6. Die verstand te bowe
1.
Hierdie e-pos en sy inhoud is onderhewig aan ’n regskennisgewing oor elektroniese pos wat gelees kan word by www.MegaMedia.org/epos/vrywaring. ’n Afskrif kan aangevra word by central@optinet.net.
This email and its contents are subject to an email legal notice that can be viewed at www.MegaMedia.org/email/disclaimer. Should you be unable to access the link provided, please email us for a copy at central@optinet.net.
Waddefok. Ek is nog heavy deur die kak van die slaap en scroll weer op boontoe op my foon om die e-mail nog ’n keer te lees.
From: Beyers Eybers <beybers@volksmond.co.za>
To: Malletjie Malan <malletjie@hotmail.com>
Date: Thu, Dec 20, 2012 at 07:25 AM
Subject: Brandwag Orde
Malletjie
Het probeer bel, maar jou foon is af. Hectic hier – twee misdaadverslaggewers is siek en ek wag vir ’n fotograaf, want ons moet jaag na ’n gesinsmoord in Waterkloof.
Twee goed:
Hier’s die fotograaf nou, moet waai.
Beyers
Ek spring op, gooi my ouma se gehekelde tafeldoek van my af en kyk op my foon hoe laat dit is. 09:23. Oubaas en Hilda hoor ek is op en kom vinniger as wat hulle bene hulle kan dra in die gang afgehol. Diana staan en kerm by haar kosbak in die kombuis. Pik is doodstil. Ek pluk die handdoek van sy hok af. Dit lyk of hy nog slaap. Vreemd. Baie vreemd.
Ek gee vir Diana en die poedels kos en gaan check of my ouma orraait is. Sy reageer nie as ek met haar praat nie en lê net daar met ’n heavy bleek gesig. Ek voel haar pols. Daar is nog ’n flou kloppie. Daar is spoegen slymstraaltjies om haar mond en op haar ken. Ek vat ’n tissue en vee dit af en gaan maak ’n waslap nat en vee haar mond skoon. Sy word nie wakker nie. Fok, ek hoop nie sy is in ’n koma nie. Dit lyk so.
Ek vat die pilboksie op haar bedkassie en lees wat daarop staan. Twee tablette drie maal per dag. Ek maak dit oop en dit lyk of my ouma wel die pille pop, want die pakkie is al amper leeg. Ek vou die pamflet binne-in oop om te lees waarvoor die pille is en wat die side effects is: Tydens langtermyn-behandeling is ’n verhoogde insidensie van gastriese kliersiste gemeld. Hierdie fisiologiese veranderinge is as gevolg van volgehoue inhibering van gastriese suursekresie. Verminderde gastriese suurinhoud verhoog gastriese tellings van bakterieë wat normaalweg teenwoordig is in die gastro-intestinale kanaal. Hierdie middel kan lei tot lomerigheid en verswakte konsentrasie wat vererger kan word deur die gelyktydige inname van alkohol of ander sentrale senustelsel-onderdrukkers.
Fok! Ek prop alles terug in die boksie en gaan gooi dit in die vuilgoedblik in die kombuis. So kan dit wragtag nie aangaan nie, fokweet.
09:34. Ek bel vir Rocky en vertel hom van Beyers se e-mail. Ek sê vir hom hy moet dadelik kom en dat ons nie vandag Aasvoëlberg toe gaan nie, maar Brakpan toe. Ek maak die kombuisdeur oop sodat Oubaas en Hilda kan gaan pis en kak, sit die ketel aan vir koffie en pop ’n Vital Maxi B Stress & Energy Support.
Ek tik Dental Elemental Brakpan in Google Search op my foon. Dokter Dirkie van Drimmelen is nie sommer ’n hierjy-tandarts nie, word dit gou vir my duidelik. Aesthetic and implant dentist, lees ek. Dental Elemental is geleë in Witstinkhoutstraat in Sonneveld, ’n spogbuurt kort duskant Brakpan. Daar is ’n lys van al die dienste wat Dental Elemental bied: Inlays/Onlays, Composite Fixtures, Teeth Whitening, Veneers, Implants, Smile Make-Over and Complete Mouth Rehabilitation. Ek gaan na nuus24.com en tik sy naam in op die argiewe. Dental Elemental borg twintig celebrities se tande, sien ek in een van die berigte wat oppop. Die sangeres Janita de Wit kan nie uitgepraat raak oor die Zoom-prosedure wat sy by dokter Dirkie gekry het nie. Sy sê sy voel nou sommer soos ’n supermodel. Dié prosedure duur drie uur en kos R5000. Ander sterre wie se gebitte en glimlagte deur Dental Elemental geborg word, sluit in Zander Stander, Nico Lourens, Japsnoet, Tom Blom en Ramkat. (Aha, almal in De Beer se stal …) In die mees onlangse nuusberig lees ek daar is groot ongelukkigheid, want dokter Dirkie het besluit hy kan dit nie meer bekostig om so baie sterre se tande verniet vir hulle te doen nie en hy het toe al Dental Elemental se borgskappe vir sangers wie se CD’s nie meer so goed verkoop nie gekanselleer. Tom Blom en Amoré de Boer is twee van hulle en hulle is hoogs die donder in daaroor en het Sondagkoerante toe gehardloop om allerhande kwaadwillige gerugte oor dokter Dirkie te versprei. Dokter Dirkie se verweer was bloot dat Tom en Amoré nie hulle deel van die deal nagekom het nie en hom nie genoeg geadverteer het op hulle websites en Facebook en Twitter nie.
09:50. Waar de fok bly Rocky tog? Ek bel hom weer. Hy sê hy is op die punt om te ry. Ek sê hy moet eers op sy laptop op Google Maps kyk hoe ’n mens in Sonneveld uitkom en sommer ’n print-out ook daarvan maak sodat ons seker maak ons verdwaal nie. Dan soek ek ’n nuwe ringtone vir my foon.
Pik het nog nie ’n dooie woord gepraat nie. Ek vra vir hom hoe dit gaan en of hy lekker geslaap het en wat hy alles gedroom het, maar hy weier om iets te sê. Ek gaan kyk weer of my ouma al wakker is, maar sy lyk nog presies dieselfde. Ek skud haar skouers.
“Ouma!” skree ek. “Ouma!” Geen reaksie. Ek praat harder en in ’n dieper stem: “HALLO, TANNIE! DIS GÉ!” Dit lyk of haar ooglede effens beweeg, maar dis ook al. Dit lyk nie goed nie. Ek weet nie of ek haar alleen hier kan los nie.
Ek gaan terug kombuis toe en roep Oubaas en Hilda om in te kom. Ek sluit die kombuisdeur, maak seker dat ’n venster oop is vir Diana, vryf Oubaas en Hilda se koppe vir ’n vale tot dit lyk of hulle kan bars van lekkerkry en jaag hulle dan na my ouma se kamer toe.
Uiteindelik hou Rocky voor die huis stil. Ek gryp die Beretta 92 en maak seker dat alles toe is. Ek sluit die voordeur en spring in sy kar. Hy is baie upbeat vanoggend. Hy sê hy het fantastiese nuus: die R17000 wat oor was in sy rekening is weer beskikbaar, maar dit lyk of ons daai R5000 wat gesteel is koebaai sal moet soen. Hy het die bank gebel, maar hulle kan nie vir hom sê waar sy kaart geskiem is nie. Hy dink dis daai drankwinkel oorkant The House of Love waar ons die Jack Daniels gekoop het.
Dis weer ’n rooimier-raserny op die paaie. Jy voel of iemand enige oomblik in jou gaan vasdonder. Op die highway sit Rocky voet in die hoek. “Dat ons nou vandag Brakpan toe moet gaan van alle plekke!” sê hy.
Ek probeer ’n paar Brakpan-grappe onthou. “Weet jy hoekom is dit onmoontlik om ’n moord in Brakpan op te los?” vra ek.
“Nee.”
“Omdat al die DNA dieselfde is en daar geen dental records is nie.”
Hy lag. “Dit is op ’n twisted manier baie appropriate, maar ek hoop nie prophetic nie.”
“Wat is ’n Brakpan pick-up line?”
“Weet nie.”
“Jou pa se piel moes ’n chilli gewees het so hot is jy.”
Rocky se foon begin lui net toe ons op die N17 indraai. Wie de fok kan dit tog nou weer wees? Hy gee dit vir my om te antwoord. Ek sit dit op speaker mode.
Dis Buks Barnard. “Dagsê, manne, hoekom is julle so stil, man, hoe gaan dit nog met julle?”
“Nee, voor die wind al waai hy suid,” sê Rocky.
Buks babbel vir ’n vale: “Hoor hier, ons paartie vir môreaand tel nou lekker spoed op, gaan julle nog kom sing? Die mense is baie opgewonde om te hoor dat ’n boy band hier gaan kom sing en baie wil sommer nou al plek bespreek. Ons kan ’n killing maak! En daar sal selfs nog ’n bietjie geld oor wees vir julle fondsinsameling vir die armblankes. Gys het selfs gereël dat daar ’n paar strippers van daai klubs Langbome in Rustenburg en Cheers in Ventersdorp sal oorkom om vir ons ’n show te doen, hulle is glo nie net strippers nie, maar lap dancers ook, so dit gaan ’n jolly affêre wees, julle mag dit nie misloop nie, dit sal vir ons ’n groot eer wees as julle hier kom sing, ons sal reël dat die plaaslike koerantjie, Die Bostelegraaf, vroeër die aand daar is om sosiale foto’s te neem voor dinge begin warm raak, dit sal vir ons ou plekkie regtig baie beteken as ons in die koerant kan kom, so ek hoop die saak is nog reg.”
“Nee, Buks, ons sal dit nie kan doen nie, want ons gaan môreaand in ’n kerk sing waar ’n nagwaak gehou word vir ingeval die wêreld vergaan,” lieg ek.
“Ag nee kak, man, is julle mal? Wie de donner wil dan nou in ’n kerk wees as jy in ’n pub kan wees?” sê hy. “Veral op so ’n aand! Dit klink nou vir my julle is regtig ’n spul moffies.”
Ek maak asof ek hom nie hoor nie en vra of hy gehoor het generaal Gert Gelderblom en pastoor Freek van Aarde was toe nie onder die mans wat gevang is omdat hulle Zuma en sy maatjies wou opblaas nie. Nee, hy het dit nog nie gehoor nie.
“Is dit die waarheid?” wil hy weet.
“Ja, anders as al die hoenderkopkak wat julle daar in die Blou Bul Bush Pub praat!” sê ek.
Nee, hy sweer dan moet dit weer daai Daan Swart se onstabiele vrou wees wat op loop gegaan het met die hele ding en die hoender by die hol uitgeruk het, die ou ding is ’n groot skinderbek en sy het al haar vriendinne flou gebel met die nuus dat dit Gelderblom-hulle was en jy weet mos hoe vinnig begin stories loop en las die vroumense stertjies by as hulle eers begin om stories te versprei, sê Buks.
Ons ry onder ’n brug verby en die sein breek op. Dankie tog. Brakpan se steenkool- en goudmynhope en Carnival City se paleise pop op op die horison. Rocky vat nie kak nie en gee vet en zigzag tussen die bane rond asof hy Michael Schumacher op ecstasy is. By ’n Carnival City-bord draai hy van die N17 af by Heidelbergweg in en ’n entjie verder links in Rembrandt van Rijnstraat.
