Die dooies wil jou harsings eet!
Lyke word oornag wakker, vaar die strate in en probeer ’n
hap uit die lewendes neem.
Jy word een oggend wakker van ’n geraas onder jou venster, staan op en sien voor jou huis ’n menigte mense wat met ’n waggelstap en hul arms voor hulle uitgestrek in die straat af marsjeer. Die meeste lyk asof hulle ná ’n paar weke se ontbinding uit die graf opgestaan het. Een se oog hang aan ’n sening. ’n Ander se derms sleep agter hom aan. ’n Ander se kakebeen is vermis en haar tong tas lomp onder haar botande rond. Hier en daar sien jy ’n gewone mens wat probeer weghardloop, maar die zombies is te veel, oorweldig hom en begin sy brein opvreet. Spring jy in jou motor en jaag na die naaste polisiekantoor, sien jy die zombies het die manne en vroue in blou lankal oorrompel. Jaag jy na ’n vriend se huis, word jy begroet deur geweerskote van benoude mense wat nie meer tussen zombies en die lewendes kan onderskei nie.
Welkom in die zombie-apokalips.
Van al die moontlike wyses waarop die mensdom tot ’n einde kan kom, is ’n bloed-orgie waarin zombies almal se harsings opvreet, die mees onrealistiese. En tog is daar min ander rampvoorspellings wat mense die laaste jare só aangegryp het.
In ’n magdom rolprente (met name wat strek van Return of the Living Dead Part II tot Zombie Strippers), boeke (soos The Zombie Survival Guide, Generation Dead en Warm Bodies – laasgenoemde oor ’n meisie wat tydens die zombie-apokalips op ’n wandelende dooie verlief raak) en TV-programme soos The Walking Dead is mense op hol geneem deur verhale wat vertel hoe lyke opstaan, die strate invaar en die beskawing tot ’n val bring. Zombies val woonbuurte, winkelsentrums en militêre basisse in en is feitlik onkeerbaar.
In Max Brooks se roman World War Z vertel een van die karakters hoe hy in ’n plakkersbuurt van Khayelitsha probeer wegkruip terwyl die dooies Kaapstad oorval. “Ek het in die deur van die naaste plakkershut probeer skuil toe iemand my van agter aan die kraag gryp. Ek het omgedraai, gekoes en hard geskop. Hy was groter as ek en ’n paar kilogram swaarder. ’n Swart vloeistof het aan die voorkant van sy hemp afgedrup. Daar was ’n mes in sy bors wat iemand tussen die ribbes ingesteek het . . . Oral om my was ’n nagmerrie van plakkershutte, vuur en grypende hande. In een plakkershut se deur het ’n vrou met twee kinders gesit, haar oë wydgesper en ’n skroewedraaier in haar hand. Agter my kon ek plakkershutte hoor omkap soos hulle nader gekom het.”
As die zombies die dag opdaag, is daar min wat jy kan doen behalwe om te hardloop en wegkruipplek te soek, sê die bronne.
* * *
Die woord “zombie” is afgelei van die nzambi, ’n woord uit Wes-Afrika wat die gees van ’n dooie beteken. Legendes oor mense wat uit die graf opstaan om moles te kom maak, kom vanaf Suid- tot Wes-Afrika voor. In ’n akademiese artikel oor die onderwerp, “Witches and Zombies of the South African Lowveld: Discourse, Accusations and Subjective Reality” deur Isak Niehaus, wat in 2005 in die Journal of the Royal Anthropological Institute verskyn het, skryf hy dat zombies in Noord-Sotho-legendes as setlotlwane bekend staan. Hekse wek glo dié Sotho-zombies op, sny hul tonge uit en hou hulle as slawe aan. Die zombies verkeer in ’n voortdurende beswyming en kan nie met lewende mense kommunikeer nie. (Ek kon genadiglik geen aanduiding vind dat plaaslike zombies harsings vreet nie.)
Toe miljoene Wes-Afrikane in die 1600’s en 1700’s as slawe na die Nuwe Wêreld ontvoer is, het hulle hul zombie-gelowe saamgedra en veral op die Karibiese Eilande en in die suide van die VSA aanhou vertel dat towenaars lyke as slawe kan opwek. Hollywood het dié legendes vanaf die 1930’s in rolprente met name soos White Zombie en Night of the Zombies ontgin. Dié swart-en-wit rolprente lyk nou meestal soos lomp affêres vol dolende zombies met bleek gesigte en diep stemme. Die meeste fliekgangers sou veel eerder vir weerwolwe, vampiere of Frankenstein se monster skrik.
