4. Die hiefel en die fiefel en die hahaha
1.
Ek en Rocky is nog nie mooi wakker nie toe ons ry om Beyers by Mega-Media in Braamfontein te kry. Ons funksioneer op auto mode soos die hi-tech cyborgs in Terminator 3: Rise of the Machines. Daar is vroegdag al ’n geruis en ’n gedruis, ’n getoet en ’n gespoed, ’n geskarrel en ’n gedwarrel, ’n geraas en ’n gehyg en geblaas. Op pad rook ons ’n joint om wakker te word.
MegaMedia se glaskasteel, wat onder almal wat daar werk as die Toring van Waarheid bekend staan, duik oplaas voor ons op. Dit troon soos King Kong se stywe slympiel die lug in. MegaMedia gee ’n kakhuis vol koerante en tydskrifte uit. Wanneer die son op die gebou skyn, verblind die ruite jou so dat dit voel of jy skeel kyk. Een van die ouens wat saam met my retrench is, het daar afgespring omdat hy gedink het hy sou nie meer vir sy vrou en kinders kon sorg nie.
As jy by die Toring van Waarheid instap, voel dit of jy in ’n hospitaal is waar mense vir nuclear radiation behandel word. Die lifts lyk van binne soos die silwergrys yskaste in die staatslykshuis. Kort voor ek retrench is, het die lugreëling gebreek en niemand het dit reggemaak nie. Die droë, bedompige lug het almal wat daar werk stadig maar seker van hulle rockers af laat gaan sonder dat hulle dit agtergekom het. Kort voor lank was ’n gebitch en gekla en gekerm en gehoes en geroggel al wat jy dag en nag in die allemagtige Toring van Waaragtigheid kon hoor. Kieme al die pad. Pesbeheer is lanklaas ontbied omdat daar nie geld daarvoor is nie, met die gevolg dat kakkerlakke in die kombuise rondkriewel, vrot rotte in donker hoekies geruik word en vreemde goggas onder die uitgetrapte, deurgeskifte matte uitkruip en almal byt dat hulle des moers jeuk, en dit maak nie saak hoe hulle krap en krap en krap nie, die gejeuk gaan net nie weg nie. Boonop lek die piskrippe in die manstoilette sodat die vloere vol taai plasse is wat aan jou skoene vaskleef en jou soos ’n rioolrot laat voel as jy daar klaar is. Daar is mense wat al hul hele lewe in die Toring van Waaragtige Naarheid werk. Die managing director is altyd lief om vir sy kruipende onderdane te sê dat dit nie soos ’n job is om vir MegaMedia te werk nie, maar ’n leefwyse. Ek is diep dankbaar dat ek nie meer my dae in die Toring van Waarheid hoef te slyt totdat daar niks meer van my oorbly nie, die Here weet. Daar word jy net opgevreet en uitgespoeg.
Beyers wag al vir ons. Ons parkeer en wip in sy kar in. Ek check die koerante se posters uit op die pale langs die pad terwyl ons ry.
The Star
BUTCHERED
GIRL’S VOICE
FROM
THE GRAVE
Beyers druk ’n flashdrive met musiek van Die Antwoord in sy kar se front-loader. ’n Vinnige beat begin. Dit is serious, giftige shit hierdie. Sexy boyz … fancy boyz … Playboyz … bad boyz … fluister Yo-landi Vi$$er dringend. Dan begin ’n baie vet beat baie heavy bons. Dit voel of die dag skielik lewe kry. I fink u freeky and I like u a lot!
Sowetan
ZUMA HAS
NO BRAIN – JUJU
Die beat wat so pomp-pomp-pomp, skop ons wawydwakker. Yo fuk da rat race! My style is rap-rave! Ons hang aan Yo-landi Vi$$er se lippe. My krew is kak-fre$, so who da fuck cares what u fucking fink. I’m da type of chick who rolls with spif giftige misfits!
Beeld
TERGENDE
VRAE OOR
SANGER
Dan raak die beat skielik stadiger en onheilspellend en begin Ninja rap, en dan bou die beat weer stadig op, en dan al hoe vinniger en vinniger. Jump muddafukka! Jump muddafukka jump! Jump muddafukka! Jump muddafukka jump!
Volksmond
MA EN TWEE
KLEUTERS
AFGEMAAI
Na ’n rukkie vat Yo-landi weer oor. Nou why u loer en kyk gelyk? Is ek miskien van goud gemake? U want 2 fight? U come 2night! Ek moer jou sleg! Jy hardloop weg!
Daily Sun
TOKOLOSHE
RAPED
MY MAN!
Die beat tel weer heavy spoed op en die bass pomp fókken diep. To my sexy boyz … and my fancy boyz … and my Playboyz … and my bad boyz … and my pretty boyz … and my ugly boyz … and my naughty boyz … I fink u freeky and I like you a lot!
Ons sal by Ultra City in Midrand stop vir koffie en brekfis, sê Beyers, dan kan ons sommer ’n Beeld kry en kyk wat hulle oor Stander te sê het.
Dan speed ons op die highway. Karre, taxi’s, lorries, paramedic- en polisiekarre, bakkies wat mobiele kakhuise sleep, karre van die metro se Disaster Management, aasvoëls wat in sleepwaens langs die pad sit en wag vir ongelukke om te gebeur, windgatte op brullende motorfietse en nog ’n metrokar van Health and Social Development, met die nommer van die Anti-fraud Hotline op die agterste venster, blits verby met son wat flits op metaal.
Goddank ry ons nie in een van Volkshol se skedonke nie, want die meeste van die goed waarmee hulle verslaggewers moet ry, val uitmekaar. Beyers weier om sy lewe so in gevaar te stel en eis eerder petrolgeld terug, al wil Volkshol se breinlose boontjietellers altyd in hulle broeke kak daaroor.
Beyers vertel ons wat hy alles intussen oor die Brandwag Orde uitgevind het. Hulle glo die inhuldigingseremonie van die Nuwe Wêreld orde gaan op 21 Desember plaasvind. Hulle noem hulle god die Oppermeester. Hulle glo daar moet ’n volksaltaar opgerig word, want die Elohiem het so gesê. En dat alle verraaiers uitgewis moet word. Hulle verwys na die internet as Die Dier.
Jirre, dit klink way-out. Wie is Elohiem? En wie de fok is die Nuwe Wêreldorde? Ek bêre dié vrae maar vir later, want dis moeilik om ’n sinvolle gesprek in Beyers se kar te voer terwyl Die Antwoord speel. Boonop sit ek agter en is daar twee speakers reg agter my. Dis anyway lekkerder om na Die Antwoord te luister as om te bespiegel oor waar de fok Zander fokken Stander in al hierdie kak inpas en ek zoem eerder in op die lekker beats.
DJ Hi-Tek will fuck u in da ass! DJ Hi-Tek will fuck u in da ass u punkass white boy! DJ Hi-Tek will eat your asshole alive bitch! I’ll fuck u till u love me faggot, fuck u till u love me! bulder DJ Hi-Tek aan die einde van die hit “Fok julle naaiers”.
“Hahaha, dis mos wat Mike Tyson eenkeer op ’n perskonferensie geskree het vir ’n wit joernalis wat hom geïrriteer het,” sê ek.
“Ja, dis een van die classics op YouTube,” sê Beyers.
“Dink net watse fun dit sal wees as die Springbokke ook so met sportverslaggewers begin praat,” sê Rocky.
“Net wat die land nodig het,” sê ek.
Uiteindelik is ons by die Ultra City. Ek en Rocky gaan ATM toe terwyl Beyers ’n Beeld gaan soek.
“De Beer het die R25000 inbetaal!” sê Rocky opgewonde. “Ek trek sommer solank R3000 vir running costs. Great!”
Ons kry vir Beyers by Steers en koop koffie en burgers. Ons kan ’n King Steer Combo koop eerder as die goedkoopste special op die menu noudat De Beer die deposito betaal het, thank heavens for small mercies. Ons gaan sit buite by een van die tafeltjies.
“Beeld het met Zander se pa en ma gepraat,” sê Beyers. “Volksmond was weer vas aan die slaap.” Hy vou die koerant oop oor die tafeltjie sodat ek en Rocky ook kan sien. Daar is ’n groot kleurfoto van meneer Riempies (75) en mevrou Bokkie Stander (72). Oom Riempies se mond hang en hy het kringe onder sy oë. Tannie Bokkie se oë is rooi gehuil en sy klou ’n foto van haar beroemde seun vas. Hulle is net so in die duister oor waar hy kan wees as die res van die land. Hulle smeek hom om hulle te bel sodat hulle kan weet dat hy veilig is. Hulle het hom as vermis by die polisie aangegee en wil hê sy selfoon- en ATM-rekords moet nagegaan word.
Beeld berig verder die raaisel oor Stander se verdwyning het verdiep omdat daar nog geen leidrade is oor waar hy hom kan bevind nie. Al sy karre staan nog by sy mansion in Mooikloof en daar word vermoed dat hy saam met iemand anders daar weg is. Hy kon dus nie gehijack gewees het nie, maar die moontlikheid van ontvoering word nie in hierdie stadium uitgesluit nie. Al die lykshuise en hospitale in Gauteng is gefynkam en dit het niks opgelewer nie.
Stander se bestuurder, die impresario Ben de Beer, is ook totaal in die duister en buite homself van bekommernis, lui die berig verder, want Stander is veronderstel om in Februarie op ’n eksklusiewe vaart van die TV-program Jukebox op die spogskip Symphony of the Seas te gaan waar die publiek die kans kry om in die glans van hul helde en heldinne se glorie te baai. Daar is groot kommer dat sy verdwyning besprekings vir die plesiervaart ’n knou sal gee. Die toerisme-agentskap kan honderdduisende rande verloor.