“Nee hel, Rocky, ek scheme iets is verkeerd, ek dink jy het te gou afgedraai. Het jy die kaart uitgeprint?”
“Ja, dit is in die cubbyhole.”
Hy draai links in Maggie Laubserstraat. Daar is nie so ’n straatnaam op die kaart van Sonneveld nie. Na ’n ruk maak die pad ’n draai en by Vincent van Goghstraat draai Rocky weer regs sodat ons weer in Rembrandt van Rijnstraat kan uitkom. Ons is besig om in sirkels te ry en lelik te verdwaal. Hy besluit om links te draai in Francois Krigestraat, wat doodloop in Anton van Wouwstraat.
“Links of regs?”
“Ek dink jy moet links gaan, ek dink Sonneveld is nog verder,” stel ek voor.
So gesê, so gedaan. Op die hoek van Fanie Eloffstraat is ’n klomp Telkom-werkers besig. Ons slaan briek aan en vra vir hulle wat hierdie suburb se naam is. Van Eckpark. Waddefok. Waar is Sonneveld? Nee, hou straight aan met Anton van Wouw tot by Tinus de Jongestraat, dan sal julle die pad maklik kry.
“No luck, Donald Duck,” sê Rocky toe ons, sonder dat ons weet hoe, in Coert Steynbergstraat beland. Nou is ons in ons moer in verdwaal. Gelukkig sien ons dan ’n sign vir die N17 en ry terug soontoe.
“Ons het te vroeg afgedraai. Ons moes nie Heidelberg Road gevat het nie,” sê ek. Ek check die kaart mooi uit. “Ry aan en draai af in Farquaharsonstraat, dan is ons daar.”
Wanneer ons uiteindelik in Sonneveld aankom, is dit nie te moeilik om Witstinkhoutstraat te kry nie. Dental Elemental is ’n moerse plek. ’n Glaskasteel. As jy nie van beter geweet het nie, sou jy kon sweer dit is ’n vleuel van die Betty Ford-kliniek in Kalifornië.
Ons sien onsself in die glasdeure voor ons dit oopstoot. Ek lyk soos Jonathan Rhys Meyers in I’ll Sleep When I’m Dead. Rocky lyk vuurwarm in sy T-shirt met die cover van Nirvana se Nevermind voorop, swart jeans en swart sneakers. Vandag lyk hy nie meer heeltemal soos Ethan Hawke in Reality Bytes nie, maar meer soos Ethan Hawke in Macbeth. Die son flash vir ’n oomblik verblindend in die glas en breek ons weerkaatsings in skerwe op.
“Hulle moes die plek eerder Mental Dental genoem het,” sê ek vir Rocky toe ons ingaan. Oral teen die mure is prente van beeldskone mense wat smaail asof hulle lewe daarvan afhang. Witter as sneeu en swaanvere sal jy nie sommer kry nie. Daar is selfs ’n geraamde foto van Zander Stander met sy windgat handtekening op. Tussen al die prente is daar ook plakkate waarop staan: A smile is the light in the window of your face that tells people you’re at home. En: Life is like a mirror. We get the best results when we smile at it. En: The shortest distance between two people is a smile.
Die receptionist se lippies trek styf toe sy hoor ons het nie ’n afspraak nie. Ja, dokter Van Drimmelen is hier, sê sy, en nee, hy is nie tans besig met ’n prosedure nie. Toe ons vir haar sê ons moet dringend met hom praat oor Zander Stander en dat ons speurders is, roer ons die regte snaartjie.
“Het julle hom gekry?” snak sy. “Ons is al só bekommerd!”
“Nee. Maar as ons met dokter Van Drimmelen kan praat, kan ons hom dalk nog betyds kry. Léwend kry.”
Sy bel hom onmiddellik om te hoor of hy ons kan sien.
“Hy sê julle kan dadelik deurgaan,” sê sy en wys ons die paadjie na sy spreekkamer.
Fok, dit was maklik. Dit is te goed om waar te wees.
Dokter Dirkie van Drimmelen is oud, bleek en so maer soos ’n kraai. Hy dra ’n wit jas en ’n ronderaambrilletjie met dik glase en lyk soos ’n mix tussen Woody Allen en Weird Al Yancovik. Alles in die spreekkamer is kil en klinies en supernetjies. Die plek ruik soos fluoried, Windolene en rottegif. ’n Brommer bzzzz-bzzzz deur die lug.
Dokter Dirkie lyk vreeslik bly om ons te sien. Hy staan op en skud blad. Sy hande is koud soos ’n yskas in ’n lykshuis. “Julle kom of julle gestuur is!” sê hy. Hy lyk geweldig bly en verlig. Hy frons diep. “Wie het julle gestuur?”
Huh? Ek en Rocky kyk mekaar verbaas aan. Iets is nie lekker nie. Die brommer gaan sit op ’n hoek van sy lessenaar. Dis ’n vet groen motherfucker, sien ek.
“Niemand het ons gestuur nie,” sê ek.
“Maar julle kom dan net op die regte tyd hier aan, net toe ek nie meer geweet het hoe diekant toe en hoe daaikant toe nie!” sê dokter Dirkie asof hy ons nie wil glo nie. “Dan moes God julle na my gestuur het. Dit kan nie anders wees nie.”
“Of dalk is dit alles net Murphy’s Law of karma of synchronicity of so iets, who knows,” sê Rocky, wat duidelik nie lus lyk vir allerhande kakpraatjies vandag nie. Hy draai dan ook nie doekies om nie. “Ons het gehoor jy weet dalk waar Zander Stander is?”
“Nee, ek weet nie waar hy is nie,” sê dokter Dirkie.
Fok tog! Ons mors al weer ons fokken tyd vandag! Bzzzz-bzzzz styg die brommer weer op en vlieg in sirkels deur die spreekkamer.
“Maar daar het iets baie vreemd gebeur,” gaan hy voort. “Daarom dat ek sê julle kom net op die regte tyd op die regte plek aan.” Waarvan praat die man tog? “My seun, Bertie, het my tien minute terug gebel. Hy is heeltemal buite homself.”
“Hoekom?” vra ek.
“Hy het ’n SMS van my dogter, Zelda, gekry wat sê: Help! Brakpandam. Net dit. Bertie het gesê hy gaan nou dadelik Brakpandam toe jaag met my Land Rover om te kyk wat aangaan. Hy sê Zelda is gisteraand saam met Zander Stander by ons huis weg.”
“Wat?” sê ek en Rocky gelyk.
“Ja. En Bertie het nou in haar kamer gaan kyk en gesien sy het nooit teruggekom nie. Ek weet nie wat om te doen nie.”
“Was Bertie en Zelda alleen by die huis gisteraand?” vra ek. Fok, dit voel of ek wil naar word. Dit moet die mix van die reuk van die knoffel en die rottegif en die fluoried wees. Links voor in dokter Dirkie se mond flash ’n goue tand toe hy verder praat.
“Ja.”
Dit klink of die brommer harder begin bzzzz-bzzzz.
“En waar was jy?”
“By ’n saamtrek in Roodepoort. Ek het in die Protea-hotel oorgebly en vanoggend vroeg eers teruggekom.”
“Watse saamtrek?” vra Rocky.
“Van Sada en Dentasa.”
“Sada en Dentasa? Wie is dit?”
“Die South African Dental Association en die Dental Technology Association of South Africa.”
“Waar was jou vrou gisteraand? Hoekom was sy nie by die huis nie?” Ek besef te laat ek klink soos die presenter van Cheaters.
“Sy is met vakansie in Israel,” sê dokter Dirkie. Sy brilletjie sak af oor sy haakneus. Hy skuif dit regop.
“Israel?” vra Rocky.
“Ja, dis een van daai bustoere wat die gospelsanger Jan de Ridder elke jaar saam met die tydskrifte Jubel! en Rejoice! vir hulle lesers aanbied.”
“Wat doen hulle daar?” vra Rocky. Dalk dink hy dokter Dirkie praat kak.
“Jan de Ridder tree op as gids van die Heilige Land vir hulle en saans sing hy vir hulle in die hotel.”
Bzzzz-bzzzz-bzzzz, vlieg die brommer onder my neus verby. Ek klap na hom, maar dis mis. Ons moet nou vinnig move, fokweet.
“Hoekom het Bertie hulle nie gisteraand gekeer nie?” vra ek. “Hy weet mos die hele wêreld soek na Stander.”
“Hy het nie geweet Zander word vermis nie. Bertie lees nie koerant nie en kyk nie nuus nie. Hy sit net heeldag in sy kamer voor sy computer en sy Xbox. Die wêreld sal om hom vergaan en hy sal dit nie agterkom nie.”
“En dit was nie vir hom vreemd dat Zelda saam met Zander gegaan het nie?”
“Ek weet nie, maar ek sou nie so dink nie. Nadat ek Zander se tande begin doen het, het ons goeie vriende geword. Hy nooi ons gereeld na sy konserte en bekendstellings toe en hy het al ’n paar keer by ons kom braai. Hy is nie ’n vreemdeling in ons huis nie.”
“Is Bertie nog op skool?” vra ek.
“Hy was vanjaar in graad 12.”
Ek spring op. Ek kan nie meer die stank in dokter Dirkie se spreekkamer uitstaan nie. “Ons moet dadelik ry. Waar is die Brakpandam?”
“Heeltemal aan die ander kant van Brakpan, daar by Jan Smutspark,” sê dokter Dirkie. “Julle moet Voortrekkerweg vat en dan links draai in Gordonstraat en net reguit aanhou, julle sal die borde sien.”
“Het jy al die polisie gebel?” vra Rocky.
“Nee, nog nie, ek wil net eers van Bertie hoor presies waar hulle is. Ek het hom gevra om my te bel die oomblik wat hy daar aankom. Maar sê my, hoe het julle van alles geweet?”
Die brommer is skielik stil.
“Jou buurvrou het een van ons informante by die koerante gebel,” sê ek. “Sy moes Stander seker gisteraand gesien het toe hy by jou huis aangekom het.”
Nou moet ons ons gatte roer. Behalwe die knoffel en die fluoried ruik ek ook ’n rot. ’n Groot vet rot met skerp tande. En as ons nie vinnig speel nie, gaan dit ’n vrot fokken rot wees wat ’n mens ’n myl ver kan ruik.
“Kan ek saamkom?” vra dokter Dirkie.
“Nee,” sê ek. “Bel vir Bertie en vra hom presies waar hy is en dan laat weet jy ons.” Ek gee hom my nommer en hy krap dit neer op ’n memo pad van Sensodyne (For Sensitive Teeth) en gee vir ons ook syne.
“Ek sal die polisie ook bel,” sê hy.
Ons kan nie vinnig genoeg uit Dental Elemental kom nie. Net voor ons by die deur uitstorm, sien ek nog ’n plakkaat agter die receptionist se toonbank: Beauty is power. A smile is it’s sword.
2.
Ons jaag soos mal goed, maar in Voortrekkerweg word ons spoed big time gebreek. Die mense wat die traffic lights gesynchronise het, het dit soos hulle gatte gedoen. Minibustaxi’s stop net waar hulle wil, busse druk voor ons in en lorries ry 40 kilometer ’n fokken uur.
“As ons nou nie weer op ’n fokken wild goose chase is nie en miracles inderdaad nog gebeur en ons kry vir Stander by die dam, sal ons hom so gou as moontlik daar moet wegkry en hom by De Beer gaan deliver,” sê ek. “Dat ons kan klaarkry met hierdie kak en ons geld kan kry.”