Dit het egter verander toe die rolprentmaker George Romero in 1968 ’n fliek met die naam Night of the Living Dead uitgereik het. Wat sal gebeur, het Romero gevra, as dooie mense dwarsdeur die wêreld gelyktydig opstaan, sonder bemiddeling van ’n towenaar of heks, en die aarde bewandel op soek na slagoffers wie se harsings hulle kan opvreet? En wat sal gebeur as enigeen wat deur hulle gebyt word, self in ’n zombie verander? In Night of the Living Dead skuil ’n paar oorlewendes in ’n plaashuis terwyl ’n groeiende see van honger dooies buite saamdrom en die vensters probeer breek op soek na harsings.
Dit was een van die mees invloedryke gruwelrolprente ooit. Van Romero het flieks gevolg met name soos Dawn of the Dead, Day of the Dead en Land of the Dead. In dié drie rolprente soek oorlewendes skuiling in onderskeidelik ’n winkelsentrum, ’n bomskuiling en ’n wolkekrabber, maar elke keer vind die zombies uiteindelik ’n manier om in te breek en almal om die lewe te bring. Veral sedert 2000 het die zombie-genre een van die suksesvolstes in gruwelfiksie geword, met flieks soos 28 Days Later, 28 Weeks Later, Zombie Diaries, American Zombie, All You Need is Brains, en tientalle ander wat dieselfde storie vertel het. Op YouTube kry jy Gay Zombie en How to Survive a Zombie Attack. Ook Stephen King het al ’n zombie-boek geskryf – in sy weergawe verander al die mense wat op ’n gegewe oomblik op hul selfone praat in zombies.
* * *
Van al die eindtyd-scenario’s in omloop, is die zombie-apokalips seker die grillerigste, maar mens kan jou darem troos dat die kans dat dit ooit werklik sal gebeur, nul is. Daar is gewoon geen bewese meganisme waarvolgens ’n dooie opgewek kan word om in ’n breinvreter te verander nie.
Nè?
Dit is wat ek besig was om myself wys te maak toe ek op pad huis toe van ’n besoek aan Henk Swanepoel se VVV-navorsingstasie by ’n vulstasie in Bloemfontein stop en op die winkeltjie se koerantrak die jongste eksemplaar van die poniekoerant Daily Sun gewaar.
Op die voorblad was ’n foto van ’n man met ’n leë kyk in sy oë. Die onderskrif het gelui “Mense drom saam om die zombie Mthandazo Klaasen te sien toe hy onlangs die huis verlaat.” Die opskrif: “Die vryerige zombie is terug” (Bonking zombie is back). Ek het die koerant opgetel en die storie gelees. (Waarskuwing: Dis nie vir sensitiewe lesers nie.)
Mense het gedink dinge in die huis van gruwels kan niks erger raak nie . . . maar hulle was verkeerd!
Verlede jaar het die seks in die Veeplaas-zombie se huis daartoe gelei dat ’n ma, gogo en seuntjie na ’n plek van veilige sorg verwyder is.
NOU IS DIE MA DOOD NADAT SY VOLGENS BURE MET HAAR ZOMBIE-SEUN SEKS GEHAD HET!
Gerugte dat die selferkende zombie Mthandazo Klaasen (39) met sy 69-jarige ma seks het, het drie weke gelede soos ’n veldbrand deur Port Elizabeth se township Veeplaas versprei.
Die bure het gesê dit is die tweede keer dat daar gesien is hoe hulle seks het.
Die bure het die polisie gebel, maar die zombie en sy ma het die polisie op hul drumpel uitgevreet.
Die afgelope Maandag het mense begin kla ’n stank uit die huis maak hulle bekommerd.
Hulle wou die huis binnegaan, maar die zombie wou hulle nie inlaat nie.
’n Vrou wat nie haar naam genoem wou hê nie, sê hulle het die polisie gebel.