Terug op die highway sit Beyers 702 aan om nuus te luister. Jacob Zuma het op die ANC se kongres in Bloemfontein gesê korrupsie moet met wortel en tak uitgeroei word. Adam Lanza, die twintigjarige man wat verlede Donderdag eers sy ma doodgeskiet het en daarna twintig kleuters by ’n skool in Connecticut met 154 skote uit ’n Bushmaster XM-15-E2S afgemaai het, was verslaaf aan gewelddadige computer games wat hy dag en nag in die kelder onder sy ma se huis gespeel het. Daar is bewerings dat hy geboelie is op skool. Daar is ook messe en ’n kakhuis vol ammunisie in die kelder gekry.
“Ek het nou die dag in die koerant gelees teen die tyd dat youngsters agttien word, het hulle al gemiddeld 16 000 moorde in hulle lewe gesien, of dit nou in movies of computer games of op die internet of TV is,” vertel ek vir Rocky.
“Goeie bliksem,” sê hy. “Vandag se youngsters het almal Xbox-breins, lyk dit vir my.”
Die nuusleser lees ’n berig oor ’n beraad wat oor klimaatsverandering gehou is. Daar word voorspel dat El Niño-weerverskynsels, wat tienduisende mense op ’n slag kan uitwis, in die 21ste eeu gaan verdubbel en dat daar baie meer vloede en droogtes gaan wees. Dan is dit tyd vir die ekonomiese nuus. Kenners sê inflasie en die prys van kos en petrol gaan so die hoogte inskiet in 2013 dat die meeste mense net armer en armer gaan word en die punt sal bereik dat hulle nie eens meer die basics sal kan bekostig nie.
Fokkit, ek wil nie meer aan al hierdie kak dink nie. Ek haal my foon uit my sak, maak die TunedIn-app oop en kies die radiostasie 94.9 Nova Sauvagine, want hulle speel altyd befokte musiek. Ek lê skuins oor die agtersitplek en maak my oë toe.
Ek moes aan die slaap geraak het, want toe ek weer sien, is dit al 45 minute later en is ons nie meer op die highway nie. Dit raak al hoe warmer. Die son bak genadeloos neer. Dis genoeg om ’n mens se brein soos roereier in ’n oorverhitte pan te laat voel.
“Waar is ons?” vra ek.
“Tussen die Hartbeespoortdam en Brits,” sê Beyers.
“Wat is hierdie plek waar ons moet wees en waar is dit?”
“Die Blou Bul Bush Pub. Dis tussen die Krokodil- en Mogalakwena-rivier.”
“Ek hoop jy weet hoe om daar te kom. Het jy jou GPS ingestel?” vra ek.
“My GPS kan dit nie opvang nie, maar ons kan vir iemand in Brits vra.”
Soos Jerusalem omring is deur berge, is Brits omring deur graniet-, chroom-, magnesium- en ysterertsmyne. Nader aan die dorp is fabrieke vir Afrika, soos Camil Chemicals, die Universal Motor Manufacturing Corporation, Noordwes Staal en die hoofkwartier van Buffalo Security. Beyers besluit om deur die dorp te ry sodat ons die plek ’n bietjie kan uitcheck. Voor die Best End Butchery staan ’n groot delivery truck waarin bloederige karkasse hang. Ons ry verby Boutique Sunrise en die Brits Gearbox Centre, die Excitement Store en Harties Onderdele, Railway Liquor, Rainbow Exhaust, die Blommemandjie en die Bokmakierie Troeteldierwinkel.
Ons draai terug in Hendrik Verwoerd Avenue en stop by die Van Riebeeck MultiSave Supermarket. Beyers gaan vra die pad na die Blou Bul Bush Pub by die till. Ek kyk na al die voorblaaie op die tydskrifrak. Die perfekte haarstyl en Kan jou selfoon jou siek maak? staan op Finesse s’n en 50 mistakes not to make in bed op die nuwe Cosmopolitan s’n. Huisgenoot kondig aan: Sexyste sepiesterre – hier is ons Top 10! Een van rooirose se opskrifte is Ek het ’n engel gesien! – Lesers vertel. Op Men’s Health s’n staan The Porn Identity: How smut rewires your brain. En op Lééf met hart & siel s’n Ster-styl: Sprankel in vintage-sjiek!
Ons val weer in die pad. Buite Brits, op pad in Thabazimbi se rigting, is die enkelpad erg opgefok met potholes net waar jy kyk. Elke vierde of vyfde paal langs die pad staan skeef. Die slap kragdrade hang op plekke gevaarlik laag, selfs heeltemal tot op die grond. Daar is fokken baie lorries wat stadig aankarring en giftige dampe uitblaas en heeltyd kom 4X4’s en taxi’s soos besetenes van voor af aangejaag sodat jy jou gat af moet sukkel voor jy die lorries kan verbysteek en eers goed naar word van al die stink rook en dampe.
Look on the bright side, Malletjie, sê ek vir myself. Al die veld is vrolik. Die son skyn dat die biesies bewe. Die grasse en struike staan heldergroen en hoog op die vlaktes. Hierdie wêreld is ’n struikrower se droom. Op die horison lê die Strydpoortberg en ver voor ons in die noorde die Waterberge soos versteende drake wat ’n beauty-sleep vang.
So ’n kilometer nadat ons oor die Krokodilrivier gery het, moet ons links afdraai op ’n grondpad. Ons is nou baie naby. Na so tien minute se ry, sien ons die Blou Bul Bush Pub se uithangbordjie. Dit is kort voor twaalfuur.
“Ons moet die mense onder geen omstandighede laat agterkom dat ons rondsnuffel nie,” sê Beyers. “Hulle mag nie weet wie ons is nie. As hulle hoor ek is van Volksmond, sal hulle toeslaan en my tien teen een wil donder. Dis belangrik dat ons in hulle goeie boekies moet kom.”
“Wie sal ons sê is ons dan?” vra Rocky.
“Ons sal maar vinnig aan iets moet dink.”
Die plek is glad nie die verpoepte ou agtertangse gehuggie wat ek verwag het nie. Die kroeg is in die vorm van ’n moerse rooibaksteenrondawel met ’n ronde grasdak op dik boomstompe. Buite is ’n lapa wat omring is deur bome wat lang skaduwees gooi en waarin voëls so te kere gaan dat dit klink asof hulle hoogs die moer in is en mekaar se oë wil uitpik. Binne is dit halfdonker. Die kroegtoonbank is in ’n hoefystervorm en daar is ook ’n paar houtbankies waar mense kan sit. Hier en daar staan lanterns op vensterbanke. Teen die een muur is ’n klomp stokou gewere en aan ’n ander een hang drie geraamde rugbytruie met die windgat handtekeninge van rugbygode daarop. In die een hoek is ’n helse flat screen TV waarop ’n ou krieketwedstryd gewys word. Die klank is afgedraai. Oor speakers wat skuins teen die dak teen die boomstompe vasgemaak is, speel Thys die Bosveldklong se “Sagte ronde stywe boude” op die maat van ’n tacky boemtjiekieboem-skommelritme. Hy sing daai boude is die rede hoekom hy met die vrou wou trou.
Eenkant flikker ’n stukkende neonbord wat Jack Black-bier adverteer. Teen die muur agter die middelste deel van die kroegtoonbank staan bottels Klipdrift- en Commando-brandewyn, Red Hot-rum, Barclaysen Jack Daniels-whisky, Smirnoff-vodka, Captain Morgan Spiced Gold, Jose Cuerva Especial-tequila, Zappa-sambuca en Jägermeister.
Drie stewig geboude mans in two-tone-hemde, kakiekortbroeke en Grasshoppers sit aan die een punt van die toonbank en gesels met die kroegman, wat op ’n haar na soos Steven Seagal in Under Siege 2: Dark Territory lyk. Hulle hou op praat wanneer ons binnekom en kyk ons agterdogtig aan. Ons gaan sit aan die anderkantste punt. Dit voel of ons in ’n weird movie is.
Die kroegman stap oor na ons toe. “Wat kan ek vir julle gooi?” vra hy.
Ek en Rocky bestel Black Label en Beyers ’n Windhoek Lager Light.
“Waar kom julle vandaan?” vra hy toe hy die bottels en glase voor ons neersit.
“Johannesburg,” sê ek.
“A, Sodom en Gomorra!” sê die kroegman. “En wat bring julle na hierdie wêreld toe?”
“Ons is ’n boy band,” sê ek op die ingewing van die oomblik. “Ons is op toer.”
Beyers kyk my skeef aan. Dit lyk of Rocky wil uitbars van die lag, maar hy hou homself in.
Die kroegman se gesig helder op. Dis seker ook nie aldag dat beroemde popsterre in die Blou Bul Bush Pub uithang nie.
“Watse boy band?” vra hy.
Fok, nou moet ek glad en vinnig en flink dink. “Ons naam is Kappityt.”
Dit lyk of Rocky wil verstik aan sy bier. Hy beter nou kophou en saamspeel. Die drie mans aan die ander punt van die hoefyster luister aandagtig na elke woord wat ons sê.
“Ek is Willem Wessels, aangename kennis,” sê ek vir die kroegman.
“Hans Henning,” sê hy en druk my hand dat ek die beentjies hoor kraak.
“En dit is Steyn Stegman en Constand Coetzee,” stel ek Rocky en Beyers aan hom voor.
“Lekker plekkie wat julle hier het,” sê Beyers.