By Extreme Pets & Aquarium briek ’n minibustaxi voor ons. Rocky moet so vinnig briek aanslaan dat ons koppe teen die windscreen sou gekap het as ons nie ons safety belts gedra het nie.
“Fokof!” skree Rocky by sy oop venster uit en druk die toeter dat hoor en sien vergaan. Die bestuurder van die taxi wys sy middelvinger vir ons. Agterop die taxi is Arabian Knights in oranje letters soos vlamme geverf. En onder dit, in kleiner letters, Passion begins with da best. Mense klim op en af, en dan trek die taxi weer weg.
“Ek wonder wat ons by die dam gaan kry,” sê ek.
“Waarom gaan mense na ’n dam toe? Om vleis te braai, vis te vang en te vry. Dalk was Stander net lus vir ’n lekker naai in mother nature.”
“Dan kan ek aan beter plekke as die Brakpandam dink. Dalk word hy daar deur iemand aangehou en gemartel, iemand wat hy afgepis het in een of ander shady business deal.”
“Of dalk hou ’n cougar hom as ’n sex slave aan,” sê Rocky. “It won’t surprise me at all, jy weet hoe haywire middle-aged fans kan gaan, veral dié op die East Rand. Imagine wat ’n cougar met obsessive-compulsive disorder alles met ’n man kan aanvang.”
“Veral as hulle twintig jaar laas genaai het. Hulle sal ’n ou lewendig opvreet, rou en sonder tamatiesous.”
Ek kyk na die winkelname wat verbyflits. Dynamic Bedding. Exclusive Lingerie. Chief Khotzo Herbalist. Jet Stores. Southern Money. Van Aswegens Meat Market. Hungry Hunters. Statemines Liquor Store. Oral is net mense, mense, mense wat by die winkels in- en uitstroom.
“Ek het onlangs in die koerant gelees die Brakpandam het ’n misdaadnes geword,” sê ek. “Mense is al daar gehijack en beroof en gerape en al hoe meer hoere en drug dealers begin daar business doen en pedofiele sluip daar rond op soek na jong meisies.”
“Fok, ek hoop nie Stander is dood as ons hom kry nie. Kan jy imagine. Dit sal ’n lelike spanner in the works wees.”
Rocky kry uiteindelik vir Gordonstraat, draai links en gee vet. Die traffic is nie te heavy nie en na ’n ruk is ons by die Brakpandam. Dis ’n helse groot plek. Moerse bome staan die wêreld vol. Dit moet maklik wees om hier weg te kruip. Die plek is besaai van die onkruid. Die betonbraaiblokke is gebars en vrot blare dryf op die bleekgroen water wat soos slik lyk, asof Dracula daarin gekots en Frankenstein daarin gepis het.
Ek bel vir dokter Dirkie om te hoor of hy vir Bertie in die hande gekry het. Nee, sê hy, sy foon is op voicemail. Hy het toe die polisie gebel en hulle het gesê hulle sal iemand stuur.
Fok, nou moet ons vinnig speel. Ons moet Stander kry voor die cops hom kry. As hulle hom eerste kry, sal Ben de fokken Beer ons nooit betaal nie, that’s for fucking sure. Ons ry op en af en check alles met ’n eagle’s eye uit. Ons sien fokol. Ons is al weer op ’n fokken vals spoor.
Dan hoor ons dit. Die geskree van manstemme. Ons probeer uitfigger presies waar dit vandaan kom en jaag in daai rigting. Nie lank nie, of ons sien iets wat bo ’n bos uitsteek en blink in die son. Wat de fok is dit? Rocky briek dat die klippe spat. Die stemme is nou harder en nader. Ons spring uit die kar en hardloop na die bos toe waar ons die flash gesien het. Dan sien ons wat dit was: die sun-roof van ’n Land Rover wat daar geparkeer staan. ’n Entjie verder staan iets wat soos ’n moerse Kombi lyk tussen bosse.
Langs die Land Rover lê ’n teenager op die grond met ’n man bo-op hom wat sy heupe met sy knieë vaspen en hom met die vuis deur die gesig bliksem. Die teenager ruk sy knie op en stamp die man vol in die knaters. Die man rol van hom af en krul van die pyn. ’n Ent van ons af staan drie verskrikte meisies – een wit, twee bruin – met glaserige oë so groot soos pierings. Dit lyk of hulle gedrug is. Hulle hou mekaar vas en huil en bewe so uitgefreak is hulle.
“Ek sal jou vrekmaak, jou fokken vark!” skree die teenager. Hy spring op en begin die man skop.
Ons pluk ons pistole uit en hardloop nader. Rocky ruk die skoppende een weg en swaai sy Glock 17 onder sy neus.
“Hou op! Wat de fok gaan hier aan?” vra Rocky die teenager. “Wie is jy? Is jy Bertie van Drimmelen?”
“Ja,” kry hy dit uitasem uit. Bloed stroom uit sy neus. Sy T-shirt, met die cover art van Slayer se CD God Hates Us All daarop, is geskeur.
Ek gaan staan wydsbeen voor die man wat op die grond lê en rig my Beretta 92 op hom. Hy lig sy kop op.
Dis Zander Stander. Fok, dat ons so lucky kan wees! Ek kan dit nie fokken glo nie. Hy klou sy ballas met sy hande vas. Sy gesig lyk soos ’n uitgedrukte suurlemoen van die pyn. Hy lyk baie anders as wanneer hy gephotoshop is. Sy vel is nie glowing in the wind soos op sy CD covers nie, maar skurf en vol swartkoppies. Daar is sakke onder sy oë wat dit laat lyk of hy dae lank nie geslaap het nie. Dit lyk of iemand ’n pot rooi ink in sy oë gegooi het.
Nou moet ons op ons voete dink. Daar is nie meer tyd vir allerhande kak nie.
Bertie vee die bloed op sy gesig met sy T-shirt af.
“Wat gaan hier aan?” vra Rocky.
“Hy … hy het hulle gerape!” hyg Bertie en wys na die drie meisies wat eenkant staan.
“Is dit die waarheid?” vra ek vir Stander en hou die Beretta 92 reg onder sy neus. Fok, as ek hom nou per ongeluk moet doodskiet gaan dit ’n moerse kakspul afgee, ek beter nie te carried away raak nie.
“Nee … nee …” kreun hy. Hy klou nog steeds aan sy balle vas soos ’n aap aan peanuts.
“Hy hou hulle as sex slaves aan!” sê Bertie. “Hy het hulle gedwing om group sex met hom te hê!”
“Lieg jy vir ons?” Ek druk die Beretta 92 teen Stander se ken.
“Nee … Nee …” roggel hy.
“Hy lieg, die doos!” skree Bertie. “Vra vir Zelda!”
Ek wink die drie meisies nader, maar hulle is te bang. “Is dit die waarheid?” vra ek.
Die een wat Zelda moet wees, knik haar kop. Ek skat haar so agttien. Sy het lang blonde hare en groot blou oë. Sy lyk so innocent soos iemand in ’n advertensie vir Dove-seep, maar eerste indrukke kan natuurlik verkeerd wees. Die ander twee meisies lyk ook nie soos wilde weggooikinders wat op straat beland het en hoere geword het of so iets nie. Hulle lyk heel decent.
“Wie is julle?” vra ek hulle.
Hulle kry hul name snikkend uit: Jolene Jakobs en Florence September.
“Waar bly julle?” vra Rocky.
Jolene sê hulle bly in die buurt Geluksdal hier naby. Sy bly by haar ma in Daffodilstraat en Florence by haar ouma in Kappertjiestraat.
“Hoe oud is julle?”
Jolene is sewentien en Florence is sestien.
“En van waar ken julle dié man?” vra ek en beduie na Stander.
“Mxit,” sê Jolene.
“En wat is sy naam?”
“Kyle Brovlofski,” sê Florence.
“Dit is Zander Stander!” skree Bertie.
“Kyle Brovlofski moet sy username op Mxit wees,” sê Rocky. “Was daar ’n foto van hom op sy profile op Mxit?”
“Ja,” sê Florence.
“En lyk hy op daai foto soos dié ou?” vra ek.
“Nee,” sê sy.
Hmmm, dink ek. ’n Stalker wat onder vals name jong meisies op social media target … Kan dit wees?
“Wat het hier gebeur?” vra Rocky hulle.
Florence en Jolene begin deurmekaar praat. Die storie kom in rukke en stote uit. Hulle het so ’n maand gelede op Mxit met Kyle Brovlofski begin chat. Hy het soos ’n cool ou geklink. ’n Paar dae gelede het hy vir hulle getext dat hy hulle wil ontmoet, vir ’n joyride wil vat en vir hulle mixed grills en milkshakes by The Apple Bite Roadhouse in Germiston wil koop. En toe bring hy hulle hiernatoe. Hy het eers vir hulle drinks gegee en kort daarna het hulle skielik snaaks begin voel. Hulle begin weer huil.
“Ek wed jou die drinks was gespike! En toe sleep die vuil poes vir Zelda ook hier in!” sê Bertie. Are bult blou in sy nek. “Hy wou seker ’n wit girl ook in die mix hê, die fokken pervert!” Hy storm op Stander af en begin hom weer skop. Rocky gryp Bertie van agter vas en ek rig die Beretta op hom.
“Luister nou mooi, boetman,” sê ek vir hom. “Die belangrikste is dat Zelda-hulle so gou moontlik by ’n hospitaal moet uitkom. Jy moet hulle dadelik soontoe vat. Ons sal Stander saam met ons vat.”
“Nee, ons moet die polisie bel!” skree Bertie.
“Ons kan vir ure hier sit en wag vir hulle, jy weet hoe deur die kak is hulle.”
“Nee! Julle kan nie vir Zander vat nie!” gil Bertie. “Hy mag nie wegkom nie!”
Ek rig die Beretta 92 weer op Stander. “Gaan klim in ons kar!”
Hy sukkel om op die been te kom. Hy is voos gebliksem en mak soos ’n lammetjie. Hy kan nie ordentlik loop nie en hinkepink en struikel na die kar toe, klim agterin en klap die deur toe. Dit lyk darem nie of sy bene of arms gebreek is nie, anders sou hy ’n keel opgesit het.
“Trust ons, Bertie,” sê ek toe ek seker is Stander kan ons nie hoor nie. “Ons is private investigators. Jou pa het ons gestuur. Hy het ons nommers. Stander sal nie hiermee wegkom nie, ek belowe jou. Wat hy gedoen het, is fokken vieslik.”
“Waarheen vat julle hom?” vra Bertie.
“Na sy manager toe. Sorg dat jy vir Zelda-hulle by die hospitaal kry, soos in nou, hulle het baie likely ernstige inwendige beserings!”
Nou moet ons gatskoonmaak, fokweet. Ek en Rocky hardloop na sy kar toe en ons jaag so vinnig weg as wat ons kan. Die stof staan en klippies spat. Stander lê opgekrul op die agtersitplek met sy knieë styf teenmekaar geknyp.
“Waarheen vat julle my?” kreun hy.
“Na Ben de Beer toe,” sê ek. “Jy wil seker nie hê die polisie moet jou hier kom haal nie, wil jy?”
Ek bel De Beer en sê ons het Stander gekry en wil hom deliver, waarheen moet ons gaan? Hy vra waar ons hom gekry het. Dit klink of hy dink ek praat kak.