“Die polisie het die ma se lyk gevind. Ons het ons kwellings gehad sedert ons net drie weke gelede twee keer gesien het hoe hulle seks het. Ons het opgehou om vir hulle kos te gee omdat ons kwaad was oor hul streke.”
Die polisie het verklarings van ’n onbekende familielid geneem en die lyk is deur ’n begrafnisondernemer weggeneem.
Maar die zombie is steeds in die huis van gruwels.
En die mense van Veeplaas sê hulle vrees vir hul kinders.
Elders in die berig word ’n plaaslike sangoma, Nomathongo Kosi, aangehaal wat vertel dat Klaasen deur bose geeste in ’n zombie verander is.
Onsmaaklik en bisar, maar ook fassinerend. Hoewel ek self ’n waardering vir zombies het sedert ek as hoërskoolseun met Night of the Living Dead kennis gemaak het, was dit die eerste keer dat ek in die regte lewe van ’n zombie gehoor het. Ek het die skrywer van die berig, Chris Qwazi, gebel om te vra of daar regtig zombies in Port Elizabeth kan wees.
“Daar is twee tipes zombies,” het Chris vertel. “Soms ontwaak iemand nadat hulle gesterf het – dit is die eerste tipe. In ander gevalle is dit bloot iemand wat besete is. Klaasen is besete. Hy was ’n wedergebore Christen wat nie na die bos wou gaan om ’n bok ingevolge sy tradisionele kultuur te slag nie. Dit het daartoe gelei dat hy probleme ontwikkel en uiteindelik ’n besete zombie geword het. Hy woon nou in ’n hangkas en kommunikeer met niemand nie. Hy loop net snags rond en bly verder by die huis. Die bure het ’n sangoma soontoe geneem om vir hom te bid, maar hulle kon nog nie die duiwels verjaag waarvan hy besete is nie.”
Ek was skepties. Klaasen het waarskynlik ’n sielkundige (en polisiebeskerming) nodig, eerder as ’n sangoma, het ek gedink. Maar desondanks het ek besluit om die betrokke sangoma te bel.
Kosi is ’n vriendelike vrou wat al my vrae geesdriftig beantwoord het. Selfs sý was skepties oor die bure se aantygings teen die beweerde zombie. “Ek dink nie daardie jong man is ’n zombie nie. Hy is wel stout en moet uit die buurt verwyder word, en heel moontlik is hy wel besete. Maar ’n zombie is iemand wat jy nooit kan sien nie omdat hy altyd wegkruip. Vir Klaasen sien mens soms, so hy kan nie ’n zombie wees nie.”
En hoe word mens ’n zombie?
“Jy moet uit die dood opstaan of deur ’n heks getoor word.”
Nou ja, wat kan mens sê? Ek was op die punt om heeltemal van die kwessie te vergeet toe ek op 7 Februarie 2012 weer ’n plaaslike zombie-storie teëkom, dié keer via die nuusdiens Reuters. Die berig, met die opskrif “Suid-Afrikaanse man ontvlug zombies, maar nie die polisie”, het gegaan oor ’n man wat beweer het hy is die sanger Kwakhe “Mgqumeni” Khumalo wat in 2009 gesterf het, maar dat hy sedertdien deur ’n heks uit die dood opgewek is en saam met ander zombies in ’n grot aangehou is. Die beweerde zombie het in ’n hof in Esiggumeni in die ooste van KwaZulu-Natal verskyn (dit is onduidelik op watter aanklag) en duisende mense het buite die hof saamgedrom om hom te sien. Die polisie moes waterkanonne gebruik om die skare te beteuel. Nadat die polisie sy vingerafdrukke met dié van die oorlede Khumalo vergelyk het, het hulle verklaar hy is nie regtig dieselfde mens nie.
Wat gaan hier aan? Zombies is sover ek weet heeltemal ’n produk van fiksie en legendes, en tog word hulle deur derduisende mense ernstig opgeneem. En nie net in ’n obskure township van die Baai of die landelike KwaZulu-Natal nie.
