Onwelkome besoekers uit die ruimte

Wesens van ’n ander planeet daag hier op om
die mensdom uit te moor of as slawe gevange te neem.

Die voorkamer van Henk Swanepoel se PadstalDeli op Smithfield in die suide van die Vrystaat lyk soos ’n tipiese padstal op ’n klein dorpie. Daar is tafels waar jy koffie kan drink en ’n toebroodjie kan eet. Daar is rakke met tuisgebakte sjokoladebruintjies. Alles fraai, soos mens van ’n padstal verwag.

Maar in die agterste kamer, waar besoekers nie eintlik kom nie, vind jy iets heel ongewoons. Daar staan drie rekenaarskerms waarop kolomme syfertjies pal van bo na onder draf. Teen ’n aansteekbord hang koerantknipsels met nuus oor ontdekkings in die buitenste ruimte. ’n Draad verbind die rekenaars in dié kamer met twee enorme swart satellietskottels, albei so groot soos bome, wat in die voortuin staan.

Wat van buite na ’n doodgewone plaasstal in die afgeleë Vrystaat lyk, huisves ook Suid-Afrika se enigste navorsingstasie wat voltyds na bewyse van intelligente lewe in die ruimte soek.

Henk, wat dié navorsingstasie eiehandig bedryf, het geen formele opleiding in fisika of sterrekunde nie en mense wat nie van beter weet nie, sal seker raai dat hy ’n kwak is wat te veel wetenskapfiksieflieks gekyk het. Die teendeel is egter waar. Sy gereedskap is van die mees gesofistikeerde en wanneer hy oor ruimtelewe praat, is sy argumente nugter en weldeurdag.

“Die twee skottels in my tuin werk soos ’n DStv-dekodeerder,” vertel hy toe ek op ’n Februarie-oggend by hom kuier. “Die skottels is aan ’n boks gekoppel en stuur die inligting wat hulle opvang na my drie rekenaars. Ek gebruik een van die drie om 24 uur per dag data op te neem. Die ander twee analiseer dit.”

Die twee swart satellietskottels in die voortuin onderskep seine en aanduidings van groot ruimtevoorwerpe op die frekwensie 14 GHz. 14 GHz is ’n relatief stil deel van die elektromagnetiese spektrum waarop enige kunsmatige versteurings uitstaan.

Tel Henk ooit iets buitengewoons in die ruimte op?

“Dit gebeur so een keer per week. Dan het ek ’n ander program, Norad, wat alle bewegings van mensgemaakte voorwerpe bokant die aarde dophou – goed soos satelliete, maar ook ruimtegemors soos spanners wat space cadets daarbo verloor het. Al my rekenaars is aan ’n atoomhorlosie verbind, so ek weet presies hoe laat my satellietskottels ’n voorwerp opgemerk het en ek kan dan met Norad check presies wat op daai oomblik in die lug bokant my skottels was.”

Hoewel Henk al talle kunsmatige voorwerpe en seine in die hemelruim opgetel het in die drie jaar dat hy tussen sy padstal-bedrywighede deur ’n oog op die ruimtedata hou, het hy elke keer ná die tyd vasgestel die oorsprong daarvan was mensgemaak.

* * *

Ek het by Henk ingeloer om te hoor of daar enige kans is dat wesens uit die buitenste ruimte ooit die aarde kan aanval en die mensdom kan uitwis, soos sommige aanhangers van die Planeet X-teorie glo. Dit is die tipe vraag waarop niemand regtig ’n antwoord sal kan gee nie, maar as daar een persoon in Suid-Afrika is wat ’n ingeligte raaiskoot kan waag, is dit waarskynlik Henk.

Hy is skepties. “Mense kom soms hier aan en vra of ek dink daar is lewe elders in die heelal. Dan sê ek verseker. En die kans is goed dat daar intelligente lewe ook is. Maar wat is die kans dat daardie lewe lank genoeg sal oorleef om tot hier te reis? Dit is moeilik om te dink dat intelligente lewe lank genoeg op ’n planeet kan bestaan om reise tussen sterre te vervolmaak voordat dit uitsterf.