“Ek’s net die barman, ek’s nie die baas nie,” sê Hans.
“Wie is die baas?” vra Rocky.
“Gys Lourens.” Hans kyk op sy horlosie. “Hy kom gewoonlik eers so eenuur, twee-uur in. Wil julle eet? Wil julle die pub menu hê?”
“Nie nou al nie. Dalk ’n bietjie later,” sê Beyers.
“Maar kom sit daar by ons en gesels, ouens,” sê Hans. “Vir wat wil julle nou hier eenkant sit?”
Ons vat ons glase en skuif na die ander punt toe. Hans stel ons voor aan Buks Barnard, Daan Swart en Manie Brits. Barnard is ’n beesboer van die omgewing, Swart is geretrench by Telkom in Thabazimbi en Brits is ’n Afrikaans-onderwyser van Potchefstroom wat op vakansie is en met sy vrou en kinders by sy swaer, ’n tabakboer, op sy plaas Rykdom in die omgewing kuier.
Hans kan nie ons name onthou nie en ons stel onsself voor.
“Willem Wessels,” sê ek.
“Steyn Stegman,” sê Rocky.
“Constand Coetzee,” sê Beyers.
“Hulle is ’n beroemde Afrikaanse boy band,” sê Hans vir die drie.
“Nie boy band nie, Hans, seunsgroep,” sê Manie Brits.
“Hulle naam is Kappityt en hulle is op toer,” sê Hans.
“Ag kak, man, dit kan nie wees nie,” sê Buks Barnard. “Ek het hulle dan nog nooit gesien nie. En al hierdie boy bands is buitendien ook almal ’n spul moffies!”
“Was julle al op televisie?” vra Daan Swart.
“Ons is ’n nuwe groep,” sê ek. “Ons eerste CD kom eers in Februarie uit. Ons ry juis ’n bietjie hier in die Bosveld rond omdat ons ’n plek soek waar ons ons eerste video kan skiet.”
“Verfilm, meneer Wessels,” sê Manie Brits. Sy gesig is suur en bleek en sy hare is spoggerig gekam. Hy lyk soos ’n ware laventelhaan. “Jy skiet ’n bok of jy skiet spek, maar jy verfilm ’n video.”
Ek gee hom ’n vuil kyk. Hierdie mannetjie moet nou nie die verkeerde pot kies om in te pis nie. Hy moet oppas of ek strip my moer vir hom en gee hom ’n taai snotklap dat dit oor sy silwer snorretjie spat.
“Watse soort plek soek julle?” vra Daan Swart.
“Ons record company sê dit moet soos ’n Japsnoet-video lyk, dus soek ons ’n plek met ’n lekker groot swembad waarin ’n klomp girls in bikini’s kan pas,” sê Rocky.
“Nie record company nie, maar platemaatskappy,” sê Manie Brits. “En nie girls nie, maar meisies.”
“Ag, Manie, hou tog op met jou kak!” sê Buks Barnard hoogs geïrriteerd.
“Maar hulle verkrag Afrikaans!” sê Manie Brits. “En hulle gaan rolmodelle vir ons kinders wees as hulle eers op TV is! Ons moet ons taal suiwer hou!”
Buks se attitude teenoor ons verander handomkeer. “Daar op my plaas, Dankbaarheid, is ’n lekker groot swembad, julle moet kom kyk, ek is seker dit sal perfek wees vir so ’n video,” sê hy.
“Nou maar goed, gee ons jou nommer,” sê ek, haal my selfoon uit en maak of ek sy nommer inpunch terwyl hy dit opsê.
“Skryf julle self julle liedjies?” vra Manie.
“Ja,” sê ek.
“Wie skryf die woorde?” vra hy.
“Ek.”
“Het jy darem Matriekafrikaans op jou naam?”
“Ek het ’n BA-graad.”
“Net ’n ou BA’tjie? Gmf.” Manie gee ’n ligte snorkie. “Maar dis seker beter as niks. Ek dink ’n mens moet niks minder nie as ’n meestersgraad hê as jy woorde vir Afrikaanse musiek skryf.”
“Ag, ou Manie, ontspan tog net ’n bietjie, demmit. Kom, kry vir jou nog ’n dop,” sê Buks en klap hom so hard op die skouer dat hy wip.
“Hans, kry daar sewe tequilas, een vir ons elkeen, dis op my,” sê Rocky.
Dit lyk of Manie wil teëpraat, maar voor hy nog ’n woord kan uitkry, sê Rocky: “En ons drink op volk en vaderland!” Dit lyk of sy woorde ’n baie diep indruk maak.
“Tjorts!” sê Daan wanneer elkeen sy glasie in die hand het.
“Slag ’n ystervark!” sê Buks. Sy kaalkop gloei gevaarlik rooi in die neonlig.
“Gesondheid!” sê Beyers.
“Cheers!” sê ek en Rocky.
Dit lyk eers of Manie nie syne wil drink nie, maar dan tel hy tog sy glasie op en sluk dit weg sonder om enigiets te sê. Hy is seker bang die manne dink hy is ’n softie. Hy haal sy dunraambril af voor hy die sout van sy hand aflek en trek sy gesig op ’n plooi wanneer hy die suurlemoen uitsuig. Van die sout en suurlemoendruppels beland op sy snor. Hy skud sy kop vinnig heen en weer asof hy ’n nat hond is, haal ’n sakdoek uit, vryf sy bril skoon en sit dit weer op sy krom neus.
Buite kom ’n moerse 4×4 in ’n stofwolk tot stilstand.
“Hier is Gys nou,” sê Hans.
Gys Lourens is bruin en taai. Hy dra ’n kakiekortbroek, Mr Price T-shirt met ’n Superman-motief en velskoene wat vuil is van die stof.
“Jis, ou Gys!” groet Buks. Gys Lourens blyk Manie en Daan ook goed te ken, want hulle groet soos ou drinkebroers. Dis net ou Gys voor en ou Manie agter en ou Daan bo en ou Buks onder.
“Kom ontmoet hierdie ouens, Gys, hulle is ’n beroemde boy band van Johannesburg, hulle naam is Knapsekêrels,” sê Buks.
“Kappityt,” sê ek.
“Hulle is op toer en soek ’n plek om ’n video te maak, dalk kan hulle dit sommer hier kom doen, dan kan ons almal daarin wees,” sê Daan.
“Maar ek het mos gesê hulle kan dit daar op Dankbaarheid kom doen!” sê Buks en gee Daan ’n vuil kyk. “Wat lol jy nou?”
Gys Lourens skud ons hande geesdriftig, hy sien sweerlik al klaar prentjies in sy kop van watter goeie publisiteit ’n musiekvideo vir die Blou Bul Bush Pub kan wees. Hy smaail breed asof hy reeds die geklingel van goud en silwer kan hoor.
“So, waar tree julle orals op op hierdie toer van julle?” vra hy. “Ek het nêrens posters van julle ouens gesien nie.”
“Ons is nie op ’n tipiese toer nie,” sê ek. “Ons is ook betrokke by welsyn en liefdadigheid en help om geld in te samel vir sopkombuise vir armblankes in plakkerskampe. Ons gaan sien ’n klomp sakemanne in verskillende dorpe om te help. En as hulle nie geld kan gee nie, vra ons hulle om kos te skenk.”
My woorde maak ’n diep indruk op almal. Rocky en Beyers konsentreer hard om hulle in te leef in die storie wat ek spin, want as hulle die plot verloor, gaan ons vandag nog dik gebliksem word hier, there are no two ways about it.
“Julle kan ook gerus geld insamel vir die naasbestaandes van die slagoffers van plaasmoorde,” sê Daan.
“Daar is reeds sangers wat dit doen, daarom moet ons op iets anders fokus,” praat ek vlot kak sonder om twee keer te dink. “Ons record company het gesê dis altyd goed vir ’n mens se beeld om so iets te doen wanneer jy aan die begin van jou loopbaan is. En nadat die platebaas in die koerant gelees het armblankes kry nie meer welsyntoelaes van die regering nie, het hy gesê dis die gaping wat ons moet vat.”
“Maar ons doen dit natuurlik in die eerste plek vir die liefde vir die saak en nie vir publisiteit nie,” sê Beyers.
“Ons doen dit vir volk en vaderland,” sê Rocky. “Ons lewe in moeilike tye.”
“Hoor-hoor,” sê Daan en vat nog ’n sluk van sy dop.
“Nee, maar dit klink my julle manne se koppe is reg aangeskroef,” sê Buks. “En julle lyk darem ook nie vir my soos moffies nie.”
“Dis hoekom ons hier in julle geweste is,” sê Beyers. “Ons soek nie net ’n plek om die video te maak nie, ons wil graag ook kontak maak met die Brandwag Orde om te hoor of hulle ietsie kan afknyp vir ons welsynprojek. Ons het gehoor hulle leier het ’n plaas hier rond.”
“O, ou generaal Gert Gelderblom,” sê Gys. “Hy is een van die grootste beesboere in die streek. In die ou Suid-Afrika was hy hoog op in Militêre Intelligensie.”
“Misgewas!” sê Hans.
“Wat is daai groot plaas van hom se naam nou weer? Is dit nie Wildevoëlvlei of Bitterfontein of so iets nie?” vra Daan.
“Nee, man, jy dink aan Gerrie Germishuizen se plaas, Daan,” sê Buks. “Wildevoëlvlei is meer daar na Maboloko se kant toe. Gert se plaas se naam is Gemoedsrus en dis meer daar in Mamogaleskraal se koers.”
“My swaer sê Gert het ook aandele in Meat Masters,” sê Manie.
