi jou om saam te glimlag en om spontaan, met pure lekkerkry, die ritme met jou voete te hou. Zander het self sy pen aan meeste van die snitte geleen en dit is duidelik dat daar ’n sterk God-geankerdheid en ’n opregte Afrikanerhart agter beide sy musiek en sy uitvoering daarvan steek.’”
“Jirre, dit klink na ’n freaky zone waarin daai mense is,” sê Rocky. “Is die drol getroud?”
“Hy was, met die model Jacqueline Kriel. Ek onthou hulle troufoto was so drie, vier jaar gelede op Huisgenoot se voorblad, met vyftien bladsye se eksklusiewe coverage van wat die Troue van die Dekade genoem is binne-in. Die affêre was te spoggerig vir woorde. Die hele wêreld was daar en op die laaste bladsy is al die sponsors se name genoem. Alles is gesponsor – die venue op ’n wynplaas buite Franschhoek, hulle klere en skoene, haar juwele, haar make-up, die ring, die troukoek, die drank, die troukaartjies, die blomme, die musiek, die confetti, álles. Dit het hulle nie ’n sent gekos nie. En in ’n kompetisie wat voor die troue gehou is, kon tien lesers elkeen kaartjies na die troue wen.”
“Goeie fok, meneer De Kok,” sê Rocky. (Sulke rympies het ook deel van ons papegaaislaai-piengpong geword.)
“Twee weke later was hulle weer op die voorblad, op die strande van Mauritius, en binne-in was daar tien bladsye se eksklusiewe coverage van hul honeymoon – al die romantiese hoekies waar hulle teer in mekaar se ore fluister, die eksotiese kos wat hulle eet en die fancy cocktails wat hulle drink by die eksklusiewe executive resort waar hulle bly, hulle gekoer en geknabbel aan mekaar se ore in die swembad, die works. Die honeymoon is ook geborg – vliegkaartjies, verblyf, kos, drank, sonbrandroom, make-up, tandepasta, voorbehoedpille, kakpapier, die lot. En twee jaar later is hulle geskei omdat hy haar verneuk het.”
“Holy shit, meneer De Wit,” sê Rocky.
Ek blaai weer deur die print-outs. “Nog ’n eer wat Stander te beurt geval het, is dat ’n roos in die FAK Afrikaanse Liedjietuin na hom genoem gaan word. Die tuin gaan binnekort aan die hange van Voortrekkermonument-koppie uitgelê word. Hulle het al begin om die beddings reg te kry en roosbome te plant vir altesaam 160 sangers, sangeresse, groepe en liedjies wat hulle wil vereer. Voorstelle wat ontvang is en oorweeg word, is onder meer ’n Cora Marie-roos, ’n Jurie Els-roos, ’n Snotkop-roos, ’n ‘Liewe Heksie’-roos, ’n ‘Kinders van die wind’-roos, ’n ‘Pampoen’-roos, ’n ‘Heidi’-roos, you name it.”
“Jirre, kan jy imagine hoe dit moet wees as ’n mens snags skelm in die maanlig in daai tuin gaan naai?” sê Rocky.
“Dit sal jou vir die res van jou lewe knak, scheme ek. Dink jou dit net in: terwyl jy so naai, begin die Bles Bridges-rose soos jagse ruiters in die windjie ritsel, word jy op jou gat gesteek deur die Gerrie Pretorius-roos se dorings en begin die Juanita du Plessis-roosknoppie blosend pienk bot.”
Daar is fokken baie karre in Rosebank. Die son skyn skerp en verblindend op al die BMW’s, Mercedesse en SUV’s. Die fokken jappies show so af dat jy dit nie kan oorvertel nie. En ek het my bleddie donkerbril by die huis vergeet.
“Het jy dalk ekstra shades?” vra ek.
“Kyk in die cubbyhole, dalk is daar iets.”
Lo and behold, daar is ’n bril wat lyk soos die een wat Bob Dylan op die cover van The Bootleg Series Volumes 1 to 3 dra. Dis nou fokken cool. ’n Mens kry dié soort shades deesdae nie meer maklik in die hande nie. Ek voel sommer soos ’n ander mens nadat ek die bril opgesit het.
Rosebank is ’n malhuis. Mense skarrel soos rooimiere wat te veel Red Bull ingekry het. Shop yourself fabulous! staan op ’n poster wat in ’n klerewinkel se venster opgeplak is. Buite ’n fancy take-away plek is ’n poster wat sê: The food that makes you more happy. The The se song “Swine Fever” pop in my kop op terwyl ek en Rocky vir ons ’n pad deur die malende menigte na die steakhouse oopbeur. Fee fi fo fum, smell the blood of a gullible bum.
Uiteindelik is ons in die Butcher Block Executive Grill. Die plek lyk soos die private eetsaal van ’n megamultimagnaat. Te swanky vir woorde. Die kleurskema is goud en karamel en laat jou voel soos ’n brommer wat in ’n amarula-en-sjokolade-crème brûlée geval het. Die messe en vurke skitter soos die pêrels aan Jesus se kroon. Die servette is witter as sneeu. Die waiters lyk of hulle diens doen op die rooi tapyt by die Oscars. Rocky vra die meisie by reception of Ben de Beer plek bespreek het. Ja, maar meneer De Beer is nog nie hier nie, ons waiter sal ons solank deurvat na ons tafel toe.
“Goeie moer, Rocky, check net die menu!” sê ek toe ons sit. “Ons sal dit nooit kan bekostig nie! Chicken liver peri-peri vir R54! Boerewors vir R52! Prawn-en-pawpawslaai vir R65 – en dit is maar net die starters.”
“Fokkit, ja, check die main courses: Pork spare ribs vir R185, Karoo lamb chops vir R175, T-bone vir R155, rump vir R170 … en dan nog R22 vir ’n sous en R26 as dit ’n mushroom- of jalapeño-sous is.”
“En kyk net na die Butcher’s Choice: steak met camembert en bacon vir R175, roquefort vir R160, bonne femme vir R185 en mushroom bordelaise vir R170 … Wat de fok is bonne femme en bordelaise anyway?”
“Fuck knows. Maar moenie worry nie. Ek sal dit so wangle dat De Beer vir ons betaal.”
Ons bestel elkeen ’n vodka en Red Bull en het skaars gecheers op die deal wat ons met De Beer gaan clinch of daar wals hy in. Praat van die duiwel dan trap jy op sy fokken stert. Jy kan sommer sien hy is ’n high-flyer. Dit lyk of sy leerbaadjie en skoene uit Italië ingevoer is en sy horlosie uit Amerika. Ek skat hy is so 55 jaar oud. Hy het ’n effense boeppens, seker van te veel suip en paartie hou. Sy oranjerooi borselkop word netjies in stand gehou in die Bolhuis-styl en sy bokbaardjie in die Jan Smuts-styl. Sy snor staan soos ’n koringkriek.
Hier sit die grootkonyn nou in al sy allemagtige glorie voor ons. Ben de Beer, besturende direkteur van Music Mania Management (MMM). Een van die magtigste rolspelers in die Afrikaanse vermaakbedryf. Hy het al selfs ’n goue erepenning van die FAK gekry vir sy bydrae tot die verryking van die volk se kultuurlewe.
De Beer babbel eenstryk deur soos ’n blouaap op ’n draaiorreltjie terwyl ons bladskud: Goeiedag, aangename kennis, warm dag, die pad was so besig van Sun City af, blablabla, die Absa Vuur & Vlam Music Awards was spectácular, Zander het drie pryse gewen, vir die beste sanger én die beste video én die beste albumverkope vir 20 Grootste Treffers, blablabla, die ander sangers was maar lekker cheesed off, julle weet hoe jaloers is die mense, kom ons bestel dadelik iets, ek kan ’n os verorber so honger is ek, gelukkig het ek darem al ’n stewige Bloody Mary of twee agter die blad, blablabla.
“Was daar nie vrae omdat Stander nie gisteraand daar was nie?” vra Rocky.
“Wel, die mense het gewonder,” sê De Beer. “Ek het toe maar die pryse namens hom in ontvangs geneem en gesê weens onvoorsiene omstandighede kon hy ongelukkig nie daar wees nie.”
’n Waiter wat soos ’n byspeler in True Blood lyk, bring die glas tien jaar oue KWV-brandewyn en ’n bottel mineraalwater wat De Beer bestel het.
“Cheers, kêrels,” sê hy en ons klink glasies. Hy bestel bief-carpaccio (R65) vir ’n starter en ek en Rocky bestel elkeen knoffelbrood (R20).
“Ag nee, kêrels, is julle dan nie honger nie?” vra De Beer na sy eerste sluk. Hy gee ’n ligte burp.
“Ons wil maar net seker maak ons het nog plek oor vir die main course en poeding,” sê Rocky.
Na nog ’n bietjie gekakpraat oor al die malkoeitjies en goue kalfies by Sun City die vorige aand begin ons De Beer uitvra.