“Vat maar net hoe slim mense op die oomblik is. Nogtans kan ons nie tussen sterre reis nie. Om dit reg te kry, moet jy vinniger as lig kan beweeg. Ons weet dit is teoreties moontlik, maar jy moet eers tydruimte self kan buig. En jy kan nie sommer net ’n enjin bou wat tydruimte buig nie. Daarvoor moet jy die tipe materiaal gebruik waarvan neutronsterre gemaak is, en dit is byna ondenkbaar dig. Een teelepel neutronstermateriaal weeg soveel soos Tafelberg. Om ’n enjin te bou wat sterk genoeg is om tydruimte te buig, moet jy soveel van daardie materiaal hê dat dit van een kus van Amerika tot die ander sal strek.

“So, ja, ek dink daar is waarskynlik intelligente lewe elders in die ruimte, maar ek dink nie dit sal lank genoeg oorleef om ons te bereik nie.”

Dit beteken egter nie Henk beskou sy taak as futiel nie. Intelligente lewe elders kan dalk, nes ons, voortdurend seine die ruimte in stuur en eendag kan ons een van dié seine optel.

Daar is iets treurigs aan die gedagte dat iemand soos Henk eendag met ’n groot satellietskottel ’n sein van ’n intelligente spesie elders in die heelal kan ontvang, terwyl ons goed weet ons sal nooit met daardie spesie kan teruggesels nie. Dit sal ’n bevestiging wees dat ons nie die enigste intelligente lewe in die heelal is nie, maar ook ’n herinnering dat ons volkome op onsself aangewese is.

Die voordeel van dié afgesonderdheid is egter dat ons veilig is teen ’n inval deur ruimtewesens.

Of só het ek gedink, totdat ek ’n man met ’n veel meer onheilspellende teorie oor ruimtewesens ontmoet het.

* * *

’n Paar weke nadat ek by Henk gekuier het, is ek na Waterval-Boven in Mpumalanga om by Michael Tellinger aan te doen.

Michael was die organiseerder van die Johannesburgse VVV-konferensie in 2011. Hy is ’n voormalige rockmusikant wat deur die jare ’n sterk belangstelling in Planeet X en ruimtewesens ontwikkel het en mettertyd ’n boek, Slave Species of God, geskryf het waarin hy sy teorieë uiteensit. Dit sluit in:

• ’n Groep ruimtewesens genaamd die Anunnaki woon op Nibiru.

Die Anunnaki gebruik goud om hul planeet te versteek sodat ons dit nie kan sien nie.

Derduisende jare gelede het die Anunnaki die aarde besoek om hier goud te myn. Hulle het oermense se gene met hul eie vermeng en ’n nuwe spesie tot stand gebring wat as hul slawe in die goudmyne moes werk. Só is die moderne mensdom geskep.

• Die meerderheid Anunnaki is sedertdien terug na Nibiru. Of hulle ooit weer sal terugkeer, is onseker, maar in ag genome hoe hulle die mensdom met hul vorige besoek as slawe aangehou het, sal hul terugkeer waarskynlik niks goeds vir die mensdom inhou nie.

Michael se aanhangers glo dit alles letterlik.

Nie te veel Suid-Afrikaners weet van Michael nie, maar in VVV-kringe het hy danksy dié teorieë veel meer roem behaal as wat hy ooit as rockmusikant gehad het. Hy het al by die 60 000 eksemplare van Slave Species of God verkoop en reis deur Suid-Afrika, die VSA en Europa, waar hy lesings by instellings soos die Ramtha Skool van Ontwaking (sien kassie bl. 36) lewer om sy teorieë te bevorder. Soms hou hy ook werkwinkels op Waterval-Boven.

