Afdeling 3
Ter wille van oorlewing
Vrees, só sê die oorlewingskenner Matthew Stein, is ’n bietjie soos jou wekker of ’n motoralarm. Jy kan nie dink terwyl dit raas nie. Ja, dit is nuttig om jou aandag te trek, maar as jy iets wil doen aan die situasie waarvan dit jou bewus probeer maak, moet jy eers die geraas afskakel sodat jy rustig ’n redelike plan kan beraam.
Afhangende van jou geaardheid is daar heel moontlik ’n kans dat jy beangs kan raak as jy dink aan supervulkane, invalle deur ruimtemonsters of die chaos wat sal heers as honger mense die strate invaar om te plunder, maar daardie vrees gaan jou nie help om te oorleef as die ramp ooit plaasvind nie. As die wysers van die eindtydhorlosie na twaalfuur neig, is diegene wat gaan oorleef dié wat dit gaan regkry om kalm te bly en koelkop tot sinvolle aksie oor te gaan.
My vriende Ben en Jakkals is albei sulke mense. Die eksentrieke Patrick Geryl waarskynlik ook. Wat dié mense met mekaar gemeen het, is nie ’n bogemiddeld flegmatiese geaardheid nie, maar bloot die feit dat hulle elkeen ’n plan vir die eindtyd beraam het. Elkeen van hulle het al klaar besluit wat hulle gaan doen die dag as die vreesalarm in hul kop begin lui om te sê die einde het aangebreek.
Daar is sekere gebeurlikhede waarvoor jy nié hoef te beplan nie. As ’n asteroïde nie net op die wêreld afpyl nie, maar ook op die plek waar jy jou nou bevind, sal geen voorbereidings help nie. Maak vrede met jou Skepper, bring ’n laaste paar gehalte-oomblikke saam met jou hond of jou fotoalbums deur, en wag vir die hiernamaals, want jy gaan dit nie oorleef nie. As ’n supervulkaan binne ’n paar honderd kilometer van jou ontplof of die aarde se kors word à la Geryl gedestabiliseer terwyl jy op Melkbosstrand in die skaduwee van die Koeberg-kernreaktor vakansie hou, geld min of meer dieselfde oorwegings.
Daar is egter ook eindtyd-scenario’s waarbinne jy kan oorleef. Kom ons gooi ’n paar van hulle saam en maak in die volgende paar hoofstukke ’n plan waarvolgens ons dié allegaartjie van teenspoed die hoof kan bied.
Die scenario: Iets het die aarde getref. Dit kon uitstralings van ’n massiewe sonstorm wees of ’n groot ruimterots wat aan die ander kant van die aardbol geland het. Wat dit ook al was, dit was sterk genoeg dat alle kommunikasie- en kragnetwerke op aarde lamgelê is. Geen selfone, geen elektrisiteit meer nie. Die moderne beskawing is eensklaps verby. Die ramp het meegebring dat kernreaktors wêreldwyd smelt en ontplof. Massiewe vulkane bars uit. Bestraling en gifgasse as gevolg van dié rampe is in ’n groot wolk in jou rigting op pad. Die krisis het boonop veroorsaak dat ’n massiewe tsoenami uit die oseaan naby jou opgestaan het en reguit op jou afpyl.
Geen moderne tegnologie nie. Geen vervoernetwerke nie. Aardbewings. Naderende gifgaswolke en bestraling. En ’n tsoenami so groot soos ’n berg.
Wat moet jy doen?
Jy dink miskien nie so nie, maar dít is ’n situasie waarbinne jy nog ’n kans op oorlewing het. Nie ’n groot kans nie, maar desondanks ’n kans.
(Stein se werk was van groot hulp met die opstel van dié oorlewingsgids, asook verskeie ander oorlewingswebwerwe, wenke wat Jakkals en Patrick Geryl my gegee het, inligting van die Amerikaanse regering, die zombie-wenke van Max Brooks, die aanlyn-oorlewingsradiostasie YowRadio en my eie gesonde verstand. Laasgenoemde is dalk die belangrikste – jy het iets soortgelyks en jy kan dit altyd met jou saamdra, selfs al word hierdie boek deur die lawa-uitbarstings van ’n supervulkaan verteer nog voordat jy dit klaar gelees het.)