“Het jy enige idee waar Zander kan wees?” vra ek. “Jy is sy bestuurder, jy help hom tog seker dagboek hou?”
“Hy was tot eergisteroggend nog in sy villa in die Mooikloof Estate in Pretoria-Oos. Hy sou gisteroggend saam met my na die Absa Vuur & Vlam Music Awards ry, maar toe ek by sy huis kom, was hy nie daar nie. Sy bediende het gesê hy was Donderdag nog daar. Ek het hom gebel, maar sy selfoon is nog heeltyd af. Wel, ek kon toe nie vir hom wag nie en het maar gery.”
De Beer vat nog ’n sluk van die brandewyn en rol dit eers in sy mond rond voor hy sluk, asof hy ’n groot fynproewer uit die Boland is. Sy oë raak waterig en die druppels wat op sy snor en bokbaardjie beland het, laat hom vir ’n flitsoomblik soos ’n otter lyk.
“Is hy met sy kar weg?” vra Rocky.
“Nee. Dit is wat my so dronkslaan. Al sy karre staan daar by sy huis. Ek is siek van bekommernis, want iets is nie lekker nie.”
“Was hy nie maar net lus om ’n bietjie weg te breek nie?” vra ek.
“Nee, hy het nog vir my gesê hoe belangrik die Absa Vuur & Vlam Music Awards vir hom is en hoe graag hy daar wil wees, want ons het natuurlik al voor die tyd geweet hy het drie pryse gewen.”
De Beer vat nog ’n slurpie brandewyn. Sy wange word al rooier. Hy gee weer ’n ligte burp, krap in sy baadjiesak, haal drie Rennies uit ’n boksie uit, prop dit in sy mond en kou dit so hard dat ons kan hoor hoe dit kraak.
“Het Zander enige vyande?” vra Rocky.
“Man, julle kêrels weet hoe gaan dit in die bedryf. Dis ’n dog eat dog-spul. Daar is ander kunstenaars wat jaloers is op hom omdat hy in Mooikloof bly en ’n GLK350 Mercedes-Benz én ’n BMW Z4 Roadster het. En omdat hy die meeste CD’s verkoop en so baie op televisie en radio en in die koerante en tydskrifte is.”
“Het hy vyande wat hom sou wil leed aandoen oor iets?” vra ek.
“Nie waarvan ek weet of waaraan ek kan dink nie, wat dit alles nog soveel vreemder maak. Hy is ook nie op sy plaas naby die Hartbeespoortdam nie. Ek het van die mense wat naby hom bly ook gebel en een ou het gaan kyk, maar daar is geen spoor van hom nie. En hoe sou hy buitendien sonder sy kar daar gekom het as hy soontoe wou gaan? Nee, ek sê julle, iets is nie lekker nie.”
Ek vat ’n groot sluk van my vodka en Red Bull.
“En Jacqueline Kriel?” vra Rocky.
“Ek het met haar gepraat. Sy weet nie waar hy is nie, sy het lanklaas kontak met hom gehad.”
“Het Zander tans ’n girlfriend?” vra ek.
De Beer kug en vat ’n sluk water. Sweet begin op sy voorkop druppel. “Man, julle weet hoe dit gaan. Ek gaan nie doekies omdraai nie, want dis ’n ernstige situasie hierdie. Baie girls bied hulle heeltyd op ’n skinkbord aan vir hom. En ’n man is maar ’n man. Hy het ’n paar vriendinnetjies, maar nie ’n vaste girlfriend nie, en hy het ook vir my gesê hy stel nie belang in ’n permanente verhouding met enige van die vriendinnetjies nie.”
“Sou een van hulle nie wraak wou neem oor iets nie?”
“Soos wat?”
“Enigiets. Dalk het een van hulle uitgevind hy het ook ander girlfriends,” sê Rocky.
De Beer dink eers ’n rukkie na, asof hierdie moontlikheid nog glad nie eens by hom opgekom het nie. “Dit is seker nie onmoontlik nie,” sê hy dan. “Julle manne weet tog hoe kan vroumense raak. Hy het my vertel toe een van hulle hom die eerste keer ontmoet het, het sy ’n stuk kougom wat hy in die asbak gesit het vir ’n aandenking gevat. Ek lieg nie vir julle nie. Hulle kan heeltemal obsessief raak.”
Die vodka en Red Bull begin hard met my en Rocky praat. Ons is op ’n roll.
“Gebruik Zander drugs? Suip hy?” vra Rocky.
“Glad nie!” sê De Beer en lyk asof hy pas in ’n stuk taai kak getrap het. “Dwelms is teen sy beginsels en ek het hom nog nooit dronk gesien nie.”
Ek is seker hy lieg vir ons. Ek kan dit in sy oë sien. ’n Ander gedagte skiet my te binne. “Is Zander een van die mense wat glo die wêreld gaan op 21 Desember vergaan?”
“Ek weet nie. Ons het nooit oor sulke dinge gepraat nie.”
Die waiter bring ons starters en ’n mandjie brood. Ek en Rocky bestel nog Red Bull en vodka en De Beer wil ’n double gin & tonic hê om die brandewyn mee te chase. Hy kan nie sy mes en vurk vinnig genoeg gryp om te begin eet nie, maar sien dan die waiter het vergeet om vir hom die dressing van olyfolie en suurlemoen te bring en kak hom eers uit daaroor. Die waiter verdwyn stert tussen die bene. De Beer vat ’n stuk brood, smeer ’n dik laag botter op, byt ’n stuk af en kou dat die krummels spat. Hy vee met sy vinger oor die stukkies botter wat op sy snor beland het en lek dit af.
“Is daar niemand wat Zander sou wou ontvoer om ’n losprys te eis nie?” vra ek. “Almal weet hy is stinkryk.”
“Wie sou so iets wou doen?” vra De Beer. “Ek het al my kop gebreek daaroor, maar ek kan aan niemand dink nie. En as dit so was, sou hulle buitendien al gebel het om te begin onderhandel.”
“Partykeer wag sulke ontvoerders eers ’n paar dae sodat die mense van wie hulle die losprys wil eis se senuwees goed gedaan is oor die persoon wat verdwyn het,” sê ek. “En as hulle dan bel, is dit vir hulle baie makliker om jou om hulle pinkie te draai.”
Die waiter bring die dressing. De Beer vee weer die sweet van sy voorkop af.
“Hoekom gaan jy nie polisie toe nie?” vra Rocky die miljoendollarvraag.
De Beer kou en kan nie dadelik antwoord nie. Sy oë laat dit lyk of daar skielik te veel dinge in sy kop begin aangaan. “Julle weet hoe useless die polisie is, ek het geen vertroue in hulle nie,” sê hy. “En ons moet baie versigtig wees dat die storie nie in die media uitlek nie.”
“Hoekom nie?”
“Dit sal te veel mense op hol jaag en dit sal nie goed wees vir Zander se openbare beeld nie. Buitendien vertrou ek nie joernaliste nie. Hulle sal enige stront gaan uitgrawe omdat hulle weet daar sal baie koerante verkoop as sy gesig op die voorblad is. En dit kan die soektog na hom meer skade doen as goed. Dit kan hom dalk nog in groter gevaar laat beland as wat hy reeds is. Lewensgevaar.”
“As hy nie reeds dood lê tussen die bosse iewers langs ’n highway nie,” sê Rocky.
De Beer kug ongemaklik en lê weer weg aan sy starter. Die knoffelbrood proe nie te kak nie en laat my skielik so honger soos ’n wolf voel.
“As daar ’n berig in die koerant is, sal ’n lid van die publiek hom sonder twyfel iewers gewaar en dan is jou probleem mos een-twee-drie opgelos,” sê ek.
De Beer kou eers klaar en vee dan die vet- en sousspatsels op sy snor en baardjie met sy servet af voor hy antwoord. “Ek wil self eers ’n idee hê van waar Zander kan wees voordat ek sal besluit of ek die media wil betrek. Ons moet eers vasstel hoe groot die gevaar is. Ek wil geen kanse vat en geen risiko’s loop nie. Ek wil hom lewend terugkry, nie dood nie.”
Na die voorgereg bestel ons die main course. De Beer bestel ’n sirloin surf & turf (garlic with white wine sauce and topped with butterflied tiger prawns, sien ek op die spyskaart), Rocky die potroast lamb shank (roasted in white wine, olive oil, lemon zest & rosemary) en ek die oxtail (gently simmered in pinotage). Fokkit, ek kan nie onthou wanneer laas ek sulke kos geëet het nie. Ek voel soos ’n fokken koning. As ons daarvoor moet betaal, is ons diep in die kak.
“So, wat doen ons nou, kêrels?” vra Ben.
“Jy moet almal bel wat hom ken en by hulle hoor wat hy alles die afgelope tyd vir hulle gesê het,” sê ek.
“Maar ek het al! En dit het niks opgelewer nie.”