“Wie is Meat Masters?” vra Beyers.
“Die grootste verskaffer van bulk supplies in die noorde van die land,” sê Gys. “Hulle verskaf en versprei al die vleis vir omtrent al die take-away plekke in Noordwes en Limpopo en biltong en droëwors vir al die tuck-shops by petrolstasies. Gert is ook ’n groot steunpilaar van Vleissentraal.”
“Nie bulk supplies nie, maar massavoorraad,” sê Manie. “Nie take-away plekke nie, maar kitskos-eetplekke, nie tuck-shops nie, maar snoepwinkels.”
“Manie, laat staan nou jou kak!” sê Buks. “Jy is nie nou by die donnerse skool nie! As jy nie ophou nie, maak ek kitskots van jou.”
Nog ’n bakkie kom buite in ’n stofwolk tot stilstand en twee fris kêrels kom binne.
“Dirk, ou maat! Piet! Kom sit!” groet Gys dat jy net tande sien. Dirk dra ’n T-shirt waarop staan Praat Afrikaans of hou jou bek en Piet een met logo’s van die KKNK en Klipdrift waarop staan Eish, wys jou muis. Hy lyk diep bedroef, soos ’n bok wat afdraande vreet. Sy mondhoeke hang, daar is sakke onder sy oë en diep groewe oor sy hoë voorkop waarop die blonde hare erg yl begin raak.
“Kom laat ek julle voorstel aan Kapyster, ’n boy band van Johannesburg,” sê Lourens. “Dirk van der Merwe, Piet Basson. Willem, Steyn en Constand.”
Van der Merwe en Basson skud nie ons hande nie, maar knik net en gaan sit en bestel dadelik elkeen ’n Bloody Mary.
“Ons het darem ook celebrities hier rond waar ons bly, julle ouens hoef nie te dink julle is nou in die gopse nie,” sê Gys vir ons. “Piet was al op Boer soek ’n vrou en sy foto was al in Huisgenoot én Landbouweekblad, maar hy het toe nie ’n vrou gekry nie.”
Hans onderbreek Lourens, iemand wil met hom op die foon praat.
“Hei, Hans,” sê Rocky, “gooi ’n sambuca vir almal, dis op my.”
Dit is fokken warm. Die pub is bedompig. Sweet tap in my nek af. Ek begin soos spinsuiker op ’n stoompoeding voel van die hitte en die shooters.
“Cheers!” sê Rocky nadat Hans vir ons almal ingegooi het.
“Tjorts!” sê ek.
“Gesondheid in die rondheid!” sê Beyers.
“Nee, maar jy’s ’n lekker kêrel, ou Steyn!” sê Daan vir Rocky. Sy wange is rooi en sy lippe blink.
“Bokdrolle in die Boland!” bulder Buks. In die neonlig lyk sy kaalkop nou soos ’n gloeilamp wat enige oomblik aangeswitch gaan word.
“Voor in die wapad brand ’n lig!” sê Gys.
“Prosit!” sê Dirk.
Piet Basson sê niks.
“Bly blank, my volk,” sê Daan.
“Eerder ly lank, my volk, as jy my vra,” sê Manie.
Buks lyk weer lus om vir Manie te donder, want dit is duidelik dat dié hansgat onderwysertjie nou skuim op sy batterye begin pis.
Die manne raak nou baie gesellig en ek reken dis nou veilig om met die agterdeur in die voorhuis te val sonder dat hulle hond se gedagte sal kry. Ek vra hulle of generaal Gert Gelderblom se plaas ook die hoofkwartier van die Brandwag Orde is.
“Ja,” sê Gys.
“En watse soort dinge gaan daar aan op Gemoedsrus?” vra Beyers.
Baie boere in die omgewing gaan vir paramilitêre opleiding en hulle vroue gaan ook soontoe om te leer skiet en vir selfverdediging en noodhulp en daai soort goed, vertel hulle. Gelderblom-hulle bied ook kampe aan om vir probleemkinders dissipline te leer en om ware mans van sensitiewe seuns te maak. Hy hou ook graag kultuuraande op Gemoeds rus met braaivleis, voordragte, voorlesings, volksdanse en optredes deur bekende en minder bekende Afrikaanse sangers en sangeresse.
“Ek was gisteroggend in Brits en net toe ek by die slaghuis uitstap, sien ek Gert verby ry,” sê Gys. “En raai wie sit langs hom in die kar? Zander Stander van alle mense. En nou lees ek in die koerant hy word vermis. Ek het gedink om die polisie te bel, maar daai spul is so useless dat ek die moer in raak die oomblik wanneer ek met hulle begin praat.”
“Jy móét hulle bel, Gys!” sê Manie verontwaardig. “Die volk is in ’n toestand! Hierdie dinge is nie grappies nie!”
“Ek voel fokol vir Zander Stander,” sê Gys. “Hy’s ’n klein pipsqueak. Hy’s ’n windgat en te groot vir sy skoene.”
“Maar dan sal ék hulle bel!” sê Manie.
“Nou maar doen dit dan, demmit, voor die pad vol duwweltjies word!”
Daan vertel hy het gehoor die Brandwag Orde het ’n bunker iewers in die Vrystaat gebou en dat hulle soontoe op pad is omdat die Nuwe Wêreldorde Vrydag aanbreek. Die polisie sal hulle tyd mors as hulle vir Stander op Gemoedsrus gaan soek. Hy wat Daan is, sweer hy is in daai bunker. Beyers vra hom waar in die Vrystaat dit is. Hy sê dis daar by Die Oog in die Aasvoëlberg by Zastron, want hulle glo dit is een van die plekke op aarde wat nie deur aardbewings en vloede getref sal word wanneer Armageddon Vrydag aanbreek en die groot wegraping kom nie. Hulle het goed opgestock daar. Binnekant lyk die plek glo soos ’n hypermarket soos al die kos en medisyne en ander voorraad daar staan.
“En dink nou net hoe lekker gaan hulle met hulle vingers in hulle armsalige holle sit as die wêreld nié Vrydag vergaan nie,” lag Buks.
Hy het gehoor pastoor Freek van Aarde van Leeupoort en sy mense is ook saam met generaal Gelderblom en sy mense na Die Oog toe, vertel Dirk verder. Van Aarde het twee maande gelede met ’n veldtog begin dat mense moet geld skenk vir sy Kerk van die Ewige Volk. Hy sê as hy voor middernag op 20 Desember R10 miljoen kan insamel, sal die wêreld nie op die 21ste vergaan nie, want die feit dat daar so baie geld ingesamel is, sal ’n teken aan God wees dat sy mense hulle voor Hom verootmoedig het en dan sal Hy hulle nog ’n kans gee. Hulle sal dan glo al daai geld nodig hê om die blye boodskap tot aan die eindes van die aarde te verkondig.
“Ek sê nou vir julle die wêreld sál Vrydag vergaan,” sê Daan. “Kyk net hoe gaan dit in hierdie land! Hospitale en munisipaliteite val uitmekaar, mense word soos diere op hul plase vermoor, alles raak net die heeltyd duurder en almal kry al hoe minder geld. En dan betaal die regering miljoene rande vir dit, miljoene rande vir dat, alles ons taxpayers se geld wat hulle op absolute louter kák mors!”
“Wat my gat krap, is dat Eskom ook krag vir Botswana gee en dat die regering miljoene rande van ons taxpayers vat om daai dom, vet doos Mugabe uit die kak te hou,” sê Buks vurig. “Dis sulke dinge wat sal maak dat ek bomme begin plant. ’n Man kan net sóveel vat. Hulle kan Suid-Afrika se naam maar na Zumababwe verander.”
Die drank en die shooters wat Rocky vir almal gevoer het, het big time ingeskop. Hulle raak al hoe meer moerig.
“Die einde is beslis op ons,” sê Manie. “Die Vrymesselaars beheer die wêreld. Hulle sit agter dit alles. F.W. de Klerk en Julius Malema is almal deel van daai sekte. Jy kan aan mense se handgebare sien of hulle Vrymesselaars is, sê hulle. En hulle het geheime tekens op landsvlae en geldnote. As jy ’n R200-noot in die lig hou, sal jy sien Mandela het drie oë.”
“So, nie een van julle ouens is of was lid van die Brandwag Orde nie?” vra Beyers.
“Ag nee fok tog, hulle dink ons is gomgatte,” sê Gys. “Hulle is te high and mighty vir gewone plebs soos ons.”
“En hoe weet jy van die bunker, Daan?” vra Beyers.
“My broer is ’n lidmaat van die Kerk van die Ewige Volk.”
“Ja, ons ou spul wat nie smart genoeg is vir Gelderblom en sy mense nie sal maar Vrydag hierso sit en vergaan terwyl hulle lekker oorleef in die Vrystaat,” sê Dirk.
“Dan is dit maar beter om Vrydag ’n paar doppe te steek en geluksalig te vergaan as die uur aanbreek,” sê Gys. “Eerder dit as om saam met Gert en Freek en daai spul te moet oorleef.”
“Jy is reg, ou Gys,” sê Buks en klap hom op die skouer. “Dit sal veel beter wees om jolly te wees en jou Skepper met ’n song en dance tegemoet te gaan.”
“Vrolik! ’n Liedjie en ’n dansie!” sê Manie en sug diep, die eerste teken dat ’n moerse babbelas in aantog is. Ons verwag dat Buks hom nou gaan gryp en rondskud en bliksem, maar dit lyk of hy ook die eerste roeringe van dronkverdriet aanvoel, want hy kyk na Manie asof hy ’n wonderskone gesig aanskou.