“By die Brakpandam. Kyk, Ben, ek het nie nou tyd om met jou te praat nie. Ons bring hom nou na jou toe. Waar is jy?”
“By my huis in Dainfern.” Hy verduidelik vir ons hoe om daar uit te kom en wil nog praat, maar ek sit die foon af. Ek is nie nou lus vir sy fokken gesanik nie.
Dit is weer ’n gesukkel om deur Voortrekkerweg te kom. Dit gaan nog lank vat voor ons by die highway uitkom.
Duisende goed gaan deur my kop. Stander moes seriously gefok in sy kop gewees het toe hy vir Zelda gaan haal het. Hy moes mos besef het hoe ’n moerse fokken risiko dit is. Hy moes tog geweet het sy sou polisie toe kon gaan. Hy moes gesuip of op drugs gewees het as hy nie verder kon dink as wat sy neus of piel lank is nie. Dis al wat ek kan dink.
“BOOM! BOOM BOOM! SHOWTIME!” lui my foon se nuwe ringtone van Die Antwoord se “Baby’s on Fire”. Ek sukkel om dit uit my sak te kry. “MUDDAFUCKA IT’S ON! APOCALYPSE NOW I’M DROPPING THIS BOMB! U CAN’T FUCK WIF DIS SONG! I’LL STICK TO DIS SPLIFF I’M NOT KLAPPING DIS BONG!” Ek kry die foon in die hande en druk die groen icon. Dis dokter Dirkie. Hy is buite homself. Hy praat so deurmekaar dat ek nie kan uitmaak wat hy probeer sê nie. Die signal breek ook op sodat hy klink soos ’n brulpadda wat onder die water gorrel. Al wat ek hoor is: “Bertie … hospitaal … Zelda verkrag … Wat gaan aan? … Polisie …”
“Ek kan jou nie hoor nie!” skree ek. “Jy breek op! Ek sal jou later bel!” Ek druk die rooi icon.
Na wat soos ’n ewigheid voel, is ons op die highway en Rocky gee vet. Ek probeer Stander uitvra, maar hy brom en kreun en kerm net en is nie lus om te praat nie. Ek beter nie nou op sy battery pis nie. ’n Mens weet nie waartoe hy in staat is nie. Ek kyk om na hom toe. Hy lê nie meer opgekrul nie, maar sit nou vooroorgebuk en maak geluide wat klink of hy wil kots.
“Draai jou venster oop!” sê ek vir hom. “Moenie in die kar kots nie! Ons is nou op die highway, ons kan nie stilhou nie!”
Hy leun met sy kop by die venster uit. Sy skouers ruk soos hy opgooi.
“Daar is ’n joint in die cubbyhole,” sê Rocky vir my. “Light dit vir ons.”
Ek maak dit oop en sien daar lê ook ’n CD van Nancy Sinatra. Ek druk dit in die CD player voor ek die joint aansteek. Die eerste song, “Sugar Town”, begin. Dit sit my dadelik in die regte headspace. Stander het klaar gekots en lê weer soos ’n vrot vel opgefrommel op die sitplek.
Ek brand om met Rocky te praat oor al hierdie kak waarin ons nou dieper as kniediep is, maar ek wil nie hê Stander moet enigiets hoor nie. Ek probeer om nie te dink nie en op “Sugar Town” te konsentreer. Maar dan skiet iets my te binne. Sê nou die polisie kom by die dam aan en kry net Stander se bus daar en hulle begin rondvra? Ons kan mos in gróót kak kom as hulle agterkom ons het hom daar weggevat …
Nancy trek los met “Bang! Bang!”. Dit laat my dink aan die scene in die movie Kill Bill waarin sy dit sing. My hande begin sweet. My mond word droog. Skielik hoor ek ’n sirene. Ek skrik my gat af. Ek pis byna in my broek. My hart begin vinniger klop. Die sirene raak al hoe harder. “Fokkit, Rocky, dalk is dit die cops!”
Nancy sing hoe die skote klap en die koeëls haar tref en sy op die grond neersak.
Ek draai om om te kyk of die polisie agter ons is. Ek sien nie blou ligte wat flash nie. Dan pyl ’n ambulans van voor af in die teenoorgestelde rigting by ons verby. Die sirene is so hard en skerp dat dit voel of dit soos ’n tandarts se boor deur ’n ou se brein sny.
“Fok!” sê ek.
Rocky lees my gedagtes. “Chill, bru,” sê hy. “Ons het niks verkeerd gedoen nie.”
Regtig niks? wil ek vra, maar bly liewer stil. Ek wil niks sê wat Stander paranoid kan maak nie.
Nancy begin net op die regte oomblik die volgende song sing, The Beach Boys se “California Dreaming.” Haar version daarvan maak altyd ’n skoon stuk space in ’n ou se kop oop. Die spiere in my nek en skouers begin relax. Ek vat nog ’n diep trek van die joint en gee my heeltemal oor aan Nancy en wens ek was in fokken Kalifornië.
Sy toor met my. Na “California Dreaming” is dit “Light My Fire” se beurt. Dit raak nou baie trippy. Ons moet darem nou ook nie té spaced-out raak nie. Dis asof Nancy my kop kan lees, want die volgende song, “The Last of the Secret Agents”, het ’n baie vinniger beat. Dit klink of die song uit ’n James Bond movie kan kom. Daar kom skielik so ’n crazy feeling oor my. This is too fucking much. Ek vat nog ’n trek van die joint en daarna konsentreer ek daarop om diep en stadig asem te haal. Nou moet ons koelkop bly. Nou moet ons fyntrap. Nou moet ons soos slange seil.
3.
“Jissus, wat ’n fokken plek,” sê Rocky toe ons by die Dainfern-gholflandgoed naby die Diepsloot-plakkerskamp aankom. “Check al die huise! En daai gholf course! Dis seker Suid-Afrika se eie Beverly Hills hierdie.”
Die zol op die highway het nou big time ingeskop. Dit voel of ek in ’n heeltemal ander reality is. “Nadat ek nou die dag gehoor het De Beer bly hier, het ek Dainfern gegoogle,” sê ek vir Rocky. “Daar is ’n electrified heining reg rondom die plek. Dis driehonderd hektaar groot. Hier is meer as 1 300 huise.”
“Driehonderd hektaar van rich bitch kitsch. Kan jy imagine …”
“Gewapende security ry heeldag en heelnag op en af in die strate. Daar is oral hi-tech kameras wat alles afneem wat gebeur, 24/7. Daar is ook ’n sentrum genaamd die Beheerkamer. Dis waar alles gerun word. Daar is ook vier tennisbane en twee moerse swembaddens.”
“Goeie hel,” sê Rocky. “Dit klink soos iets uit ’n sci-fi thriller.”
“Die ergste van alles is dat dit real is, bru, dit is nie fiction nie. Die security is ook moerse state of the art. By die hekke is ’n biometric system sodat die mense wat hier bly nie remote control hoef te gebruik as hulle wil in- of uitgaan nie. Hulle gebruik hulle vingerafdrukke.”
“Fok, dit klink soos Star Trek …”
“Die huise hier kos tussen R5 miljoen en R17 miljoen. As jy een wil huur, kos dit jou so R55000 ’n maand. Dis die hoëlui wat hier bly.”
“Hoëlui? Wat is dit?”
“Die high and mighty. Die soort wat hulle neuse optrek vir lae luise soos ons omdat ons ons skoene by Pep Stores koop.”
“Ek sal eerder ’n lui hoë as ’n hoëlui of ’n lae luis wil wees.”
“Of ’n hoë luis, lekker hoog hier in die Hoëveld,” sê ek toe ons derde in die ry by Dainfern se Broadacres-veiligheidshek wag. De Beer het gesê ons moet hom bel as ons daar aankom, hy kom ons self haal sodat ons met die minste moeite deur security clearing by die hekke kan gaan.
“Dit lyk maar baie hoog en droog hier,” sê Rocky.
“Ek kan hoog en laag sweer dat die spul wat hier bly vreeslik suip en rondnaai, so ek is nie so seker van die droog nie. Ek is seker hulle ken van hoog en laag trap.”
“Wat beteken hoog en laag trap?”
“Om dronk te wees.”
“O, ek het gedog dit klink soos iets wat Stander sal moet doen wanneer hy vir De Beer please explain waar hy was.”
Praat van die duiwel, daar staan die ou donder by die hek en beduie. Rocky sit die CD player af. Nancy het nou net “I Gotta Get Out of This Town” klaar gesing.
De Beer het reeds die logboek vir besoekers ingevul en Rocky hoef net die kar se registrasienommer in te skryf en te sign en ons word deurgelaat. De Beer waggel terug na sy koningsblou BMW Gran Coupé en beduie ons moet hom volg. Al die swanky mansions en smart karre en 4X4’s en SUV’s wat in die driveways staan, kan jou laat verbeel jy is ’n karakter in Real Hollywood Housewives.
By ’n Toskaanse villa trek De Beer in en beduie ons moet agter hom stilhou. Hy spring uit sy kar en kan nie vinnig genoeg by ons uitkom nie.
“Waar is Zander?”
Ons klim uit.
“Hy lê agter.”
De Beer pluk die agterdeur oop en help Stander om uit te klim.
“Waar was jy? Ons is al van ons koppe af van bekommernis! Kyk net hoe lyk jy! Wat de donder gaan aan?”
“Wees versigtig met hom, hy is aangerand,” waarsku ek De Beer.
“Aangerand?” vra hy. “En julle sê julle het hom by die Brakpandam gekry?”
“Ja.” Fok, nou moet ek vinnig dink. As ons De Beer vertel dat die polisie op ons spoor is, kan ons daarvan vergeet dat hy ons sal betaal. Ons moenie te lank hier hanna-hanna nie. “Dis ’n lang storie. Ons moet hom nou eers in die huis kry en check of hy ’n dokter nodig het of hospitaal toe moet gaan.”
“Hy kan nie in hierdie toestand hospitaal toe gaan nie!” blaf Ben. “Hy kan nie so in die openbaar verskyn nie! Wat as iemand hom sien en ’n foto van hom neem?”
’n Vrou wat soos Joan Collins lyk, kom uit die huis gestorm. Sy het moerse baie make-up en pienkpers lipstick aan. Sy dra jeans en ’n toppie wat te styf span. Sy is seker al ver oor die vyftig, maar dis obvious dat sy hard probeer om nog soos ’n twintigjarige seksbom te lyk. Dan herken ek haar: Melizane de la Bat. De Beer se minnares, skrywer van Afrikaanse seksgidse, erotiese fiksie en chick lit.
“Zannie! Zannie!” roep sy uit en gooi haar arms dramaties om Stander, maar net toe sy hom wil soen, sien sy hoe rooi en wild sy oë is en ruik hoe sy asem stink en laat hom los. “Waar was jy? Ek is so dankbaar jy is nie dood nie, ons was al dóód van bekommernis, ons het gedog jy is gehijack en vermoor!”
Stander sê niks. Hy kan nie self loop nie en Rocky en De Beer moet hom stut. Dit lyk of sy enkel verswik is. Hy sit sy arms om Rocky en De Beer se nekke en hulle sleepdra hom die mansion binne.
Melizane sê ek moet solank sit en sy gaan agter Rocky, Stander en De Beer met die trappe op. Sy beveel hulle om hom na een van die gastekamers te vat, want sy wil dadelik aandag aan sy beserings gee.