“Dink mooi. Daar is altyd nog iemand aan wie ’n mens nie gedink het nie. Ek is seker hy het ’n groot vriendekring. Jy kon onmoontlik aan almal gedink het. En die oomblik as jy iets hoor, laat weet jy ons. Het jy toegang tot sy rekenaar?”
“Nee, ek ken nie sy passwords nie. Sy laptop is nog daar by die huis. Niks is gesteel nie.” De Beer bekyk ons en krap sy baard. “So, sal julle help soek?”
“Ja,” sê Rocky.
“En waar gaan julle begin?”
“Ons sal vanmiddag ’n plan van aksie uitwerk en jou voor vanaand bel,” sê ek. “Die belangrikste is om vas te stel met wie hy almal die afgelope paar dae kontak gehad het.”
“En ons moet business praat,” sê Rocky. “Ons charge R25000 per dag en ’n deposito van R25000.”
“Ek sal die deposito gee, en R25000 per dag nét as ek tevrede is met julle werk en as julle resultate lewer,” sê De Beer. “En ek betaal julle eers as die saak afgehandel is. As ek nie tevrede is nie, is die deposito terugbetaalbaar. Ons kan dit nie bekostig om droog te maak nie. Maar ek het vertroue in julle, julle lyk na netjiese kêrels en die inligting op julle website maak ’n goeie indruk.”
Die waiter bring die main course. Ek het nou al wragtag wings van al die vodka en Red Bull. Die oxtail ruik out of this world. Ons val dadelik weg.
Die ete spin voort soos ’n merry-go-round wat buite beheer tol. Tussen sy gekou en gesluk deur vertel De Beer juicy skinderstories oor sangers wat nie in Music Mania Management se stal is nie. Ons bekke hang oop. Sy maag skud soos hy lag wanneer hy vertel wie van hulle al watter soort katte in die donker geknyp, gekielie en geskiet het. Dis ’n verhaal van kokaïen, owerspel, vinnige karre, seksuele teistering, dronkenskap, swinging, buite-egtelike kinders en skelm knippies met groupies wat van die sangers al crabs en sifilis laat kry het.
“As ek alles wat ek weet vir die koerante moet gee, sal hulle miljoene verkoop,” sê hy. “Die mense sal hulle ore en oë nie glo nie.” Hy vat ’n toothpick en krap in sy mond waarin twee goue tande soos kroonjuwele sit. Dan tuit hy sy lippe asof hy ’n baba ’n soentjie wil gee en spoeg die stukkies vleis wat tussen sy tande vasgesit het in die bord voor hom.
“Gelukkig kan jy niks van hierdie dinge sê oor my kunstenaars nie. Ek het die cream van die crop, want ek het hulle al die tricks of the trade mooi geleer. Hulle weet hoe om die media om hulle pinkies te draai.”
Ek het vicious chillies in die oxtail gegooi en dit voel of my kop draai van al die gepraat en lawaai en geklienk-klienk-klienk van messe en vurke en lepels en koppies en glase in die Butcher Block Executive Grill.
“Nou sê my, wat is julle kêrels se agtergrond?” vra De Beer. Hy tel weer ’n toothpick op en begin in sy mond krap.
Nou moet ons fokken vinnig dink sonder om ’n oog te knip.
“Ons was eers in die polisie,” sê ek. “In die vice squad. Ons het besluit om te bedank en vir onsself te begin werk, want dit sou ons mal gemaak het om by die SAPD te bly.”
“Shifts van tot 24 uur,” help Rocky my uit. “Tot honderd dockets op ’n slag. Niemand kan so werk nie.”
De Beer spoeg weer stukkies vleis in sy bord en krap verder met die toothpick in sy mond.
“Te min patrolliekarre, kollegas wat hulle vrouens en kinders doodskiet en selfmoord pleeg, ’n gesukkel met die howe …” sê ek en vat die laaste sluk van my vodka en Red Bull.
“En toe besluit ons om saam ons eie PI agency te begin,” sê Rocky. “The Third Eye. Ons het die background en experience, al die contacts en net die beste informers.”
Dit lyk of ons kakstorie ’n diep indruk op De Beer maak. Toe die waiter die borde kom wegvat, bestel hy konjak in koffie en ek en Rocky Amarula-likeur. Hy gaan weer aan oor Zander Stander. Niks onderduims aan daardie man nie, verseker hy ons, niemand kan ’n vinger na hom wys nie, hy is ’n toonbeeld van moed, integriteit en respek en hy was ook nie om dowe neute hoofseun op skool en kaptein van die eerste rugbyspan en primarius van die Helshoogte-manskoshuis in Stellenbosch nie, sulke dinge sê tog iets. Zander weet hy het te veel om te verloor as hy sou kak aanjaag: sy mansion in Mooikloof, sy strandhuis in Umhlanga Rocks, sy plaas by die Hartbeespoortdam, sy sponsorships, sy karre, sy aanhangers, sy aansienlike inkomste, sy vlekkelose reputasie.
Die waiter bring die rekening. Rocky maak asof hy woes na iets in sy broeksakke soek. “O gaats, ek het my debit card by die huis vergeet!” sê hy en probeer sy bes om ontsteld te klink.
“En ek het net R100 cash op my,” lieg ek.
“Moenie worry nie, kêrels, dis op my,” sê De Beer. Hy betaal met ’n goue kaart en ons ruil foonnommers uit. Hy vat Rocky se bankrekeningnommer en belowe om die R25000 voor vanaand nog op die internet oor te plaas.
Dan groet hy en skud ons hande asof iets van groot belang pas gebeur het.
“Fokkit, ek weet glad nie wat om te dink nie,” sê ek vir Rocky toe ons weer in die pad val in sy 1999 VW Golf. “Hoekom vertrou hy ons sommer net so?”
“Toe hy my gisteraand gebel het, het hy gesê sy sekretaresse het The Third Eye se website raakgesien en hom daarvan vertel. Hy het gesê hy het al geleer om haar instink te trust, sy werk nie verniet al dertig jaar vir hom nie.”
“Have you ever. Die arme sot.”
“Ek scheme let’s give it a go,” sê Rocky. “Let’s take the money and run.”
“One time, bru.”
Ek kyk op my foon of daar voicemails en SMS’e is. Daar is ’n voicemail van ’n hoogs ontstelde Dora de Wet: “Lambert, my seun het mevrou Erwee toe gaan haal. Sy is nou alleen by die huis, so jy moet sorg dat jy so gou as moontlik by haar uitkom. Ek sal so gou ek kan ook self ’n ogie gaan gooi daar. Ek voel nie gerus nie.”
“Kan ons op pad Brixton toe inpop by my ouma in Fietas?” vra ek vir Rocky. “Sy is nou alleen by die huis en ek moet check of sy en die diere kos en water het en oukei is. Beauty, haar bediende, is Oos-Kaap toe vir Desember.”
“No sweat, meneer De Wet.” Hy draai in Oxford Road af en vat kortpad op die M1.
“Ek is nie ’n fokken De Wet nie!” sê ek.
“Whatever, man,” sê Rocky. “Ek terg jou net.”
“So, wat gaan ons nou doen? Wat is ons plan van aksie?”
“Ons moet vanmiddag research doen oor De Beer en Music Mania Management op die internet. Ons moet soveel information kry as wat ons kan. As ons klaar is by jou ouma, kan ons na my flat toe gaan, dan kan ons ook sommer ’n paar goed uitprint.”
“Ja, dit klink na ’n goeie plan.”
Ek krap tussen die paar CD’s in Rocky se cubbyhole en kies Grace Jones se “Corporate Cannibal”. Ek probeer ’n prentjie van die mensvreter sien wanneer die beat begin.
“Dis ’n kwaai song,” sê Rocky. “Gooi ’n bietjie full volume daar.”
Die mensvreter in die song sluip nader. Die beat is soos die stamp-stamp-stamp van sy pote. Hy het bloed geruik. Hy kan nie genoeg kry nie. Hy is ’n masjien. ’n Mensvretermasjien. Bid vir my, beveel hy, bid vir my dat ek nog prooi kan kry, ek kan nooit genoeg kry nie. Wanneer hy uiteindelik ’n slagoffer gryp, laat die skreeuende electric-kitaarsolo dit voel of dit jy self is wat aan jou nek geruk en in bloederige stukke verskeur word. En wanneer jy klaar opgevreet en uitgekots is, beveel hy weer in ’n diep fluisterstem: Bid vir my, bid vir my, bid vir my …
2.
Oubaas spring soos ’n mal ding op en af teen die muur voor my ouma se huis toe ons stilhou. Hy swaai sy stert so dat ek bang is dit val af. Hy probeer sy kop tussen twee van die hoë ysterpale bo-op die muur druk, maar dit is te hoog en hy donder op die grond neer.