Aan die Universiteit van Glasgow bestaan ’n navorsingseenheid genaamd die Zombie Institute for Theoretical Studies (ZITS) wat probeer om die verloop van ’n zombie-apokalips wetenskaplik te projekteer en advies te gee oor hoe mense hulle daarop kan voorberei. In 2009 het navorsers aan die Universiteit van Ottawa en die Carleton Universiteit in Kanada internasionaal koerante gehaal toe hulle ’n studie gepubliseer het met die titel “When Zombies Attack! Mathematical Modelling of an Outbreak of Zombie Infection”. Die Ottawa-Carleton-studie is volledig deur wiskundiges gedoen en is gebaseer op die bestaande wiskundige modelle van hoe infeksies deur groot bevolkings versprei. In die artikel, vol kurwes en algebraïese vergelykings, bevind hulle: “Tensy mense baie vinnig reageer, sal ’n zombie-virus die einde van die beskawing meebring. Die epidemie kan met aggressiewe kwarantynmaatreëls bedwing word, maar die beste raad sal wees om vinnig, hard en gereeld teen die dolende dooies op te tree.” Dít is die wetenskaplike mening.
Selfs Amerika se Centers for Disease Control and Prevention (CDC), dié land se hoogste gesag met die taak om beleid en strategie vir epidemies te formuleer, het op ’n webwerf ’n gereedheidsplan vir ’n zombie-apokalips. Hulle lys die moontlike faktore wat tot ’n zombie-plaag aanleiding kan gee (’n onbekende virus, bestraling deur ’n ruimteliggaam, ’n mutasie van ’n bestaande siekte) en gee dan raad oor dinge soos kos, water en bleikmiddel wat jy byderhand moet hê vir die dag as jy lank in jou huis teen ’n zombie-inval moet skuil. “Indien zombies in die strate begin dwaal, sal die CDC ’n ondersoek begin soos met enige ander gesondheidskrisis,” staan op die webwerf.
* * *
Naas Romero is die invloedrykste persoon in die zombie-wêreld die skrywer Max Brooks, seun van die rolprentmaker Mel Brooks en aktrise Anne Bancroft. Sy boeke soos World War Z en The Zombie Survival Guide beskryf ’n wêreld wat van oos tot wes deur zombies oorrompel word en hoe ’n paar desperate mense probeer terugveg. World War Z, waaruit vroeër aangehaal is, word tans verfilm. Groot dele daarvan speel in Suid-Afrika af, waar die regering besluit om ’n ou apartheidsplan, aanvanklik uitgedink vir die sogenaamde “nag van die lang messe”, uit te pluk en teen die zombie-uhuru in hul strate in te span – onder leiding van oudpresident Nelson Mandela, wat uit sy aftrede terugkeer om die oorlog teen die dooies te lei.
Ek het Brooks eenkeer gekontak om met hom te gesels vir ’n artikel oor zombies wat ek in 2008 vir By geskryf het. Ek het hom onder meer gevra hoekom so geweldig baie mense zombies ernstig opneem.
“Ek dink die aantrekkingskrag van zombies het baie te doen met ons vrees vir die toekoms,” het Brooks geantwoord. “Ons wêreld beleef onsekere tye, met oorloë in die Midde-Ooste, internasionale terreur, stygende brandstof- en voedselpryse, aardverhitting wat dreig om die hele planeet te verwoes . . . die lys gaan aan. Om rolprente oor dié ‘ware’ onderwerpe te sien, maak ons te bang. Maar om ’n zombie-boek te lees of ’n zombie-fliek te kyk, gee jou ’n geleentheid om die wêreld te sien eindig terwyl jy diep binne jou weet dat dit nie regtig gebeur nie.”
Zombies is heel moontlik die gesig wat ons op ons onuitgesproke vrese vir ’n magdom ander katastrofes projekteer.
En het hy raad vir Suid-Afrikaners tydens ’n zombie-inval?
“Gryp die naaste assegaai. Vorm ’n impi. Spring aan die werk. Suid-Afrikaners hoef nie vir zombies bang te wees nie. Zombies moet bang wees vir Suid-Afrikaners!”
* * *
Katastrofe 101
Wat kan gebeur? Dooie mense staan uit die graf op en begin lewende mense jag.
Wat beteken dit vir jou? Koue hande gryp jou, hap jou kop oop en begin jou harsings vreet.
Jou kans op oorlewing? Selfs al gaan jy dood, sal jy in ’n sekere sin voortbestaan, al is dit as ’n dolende dooie.
Maar gaan dit régtig gebeur? Net in die flieks. Maar dit gaan nie keer dat mense werklik beangs raak nie.