Die lounge het ’n 180°-uitsig en dis net groen heuwels en helderblou lug en wolke so wit soos icing sugar waar jy kyk. Die meubels is net van die beste. ’n Groot plasma-TV is teen die muur vasgeskroef bo ’n moerse wall unit vol decoders, consoles, CD’s en DVD’s. ’n Mens sou sweer dis Bill Gates se huis. Ek het nie geweet De Beer is só ryk nie. Hoe de fok het hy al sy geld gemaak?
Eenkant staan ’n boekrak. Ek loop nader en bekyk die titels. Persuasive Business Presentations deur Nick Robinson. Think Big and Kick Ass in Business and Life deur Donald Trump. The Hitchcock Romance deur Lesley Brill. Juanita du Plessis Dagbeplanner 2012. She Bop: The Definitive History of Women in Popular Music deur Lucy O’Brown. Musieksterre van gister en vandag deur Danie C. Pretorius. Om te weet wie ek is deur Nianell. Joost: Spieëlbeeld deur David Gemmell. 150 Jaar van Suid-Afrikaanse Rugby deur Wim van der Berg. Ver van Vrede deur Jurie Els. Kreatiewe rugby deur Naas Botha en Kobus Neethling. Jêmbekseep deur Steve Hofmeyr. Cliff Richard: A Celebration. Nog twee van Donald Trump: 10 Secrets I Learned from The Apprentice en Think Like a Billionaire.
Op die boonste rak is daar ’n klompie van Melizane de la Bat se pennevrugte: Die Afrikaanse superseksgids van A tot Z, Dagstukkies vir ’n liefdesgodin, Bruid in die kerslig, Van tiptol tot G-kol, Van ogies maak tot wittebrood, Soeter as heuning en Intieme vreugde in twintig maklike stappe.
Rocky kom weer ondertoe. Ek hoor De Beer en De la Bat se stemme soos hulle oor Stander kloek, maar kan nie hoor wat hulle sê nie. De Beer beter nou gou ondertoe kom sodat ons ons geld kan kry en kan fokof, maar dit lyk nie of dit gou gaan gebeur nie. Fok tog.
“Ons moet ons geld so gou moontlik by De Beer kry,” sê ek vir Rocky. “En hy mag nie agterkom die cops is dalk op pad nie, want dan kan ons daarvan vergeet dat hy ons sal betaal.”
“Ons moet maar net hoop die cops is nog nie by die dam nie,” sê hy.
Ek haal Van tiptol tot G-kol uit die rak. Dit is ’n versameling van Melizane se rubrieke wat in die tydskrif Innig verskyn het, sien ek. Ek maak dit in die middel oop. Daar is ’n opskrif wat sê: Maak só koningskos van cunnilingus. Ek lees dit vir Rocky: “Benader haar soos jy ’n draairoomys sou benader – met die lui, plat hale van jou tong. Onthou, dit is nie ’n warm somersdag waarop jy moet keer dat die roomys smelt nie. Dit is winter, so geniet die geur ten volle.”
“Wie de fok eet roomys in die winter?” vra hy.
“En hier is raad oor wat jy moet doen voor jy die roomys eet: Sorg dat jy skoon is. Knip jou naels, versorg jou hande en skeer jou baard.”
Ek blaai ’n bietjie verder en lees vir hom ’n sin uit ’n hoofstuk oor hoe ’n ou na die G-kol moet soek: “Stel jouself ’n horlosie by die vaginale opening voor, met twaalfuur naby die klitoris en sesuur naby die anus.”
Goeie genadige fok. Wat gaan alles in hierdie mense se koppe aan? Ek blaai verder en kom af op ’n hoofstuk oor rolspel. Die eerste speletjie wat aanbeveel word, is “Die stout matriekmeisie”. Ek lees dit vir Rocky: “Die jong meneer by die skool het jou gevang giggel en jy het sy klas gemis. Dit is tyd vir jou straf. Jy het ’n kort, geplooide rompie met enkelsokkies en leerskoene aan, maar jy moet dit nou uittrek. Hy klap jou liggies op die boud, maar jy draai om, begin jou bloes oopknoop en die liefdespel begin.”
“Dit sal my nie verbaas as Stander hierdie boeke gelees het nie,” sê Rocky. “Nie na alles wat ons vandag gesien het nie.”
Na wat soos ’n ewigheid gevoel het, kom Ben se voetstappe doef-doef-doef by die trap af. Ek druk die boek terug in die rak en ons gaan sit.
“Dit lyk darem nie of dit nodig is dat ons ’n dokter hoef te kry nie,” sê hy. “Hy moet nou net rus. Melizane het hom ’n kalmeerpil ingejaag. Maar nou moet ek weet: Wat het Zander by die Brakpandam gaan doen? En wie het hom aangerand? Hy kan nie vir my sê nie, hy is nog te geskok om te praat.”
“Ons het nie ’n clue nie,” lieg ek. “Ons weet ook nie hoe hy daar beland het nie.”
“Was daar niemand anders nie?” De Beer gaan sit op ’n massiewe swart leerstoel wat lyk of dit uit Liberace se huis kan kom.
“Nee. Ek weet daar is baie misdaad by die dam, iemand het hom seker aangerand en wou hom beroof.”
“Sy toerbus staan nog daar, so as die cops dit kry, sal hulle seker forensics doen en fingerprints vat,” sê Rocky. “Dan sal ’n mens ’n beter picture kan kry van wat aangaan.”
En ons wil beslis nie naby wees wanneer dít gebeur nie, dink ek.
De Beer pluk sy selfoon uit. Daar is ’n diep frons tussen sy oë. Hy druk ’n nommer in. “Fanie!” sê hy toe die persoon aan die ander kant antwoord. “Zander se bus staan by die Brakpandam …! Ja, ons het hom gekry … Lang storie … Jy moet dit dadelik gaan haal, jy het mos die spaarsleutels, vat dit saam … Nee, nou dadelik! Gaan haal dit en bring dit na my huis toe … Nou maar kry iemand om jou soontoe te vat! Nou dadelik!”
Ek en Rocky kyk betekenisvol na mekaar. Dis veiliger om nou so min as moontlik te sê. Wie de fok is Fanie? Dan onthou ek: Fanie Venter, Stander se klankman.
“Hoe het julle geweet Zander is by die dam?” vra De Beer nadat hy klaar met Fanie gepraat het.
’n Million dollar question. Nou moet ons vinnig dink.
“’n Pêl van Beyers Eybers van Volksmond het daar visgevang en hom toe gebel,” lieg ek. Shit, dit klink maar fokken flou, soos iets wat te goed is om waar te wees, besef ek dadelik, iets wat te toevallig is om toevallig te wees. Gelukkig vreet De Beer dit vir soetkoek op. “Ek hoop nou net nie Eybers gaan staan en skryf iets daaroor vir die koerant nie,” brom hy.
“Nee hy sal nie, hy moes Waterkloof toe vir ’n gesinsmoord en het die tip-off na ons toe aangepass,” sê Rocky.
“Maar hy kan nog stééds daaroor skryf!” De Beer raak rooi in sy gesig.
“Ons kan vir hom sê sy pêl het kak gepraat en dat ons Zander nie by die dam gekry het nie,” sê ek. “Ek dink die beste sal wees om te wag tot Zander beter voel en dan alles self by hom te hoor. Niemand in die media weet al hy is gekry nie.”
“Ja, jy is seker reg.” De Beer sug diep. “Reputasiebestuur is nou van die allergrootste belang. Ek sal die nuus aan die media bekend maak wanneer ek dink die tyd is reg daarvoor.”
“Dan moet ons nou business praat,” sê Rocky. “Ons het Zander gekry en ons wil nou ons bucks hê. Ons het ooreengekom op R25000 ’n dag. Dit was vyf dae. Dit sal R125000 wees.”
“Ek het gesê as ek tevrede is met julle werk,” sê De Beer. “En dit sal ek eers kan besluit as ek die hele storie by Zander gehoor het. Julle het hom gekry, ja, maar julle kon nie uitvind hoekom hy verdwyn het en of iemand hom ontvoer het of wou afpers of wat ook al gebeur het nie en wie daaragter sit nie. Julle het my ook nie heeltyd op hoogte gehou van wat aangaan nie, al het ek julle oor en oor gevra.”
Ek is nie meer lus vir sy kak nie. “Moenie met ons speletjies probeer speel nie, Ben,” sê ek. “Niks keer ons om die inligting vir Beyers Eybers te gee as jy ons deur die ore probeer naai nie.”
“Julle sal julle eie kele afsny as julle dit doen, en julle weet dit. Ons ooreenkoms was ook dat julle die deposito van R25000 moet terugbetaal as ek nié tevrede is met julle werk nie. Omdat julle hom gekry het, kan julle die deposito hou. En dan sal ek oor die res besluit nadat ek by Zander gehoor het presies wat gebeur het.”
Ek moet nou op my voete dink dat die kak wit staan. Danksy daai sterk shit van Rocky wat ons op die highway gerook het, kliek ek ek moet soos ’n speurder probeer klink en met sy kop smokkel. “Ons het natuurlik in ons ondersoek ook op ánder goed afgekom,” sê ek en bly ’n rukkie stil. Net toe De Beer sy mond oopmaak om te praat, gaan ek voort. “Raaiselagtige goed … báie raaiselagtig.” Ek bly weer stil en wanneer hy weer sy mond oopmaak om iets te sê, gaan ek verder. “Ons vermoed ons het bewyse dat iemand hom vir die wolwe wil voer.”
De Beer lyk ’n oomblik uit die veld geslaan. “Vir die wolwe voer?” Hy frons. “Wat bedoel jy?”
“Iemand wat hom tot ’n val wil bring en reeds ’n komplot begin smee het om dit reg te kry.”
“Wie?” De Beer kry ’n donker, gevaarlike kyk in sy oë.
“Ons kan nog nie presies sê nie, maar ons het die spoor begin vat en moet nog sensitiewe inligting met een of twee ooggetuies bevestig, dan sal ons genoeg bewyse hê om die skuldige aan die kaak te stel.”
Dis duidelik dat De Beer nie ’n clue het wat om te dink van wat ek nou net gesê het nie. Hy bly ’n oomblik stil. “Die mense wat hom vir die wolwe wil gooi … is dit hulle wat hom aangerand het?” vra hy dan. “Of dink julle hulle het Zander eers ontvoer?”
“Ons weet nie deur wie Zander aangerand is nie. Ons weet ook nie of hy ontvoer is voor hy aangerand is nie. Maar dis alles goed wat ’n mens verder kan ondersoek. Gewoonlik wil mense wat sulke komplotte uitdink nie hulle eie hande vuil maak nie en kry dan sleazy skobbejakke om hulle vuilwerk vir hulle te doen. Ek weet net dit sal my beslis nie verbaas as al die bevindings daarop dui dat wat met Zander gebeur het wel deel is van die komplot nie.”
Fok, die vent moet nou ophou met sy vrae. Ek is nou moeg daarvoor om soos ’n speurder te probeer praat. Ek is nie eens mooi seker wat die fokken punt is wat ek wil maak nie.
“Ek dink wat Malletjie eintlik wil sê, Ben, is dat ons information het wat ons later kan corroborate, en as jy ons nie ons R125000 betaal nie, kan ons daardie information later as payback gebruik en dan sal jy heavy collateral damage voel,” sê Rocky.