“IEMAND HET ’N LAPPOP OP DIE ASHOOP WEGGEGOOI!” bulder Pik toe ons die sitkamer binnekom. Hilda het deur die nag weer aansienlik baie onder die krismisboompie gekak. Die boompie lê onderstebo. Ek sit dit weer regop. Die plastiekengeltjie het in een van Hilda se plasse slap stront beland. Die hele plek stink. Ek tel die engeltjie op en gaan spoel dit af in die wasbak in die kombuis.
Oubaas en Hilda trippel om my rond. Ek gooi vir hulle pellets in hulle bakkies. Gggrrrts-gggrrrts-gggrrrts vreet hulle asof hulle veertig dae lank in die woestyn gevas het. Ek gaan maak die plastiekengeltjie weer vas aan een van die hoogste takke van die krismisboompie.
“Wie is daar? Wie is daar?” roep my ouma uit haar slaapkamer. Daar is vrees in haar bewerige stemmetjie. Ek gaan na haar kamer en gaan staan by die deur sodat sy my nie kan sien nie.
“GÉ KORSTEN!” sê ek in ’n diep stem.
“Wie? Wie?”
“GÉ KORSTEN, TANNIE!”
“Gé! Ek glo dit nie! Is jy dan nie al dood nie?” vra sy.
“NEE, TANNIE, EK BRING ROSIES.”
Ek gaan die kamer binne. My ouma kan nie sien nie, want sy het nie haar bril op nie.
“Kom sit hier langs my dat ek mooi kan hoor wat jy sê, Gé.”
Ek gaan sit by haar. Sy kyk my op en af, maar dis duidelik dat sy nie weet wie ek is nie. Al die katarakte op haar oë laat almal seker maar soos Die Skim of gorillas in die mis vir haar lyk. Ek stel liewer nie voor dat sy haar bril moet opsit nie. Die lense is buitendien vuil en stowwerig. Ek praat in ’n veel dieper stem as normaalweg en probeer my gat af om soos Gé Korsten te klink. “Ek het gehoor Tannie lê hier siek en alleen en het toe besluit om u ’n bietjie te kom opcheer.”
“Ag, ou Gé, maar dis tog te dierbaar van jou!” sê my ouma terwyl ek wonder of Gé ’n woord soos opcheer sou gebruik. “Nou maar hoe gaan dit nog met jou?”
“Voor die wind, Tannie, voor die wind, en met u?”
“Ag, ek lê maar hier eensaam en alleen en vergaan, maar gelukkig weet ek darem ek sien my geliefdes een van die dae in die hiernamaals.”
“Dit is darem iets om na uit te sien, Tannie.” Ek moet hierdie storie nou vinnig kortknip. Ek is nie lus vir haar gesanik nie.
“Ag, ou Gé, wil jy nie asseblief vir my ‘Ek kyk graag so diep in jou oë’ sing nie?”
“Nie vandag nie, Tannie! Ek het net gekom om te sê moenie bang wees omdat die wêreld Vrydag vergaan nie. Dink net aan my as ek ‘Lied van die lewe’ sing en u sal sommer weer spiekeries voel.”
“Ag, ou Gé, maar ek is baie dankbaar om dit te hoor! Kyk tog ’n bietjie hier op die kassie langs my bed of my bril nie hier lê nie sodat ek beter kan sien hoe jy lyk.”
“Nee, hier is nêrens ’n bril nie. Ek wil maar net sê Tannie moet vasbyt, want dis ook maar al wat ons kan doen, solank Tannie net nie deurbyt en die spit afbyt nie, verstaan Tannie wat ek bedoel?”
“Maar ek het lankal nie meer my eie tande nie, Gé.”
“Dit maak nie saak nie, Tannie, want u sal steeds die soete vrugte kan proe.”
“Ag, baie dankie, Gé. Jou mooi woorde beteken so baie vir my. Sal jy my kom haal as die hiernamaals kom?”
“Ja, Tannie. Maar ek moet nou gaan. Rus nou lekker.”
“Ag dankie, ou Gé! Wil jy nie net my hand ’n bietjie vashou voor jy gaan nie?”
Ek vat my ouma se bewerige, eelterige hand met blou are daarop in myne. Die vel is dun en gekreukel soos papier wat wil skeur.
“Moenie bang wees nie, tannie. Wees net rustig en kalm. Daar is niks om voor bang te wees nie. En o ja, daar is goeie nuus. Pik is terug van die veearts! Ek sal sy hok hier in die kamer kom sit voordat ek gaan sodat julle lekker kan gesels.”
“En Diana? Is sy al terug?”
Ek het skoon van haar vergeet. Ek maak maar liewer of ek niks weet nie, want net nou kom sy agter ek is nie Gé Korsten nie. “Diana?” vra ek.
“My kat wat al van Dinsdag af weg is.”
“Ek het haar nie gesien nie, maar ek is seker sy sal sommer gou weer terug wees.”
“Die arme kat is ook nie meer haarself vandat my mannetjieskat, Charles, dood is nie. Ek hoop maar net niemand ry haar dood nie.”
“Moenie bekommerd wees nie, Tannie. Alles sal reg wees. Slaap nou eers ’n bietjie.”
“Ag, ou Gé, as jy so sê, is dit reg so. Dankie, ou seun, jy is ’n engel.”
“Ek weet, Tannie. Nou maar totsiens!”
“Ag, ou Gé, wil jy nie gou vir my ‘Liefling’ sing voor jy gaan nie?” vra my ouma.
“Nee, my keel is seer, Tannie, ek het ’n lastige hoesie!”
“Ag, maar gee my dan tog net ’n ou soentjie voor jy gaan, toe?”
Fok tog! Ek druk my mond op my ouma se koue, droë lippe en hou dit ’n paar sekondes daar.
“Totsiens, ou Gé! Kyk daar in my badkamer is ’n bottel hoesmedisyne, kry vir jou gerus ’n slukkie vir jou hoesie.”
“Dankie, Tannie. Totsiens!”
Ek is uitasem. Ek gaan maak my ouma se badkamerkassie oop, haal die 250 ml Lenazine Forte uit wat ek gister vir haar gekoop het en vat ’n paar groot slukke.
“VOORWAARTS MARS!” bulder Pik toe ek sy hok vat. “OP DIE PLEK RUS!” sê hy toe ek dit in my ouma se kamer neersit.
Rocky het intussen vir ons koffie gemaak. Ons gaan sit op die trappies by die kombuisdeur. Oubaas en Hilda kom uitgehol om te pis en te kak.
“Ek het nie ’n clue waar de fok ’n mens na Stander moet begin soek nie,” sê ek en vat ’n sluk koffie.
“Ek het mos gesê ons moet vanmiddag na my flat toe gaan en research doen oor De Beer en Music Mania Management op die internet,” sê Rocky.
“Ek voel heeltemal out of my depth, bru. Die maklikste sal wees om Stander as vermis by die polisie aan te meld.”
“Ja, maar jy het mos gehoor De Beer wil dit nie doen nie.”
“Dit klink vir my maar bra fishy, if you ask me.” Ek vat weer ’n sluk koffie.
“Ja, daaroor sal ek nie met jou kan disagree nie.”
Oubaas lê in die son en lek sy balle. Hilda loop snuffel-snuffel deur die agterplaas.
“Waar sou ’n genuine private investigator met so iets begin?” vra ek.
“Seker ook maar research. En ’n ou moet dit net step by step vat, one thing at a time.”
“Ja, dis seker al wat ’n mens kan doen.” Ek drink my koffie klaar. “Fok, ek moet nou dringend ’n kak gaan vang. Dalk sal dit my help om beter te dink.”
Ek staan op en gaan na my ouma se toilet. Een van die honde het op die matjie gekots. Ek gooi dit in die wasgoedmandjie. Op die toilet staan ’n poppie in ’n oranje-wit-en-blou hoepelrok wat my ouma gehekel het en waaronder sy haar toiletrolle bêre. Ek het die poppie Pussy Galore gedoop.
“Jis, ou Pussy,” groet ek haar toe ek my broek aftrek. “Ek sien jy staan darem nog punt in die wind, poplap.”
Ek gaan sit en probeer my gedagtes agtermekaar kry. My kop begin nou lekker oop raak van die Lenazine Forte en die koffie. Ek druk hard, maar niks gebeur nie. Speel ek en Rocky nie met vuur nie? wonder ek.
Ek druk weer hard.
Plons!
Salige verligting. Ek voel skoon duiselig. Ek sien sterretjies.
Ek druk weer hard. My maagspiere trek so styf dat dit voel of hulle wil skeur. Ek knyp my oë toe.
Plons!
Ek maak nie my oë oop nie. Dit voel skielik of ek sommer vanself begin mediteer. Die sterretjies verdwyn. Dit voel of ek sweef en smelt gelyk.
Ek loop leeg.
En leeg.
En leër.
Ek voel soos Dr. Nirvana, die oppermeester van insig, kalmte en ware lewensgeluk.
Befok. Hou dit net so.
Ek druk weer.