“Manie, my ou maat!” sê Buks. “Vir die eerste keer vandag voel ek nie lus om jou te donder nie! ’n Vrolike liedjie en ’n dansie! Dit klink te mooi! Dit klink te lekker! Dit gee my ’n blink plan. Kom ons hou Vrydagaand ’n paartie hier met vrolike liedjies en vrolike dansies vir ingeval die wêreld vergaan. Komaan, ou Gys, reël so ’n ietsie! ’n Lekker braai! Die moeder van alle braaie! ’n Móérse braai!”
“Ja!” stem Gys saam. “Kom ons doen dit. Dis nou ’n puik plan. Dan kan julle sommer hier kom optree,” sê hy vir my en Rocky en Beyers.
Daan se selfoon lui. “De La Rey” is sy ringtone. Dis ’n kort gesprekkie.
“My vrou sê ek moet dadelik RSG luister. Hans, sit ’n bietjie die radio aan daar,” sê hy.
’n Vrou wat soos Mariëtta Kruger klink, lees die nuus in ’n stem van staal. Sy klink soos die Stem van die Nasie.
Vier mans wat vermoedelik ’n markiestent vol hooggeplaastes op die ANC se nasionale kongres in Mangaung met plofstof wou opblaas, is Sondag in hegtenis geneem, deel sy die luisteraars mee. Dit volg nadat ’n gesamentlike taakspan van die Valke en die polisie se misdaadintelligensieeenheid weke lank betroubare inligting opgevolg het oor ’n beweerde verregse komplot. Twee masjiengewere, handgranate, mortierbomme, ammunisie, plofstof en agt ongelisensieerde wapens is na wat verneem word in hulle besit gevind. Die mans sal binnekort op ’n aanklag van hoogverraad in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn.
Buks se selfoon lui. Sy ringtone is “Eye of the Tiger”.
“Barnard …! Ja …! Ja …! Wat vertel jy my nou …? Liewe bliksem …! Hoeveel van hulle …? Wie almal …? Ja … Ja … Goed … Hoor hier, ons hou Vrydagaand ’n paartie hier in die bar, jy moet kom …! Daai beroemde groep Kappitflou gaan ook optree … Ja … Nou maar goed … Totsiens, Jan.”
Van die mense wat gevang is, is lede van die Brandwag Orde, kondig hy aan toe hy sy selfoon in sy hempsak steek. “Jou broer Neels is een van hulle, Daan.”
“Wat nou van hulle arme vroue en kinders?!” vra Manie, skielik weer driftig. “En hoekom moes dit juis op Versoeningsdag gebeur? Watse boodskap stuur dít nou uit?”
“Vir my is dit Geloftedag, Manie, soos wat dit vir jou ook behoort te wees,” sê Buks en gluur hom aan.
Dirk se selfoon lui. Sy ringtone is “Simply the Best”. Die bostelegraaf gaan haywire. Nog ’n kort gesprek.
“’n Pêl van my sê Gert Gelderblom is een van die manne wat gevang is,” sê hy toe hy klaar gepraat het.
Die rooi verdwyn uit Daan se wange. Sy oë is glaserig. Hy staan op asof hy ons wil toespreek. Hy wankel effens en moet die toonbank met albei hande vashou.
“Neels het my vertel Gert het onlangs twee visioene gehad en dat hy vir pastoor Freek van Aarde daarvan gaan vertel het,” sê Daan. “Hy het dit sy droomgesigte van verskrikking genoem. Hy het ’n vuurspuwende berg gesien met pikgitswart klippe wat oor ’n baie lang afstand reën sonder rook of roet en stof. Daar was twee groepe mense in wit mantels en ’n pragtige jong vrou wat skitter van blydskap en vreugde.”
Daan begin stadiger en gewigtiger en in ’n dieper stem praat. “Die tweede visioen was soortgelyk aan die vorige, maar in dié een het ’n kragstasie ontplof met ’n rollende vuur so vinnig dat geen mens voor dit kan vlug nie. Alles agter die vuur is verteer en dis net pikswart as wat oorbly. En dis daarna dat hy begin sê het die tyd is nou reg dat ’n volksaltaar gebou word waarop offers gelê word teen die magte van die hel.”
’n Somber stilte sak toe oor die Blou Bul Bush Pub.
“Watse offers?” vra Beyers.
“Volksverraaiers. Heidene. Afvalliges. Kommuniste. Homoseksuele. Dwelmslawe. Onrein diere.”
“Ja, Siener van Rensburg het al hierdie dinge sien kom,” sê Manie. “Het julle daai artikel in Landbouweekblad gesien oor daai brand verlede maand by Jan Kempdorp?”
Nee, niemand het dit gelees nie. Gevolglik is Manie in sy element.
“Die Landbouweekblad beskryf dit as een van die ergste brande in menseheugenis. Meer as 120 000 hektaar is vernietig daar in die omgewing van Koopmansfontein en Boetsap, reg langs Jan Kempdorp. Wel, Siener van Rensburg het dit al honderd jaar gelede voorspel. Hy het kort voor sy dood gepraat van ’n ontsaglike vuur in Andalusië, wat in daardie tyd die Jan Kempdorp-distrik was. Hy het gesê dit sal die ergste brand wees wat die land nog gesien het. En almal wat Siener volg, het lankal verwag dat die wapenopslagplek op Jan Kempdorp gaan ontplof.”
“Watse wapenopslagplek?” vra Beyers.
“’n Ammunisie-depot van die regering. Dit word nou al jare lank nie meer onderhou nie. Die plek het verval en ’n veiligheidsgevaar geword. Die dakke lek. Altesaam 250 000 kg se vegvliegtuigbomme het begin kristalliseer. En daar is ook nou ’n plakkerskamp reg langs die plek. Kan jy jou dit indink?”
“Het die brand in die depot ontstaan?” vra ek.
“Niemand weet nog nie,” sê Manie. “Dit sal my ook nie verbaas as dit brandstigting was nie. Hierdie plakkers is tot enigiets in staat.”
Ek wil vir Manie vra of hy weet dat Siener van Rensburg bysiende was en ’n glasoog gehad het, maar bly liewer stil. Ons kan dit nie nou bekostig om ’n voet verkeerd te sit nie. Ek jeuk ook om Daan te vra wat die Brandwag Orde en die Kerk van die Ewige Volk met die offers op die volksaltaar gaan doen. Gaan hulle aan die brand gesteek word? Of gaan hulle kele afgesny word? Gaan hulle bloed gedrink word? Of gaan hulle voor ’n vuurpeloton staangemaak en doodgeskiet word?
En aan wie se kant is Zander Stander? Is hy een van die regses wat saam met Gelderblom en Van Aarde in die Vrystaat gevang is? Gaan daar rentboys ook op die volksaltaar neergelê en vasgebind word, of hoe pas hulle in die prentjie? Gaan hulle piele afgesny word dat die bloed in strale spuit? The mind boggles.
Maar ek hou eerder my bek. Ek kan aan my bas voel dis veiliger om niks meer te vra nie, anders gaan dinge lelik begin handuit ruk hier. Ons sê ons moet ons ry kry. Rocky betaal vir die drank. Manie vra ons autographs vir sy kinders. Buks vra ons foonnommers en skryf dit neer en gee ook vir ons syne en sê ons moenie vergeet om hom te bel om te reël dat ons musiekvideo op Dankbaarheid geskiet word nie. Gys sê ons moenie vergeet van Vrydagaand se paartie nie. Dit sal vir hom ’n groot eer wees as Kappityt in die Blou Bul Bush Pub kom sing. Die hele wêreld sal kom kyk, sê hy. Hulle sal uit ons hande eet.
2.
Die trip terug Johannesburg toe is hectic. Om op die highways en byways van die Witwatersrand te ry het jy senuwees van staal nodig. Heavy energy in die Goudstad. Intense vibrasies in hierdie Sodom en Gomorra. Ongeduld. Irritasie. Rat race. Road rage. Honger rotte wat dol tol op ’n wieletjie wat al hoe vinniger draai. Spin-spin-spin. Sidderende elektrisiteit. Knetter-knetter-knetter. Moeë gesigte. Jy hoef jou nie eens te verbeel om bloed in die lug te ruik nie.
Beyers worry oor die follow-up oor Stander wat hy vir Volkshol moet skryf. Hy sê hy sal so gou as moontlik moet vasstel of die name van die mans wat in die Vrystaat in hegtenis geneem is al bekend gemaak is, en of dit inderdaad generaal Gert Gelderblom en pastoor Freek van Aarde en hul meelopers is.
Dit pas my en Rocky piekfyn. Ons sal harde feite moet hê indien dit nodig word dat ons die pad Vrystaat toe moet sny om die bunker in Die Oog in die Aasvoëlberg te gaan soek om Stander daar te gaan uitsnuffel.
Net toe ons weer king-size burgers en koffie by Ultra City kry om die bier en shooters weg te werk, bel De Beer. Ek sit my foon op speaker mode op die bankie waar ons sit.
“Hoekom hoor ek niks van julle nie?” vra hy bars.
“Want ons is hot op die case, Ben,” sê ek. “Ons is baie besig, ons kry nie eens tyd om te slaap nie.”
“Wat gaan aan?”
“Ons is warm op Zander se spoor,” sê ek.
“Waar is hy?”
“Ons kan nie besonderhede oor die ondersoek verskaf nie, want dis nou in ’n baie sensitiewe stadium,” sê ek en probeer my bes om so gesaghebbend soos die Stem van die Nasie te klink. “En jy weet tog self hoe maklik lek inligting aan die pers uit. As so iets nou weer moet gebeur, is nie net ons in ons moer in nie, maar Zander ook.”