Fokkit, Rocky moet hom nie nou afpis nie. Ons moet nou net ons geld kry en fokof.
“Maar natuurlik is dit wat Rocky noem net ’n móóntlikheid, Ben, dis nie ’n gegewe nie,” sê ek. “Die saak kan enige kant toe gaan en niemand weet wat volgende kan gebeur nie.”
“Maar …”
Nou moet ek hom goed deurmekaar praat. “As jy twee en twee bymekaar sit, behoort jy te besef Zander se lewe is in gevaar,” lieg ek. “Gróót gevaar. Daar is mense daar buite wat hom haat. Maar hoor eers wat hy self te vertelle het. Dan sal dit makliker wees om al die stukkies van die puzzle te laat pas.”
Melizane kom by die trappe af. Dit lyk of sy non-stop smaail. Dit is seker van al die botox. Dit lyk ook of sy al ’n jaw-tuck gehad het.
“Hoe lyk hy nou, poppiedol?” vra De Beer.
“Zannie slaap nou. En ek dink hy gaan lank slaap, want hy lyk regtig gedáán. Is julle lus vir koffie?”
“Ek dink ons kan eerder ’n whiskytjie drink, poppiedol. Hoe lyk dit, kêrels? Julle lyk ook of julle kan doen met ’n dop.”
“Ons is haastig, Ben,” sê ek.
“Haastig vir wat? Julle hoef mos nou nie meer na Zander te soek nie. Nonsens, man. ’n Dop sal nie skade doen nie. Ek gaan vir ons ingooi.” Hy staan op en verdwyn in die gang af.
“Ons is só bly julle het vir Zannie gekry,” sê Melizane en gaan sit op ’n leerbank. Haar vals oogwimpers fladder. Sy ruik die ene parfuum en poeier. “Wat het gebeur?”
“Ons weet nie. Hy is al een wat vir julle sal kan vertel.”
“Ai, ons senuwees was gedáán die laaste ruk. Dit sou dinge lelik deurmekaargekrap het as hy iets oorgekom het, veral noudat alles ingrypend gaan verander.”
“Wat gaan verander?” vra ek.
“Ben gaan Music Mania Management mos verkoop,” sê sy. “Het julle dan nie geweet nie? Die stories loop al ’n ruk nadat Ben in September vir Nico Lourens en Tom Blom uitgeskop het, want stapels van hulle CD’s het altyd teruggekom van die winkels of is afgemerk tot drie vir R100 of R25 elk by die specials.”
Haar goue oorringe skud heen en weer soos sy babbel. Sy is duidelik lief daarvoor om kletspraatjies te maak. Sy is glad nie diskreet nie en sit nie ’n wag voor haar mond nie. Met sulke mense weet jy jy moet jou ore spits, want jy kan goed hoor wat jy nie veronderstel is om te weet nie.
“Die kunstenaars in Ben se stal is baie ontsteld, want hulle weet nie wie hulle nou gaan kry om hulle CD’s op te neem en vry te stel nie. Maar Ben kan net nie meer so aangaan nie. Hy kan dit nie bekostig om sangers aan te hou wat nie glansgehalte is nie en uit wie hy nie wins kan maak nie. Hy gaan nou net vir Zannie en Janita de Wit hou, want hulle CD’s verkoop nog goed, en dan ’n nuwe maatskappy begin.”
“Watse nuwe maatskappy?”
“Ek, Ben en Zannie is die vennote,” sê Melizane. “Ons gaan ’n nuwe bemarkingsmodel inspan vir my boeke en Zannie se CD’s en DVD’s. Boonop was dit ook nog altyd Ben se droom om ’n realiteitsreeks te maak, en hy het pas ’n kontrak van kykNET gekry om ’n Afrikaanse Celebrity Apprentice te vervaardig.”
De Beer hoor die laaste deel van Melizane se sin toe hy terugkom. In sy hande is ’n silwerskinkbord met vier kristalglase, ’n emmertjie ys en ’n bottel Johnnie Walker Blue. “Ag nee, poppiedol, lap jy tog nie al ons geheime uit nie!” Hy lyk egter nie kwaad nie en knipoog vir haar soos ’n spulse skoolseun.
Sy gee ’n guitige gilletjie. “Dis mos nie meer ’n geheim dat alles nou gaan verander nie, Beertjie!” spin sy en glimlag liefies vir hom.
De Beer sit die skinkbord neer, maak die bottel oop, gooi ys in die glase en skink die whisky. “Hier drink ’n mens net Johnnie Walker on the rocks, dit is sonde om water of soda by te gooi,” sê hy en gee ons glase vir ons aan. “Gesondheid, kêrels. Dankie vir wat julle tot dusver gedoen het.” Klienk-klienk-klienk.
Ben gaan sit. Fokkit, ek en Rocky sal moet vinnig sluk en ’n verskoning kry om so gou moontlik hier weg te kom. Dis egter nie so maklik om whisky vinnig te drink as dit nie ’n mix in het nie.
“Die nuwe bemarkingsmodel wat Ben ontwerp is baie revolusionêr,” sê Melizane. “Vertel hulle, Beertjie!”
“Ek doen dit saam met ’n neurobemarkingskonsultant,” vertel De Beer, duidelik lus om af te show voor Melizane. “In vandag se wêreld moet bemarkingstrategieë en reklameveldtogte verfyn word, want navorsing het bevind verbruikers verdrink in inligting en dat advertensies hul slaankrag verloor. Die gemiddelde mens word daagliks aan 3500 sale shots van watter aard ook blootgestel, oftewel een elke vyftien sekondes,” lig De Beer ons in. “Vebruikers raak afgestomp, en dis die grootste gevaar waarteen ons moet waak. Hulle ly aan Information Fatigue Syndrome.”
De Beer vat ’n diep teug van sy dop nadat hy eers diep daaraan geruik het. Dan probeer hy verduidelik hoe jy met neurobemarking tegnieke kan ontwikkel om verbruikers se onbewuste te stimuleer sodat hulle dit nie kan weerstaan nie om goed te koop wat jy wil hê hulle moet koop, selfs – en verál, beklemtoon hy – as hulle dit nie regtig nodig het nie.
“Ons is besig om die mindreading-tegnologie te ontwerp wat hiervoor nodig is,” sê hy. “Met neurobemarking kan jy bepaal wat in die verbruiker se brein nog geprikkel kan word en agterkom watter soort advertensies die beste werk en hoekom. Jy moet net die regte neurone prikkel. En dan vreet hulle uit jou hand.”
“Is Beertjie nie ’n genius nie?” vra Melizane asof hy alles self uitgedink het. De Beer lyk soos ’n kat wat ’n piering room gekry het.
“Dis basies maar ’n vorm van computerised thought control en identiteitsbestuur,” gaan hy voort. “En die massas is mos maar soos skape, jy weet. En as jy neuro-marketing met die tegnieke van ambush-marketing, guerrilla-marketing en viral-marketing kombineer, is die wêreld jou oester.”
Dit lyk of sy woorde musiek in Melizane se ore is. “Kan julle net dink hoe my boeke en Zannie se CD’s en DVD’s dán sal verkoop!” sê sy. “En ons het só baie ander opwindende planne. Ek gaan ook my eie reukwater op die mark bring. Die naam gaan wees Melizane en die slagspreuk is: ‘One step closer to happiness’. En as Beertjie kan regkry om dit alles te kombineer met ’n magtige openbare platform soos realiteitstelevisie waar ’n mens baie product placements kan doen, dan … dan …” Die gedagte is duidelik te cosmic vir haar om woorde daarvoor te vind.
“… dan kan ons in die Franse Riviera gaan aftree, poppiedol, en elke jaar in Miami en New York en Las Vegas gaan vakansie hou!” sê De Beer en vat nog ’n groot sluk van sy dop.
Ek en Rocky drink so vinnig as wat ons kan. Ons beter nou baie gou begin spore maak. Wanneer Melizane begin vertel dat dit haar en Beertjie se droom is om global citizens te word en dat haar volgende boek oor vagina rejuvenation handel, het ek genoeg gehad. Ek sit my glas op die koffietafel neer en staan op.
“Ons móét nou ry,” sê ek. Rocky volg my voorbeeld. Ons groet vir Melizane. De Beer stap saam met ons voordeur toe. Hy waarsku ons weer om met niemand te praat nie en sê hy sal ons bel nadat hy met Stander gepraat het.
“Jy skuld ons R125000, there are no two ways about it,” sê Rocky. “Moenie daarvan vergeet nie. Jy het my account number. R125000 is peanuts vir jou.”
Voor De Beer weer met sy praatjies kan begin, sê ek vir hom hy hoef nie saam met ons na Rocky se kar toe te stap nie, dankie, en ons maak ons so vinnig as wat ons kan uit die voete.
“Wat is vagina rejuvenation?” vra ek vir Rocky toe ons wegtrek.
“Dis ’n moerse trend in Amerika,” sê hy. “Hulle gebruik lasers om ’n vagina se muscle tone, strength en control beter te maak. En as jy so ’n treatment gehad het, het jy ’n designer vagina.”
“Liewe jirre. En ek wou natuurlik in my broek pis van die lag toe sy vertel sy gaan haar eie parfuum op die mark sit. Kan jy imagine hoe dit moet wees om soos Melizane de la Bat te ruik.”
“Sy moet ook botox vir cougars op die mark sit, dan noem sy dit Boytox.”
“Hahaha. Dit moet ook ’n catch-phrase hê. Iets soos: ‘More than just a pretty face’.”
Die son begin sak oor Johannesburg wanneer ons deur Dainfern se security is en terug op die highway. Ek sit die karradio aan. Kak musiek op 5FM. Nog kakker musiek op Highveld Stereo. Ek draai die knoppie verder.
“En nou is dit tyd vir die nuus op RSG,” kondig die Stem van die Nasie formeel aan. “Die Afrikaanse musiekwêreld is geskok nadat die lyk van die bekende sanger Adam Nagtegaal vanoggend in sy met gas gevulde motor by die Emmarentiadam in Johannesburg gekry is. ’n Drawwer het kort na elfuur op die toneel afgekom en die polisie verwittig. Volgens die polisie word geen misdaad vermoed nie en is geen selfmoordbrief in die motor gekry nie. Nagtegaal se vrou, Azazel Nel, is vir skok in die hospitaal opgeneem. Nagtegaal word ook oorleef deur twee kinders, Neelsie (16) en Nelmari (9). Nagtegaal was bekend vir treffers soos ‘Bloubergstrand se seemeeue’, ‘Baby jy is myne’ en ‘My hart sing as jy glimlag’.”
4.
Ek voel so empty.
Rocky sê hy ook.
Op pad terug Fietas toe het ons nie ’n woord verder gepraat nie en net kliphard na System of a Down se CD Toxicity geluister.
Terug by my ouma se huis is dit ook nie juis uplifting nie. Haar toestand is nog dieselfde. Ek sweer sy is in ’n koma. Sy reageer nie as ek haar probeer wakker maak nie. Oubaas en Hilda lê met lang gesigte en hangore by haar voete en is nie eens bly om my te sien nie. Hulle kyk my aan asof hulle weeskinders is.
Ek kry ’n hol gevoel op my maag.
Pik het stilstuipe. Hy het steeds ’n somber frons op sy voorkop. Dit lyk of hy in ’n diep depressie verval het. Die krismisboompie is nou al heeltemal kaalgestroop. Die plastiekengeltjie het weer afgeval en lê op een van Hilda se drolle.