PLONS! Dit was ’n lekker grote.
Dan sien ek dit.
Die lig.
Dis fokken helder.
Dr. Nirvana fluister die antwoord in my oor.
Ek is skielik so opgewonde dat ek nie vinnig genoeg klaar gekak kan kry nie. Dr. Nirvana vertel my wat die eerste bal is wat ek en Rocky aan die rol moet kry.
By Volkshol het ek op baie stories saam met die misdaadverslaggewer Beyers Eybers gegaan. Hy is ’n moerse nice ou. Sy kop is reg aangeskroef. Ons eerste stap moet wees om hom ’n tip-off te gee sodat daar môre so op die blou Maandag ’n berig in die koerant is waarin bespiegel word oor Stander se verdwyning. Volkshol se deadline is vanaand halftien. Ek sal hom so sewe-uur bel sodat hy nie genoeg tyd sal hê om te veel rond te bel en inligting uit te vis nie en net die basics van die storie het. Ons het genoeg tyd tot sewe-uur vanaand om uit te werk presies wat ons vir Beyers gaan sê. En as die storie môreoggend in Volkshol is, sal al die wurms vanself uit die blik begin peul en ons werk vir ons sommer baie makliker maak. En Beeld sal die storie dan sonder twyfel ook optel en follow-ups doen totdat Stander opgespoor word.
Ben de Beer sal natuurlik big time in sy broek kak as daar môre ’n berig in Volkshol is. Hy kan ons dadelik van die case af vat en ons kan al daai bucks verloor. Maar ons moet maar net die risiko vat.
Ek vee my af en flush die toilet. Pussy staar droomverlore voor haar uit, haar gesiggie die ene onskuld.
“Wie is daar? Wie is daar?” klink my ouma se krakerige stem soos iets uit die fliek The Mummy: Tomb of the Dragon Emperor op. Haar kakhuis maak so ’n lawaai as jy dit flush dat sy wakker geword het van al die gerammel, geratel, gespoel en gesuis.
Ek spuit air freshener en gaan na haar kamer toe.
“Wie is daar?” vra sy toe ek instap.
“DIE HIEFEL EN DIE FIEFEL EN DIE HAHAHA!” bulder Pik.
“Hallo, Ouma, dis ek, Malletjie!”
“Lammetjie! Ouma is so bly om jou te sien! Waar was jy?”
“Ek het gewerk, Ouma. Ons is baie besig. Maar ek het gou kom kyk of Ouma orraait is.”
“Ag, my kind, maar dit is dierbaar van jou. Ek het die hele dag baie ellendig gevoel, maar ek het so ’n verrassing gekry: Gé Korsten het by my kom kuier, en nou voel ek sommer stukke beter.”
“Ek is bly om dit te hoor, Ouma.”
“Ja, my kind, maar hy kon ongelukkig nie lank bly nie, jy kan ook maar dink hoe ’n besige man hy moet wees. Ek hoop maar net hy kom gou weer kuier.”
“Ek gaan gou vir Ouma iets maak om te eet,” sê ek. “Gesels maar solank ’n bietjie met Pik. Ek bring nou-nou die kos.”
“U IS INGESKAKEL OP RADIOSONDERGRENSE,” kondig Pik plegtig aan. My ouma is skielik die ene ore. “HIER VOLG DIE NUUS.”
In die kombuis kyk ek wat daar nog alles in die yskas en kaste is. Hier is wragtig nie veel nie. Ertjies in ’n blikkie, ses eiers, ’n bietjie maalvleis met ’n blouerige kleur en brood wat al groen begin raak. Ek sal so gou as moontlik groceries moet gaan koop wanneer De Beer die deposito inbetaal, want met die R450 wat ek oor het, sal ek lank voor krismis al poer in my ouma se eendvoël se moer wees. Ek sit die ketel aan, sit brood in die toaster, maalvleis en eier in die pan en maak die ertjies warm. Ek roep vir Rocky om hom te vertel wat die plan van aksie is wat Dr. Nirvana aanbeveel het.
“Nee hel, ek weet nie so mooi nie,” sê hy toe ek klaar is.
“Dit sal ons baie help, bru. Al die slange in die gras sal vanself uitgekruip kom sonder dat ons iets hoef te doen, jy sal sien. En dit sal vir ons allerhande leads gee wat ons kan opvolg.”
Hy dink ’n rukkie na.
“Oukei, hoe meer ek daaroor dink, hoe beter klink dit,” sê hy dan. “Deal.” Ons highfive mekaar.
“EN NOU IS DIT TYD VIR WOLWEDANS IN DIE SKEMER!” dawer Pik toe ek terug is in die kamer. Ek help my ouma om regop te kom.
“Ag, ou Lammetjie, maar dis te dierbaar van jou!” sê sy. “Wil jy nie net gou my tande hier in die bakkie langs die bed kry en vir my insit nie?”
Haar valstande lê soos Dracula se gevreet vir my en gryns. Dit lê in grys, slymerige water in die bakkie. Ek haal dit uit en skud dit af dat die druppels die wêreld vol spat en vee dit met ’n tissue af. Dan is dit ’n gespook en gespartel en gespoeg en gekwyl soos ek dit in haar kakebene probeer pas. Uiteindelik glip dit goddank in.
My ouma is nie meer so bewerig soos gister nie, maar ek hou maar liewer die vurk vir haar vas en probeer die kos by haar mond ingewerk kry. Dit lyk nie juis of sy honger is nie. Na drie klein happies het sy genoeg gehad.
“Ai, my kind, dit sal darem ’n seën wees as ons Vrydag weer by al ons geliefdes is,” begin sy weer soos ’n plaat wat vashaak.
Ek is fokweet nie nou lus vir haar praatjies nie. Ek en Rocky het fokken baie werk om te doen. “Kom, Ouma, drink nou jou tee!”
Slurp-slurp.
“Ai, Lammetjie, maar dis lekker tee! Dankie, my kind,” sê sy na die eerste slukkie.
“Dis ’n plesier, Ouma.”
“Ai, my kind, is mevrou-dominies De Wet darem nie ’n engel so reg uit die hemel nie?” vra sy ná die laaste slukkie. “Ek weet nie wanneer laas het iemand vir my ’n ou presentjie gebring nie.”
“U IS INGESKAKEL OP SIEMBAMBA!” sê Pik vrolik.
“Ouma, ek moet nou gaan. Ek sal vanaand weer kom kyk of alles reg is.”
“Ag, my kind, ek wil tog nie nou alleen wees nie,” sê sy klaerig.
“Dit kan nie anders nie, Ouma! Ouma moes nie vir Beauty afgegee het om Oos-Kaap toe te gaan nie. En ek het baie werk. Ek sê mos ek sal vanaand weer kom inloer. En Oubaas en Hilda sal hier by Ouma op die bed kom lê en Pik is ook hier.”
“Ai tog, my kind, as jy so sê dan is dit seker so …” sê sy in ’n temerige stemmetjie wat daarop gemik is om die grootste moontlike hoeveelheid simpatie uit my te tap.
“DAAR KOM DIE ALIBAMA!” bulder Pik.
“Hoesê, ou Pik?” vra my ouma.
“DAAR KOM DIE FOKKEN ALIBAMA!”
“Waar, ou Pik?” My ouma beur orent om by die venster uit te kyk.
“Pik praat kak, Ouma, moenie na hom luister nie!”
“Hoesê, Lammetjie?”
“OOR DIE SEE, OUMA, DIE ALIBAMA KOM OOR DIE SEE!”
My ouma sak terug op haar bed en sê ek moet vir Pik weer in die sitkamer gaan sit, want sy wil ’n bietjie slaap. Oubaas en Hilda spring op haar bed en gaan lê by haar voete. Ek sê koebaai en vat Pik se hok.
“RAMAJA!” kry hy die laaste woord in toe ek die voordeur agter my en Rocky toetrek. “TOORDOKTER RAMAJA!”
3.
Terug in Rocky se flat rol ek ’n joint terwyl hy vir ons boegoetee maak. Dan krap ek tussen sy CD’s en sit Kolja Gerstenberg se remix van Nick Cave & The Bad Seeds se “Red Right Hand” op, want die beat sit altyd ’n moerse skop in ’n ou se kop. Ek steek die joint aan en vat ’n vet pull.
“Ons moet kyk of ons iewers boegoebrandewyn kan kry,” sê Rocky toe hy die tee bring.
Ek vat my koppie, gee die joint vir hom en hou my neus naby die tee om eers daaraan te ruik. “Dis darem die befokste reuk in die hele wye wêreld.” Ek trek my asem diep in en hou dit ’n ruk lank in. “Dis amper soos ’n mindfuck van sy eie.”
“Veral as ’n ou stoned is. So, kan jy imagine as jy die brandewyn in plaas van die tee drink …”
“Genoeg om jou weer pure perd te laat voel, tril in die wind. En boegoelikeur is net so kwaai,” sê ek.