Waar kom Michael aan al dié idees? In sommige gevalle uit die boeke van Zecharia Sitchin, soms uit gesprekke met psigiese mediums, en soms uit bewyse wat hy beweer hy in die veld van Mpumalanga gevind het. Dit is ter wille van dié bewyse dat ek op ’n Saterdagoggend in Februarie na Waterval-Boven is om een van sy werkwinkels by te woon.

Die groep mense wat dié oggend saam met my daar opdaag, is ’n rare klomp, meestal van Johannesburg en Pretoria. Daar is ’n vae esoteriese gevoel aan baie van hulle, maar ander lyk op die oog af doodgewoon. Sommige het teorieë van hul eie oor bonatuurlike kragte en antieke hemelwesens. Oor ontbyt gesels ek met ’n middeljarige Afrikaanssprekende egpaar van Midrand, wat vertel hulle vind al twintig jaar lank besonder sterk aanklank by die kultuur van Amerikaanse Indiane. “Al die native American cultures vertel van besoekers wat in die verlede uit die hemel gekom het,” vertel die vrou. Hulle hou oor naweke op hul plot Indiaanse dans- en sweetseremonies, lig sy my later in. “Ons dogter sê ons is die unravelling edge of the lunatic fringe.”

Michael neem die mense na ’n sinkdakgeboutjie wat hy as museum ingerig het. Daar is talle stene wat hy van klipsirkels in die omgewing opgetel het. Dié klipsirkels is verwaarloosde ou strukture wat op menige heuwel en vlakte in die noordelike provinsies staan en deur die meeste historici as beeskrale beskou word wat eeue gelede deur swerwende stamme gebou is. Michael het egter ’n alternatiewe teorie oor dié klipstrukture. Volgens hom is dit deur die Anunnaki laat bou en is dit vandag ons beste bewys van dié ruimtewesens se bedrywighede op aarde.

Volgens Michael kan mens uit dié klipsirkels se vorm en samestelling aflei dat die Anunnaki dit gebou het om klankenergie van onder die aarde se oppervlak te gelei sodat hulle onder meer hul massiewe goudmyne in Suid-Afrika daarmee van krag kon voorsien. Die Anunnaki het volgens Michael ’n lewendige goudmynbedryf in prehistoriese Suid-Afrika tot stand gebring, maar sowat 13 000 jaar gelede het hulle daarvan bewus geraak dat Nibiru hier verby gaan swaai en ’n wêreldwye vloed gaan veroorsaak. Hulle het spore gemaak net voordat die vloedwater al die bewyse van hul beskawing verwoes het. Later het hulle weer teruggekeer, maar nooit weer op dieselfde skaal op die aarde aktief geraak nie.

Waar hulle nou is, is onseker – waarskynlik terug op Nibiru. Maar die moontlikheid kan nie uitgesluit word dat hulle sal probeer om weer na die aarde terug te keer nie.

Terwyl Michael die groepie toespreek, loer ek rondom my. Almal kyk hom met ernstige gesigte aan, knik soms ywerig die kop as hulle besonder sterk saamstem. Dié mense glo dit alles, besef ek. Maar kan ek vir hulle lag? Wie is regtig laf? Hulle, omdat hulle bisarre goed glo? Of ek, omdat my gedagtes te eng is om Michael se teorie ernstig op te neem?

* * *

Henk Swanepoel en Michael Tellinger verteenwoordig die twee pole van VVV-navorsing. Die een is baie versigtig om uitsprake te maak en gebruik slegs aanvaarde wetenskaplike metodes; die ander maak wilde bewerings en word nie deur ander wetenskaplikes ernstig opgeneem nie. Die een dink dit is onwaarskynlik dat ons ooit met intelligente wesens van ’n ander planeet sal kommunikeer; die ander dink dit het reeds gebeur.

Die gesprek in die wetenskaplike wêreld is ’n geruime tyd reeds tussen dié twee pole verdeel, met die meer respektabele wetenskaplikes wat nog altyd, soos Henk, gehuiwer het om toe te gee dat ons paaie ooit met intelligente wesens uit ’n ander hoek van die heelal sal kruis. Dit alles het egter verander toe die slimste wetenskaplike op aarde onlangs tot die gesprek toegetree het – en dit nogal aan die kant van diegene wat meen kontak met intelligente ruimtewesens kan wél gebeur.