Ek gaan kots in die toilet. Pussy Galore kyk my aan asof ek skuim is. “Uitvaagsel!” sê haar oë vir my. Dit voel of ek al die kak van die afgelope ses dae wil opbring. Met die tweede skoot kots verbeel ek my dis Ben de fokken Beer wat nou slymerig daar onder in die toiletwater dryf en met die derde skoot Zander fokken Stander. My keel brand. Die smaak in my mond is suur en galbitter. “Ghwar!” sê Pussy Galore. My kop sing. Net toe ek dink dis verby, dink ek aan Christopher se lyk met die glaserige oë. Ek dink aan die vrees in Zelda en Jolene en Florence se oë en Adam Nagtegaal wat pienk milkshake slurp en ek ruik weer die knoffel en fluoried in dokter Dirkie se spreekkamer en hoor die brommer wat bzzzz-bzzzz-bzzzz in my kop en raak van voor af naar. Ek kots weer in die kakhuisbak.
Ek haal diep asem en staan op. Ek is duiselig. Ek spoel die kots weg. Ek gooi Johnson’s Toilet Duck in die kakhuisbak en maak dit skoon of my lewe daarvan afhang. Dan gryp ek een van my ouma se ou tandeborsels wat nog daar lê en spoel die vuiligheid en stof daarop af. Dit lê al hoeveel jaar hier, sy gebruik dit nie meer vandat sy winkeltande het nie. Die bietjie tandepasta wat oor is in ’n buisie wat ek in haar wasbakkassie uitkrap, is ook stokoud en hard. Ek borsel hard en diep en vinnig. Dit voel of ek klitsgras en duwweltjies vreet. “Gomtor!” sê Pussy Galore. Ek spoel my mond drie keer na mekaar uit. Ek spoeg die paar taaierige klontjies tandepasta wat in my mond agtergebly het uit soos ’n slang wat gif spoeg.
Rocky kom die toilet binne. “Is jy oukei, bru?” vra hy.
“Ja,” sê ek. “Fok!”
“Kom chill ’n bietjie, kom sit in die lounge. Ek het vir ons water ingegooi. Kom drink.”
“BOOM! BOOM BOOM! SHOWTIME!” Ek gryp my foon. Dis dokter Dirkie. Ek sit die speaker function aan. “Malan,” sê ek.
“Waar is Zander?” vra hy sonder om te groet.
“By Ben de Beer by sy huis in Dainfern.”
“Bertie het my van die hospitaal af gebel. Ek is nou hier by hulle. Hy het my alles vertel wat gebeur het. Hoekom het julle Zander daar weggevat? Is julle van julle blerrie koppe af? Dis ’n misdaadtoneel!”
Die vent moet nou nie my moer kom staan en krap nie. “Ons het geen ander keuse gehad nie. Zander kon almal doodgeskiet het as ons hom nie daar weggevat het nie. En jy sou nie daarvan gehou het as Zelda nou dood was nie, sou jy?”
“Sodra ons hier klaar is, gaan ek Zelda polisie toe vat om ’n klag te lê. Ek sal jou nommer ook vir hulle gee. Julle was ooggetuies.”
Dokter Dirkie lui af sonder om totsiens te sê. Drol. Ek gaan sit en vat ’n groot sluk water.
Die frons op Pik se voorkop is steeds daar. Hy draai sy kop regs en bekyk ons met sy linkeroog asof hy nie ’n clue het wie ons is nie. Diana spring deur die venster en kom flikflooi met Rocky. Sy skuur haar teen sy bene en spin asof sy in die sewende hemel is. Haar snorbaarde tril van lekkerkry en sy maak sprrttt-sprrttt-geluide in ’n hoë, dun stemmetjie asof sy die piep het.
“Fokkit, Rocky, ek wil nie hê die polisie moet my fokken nommer hê nie!”
“Moenie worry nie, bru, die cops is so deur die kak dat ek nie surprised sal wees as hulle nie eens by die dam uitgekom het nie.”
“Ek weet darem nie so mooi nie.”
“En ás hulle daar gepitch het en Bertie-hulle was al klaar hospitaal toe, wat sou hulle kry? Niks. Dit was nie maklik om Stander se bus raak te sien nie, onthou. En ás hulle die bus sou kry en daar is niemand nie, wat kan hulle doen? Fokol.”
Pik draai sy kop links en staar ons met sy regteroog aan asof hy hom verbeel hy is Criss Angel in Mindfreak.
“En wat doen ek as hulle my bel?”
“Ek scheme hulle sal jou net bel wanneer hulle wil hê ons moet statements aflê. Dis nou te sê ás hulle vir Stander vang. For all we know het Ben hom al lankal op ’n ander plek gaan wegsteek, want jy het mos vir hom gesê Stander se lewe is in gevaar. En ás daar iemand is wat in die kak sal wees, is dit De Beer omdat hy vir Fanie Venter gestuur het om die bus van die crime scene te verwyder. Die cops sal baie ander issues hê om te investigate en het bigger fish to fry as ons.”
“Ek weet darem nie so mooi nie …”
Pik draai sy kop regs. Dit lyk of sy linkeroog van koue staal gemaak is.
“Chill, bru. Ek rol gou vir ons ’n joint. Dit sal jou beter laat voel en dan sal alles sommer weer anders lyk.”
“Dís nou ’n blink plan as daar al ooit een was.”
Hy rol die joint een-twee-drie en steek dit aan. Pik draai sy kop links. Sy regteroog lyk nou asof dit ’n pêrel op het. Ek hoop nie hy is besig om weer siek te raak sodat hy moet teruggaan na dokter Joggie du Toit nie. Hy kan dit nie nou bekostig om weer geheueverlies te kry nie. “Haai, Pik, sê ietsie daar!” vra ek hom.
Hy swyg in alle tale. Hy draai sy kop regs en staar ons weer met sy linkeroog aan. “KOPULASIE VAN DIE NASIE!” bulder hy skielik. Sy rooi stertvere wip-wip, wip-wip asof hy ’n groot kak het, maar verstop is.
“Jirre, ou Pik, ek het nie geweet jy ken sulke groot woorde nie! Waar kom jy daaraan?” vra ek.
Hy gee my net ’n vuil kyk.
“Van die nasie gepraat … dit het vandag so mal gegaan dat ons skoon vergeet het om die koerante te koop om te sien wat hulle oor Zander Stander skryf,” sê Rocky.
“Aag, ek wil ook nie eens meer weet nie. Ek het genoeg gehad vir een fokken dag. En jy kan dit anyway op nuus24.com uitcheck as jy regtig wil.”
“Come to think of it … no thank you and fuck you very much!”
“DEMORALISASIE VAN DIE NASIE!” verklaar Pik in ’n gesaghebbende stem wat geen teëpratery duld nie.
“Kan jy imagine as ons daai R125000 kry, Rocky …”
“Ek bargain nie daarop nie. Ek trust De Beer nie.”
“VEGETASIE VAN DIE NASIE!” Pik se stertvere tril liggies.
“BOOM! BOOM BOOM! SHOWTIME!”
Fone fone fone, fone fokken fone. Dis Dora de Wet.
“Lambert! Hoe gaan dit daar? Ek bel en bel al die hele liewe dag na mevrou Erwee toe, maar niemand antwoord nie! Ek hoop nie jy laat haar alleen daar lê nie!”
“Sy is oukei.”
“Is jy seker? Ek sal maar liewer weer môre ’n draai kom maak om te kyk, ek voel glad nie gerus oor wat daar aangaan nie. Ek moet môreoggend vroeg Kersinkopies gaan doen en dan sal ek so twaalfuur se kant daar wees. Totsiens.”
Die supersterk shit wat ons rook, gee my skielik ’n blink plan. Ek gaan kyk in my ouma se kombuiskas wat daar alles is. Ek het vir ’n start eiers, meel, suiker, botter en melk nodig. Daar is fokol. Ek vra vir Rocky of hy sal omgee om gou te gaan koop by die Just Buy Superette in Highstraat en sê dat hy sommer vir ons genoeg airtime ook moet kry. Hy sê hy wil ook kyk of hy vir ons ’n paar biere by die Shosholoza Tavern kan score vir die aand en Malawi Gold by sy connections by The House of Love.
“PULSASIE VAN DIE NASIE!” sê Pik.
Rocky vat die pad. Ek gaan kyk of my ouma oukei is. Ek sit haar kamer se lig aan en maak ’n groot lawaai en praat hard en ruk haar weer aan haar skouers, maar daar is geen reaksie nie. Oubaas en Hilda gluur my aan asof ek Hannibal Lecter in The Silence of the Lambs is.
“Ouma!” sê ek kliphard en ruk weer aan haar skouers. Hilda knor. Oubaas spring op en blaf.
My ouma se ooglede begin liggies fladder. Dan maak sy haar oë oop. Sy kyk verskrik rond. Sy weet nie waar sy is nie. “Gé, is dit jy?” vra sy in ’n bewerige stemmetjie.
“Nee, Ouma, dis ek, Malletjie!”
Sy hou haar hand bo haar oë omdat die lig te skerp is. “Gé, is dit jy? Sal jy vir my ‘Jerusalem’ sing?”
Fok tog! “Dis ek, Ouma, Malletjie! Dis nie Gé nie!”
“Gé, is dit jy, Gé? Het jy my kom haal?”
Dit help tog nie ek sê enigiets nie. Sy kan my nie hoor nie. Oubaas het opgehou blaf en weer langs Hilda gaan lê. My ouma se oë gaan weer toe. Dit lyk of sy weer aan die slaap raak. Dankie tog sy is nie in ’n koma nie. Ek sit die lig af en loop terug in die gang af. Oubaas en Hilda storm agter my aan en wil uitgaan om te gaan pis en kak. Ek maak die kombuisdeur vir hulle oop.
In die sitkamer sit ek my ouma se TV aan. Op SABC1 is die een of ander action movie. Karre jaag op ’n highway. Skote klap en wiele skree en vonke spat. “Let’s get the motherfucker!” skree ’n karakter wat soos ’n psigopaat lyk. “Now!” Ek channelhop na SABC2. ’n Advertensie wys. ’n Man in ’n suit kom by sy huis se voordeur in. Dit lyk of hy van die werk af kom. Dan is daar ’n shot van ’n baba wat smaail en geluidjies van blydskap maak omdat pappa terug is van die werk. Die man stap na die baba en soen hom. Oor dit alles heen sê ’n man: “People are dependent on you. You should have life and health insurance. At lifedirect.co.za you can compare quotes from over ten of South Africa’s most trusted insurance companies and apply online. Lifedirect.co.za – live and love the good life!”
Ek channelhop na SABC3. Dit lyk soos ’n dokumentêre prent oor oorlog wat op is. Die visuals volg vinnig op mekaar. Verwoeste geboue, knetterende masjiengewere, bebloede lyke wat weggedra word, vroue wat huil, arm refugees wat van die honger doodgaan, ’n diktator wat sy vinger staan en swaai agter ’n mikrofoon by ’n perskonferensie in ’n vyfsterhotel, lyke in ’n massagraf. Terwyl die visuals verbyflash, sê ’n stem tweemiljoen mense is al dood in Afganistan, meer as 500000 in Somalië, meer as 145000 in Sirië en 50000 in Pakistan. Ek channelhop na e.tv. Nog ’n action movie. ’n Man sit vasgemaak op ’n stoel in wat soos ’n interrogation room lyk. Sy hande is voor hom in klampe op ’n tafel vasgemaak. Twee mans staan langs hom. “Sure you don’t wanna talk, cocksucker?” skree die een. “You gonna regret it, you fucking shit!” Hy gryp ’n hamer en kap die man se regterhand. Die sound effects is so goed dat jy kan hoor hoe die beentjies in sy vingers kraak en breek. Bloed spat die wêreld vol. Die man skree soos ’n vark en swaai sy kop heen en weer van die pyn.