“Wanneer ons die deposit van De Beer kry, moet ons beslis ’n bottle store gaan soek wat dit sal hê.”
“Dit sal befok wees. Dan kan ons dit gaan drink by die Boegoeberg se dam waar die meisies hulle koekhare in die maanlig kam.”
“Hahaha,” lag Rocky. “Waar kom jy daaraan?”
“Dis ’n ou Afrikaanse liedjie. Ek kan nie die tune onthou nie.”
Rocky sit sy laptop aan en sê ek moet dit vat, want ek tik vinniger as hy. Ek gee die joint weer vir hom en tik Ben de Beer se naam in op www.linkedin.com.
“Aha, dis pretty obvious dat sy tentakels dieper en wyer strek as wat ons gedink het,” sê ek. “Music Mania Management het moerse opnameateljees in Randburg en Kaapstad, en ook ’n verspreidingsmaatskappy wat nie net MMM se CD’s en DVD’s in die winkels kry nie, maar ook al die ander maatskappye s’n.”
“Klink soos ’n monopoly right out of Dynasty, if you ask me.”
“Hier staan ook De Beer sê Donald Trump en Bill Gates is sy rolmodelle.”
“Ga!” lag Rocky en vat ’n diep pull van die joint.
Ek vat nog ’n sluk van die tee en tik www.musicmania.co.za in. “Liewe jirre, dis nog erger as wat ons gedink het. Hier is ’n lys van al die dienste wat MMM bied: musiekopnames, programmering, verskaffing van agtergrondsnitte en agtergrondstemme; en konseptualisering, verfilming en verspreiding van musiekvideo’s en lewendige vertonings vir DVD, insluitende klank en beligting. Hier staan hulle bied ook dienste aan vir feeste en landboutentoonstellings: springkastele, narre, kulkunstenaars, seremoniemeesters, beoordelaars vir talentkompetisies, DJ’s, grafiese ontwerpdienste, buitemuurse baniere, vlae, T-hemde en verskeie ander soorte klere met jou handelsmerk op, korporatiewe geskenkpakke, VIP tags, verhoogstilering en dekor, markiestente en kopieskryf, webbladontwerp en radio-advertensies.”
“Goeie moer, meneer Koekemoer,” sê Rocky en gee die joint weer vir my. “Dis enormous.”
“Nou kan ek verstaan hoekom hy ’n musiekmagnaat genoem word. Hier staan ook MMM behartig die eksklusiewe bestuur van die kunstenaars Zander Stander, Janita de Wit, Nico Lourens, Japsnoet, Tom Blom en Ramkat.”
“Weet jy van hierdie mense?”
“Ek het hulle al op TV gesien en in koerante en tydskrifte van hulle gelees. Janita is die volk se blonde langbeen-liefling. Hulle kan net nie genoeg van haar kry nie. Elke keer as sy pregnant is, stuur sy foto’s van haar kaal maag vir die Afrikaanse tydskrifte sodat hulle dit op hulle Facebook-blaaie kan post. Sy het haar sonarfoto’s ook al daar laat post.”
“Holy shit, Brad Pitt,” sê Rocky en vat die joint weer by my.
“Nico Lourens vat songs wat hits op Eurovision was en skryf Afrikaanse woorde daarvoor. Japsnoet word ’n kletsrymer genoem op MMM se website.”
“Wat is ’n kletsrymer?”
“’n Rapper.”
“Jirre, kletsrymer klink darem kak.”
“Ja, dit klink soos iets wat ’n klomp tannies in ’n kombuis doen. Anyway, Japsnoet is nie regtig ’n rapper nie. En jy moet sien hoe sy music video’s lyk. Dis soos ’n Brakpan version van die Playboy Mansion. Daar is net girls in bikini’s en G-strings waar jy kyk, tiete en boude vir Afrika. En daar is rumours dat Japsnoet nie eers into chicks is nie.”
“Wat vertel jy my nou, Riekie Louw …”
“Ek het al van Tom Blom se songs ook oor die radio gehoor. Hy sing oor hoeters en toeters en skoeters en chicks wat sulke lekker goeters is.”
“Jirre, Malletjie, ek laaik dit as jy Afrikaans praat as jy gerook is,” sê Rocky.
“En Ramkat is ’n boy band. Die oomblik wanneer hulle begin sing, vorm doudruppels spontaan op al wat ’n donsdosie is. Hulle verbeel hulle hulle is Suid-Afrika se eie One Direction en trek ook soos hulle aan.”
“Crazy shit, meneer Smit …”
Ek tik De Beer se naam in op nuus24.com se argiewe en vertel vir Rocky waarop ek alles afkom.
“Ben de Beer het twee van die grootste Afrikaanse musiektoere in die geskiedenis georganiseer – die Fantastiese Vier en die Asemrowende Agt. ’n Ander promotor het die Groot Vyf en die Sewe Wonders gedoen, maar De Beer wou nog groter gaan as hy. Die shows is gehou by Caesars Palace, Montecasino, Carnival City, Emperors Palace, Club Mykonos in Langebaan, die Desert Palace in Upington, die Flamingo in Kimberley, die Garden Route Casino in Mosselbaai, die Goldfields Casino in Welkom, Graceland in Secunda, GrandWest in Kaapstad, Hemingways in Oos-Londen, die Thaba ’Nchu Sun in Bloemfontein, The Ridge in Witbank en die Tusk Rio in Klerksdorp. Almal uitverkoop.”
“Wie was die Fantastiese Vier?” vra Rocky.
“Zander Stander, Janita de Wit, Amoré de Boer en Nico Lourens.”
“Wie is Amoré de Boer? Is dit haar regte naam?”
“Nee, haar regte naam is Amanda de Bruin. Sy was ’n flash in the pan. Maar ’n beauty, al die mans wou haar spyker. Alice Ellis het my vertel sy het met die een of ander main konyn van die SABC getrou wat baie ouer as sy is en vir haarself deurbrake in die vermaakbedryf oopgestoot. Sy het ’n rol in ’n soapie gekry en só famous geword. Wag, laat ek haar gou google.”
“Hierdie joint is klaar. Sal ek vir ons nog een rol?”
“Absoluut!”
Heelwat inligting oor Amoré de Boer pop op die laptop se screen op.
“Ek sien hier eksklusiewe foto’s van haar stork tea is in Sarie gepubliseer en ’n artikel oor alles wat in haar klerekaste is in rooirose. Sy het besluit om ook te begin sing, want sy wou nog meer famous word.”
“So, is sy nog hot property?” vra Rocky.
“Nee, ek dink sy het basically van die scene af verdwyn.”
Ek maak die website van die Afrikaanse tabloid Jou Sonskyn oop en tik De Boer se naam by search in. Rocky steek die joint aan.
“Ek sien hier sy en die sugar-daddy is toe ná ’n paar jaar geskei. Haar CD’s het nou nie juis soos candy-coated kondome verkoop nie. Sy hang nog oral by al die sosiale funksies en launches en bekroningsgeleenthede uit sodat sy vir die social pages afgeneem kan word”
“Oh my word,” sê Rocky.
“Hier is ’n ander storie ook oor haar. Sy het vreeslik vet begin word en toe het die beroemde fashion designer Johan G. Kotze, wat al die jare haar rokke geborg het, gesê hy gaan dit nie meer doen nie, want dit raak te duur en daar is meer materiaal en arbeid nodig vir haar rokke as vir die maer sangeresse s’n. Amoré was verpletter en het begin suip.”
Rocky gee die joint vir my aan. Ek tik Ben de Beer se naam in by search.
“Ek kyk nou wat hier alles oor De Beer op Jou Sonskyn se website is. Ek sien hy is in ’n smerige skeisaak gewikkel met sy vrou, Elmari, wat in die 1970’s een van die topnetbalspelers in die land was, nadat sy hom in die bed betrap het met Melizane de la Bat, bekende skryfster van Afrikaanse seksgidse, erotiese fiksie en chick lit. De la Bat was op haar dag joolkoningin by die Universiteit van Pretoria en het ook die Ms Sparkle & Shine Gauteng-skoonheidstitel gewen. En sy en Ben is nou ’n item.”
“Holy cow, Rob Lowe,” sê Rocky.
“En ek sien hier is ’n ander storie oor ’n skandaal tydens die Asemrowende Agt-toer. Twee van die minder bekende sangers, Philip Fourie en Frikkie Ferreira, het vreeslik gesuip op die toer. Al die artists het met backtracks gesing, maar Frikkie Ferreira moes mime, want hy kon nie noot hou nie. Maar hy was by party shows so gesuip dat hy nie in tyd met sy eie liedjies kon mime nie. De Beer het toe gereël dat die ouens wat die beligting doen nie die spotlight te veel op Frikkie skyn nie, want die mense in die audience sou maklik kon agterkom hy is dronk en mime nie in tyd nie.”
“Goeie fok, meneer Spock,” sê Rocky.