Volgens Stephen Hawking sal ons kennismaking met ruimtewesens nie net die grootste gebeurtenis in die mensdom se geskiedenis wees nie, maar heel waarskynlik ook die laaste.

Hawking, ’n astrofisikus van Oxford en skrywer van A Brief History of Time, skryf meestal oor dinge soos swart kolke en kwantumfisika – goed wat vir die meeste ander mense onbegryplik is. Maar elke nou en dan doen hy ook ’n boek of TV-program waarin hy ingewikkelde fisika en sterrekunde vir die man en vrou op straat verduidelik. Toe hy in 2010 weer so ’n TV-reeks, Into the Universe with Stephen Hawking, vir die kanaal Discovery doen, het dit ’n beroering onder sowel die wetenskaplike as gewone publiek veroorsaak – nie vanweë enigiets wat hy oor die oerknal of termodinamika gesê het nie, maar eerder oor sy opspraakwekkende siening van lewe in die buitenste ruimte.

As intelligente ruimtewesens ooit hier aanland, sal hulle waarskynlik met ons doen presies wat die Spanjaarde in die vyftiende eeu met die Majas gedoen het, het Hawking voorspel. Swakker samelewings word byna altyd uitgewis as hulle ’n tegnologies meer gevorderde besoeker kry. Om vanaf ’n ander ster tot hier te reis, sal die ruimtewesens vermoëns moet hê ver bo enigiets wat die mensdom hulle kan voorstel of waarteen ons ons sal kan verweer. “Sulke ruimtewesens sal ’n trekbestaan voer op soek na plekke wat hulle kan verower en koloniseer . . . Hulle lewe waarskynlik op massiewe skepe nadat hulle al die hulpbronne op hul eie planete opgebruik het.”

Hawking se woorde het baie mense laat regop sit. In soverre die wetenskaplike gemeenskap hulle met die bestaan van lewe in die ruimte ophou, was dit nog altyd met die veronderstelling dat dit ’n goeie ding sal wees as ons ooit met ruimtewesens kontak maak. Niemand het ooit gevra hoekom nie; dit is maar net so aanvaar. Dit is hoekom mense soos Henk ywerig na lewe tussen die sterre soek. ’n Eeu lank al stuur die mens onbevange radio-, TV- en ander seine die hemel in sonder om ons te bekommer oor wie dit kan ontvang. Wanneer tuie na die diep ruimte gestuur word, word daar soms boodskappe ingesluit met inligting oor wie en waar ons is. In 2008 het NASA die Beatles se liedjie “Across the universe” in die rigting van die Noordster, Polaris, gestuur, waar dit oor 430 jaar sal arriveer.

Hawking waarsku dat dit moet stop. Ons kan dalk net die aandag trek van iemand wat ons nie regtig wil ontmoet nie. Indien ruimtewesens ons nie gewelddadig kom uitwis of in slawe kom omskep nie, is daar steeds die kans dat hulle allerlei kieme hierheen kan aandra waarteen ons geen immuniteit het nie.

As die einde van ons wêreld aanbreek, hoef dit nie die gevolg van ’n lukrake natuurverskynsel soos ’n sonstorm, magnetiese ommeswaai of botsende planeet te wees nie. Die mensdom kan net sowel stelselmatig deur ’n vyandige ruimtespesie uitgewis word.

As dié tipe waarskuwing kom van die slimste wetenskaplike op aarde, behoort dit sekerlik gewig te dra.