“Maar ek betaal julle!” protesteer De Beer. “Ek móét weet! Julle moet altyd dadelik vir my alles sê soos dit gebeur!”
“Die ondersoek is nou so sensitief dat dit baie onveilig sal wees om dit oor die foon te bespreek, Ben. Daar is gevaarlike mense wat ons oproepe onderskep en afluister,” lieg ek, hoewel dit ook die heilige waarheid kan wees vir al wat ek weet. “En jy betaal ons om Zander lewend te kry, nie dood nie, dus moet jy my woord daarvoor vat.”
“Maar dan moet julle vir my verslae e-mail!”
“Dis ook te gevaarlik, want daar is mense met malicious spyware wat e-mails kan track. Met GPS en location detection op al wat ’n foon en computer is, kan gevaarlike vreemdelinge deesdae enige mens se kuberspoor tjoeftjaf sny. Dis kinderspeletjies.”
“Wel, dan moet julle nou dadelik na my huis in Dainfern kom!” sê De Beer ongeduldig.
“Ons kan nie nou nie, Ben, ons is op pad om informante te gaan ondervra.”
“Daar’s iets anders,” sê De Beer. “Ons het intussen agtergekom Zander se toerbus het verdwyn. Ek het gedog die bus is by Fanie Venter, sy klankman, maar dié het vanmiddag vir my gesê nee, hy het die bus laas by Zander se huis in Mooikloof gelos. Maar dit is nie daar nie.”
“Watse soort bus is dit?” vra ek.
“’n Avan Ovation M4. Zander se naam en foto was eers groot daarop, maar hy het dit onlangs laat toeverf, want dis altyd chaos as hy op toer is en by ’n Ultra City of in ’n klein dorpie stilhou. Die mense het hom mal gemaak soos hulle saam met hom afgeneem wou word en sy handtekening wou hê.”
“Hmmm, dis jammer, want dan sou dit makliker gewees het om hom op te spoor.”
“Ek het al ’n klomp mense gebel, maar niemand het die bus gesien nie,” sê De Beer. “Miskien moet ek die registrasienommer en foto’s van die bus soos dit nou lyk vir die SABC en eNCA en kykNET gee om vanaand op die nuus te wys.”
“Nee, wag eers,” sê ek. “Dis beter dat ons self eers kyk wat ons kan uitvind. Moenie nou oorhaastig wees nie. Ons moet twee keer dink voor ons enigiets doen.”
’n Groot lorrie dreun verby en dit gee my die ideale kans om te maak of ek De Beer nie meer kan hoor nie. “Ben, jy breek op, ek kan jou nie hoor nie! Hallo! Hallo!” Dan druk ek my foon dood.
Beyers sê hy het al ’n foto van Stander se makrobus in Volkshol gesien. Indrukwekkend. Maar wat hy nie kan verstaan nie, is dat hy so ’n groot bus nodig het om net sy kitaar en mikrofoon en backtracks mee te karwei.
“Dalk vervoer hy wapens en ammunisie,” sê ek.
“Of dalk smokkel hy drugs,” lag Rocky.
“Fokkit, dit sal my ook nie verbaas nie. Niks is onmoontlik nie.”
Dis al byna sesuur wanneer ons voor die Toring van Waarheid in Braamfontein stilhou. Nadat ons in Rocky se kar geklim het, rol ek dadelik ’n joint vir ons en bel hy ’n bouncer by The House of Love om te hoor of hy ons kan uithelp met gewere. No sweat, sê die ou, ons kan dadelik kom en hy sal ons een-twee-drie uitsorteer.
Op pad middestad toe bespiegel ons verder oor Stander en rook dat dit blou word om ons. Die zol help ons om allerhande moontlikhede in te sien waaraan ons nog glad nie gedink het nie. Dalk is Stander nie kop in een mus met Gelderblom en Van Aarde nie, maar het die Brandwag Orde hom ontvoer omdat hulle uitgevind het hy naai rentboys en rook crack saam met hulle, en daarom moet hy ook op die volksaltaar sterf om te boet vir die dade waarmee hy sy volk se naam so deur die modder sleep. Die geliefde sanger wat so diep in hul vroue en dogters se harte ingekruip het, was toe al die tyd ’n volksverraaier. Hy het ryk geword uit al die CD’s en posters en T-shirts wat hulle van hom gekoop het en al die konserte waarvoor hulle kaartjies gekoop het, maar hy was toe al die tyd ’n handlanger van Beëlsebub, ’n marionet van die Illuminati, en daarom moet daar wraak geneem word.
Ek vat nog ’n groot trek van die joint. Die volk sal platgeslaan wees as Stander aan die kaak gestel word en die storie oor die hoere op die lappe kom, sê ek vir Rocky. Artikels sal verskyn waarin gedragswetenskaplikes, sielkundiges en lyftaal-ontleders ingespan word om Stander se val in alle denkbare en ondenkbare besonderhede uit te pluis en te ontleed. En kan jy jou indink hoe al die selfaangestelde twisredenaars op hulle Twitter-mishopies te kere sal gaan. Dit gaan iets allerverskrikliks wees. En die maatskappye wat sy klere, sonbrille, karre en skoene borg, gaan hulle toekak. Dit sal duisende rande in die water wees, indien nie miljoene nie.
Toe ons voor The House of Love stilhou, gee Rocky my sy debietkaart en sê ek moet ’n bottel Jack Daniels by die drankwinkel oorkant die straat gaan koop terwyl hy die gewere gaan kry. Ons moet darem die inbetaling van die deposito vier, fokweet.
“GET YOUR ROCKS OFF! GET YOUR ROCKS OFF!” lui my foon net toe ek terug in die kar klim. Number withheld.
“Hallo?” sê ek.
Doodse stilte. Dan begin wie dit ook al is diep en onheilspellend asemhaal.
“Hallo?” sê ek weer.
Die asemhaling raak dringender en meer gejaagd en dit klink nou soos dié van ’n besete maniak. Ek druk die foon dood. Waddefok! Terwyl ek vir Rocky wag, luister ek na ’n CD van Dead Kennedys waarop al hul lekker hits is, soos “Cesspools in Eden”, “Moral Majority”, “Too Drunk to Fuck” en “Nazi Punks Fuck Off”.
Na so twintig minute kom Rocky terug. Hy het ’n Glock 17 en Beretta 92 by die bouncer gekry. Ek vertel hom van die oproep. Hy sê ek moet chill, daar is maniere om sulke oproepe te trace, never fear when DJ Funk Soul Brother is near.
“Nou kan ons ten minste skiet as iemand ons wil opfok,” sê hy.
“Solank ons net nie die skoot te hoog deur het nie.”
“Hahaha. Daarop kan ek net sê skote Petoors.”
“Is dit ’n vloekskoot, ’n gelukskoot of ’n genadeskoot?”
“Maak nie saak nie. Solank dit net ’n kolskoot is.”
Sy woorde is skaars koud of sy foon lui. Hy sit die speaker function aan sodat ek ook kan hoor. Dit is Jannie. Hy sê Steven het uitgevind waar Christopher is en hy kan ons nou soontoe vat. Ons moet hom in Braamfontein gaan oplaai. Dis nou of nooit. En ons moet onthou om geld saam te bring sodat ons hulle kan betaal.
“Ek is seker Christopher sal ook betaal wil word,” sê ek.
“Wel, ons sal maar net met hom moet negotiate. Ons kan nie duisende rande aan elke Tom, Dick en Harry en hulle fuckbuddies betaal nie. En as hy hom vol kak hou, sal ek net die Glock onder sy neus rondswaai en hom goed bang maak. Die tyd vir speletjies is verby.”
3.
Ons pik vir Steven op voor Sequence Global Communication in Stationstraat. Heel eerste wil hy weet of ons die geld het. Harde kontant, niks anders nie. Rocky sê hy sal geld by die ATM in Wolmaransstraat trek.
Niemand praat ’n woord tot by die ATM nie. Daar hang ’n scaly fokker by die masjien rond. Ek klim saam met Rocky uit, my hand op die Beretta in my jacket se sak. Die stuk skuim probeer praatjies maak met ons. Gimme a few rands there, please man. Dis hoe die straatboewe maak: probeer jou aandag aflei met kakpraatjies en as die ATM die note uitspoeg, is daar ’n lem teen jou keel. Zap-zap. Ek pluk die Beretta uit en rig dit op hom. Fokof! sê ek. Hy hou sy hande in die lug asof hy dink ek gaan wragtag nou sy breins uitblaas en skarrel weg.
Steven se gesig helder op toe Rocky tien R200-note in sy hand prop. O ja, sê hy, Christopher is net bereid om te praat as julle hom R2000 betaal, ek hoop jy het genoeg getrek. Ry Doornfontein toe, beduie hy dan. Net daar verby die NG kerk Johannesburg-Oos in Beitstraat draai jy regs in Sherwellstraat by Untouchables Entertainment, en net as jy verby die Salvation Army op regterhand is, kry jy Elfreda Court, die flats waar Christopher bly. Steven is skielik baie geselserig noudat hy geld gekry het. Christopher is good for nothing, vertel hy, hy is heeltyd op crystal meth en is dangerous, baie dangerous. Hy kry hook-ups in chat rooms op die internet en sorg dat hulle hom altyd bel vir meer, die klein cockteaser. Dan sê hy vir die ooms hulle kan hulle sessions nog meer exciting maak, wat van ’n threesome, hy kan nog ’n buddy saambring. En as hulle klaar genaai het, oorval Christopher en sy buddies die mans, bind hulle vas met wat hulle ook al kan kry – belts of die koord van ’n selfoon-charger of ’n ketel – druk kouse in hulle monde, verwurg hulle en steel hulle selfone, laptops, kameras, iPods, iPads, DVD players en wallets. Hulle het ’n slag of wat ’n kar of twee ook al gesteel.