“Maar dis nie die einde van die storie nie. Frikkie was woedend daaroor. Hy het toe vir De Beer daarvan beskuldig dat hy sy girlfriend een aand by ’n afterpaartie gebroeknaai het in die toilet en dat hy wat Frikkie is nog sal sorg dat De Beer ten gronde gaan.”
“Het daai website stories oor Stander?”
“Laat ek gou kyk. Nee wat, niks juicy nie. Net ou nuus oor sy troue en honeymoon, sy egskeiding, ’n paar sosiale foto’s. Niks wat suspicious lyk nie. Dit lyk of hy inderdaad een van daai squeaky clean tipes is.”
“Elke skoonma se wet dream,” sê Rocky.
Ons moet wikkel. Dit begin donker raak en ek het nie die ligte in my ouma se huis aangesit nie. Ek vra vir Rocky om sy printer met sy laptop te connect sodat ek die inligting op Music Mania Management se website kan uitprint en sommer ook ’n paar ander goed wat ons dalk later kan nodig kry. Toe ek klaar is, maak ons soos beesmis en val in die pad na Fietas. Ons het nie nou meer tyd om te hanna-hanna nie. Dis nou ’n geval van werk, want die nag kom fokken vinnig nader.
4.
Dit is al donker toe ons in Vrededorp kom. Die murasies van die afgebreekte geboue en huise lyk soos die setting vir ’n low budget zombie movie. De La Reystraat is besaai met papiere waarin olierige take-aways toegedraai was, Checkers-sakke en Pick n Pay-sakke en Pep Stores-sakke, Castle- en Coke-blikkies, die Styrofoam-bokse waarin Marius Bar & Restaurant hulle pap-en-lewer en pap-en-wors specials verkoop, en uitgeskeurde bladsye van The Daily Sun wat die homeless as kakpapier gebruik.
“Stop net gou by Fietas Supermarket daar by Plumbers Corner,” sê ek vir Rocky. “Ons moet ’n paar essentials kry.”
Ek gryp brood, melk, pilchards, koffie, tee, suiker, twee blikkies Huskies vir Oubaas en Hilda en ’n pakkie Princeton Filter. Ons pop ook by BR Liquor Store in om bier te koop.
“Fokkit, kan jy glo hoe duur hierdie bietjie goed was wat ons nou gekoop het!” sê ek vir Rocky toe ons terug in die kar is.
“Chill, bru. Wanneer De Beer die deposito inbetaal, gaan ons paartie like it’s 19fucking99.”
“Of more likely like it’s 21 Desember 20fokken12.”
Watse fancy kar staan nou hier voor my ouma se huis? ’n Silwerblink BMW, nie iets wat ’n mens aldag in Fietas sien nie, behalwe as jy die druglords sien verbyry.
Ons is skaars by die hekkie of Dora de Wet kom op ons afgepyl met Oubaas en Hilda kort op haar hoëhakke. Oubaas spring teen my op asof ek Sint Franciskus van Assisi is. Hilda gaan lig haar been teen die afgeskilferde tuinkabouter met die af kop en pis ’n goue straal.
“Lambert, waar was jy?” vra Dora. “Ek bel al die hele middag en niemand antwoord nie! Ek moes toe ry om te kom kyk hoe dit met mevrou Erwee gaan, ’n mens weet nooit of sy dalk dood hier lê nie. En dinge lyk glad nie goed nie. Sy het begin yl. Sy sê Gé Korsten het by haar kom kuier.”
“Maar is hy nie dan al dood nie?” vra ek.
“Ja!” sê sy.
“Sjoe, dan moet daar beslis ’n groot skroef los wees met my ouma. Het sy self die voordeur kom oopmaak?”
“Ja, en sy kon omtrent nie loop nie, die arme ding. Ek moes haar terughelp bed toe. Sy sê sy het nie die foon gehoor lui nie, want sy het geslaap. Is jy klaar gewerk? Kom jy hier slaap vanaand?”
Ek beduie met my hand na Rocky. “Dis Rocky,” stel ek hom aan haar voor, want die ou bitch maak asof hy nie bestaan nie omdat hy nie soos een van haar kerk se mense lyk nie en ’n sak vol bier by hom het. “En dis Dora de Wet.”
“Aangename kennis,” sê Dora koel en trek haar wange hol asof sy ’n krokodildrol suig.
“MY HART VERLANG NA DIE BOLAND!” bulder Pik toe ons by die voordeur ingaan.
Onder die krismisboompie lê ’n dooie rot. Sy kop is halfpad afgeruk en droë bloed koek om sy keel. Sy skerp tandjies smaail vir ons. My ouma se kat, Diana, is terug.
“Watse soort moord het jy in Krugersdorp gaan afneem?” vra Dora. “’n Plaasmoord? En is dit bekende mense wat dood is?”
“Dit was ’n gesinsmoord,” suig ek ’n storie uit my duim. “Vooraanstaande mense in die Wes-Rand se plaaslike kultuurgemeenskap. Gert en Rita Swanepoel, hy was ’n sakeman en sy ’n onderwyseres. Hy het haar en hulle drie kinders eers doodgeskiet en toe homself.”
Dora kyk my ongelowig aan. “Hoe verskriklik! Hoe tragies! Weet hulle hoekom hy dit gedoen het?”
“Nog nie. Maar die gerugte loop dik …”
Sy is nou die ene ore. “Soos wat?”
“Dat sy vrou hom verneuk het,” praat ek kak.
Sy snak na haar asem. “Met wie?”
“Met die kerk se orreliste.”
Dora is buite weste geskok. Dit lyk of sy ’n glasie suikerwater nodig het. Oubaas kom ingehardloop en pyl reguit op haar af.
“Vlooi! Siejy! Siejy!” skree sy. Oubaas steek in sy spore vas en draai om en kom snuffel aan my en Rocky.
“Sy naam is nie Vlooi nie, sy naam is Oubaas!” sê ek.
Ek gaan kombuis toe. Dora loop agter my aan.
“Ek sien jy het darem toe vir mevrou Erwee ’n paar goedjies gebring, Lambert,” sê sy en krap in die sakke toe ek dit op die kombuiskas neersit. Sy trek ’n suur gesig “Ag nee, werklik! Kan jy dan nie dink nie?” vra sy neus in die lug. “Mevrou Erwee sal mos nóóit op hierdie ou paar goedjies kan oorleef nie!” Tsk-tsk-tsk, klik sy haar tong. “En dan mors julle julle geld op drank en sigarette!”
Sy bly ’n oomblik stil. Daar is sweterige kolle onder haar arms en haar make-up het al begin afdop van die hitte. Sy gee ’n moedelose sug en dan babbel sy weer voort soos ’n styf opgewende music box wat net nie kan fokken einde kry nie. “Lambert, ek dink werklik jou ouma kan nie meer alleen hier bly nie. Dit is te gevaarlik en sy kan haarself nie meer help nie. Kyk net hoe gaan sy agteruit! Dit lyk vir my ook of sy net een keer op ’n dag eet en party dae sommer heeltemal vergeet om te eet. Sal sy ’n verpleegster kan bekostig wat by haar kom inwoon?”
“Nee, sy het nie genoeg geld nie. Sy leef op my oupa se Transnetpensioen. Dis R1500 ’n maand.”
“Hoekom so min?” vra Dora.
“Transnet het mos hulle pensioenfonds geplunder. Duisende mense is ingeloop. Hulle kry ook net so ’n 2%-verhoging elke jaar”.
Dora sug moedeloos. “In daardie geval sal jy hier moet kom intrek om haar te versorg. Daar is geen ander uitweg nie.”
“Ons kan haar altyd in Huis Hartelus sit,” sê ek.
“As sy nie eens ’n verpleegster kan bekostig nie, hoe dink jy sal sy ’n kamer in Huis Hartelus bekostig?” vra Dora.
“Dis ’n bleddie goeie vraag,” sê ek.
Sy maak die yskas oop. Daar is basies fokol in. “Nee, genade tog! So kan dit nie aangaan nie, a nee a! Jy sal dringend ’n plan moet maak dat hier genoeg gesonde kos vir jou ouma is, Lambert.”
“Ek gaan môre Pick n Pay toe om groceries te koop. Ons het net by die kafee gestop om kos vir vanaand te kry, ek het nie tyd gehad om winkels toe te gaan nie. Ons hardloop altyd soos mal goed rond by Volkshol,” probeer ek haar tjank aftrap.
“Volks-wát?” vra sy.
“Volksmond,” sê ek.
“Oopmond al die pad,” sê Rocky by die kombuisdeur.
“Uit een mond,” sê ek.
“Grootmond.”
“Uit die mond van die suigeling.”
“Dit laat my mond water,” sê Rocky.
“Tussen die hand en die mond val die pap op die grond.”
“Waarvan praat julle tog alles? Mevrou Erwee lê op sterwe en julle sit hier en ginnegaap en hou julle op met ligsinnighede!” sê Dora geïrriteerd.