Oubaas en Hilda kom terug. Ek sit die TV af, gooi die remote op die vloer, gaan sluit die kombuisdeur en gooi pellets in vir hulle. Dan stap ek badkamer toe en draai die bad se krane oop. Ek gaan soek ’n kers, steek dit aan, sit die badkamerlig af, stroop my klere af en klim in. Ek was en was en was dat die seep staan. Dit voel of ek my nie skoongewas kan kry nie. Ek laat sak my kop agteroor in die warm water en laat net my neus uitsteek. Ek hoor nie ’n geluid nie. My kop gaan staan stil. Thank heaven for small mercies. Ek wil net hier lê en lê vir so lank as wat ek fokken kan.
’n Halfuur later klim ek uit. Net nadat ek my afgedroog het, kom Rocky terug. Ek trek aan en gaan kombuis toe. Op die horlosie teen die muur sien ek dis halftien. Hy pak alles wat hy gekoop het op die kombuiskas uit en deel my die blye tyding mee dat hy sommer twee bankies Malawi Gold by The House of Love gescore het. Ek vat die sixpack bier wat hy gebring het en ons gaan sit in die sitkamer.
“Ek het op die pad baie gedink aan als wat gebeur het,” sê Rocky. “Weet jy wat is nog ’n possibility waaraan ons glad nie gedink het nie? De Beer is fokken powerful. Hy kan altyd vir dokter Dirkie blackmail om die charges te drop en Jolene en Florence bribe en betaal om niks te sê nie. Hy sal ons ook die R125000 betaal en dalk nog ’n paar duisend meer as ons promise om ons bekke te hou. Dit sal vir hom small change wees om uit te dish. En niks sal met Stander gebeur nie.”
“PURGASIE VIR DIE NASIE!” Dit lyk of Pik vinniger begin asemhaal. Fok, hy beter nie nou ’n beroerte of so iets kry nie.
“Hy mag nie daarmee wegkom nie, Rocky!” sê ek. “Dink net aan daai girls! Jy het gesien hoe lyk hulle. Ek sal nooit die vrees in hulle oë vergeet nie.”
“Jy is reg. Ek scheme ons moet vir Beyers bel en hom alles vertel sodat hy dit in die koerant kan splash. Justice is belangriker as 125000 fokken rand.”
“BIBBERASIE VAN DIE NASIE!” bulder Pik.
Ek haal my foon uit en druk Beyers se nommer. Hy antwoord dadelik. Ek vertel hom alles. Hy kan sy ore nie glo nie. Hy sê dis nou te laat om iets vir môre se koerant te doen, maar hy gaan dit beslis vir Saterdag s’n doen, Beeld of Rapport mag hom onder geen omstandighede scoop nie.
“Nou gaan die kak spat,” sê Beyers voor ons aflui. “Dik spat …”
5.
“Fokkit, Rocky, met al vandag se drama het ons heeltemal vergeet dat dit môre die einde van die wêreld is,” sê ek toe ons weer tot verhaal kom. Dis tyd vir ’n opknappertjie. Ek doen die nodige.
“En ek het nie eens daaraan gedink om ’n gig iewers te score vir môreaand nie,” sê hy. “Maar ek hoor die DJ’s is anyway almal al maande gelede gebook vir End of the World-paarties, so dit sou anyway fokken moeilik gewees het om ’n gig te kry. The House of Love het vir DJ Acid Heart van Swede gekry as hulle star attraction, so waarom sal hulle dan vir DJ Funk Soul Brother nodig hê? Ons móét môre na ’n paartie toe gaan. Dis net wat ons nou nodig het.”
“Alice Ellis wil hê ek moet saam met haar na een in die Voodoo Lounge gaan, maar ek sien nie kans om saam met al daai pretentious hipsters en wannabe social climbers uit te hang nie. Saam met hulle wil ek nie die ewigheid binnegaan nie. Want dan sal ek sowaar as wragtag in die hel beland.”
Rocky haal sy foon uit. “Laat ek ’n bietjie op Google check watter End of the World-paarties daar môreaand is.”
Ek vat ’n paar diep trekke van die joint en toe ek dit uitblaas, trek die rook reg in Pik se gesig.
“SPINASIE VIR DIE NASIE!” sê hy in ’n diep stem asof hy ’n toespraak vir die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns hou. Sy bors begin liggies pof-pof, pof-pof.
“Daar’s een by die Plan B Pub & Grub in Ferndale en ’n Armageddon-paartie by die Railways Café in Pretoria,” sê Rocky. “By Shivas Rock is daar The End of the World Showdown. In Johannesburg is daar ’n Game Over-paartie by The Woods, ’n Zombie Apocalypse-paartie by Black Dahlia en ’n Big Bang Love-paartie by Kitcheners.”
“DEFLORASIE VAN DIE NASIE!” sê Pik in ’n stem wat skielik ’n halwe oktaaf hoër is. Albei sy oë is styf toegeknyp asof hy ’n skietgebed opsê.
“Daar is ook End of the World-paarties by Katy’s Palace Bar en die Nicci Beach Ultra Lounge hier in Jo’burg. En ek sien daar is selfs een by die Nelson Creek Wine Estate in Kaapstad.”
“KAKISTOKRASIE VAN DIE NASIE!” blaf Pik soos ’n korporaal wat te veel blouvitrioel ingekry het. Hy sper sy oë groot oop. Hy begin my uitfreak. Dit kan nie normaal wees dat ’n papegaai sulke groot woorde ken nie.
“En hier in Jozi is daar ook nog paarties by Moyo by Zoo Lake, Lekgotla op Nelson Mandela Square in Sandton en een by Carnivore in die tuin van die Misty Hills Country Hotel.”
“’n Mens sal jou gat af moet betaal as jy na so ’n paartie wil gaan,” sê ek. “En ek weet anyway nie of ek die ewigheid graag by enige van daai plekke sal wil binnegaan nie.”
Ek vat nog ’n diep trek van die joint en gee dit vir Rocky. “Ons maak nou ’n lekker hotbox hier vir Pik,” sê ek. “Ek scheme dis van al die passive smoking dat hy sulke groot woorde gebruik. Ek dink dis die hotbox wat hom visions laat sien. Dalk is hy nie Siener van Rensburg se reincarnation nie, maar Nostradamus s’n vir al wat ons weet.”
“’N VROT KASIE VIR DIE NASIE!” brom Pik.
’n Blink idee skiet my te binne. “Rocky! Ek het dit! Kom ons hou ons eie End of the World-paartie!”
“Waar?”
“Ons hou sommer ’n braai hier in my ouma se agterplaas.”
“En wie nooi ons?”
“Almal aan wie ons kan dink. But mind you, almal het seker al planne vir môreaand …”
“Ons kan al die lone wolves nooi wat ons ken, al die lonely en lost souls,” sê Rocky. “Ek ken mense saam met wie ek by Pulp Books in Parkhurst gewerk het wat nie ’n social life het nie en ek is seker hulle sal graag wil kom.”
“Daar is ook twee van my ouma se ou vriendinne van Jan Bom wat ons kan nooi,” sê ek.
“SELEBRASIE VIR DIE NASIE!” Pik se oë lyk nou goddank weer min of meer normaal en sy stertvere wip nie meer so wild nie.
“Dis ’n befokte idee,” sê Rocky. “Ek laaik dit. En ons het nog genoeg bucks. Dis nou ’n deal as daar ooit een was.”
“En ons moet dit ’n fancy dress paartie maak, maar ons moet vir die gaste sê hulle costumes moenie pas by die tema van die einde van die wêreld nie, hulle moet costumes aantrek waarmee hulle relate. Hulle moet opdress soos wat hulle graag die ewigheid sal wil binnegaan.”
“Ja! Wonderful. Maar dan moet ons nou dadelik almal bel wat ons wil nooi.”
“KOMPENSASIE VIR DIE NASIE!” Pik pik-pik met sy snawel teen sy hok.
Rocky haal sy foon uit en begin bel. Ek spring op en gaan kombuis toe. Ek sal die mense wat ek wil nooi môreoggend bel. Ek sit die oond aan en draai dit tot op 180°. Ek skeur die plastiek af van die pan wat Rocky vir my by Adult World gekoop het, soek ’n bak in my ouma se kas en gooi die meel, suiker, botter en eiers daarin. Ek sit ook ’n paar knypies van die Malawi Gold by. Dan begin ek dit mix dat dit bars. Vyftien minute later skep ek dit in die pan uit en druk dit in die oond. Wanneer dit klaar gebak is, sal ek nog ’n batch moet insit, want die pan kan net twaalf koekies op ’n slag vat.
Rocky kom die kombuis binne. “Liewe aarde, Malletjie, wat maak jy?”
“Ek het besluit ons moet môre vir Dora de Wet koekies en tee gee as sy vir my ouma kom kuier. Kon jy toe al die mense in die hande kry wat jy wou nooi?” vra ek.
“Ja, so vyf van hulle, en hulle sê almal hulle sal baie graag kom.”
“Great stuff.”
Rocky haal vir ons nog twee biere uit die yskas en ons gaan sitkamer toe.
“WELTEVREDE-STASIE VIR DIE NASIE!” begroet Pik ons.
Skielik lui iets ’n klokkie by my. “Ek het dit, bru!” sê ek. “Ek weet wie Pik is!”
“Wie?”
“Die reincarnation van Springbokradio se Minister van Middernagsake!”
“Ek scheme jy is spot-on, bru.” Rocky gaan sit agter my ouma se klavier, maak dit oop en begin tokkel. “Ek kan nie eens onthou wanneer laas ek gespeel het nie, maar ek scheme dis nou party time,” sê hy en vat ’n sluk van sy bier. Dan laat waai hy met “Great Balls of Fire”.
Pik raak baie jolly. Dit lyk wragtag asof hy probeer dans. Hy hop eers op die een poot, dan op die ander een. As hy op sy linkerpoot hop, draai hy sy kop regs en knip sy oog soos ’n sugar-daddy, en as hy op sy regterpoot hop, draai hy sy kop links en knip sy oog soos Marilyn Monroe wanneer sy “I Wanna Be Loved By You” sing.
Na “Great Balls of Fire” speel Rocky “The Entertainer”. Pik het opgehou hop en flap nou sy vlerke. Net toe ek opstaan om te gaan kyk of als nog orraait is met die koekies, begin Rocky “Chopsticks” moerse vinnig speel en gaan Pik te kere asof hy hom verbeel hy is John Travolta in Saturday Night Fever.
“MY JOB IS BLOU, MENEER,” krys hy toe ek by hom verbyloop.
“Ag, ou Pik, jy klink nou vir my ’n bietjie deurmekaar, jong,” sê ek. “Jy moet net nie die plot staan en verloor nie, hoor, want dit sal nou vir jou ’n allemagtige kakspul afgee …”