Dit vat nie lank om van Braamfontein tot in Doornfontein te kom nie. Op die gebou van die NG kerk Johannesburg-Oos sien ek dienste van die Soul Saving Bible Church en The Early Church of Revival word ook daar geadverteer. Rocky draai regs in Sherwell, ry verby die donkerpienk-en-ligblou gebou van die Salvation Army, waarop ’n bord is wat sê Ethembeni – Place of Hope, en parkeer voor Elfreda Court, waarvan die onderste helfte donkergroen geverf is en die boonste liggeel.
Ons vat die trappe na die boonste verdieping. Die traliehek voor Christopher se flat staan halfoop, maar die deur is toe. Steven klop. Geen reaksie. Hy klop weer, harder, asof hy die deur wil afbreek. Ons was fokken stupid, ons moes eers vir Steven die geld gegee het nadat ons met Christopher gepraat het. As hy nie hier is nie, sal Steven nottefok die bucks vir ons teruggee en dit sal te gevaarlik wees om hom te dreig om dit terug te gee, ons weet nie watse wapens hy op hom dra nie, dis heel waarskynlik ’n mes of ’n spike of ’n ding.
“Christopher! Christopher!” roep Steven by die deur en klop weer.
Hy ruk aan die handvatsel. Die deur gaan oop. Dit is nie gesluit nie. Ons gaan binne. Steven steek in sy spore vas. “Goeie fok!” sê hy.
Die woonstel is deurmekaar. Rakke en stoele en die koffietafel is omgegooi. Oral lê stukkende glas. Die hele sitkamertjie is vol bloed. Dit deurweek die mat, daar is spatsels teen die mure, die plek ruik soos ’n agterstraat-slaghuis. Dan voel dit of my keel toetrek en ek nie asem kan kry nie. Op die vloer lê ’n kaal jong man op sy maag. Sy hande is met draad agter sy rug vasgebind en sy keel is afgesny. Van die bloed koek in sy lang blonde hare. Ek word naar en sluk die kots terug wat ek in my mond voel opstoot.
“Christopher!” Steven storm na hom toe.
“Moet aan niks raak nie!” sê Rocky. “Jy wil nie hê die cops moet jou fingerprints hier kry nie. Dis ’n moordtoneel!”
Die TV in die hoek van die sitkamertjie is aan. Die klank is kliphard oopgedraai. Dit is op die Nickelodeon-kanaal. ’n Episode van SpongeBob Squarepants wys. Dit voel of die soundtrack agter die stemmetjies uit die TV wil spring. ’n Trekkerige Hawaiian kitaar speel, en ’n paar sekondes later word dit ’n vrolike trekklavier, om net weer skielik in majestic trompette te verander.
Steven buk by Christopher en ruk hom aan sy skouers. Hy draai sy kop na die kant toe. Christopher se glaserige oë is nog wawyd oop. Op die TV screen is SpongeBob weer diep in die kak waar hy crab-patties vir die hamburgers in die Krusty Krab-restaurant maak, want hy het al weer nie die regte bestanddele nie en sy baas, Mr. Krabs, is hoogs die donder in. Sjloepsjlap-sjloepsjlap, maak die soundtrack wanneer SpongeBob die vleis met sy hande mix.
Ek kyk rond en probeer soveel moontlik van die toneel inneem. Iets vang my oog. Op ’n tafeltjie lê ’n CD. Dit lyk of dit ’n autograph op het. Die gesig op die cover lyk bekend. Ek stap nader, lees die autograph en neem ’n foto daarvan met my foon. Dit sal te gevaarlik wees om dit nou aan Rocky uit te wys met Steven wat ook hier is. Hier is iets baie, baie fishy aan die gang, that’s for fucking sure.
Steven rol Christopher weer om. Op die TV is daar nou ’n ander scene waar SpongeBob in sy pynappelhuis onder die see sit. Die soundtrack is nou die klanke van ’n moerse string orchestra. Die eekhoring Sandy Cheeks in haar ruimtevaarder-outfit kuier by hom. SpongeBob se beste vriend, die pienk stervis Patrick Star, is ook daar en so ook hulle buurman, die seekat Squidward Tentacles. Hulle konkel en bekook allerhande plannetjies om nie meer kak van kabouters te vat nie.
Ons moet so vinnig moontlik spore maak, netnou betrap iemand ons en bel die fokken polisie. En ek wil beslis nie vanaand in die Hillbrowpolisiekantoor se selle verkrag word nie. Gelukkig besef Rocky dit ook en sê vir Steven ons moet fokof. “Drop on the deck and flop like a fish!” sing ’n koor van crazy stemmetjies die show se theme song op die TV. Ons bondel by die voordeur uit en Rocky vee die handvatsel deeglik met ’n sakdoek af. Buite kots Steven op die sypaadjie voor hy in die kar klim. Rocky sit die kar nie dadelik aan nie en leun ’n rukkie met sy kop op die stuurwiel. Sy oë is toe.
“Goeie fok!” sê ek en haal diep asem. Ek hou dit baie lank in voordat ek dit uitblaas.
Steven is buite homself. Hy bewe en sy oë staan styf in sy kop. “Hulle gaan ons nog almal vrekmaak!” sê hy.
Rocky lig sy kop op en sit ver terug in die sitplek, lig sy elmboë en stretch sy skouers. “Wie is hulle?”
“Die drug dealers. En ons het rumours gehoor dat daar ook lately ’n serial killer losloop wat rentboys target.”
Rocky start die kar en gee vet. “Wanneer laas het jy met Christopher gepraat?” vra ek vir Steven toe ons die eerste draai vat terug Braamfontein toe.
“Gisteraand op die blok, toe ek hom vertel het julle soek hom en wil met hom praat.”
“Wie was sy regular customers?” vra Rocky.
“Mense in die entertainment industry. Ek het al baie van hulle op TV gesien.”
“Kan dit wees dat een van hulle hom dalk sou wou stilmaak om ’n sleazy skandaal toe te smeer?” vra ek.
“Fok, anything is possible, hoe de fok sal ek weet?”
Ek is verlig toe ons by die Caltex-garage in Braamfontein kom en van Steven ontslae kan raak. Ek weet nie op watse drugs hy is nie, maar dis duidelik dat hy besig is om big time uit te freak en op ’n helse fokken meltdown te gaan. Ons kan nie nog met sulke kak ook op ons hande sit nie, fokweet.
Nadat hy uitgeklim het, sê hy deur die oopgedraaide ruit aan Rocky se kant as ons hom R1000 gee, belowe hy om ons te bel as hy iets oor die moord hoor. Gelukkig word die lig groen en Rocky sê vir hom ons kan later daaroor praat en sit voet in die hoek. Ek vertel dadelik vir Rocky van die CD wat ek in Christopher se woonstel gesien het.
“Fok, wat vertel jy my!” sê hy en gooi amper die kar om. “Dit verander die hele prentjie!”
“Ja, dis nou pretty obvious dat waar daar ’n rokie trek, is daar ’n vuurtjie. En nie net ’n vuurtjie nie, if you ask me, maar ook iemand wat aan die brand gesteek is.”
Ons weet presies wat om te doen. Ons gaan na Rocky se flat toe. Hy soek ’n foto op Google Images en druk dit uit. Dan vat ons weer die pad Braamfontein toe. Ons ry op en af by die blokke waar die rentboys staan totdat ons vir Dylan sien. James en Jannie is reeds opgetel vir die aand, sê hy, hy wag nog vir ’n job. Rocky wys hom die foto en vra hom of hy die ou al gesien het. Ja, sê Dylan. Hy is ’n regular customer. Sy naam is JR. Hy rol altyd die “R” as hy sy naam sê: Djay-Arrr. Obviously is dit nie sy regte naam nie. Al die customers gebruik vals name. Dylan sê hy het JR al baie keer rentboys sien optel. Hy was ook al een keer saam met hom en het besluit nooit weer nie, want daai JR is ’n weird fuckhead en lelik soos die nag.
Ek en Rocky kyk vir mekaar. Ons dink dieselfde ding: ons moet Codename JR môre onder vier oë gaan spreek. En geen, maar géén kak van die doos vat nie.
4.
Halftwaalf hou ons stil by my ouma se huis in Fietas. Oubaas en Hilda het die geklingel en geratel gehoor toe ek oopsluit. Hulle kom stertswaaiend na ons aangehardloop asof hulle ons tien jaar laas gesien het en spring teen ons op. Pik is tjoepstil. Hy kyk ons net aan asof ons skimme in ’n nagmerrie is.
My ouma het haar bedliggie aangesit. “Wie is daar? Gé, is dit jy?” roep sy in ’n krakerige stemmetjie.
Ek gaan na haar toe. “Hallo, Ouma, nee, dis ek, Malletjie.”
“Haai, my kind, waar was jy die hele dag?”
“Ek het gewerk. Ons is verskriklik besig. Is alles nog reg hier? Het Ouma al iets geëet vandag?”
“Ja dankie, my kind, ek het vanoggend opgestaan en ’n bietjie kos gemaak en in my klerekas gekyk watter rok ek Vrydag wil dra wanneer die Here ons kom haal.”
“Ouma moet dit maar rustig vat en nie te wild en wakker te kere gaan nie, hoor.”