“EK DRA MY ROKKIES KORT!” bulder Pik.
Dora skrik haar gat af.
“OM TE KYK WAT VAN MY WORD!”
“Ai, ou Pollie, hoe laat jy my nou skrik!” sê sy.
Pik gee haar ’n vuil kyk.
“Sy naam is nie Pollie nie, sy naam is Pik,” sê ek.
Dora maak of sy my nie hoor nie en sê sy moet huis toe gaan, sy is gedáán na die lang dag.
Diana pyl by die voordeur in toe ek dit vir Dora oopmaak.
“Wat ’n pragtige kat is Diana tog nie!” sê Dora. “Sulke spierwit katte laat my altyd aan suiwer onskuld dink.”
“LIEF BLOMPIES IN DIE MAANSKYN …” sê Pik toe ek die voordeur agter Dora toestoot. “SLAAP LANGS DIE SILWER STROOM.”
“Jirre, wat ’n koei is daai vrou tog nie,” sê Rocky.
“Eerder ’n malkoei wat haar verbeel sy is ’n heilige koei, if you ask me.”
“ELK KNIKKEND MET SY KOPPIE,” gaan Pik voort, “SO SEKER EN SO VROOM.”
“Jy moenie vergeet om daai ou by Volkshol te bel nie, Malletjie.”
“Ek sal nou. Ek wil net eers vir die diere kos gee.”
Oubaas en Hilda trippel om my en gee tjankies van opregte blydskap terwyl ek vir hulle Husky inskep. Hulle is seker ook al so gatvol vir pellets. Hulle vreet asof dit krismis op die Knersvlakte is. Diana trek haar neus op vir haar pellets en spring by die venster uit.
Ek bel vir Beyers en vertel hom ek het toevallig gehoor daar is gisteraand by die Absa Vuur & Vlam Afrikaanse Music Awards by Sun City vreeslik geskinder oor hoekom Zander Stander nie daar was nie en dat ’n betroubare bron vertel het hy het spoorloos verdwyn. Beyers byt hook, line en sinker aan die sappige brokkie inligting en sê hy sal ’n bietjie rondbel, dit klink na iets wat hulle beslis in môre se Volkshol sal wil hê, hulle sal sommer ’n hele paar duisend koerante meer verkoop.
“Ek dink ons kan nou doen met ’n joint,” sê Rocky toe ek en Beyers klaar gepraat het.
“Glad nie ’n slegte idee nie. Rol vir ons een.”
“OLKA BOLKA RIEBIEKIE STOLKA!” sê Pik.
Rocky rol die joint, steek dit aan en vat ’n paar lekker diep trekke.
“Ek het ’n blink plan,” sê hy en gee die joint vir my aan.
“Wat?”
“Kom ons maak Pik gerook!”
“Nee hel, Rocky, is dit nie dieremishandeling nie?”
“Nee, man, dis harmless. Komaan, blaas ’n bietjie rook oor hom uit.”
Ek vat ’n diep pull, dieper as wat Linda Lovelace in Deep Throat ooit van sou kon droom. Ek hou die rook vir vyf tellings in, staan op en gaan blaas dit oor Pik se hok uit. Die rookwolk lyk soos spookasem wat gespin word.
Pik lyk hoogs die donder in wanneer die pong hom tref. Sy vere tril en hy kry ’n Nazi-agtige uitdrukking in sy oë. Dit lyk of hy op sy stokkiebeentjies wil begin marsjeer. As hy nie in sy hok was nie, sou hy nou wragtig ons oë uitgepik het so afgepis is hy. “EN HOOR JY DIE MAGTIGE DREUNING!” bulder hy.
“Fokkit, Malletjie, dié papegaai het darem ’n moerse vocabulary,” sê Rocky.
“Dis omdat hy al jare lank elke dag saam met my ouma RSG luister en TV kyk.”
“VANAAND GAAN DIE VOLKIES KORING SNY!” Pik wikkel sy rooi stertvere en pof sy bors.
Ek maak of ek doof is en hou my hand bak agter my oor. “Hoesê, my ou voël?”
“MY GELIEFDE HANG AAN DIE BITTERBESSIEBOS!”
“Pik is nie ’n papegaai nie, my ou,” sê Rocky. “Hy is ’n mens in ’n papegaai se body, jy weet soos ’n mens ’n vrou in ’n man se body kry.”
“Pik is nie transgender nie, if you ask me, ek scheme hy is transhuman.”
“Hy is totally fucking awesome, bru. Hy’s ’n genius.”
“Ek het al soms gewonder of hy nie dalk die reïnkarnasie van Siener van Rensburg is nie.”
“Vra hom!”
Pik doen ’n lawwe waggelstappie en probeer om op sy regterpoot te staan.
“Pik, is jy die reïnkarnasie van Siener van Rensburg? Wat sien jy alles?”
Pik hou sy kop skeef asof hy stemme in sy gedagtes hoor en dwaalgeeste sien dans. Hy begin gevaarlik wieg op sy stok in die hok en probeer om op sy linkerpoot te staan. Hy maak asof hy my nie hoor nie.
“Huh, Pik, wat sien jy?” por ek hom aan.
“DIE DONKIE IS ’N WONDERLIKE DING!”
Pik verloor sy balans en gryp die stok met sy een poot vas en swaai ondertoe en dan weer regop, soos ’n woer-woer in slow motion, gryp die stok met sy ander poot ook vas en probeer sy waardigheid herwin. Hy pof sy bors soos ’n Baie Belangrike Persoon.
“EK SIEN ’N NUWE HEMEL KOM!”
“En wat nog, Pik? Wat sien jy nog?”
Nou het hy skielik stilstuipe. Die ou donder het dit seker by my ouma geleer.
Ons moet aan ’n manier dink om hom weer aan die praat te kry. Ek hoop nie hy is op die punt om uit te pass nie.
Ek gee die joint vir Rocky en tik Siener van Rensburg Predictions op Google Search op my foon. Ek lees van sy visioene vir Rocky en Pik: “Ons parlement sit daardie tyd. Dit het gereën en die gras word groen, en dan word dit wit en droog en net sodra die gras weer vir die tweede maal groen word, dan kom daar drie blou briewe in die parlement in. Die moframme staan met hulle koppe bymekaar, maak planne en wette.”
“OOR DIE VELD KOM DIT WYD GESWEEF!” trek Pik weer los.
“Thank heavens, hy is weer met ons,” sê Rocky. “Dalk was hy net in ’n trance.”
Ek lees verder: “As die eerste blou brief kom, begin die moframme rondwoel. Met die tweede blou brief begin die moframme rondspring en met die derde brief spat hulle uitmekaar en vlug uit die Kaap. Ek sien die volksraadslede kom haastig huis toe, vlugtend want ek sien hulle as makoue.”
“Fok, dit klink soos Animal Farm of iets,” sê Rocky.
“Nee hel, dis Grieks vir my,” sê ek. “Dalk kan Pik vir ons ’n bietjie lig daarop werp.”
Rocky blaas nog ’n bietjie rook oor hom.
“Pik, wat sien jy?” vra hy.
“’N AARDE NUUT EN VRY!”
“En wat nog?”
“BRAAIVLEIS, RUGBY, SONNESKYN EN CHEVROLET!”
Ek scroll ondertoe en kom op ’n ander visioen af: “Aan die westekant is ’n vark wat skoongemaak word van hande met messe. Die vark word opgelig deur die hande. Toe is my hand ook by en die vark kom verby na die ooste en hang aan ’n haak. Die vark raak weg en daar hang ’n skaap wat die vel van af is.”
“Holy crap,” sê Rocky. “Dalk het die oom malpitte gevat.”
“HULP VAN DIE HULPELOSE STAAN MY BY!” krys Pik.
Ek lees verder. “Dan sien ek ’n vark hang aan die haak in Engeland. Dit raak daar weg en dan sien ek hom weer in Johannesburg hang, en dan word hy wors gemaak. Die wors hang in die Kaap aan die parlementstoele en ek eet daarvan. Die wors hang daar in die parlementshuis om vir my te wys dat dit ’n regverdige saak is.”
“Hel,” sê Rocky. “Dit klink heavy involved.”
“Kan jy imagine as dit boerewors was en nie varkwors nie.”
“Ja, dit sal die picture heeltemal verander.”
Skielik maak alles vir my sin.
“As ek so na Pik luister, klink dit vir my of hy die einde van die wêreld voorspel.”
“Ek scheme jy is spot-on, Malletjie.”
“Wat gaan hierdie week gebeur, Pik?” vra ek. “Gaan die wêreld Vrydag vergaan?”
Pik pof weer sy bors, skud sy vere en lyk of hy op aandag wil staan om ons te salueer.
“DAAR IS KAK IN DIE LAND VAN KANAÄN!” bulder hy met woede en onverbloemde afgryse in sy oë.