* * *

Die verhale wat mens teëkom van diegene wat beweer hulle het regstreekse kontak met besoekers uit die ruimte gehad, bevestig soms die vermoede dat sulke besoekers wreed en sadisties kan wees. Toegegee, daar is ook mense soos Elizabeth Klarer, ’n Suid-Afrikaanse meteoroloog wat sedert die 1970’s openlik verklaar het dat sy met ruimtewesens kontak gemaak het en dat hulle nie net vriendelik was nie, maar dat een selfs met haar ’n liefdesverhouding aangeknoop het (sien bl. 136). Maar daar is ook stories soos dié van Credo Mutwa, Suid-Afrika se bekendste sangoma (sien bl. 138).

In 1999 het Credo Mutwa in ’n onderhoud wat op die Australiese webwerf 2012.com.au gepubliseer is, vertel die aarde is al in die verlede besoek deur reptielagtige wesens uit die omgewing van Proxima Centauri. Daar is volgens hom ook klein, grys ruimtemensies wat al by geleentheid met tuig en al in Lesotho neergestort het en daar opgetel is deur plaaslike mense wat hul lyke opgeëet het. Credo Mutwa beweer hy het self van die ruimtevleis geproe en dat dit hom erg siek gemaak het. (Ek kon niemand opspoor wat dié storie kon bevestig nie en toe ek Credo Mutwa bel, wou hy nie daaroor praat nie.) Hy het ook vertel dat hy in 1959 as jong man deur ruimtewesens ontvoer is en dat hulle op hul skip eksperimente op hom gedoen het – eers het hulle vreemde gereedskap in sy neusgate en geslagsdele gesteek en daarna het ’n vroulike ruimtewese hom onsedelik aangerand, waarna hy weer in die veld afgelaai is; swetend, bebloed en sonder sy broek.

Elke mens sal maar self moet besluit of hulle stories soos dié van Credo Mutwa glo. As hy die waarheid praat, is daar wesens in die ruimte wat nie skroom om mense as laboratoriumrotte te gebruik of te molesteer nie. As sulke wesens eendag in groot getalle hier sou opdaag en lus word om die aarde se hulpbronne te plunder, sou hulle waarskynlik nie huiwer om ons uit die pad te vee nie.

* * *

Jy sê ruimtewesens sal nooit die aarde besoek nie, pols ek vir Henk toe ek in sy padstal kuier, maar sê nou maar hulle kry dit tog reg om hierlangs te vlieg en met ons te baklei? Wat dan?

“As ons teen die ruimtewesens oorlog moet maak, dan is dit ook nie die ergste ding nie. Die mensdom gaan in elk geval een of ander tyd uitgewis word, al is dit deur ’n asteroïde wat ons tref, of so iets. Ek sal eerder in ’n oorlog met ruimtewesens doodgaan as om te sterf wanneer ’n asteroïde die aarde tref.”

Wat ’n snaakse ding om te sê, dink ek toe ek huis toe ry ná ons kuiertjie. Is om deur ’n asteroïde getref te word regtig erger as om deur ruimtemonsters aangeval te word?

Terug in Johannesburg doen ek moeite om vas te stel wat sal gebeur as ’n groot ruimterots die aarde eendag tref, ’n gebeurtenis wat volgens sterrekundiges glad nie onmoontlik is nie en trouens in die verlede al ’n paar keer gebeur het. Die antwoorde wat ek kry – ’n aarde wat bewe en aan die brand slaan, plante en diere wat byna in hul geheel uitgewis word – laat my besef Henk was reg.

Daar is inderdaad veel erger dinge as ruimtewesens wat uit die hemel op ons kan neerdaal.

* * *

Katastrofe 101

Wat kan gebeur? Vyandige ruimtewesens land op aarde.

Wat beteken dit vir jou? Jy word gejag, ontvoer of as ’n laboratoriumrot ingespan.

Jou kans op oorlewing? Omtrent so groot soos die oorlewingskans van ’n mier in ’n stryd teen ’n mens met ’n blik Doom.

Maar gaan dit régtig gebeur? Elkeen het sy eie mening, maar niemand is heeltemal seker nie. (Behalwe die mense wat seker is die ruimtemanne was reeds hier.)