“Ek voel al weer reg, my kind, daar is niks met my verkeerd nie. Ek is weer my ou self.”
“Dan is ek bly om dit te hoor, Ouma. Ek sal môreoggend weer gaan groceries koop sodat hier genoeg kos is vir almal.”
“Watse dag is môre?” vra sy.
“Woensdag.”
“Moet net nie te veel goed koop nie, hoor, net genoeg vir twee dae tot alles verby is.”
“Goed, Ouma. Slaap nou maar weer verder, alles is onder beheer.”
“Nag, my kind, lekker slaap, kom gee my ’n ou soentjie.”
Ek plak ’n piksoentjie op haar verrimpelde voorkop en sit haar bedliggie af.
“Fokkit, wat ’n lang dag,” sê ek vir Rocky terug in die sitkamer. “Kom ons knak daai Jack Daniels.”
Terwyl Rocky vir ons ingooi, bel ek vir Beyers om te hoor of hy intussen iets uitgevind het oor die mense wat gevang is wat Zuma wou opblaas. Nee, sê hy, die polisie het nog nie die name bekend gemaak nie. En dis ’n deurmekaarspul, want daar is nou stories dat die mans nie naby Bloemfontein gevang is nie, maar in Douglas en Naboomspruit. Daar is ook gerugte dat die inhegtenisnemings eintlik ’n komplot van Nasionale Intelligensie was. Dit sal moeilik wees om die waarheid oornag vas te stel, indien ooit – deesdae het dit ’n onbegonne taak geword. Volkshol se nuusredakteur is ook die moer in vir Beyers omdat hy nie ’n storie oor Stander vir môre se koerant kon kry nie, maar gelukkig kon die vermaakredaksie ’n eksklusiewe onderhoud met een van Stander se ou girlfriends kry en dit word nou op môre se voorblad gesplash. Sy maak glo opspraakwekkende onthullings en nee, hy weet nie wat Beeld môre oor Stander gaan publiseer nie.
Ek het pas klaar met Beyers gepraat, toe is daar ’n voicemail van Alice Ellis: “Malletjie! Hoekom is jou foon heeltyd beset? Hoor hier, ken jy nie dalk iemand by die koerant wat Kenny Kunene, DJ Fresh, Gareth Cliff en Dali Tambo se foonnommers vir my het nie? Ek moet ’n artikel skryf oor bekende Suid-Afrikaners se Hollywood-crushes en wil met hulle ook praat. En dan wil ek hoor of jy nie Vrydagaand wil saamgaan na ’n End of the World-paartie by The Voodoo Lounge nie. Almal wat iemand is, gaan daar wees, ’n mens mag dit nie misloop as jy in tel wil wees nie! Bel my! Mwah!”
En sowaar as wragtag, net toe ek die voicemail delete het, is daar ’n nuwe SMS. Die duiwel is los en almal se pêl in die sellulêre hel. Ek maak dit oop. Have a better life NOW! Secure a brighter future with up to R1 million Life Cover from 1Life! Reply YES for a quote today! STOP to opt out. Std. SMS rates. T&C.
Ek druk die reply icon, tik STOP in en FUCK YOU as ’n nagedagte en druk send.
“Fok, al hierdie mense wat die heeltyd ’n mens se geld wil hê! Dit maak my mal! Ek háát dit as ’n mens se lewe soos ’n business voel,” sê ek.
“Ja, ’n ou word net al die pad deur die ore genaai.”
“En die taxman wil heeltyd geld hê sodat die fat cats lekker vreetpaarties kan hou en oorsee kan gaan en in fancy groot fokken karre kan rondry en in blink paleise kan bly. Medical aids vat duisende rande van jou geld, maar dan wil hulle nie eens meer jou tandarts betaal nie, en die working en lower middle class laat hulle tande maar vrot word omdat hulle dit nie meer kan bekostig om tandarts toe te gaan nie. Maar intussen betaal die medical aid wel vir spraakterapie vir die rykgatte se kinders.”
“Goeie fok, is dit for real?” vra Rocky.
“Ja, ek het dit in die koerant gelees. En ’n mens moet dag na dag soos ’n fokken slaaf werk net om genoeg geld te maak sodat jy al jou skuld kan betaal; dag na dag dieselfde ou fucked-up rat race net sodat Mammon se heilige goue piel blinkgesuig kan bly. ’n Mens het net ’n nommer op ’n spreadsheet geword, niks meer nie.”
“Hier’s jou dop,” sê Rocky. “Vergeet nou van hierdie kak. Moenie so opgewerk raak nie. It’s not worth it. Cheers.”
Ons klink die glase. Die ys rinkel. Ek vat ’n ordentlike sluk.
“Ons sal moet uitcheck waar Zastron is as ons dalk môre soontoe moet ry om Die Oog in die Aasvoëlberg te soek,” sê ek. Ek haal my foon uit en tik die dorp se naam in op Google Search.
“Suidoos-Vrystaat. Naby die Lesotho-grens. Seker so vier uur se ry uit Jo’burg. Die dorp is in 1876 op Jan Hendrik de Winnaar se plaas, Verliesfontein, aan die voet van die Aasvoëlberg uitgelê,” lees ek. “Zastron was die nooiensvan van Johanna Brand, die vrou van J.H. Brand, president van die Vrystaatse Republiek van 1864 tot 1888. In die middel van die negentiende eeu was die gebied ’n niemandsland waar die Voortrekkers, Basoeto’s en die San gedurig in ’n stryd om grond gewikkel was. Daar was baie veediewe en wapensmokkelaars. Van die beste voorbeelde van San-rotskuns kan in die ou grotte van die Aasvoëlberg se heuwels gesien word, soos in die Grot van die Seekoei, waar die vloer besaai is met potskerwe en die puin van die daaglikse lewe van die destydse inwoners.”
“Amazing,” sê Rocky. “Ek sal nie omgee om dit uit te check nie.”
“Zastron is tussen die Caledon- en Oranjerivier geleë. Oos van die dorp is Vegkop. Wes van die dorp is daar ontspanningsgeriewe vir inwoners en besoekers by die dam in Eeufeeskloof.”
Ek scroll ’n bietjie af.
“Die Oog is ’n uitsonderlike rotsformasie en is die bron van vele legendes,” lees ek verder. “Hendrik de Winnaar het ’n broer gehad, Renier. Hy het deur die platteland getrek en stories vertel. Een van sy bekendstes was oor hoe Die Oog ontstaan het. Hy het eendag met ’n outydse voorlaaier gaan jag, toe hy op die duiwel afkom. Die duiwel het nog nooit ’n voorlaaier gesien nie en vra toe vir Renier wat dit is. Dis sy nuwe pyp, antwoord Renier. Die duiwel wou toe ’n dampie maak. Renier laai toe die voorlaaier met ’n mengsel van kruit en tabak en gooi ook klippies en spykers by. Hy bied dit toe vir die duiwel aan en sê hy moet die loop in sy mond sit en die rook diep intrek. Toe steek Renier die lont aan. Daar is ’n helse ontploffing. Die duiwel se kop slinger deur die lug en ruk ’n gat in die berg. En siedaar, daar ontstaan Die Oog. Renier vertel in die verte kon die duiwel gehoor word waar hy prewel: ‘Ja, jou tabak is darem wragtag sterk.’”
“Hahaha, is jy serious?” vra Rocky. “Is dit nie ’n kakstorie nie?”
“Jy kan dit self hier kom lees as jy my nie glo nie.”
“Toemaar, ek glo jou. Klink of Renier ’n groot ou daggaroker was. Hy het seker al sy zol uit Lesotho gekry.”
Rocky skink die tweede ronde Jack Daniels en ons cheers. Ons is nou al lekker geswaai, want hy gooi nie doubles nie, maar triples.
“Jirre, maar ou Pik is darem stil vanaand,” sê Rocky. “Pik, wat sê jy van al hierdie dinge?”
Pik swyg soos die graf.
“Het jy geweet daar is ’n boek oor Siener van Rensburg met die titel Boodskapper van God ?” vra ek vir Rocky.
“Nee?”
“Serious. So, as Pik die reïnkarnasie van Siener van Rensburg is, moet hy ook ’n boodskapper van God wees.”
“Dan moet ons uitvind watse boodskappe hy vir ons het. As hy net wil praat! Pik, wat sien jy?” vra Rocky.
Pik verroer nie ’n veer nie.
“Sien jy aardbewings en vloede en kosmiese versteurings?” vra ek.
Doodse stilte. Dit lyk of Pik in ’n standbeeld verander het.
“Sien jy die duiwel aaptwak rook?” vra ek. “Sien jy mense wat brand op ’n altaar?”
Pik kry ’n veraf uitdrukking in sy oë, asof hy dinge gewaar wat ek en Rocky nie in ons wildste drome sal kan sien nie.
“Ek sweer hy het nou ’n visioen,” sê Rocky. “Check hom, dit lyk of hy in die greep van ’n supernatural power is.”
“Miskien moet ’n mens hom vrae vra wat ’n boodskapper van God waardig is.”
“Wat is die sin van die lewe, ou Pik?” vra Rocky.
Pik antwoord nie.
“Wat is geloof, hoop en liefde?” vra ek.
Jy kan ’n speld hoor val. Pik swyg in alle tale. Wat is fout met hom? Kan dit die geheueverlies wees waarvan die veearts gepraat het?
“Wat is die antwoorde op al hierdie vrae, Pik?” vra ek. “Ons móét weet!”
Maar hy sê nie ’n dooie woord nie. Hy gee ons net ’n vuil kyk dat nie eens heilige water ons ooit weer sal kan skoonwas nie.